Ki Teitzei
(Wanneer jy uitgaan)
Deutoronomium / Devarim {21:15} “As ‘n man twee vroue het, een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou, {21:16} dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie. {21:17} Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.“
Die gebruik dat aan die oudste seun ‘n dubbele porsie van die vader se erflating toekom, word in die Westerse wêreld slegs by uitsondering nog toegepas. Vandag is dit meer algemeen dat al die kinders, hetsy seuns of dogters, gelykop erf. Ek dink hierdie verandering is teweeggebring op grond van die toenemende verbintenis tot finansiële verpligtinge van die gesin in ons modern wêreld.
In Bybelse tye het die oudste seun – met die afsterwe van hul vader – egter die familiehoof geword. Dit het dus sy verantwoordelikheid geword om die familie te lei en vir die moeder en ongetroude broers en susters te sorg. In die lig van sy bykomende verantwoordelikheid, het hy vir ‘n addisionele erfporsie in aanmerking gekom. In teenstelling hiermee, is meeste families deesdae versprei: Hulle woon nie meer saam in dieselfde land nie – om nie eers te praat van dieselfde huis, dorp of stad nie. Die konsep van die oudste seun se leierskap bestaan nie meer nie. Sy erfporsie het dus gelyk met dié van die ander kinders geword, behalwe natuurlik in die geval van ouerlike begunstiging.
Jy sal miskien meen dat hierdie Skrifgedeelte betreffende die seun van die geliefde vrou en die seun van die mindergeliefde vrou, nie eintlik vandag op Noord-Amerika betrekking het nie, maar die feit is, dat dit wel die geval is. Ons is almal bewus daarvan dat veelwywery verbode is in die Weste; derhalwe sal ‘n man deesdae slegs één vrou hê. Dit is om dié rede dat wanneer meeste mense hierdie Skrifgedeelte lees, hulle dit as totaal ontoepaslik beskou. Terwyl die gedagte aan moontlike egskeiding miskien ondenkbaar en uitsonderlik was tot en met die afgelope eeu, is dit vandag iets alledaags. Ons samelewing het alte dikwels ervaar dat egskeiding soms baie traumaties kan wees – veral wanneer kinders en toesig oor hulle ter sprake kom. Dit laat die vraag ontstaan van die kinders van die mindergeliefde vrou en dié van die geliefde vrou. Egskeiding maak hierdie gebod wéér ‘n werklikheid.
Ek glo nie aan egskeiding nie, maar daar is sommige gelowiges wat getroud was en geskei het voordat hulle in Jesus geglo het en weer getroud is met iemand van hierdie geloof, nadat hulle gelowig geword het. Kom ons aanvaar byvoorbeeld dat dié persoon kinders by beide vroue gehad het: ‘n Seun by sy vorige vrou en nou ‘n seun by sy huidige vrou. Wat gebeur in so ‘n geval? Word hulle selfs verplig om die vereiste van die Tora, soos in die bovermelde Skrifgedeelte uiteengesit, na te kom? Wat my betref, is die antwoord ‘n uitdruklike “ja”. Waarom? Omdat gelowige gesinne op Bybelse beginsels gefundeer is en derhalwe volgens die voorskrifte en lering van die Bybel moet funksioneer. Niks aangaande hierdie gebod, is afhanklik van die tempel of die land Israel nie. Daarom is hierdie gebod betreffende die seun van die mindergeliefde vrou vandag steeds net so geldig en toepaslik soos toe dit ingestel is.
In die huis van ‘n gelowige gesin, moet die eersgebore seun, of hy van die mindergeliefde vrou is of nie, as toekomstige familiehoof grootgemaak word, met die verantwoordelikheid van toekomstige familieleierskap asook om die familie bymekaar te hou, indien die vader sterf. Dit sou ook die verantwoordelikheid impliseer om die moeder en ongetroude broers en susters te onderhou.
Daar is nog ‘n interessante feit waarop ek graag sou sou wys.
Eksodus / Shemot {4:22} “Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.“
God het hier ‘n verklaring gedoen: Hy het Israel verklaar as Sy eniggebore Seun. Volgens God se eie Woord, moet Israel ‘n dubbelporsie ontvang. Het hulle? Ja, hulle het!
Jesaja / Yeshayahu {49:5} “En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word—en Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte— {49:6} Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde. {49:7} So sê die HERE, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat ‘n afsku is by die volk, ‘n Kneg van die heersers: Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-09-10