Tetzaveh
(Jy Sal Beveel)
Eksodus / Shemot {30:1} “Jy moet ook ‘n altaar maak om reukwerk te brand. Van akasiahout moet jy dit maak. {30:2} ‘n El moet sy lengte wees en ‘n el sy breedte—vierkantig moet dit wees; en twee el sy hoogte. Sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees. {30:3} En jy moet dit met suiwer goud oortrek: die plaat en die sykante rondom en die horings. En maak daarvoor ‘n goue krans rondom. {30:4} Maak ook twee goue ringe daarvoor onderkant die krans aan weerskante; jy moet dié aan die twee sykante maak. En hulle moet dien as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra. {30:5} En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.”
Ek het al dikwels gewonder waarom hierdie Skrifgedeelte nie by verlede week se parasha (Parasha Terumah) ingesluit was nie. Dit sou meer sinvol gewees het omdat dit juis daarin is waar die voorskrifte vir die vervaardiging van al die ander arttikels van die tabernakel (Mishkan) voorkom. Ek het gevolglik gewonder: “Is daar dan ‘n bepaalde rede of betekenis daaragter dat God die voorskrifte vir die maak van die reukaltaar bepaal het ná die beskrywing hoedat die heilige- en priesterlike klere gemaak moes word?” Ek is oortuig daarvan dat ons almal sal saamstem dat God niks sommer lukraak doen nie – daar móét dus ‘n rede daarvoor wees!
Al die voorskrifte vir die konstruksie van die tabernakel en gepaardgaande voorwerpe is deur God bepaal. Dan was daar ook die opdrag vir die bring van vrywillige offergawes. Die rede hiervoor was dat, sonder gewillige harte om te gee, niks van God se werk op aarde tot stand gebring kan word nie. Ons God is ‘n gewende en vrygewige God en Sy mense moet net so wees. Hulle móét bereid wees om by te dra vir God se werk, wat oorvloedige seën meebring.
Lukas / Uri {6:38} “Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”
Die ark van versoening (Aron HaKodesh) was die voorwerp waar God in die vorm van Sy sigbare teenwoordigheid (Shachinah) sou verkeer – in die wildernis was dit bedags ‘n wolkkolom en snags vuurkolom.
Johannes / Yochanan {1:14} “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”
Die tafel van die toonbrode het die twaalf stamme van Israel verteenwoordig, wie se aanbidding immer vars en ewig teenwoordig voor God moes wees.
Jesaja / Yeshayahu {49:15} “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!”
Die goue kandelaar (Menorah) het die heigdom verlig, want die mensdom kan nie in die duisternis aanbid nie, maar moet altyd na die waarheid – na die lig kom.
Johannes / Yochanan {8:12} “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
Die tent van samekoms of tabernakel (Mishkan) was die plek waar die Heilige Teenwoordigheid gehuisves was. Daar moet ‘n plek wees waar God se volk kan saamkom vir aanbidding.
Hebreërs / Ivrim {10:24} “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25} en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
Die laaste item wat in verlede week se parasha vermeld is, was die brandofferaltaar (Mitzbe’ach). Met die hart ingestel op aanbidding, die voorwerp van aanbidding in fokus, die immerteenwoordigheid van mense wat God aanbid, vervulling met die waarheid van aanbidding en die voorsiening van die plek van aanbidding, was daar nou behoefte aan toenadering tot aanbidding. Daar moes nou vir die sondige mens ‘n manier wees om die heilge God te nader en brandofferaltaar het juis vir daardie toenadering (of wyding) met offerandes (Korbanot) voorsiening gemaak.
1 Thessalonisense / Thesolonikim Aleph {5:9} “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus {5:10} wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.”
Vandeesweek in parasha Tetzaveh word ons toegelig oor die toewyding tot aanbidding, en die korrekte wyse waarop dit benader moet word. Ten einde aan die aanbidding van God reg te laat geskied, moes die priesterdom voorbereid wees – daar kon niks lukraak daarmee wees nie. Hulle voorkoms, die wyse waarop hulle God gedien het, die wyse waarop hulle geheilig (kadosh) is, moes alles in volmaaktheid uitgevoer word. Wat egter werklik aangaande hul toewyding uitgestaan het, was die feit dat daar van hulle vereis is om die wydingsofferande te eet:
Eksodus / Shemot {29:31} “En jy moet die wydingsram neem en sy vleis in ‘n heilige plek kook. {29:32} Dan moet Aäron en sy seuns die ram se vleis eet en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms. {29:33} En hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle as priesters aangestel en geheilig is; maar ‘n onbevoegde mag daarvan nie eet nie, want dit is heilig.”
Ons is almal as gelowiges in Jesus die Messias, bewus daarvan dat ons ook ‘n koninklike priesterdom is.
1 Petrus / Kefa Aleph {2:9} “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,”
In die lig daarvan, moet ons ook die offerande (korban) van ons toewyding eet:
1 Korinthiërs / Korintim Aleph {11:24} “en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.”
Waarom staan die brandofferaltaar dan vir die laaste oor? Ons weet almal dat wierook in ‘n vertrek ‘n aangename geur versprei. Met alles vir behoorlike aanbidding voorberei, was die priesterdom nou gereed om met hul werk te begin: Die verteenwoordiging van die volk voor God.
Openbaring / Hitgalut {8:3} “En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; {8:4} en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.”
Die wierook verteenwoordig ons gebede, wat die einddoel van aanbidding is!
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-02-12