Saterdag 24 Februarie 2018

Die Einddoel van Aanbidding

Tetzaveh
(Jy Sal Beveel)


Eksodus / Shemot {30:1} “Jy moet ook ‘n altaar maak om reukwerk te brand. Van akasiahout moet jy dit maak. {30:2}  ‘n El moet sy lengte wees en ‘n el sy breedte—vierkantig moet dit wees; en twee el sy hoogte. Sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees. {30:3}  En jy moet dit met suiwer goud oortrek: die plaat en die sykante rondom en die horings. En maak daarvoor ‘n goue krans rondom. {30:4}  Maak ook twee goue ringe daarvoor onderkant die krans aan weerskante; jy moet dié aan die twee sykante maak. En hulle moet dien as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra. {30:5}  En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.”

Ek het al dikwels gewonder waarom hierdie Skrifgedeelte nie by verlede week se parasha (Parasha Terumah) ingesluit was nie. Dit sou meer sinvol gewees het omdat dit juis daarin is waar die voorskrifte vir die vervaardiging van al die ander arttikels van die tabernakel (Mishkan) voorkom. Ek het gevolglik gewonder: “Is daar dan ‘n bepaalde rede of betekenis daaragter dat God die voorskrifte vir die maak van die reukaltaar bepaal het ná die beskrywing hoedat die heilige- en priesterlike klere gemaak moes word?” Ek is oortuig daarvan dat ons almal sal saamstem dat God niks sommer lukraak doen nie – daar móét dus ‘n rede daarvoor wees!

Al die voorskrifte vir die konstruksie van die tabernakel en gepaardgaande voorwerpe is deur God bepaal. Dan was daar ook die opdrag vir die bring van vrywillige offergawes. Die rede hiervoor was dat, sonder gewillige harte om te gee, niks van God se werk op aarde tot stand gebring kan word nie. Ons God is ‘n gewende en vrygewige God en Sy mense moet net so wees. Hulle móét bereid wees om by te dra vir God se werk, wat oorvloedige seën meebring.

Lukas / Uri {6:38} “Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”

Die ark van versoening (Aron HaKodesh) was die voorwerp waar God in die vorm van Sy sigbare teenwoordigheid (Shachinah) sou verkeer – in die wildernis was dit bedags ‘n wolkkolom en snags vuurkolom.

Johannes / Yochanan {1:14} “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”

Die tafel van die toonbrode het die twaalf stamme van Israel verteenwoordig, wie se aanbidding immer vars en ewig teenwoordig voor God moes wees.

Jesaja / Yeshayahu {49:15} “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!”

Die goue kandelaar (Menorah) het die heigdom verlig, want die mensdom kan nie in die duisternis aanbid nie, maar moet altyd na die waarheid – na die lig kom.

Johannes / Yochanan {8:12} “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Die tent van samekoms of tabernakel (Mishkan) was die plek waar die Heilige Teenwoordigheid gehuisves was. Daar moet ‘n plek wees waar God se volk kan saamkom vir aanbidding.

Hebreërs / Ivrim {10:24} “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25}  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Die laaste item wat in verlede week se parasha vermeld is, was die brandofferaltaar (Mitzbe’ach). Met die hart ingestel op aanbidding, die voorwerp van aanbidding in fokus, die immerteenwoordigheid van mense wat God aanbid, vervulling met die waarheid van aanbidding en die voorsiening van die plek van aanbidding, was daar nou behoefte aan toenadering tot aanbidding. Daar moes nou vir die sondige mens ‘n manier wees om die heilge God te nader en brandofferaltaar het juis vir daardie toenadering (of wyding) met offerandes (Korbanot) voorsiening gemaak.

1 Thessalonisense / Thesolonikim Aleph {5:9} “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus {5:10}  wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.”

Vandeesweek in parasha Tetzaveh word ons toegelig oor die toewyding tot aanbidding, en die korrekte wyse waarop dit benader moet word. Ten einde aan die aanbidding van God reg te laat geskied, moes die priesterdom voorbereid wees – daar kon niks lukraak daarmee wees nie. Hulle voorkoms, die wyse waarop hulle God gedien het, die wyse waarop hulle geheilig (kadosh) is, moes alles in volmaaktheid uitgevoer word. Wat egter werklik aangaande hul toewyding uitgestaan het, was die feit dat daar van hulle vereis is om die wydingsofferande te eet:

Eksodus / Shemot {29:31} “En jy moet die wydingsram neem en sy vleis in ‘n heilige plek kook. {29:32}  Dan moet Aäron en sy seuns die ram se vleis eet en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms. {29:33}  En hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle as priesters aangestel en geheilig is; maar ‘n onbevoegde mag daarvan nie eet nie, want dit is heilig.”

Ons is almal as gelowiges in Jesus die Messias, bewus daarvan dat ons ook ‘n koninklike priesterdom is.

1 Petrus / Kefa Aleph {2:9} “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,”

In die lig daarvan, moet ons ook die offerande (korban) van ons toewyding eet:

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {11:24} “en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.”

Waarom staan die brandofferaltaar dan vir die laaste oor? Ons weet almal dat wierook in ‘n vertrek ‘n aangename geur versprei. Met alles vir behoorlike aanbidding voorberei, was die priesterdom nou gereed om met hul werk te begin: Die verteenwoordiging van die volk voor God.

Openbaring / Hitgalut {8:3} “En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; {8:4}  en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.”

Die wierook verteenwoordig ons gebede, wat die einddoel van aanbidding is!

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2011-02-12




Saterdag 17 Februarie 2018

Ek Bevraagteken Hulle Motiewe

Terumah
(Offerande)


Eksodus / Shemot {25:1} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2}  Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3}  En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8}  Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9}  Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.“

Soos ons deur vandeesweek se Parasha verder lees, verneem ons dat God die kinders van Israel versoek het om goud, silwer, edel- en halfedelgesteentes asook fyn linne in die konstruksie van die tabernakel (Mishkan) te gebruik. Hoeveel goud, silwer en edelgesteentes vermoed julle is gebruik in die konstruksie en wat sou dit vandag nie werd gewees het nie - een miljoen-, twee miljoen-, vyf miljoen-, vyftig miljoen-, eenhonderd miljoen dollar? Te oordeel aan die feit dat sowel die goud as silwer as suiwer geklassififiseer is - gemeet aan hedendaagse standaarde, sou dit .9999 persent suiwer gewees het - moes dit sekerlik ‘n fortuin werd gewees het. Op grond van die gehalte wat vir die goud en silwer vereis is, kan ons met sekerheid aanvaar dat die edel- en halfedelgesteentes asook die linne van die hoogste gehalte was. Ek sou dus waag om te skat dat die huidige waarde van hierdie items - die totale dollar-waarde van al dié waardevolle materiale wat gebruik is - beslis nader aan honderd miljoen dollar as die een miljoen dollar sou bedra. Dit is geweldig baie geld om aan ‘n tent te bestee!

Ons het die afgelope paar jaar heelwat duur veranderinge aan ons plek van aanbidding aangebring. Tienduisende dollar het egter daarvoor gesorg om ons heiligdom ‘n pragtige en gerieflike aanbiddingsplek vir ons gemeentelede te verseker. Binnekort sal ons bykans tienduisend dollar aan die opgradering van ons klankstelsel moet bestee. Ons het onlangs vyf-en-dertig duisend dollar aan ons begraafplaas (die enigste Messiaanse Joodse begraafplaas in Kanada) bestee - dit bo en behalwe die kombuis! Ons is natuurlik gekritiseer daaroor. Die kritici was van mening dat hierdie uitgawes eerder ten behoewe van behoeftiges en minderbevoorregtes aangewend moes word. Kritici het egter nog altyd die armes as verskoning aangevoer en ofskoon dit nie in die Skrif aangeteken is nie, is ek oortuig daarvan dat Moses dieselfde soort kritiek moes verduur het! Ek stel egter die vraag: Dink julle dat God geweet het dat daar behoeftiges onder die kinders van Israel was en daar altyd hulpbehoewendes sóú wees, toe hy Moses beveel het om ‘n multi-miljoen dollar tent te bou?

Om dieselfde rede, hoeveel armes sou gevoed kon word teen die prys van die Sistynse Kapel in Rome of die Notre Dame-katedraal in Frankryk of die ganse Vatikaan in Rome? Indien elkeen die houding van “Wat van die armes” sou ingeneem het, sou meeste van die groot kunswerke deur die eeue nooit geskep gewees het nie. Daar sou geen Sistynse Kapel gewees het vir Da Vinci om te beskilder nie; trouens, daar sou ‘n geweldige leemte in die kunswêreld bestaan het!

Mag God my daarvan bewaar om die belangrikheid van hulpverlening aan die armes gering te ag! Ons hier by Melech Yisrael ondersteun ‘n bediening aan huisloses. Ons sorg vir die kleding, voeding en bediening aan armes op die strate van Toronto. Ons beskik oor ‘n voedsel-”spens” gevul met nie-bederfbare kossoorte wat oop en beskikbaar is vir enigeen in nood. Ons het ‘n gevangenis-bediening waar ons gevangenes onderrig en bemoedig. Daarbenewens beskik ons oor ‘n besoekingsbediening wat behels dat ons die wonings van siekes besoek, maaltye veskaf, vir hulle bid en bemoedig. Ons het ook ‘n liefdadigheidsfonds waardeur ons aan ons gemeentelede in finansiële nood, geldelike bystand verleen. Ek is oortuig daarvan dat vele van hierdie bedieningstipes ook onder die kinders van Israel in die wildernis bestaan het - selfs terwyl hulle besig was om die goud-, silwer- en edelgesteente-belaaide tent te bou.

Johannes / Yochanan {12:3} “En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf. {12:4}  Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: {12:5}  Waarom is hierdie salf nie vir drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? {12:6}  En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het. {12:7}  Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis. {12:8}  Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.”

Net soos wat Jesus gedoen het, bevraagteken ek ook soms die motiewe van diegene wat ons uitgawes tot eer van God kritiseer! 
Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-02-05

Saterdag 10 Februarie 2018

Derhalwe Is Ek Hier

Mishpatim
(Oordele)

Eksodus / Shemot {21:15} “En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word. {21:16} En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié moet sekerlik gedood word. {21:17} “En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.”

Terwyl ek die bovermelde verse van hierdie week se Parasha gelees het, het ek gewonder waarom ‘n fisiese aanval op jou vader en moeder, die ontvoering van iemand en om jou vader en moeder te vloek, as halsmisdade beskou en met die dood strafbaar was. Laat ons eerstens die vraag behandel waarom die dade in verse 15 – 17 gemeld, as halsmisdade beskou is en die doodstraf sou regverdig. 

My vrou en ek het onlangs die boek Ester, as deel van ons daaglikse leesplan gelees en ek glo dat ons inderdaad in hierdie boek die antwoord op dié vraag kan te wete kom:

Ester / Esther {1:16} “Toe sê Memúgan voor die koning en die vorste: Nie alleen teen die koning het koningin Vasti misdaan nie, maar ook teen al die vorste en al die volke wat in al die provinsies van koning Ahasvéros is. {1:17} Want die geval van die koningin sal by al die vroue bekend word, sodat dit hulle manne in hul oë veragtelik sal maak as daar gesê word: Koning Ahasvéros het bevel gegee om koningin Vasti voor hom te bring, maar sy het nie gekom nie.”

Hieruit blyk dit dat koningin Vasti se optrede nie net die koning veronreg en in ‘n verleentheid gestel het nie, maar haar weiering om voor die koning te verskyn, ook die integriteit van die ganse samelewing van háár dag in die gedrang gebring het. Ofskoon sy nie haar vader of moeder gevloek het nie, is ek nietemin oortuig dat die effek van haar optrede, juis dié dinge sou veroorsaak het, waaroor die eerste gedeelte van die Skrifgedeelte handel.

Die Tora skryf die beginsels van ‘n regverdige samelewing voor – ‘n samelewing op die beginsels van die huwelik (man en vrou) en gesinseenheid gegrondves. Enigiets wat dus hierdie beginsels sou skaad, verdien die ergste straf omdat die versteuring van familiebeginsels tot nadeel van die samelewing, wat vervolgens tot die ineenstorting van wet en orde en uiteindelik tot ‘n godlose samelewing sal lei! Juis om hierdie rede is egbreuk ook met die dood strafbaar.

Terwyl ek hieroor nagedink het, het ‘n ander Skrifgedeelte met betrekking tot vaders en moeders my bygeval en dit word aangetref in ‘n Skrifgedeelte uit die Hernieude Verbond (Brit Chadasha):

Matthéüs (Mattityahu) {10:37} “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”

Dit het die vraag laat ontstaan: Het Jesus die Tora weerspreek, meer in die besonder hierdie Parasha, toe Hy hierdie woorde gespreek het? Die antwoord is vanselfsprekend “nee”! Jesus was besig om vir diegene wat hom wou volg, te verduidelik dat hulle nie verdeelde lojaliteite kon hê nie. Indien ons ons lewens aan Jesus as ons Here en Redder toevertrou, koop Hy, deur Sy dood aan die kruis, ons as’t ware uit die mag van die duiwel. Ons is dus vrygestel van die straf van die Tora, wat die dood uitspreek oor almal wat sondig, sowel fisies as geestelik – ongeag die oortreding! Voordat ons gered is, het die duiwel ons besit. Ons het deur die sonde onsself aan hom verkoop, maar deur ons redding, behoort ons aan Jesus. Jesus het ons van die duiwel teruggekoop deur in ons plek te sterwe en dus behoort ons nie aan onsself nie.

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {6:20} “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 

Dit is dus verstaanbaar dat verdeelde lojaliteite vir ‘n dienaar van God totaal onvanpas sou wees.

Ek onthou nog toe ek tot die bediening beroep is, dat ek moes besluit om my bejaarde ouers te verlaat aldan nie en die beroep as geestelike leier van die Gemeente Melech Yisrael in Kanada te aanvaar. Dit was ‘n besonder moeilike tyd vir my vrou en myself, maar dit was die woorde in Matthéüs 10:37 wat my gelei het om wel my vader en moeder te verlaat en die Here te volg. Derhalwe is ek vandag hier!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-01-29


Saterdag 03 Februarie 2018

Daar Is ‘n Stryd En Ons Is Die Beloning

Yitro
(Jetro)


Eksodus / Shemot {20:16} “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.”

Daar is Één wat nog nooit ‘n leuen vertel het nie, maar daar is ook één wat aanhoudend lieg. Die leuenaar en die Een wat nog nooit ‘n leuen vertel het nie, is in stryd met mekaar en ons is die slagveld. Hierdie stryd sentreer om wie die beherende belang in ons lewens sal hê.

Vertel ons werklik die waarheid, die volle waarheid en niks behalwe die waarheid nie? Vertel ons altyd eerlik die waarheid oor ons ouderdom, ons gewig, die produkte wat ons verkoop, die belasting wat ons veronderstel is om te betaal of selfs oor God? Hierdie is hoegenaamd geen geringe of onbeduidende vrae nie! Die rede is omdat dit ewige gevolge het – by God is dit ‘n saak van integriteit.

Jesus die Messias is die Een wat altyd die waarheid spreek, terwyl die satan die een is wat aanhoudend lieg. Albei is op hierdie oomblik in ons lewens aan die werk. Hoe weet ek dit? Ek wéét omdat elkeen van ons op een of ander tyd, op een of ander wyse gelieg het.

Johannes / Yochanan {8:44} “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.”

Hiervolgens word die stryd vandag oor ons gevoer, enersyds deur die satan, wat vol leuenagtigheid is en andersyds deur Jesus, wat vol van die waarheid is. Ons verkeer in die middelpunt, die voorwerp van die stryd – ons is die slagveld. Ons bevind ons inderdaad waar die stryd óf verlore óf gewonne is. Die eer van God, die boodskap van die Koninkryk en ons ewigheid is op die spel. Dit sentreer naamlik om één feit, één uitdruklike gebod van God, om “die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand”. As jy dít doen, sal jy vanselfsprekend “nie valse getuienis lewer nie...” – jy sal die waarheid, die volle waarheid en niks behalwe die waarheid spreek nie, so help jou God!

Wat is valse getuienis? ‘n Persoon wat valse getuienis lewer, is iemand wat óf tydens ‘n gesprek, getuienis of ‘n geskrewe of gesproke word, iets van ‘n ander person onthul wat minder as die waarheid is of verskil van die waarheid – ongeag hoe subtiel dit ookal mag wees! Ons kan valse getuienis lewer in ‘n hof, in ‘n persoonlike dispuut, in ons verhoudings, in ons alledaagse gesprekke en lewe. Ons maak ons daarvan skuldig deur soveel as één woord of skinderstorie te herhaal of selfs as ons sarkasties is, by voorbeeld deur te huigel, wenkbroue te lig of deur ‘n veelseggende oogknip. Ons lewer dus valse getuienis indien ons oor iemand of iets lieg en God verafsku leuenaars.

Spreuke / Mishlei {6:16} “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel: {6:17}  trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,”

Jesus is egter die verpersoonliking van alle waarheid.

Johannes  / Yochanan {8:32} “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

Die mate waarin ons die waarheid praat, die waarheid eerbiedig en die waarheid  in ons lewens uitleef, is die mate waarin ons die vryheid deur die Messias sal ervaar om ‘n Geesvervulde lewe te lei. As ons leuens vertel, plaas ons onsself in gebondenheid onder die leuens wat ons spreek. Indien ons ‘n leuen glo, verloor ons ons houvas op die realiteit en eindig gevolglik in gebondenhied onder die leuens wat ons glo. Die waarheid, inteendeel, maak ons vry! Elke keer wat ons die waarheid praat, verhoog en vereer ons God en dít maak ons vry. Telkens wanneer ons in versoeking kom om leuens te vertel, maar daarenteen die waarheid praat, verneder ons die satan en dít maak ons vry. Elke keer wat ons die waarheid praat, word ons vrygemaak van die sonde en skuld van leuens. Wanneer ons die waarheid praat, word die sneeubal-beginsel uitgeskakel, met ander woorde om deur ‘n leuen te probeer om dié leuen wat ons so pas vertel het, toe te smeer, en dit maak ons vry. Telkens wanneer ons die waarheid praat, bewys dit die absoluutheid van die karakter van God en dit maak ons vry. Elke keer wat ons die waarheid praat, lewer ons getuienis aan ‘n leuenagtige wêreld dat ons aan God behoort en dit maak ons vry.

Om die waarheid te vertel, is ‘n kwessie van integriteit. Daar is ‘n stryd aan die gang en daardie magstryd is oor wie jou lewe en myne sal beheer. Dus, volgende keer wat iemand skakel en jy nie geneë voel om met hom / haar te praat nie, moenie iemand laat së dat jy nie tuis is nie terwyl jy wel daar is. Wanneer jy werk toe gaan en die werkgewer verneem of jy die projek, aan jou toegewys, voltooi het, moenie allerlei lukrake verskonings probeer aanbied nie – sê reguit “nee” en dit sal jou vrymaak. As daar verneem word of jy ‘n sekere rekening wat steeds op jou lessenaar lê, reeds vereffen het, moenie “ja” antwoord en dan uitstorm om dit dadelik te gaan doen nie. Ontken dit liewers en verduidelik dat jy dit vergeet het – dít sal jou vrymaak!

Jesus is die volmaakte waarheid. Enige afwyking van die volmaakte waarheid, is dus om op te hou om in Hom te bly. As jy in Hom bly, sal Hy in jou bly en sal jy intieme eerstehandse kennis van die waarheid ervaar en daardie waarheid sal jou vrymaak.

Daar word ‘n stryd in die hemel gevoer tussen die die vader van leuens en die God van waarheid en ons – jy en ek – is die slagveld. Die goeie nuus is egter dat die stryd alreeds gewonne is deur Jesus die Messias. Ons is die oorwinnaars, slegs deur by die waarheid te hou.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-01-22