3 Maart 2012
D’Var Torah
U Sal Beveel / Tetzaveh
Eksodus / Shemot {28:1} “Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron. {28:2} En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. {28:3} Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien. ”.
In hierdie Skrifgedeeltes, uit ons parasha Shavua (weeklikse Tora – voorlesings), het ek die gedeelte uitgesonder om kommentaar te lewer op aspekte betreffende die gees van wysheid.
Eksodus / Shemot {28:3} “Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.”.
Daar is ‘n ou gesegde wat soos volg lui: “Vroeg wys, vroeg sot”. In hierdie moelike tye met soveel misleiding en valse leringe in omloop, is daar iets wat die kind van God meer as enigiets anders kortkom en dit is wysheid.
Die wêreld leer ons dat wysheid saam met ouderdom kom. Ek kan nie volkome daarmee saamstem nie omdat daar baie bejaardes is wat nie gered is nie en dus bestem is tot ‘n ewigheid sonder God. Indien hulle egter oor wysheid beskik het, sou hulle op grond van die Skrif besef het dat Jesus die Messias is en dus gered moet word om die ewigheid saam met God deur te bring. Ek glo dat dit ondervinding is wat ouderdom meebring en die wêreld het foutiewelik ondervinding vir wysheid aangesien.
Volgens die bovermelde Skrifgedeelte, is dit God wat ons met die gees van wysheid vervul. Hoe ontvang ons hierdie wysheid van God? In die bogemelde geval het God wysheid verleen aan die mense wat Hy bestem het om die priesterlike klere te maak. Hy het gekwalifiseerde mense benodig om die taak uit te voer en dus uit Israel diegene gekies wat Hy met wysheid sou toerus om die werk te kon doen. Vandaar die gesegde: “God roep nie die geskiktes nie – Hy maak die geroepenes geskik.”. Die Skrif leer ons egter ‘n ander manier om wysheid te ontvang:
Psalm / Tehillim {111:10} “Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Tau. Sy lof bestaan tot in ewigheid.”.
Ons het al vantevore die betekenis van die vrees van God bespreek. Dit behels om vir Hom ontsag te hê. Deur Hom op hierdie wyse te bejeën, sal vanselfsprekend tot gevolg hê dat Sy gebooie onderhou word, wat die begin van wysheid is. Die uitnemendste manier om wysheid te ontvang, is egter om dit van God te bid:
Jakobus / Ya’acov {1:5} “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”.
Dit is die wyse waarop koning Salomo sy wysheid ontvang het. Hy het besef dat hy nie oor die vermoë beskik het om God se volk behoorlik te lei en regeer nie en God gebid om wysheid.
2 Korinthiërs / Korintim Bet {1:8} “En Salomo het tot God gespreek: U het aan my vader Dawid ‘n groot guns bewys en my in sy plek koning gemaak. {1:9} HERE God, laat u woord aan my vader Dawid nou bewaarheid word; want U het my koning gemaak oor ‘n volk talryk soos die stof van die aarde. {1:10} Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit— en ingaan, want wie kan hierdie groot volk van U regeer? ”.
Bid God om wysheid en Hy sal dit nie van jou weerhou nie; trouens, daar is ‘n gebed wat ons tydens ons oggendgebede (Shacharit) bid, wat moontlik vir jou tot hulp kan wees. Ek het dit effens gewysig om dit meer persoonlik te maak:
“U het genadiglik aan die mens wysheid geskenk en aan ‘n nietige sterfling, insig geleer. Skenk tog genadelik aan my, uit Uself, wysheid, insig en oordeelkundigheid. Geseënd is U, o God, genadige gewer van wysheid.”.
(Nota: Vrye vertaling uit die Engelse (vrye) vertaling van die betrokke Hebreeuse gebed!)
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou