Saterdag 21 Februarie 2009

God Weerspreek Homself Nooit

Oordele / Mishpatim | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

21 Februarie 2009 / Shevat 27th 5769

Eksodus / Shemot / 21:1-24:18

2 Konings / Melachim Bet / 12:1-17

Matthéüs / Mattityahu / 17:1-11

Om hierdie oordenking te lees, is om 'n bladsy uit 'n wetboek te lees. Dit sou sekerlik moontlik wees om howe met regters daar te stel, deur slegs te gebruik wat herdie week se lesing bevat. Dit is inderdaad wat God van Sy volk verwag het. Hy wou 'n model-mensdom, binne 'n model-nasie daarstel, wat 'n getuie vir al die ander wêreldnasies aangaande die Een Ware God sou wees.

Deuteronomium / Devarim {4:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8} En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?

Daar is egter 'n wet, geskryf binne die "Oordenking: Oordele" wat oor die jare heen heelwat polemiek veroorsaak het, oor wat skybaar 'n weersprekende gebod blyk te wees, met wat Jesus in die Hernieude Verbond gegee het. Die gedeelte waarna ek in hierdie oordenking verwys, is:

Eksodus / Shemot {21:23} “Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, {21:24} oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, {21:25} brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.”

Dié gebod word egter verder tweemaal in die Tora: Levitikus {24:20 en Deuteronomium {19:21} herhaal. Hierdie feit op sigself behoort vir ons 'n aanduiding van die belangrikheid daarvan in God se oë, te wees. Talle Bybelstudente vind dit egter moelik om hierdie gebod in ooreenstemming te bring met wat Jesus sê:

Matthéüs / Mattityahu {5:38} “Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. {5:39} Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.”

Ek meen, teneinde behoorlik te verstaan of Jesus weerspreek of verander, aldan nie, wat in die Tora geskrywe is, moet ons die verband van elk van hierdie gedeeltes verstaan.

Die Tora is 'n samestelling van God-gegewe onderrig en gebooie. Soms is hierdie onderrig in verhaalvorm, soos Jona en die groot vis en Josef se ervarings met sy broers. Hierdie verhale en ander soortgelykes, is natuurlik bedoel om belangrike Bybelse beginsels aan ons oor te dra. 'n Ander vorm van onderrig in die Tora, is meer direk, soos wat ons in hierdie oordenking teëkom. Beide onderrig en gebooie is egter vir dieselfde doel aan ons gegee, naamlik om die sondaar te oortuig, by nadenke van sy sondigheid en onvermoë, om te voldoen aan wat die Tora voorhou. (Die Tora tree dus op as leermeester, deur die sondaar te lei om hom na sy verlosser te wend. Wanneer die persoon dan gered is, verander die Tora se gevoelsinhoud en onderrig dan die geredde persoon hoe om te lewe as 'n gelowige, wat verdieping in-en bekleding met die Messias behels. Dit is wat Saulus (Paulus) in Galáte vir ons sê:

Galáte / Galitim {3:24} “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. {3:25} Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. {3:26} Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27} want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.”

Dus is die konteks van die gedeelte in ons Tora - oordenking (Eksodus 21:23), 'n gebod en daarom streng juridies, met ander woorde: pleeg die misdaad, ontvang die straf. In daardie opsig, netsoos in die geval van moord (strafbaar met die dood), as jy iemand se oog uitsteek, word jou oog uitgesteek - die straf is natuurlik eers bepaal ná deeglike ondersoek en 'n behoorlike regsproses.

Deuteronomium / Devarim {19:15} “Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.”

Ja, ek neem die misdaad en straf letterlik as God-gegewe. Daar is egter 'n genadiger, meer liberale interpretasie van hierdie gedeelte. Dit is wat God bedoel met 'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand, naamlik dat die straf vir misdaad, na gelang van die aard daarvan moet wees. Dit beteken dat iemand nie die doodstraf moet ontvang omdat iemand se oog uitgesteek is of sy hand afgekap is nie: Die straf moet regverdig wees. Vandag plaas howe en versekeringsmaatskappye 'n geldwaarde op liggaamsdele. Indien jy dus skuldig bevind word aan die uitsteek van iemand se oog is dit "x"-bedrag en vir die afkap van iemand se hand moet jy "y"-bedrag betaal.

Hoe versoenbaar is dít wat Jesus ons in Matthéüs 5:38 hierbo leer? Wel, as ons glo dat Jesus die vleesgeworde (in vleeslike liggaam na die aarde gekom) God is en die Lewende Tora ("In die begin was die Woord en die Woord het vlees geword") en ons glo dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is, dan móét ons glo dat God homself nie weerspreek nie!

Indien ons dus kyk na die konteks en woorde wat Jesus gebruik in Sy onderrig, sien ons duidelik dat die woorde "Julle het gehoor" verwys na die wyse waarop iemand hierdie Tora-beginsel in die tyd van Jesus vertolk het, in teenstelling met wat Hy in die Tora geskryf het. Ons moet egter ook in ag neem wat Jesus voortgegaan het om in Sy onderrig te sê:

Matthéüs / Mattityahu {5:39} “Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. {5:40} En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. {5:41} En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.”

Dus, met behoorlike begrip van wie Jesus is en dit wat Hy sê, in die regte konteks te neem, kan ons sien dat Hy inderdaad nie Eksodus 21:23 weerspreek nie. Inteendeel, Jesus onderrig oor 'n totaal verskillende onderwerp. Hierdie onderwerp is nie geregtelik nie, soos in Eksodus 21:23 nie, maar leer ons eerder oor die onderwerp van wraak. Ons mag nooit, volgens Jesus, wraak neem nie.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 14 Februarie 2009

Kyk na wat gaan gebeur

Jetro / Yitro | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

14 Februarie 2009 / Shevat 20th 5769

Eksodus / Shemot 18:1-20:23

Jesaja / Yeshayahu 6:1-7:6; 9:5-6

Matthëüs / Mattityahu 5:5-20

Eksodus / Shemot {19:10} “Verder het die HERE aan Moses gesê: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere was {19:11} en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die HERE voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal. {19:12} Ook moet jy vir die volk ‘n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word. {19:13} Geen hand mag hom aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig of sekerlik met ‘n pyl geskiet word; of dit ‘n dier of ‘n mens is—hy mag nie lewe nie. As die ramshoring lang geluide blaas, mag hulle op die berg klim.

Indien julle deel was van ons Sabbatdiens op 25 Januarie 2009, het julle gedeel in 'n groot genot. Dit was nie slegs 'n salwingsdiens nie, maar julle het ook 'n uitstekende verduideliking gehoor oor die onderwerp van die roeping van God oor die land en volk Israel. Deel van hierdie verduideliking was 'n les oor die sentrale rol wat die Sinaï-berg in God se plan vir Israel gespeel het.

In hierdie week se oordenking, meer in besonder die gedeelte hierbo aangehaal, lees ons dat God die kinders van Israel geroep het om die berg Sinaï te nader. Wat is die betekenis daarvan om na die berg Sinaï te kom? Wat is so belangrik van Sinaï-berg dat God Sy volk roep om dit te nader?

Daar is vele "tipes" in die Skrif. Ons het sopas vanjaar die studie voltooi oor Josef, seun van Jakob, wat ons gesien het 'n tipe van Jesus was. Met ons Torastudie, op Sabbatoggend, twee weke gelede, het ons ook gesien hoedat Josef se broers, wat hom in slawerny verkoop het, 'n tipe Judas Iskariot was, wat Jesus uitverkoop het. In die bogemelde Skrifgedeelte, beskou ek berg Sinaï as 'n tipe van wat in die duisendjarige ryk sal gebeur. Hier volg my redenasie:

In die boek Esegiël word ons vertel:

Esegiël / Yechekiel {47:1} “Daarna het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar.”

Hierdie Skrifgedeelte beskrywe die duisendjarige tempel, wat by Sy wederkoms, deur ons Messias bewoon sal word, Hy gebruik die beeld van water wat onder die drumpel van die tempel uitvloei, as die woord van God wat vanuit Jerusalem sal voortkom. Soos wat 'n mens verder in hierdie gedeelte van Esegiël se profesie lees, sien ons dat hierdie water genesing en lewe sal bring aan alles wat dit aanraak. Nodeloos om te sê, is hierdie water die Woord van God, die Tora, want geen ander Woord het op daardie tyd bestaan nie.

Dan word ons in die boek Openbaring die volgende vertel:

Openbaring / Hitgalut {22:1} “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.”

Hierdie water van die lewe, waarna verwys word, is ook die Woord van God, wat uit die troon van God en van Jesus (Die Lam) sal stroom. Toe Johannes die boek Openbaring geskryf het, ofskoon die apostoliese brief moontlik in sirkulasie was, was dit egter nie deel van die Bybelse kanonieke boeke (d.w.s die samestelling van boeke waaruit die Bybel, soos ons dit vandag ken, bestaan nie) - dit was blote briewe. Derhalwe, sou die water van die lewe, oftewel die Woord van God, vir Johannes die Tora beteken het.

Daarom, wat ons hier sien, is dat beide gedeeltes die Woord van God, as verspreidend vanaf God in die wêreld in beskrywe.

Die gedeelte uit Esegiël beskryf die duisendjarige ryk, wanneer Jesus weer kom om die Duisendjarige Tempel te kom bewoon. Die ander gedeelte (uit Openbaring) beskrywe die einde van die tyd wanneer die Woord van God sal voortkom van sowel die Vader as die Seun, vanuit die Hemelse Tempel. Ofskoon dié gebeurtenisse in verskillende tye plaasvind, beskryf albei egter soortgelyke gebeure.

Kyk nou weer na vandeesweek se oordenking, soos ek vroeër gesê het, en spesifiek die aangehaalde gedeelte hierbo en die Skrifgedeeltes voor dit (Eksodus 10:1 - 19:6) asook dié daarna, wat die Tien Gebooie is.

Volgens julle mening, watter tipe gebeurtenis word deur hierdie Skrifgedeeltes aan ons beskrywe?

Die gebeurtenis in hierdie gedeeltes beskryf, is die Woord van God, wat uitgaan na 'n volk aan wie dit opgedra is om dit oor die wêreld te versprei. Ons oordenking hierdie week, is dus beskrywend van 'n gebeurtenis, gelykstaande aan dié beskrywing in Esegiël en Openbaring, wat, soos ons weet, albei 'n tyd beskryf wanneer die woord van God vanuit God sal uitgaan en die hele wêreld die Tora van God sal hoor en ontvang. Die gebeure, beskrywe in Esegiël en Openbaring, het nog nie plaasgevind nie. Dit wat egter by Berg Sinaī - in ons oordenking uiteengesit - beskrywe word, is dus 'n tipe van hierdie gebeurtenisse, wat nog sal plaasvind.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 07 Februarie 2009

God het hulle deeglik onder Sy beheer

Dit het gebeur / Beshalach | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

7 Februarie 2009 / Shevat 13th 5769

Eksodus / Shemot 13:17-17:16

Rigters / Shoftim 4:4-5:31

Openbaring / Hitgalut 19:1-20:6


Eksodus / Bereshit {14:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hágirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die see. {14:3} Dan sal Farao van die kinders van Israel sê: Hulle is verdwaal in die land, die woestyn het hulle ingesluit. {14:4} En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen. “

Dis 'n baie interessante Skrifgedeelte, veral as jy daarna kyk in die lig van ons moderne tye. Israel het reeds 'n redelike afstand van sy vorige onderdrukkers gereis en was goed onderweg na hul vryheid. In plaas daarvan om hulle toe te laat om na hul bestemming voort te gaan, het God hulle egter laat omdraai en, soos ons gelees het, het Hy dit gedoen spesifiek om die farao in versoeking te bring. God wou die farao onder die indruk bring dat die kinders van Israel in die woestyn verdwaal het sodat hy hulle kon aanval.

So dwaas soos dit wil voorkom, was dit natuurlik 'n uitstekende strategie omdat, soos ons weet, God die farao se eie hoogmoed gebruik het om hom en sy leërmag te vernietig en sodoende die kinders van Israel as Sy eie kosbare besitting te verkry. Daar word egter op iets interessants gesinspeel in hierdie gedeelte.

Ek het dit baie interessant gevind, dat, terwyl daar geen spioenasie-satelliete in die tyd van die kinders van Israel se vlug uit Egipte was nie; daar geen selfone of faksmasjiene was nie, die farao gewéét het dat die kinders van Israel omgedraai het; hoe sy hy dié kennis kon gehad het om te vermoed dat hulle in die woestyn verdwaal het? Die enigste moontlikheid hoedat die nuus die farao bereik het, was deur middel van spioene. Die farao moes óf spioene in die gedeelte van Israel gehad het toe hulle deur die woestyn getrek het óf spioene wat hulle op 'n afstand gevolg het om te sien wat hulle doen en waarheen hulle gaan. Hoe dit ookal sy, dit het gebeur, volgens die aangehaalde Skrifgedeelte, dat God die hele aangeleentheid georkestreer het. God het verseker dat die farao ingelig sou word oor die Hebreërs se omstandighede, vordering en elke beweging.

Waarom sou dié wete dat daar spioene in die kinders van Israel se laer was, vir ons van enige belang wees? Waarom sou ons selfs tweemaal daaraan dink? Dit het betekenis omdat ons verskeie male gewaarsku word in die Skrif, in sowel die Ou Testament as die Hernieude Verbond, dat daar altyd spioene onder Gods volk sal wees. Hieronder is 'n voorbeeld uit die Ou Testament:

Prediker / Kohelet {10:20} “Vloek die koning selfs in jou gedagte nie, en vloek in jou slaapkamer die ryke nie; want die voëls van die hemel sou die geluid kon wegvoer, en die gevleueldes die woord te kenne gee.”

Hierin word gesê dat selfs die mure ore het. 'n Goeie voorbeeld van spioene wat altyd onder gelowiges is, verskyn in die Hernieude Verbond en wel in die gelykenis van die onkruid (Matthéüs 13:25-30).

Ons sien dus dat die satan altyd sy spioene sal versprei deur - en onder die kinders van God. Wat ek graag wil hê ons moet almal verstaan, is dat God hulle altyd vir Sy eie doel sal gebruik, netsoos Hy die spioene, wat aan die farao gaan verslag doen het, vir Sy eie doel gebruik het.

Versprei deur ons lewens en dwarsdeur ons gemeentes, sal daar altyd spioene wees wat elke beweging van ons aan die duiwel rapporteer, maar moenie vrees nie, want God het hulle deeglik onder Sy beheer!

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved