Saterdag 24 Desember 2011

Bely en Aanvaar Verantwoordelikheid

26 Desember 2011 
D’Var Torah 
En Hy Het Nadergekom / Vayigash 


Genesis / Bereshit {44:30} “As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie—terwyl sy siel innig aan hom verkleef is— {44:31} sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32} Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33} Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34} Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie! ”. 

Dit het veel van Juda vereis om uiteindelik te bely en verantwoordelikheid vir wat hy gedoen het, te aanvaar. Ja, hy bely nie spesifiek sý sonde en dié van sy broers nie, maar deurdat hy die blaam op homself geneem het om sy broer Benjamin te red – wat hy nie in Josef se geval gedoen het nie – bewys aan ons dat Juda en sy broers inderdaad berouvol was. 

Josef en sy nege broers moes werklik veel verduur het om hierdie punt van belydenis en berou te bereik. Hulle het vir twintig jaar lank met ‘n skuldgevoel geleef. Hulle het terdeë besef dat hulle hul vader bedrieg het deur hom te laat glo dat Josef dood is – deur ‘n wilde dier verskeur. Daarna was daar die pynlike eerste ontmoeting met Josef, waar hy hulle herken het, maar hulle nie vir hóm nie. Josef het hulle deur ‘n ontsettende moeilike tyd laat gaan. Soos ons bewus is, het hy hulle getoets deur ‘n dreigement om hulle almal te laat arresteer vir spioenasie. Eindelik het hy slegs vir Simeon in die gevangenis laat agterbly, terwyl hy daarop aangedring het dat sy broers met Benjamin terugkeer as bewys dat hulle nie spioene was nie. Dit was vir hulle ‘n uiterste beproewing. Toe hulle onderweg terug, boonop die geld wat hulle vir die graan aan Josef betaal het, in hul sakke ontdek, kan ek myself net voorstel hoedat hierdie manne moes gevoel het. Hulle stresvlak moes onbeskryflik hoog gewees het! 

Hier, met een broer in die gevangenis, die geld wat hulle betaal het in hul sakke, wat hulle soos diewe laat lyk het en die blote gedagte om na hierdie magtige, onvriendelike Egiptiese heerser met hul broer Benjamin terug te keer, moes ongetwyfeld geweldig stresvol vir hulle gewees het. Boonop, die feit dat hulle vader, Jakob, geweier het om Benjamin saam met hulle na Egipte te laat teruggaan. Toe Jakob uiteindelik toestemming verleen het om Benjamin te laat gaan, het hy dit gedoen deur verdere skuldgevoelens op sy oorblywende seuns te laai. Dit het ook nie dáár vir hulle geëindig nie! Met hulle terugkeer na Egipte, het Josef steeds druk op sy broers uitgeoefen. Ek is oortuig daarvan dat onbeskryflike vrees hul harte beetgepak het toe die onderkoning se drinkbeker, met hul terugtog, in Benjamin se sak ontdek is! Kan jy jouself dit alles indink? Probeer om jouself in hierdie verhaal voor te stel – dink net hoedat jy sou gevoel het! 

Kan jy jouself voorstel onder soveel druk en vrees, wat hierdie berouvolle broers moes verduur? 

Dit is onteenseglik duidelik dat Josef doelbewus besig was om sy broers deur al hierdie stres te laat gaan. Dit was immers hy wat hulle herken het en indien hy wou, kon hy homself tydens hul eerste ontmoeting reeds aan hulle bekendgestel het. Die feit is egter dat hierdie hele episode, van begin tot einde, die beskikking van God was. Hy was besig om hulle te bring tot erkenning van hulle sonde en hulle te beweeg van skuld na belydenis na berou. 

Baie van ons voel skuldig oor ons sondes, maar dring daardie skuldgevoel ons enigsins daartoe om dit te bely en berou daaroor te hê, of “begrawe” ons dit doodeenvoudig, net soos Josef se broers en gee voor dat dit nie bestaan nie? Gaan ons ook maar aan met ons lewens asof niks gebeur het nie? 

Ek vertrou dat jy hierdie volle verhaal as ‘n beeld, ‘n prent van Jesus en Sy broers – die Joodse volk – sal beskou. Wat ek egter wil hê waarna ons vandag moet kyk, is die eenvoudige betekenis in hierdie verhaal vervat en die les wat ons daaruit kan leer. 

God het Josef se broers tot die uiterste beproef sodat hulle uiteindelik hul skuld bely en berou gehad het. Vir twintig jaar lank het hulle dié skuld binne-in hulle gedra en ek is oortuig dat dit vir hulle veel leed, lyding en selfs siekte meegebring het – om nie eers van die gevolglike gespanne verhouding onderling asook met hulle vader te praat nie. Hoe kon hulle hom ooit weer eerlik in die oë kyk ná wat hulle gedoen het? 

Dink vir ‘n oomblik na oor jou lewe. Het jy die afgelope jare angs, leed en lyding verduur? Voel dit vir jou asof jy, ten spyte van die teëspoed, geen voorspoed ooit sou beleef nie? Is daar enige skuldgevoel wat jy in jou onderbewussyn weggebêre het, wat moontlik tot jou angs en selfs siekte aanleiding kan gee? Miskien is dit ‘n bestiering van God dat Hy jou tot erkenning van jou skuld, belydenis en berou wil bring. Meen jy dat jy God kan uitoorlê en Hy jou eindelik in vrede sal laat? Hy sal beslis nie! Wees verseker dat Hy die druk op jou sal handhaaf, jou uit die één beproewing in die ander laat beland totdat jy óf bely en berou het óf in jou sonde sterf. Indien jy egter verkies om God te trotseer en in jou sonde te sterf, onthou die hel is ‘n werklikheid! 

Markus / Mordechai {9:43} “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, {9:44} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:45} En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, {9:46} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:47} En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, {9:48} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. ”. 

Aanvaar Jesus as jou Here en Redder. Toon nóú berou en waarborg sodoende vir jou ‘n plek by Hom in die hiernamaals. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 17 Desember 2011

Wat Verraai Jou Hart?

18 Desember 2011 
D’Var Torah 

Vandeesweek se Parasha begin met die farao van Egipte wat twee drome gedroom het wat onmoontlik was om uit te lê. 

Genesis {41:9} “Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring. ”. 

Ek het al dikwels gewonder watter verskil daar tussen die hoofbakker en hoofskinker was. Waarom is die hoofbakker gehang, terwyl die hoofskinker, wat skynbaar ook die koning aanstoot gegee het, summier in sy vorige amp heraangestel is? Watter verskil was daar tussen dié twee? Was die één se oortreding van meer ernstige aard as die ander een s’n? Ofskoon dit nie vermeld word nie, weet ons slegs op grond van die hoofskinker se verduideliking, dat albei in die gevangenis beland het. 

Het jy al agtergekom dat ‘n mens iemand se karakter kan beoordeel deur dit wat hy / sy sê –kleinighede wat uit iemand se mond kom? Dit mag iets onbelangrik wees wat onskuldig in ‘n gesprek gesê word, maar gee nietemin vir jou ‘n aanduiding of selfs geringe insig van wat werklik in die person se hart aangaan. 

Markus (Mordechai) {7:20} “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. {7:21} Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, {7:22} diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. {7:23} Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”. 

Ek het al geleer om my ore in te stel op die subtiele, soms snedige, aanmerkings afkomstig van mense hier by Gemeente Melech Yisrael – dit gee vir ‘n mens insig in hul persoonlikhede, karakters en belangriker nog, hulle verhouding met God. Meeste van ons besef dikwels nie eers wat ons regtig sê terwyl ons voortbabbel nie, maar die geoefende oor kan altyd hόόr wat uit die spreker se hart kom. 

Die hoofskinker se geheue was moontlik swak; hy moes, met sy ontslag uit die gevangenis, aan Josef gedink het, maar die vyf woorde wat hy tot die farao gespreek het, gee nietemin vir ons insig in sy hart. Ek glo dat wat die hoofskinker sê, boekdele oor sy karakter gespreek het en moontlik op die verskil tussen hom en die hoofbakker lig werp. Sy woorde was: “Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring”. 

Die hoofskinker het sekerlik nie nodig gehad om sy sin só te stel nie. Hy kon die Farao probeer beïndruk en homself in ‘n gunstige lig gestel het deur bloot te sê: “Ek ken iemand wat u droom kan uitlê”, maar hy het nie. In plaas daarvan, het hy gedoen wat reg was en voor die Farao en God vir sy sonde verskoning aangebied. Hy het bely hy het verkeerd opgetree en daardeur vir Josef benadeel het deur nie eerder van hom te onthou nie; trouens, twee jaar het intussen verloop na sy gevangenis-straf. 

Hy was immers ‘n goeie man. Ja, sy geheue was moontlik wel swak, maar hy het nie net aan homself gedink nie, was nie self-verheerlikend, selfsugtig en selfgesentreerd nie: eienskappe waaroor die hoofbakker oënskynlik beskik het. Ek besef dat ek nou eintlik spekuleer, maar daar móés ‘n verskil tussen hierdie twee manne gewees het en te oordeel aan die berouvolle hart van die hoofskinker, kan ‘n mens net dink dat die hoofbakker se hart nie dieselfde was nie. 

Wat kom uit jou hart te voorskyn? Kan jy met die hoofskinker of hoofbakker vereenselwig word? Dit is uiters belangrik dat jy dit wéét, want jou lewe mag eendag daarvan afhang… 




Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 10 Desember 2011

Afguns is Net So Erg as Sheol (hel)


Ons het die verhaal van Josef behandel en ook die geestelike aspekte en implikasies daarvan bestudeer. Dit is egter nie wat ek vandag weer wil doen nie: Ons gaan ‘n eenvoudige, werklike lewensbeskouing doen van wat eintlik tussen Josef en sy broers aan die gang was. Ek volg hierdie benadering omdat God in die natuurlike omstandighede te werk gaan. Hy werk met eenvoudige mense, wat van dag tot dag leef, besluite neem en keuses uitoefen, wat Hy uiteindelik vir Sy doel en heerlikheid aanwend. 

Genesis / Bereshit {37:3} “En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. {37:4} Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie. {37:8} Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. {37:19} En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! {37:20} Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.” 

Ek moet erken dat wedywering tussen broers en susters vir my hoegenaamd nie vreemd is nie. Om groot te word saam met twee broers en ‘n suster, was beslis nie sonder onderlinge woede-uitbarstings, gespot, bakleiery en natuurlik afguns nie. Wanneer ek oor my gesinslewe terugkyk, reken ek dat ‘n mens kan sê dat ek as’t ware met Josef vergelyk kan word. As oudste seun, het my vader my ‘n bietjie voorgetrek en ek is oortuig dat juis dít my by my broers en suster in onguns gebring het. Ofskoon hulle my nooit dood gewens het nie, is ek oortuig dat dit nietemin tot die spanning tussen ons bygedra en onvermydelike afguns aangemoedig het. 

Josef se broers was net eenvoudig afgunstig op hom en kyk, waartoe hulle jaloesie hulle gedryf het: moord! Hierdie geval was egter nie die enigste Bybelse karakters wat afguns geopenbaar het nie. Kaïn was jaloers op Abel; Sara was afgunstig op Hagar; Saul was jaloers op Dawid en Joab op Abner. Waartoe het hulle afguns hulle gedrywe? Kaïn het Abel vermoor, Sara het Hagar weggejaag, Saul het Dawid vervolg en Joab het Abner om die lewe gebring. 

Mense kan om baie verskillende redes afgunstig wees: byvoorbeeld voorkoms, geld, vriende, dinge soos klere, elektronika, begunstiging, werk, salaris, huise, motors, gesinne, vakansies, status ensomeer. Afguns is destruktief vir sowel die person wat afgunstig is as die één op wie die afguns gemik is. Afguns is ‘n laakbare menslike emosie. 

Spreuke / Mishlei {6:34} “want jaloersheid is ‘n toorngloed in ‘n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;”. 

Spreuke / Mishlei {27:4} “Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou? ”.  

Hooglied / Shir“HaShirim {8:6} “Dra my soos ‘n seëlring op u hart, soos ‘n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die HERE.”. 

Afguns is ‘n sonde en kan aanleiding gee tot woede, wraak en selfs die dood. Behoort ons dus nie iets uit ons Parasha oor Josef en sy broers te leer en in plaas van afgunstig te wees, begin om vergenoegd te wees nie? 

1 Korithiërs / Korentim Alef {7:17} “Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.”. 

My opregte gebed vir elkeen wat hierdie kommentaar lees, is om die volgende verse uit Spreuke op te sê en dit jou persoonike gebed te maak: 

Spreuke / Mishlei {30:7} “Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: {30:8} Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; {30:9} dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 03 Desember 2011

Bejeën Alle Mense As Merkwaardig


4 Desember 2011
D’Var Torah
EN HY HET GESTUUR / VAYISHLACH

Genesis / Bereshit {32:3} “En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom, {32:4}  en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe; {32:5}  en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë. ”.

Ek dink ons is besig om effens meer insig te verkry in Jakob se karakter, geestesgesteldheid en waar sy prioriteite gelê het. Skynbaar is Jakob deur welvaart beïndruk anders sou hy nooit sy broer prober beïndruk het met sy rykdom nie. Hy het baie gemanipuleer om sy welvaart te bekom en nou sien ons waarin dit hom laat beland het; hy verkeer onder die indruk dat welvaart invloed meebring en dit mens uit die moelikheid kan “koop”. Hy reken dat welgesteldes anders as behoeftiges behandel word. Dit is dus geen wonder dat God hom ietwat verneder om sy heup aan te tas nie! Om deur welvaart en welgesteldes beïndruk te word, is ‘n strik wat deur gelowiges in Jesus die Messias teen alle koste vermy moet word. Mense – veral ongelowiges – kan maklik deur die invloed van geld verlei word. Daar heers ‘n natuurlike neiging in ons wêreldse samelewing om welvarendes meer respekvol en eerbiedig te behandel as iemand uit ‘n gemiddelde inkomstegroep of ‘n minderbevoorregte person. In ‘n sekere opsig kan ‘n mens verstaan waarom: Kyk maar na die dagblaaie waarin die mistiek van die rykes en vernames beskrywe word. Wie word deur hulle verheerlik? Gewis nie armes en onbekendes nie!

Die waarheid is egter dat rykes ook maar net mense is! Slegs geld onderskei ‘n ryke van armoede. Ek het al baie aangename rykes ontmoet maar ongelukkig ook minder aangenames. Terloops, ek het ook aangename en onaangename arm mense ontmoet. Omdat mense ryk is, maak dit hulle geensins besonders nie en dus moet ons hulle hoegenaamd ook nie met voorkeur behandel nie. Elke mens met wie ons in aanraking kom, behoort met dieselfde respek, eerbied en waardigheid bejëen te word.

Ongelukkig is dit in baie van God se gemeentes nie die geval nie. Die meer welgesteldes geniet voorkeur behandeling, hoofsaaklik omdat hulle groter bydraers is. Juis om hierdie rede vermy my eggenote en ek om betrokke te raak by wat mense bydra. Volgens statistieke, wat ek al gelees het, bestaan die meerderheid bydraes om gemeentes te ondersteun grootliks uit klein bedrae en nie noodwendig groot bedrae nie – persentasie-gewys 20/80.

Jakobus / Ya’acov {2:2} “Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; {2:3}  en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit— {2:4}  het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie”.

Begunstiging van welgesteldes kom ook neer op begerigheid. Om te begeer is ‘n sonde, wat in die tien gebooie verbied word. Daarbenewens blyk welvaart ook ‘n beletsel te wees, wanneer dit op geestelike aangeleenthede neerkom, soos in die volgende Skrifgedeelte uiteengesit:

Matthéüs / Mattityahu {19:23} “En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. {19:24}  En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”.

Lukas / Uri {1:53} “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.”.
Lukas / Uri {6:24} “Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.”.

Lukas / Uri {18:22} “En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou—verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. {18:23}  Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.”.

Ek vertrou dat ek my standpunt gestel het en indien jy dit nog nie toepas nie, dat jy van vandag af alle mense – ongeag hul finansiële status – as gelykwaardig sal bejeën. Jy mag nie begeer nie!!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 26 November 2011

Onkunde Met Betrekking Tot Die Wet, Is Geen Verskoning Nie

27 November 2011 
D’VAR TORAH 
EN HY HET UITGEGAAN / VAYETZE 

En Hy Het Uitgegaan / Vayetze 


Genesis / Bereshit {29:22} “Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ‘n maaltyd berei. {29:23} Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. {29:24} En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. {29:25} En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? {29:26} En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. {29:27} Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring. ”. 

Nadat ek hierdie gedeelte gelees het, is ek oortuig daarvan dat jy dink Jakob (Ya’akov) het ontvang wat hy verdien het. Hy was ‘n bedrieër en het presies dieselfde beleef: Hy is bedrieg. Dit is skynbaar die standaardvertolking van hierdie Skrifgedeelte en inaggenome sy karakter en persoonlikheid, skyn dit geldig te wees. 

Die vraag ontstaan egter: Het Laban (Lavan) Jakob doelbewus probeer kul of bedrieg? Ek glo nie dat dit werklik sy bedoeling was nie. Hierdie sienswyse laat my moontlik verskil van elke ander kommentator, of ten minste dié waarvan ek bewus is. 

Genesis / Bereshit {29:25} “En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?”. 

In die voorafgaande gedeelte, sien ‘n mens Jakob vir wat hy inderwaarheid was. Bedrieërs meen altyd dat ander mense hulle probeer bedrieg. Dieselfde geld ten opsigte van leuenaars: Hulle dink altyd dat hulle belieg word en vertrou gevolglik niemand nie. Jakob wás ‘n bedrieër en toe hy dus vir Lea as vrou ontvang, het hy ongetwyfeld dadelik vermoed dat Laban hom bedrieg het. Ek glo egter nie dat dit die geval was nie – Laban se antwoord laat my tot hierdie gevolgtrekking kom. 

Genesis / Bereshit {29:26} “En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie.” 

Dit was dus die gebruik van daardie gebied – en één wat lank reeds gegeld het – dat ouer dogters altyd vóór die jongeres moes trou. Dit was nie ‘n ongewone gebruik onder die nabye Oosterse volkere in die tyd van Jakob nie. ‘n Mens kan nou redeneer dat Laban vir Jakob vooraf moes gesê het dat hy éérs met Lea moes trou voordat hy Ragel as vrou kon ontvang. Laban was egter onder geen verpligting om dit vir Jakob te sê nie, want laasgenoemde moes van dié gebruik bewus gewees het. 

Een jaar, terwyl my vrou en ek ‘n gehuurde motor in Israel bestuur het, is ons deur die polisie afgetrek omdat my hoofligte nie aangeskakel was nie. Dit was gedurende November en volgens wet, moes alle voertuie op die hoofweg, tussen November en Maart, se hoofligte aangeskakel wees. As toeris, was ek nie bewus van hierdie wet nie. Aangesien die hoofligte van alle voertuie in Kanada, outomaties brand wanneer ‘n voertuig aangeskakel word, het ek vanselfsprekend nagelaat om dit in Israel te doen. 

Ofskoon die polisiebeampte begrip gehad het vir die feit dat ek ‘n toeris was, is ek genadiglik nie beboet nie en kon ons ons reis voortsit. Ek was natuurlik erg ontevrede met die betrokke motorverhuringsagentskap, wat volgens my mening, nagelaat het om my oor hierdie padreël in te lig. Ek het my voorgeneem om my ontevredenheid teenoor hulle te lug wanneer ek die voertuig terugbesorg. 

Daarna het ek besef dat dit eintlik nie die verhuringsagentskap se skuld was nie. Ja, hulle móés my seker van die betrokke hoofweg-padreël verwittig het, maar dan sou hulle my oor talle ander bestuurdersreëls, regulasies en wette, wat in Israel geld, moes ingelig het. Nee, dit was níe hulle plig nie! Ek het ‘n voertuig in ‘n vreemde land gehuur en dit was immers mý verantwoordelikheid om, voordat ons uit Kanada vertrek het, my van die wette en reëls te vergewis, sodat ek dit nie sou oortree nie. In Kanada en om dieselfde rede, in elke land van die wêreld, is onkunde van die wet, geen geldige verweer nie. 

Moontlik was Jakob nie afkomstig van dieselfde streek as sy oom Laban nie, maar hy was nogtans ‘n Midde-Oosterling en moes dus van die gebruike aldaar bewus gewees het. Onkunde met betrekking tot die wet, is geen verontskuldiging nie! Jakob is nie bedrieg nie; die bedrieër het homself bedrieg. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 20 November 2011

Geestelike Geaardhede – Goed en Kwaad

20 November 2011
D’Var Torah
Geslagte / Toldot


Genesis (Bereshit) {25:21} “En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. {25:22} En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. {25:23} En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. {25:24} En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. {25:25} En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem. {25:26} En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.”

Ek vind dit baie interessant dat God ons meedeel dat toe Esau (Esav) gebore is, hy heeltemal rooierig (en harig) was. Die rede hiervoor is dat die satan nog altyd voorgestel word as geheel-en-al in rooi geklee. Verstrek God dan aan ons, in die verhaal van Isak en Esau, ‘n beeld van die stryd tussen goed en kwaad, lig en duisternis, die gees en die vlees?

Daar het ‘n hewige stryd in Rebekka (Rivkah) se skoot plaasgevind en sy was nie daarvan bewus nie. Nadat die kinders egter gebore is op grond van Rebekka se optrede, soos verder aan in hierdie Parasha beskrywe – wil dit voorkom asof sy van die geestelike aard van die stryd tussen hierdie twee seuns bewus geraak het.

Ofskoon Jakob (Ya’acov) en Esau (Esav) ‘n tweeling was, kon dié twee nooit meer uiteenlopend van geaardheid gewees het nie. Esau was die algehele Amerikaanse tipe – wat ons in my jeugjare ‘n “jock” genoem het, terwyl Jakob méér, wat ons sou genoem het, ‘n “nerd” was. Is dit nie hoe die wêreld ons, as gelowiges in Jesus die Messias, sou beskou nie, dit wil sê as “nerds”, omdat hulle ons nie as “jocks” sien nie? Dit is omdat ons nie volgens wêreldse standaarde leef nie – wat die wêreld van hou, staan ons nie aan nie, ons is anders en heeltemal tereg ook – God verlang dat ons anders móét wees.

Esau en Jakob is presies die teenoorgestelde van mekaar; trouens, hulle is die klassieke voorbeeld van die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige, oftewel dié van die wêreld en dié wat ín die Here is. Esau verteenwoordig alles wat die wêreld aan waarde heg. Hy was iemand vir die buitelewe, ‘n bedrewe jagter, ‘n atletiese tipe mens. Hy het geen begrip van die geestelike dinge gehad of enigsins waarde daaraan geheg nie, wat duidelik geblyk het uit die feit dat sy eersgeboortereg vir hom niks beteken het nie. Jakob, daarenteen, word voorgestel as iemand met ‘n baie hegte verhouding met sy moeder, die ernstige gehoorsame tipe mens; iemand van die gees en nie van die wêreld nie, wat bewys is deurdat God hom uitgekies het as die bloedlyn waaruit die Messiass sou kom. Alles waarvoor Jakob gestaan het, het Esau teëgestaan. Het jy opgemerk dat daar in die Skrif hoegenaamd geen aanduiding is dat Jakob ooit vir Esau gehaat het nie? Is dit nie soos wat dit ook nog tot vandag toe met ons gesteld is nie? Die wêreld is besig om al hoe meer teen ons te draai, verafsku ons en die beginsels wat ons handhaaf, maar dit is nie hoe ons teenoor die mense van die wêreld optree nie. Ons wil graag sien dat hulle gered word; derhalwe móét ons hulle liefhê ofskoon ons hoegenaamd nie aan hulle wêreldse strewes deelneem nie.

Die stryd tussen Jakob en Esau mag wel as ‘n fisiese stryd geblyk het maar dit was nie. Dit was ‘n geestelike stryd, tussen goed en kwaad, lig en duisternis, tussen die gees en die vlees – ‘n stryd wat tot vandag toe steeds voortwoed.

Efesiërs (Efesos) {6:12} “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” 

Die dag sal kom en spoedig aanbreek wanneer Jesus die Messias weer sal kom en die duiwel – daardie slang wat die satan is – verslaan, sodat hy vir eenduisend jaar gebind sal wees.

Openbaring (Hitgalut) {20:2} “En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, {20:3} en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 19 November 2011

Ontvang Niks vir Niks

19 November 2011-11-17 
D’Var Torah 
Die Lewe van Sara / Chaye Sarah 

Genesis / Bereshit 18:1 – 22:24 
2 Konings / Melachim Bet 4:1 – 37 
2 Petrus / Kefa Bet 2:4 – 11 

Genesis / Bereshit {23:7 – 23:13} “Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns van Het; {23:8} en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my ‘n goeie woord by Efron, die seun van Sohar, {23:9} dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek ‘n graf onder julle mag besit. {23:10} En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet, vir Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van sy stad ingegaan het: {23:11} Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat daarin is, dit gee ek aan u; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit aan u; begraaf u dode. {23:12} Daarop het Abraham hom voor die volk van die land neergebuig {23:13} en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: Ja, as dit u is, ag, luister na my! Ek gee die geld vir die stuk grond; neem dit van my aan, dat ek my dode daar kan begrawe. ”. 

Ons almal het sekerlik al die gesegde gehoor: “ Jy kry niks vir niks nie”, en skynbaar was Abraham vertroud met hierdie spreekwoord. Hy het dus deeglik besef dat alles teen ‘n prys verkry word. Ek meen dat dit juis om hierdie rede was dat hy by Efron daarop aangedring het om te betaal vir die grond waar hy sy vrou kon begrawe. Soos ons bewus is, was dit nie die eerste keer wat Abraham iets vir niks geweier het nie:  

Genesis {14:21} “En die koning van Sodom sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself. {14:22} Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, {14:23} dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak. {14:24} Niks vir my nie! Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.”. 

In hierdie geval het Abraham, soos hy toe bekendgestaan het, werklik verdien wat hom toegekom het, nada thy geveg en dit as buit verkry het. Selfs in fdaardie geval, het hy niks vir niks verlang nie. Dit is ‘n baie goeie beginsel waarna ons almal behoort te strewe. 

Daar is inderdaad niks vir niks nie! 

Efésiërs / Efesos {2:8} “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; {2:9} nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. ”. 

Ons almal besef dat verlossing ‘n vrye gawe is. Maar is daar voorwaardes aan verbonde? Kan die “niks vir niks” – beginsel ook op verlossing toegepas word? Ja, inderdaad kan dit gedoen word! Bekering is die eerste – en vernaamste stap wat van ons vereis word in die verhouding met God, maar dit eindig geensins dáár nie. Die apostel Paulus deel ons soosvolg mee: 

Fillipense / Pilifim {2:12} “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; ”. 

Daar is ‘n aantal vereistes, nada tons die vrye gawe van verlossing van God ontvang het – onder andere om aan die self (eie-ek) te sterf en die juk van Jesus die Messias op te neem. Indien ons ooit daarin wil slag om met eerbied en ontsag ons verlossing uit te werk, dan is die sterwe van die self (eie-ek) absoluut noodsaaklik. Die sterwe van die eie-ek behels dat ons, ons behoeftes en vleeslike begeertes opsy skuif en ons lewens uitsluitlik aan Jesus die Messias toewy. 

Dit sal vanselfsprekend ‘n God-gesentreerde lewe in plaas van selfgesentreerde lewe beteken. 

Matthéüs / Mattityahu {11:29} “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; {11:30} want my juk is sag en my las is lig. ”. 

Wat het Jesus met hierdie verklaring bedoel? 

Ek glo dat die “Juk”, waarna Hy verwys, Tora is en wel om twee redes. Eerstens, sê Jesus: Johannes / Yochanan {14:15} “As julle My liefhet, bewaar my gebooie. ”. 

Soos ons reeds weet, is Jesus die Messias, God in die vlees en as sulks sou Sy gebooie, Tora, wees. Om dit verder aan te vul, het Jesus gesê: 

Matthéüs / Mattityahu {22:37} “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. {22:38} Dit is die eerste en groot gebod. {22:39} En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ”. 

Deur dít te sê, verwys Jesus na die Tora in geheel. Die eerste gebod, wat Hy gemeld het, dek al die wette van die Tora, wat spesifiek die mens se verhouding tot God dek. Die tweede gebod, waana Hy verwys het, het betrekking op al die Tora-wette betreffende die mens se verhouding tot sy / haar medemens. Hierdie twee gebooie, wat deur Jesus die Messias aan ons gegee is, omvat dus die Tora in geheel. Die ander rede waarom die “Juk” waarna Jesus verwys, Tora is, kom uit: 

Deuteronomium / Devarim {30:10} “as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel. {30:11} Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12} Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13} Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14} Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen. ”. 

Gevolgtrekking: Verlossing as sulks, ofskoon dit ‘n vrye gawe is, behels verantwoordelikhede; ná bekering, word daar van ons verwag om ons verlossing uit te werk en die juk van Tor ate aanvaar wat indien behoorlik toegepas, inderdaad ‘n ligte juk is. Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 12 November 2011

Raadpleeg Jou Vrou

12 November 2011 

D’Var Torah 

En Hy Het Verskyn / Vayera 



Genesis / Bereshit {18:3] “En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. {18:4} Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. {18:5} En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het. {18:6} Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke. {18:7} Daarop loop Abraham na die beeste en vang ‘n jong, mooi kalf en gee dit aan die dienaar, wat dit gou klaargemaak het. {18:8} En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het geëet. “ 

Ek weet nie van julle nie, maar wanneer ek ‘n gas nooi vir ete by ons aan huis, is dit raadsaam om my vrou vooraf te raadpleeg en haar goedkeuring daarvoor te verkry! Baie mense beskou die Bybel as ‘n chauvenistiese boek. Ja, die Bybel is inderdaad geskryf en gerig aan manne, maar hoegenaamd nie bedoel om chauvenisties te wees nie! Die man word veronderstel om die hoof van sy gesin te wees en, as sulks, is hy daarvoor verantwoordelik om hulle te lei. Gevolglik het God die Bybel vir mans geskrywe, deur hulle verantwoordelik te hou vir die nakoming, onderrig, lewe deur – en volgens alles wat Sy Woord inhou. Let byvoorbeeld op die volgende: 

Númerie / Bamidbar {30:6} “Maar as sy trou terwyl haar geloftes op haar rus of iets wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het, {30:7} en haar man daarvan hoor, op watter dag ook al, en teenoor haar swyg, dan sal haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees. {30:8} Maar as haar man op die dag dat hy daarvan hoor, haar terughou, dan maak hy haar gelofte tot niet wat op haar rus, en ook wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het; en die HERE sal haar dit vergewe.”. 

Aangesien die man die hoof van die huishouding is, het hy dus die God-gegewe gesag om by die aanhoor daarvan enige van sy vrou se geloftes te verwerp. Dít sou beslis ook op Adam en Eva (Chava) van toepassing gewees het. Al het Eva eerste van die vrug van die verbode boom van “Kennis van goed en kwaad” geëet en is sy deur Adam daaroor tereggewys, ofskoon hy self nie daarvan geëet het nie, sou ons almal nog in die Tuin van Eden (Gan Eden) gewoon het. Deurdat Adam egter ook daarvan geëet het, het hy sy vrou se optrede goedgekeur en is dus aanspreeklik gehou. 

Die apostel Paulus het aan ons die Bybelse orde van gesinsgesag in sy sendbrief verstrek: 

Efesiërs / Efesos {5:22} “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. {5:23} Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.{ 6:1} Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.” Jesus die Messias het nie net al die eienskappe van liefde, soos in Korinthiërs vers 13 beskrywe, verpersoonlik nie, maar ook Sy bruid (ons) só lief gehad, dat Hy gewilliglik Sy lewe vir ons opgeoffer het.”. 

Basies is gesagsorde soos volg: Eerstens Jesus die Messias, tweedens die man, derdens die vrou en vierdens die kinders. Indien ‘n gesin volgens hierdie orde lewe en funksioneer, sal daar seën op die gesin rus. Sou die vrou egter die gesag en hoofskap wederregtelik vir haarself toe-eien, sal die gesin teenstrydig met God se gesagsorde en gevolglik disfunksioneel wees. Beteken dit dan dat die man oor sy vrou moet baasspeel? Beslis nie! Paulus deel ons verder mee: 

Efesiërs {5:25} “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het."

Dit behoort vir ons as mans te toon hoedat óns veronderstel is om teenoor ons vroue op te tree. 

 Het Abraham dus nie teenoor sy vrou respek betoon nie en oor haar baasgespeel deurdat hy haar nie vooraf geraadpleeg het alvorens hy drie gaste vir ete genooi en haar verder beveel om roosterkoeke te maak? Volgens die teks, wil dit so voorkom, maar laat ons die teks as sulks verder ondersoek. Wat het Abraham gedoen nadat hy Sara beveel het om roosterkoeke te bak? Hy het na sy veekudde gehardloop, ‘n jong kalf uitgesoek en aan sy slawe gegee om dit voor te berei. Het Sara ook slawe gehad? Ons weet van één, naamlik die Egiptiese slavin Hagar. Sy kon moontlik die opdrag om roosterkoeke te bak, ook aan háár slawe gegee het. Let daarop dat die gaste, ofskoon hulle vernaam was, nie in die gesinstent geëet het nie, sodat Sara nie verontrief sou word nie. Die gaste is ongetwyfeld deur slawe bedien en het buite onder ‘n boom geëet. 

Ek neem dus die vrymoedigheid om julle, vriendelike manne, aan te raai om nie gaste vir ete te nooi sonder dat julle jul vrouens vooraf daaroor geraadpleeg het nie: maak beslis ook seker dat sy bediendes het om die voorbereiding, kook en opruimwerk vir haar te doen!! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 05 November 2011

Geloof en Vertroue / Emunah Ve’bitachon

D’Var Torah 
5 November 2011 
Gaan Uit / Lech Lecha 


Genesis / Bereshit 12:1 – 17:27 
Jesaja / Yeshayahu 40:27 – 41:16 
Romeine / Romim 4:1 – 25 


Genesis / Bereshit {13:8} “Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. {13:9} Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. {13:10} Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. {13:11} En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei. ”. 


Lot het Sodom gekies, wat vir hom na ‘n pragtige waterryke streek gelyk het, maar óns weet dat dit ‘n slykpoel – boos van binne – was. Daar is ‘n baie belangrike beginsel hieruit te leer, één wat ons almal ongetwyfeld vantevore al gehoor het: “Dis nie alles goud wat blink nie!”. ‘n Mens kan vandag beswaarlik televisie kyk sonder om ‘n advertensie te sien wat kykers aanmoedig om goud as teenvoeter teen die aanhoudende deflasie van die dollar te koop. Ons word ook vertel dat goud nog altyd sy waarde behou het en derhalwe ‘n uitstekende verskansing teen ‘n markineenstorting sou wees, wat soos almal gewilliglik spekuleer, enige tyd kan plaasvind. Ek is oortuig daarvan dat menige gelowiges in Jesus die Messias dit ongelukkig glo en aan die goud-stormloop deelgeneem het. 


Goud is ongetwyfeld ‘n uiters waardevolle metaal en is sedert die vroegste Bybelse tye reeds in die handel gebruik. Wanneer iemand wat in Jesus die Messias egter goud koop as teenvoeter teen die deflasie van die dollar, wat sê dit van sy geloof? 


Hoeveel van ons, wat nou hierdie kommentaar lees, onthou nog die paniek wat net vóór die eeuwending (1999 – 2000) geheers het? Mense is in paniek gedompel deur gerugte dat die wêreld in ‘n katastrofiese, apokaliptiese verwarring sou beland omdat die wêreld se rekenaars nie ontwerp was om tot die jaar 2000 om te skakel nie. Daar is voorspel dat banke gesluit sou wees, bewys van spaargeld sou uitgewis wees, voedseltekorte sou heers en elke denkbare tekort sou die wêreld tref. Soos ons almal in die jaar 2011 bewus is, het hoegenaamd niks daarvan gekom nie; trouens, ons het in die jaar 2000 ontwaak sonder die geringste insident! 


My siening is nie dat daar geen apokalips met die eeuwending was nie of dat die aandelebeurs nie sal ineenstort nie en ons dollars in die toekoms waardeloos mag raak: die punt wat ek wil maak, is inderdaad veel ernstiger. 


Vóór die eeuwending, terwyl ons nog in 1999 was, het dieselfde paniek wat die wêreld getref het, ook die gemeentes van God getref. Gelowiges het net soos die ongelowiges paniekerig geraak: hulle het begin opgaar – voedsel, water, geld en ander goedere – selfs goud, wat hulle geglo het, ‘n teenvoeter sou wees teen dit wat om middernag op 31 Desember 1999 moontlik sou plaasgevind het. Die waarheid is egter dat dieselfde nóú gebeur deurdat ons goud koop. Sowel gelowiges as ongelowiges beplan weer teen die paniek van ‘n verwagte ekonomiese depressie. 


Daar is niks mee verkeerd om goud te besit of om bykomende water en voedsel aan te hou nie, maar daar is wel iets verkeerd wanneer gelowiges paniekerig raak en hul vertroue in opgaar stel of hul spaargeld in goud omsit, as teenvoeter teen wat in die toekoms mag gebeur. 


Ons toekoms hang nie van wêreldse dinge af nie. Ons toekoms is geheel-en-al afhanklik van ons verhouding met God. Ongeag die toestand waarin die wêreld tans verkeer of in die toekoms mag verkeer, God is ons sekuriteit, God is ons bron. Glo jy dit? Indien nie, moet jy jou geloof bevraagteken. Enigiets anders as God, waarin jy jou vertroue stel vir die toekoms, is afgodery en vir afgodsdienaars is daar geen plek in die wêreld wat kom nie. 


Mattëús / Mattityahu {6:25} “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? {6:26} Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? {6:27} Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? {6:28} En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; {6:29} en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. {6:30} As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? {6:31} Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? {6:32} Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. {6:33} Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. ”. 


Word wakker julle trouelose gelowiges; dit is tyd vir ‘n werklikheidsondersoek. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 29 Oktober 2011

Ons Twee Nature – Yetzer Hara / Yetzer HaTov



D’Var Torah
29  Oktober 2011
Noag – Noach

Genesis / Bereshit {8:6} “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, {8:7}  en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. {8:8}  Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. {8:9}  Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. {8:10}  Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark. {8:11}  En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. {8:12}  Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie. ”.

Ek het iets baie interessant ontdek toe ek die bovermelde gedeelte gelees het. Soos ons lees, het Noag ‘n kraai uitgestuur voordat hy die duif losgelaat het. Let egter daarop dat die kraai nie teruggekeer het nie maar eerder heen en weer oor die aarde gevlieg het totdat waters weggedroog het. Volgens wat ek uit die geskrewe gedeelte aflei, kon hierdie kraai vir ten minste sewe dae rondgevlieg het sonder voedsel en sonder om te gaan sit.

Kraaie is onrein voëls, dus was daar slegs twee in die ark. Noag het net één losgelaat. Ten einde voort te plant, sou die een wat losgelaat is, een of ander tyd, die ander een wat nog in die ark was, moes teëkom. Nee, nie dit nie! Maar die kraai, soos ek gemeld het, is ‘n onrein voël; trouens ‘n aasvreter en as sulks sou hy voedsel gevind het. Boonop sou die kraai plek gevind het om te gaan sit op die duisende karkasse van dooie diere en opgeblaaste lyke, wat op die waters gedryf het. As gevolg daarvan, was dit nie nodig om na die ark terug te vlieg nie.
Duiwe, daarenteen is rein voëls en dus nie aasvreters nie. Daarom sou die duif wat Noag losgelaat het, nie kon oorleef nie. Daar was geen voedsel of rusplek vir die holte van sy voet nie en hy moes noodwendig terugkeer na die ark.

Hieruit blyk ‘n groot geestelike les om geleer te word. Ons moet onthou dat daar sowel rein as onrein diere in die ark was – hulle is saam aangehou. Ons moet ook daaraan dink dat God alles op aarde in een van twee kategorieë of nature verdeel het, naamlik rein of onrein. Ongelukkig beskik ons as gelowiges in Jesus die Messias ook oor hierdie twee nature.

Romeine / Romim {7:18} “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.”.

Paulus het hier ons twee nature beskryf, wat konstant in stryd met mekaar verkeer. Die stryd wat binne-in ons woed. Is tussen ons ou natuur (ons vlees) en ons nuwe natuur (of wedergebore gees). Die kraai het uitgegaan in ‘n wêreld vol dood, maar vir hom ‘n fees. Hy het heen en weer oor die aarde gevlieg, op karkasse en lyke gaan sit en dit verslind. Dit is ‘n beeld van ons ou natuur. Die ou natuur hunker na die dinge van die wêreld en wil daarop teer, maar al wat die wêreld kan bied, is slegs die dood. Die duif verteenwoordig egter ons nuwe natuur. Hy het niks in die wêreld gevind wat die moeite werd was om op neer te stryk nie – niks aanloklik of aptytwekkend nie en gevolglik na die veiligheid en beskerming van die ark (Jesus die Messias!) teruggevlieg.

As gelowiges, is ons in dié wêreld maar nie van die wêreld nie. Daar behoort niks van hierdie wêreld te wees wat ons aanstaan nie. Die wêreld het groter behoefte aan ons as wat ons die wêreld nodig het. Daarom behoort ons hierdie wêreld as ‘n geleentheid te gebruik om dié wat verlore (ongered) is, te wen vir Jesus die Messias, uit ‘n wêreld van leuens tot waarheid.

Vir die kraai was ‘n dooie en sterwende wêreld aanloklik; hy wou daaraan gebonde bly. Die duif, daarenteen, het besef dat daar niks in die wêreld vir hom was nie en het dus slegs in die ark rus gevind.

Met watter voël sou jy graag jóú lewe wou vereenselwig?

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou