Vrydag 24 April 2020

Respek

Tazria
(Rituele Reinheid En Onreinheid)


Levitikus {12:1} "VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2} Spreek met die kinders van Israel en sê: As ’n vrou swanger word en ’n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. {12:3} En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word."

Parasha Tazria handel oor die rituele wette van reinheid en onreinheid. Dit is dus vanselfsprekend, dat volgens die bogemelde Skrifgedeelte, hierdie wette van toepassing is op ‘n persoon se deelname aan die tabernakel – of Tempeldiens maar nie op ons sinagogedienste van vandag betrekking het nie. Laat ons weer dié verse lees:

Levitikus {12:4} "Dan moet sy drie-en-dertig dae in die reinigingsbloed bly. Aan niks wat heilig is, moet sy raak nie en in die heiligdom mag sy nie kom nie totdat die dae van haar reiniging verby is."

Die kadosh- (heilige) voorwerpe waarna hierin verwys word, is die gebruiksartikels, die offers en ander items wat tydens die diens in die Tempel gebruik is. Dit beteken dus dat al hierdie wette uitsluitlik op die Tempel betrekking gehad het, maar aangesien daar geen Tempel meer in Jerusalem is nie, die betrokke wette vandag nie op ons betrekking het nie. Dit beteken egter geensins dat die wette, in die toekoms wanneer die Tempel herbou is nie van krag sal wees nie. Die rede hiervoor is dat dit die voorwaardes beskrywe waarvolgens ‘n persoon die Heilige God mag nader, wanneer Hy in die Tempel teenwoordig is. Volgens die profeet, Esegiël, sal daar weer in Jerusalem ‘n Tempel wees en dat God in hierdie Tempel teenwoordig sal wees. Dan sal die wette van rituele reinheid en onreinheid weereens van toepassing wees.

Derhalwe mag dit vir ’n persoon maklik wees om te sê dat hierdie hele Parasha van geen belang is nie. Indien julle hierdie sienswyse handhaaf, stel ek voor dat julle dit heroorweeg, aangesien dit tog in ons lewens belangrik is! Ons behoort hierdie Parasha meer as slegs wette sonder toepaslikheid te beskou; trouens na my mening, hou dit veband met ontsag ofte wel dit wat vir ‘n Heilige God aanneemlik of onaanneemlik is. Ek het nog nooit ‘n vrou wat menstrueer of ‘n nuwe moeder die reg ontsê om aan ons gemeentediens deel te neem nie. Selfs toe ek ‘n gemeenteleier was, sou ek nooit voorgestel het dat hierdie Parasha vandag geen betrekking op ons het nie. Dit hou wel verband in soverre dat te veel gelowiges sonder die nodige ontsag teenoor God optree. In hierdie opsig, kan ek net verduidelik dat alhoewel ek my vader gewoonweg as “pappa” aangespreek het, dit my nooit die reg gegee het om hom oneerbiedig te behandel nie. Dikwels wanneer ek uit my beurt gepraat of hom op ‘n ongeskikte wyse geantwoord het, het hy my daaraan herinner dat hy nie een van my vriende was om so sonder respek aangespreek te word nie nie. Hy was immers my vader en het nie verdien om so oneerbiedig behandel te word nie, ongeag die feit dat ek hom “pappa” genoem het.

Romeine { 8:15 } "Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!"

Hierdie gedeelte kan mense moontlik die indruk gee dat ons God “Pappa” kan noem en Hom dus familiêr aanspreek. In die Bybelse Hebreeus kan “Abba” hoegenaamd nie as “Pappa” vertaal word nie, maar eerder as “Liefdevolle Vader”. God is ons Liefdevolle Vader en nie ons “Pappa” nie en daarom moet ons teenoor Hom met uiterste gesag optree. Ontsag behoort in elke aspek van ons lewe te blyk – of ons in die sinagoge (of kerk) is of nie. 

Hierdie Parasha behoort ‘n wekroep tot alle gelowiges te wees. God bepaal Sy eise en Sy manier om dinge te doen – daarom is ons verplig om dit te bestudeer, verstaan en toe te pas in ons verhouding met Hom, of dit beginsel is of nie, maar dan toepaslik volgens wet!

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Reinheid

Metzora
(Iemand wat ly aan Tzara’at (Leprose))


Ek vertrou dat julle die hele Parasha sal deurlees anders glo ek nie dat julle ten volle sal waardeer wat ek hier geskryf het nie. Net in geval dit wel gebeur, verstrek ek as voorbeeld slegs enkele gedeeltes, sodat julle kan begryp wat ek bedoel.

Levitikus {14:7} "En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg.{14:8} Dan moet hy wat gereinig moet word, sy klere was en al sy hare afskeer en ’n bad neem; dan sal hy rein wees. En daarna kan hy in die laer kom, maar hy moet sewe dae lank buitekant sy tent bly. {14:33} VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:{14:34} As julle in die land Kanaän inkom wat Ek julle as besitting gee, en Ek die plaag van melaatsheid in ’n huis van die land van julle besitting laat kom, {14:35} moet hy aan wie die huis behoort, kom en aan die priester te kenne gee en sê: Dit lyk my of daar ’n plaag in die huis is. {14:47} En hy wat in die huis slaap, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet, moet sy klere was. {15:1} VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {15:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As enige man ’n vloeiing uit sy vlees het, dan is dié vog onrein. {15:3} En dit sal sy onreinheid deur die vloeiing wees: As sy vlees die vog laat loop of sy vlees verstop raak van die vog — dit is ’n onreinheid in hom {15:4} Elke bed waar hy op lê wat die vloeiing het, sal onrein wees; en alles waar hy op sit, sal onrein wees.{15:5} En elkeen wat aan sy bed raak, moet sy klere was en ’n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein; {15:17} Ook elke kledingstuk en elke vel waar die saadvloeiing op kom, moet in die water gewas word en dit bly tot die aand toe onrein. {15:18} En wat die vrou aangaan met wie ’n man vleeslike gemeenskap het — altwee moet ’n bad neem en sal tot die aand toe onrein wees.

Verstaan julle wat ek bedoel? Daar moes ‘n groot aantal onrein mense gewees het; trouens, dit sou bykans onmoontlik gewees het om nie onrein te wees nie. Wie sou kon geweet het wie onrein was of geslagsgemeenskap gehad het of wie ‘n plaag in hulle huis gehad het, as hulle dit nie self vertel het nie? Indien dit alles vandag op ons van toepassing was, sou ons afgesonder soos kluisenaars moes leef om nooit iets of iemand aan te raak nie uit vrees om onrein te raak.

Uit hierdie Parasha is dit duidelik dat onreinheid besmetlik is, soos ‘n verkoue of griep. Hoe het mense dan alledaags te werk gegaan en normale lewens gely gedurende die Bybelse tye in Israel? Verbasend genoeg, het hulle tog daarin geslaag! Ek vermoed elkeen was versigtig genoeg om die nodige voorsorg te tref dat hulle ander mense nie besmet nie.

Hierdie rituele reiniging het egter net gegeld vir diegene wat die tempel besoek het. Vir elke manlike persoon sou dit beteken om driemaal per jaar op die drie heilige dae: Pasga, Pinkster en die Fees van die Tabernakels voor God te verskyn. Hulle het gekom met die doel om ‘n naderkomsoffer (Korbanot) of enige ander tipe offer aan die Here te bring. Enigiets wat ‘n persoon onrein gemaak het, het hom natuurlik ongeskik gemaak om in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom was dit om ritueel rein te wees, ‘n alledaagse deel van die Israeliet se lewe. Aangesien daar nie langer ‘n Tempel in Jerusalem is nie, is hierdie wette vandag nie meer van krag nie. Veronderstel ons neem hierdie wette in moderne tye oor, maar pas slegs die beginsels daarvan toe maar nie die wette van hierdie Parasha nie. Sou dit nie ‘n ideale samelewing gewees het as iemand met verkoue, griep of enige ander oordraagbare of besmetlike siekte, opreg omgegee en voorsorg getref het om nie hulle kieme te versprei nie? Ons sou nie net ‘n meer bedagsame samelewing gehad het nie, maar ook ‘n gesonder een. Dink net hoeveel lewens gered sou word en minder siektes  daar sou gewees het. Die koste van gesondheidsorg en – versekering sou aansienlik minder gewees het en minder inentings sou nodig gewees het. Miskien behoort ons ‘n “Elkeen Behoort die Tora te Gehoorsaam” – beweging te begin en voorstel dat elkeen waar moontlik die Tora - beginsels op hulle lewens toepas. Indien dit lewensvatbaar was, sou dit ‘n wonderlike wêreld tot gevolg gehad het!           

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Saterdag 18 April 2020

Kwaad Word & Verskonings

Shemini
(Agste)

Handelinge 10:9 – 22; 10:34 – 35

Levitikus {10:16} "En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Ítamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê:" {10:17} Waarom het julle die sondoffer nie op ’n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18} Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19} Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20} Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë."

Hierdie gedeelte van die Skrif was nog altyd vir my moeilik om te begryp. Die bok van die sonde-offer moes, in ooreenstemming met die opdrag van God, geslag word. Gedeeltes daarvan moes verbrand en ‘n deel daarvan in die heiligdom deur Aäron en sy twee seuns geëet word. Die bloed van die offerande moes dan in die heiligdom ingebring word as versoening vir sonde. Aäron en sy seuns het egter geen van hierdie voorskrifte nagekom nie en Moses was tereg vir hulle kwaad daaroor. Versuim om instruksies van God na te kom, kon verskriklike gevolge vir die hele kamp van die kinders van Israel ingehou het.

Levitikus {6:25} "Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word. Dit is hoogheilig. {6:26} Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ’n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. {6:29} Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is hoogheilig. {2:30} Maar elke sondoffer waarvan ’n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word."

Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ’n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms.

Aäron het nagelaat om die instruksies, wat Moses van God ontvang het en aan hom opgedra het, na te kom. Soos wat Israel dikwels vantevore ervaar het, het versuim om die instruksies van God uit te voer, ongetwyfeld ernstige gevolge ingehou. Toe Aäron egter aan Moses ‘n logiese verduideliking verstrek het waarom die instruksies van God nie uitgevoer is nie, het Moses dit aanvaar en is hy vergewe. Juis dit is wat vir my onverstaanbaar is. Wysig God Sy reëls indien ons ‘n goeie verskoning aanbied waarom Sy instruksies nie nagekom is nie? Voordat ek dít egter behandel, wil ek graag oorweging skenk aan die rede  waarom Moses kwaad geword het.

Volgens die Skrif was Moses die nederigste man wat ooit geleef het, maar tog dui die teks daarop dat hy vir sy broer en neefs kwaad geword het omrede hulle nagelaat het om te doen wat hulle veronderstel was om te doen. Is dit moontlik om kwaad te word, maar steeds as nederig en sagmoedig beskou te word? Die antwoord is ja, indien jou woede uit reverdigbare verontwaardiging ontstaan. Moses was kwaad, nie omdat Aäron en sy twee seuns iets teen hom persoonlik gehad het nie, maar wél omdat hulle aan God ongehoorsaam was.

Toe ek die rabbi by Melech Israel was, het ek dikwels vir mense kwaad geword oor dinge wat hulle gedoen of nagelaat het om te doen. Dit het byvoorbeeld gebeur wanneer iemand ‘n eed afgelê en dit nie eerbiedig het nie. Dit het my laat kwaad word wanneer iemand ‘n rebelse daad pleeg of sonder enige rede haat teen ‘n mede-lidmaat van die gemeente gekoester het. Ek was nie kwaad omdat hulle hierdie dinge teen my persoonlik gedoen het nie, maar wel omdat hulle dit teen God gedoen het! Dit was uit liefde vir God en my begeerte vir die lidmate om God te eer deur Sy gebooie te onderhou, dat ek kwaad was. Jesus het iets baie soortgelyk gedoen:

Johannes {2:15} "En Hy het ’n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. {2:16} En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ’n handelshuis maak nie."

Jesus was kwaad oor die handel wat in Sy Vader se huis gedryf is. Hy was nie kwaad oor iets wat hulle Hom persoonlik aangedoen het nie. Hy was regverdigbaar verontwaardig en netso was Moses en op dieselfde wyse, ek ook. Dit was nie woede wat nederigheid vernietig nie, maar wel woede ter verdediging van die Woord van God en Sy geregtigheid; dit is woede veroorsaak deur die bewustheid van die gevolge daarvan om God nie te gehoorsaam nie.

Wat nou van die indruk dat God reëls wysig indien ons nie ‘n geldige verskoning het nie? Blote verskonings stel ‘n mens nie vry van straf deur God nie. In der waarheid het Aäron nie net ‘n verskoning aangevoer nie – hy het oor uitstekende redenaarsvermoë beskik! Sy oudste seuns het pas vantevore gesterf vanweë hulle ongehoorsaamheid en moontlik het hy regstreeks verantwoordelik vir hulle dood gevoel. Indien dit julle kinders was, sou julle waarskynlik ook skuldig vir hulle dood gevoel het. Moontlik kon julle gedink het: “As ek hulle maar net meer behoorlik onderrig het, sou hulle vandag nog geleef het”. Aäron en sy seuns het vanweë die gebeure van die dag, blykbaar geen eetlus vir voedsel of lus vir die nakoming van die vereistes van die heiligdom gehad nie. As ons in Aäron se posisie was, sou voedsel of ons werk voorwaar die laaste in ons gedagtes gewees het. Die vraag is: “Is dit gepas om iets vir die Here te doen indien ‘n mens nie in jou hart daartoe geneë voel nie?” Ek dink dat dit vir enigeen van ons ‘n probleem sou wees om daardie vraag in ‘n negatiewe (dit is nie betaamlik nie!) sin te beantwoord.Wanneer ons iets vir die Here doen met die verkeerde gesindheid, is dit vir Hom nie aanvaarbaar of behaaglik nie. Indien Aäron die offer met die verkeerde gesindheid sou gebring het, sou hy die heiligheid van God en die offerande ontheilig het, wat in wese deur Nedav en Avihu gedoen is voordat God hulle laat sterf het.

Aäron het nie ‘n verkeerde verskoning aangevoer nie, maar gedoen wat reg was: hy het die heilige van die onheilige onderskei. Ons behoort dieselfde te doen omdat blote verskonings nie deur God aanvaar word nie – so staak julle verskonings!

Levitikus {10:10} "en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;"

Kom gou Jesus!
PDF weegawe


Saterdag 11 April 2020

Die Bloed

Pesach
(Paasfees)


Eksodus {13:21} "En die HERE het voor hulle uitgetrek, bedags in ’n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ’n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek."

Die wolkkolom en die vuurkolom is die eerste karakter van die Ruach HaKodesh (Heilige Gees) wat in die Skrif voorkom. Onthou die Bnei Yisrael (Kinders van Israel) was redelik onlangs bevry deur die bloed van die Pasgalam. Hulle het dus hulle vertroue in daardie bloed gestel om hulle te red van die angel van die dood en in geloof die bloed ook aan die deurkosyne van hulle huise aangewend. Hulle geloof het hulle gered en hulle is bevry van die demoniese gode van Egipte (Mitzrajim) om die Een Ware God, Skepper van die hemel en aarde, te dien. Vanaf daardie oomblik, was die Heilige Gees by hulle, om hulle te lei, as Gids te dien en hulle te beskerm; soos wat Hy met ons gelowiges in Jesus die Messias is. God het hulle verlos en toe het Hy neergedaal om tussen hulle te woon. Dit was egter nie van toe af alles maanskyn en rose vir Israel nie!

Toe God met die kruisiging van die Messias, die voorhangsel in die Bet Ha Mikdash (Tempel) middeldeur geskeur het, het Hy die weg vir ons gebaan om in Sy teenwoordigheid te kan kom. Ek dink graag soos volg hieraan: God het gesmag na gemeenskap met Sy skepping, die voorhangsel wat ons geskei het, middeldeur geskeur, uitgegaan om ons te ontmoet waar ons ookal was. Sommige gelowiges dink dat aangesien hulle deur God gered is, kan hulle nou onbesorgd lewe, sonder teenspoed of swaarkry; trouens, daar is predikers wat selfs hierdie leuen verkondig. Dit is die demoniese leerstelling van “aanvaar Jesus as julle Here en alles sal daarna goedgaan in julle lewe”. Dit is die “noem-dit-en eis dit”- leerstelling en dit is juis wat ek “demonies” noem. As julle dít glo, sal dit julle weer verslaaf aan die vorige Egiptiese leermeesters. Ongeag watter beproewing ons oorval, as ons reeds bevry is, leer die Skrif ons:

Romeine {8:28 - 29}

{8:28} "En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is." ... En wat is daardie bedoeling? Dit word vir ons gesê in die volgende vers;
{8:29} "Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;" ... Om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun…

Ons sou nooit so’n belofte nodig gehad het indien ons vir onsself slegs die goeie geeis het nie.

God kon die kinders van Israel oor die Rietsee gelei het en wel buite die bereik van die Egiptenaars, op die eerste dag wat hulle Egipte verlaat het; nogtans het Hy hierdie weg gekies omdat die ander roete nie tot heerlikheid van Sy naam sou gewees nie. Al ons beproewings is geleenthede; geleenthede om ons geloof te versterk en in God te glo; geleenthede om onsself aan Sy wil te onderwerp en Sy reddende hand aan die werk sien in ons lewens; geleenthede vir ons om Sy heerlikheid te aanskou.

Elkeen van die kinders van Israel het veilig deur die see getrek, nie een het verlore geraak nie; al wat hulle moes doen, was om nie terug te draai nie. Dit is ons erfenis as Gelowiges; dit is die historiese voorbeeld van ons algehele en ewige bevryding in Hom; aan Hom. Wat die vyand betref het God hulle verwar, hulle krag ontneem en hulle sluheid en wapentoerusting tot niet gemaak, totdat Israel hul vyand totaal vernietig gesien het tot in ewigheid. God het Sy heerlikheid gevestig vir al die nasies wat hierdie dinge later sou verneem, terwyl Israel gesing en gejuig het oor hulle redding aan die anderkant van die see, en so sal dit vir ons wees, indien ons nie terugdraai nie.

Geeneen kan sonder geloof tot God kom nie. Niemand sal op hulle eie meriete of op eie krag in Sy hemelse woning kan ingaan nie. Sy verlossing is vir diegene wat glo in die gestorte bloed van Sy Pasgalam. Daar is vele verskillende gelowe in die wêreld. Baie van hulle maak selfs aanspraak daarop om “Gelowiges” te wees, wat nie redding deur geloof in die bloed van die Messias (God in die vlees) glo nie; God sê egter: Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek oor julle gaan. As Gelowiges, kan julle gerus wees en as soekers, moet julle glo dat die enigste manier waarop julle God en die hemel sal sien, is deur middel van die kruis. Enigeen wat op ‘n ander manier probeer om daar te kom, sal weggespoel word deur ‘n see van ewigheid sonder hoop, sonder rus, sonder God, maar oor die een wat sy vertroue in die bloed van die Paaslam gestel het, hang die ewige belofte:

Eksodus {14:14} "Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees."

Kom gou Jesus!
PDF weergawe

Saterdag 04 April 2020

Bediening

Tzav
(Opdrag)


Levitikus {6:8 - 13} "VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {6:9} Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word. {6:10} En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi. {6:11} Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op ’n rein plek uitbring. {6:12} En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. {6:13} Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie."

Soos wat ek verder gelees het in hierdie week se Parasha, het dit vir my gevoel asof ek na ‘n volledige taakbeskrywing vir die Cohenim (Priesters) kyk. Die Priesters het voor die Here namens die mense diens gedoen en soos wat ek deur die streng vereistes waaraan hulle moes voldoen aflei, het ek besef dat om ‘n Priester te wees, geensins so’n benydenswaardige taak was nie: dit was veeleisende werk!

Baie mense het ‘n onrealistiese begrip van wat dit behels om in ‘n voltydse bediening te staan. Ek het deur die jare as gemeentelike leier ervaar, dat dit soms gebeur dat wanneer iemand hulle werk verloor of ontnugter raak met die werk wat hy/sy besig was om te doen, hul gedagtes onwillekeurig gegaan het oor die moontlikheid om in ‘n voltydse bediening te staan. Hulle het onder die indruk verkeer dat dit ‘n laer stresvlak en druk sou behels om vir die Here te werk: die waarheid is egter dat dit nie so is nie! Om in die bediening te staan, is harde, stresvolle werk soos uit Parasha Tsav blyk. Selfs die Priesters se lone was bepaal  afhangend van die aantal offerandes wat hulle sou moes waarneem (soortgelyk soos om in die hedendaagse tyd teen ‘n kommisie te werk).

Levitikus {7:7 - 8} "Soos die sondoffer, so die skuldoffer; een wet geld vir hulle — die priester wat daardeur versoening doen, aan hom kom dit toe. {7:8} En die priester wat die brandoffer van iemand bring — die vel van die brandoffer wat hy gebring het, aan die priester, aan hom kom dit toe."

Hier word ons vertel dat die Cohen (Priester) die vel van die sonde-offer as deel van sy loon ontvang het. Soos ons verder lees, verneem ons dat hulle ook ‘n deel van die meeste offerandes as voedsel vir hulself en hul gesinne ontvang het. Soos in die res van die wêreld, moes Priesters hard werk vir hulle lone.

Ek was altyd verbaas oor hoeveel mense skielik die roeping gevoel het om in die bediening te gaan wanneer hulle ontevrede geraak het met hulle werkgewer, hulle werk, in die pad gesteek is of bedank het. Skielik het die voltydse bediening ‘n aantreklike alternatief geword. Daar is niks daarmee verkeerd om vir die Here te wil werk nie; trouens, dit is baie bewonderingswaardig en mees vervullend. Die probleem is dat hierdie mense onder die indruk verkeer dat die bediening vir God nie harde werk sou vereis nie - ten minste geensins soos in die sekulêre wêreld nie. Hulle het hulself minder frustrasie, minder druk en baie minder stres voorgestel. Indien hierdie week se Parasha egter nie daardie ideaal verwesenlik nie, laat ek mý ondervinding om in die voltydse bediening te staan, verduidelik.

Ek was ‘n algemene kontrakteur voordat ek begin het om vir die Here in die bediening te staan. Toe ek die roeping ontvang het om tot die voltydse bediening toe te tree, het my kontrakbesigheid floreer en ek was inderdaad baie gelukkig in my werk.Terwyl ek nog gewerk het, het ek myself vrywillig by die gemeente aangemeld, bedienings gelei en Bybelstudie behartig; daarbenewes was ek ‘n ouderling en raadslid, met alles wat dit behels het. Verder het ek nooit ‘n Erev Sabbat of enige ander Sabbatsdiens gemis nie. Ek het nie tot die bediening toegetree omdat ek gefrustreerd, ontnugterd of ontevrede was om in die sekulêre omgewing te werk nie!

Ek vertel dit nie om ‘n gunstige indruk te skep of myself goed voor te stel of bewonder te word nie. Ek noem dit omdat, ongeag wat ek alreeds vir die Here gedoen het, ek nog nie voorbereid was vir alles wat sou gebeur toe ek tot die voltydse bediening toegetree het nie. Die werk wat ek in die voltydse bediening gedoen het, die tyd en inspanning wat dit geverg het, hulpverlening, gebed, berading, besoeke en net eenvoudig alles wat dit behels het aan diegene aan wie ek bediening verleen het, het baie meer vereis as wat ek in ‘n sekulêre werksomgewing moes doen. Om nie eers te meld van die studies, onderrig, sosiale aangeleenthede, raadsvergaderings, administratiewe pligte en om byna vier-en -twintig uur per dag beskikbaar te wees nie. Dit het feitlik alles van ‘n sekulêre werk wat ek ooit in my hele lewe gedoen het, oortref. Ongelukkig het dit in baie gevalle sonder enige waardering deur diegene wat ek moes bedien, geskied. Ek wonder of die kinders van Israel alles waardeer het wat die Priesters vir hulle gedoen het! Moet my nie verkeerd verstaan nie - ek kla geensins daaroor nie. Ek het geniet wat ek gedoen het en sou niks daarvan wou verander nie, maar ek dink tog dat ons almal behoort te verstaan dat bediening WERK is en boonop harde werk! Daarbenewens om God as jou “baas” te hê, maak dat jy alles wil gee en dít jou uiterste bes! Julle weet dat Hy van ons verwag om ons uiterste bes vir Hom te doen!

Die Cohenim (Priesters) moes werk en hard werk daarby. Hulle kon nie waag om met die diens ten opsigte van offerandes nalatig te wees nie. Moet dus nooit dink aan die bediening as ‘n beroep, wat nie juis harde werk behels nie. Ons moet onthou dat die werk van diegene in ‘n voltydse bediening, nie soseer ‘n gewone beroep is nie - miskien véél meer as werkers in ‘n sekulêre omgewing. Terloops, elke gelowige in Jesus die Messias behoort hulself sodanig te beskou asof hulle in ‘n voltydse bediening staan, ongeag wat hulle sekulêre beroep is!  

Kom gou Jesus!
PDF Weergawe