Vrydag 26 Oktober 2018

Vader van Gasvryheid

VaYera
(En Hy Het Verskyn)


Genesis/Bereshit {18:1} “Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. {18:2}  Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. {18:3}  En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. {18:4}  Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. {18:5}  En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het.”

Daar was al heelwat omstredenheid onder Joodse kommentators oor die feit of Abraham (Avraham) deur engele of deur God, vergesel deur twee engele, besoek is aldan nie. Indien daar nie spesifiek na die Here as “Adonai” verwys is nie, soos in vers drie hierbo, mag daar tog ‘n mate van geldigheid bestaan het in die aanspraak dat dit drie engele en nie God en twee engele was nie.

Die Tora was oorspronklik nie geskryf met vokaalpunte nie met die gevolg dat die woord “Adonai”, wat Here beteken, ook as “adonai”, wat “meneer” of “Heer” (laasgenoemde met ‘n kleinletter “h”) beteken, vertaal kon word. Die opvatting dat Abraham slegs engele ontmoet het, word egter bevraagteken deur die feit dat die openingsin van hierdie Skrifgedeelte begin met {18:1} “…het die Here aan hom verskyn by die eikebome van Mamre terwyl hy sit by die ingang van die tent op die warmste van die dag.”. Die woord “God” word hier in Hebreeus geskryf as “Jahwê”, wat die benaming vir God en nie vir ‘n engel is nie. Dieselfde benaming vir vir God (Jahwê) word, trouens, dwarsdeur die parasha aangetref.

Daar bestaan egter geen méér oortuigende bewys dat dit inderdaad God, in menslike gedaante, was wat Abraham gesien het nie, as die volgende vers uit ons parasha:

Genesis/Bereshit {19:24} “En die Here (Jahwê) het swawel en vuur oor Sodom en Gomora laat reën van die Here (Jahwê) uit die hemel,"

In hierdie vers sien ons nie slegs dat daar na Abraham se besoeker as die “Jahwê” verwys word nie, maar ons lees ook dat die God op die aarde swawel en vuur van die God in die hemel laat reën het.

Die volgende punt wat ek graag wil maak, betref dat Abraham deur sowel geleerdes as kommentators insgelyks beskou word as die vader van gasvryheid. Terwyl Abraham by die ingang van sy tent gesit het, word ons vertel dat hy reisigers in die verte gesien het. Waarskynlik onder die indruk dat hulle slegs sou verbygaan, het Abraham nie eenvoudig gestap om hulle te groet nie – ons word vertel dat hy gehardloop het om die vreemdelinge te groet en inderdaad een van hulle as God herken het. Hy het hulle genooi om by sy tent te vertoef en hulself te verfris. Ek is egter oortuig daarvan dat Abraham vanaf ‘n afstand nie geweet het wie die reisigers was nie maar toe hy naderkom, besef het wie hy sou onthaal.

Was dit vir Abraham ‘n toets? Het die reisigers bloot voorgegee dat hulle hom sou verbygaan? Ek glo persoonlik dat dit wel vir Abraham ‘n toets was. Indien Abraham nie opgestaan en gehardloop het om die reisigers te groet nie, sou hy seëninge verbeur het. Die feit dat hy by die ingang van sy tent gesit en kyk het vir moontlike verbygangers en toe hy hulle sien, opgestaan en hulle gaan groet het, vertel vir ons dat hy ongetwyfeld die benaming van vader van gasvryheid verdien.

Ek meen dat ons by Abraham ‘n les moet leer. Dikwels lyk dit asof God ver weg is en ons sal verbygaan, maar inderwaarheid wag Hy vir ons om na Hom toe te hardloop – nie te loop nie – om Hom te groet en Hom in ons lewens en ons huise binne te nooi sodat ons ook geseën mag word. ‘n Verdere les wat ons by Abraham móét leer, is om gasvryheid aan reisigers en vreemdelinge te betoon.

Hebreërs/Ivrim {13:2}“Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2013-10-16




Saterdag 20 Oktober 2018

Geloof en Vertroue / Emunah Ve’bitachon

Lech Lecha
(Gaan Uit) 

Romeine / Romim 4:1 – 25

Genesis / Bereshit {13:8} “Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. {13:9}  Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. {13:10}  Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. {13:11}  En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei. ”.

Lot het Sodom gekies, wat vir hom na ‘n pragtige waterryke streek gelyk het, maar óns weet dat dit ‘n slykpoel – boos van binne – was. Daar is ‘n baie belangrike beginsel hieruit te leer, één wat ons almal ongetwyfeld vantevore al gehoor het: “Dis nie alles goud wat blink nie!”.

‘n Mens kan vandag beswaarlik televisie kyk sonder om ‘n advertensie te sien wat kykers aanmoedig om goud as teenvoeter teen die aanhoudende deflasie van die dollar te koop. Ons word ook vertel dat goud nog altyd sy waarde behou het en derhalwe ‘n uitstekende verskansing teen ‘n markineenstorting sou wees, wat soos almal gewilliglik spekuleer, enige tyd kan plaasvind. Ek is oortuig daarvan dat menige gelowiges in Jesus die Messias dit ongelukkig glo en aan die goud-stormloop deelgeneem het.

Goud is ongetwyfeld ‘n uiters waardevolle metaal en is sedert die vroegste Bybelse tye reeds in die handel gebruik. Wanneer iemand wat in Jesus die Messias egter goud koop as teenvoeter teen die deflasie van die dollar, wat sê dit van sy geloof?

Hoeveel van ons, wat nou hierdie kommentaar lees, onthou nog die paniek wat net vóór die eeuwending (1999 – 2000) geheers het? Mense is in paniek gedompel deur gerugte dat die wêreld in ‘n katastrofiese, apokaliptiese verwarring sou beland omdat die wêreld se rekenaars nie ontwerp was om tot die jaar 2000 om te skakel nie. Daar is voorspel dat banke gesluit sou wees, bewys van spaargeld sou uitgewis wees, voedseltekorte sou heers en elke denkbare tekort sou die wêreld tref. Soos ons almal in die jaar 2018 bewus is, het hoegenaamd niks daarvan gekom nie; trouens, ons het in die jaar 2000 ontwaak sonder die geringste insident!

My siening is nie dat daar geen apokalips met die eeuwending was nie of dat die aandelebeurs nie sal ineenstort nie en ons dollars in die toekoms waardeloos mag raak: die punt wat ek wil maak, is inderdaad veel ernstiger.

Vóór die eeuwending, terwyl ons nog in 1999 was, het dieselfde paniek wat die wêreld getref het, ook die gemeentes van God getref. Gelowiges het net soos die ongelowiges paniekerig geraak: hulle het begin opgaar – voedsel, water, geld en ander goedere – selfs goud, wat hulle geglo het, ‘n teenvoeter sou wees teen dit wat om middernag op 31 Desember 1999 moontlik sou plaasgevind het. Die waarheid is egter dat dieselfde nóú gebeur deurdat ons goud koop. Sowel gelowiges as ongelowiges beplan weer teen die paniek van ‘n verwagte ekonomiese depressie.

Daar is niks mee verkeerd om goud te besit of om bykomende water en voedsel aan te hou nie, maar daar is wel iets verkeerd wanneer gelowiges paniekerig raak en hul vertroue in opgaar stel of hul spaargeld in goud omsit, as teenvoeter teen wat in die toekoms mag gebeur.

Ons toekoms hang nie van wêreldse dinge af nie. Ons toekoms is geheel-en-al afhanklik van ons verhouding met God. Ongeag die toestand waarin die wêreld tans verkeer of in die toekoms mag verkeer, God is ons sekuriteit, God is ons bron. Glo jy dit? Indien nie, moet jy jou geloof bevraagteken. Enigiets anders as God, waarin jy jou vertroue stel vir die toekoms, is afgodery en vir afgodsdienaars is daar geen plek in die wêreld wat kom nie.

Mattëús / Mattityahu {6:25} “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? {6:26}  Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? {6:27}  Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? {6:28}  En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; {6:29}  en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. {6:30}  As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? {6:31}  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? {6:32}  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. {6:33}  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Word wakker julle trouelose gelowiges; dit is tyd vir ‘n werklikheidsondersoek.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-11-05

Saterdag 13 Oktober 2018

Ons Twee Nature – Yetzer Hara / Yetzer HaTov

Noach
(Noag)

Genesis / Bereshit {8:6} “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, {8:7}  en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. {8:8}  Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. {8:9}  Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. {8:10}  Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark. {8:11}  En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. {8:12}  Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie.”

Ek het iets baie interessant ontdek toe ek die bovermelde gedeelte gelees het. Soos ons lees, het Noag ‘n kraai uitgestuur voordat hy die duif losgelaat het. Let egter daarop dat die kraai nie teruggekeer het nie maar eerder heen en weer oor die aarde gevlieg het totdat waters weggedroog het. Volgens wat ek uit die geskrewe gedeelte aflei, kon hierdie kraai vir ten minste sewe dae rondgevlieg het sonder voedsel en sonder om te gaan sit.

Kraaie is onrein voëls, dus was daar slegs twee in die ark. Noag het net één losgelaat. Ten einde voort te plant, sou die een wat losgelaat is, een of ander tyd, die ander een wat nog in die ark was, moes teëkom?. Die kraai, soos ek gemeld het, is ‘n onrein voël; trouens ‘n aasvreter en as sulks sou hy voedsel gevind het. Boonop sou die kraai plek gevind het om te gaan sit op die duisende karkasse van dooie diere en opgeblaaste lyke, wat op die waters gedryf het. As gevolg daarvan, was dit nie nodig om na die ark terug te vlieg nie.

Duiwe, daarenteen is rein voëls en dus nie aasvreters nie. Daarom sou die duif wat Noag losgelaat het, nie kon oorleef nie. Daar was geen voedsel of rusplek vir die holte van sy voet nie en hy moes noodwendig terugkeer na die ark.

Hieruit blyk ‘n groot geestelike les om geleer te word. Ons moet onthou dat daar sowel rein as onrein diere in die ark was – hulle is saam aangehou. Ons moet ook daaraan dink dat God alles op aarde in een van twee kategorieë of nature verdeel het, naamlik rein of onrein. Ongelukkig beskik ons as gelowiges in Jesus die Messias ook oor hierdie twee nature.

Romeine / Romim {7:18} “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.”.

Paulus het hier ons twee nature beskryf, wat konstant in stryd met mekaar verkeer. Die stryd wat binne-in ons woed. Is tussen ons ou natuur (ons vlees) en ons nuwe natuur (of wedergebore gees). Die kraai het uitgegaan in ‘n wêreld vol dood, maar vir hom ‘n fees. Hy het heen en weer oor die aarde gevlieg, op karkasse en lyke gaan sit en dit verslind. Dit is ‘n beeld van ons ou natuur. Die ou natuur hunker na die dinge van die wêreld en wil daarop teer, maar al wat die wêreld kan bied, is slegs die dood. Die duif verteenwoordig egter ons nuwe natuur. Hy het niks in die wêreld gevind wat die moeite werd was om op neer te stryk nie – niks aanloklik of aptytwekkend nie en gevolglik na die veiligheid en beskerming van die ark (Jesus die Messias!) teruggevlieg.

As gelowiges, is ons in dié wêreld maar nie van die wêreld nie. Daar behoort niks van hierdie wêreld te wees wat ons aanstaan nie. Die wêreld het groter behoefte aan ons as wat ons die wêreld nodig het. Daarom behoort ons hierdie wêreld as ‘n geleentheid te gebruik om dié wat verlore (ongered) is, te wen vir Jesus die Messias, uit ‘n wêreld van leuens tot waarheid.

Vir die kraai was ‘n dooie en sterwende wêreld aanloklik; hy wou daaraan gebonde bly. Die duif, daarenteen, het besef dat daar niks in die wêreld vir hom was nie en het dus slegs in die ark rus gevind.

Met watter voël sou jy graag jóú lewe wou vereenselwig?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-10-29

Saterdag 06 Oktober 2018

Ek Volstaan Daarmee

BeReshit
(In die Begin) 

Genesis / BeReshit {1:1} ”In die begin het God die hemel en die aarde geskape. {1:2}  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.”

Sedert Darwin om en by 1884 met sy leer van “The Origin of the Species” na vore gekom het – vandag beter bekend as “ Die Teorie van Evolusie” – is die skeppingsbegrip steeds ter sprake. Die geloof in ‘n Skepper van hemel en aarde en alles wat bestaan, met inbegrip van die mens, is sedertdien meedoënloos betwis. Nou, alhoewel Darwin se teorie nooit as korrek bewys is nie en Darwin self sy teorie op sy sterfbed gerepudieer het, het die Evolusieteorie daarin geslaag om nog te bestaan, vooruit te gaan en selfs te floreer. Dit word nou bykans universeel in meeste publieke skole oor die wêreld heen geleer.

Dit alles ten spyte daarvan dat Darwin se teorie in werklikheid ‘n teorie in krisis is. Dit is in krisis vanweë die geweldige vooruitgang wat ons die vyftig jaar in molekulêre biologie, biochemie en genetika behaal het. Hoe dit ookal sy, al hierdie mens-onthullende bewyse is sekondêr wanneer die groot hoeveelheid profetiese Bybelse getuienisse, wat verklaar dat God waarlik Skepper van die hemel en aarde is, in ag geneem word. As bewys, verwys ek na hierdie gedeelte van die profeet, Jesaja, dieselfde profeet wat die geboorte van Jesus die Messias voorspel het:

Jesaja / Yeshayahu {40:1} ”Troos, troos my volk, sê julle God. {40:2}  Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes. {40:3}  ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! {40:4}  Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. {40:5}  En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek. {40:6}  ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. {40:7}  Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! {40:8}  Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. {40:9}  o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! {40:10}  Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. {40:11}  Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei. {40:12}  Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal? {40:13}  Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? {40:14}  Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? {40:15}  Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie! {40:16}  En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. {40:17}  Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken. {40:18}  By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? {40:19}  Die ambagsman giet ‘n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. {40:20}  Wie te arm is vir so ‘n offergawe, kies ‘n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ‘n kunsvaardige ambagsman om ‘n beeld op te rig wat nie wankel nie. {40:21}  Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? {40:22}  Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon. {40:23}  Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; {40:24}  skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel. {40:25}  By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. {40:26}  Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. {40:27}  Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? {40:28}  Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. {40:29}  Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. {40:30}  Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; {40:31}  maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”

Ek volstaan daarmee! Die Evolusieteorie is nie bloot ‘n teorie nie - dit is ‘n vorm van afgodsdiens. Dit ontken die bestaan van ‘n Skepper en verwys na Sy skepping as blote toeval. Mag God die siele van hulle wat dit glo en verkondig genadig wees!

Kom gou Jesus!

Ooorsponklik uitgegee: 2010-10-02