Sondag 26 Februarie 2012

God, Genadige Gewer van Wysheid

3 Maart 2012 
D’Var Torah 
U Sal Beveel / Tetzaveh 


Eksodus / Shemot {28:1} “Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron. {28:2} En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. {28:3} Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien. ”. 

In hierdie Skrifgedeeltes, uit ons parasha Shavua (weeklikse Tora – voorlesings), het ek die gedeelte uitgesonder om kommentaar te lewer op aspekte betreffende die gees van wysheid. 

Eksodus / Shemot {28:3} “Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.”. 

Daar is ‘n ou gesegde wat soos volg lui: “Vroeg wys, vroeg sot”. In hierdie moelike tye met soveel misleiding en valse leringe in omloop, is daar iets wat die kind van God meer as enigiets anders kortkom en dit is wysheid. 

Die wêreld leer ons dat wysheid saam met ouderdom kom. Ek kan nie volkome daarmee saamstem nie omdat daar baie bejaardes is wat nie gered is nie en dus bestem is tot ‘n ewigheid sonder God. Indien hulle egter oor wysheid beskik het, sou hulle op grond van die Skrif besef het dat Jesus die Messias is en dus gered moet word om die ewigheid saam met God deur te bring. Ek glo dat dit ondervinding is wat ouderdom meebring en die wêreld het foutiewelik ondervinding vir wysheid aangesien. 

Volgens die bovermelde Skrifgedeelte, is dit God wat ons met die gees van wysheid vervul. Hoe ontvang ons hierdie wysheid van God? In die bogemelde geval het God wysheid verleen aan die mense wat Hy bestem het om die priesterlike klere te maak. Hy het gekwalifiseerde mense benodig om die taak uit te voer en dus uit Israel diegene gekies wat Hy met wysheid sou toerus om die werk te kon doen. Vandaar die gesegde: “God roep nie die geskiktes nie – Hy maak die geroepenes geskik.”. Die Skrif leer ons egter ‘n ander manier om wysheid te ontvang: 

Psalm / Tehillim {111:10} “Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Tau. Sy lof bestaan tot in ewigheid.”. 

Ons het al vantevore die betekenis van die vrees van God bespreek. Dit behels om vir Hom ontsag te hê. Deur Hom op hierdie wyse te bejeën, sal vanselfsprekend tot gevolg hê dat Sy gebooie onderhou word, wat die begin van wysheid is. Die uitnemendste manier om wysheid te ontvang, is egter om dit van God te bid: 

Jakobus / Ya’acov {1:5} “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”. 

Dit is die wyse waarop koning Salomo sy wysheid ontvang het. Hy het besef dat hy nie oor die vermoë beskik het om God se volk behoorlik te lei en regeer nie en God gebid om wysheid. 

2 Korinthiërs / Korintim Bet {1:8} “En Salomo het tot God gespreek: U het aan my vader Dawid ‘n groot guns bewys en my in sy plek koning gemaak. {1:9} HERE God, laat u woord aan my vader Dawid nou bewaarheid word; want U het my koning gemaak oor ‘n volk talryk soos die stof van die aarde. {1:10} Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit— en ingaan, want wie kan hierdie groot volk van U regeer? ”. 

Bid God om wysheid en Hy sal dit nie van jou weerhou nie; trouens, daar is ‘n gebed wat ons tydens ons oggendgebede (Shacharit) bid, wat moontlik vir jou tot hulp kan wees. Ek het dit effens gewysig om dit meer persoonlik te maak: 

“U het genadiglik aan die mens wysheid geskenk en aan ‘n nietige sterfling, insig geleer. Skenk tog genadelik aan my, uit Uself, wysheid, insig en oordeelkundigheid. Geseënd is U, o God, genadige gewer van wysheid.”. 

(Nota: Vrye vertaling uit die Engelse (vrye) vertaling van die betrokke Hebreeuse gebed!) 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 19 Februarie 2012

My Korban / My Offergawe

19 Februarie 2012 
D’Var Torah 
Om Te Offer – Terumah 




Eksodus / Shemot {25:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3} En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8} Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9} Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak. ”. 

Toe ek vandeesweek se Torah deurgelees het, is my aandag op veral twee sake gevestig, wat ek albei graag wil bespreek. 

Gedurende my sestein jaar as leier van ‘n gemeente, het ek baie dinge in die bediening sien gebeur. Die meeste wat ek ervaar het, was aangenaam, opheffend en ‘n ware seën. Daar was egter ook tye van teleurstelling, droefheid en seerkry. 

In ons Skrifverwysing hierbo, spreek God soos volg: 

Eksodus / Shemot {25:2} ”Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. “. 

Wat is hier so belangrik? Die feit dat die verwysing na die offergawe verander van ‘n korban (offergawe) na die verwysing as “My korban”. Ongelukkig is een van die wyses waardeur gemeentelede hulle ontevredenheid met die leierskap in hul gemeente laat bly, om hulle tiendes te weerhou. Skynbaar meen hulle dat dit húlle manier is om die leierskap te vergeld vir wat vermoedelik aan hulle gesê of gedoen is. Dit is natuurlik ‘n uiters betreurenswaardige powere en onbybelse optrede om so ontevredenheid met die leierskap te toon. Dit is juis dit wat God in ons Skrifgedeeltes aan Moses meedeel. 

‘n Offergawe word ‘n offergawe aan God, sodra dit uit ons hande gaan. Ons gawe is nie vir die gemeente se leierskap nie – selfs nie eers vir die gemeente nie – maar aan God. Dit word geensins van ons verwag om dit vir die leierskap of die gemeente waaraan ons behoort, te gee nie; ons word egter verplig om dit aan God te skenk. Tiendes is ‘n offergawe aan God! Offergawes vir besondere projekte binne gemeenteverband, is egter heeltemal iets anders. Deur spesiale offergawe, skenk jy bykomend, bo-en-behalwe jou gereelde tiende aan God, vir ‘n spesifieke projek of behoefte. Indien jy so voel, kan jy sodanige offergawes weerhou, ofskoon dit ook onbybels is, veral as die spesiale offergawe vir behoeftiges bedoel is, maar hoegenaamd nie wat die gereelde tiendes betref nie. Tiendes is ‘n korban uitsluitlik vir God. Hoe Hy dit aanwend, sal in Sy algenoegsaamheid geskied. Dit is nie langer in ons nie, omdat “’n” korban nou “my” korban word. 

Die tweede aangeleentheid waarop ek jou aandag wil vestig, is die besondere opdragte wat Moses van God ontvang het. 

Baie gelowiges wil dinge nog op hulle eie manier doen, ten spyte van die feit dat die Bybel ons leer om aan God algeheel gehoorsaam te wees. Om dinge op ons eie manier te wil doen, bring ons nêrens nie. 

So byvoorbeeld het die kleure pers, purperrooi en bloedrooi ‘n spesifieke betekenis (luister gerus op ons webtuiste getiteld “Clothed in God’s Righteousness” vir meer daaroor). Kan jy jouself dus die geestelike implikasie voorstel, indien Moses sou gesê het: “As julle nie pers linne het nie, sal ons groen linne gebruik. Bring vir my die groen linne.”? Die ganse Evangelisasie boodskap, deur die klere pers, purperrooi en bloedrooi voorgestel, sou verlore gwees het! Jesus sou ook nie vir die reisigers onderweg na Emmaus, die volgende kon gesê het nie: 

Lukas / Uri {24:27} “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. ”. 

Bybelse opdragte is met ‘n spesifieke doel uitgereik. Ons mag moontlik nie nou al weet hoedat dit op ons lewens betrekking het nie en as ons lewens ‘n besondere doel het, kan ons dalk die orde van God se planne versteur. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 12 Februarie 2012

Julle Verbond is met die God van Israel

12 Februarie 2012 
D’var Torah
Oordele / Mishpatim 

Eksodus / Shemot 21:1 – 24:18

Eksodus / Shemot {23:28} “Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe. {23:29} Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. {23:30} Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe. {23:31} En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe. {23:32} Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond maak nie. {23:33} Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees. ”. 

Ek het hierdie Skrifgedeelte gekies om kommentaar te lewer op parasha Mishpatim, omdat ek glo dat dit vandag op ons van toepassing is. Julle sal moontlik wonder hoedat dit moontlik kan wees. Na alles, hoe kan ons ‘n verbond sluit met die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete, aangesien hulle as mensegroepe nie langer bestaan nie? Die feit is, selfs indien hulle nie meer bestaan nie, is die beginsel agter hierdie opdrag (mitzvah) steeds op ons van toepassing. 

Die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete was heidene, wat wel oor ‘n vorm van godsvresenheid beskik het, ofskoon dit deur die aanbidding van valse godhede was. Hulle was ook gruwelik immoreel. God het hierdie besondere nasies slegs uitgesonder omdat dit juis hulle was wat deur Israel onteien sou word. Indien ‘n mens nou vandag Kanada en die res van die wêreld in oënskou neem, is hulle grotendeels niks beter as die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete nie. 

Jakobus / Ya’acov {4:4} “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. ”. 

Ek het mense al dikwels geleer dat ons ons verhouding met die Here kan meet en insgelyks kan meet, aldan nie, of ons waarlik gered en aan God verbonde is, op grond van wie ons vriende is. Saam met wie kuier jy? Saam met wie bring jy die meeste van jou tyd deur? Indien jy enige van hierdie vrae beantwoord met “Meesal ongeredde persone”, dan bestaan daar ‘n sterk moontlikheid dat iets ernstig besig is om jou verhouding met God te skaad. 

1 Korinthiërs / Korintim Alpha {6:14} “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? ”. 

Die woord “ongeregtigheid” hier beteken nie dat ons nie met kriminele moet omgaan nie; selfs dat ons dit beslis nie moet doen nie! “Ongeregtigheid”, in hierdie konteks, beteken mense wat sonder die Tora lewe, wat God nie gehoorsaam nie en Sy gebooie verontagsaam. Volgens die Skrif, is die Satan “die ongeregtige een” (2 Tessalonisense 2:8). 

Sou die meerderheid van jou vriende ongered wees, dan het jy ‘n probleem omdat jy ‘n verbond met mense, wat valse godhede aanbid, aangegaan het net soos die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete; die einste mense wat God ons verbied het om mee verbonde aan te gaan. “Maar hulle is gawe mense”, sê jy miskien. Dit maak hoegenaamd nie saak of hulle gaaf is of nie. Daar bestaan slegs twee entiteite in die heelal, wat ons kan aanbid: óf ons aanbid die God van hemel en aarde, die God van Israel óf ons aanbid valse godhede: demone. Wees versigtig om nie bedrieg te word deur te aanvaar dat elke godsdiens dieselfde God aanbid nie – dit is hoegenaamd nie die geval nie! 

Dwarsdeur die Skrif, verwys God na Homself as die God van Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak) en die God van Jakob (Ya’acov). Hy verwys ook na Homself as die God van Israel. Krishna, Budda, Allah en al die ander kwalifiseer nie! Daar is net één God en Sy naam is Een. 

Eksodus / Shemot {3:15} “Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag. ”. 

As gelowiges in Jesus, as die Messias van Israel, is dit nie ons taak om vriende te maak met die wêreld nie maar om die Goeie Nuus (Besorah Tova) van redding deur Jesus die Messias na die wêreld uit te dra. As jy dit doen en dit doeltreffend doen, sal diegene wat verkies het om nie gered te word nie, nie met jou bevriend wíl wees nie. Dan, eers sal jy besef dat jou verbond met die God van Israel is en nie met die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete nie. 



Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 04 Februarie 2012

Gebed: Die Tora is nie ‘n Werkgeoriënteerde Boek Nie

5 Februarie 2012 
D’var Torah 
Jetro / Yitro 


Eksodus / Shemot {20:24} “ ‘n Altaar van grond moet jy vir My maak, en daarop moet jy jou brandoffers en dankoffers, jou kleinvee en beeste, offer. Op elke plek waar Ek my Naam sal laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën. {20:25} Maar as jy vir My ‘n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit. ”. 

Een van die gewildste meningsopvattings van die Christelike Kerk, aangaande die Tora, is dat dit ‘n boek van wette is, wat verlossing gegrond op dade (of pligte) verkondig, terwyl die Brit Chadasha (Hernieude Verbond) ‘n boek van genade is. Niks kan egter meer van die waarheid verskil nie! In die eerste plek is die Tora hoegenaamd nie slegs ‘n wetboek nie. Dit bevat ondermeer, die skeppingsverslag sowel as die merkwaardige verhale van Josef en die uittog van die kinders van Israel uit Egipte. Die gedeelte wat die Kerk meesal gebruik om te bewys dat die Tora nie meer geldig is nie, maar deur genade vervang is, is die volgende: 

Galate (Galásiërs) / Galatim {3:24} “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. {3:25} Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.”. 

Vergun my om behoorlik te verduidelik wat Paulus hier eintlik bedoel. Die gebruik van die woord “tugmeester”, of in sekere vertalings “leermeester”, gee nie die werklike Griekse betekenis weer nie. In Grieks verteenwoordig die woord, wat hier gebruik is, die beeld van ‘n slaaf wat ‘n leerling na sy leermeester vergesel. Dit is juis die rol van die Tora wat Paulus hier benadruk: dit is soos ‘n dienaar wat ons na Jesus die Messias lei. Aangesien die Galate, tot wie Paulus homself rig, alreeds deur geloof in Jesus die Messias gekom het, het hulle nie meer die Tora nodig gehad om hulle na Hom te lei nie. Gevolglik het dit in daardie opsig nie langer vir hulle gedien nie. Die waarheid hiervan, blyk uit wat Paulus in die volgende vers sê: 

Galate (Galásiërs) / Galatim {3:26} “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; ”.  

Die Galate was alreeds gered en het dus nie meer behoefte daaraan gehad om Jesus die Messias gerig te word nie. Dit ontken egter nie die feit dat die Tora steeds dien as leermeester vir diegene wat nog nie die geloof aangeneem het nie. Die Torah leer ons onteenseglik dat ons nie onsself kan red nie en dat ons ‘n noodsaaklike behoefte aan ‘n leermeester het om ons na Jesus te lei. Nadat ons egter gered is, verskaf die Tora steeds aan ons meer en meer van ‘n goddelike openbaring oor Jesus, wat ons bystaan om in Sy ewebeeld in te groei. Die Tora verander hoegenaamd nie nadat ons gered is nie – die werking / funksie daarvan wel. Vóór ons redding, dien die Tora as leermeester en daarna as handleiding, wat die geredde person onderrig hoe om as ‘n kind van God te lewe. Ofskoon die funksie van die Tora as bedienaar of leermeester nie langer vir ‘n geredde person nodig is nie, gaan die rol van die Tora ná redding, steeds voort om die volle werking en doel van Jesus die Messias te openbaar. 

Tweedens, die feit dat die Tora nie ‘n werkgeoriënteerde wetbook is nie, word in hierdie week se Parasha verduidelik deur die Skrifgedeelte, wat vroëer aangehaal is, maar hierdie een in besonder: 

Eksodus / Shemot {20:25} “Maar as jy vir My ‘n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit.”. 

Ek begryp die konteks van hierdie vers, naamlik die eenvoudige betekenis (pashat) betreffende die verbod op die kinders van Israel om enige gereedskap te gebruik met die konstruksie van ‘n klipaltaar (mizbeach) vir God. Die dieper betekenis (remez) wanneer dit enige werk vir God betref, is dat enigiets waaraan ‘n mens raak of by betrokke raak, deur hom besoedel word. Aangesien die kinders van Israel deur middel van die klipaltaar sondevergifnis ontvang het, sê God dat die mens nie kan werk om homself te red nie. Dit bewys dus dat die Tora nooit bedoel was om ‘n middel tot redding te wees nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou