Genesis {26:6} "So het Isak dan in Gerar gebly. {26:7} En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou — anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. {26:8} En toe hy al ’n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. {26:9} En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! {26:10} En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ’n skuld oor ons gebring het!"
Die “Ek Ook” - beweging in onlangse tye, het beklemtoon hoe boos en immoreel die wêreld is waarin ons vandag lewe. Die wêreld was egter so vanaf die begin van tyd. Op één tydstip was dit so erg dat die Here die hele mensdom moes vernietig deur ‘n vloed en slegs agt mense is geskik bevind om dit te oorleef. Ons weet nie presies wat die mate van boosheid was waarin die wêreld toe verkeer het nie. Dit moes veel erger gewees het in vergelyking met wat ons vandag verduur dat die Here so drasties opgetree het. Boosheid van hierdie omvang, sal egter weer die aarde teister; dit sal ‘n boosheid wees wat die Here sal besiel om die ganse aarde te vernietig, maar hierdie keer met vuur.
2 Petrus {3:10} "Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.{3:11} Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — {3:12} julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt."
Ten spyte van die boosheid in die wêreld sedert die tyd van Adam en Eva, dui die gedeeltes in Genesis 26:6-10 aangehaal, dat daar altyd in een of ander vorm, ‘n skyn van moraliteit was. Koning Abimeleg was ‘n Filistyn ‘n afgod-aanbidder en het beslis nie geweet of geglo in die God van Israel nie, maar tog vind ons in hierdie Parasha die volgende verklaring deur hom aan Isak:
Genesis {26:10} "En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ’n skuld oor ons gebring het!"
Voordat ek in Jesus die Messias geglo het, was my lewe gevul met allerlei sondige dade; moreel, finansieel en spiritueel (deur spiritueel, bedoel ek dat ek by die okkult betrokke was). Nietemin, ten spyte van my onskuldige aard, was daar dinge, beslis sondige dade (dinge wat my vriende gedoen het), wat ekself nooit sou gedink het om te doen nie of selfs gedink het om in dáárdie tyd te doen nie. Ek was immoreel, oneties en sondig, tog sou ek neergekyk het op mense wat dinge gedoen het wat ek gedink het ek nooit sou doen nie. So onskuldig (naief) soos wat ek was, het ek egter gevind dat ek dit eindelik tog ook sou doen.
Die Filistyne was ‘n bose, moordadige, immorele volk. Tog lees ons hier oor iets wat hulle nie sou doen nie of tenminste, koning Abimeleg gedink hy nie sou doen nie.Hy het geweier om by ‘n ander man se vrou te slaap. Is dit nie netsoos ons is om ons morele, etiese en spirituele perke te kies en keur nie? “Ek sal dít doen, maar nooit dát nie. Ek sal mense op hierdie wyse behandel, maar nooit op daardie wyse nie. Ek sal nooit soos so en so wees of doen wat hulle doen nie. Dan sowat ‘n jaar of twee later, vind ons dat ons presies doen wat ons in die verlede as ondenkbaar beskou het. Dit is hoedat sonde te werk gaan - dit is hoe die Satan op ons inwerk!
Die enigste wat hierdie sondesiklus kan breek (dit het vir my gewerk), is om Jesus die Messias as julle Heer en Redder aan te neem: “Heer”, deur julle lewe aan Hom oor te gee en “Redder”, deur Hom met julle siele te vertrou. Dit is die enigste hoop wat enigeen het om bevry te word van ‘n lewe van morele, etiese en spirituele boosheid.
Beskou jy jouself as nie juis so ’n slegte persoon nie? Moontlik is dit omdat jy jouself met ander slegte mense vergelyk in plaas daarvan om jouself met God en Sy norm, soos in Sy Bybel uiteengesit, vergelyk. In die verlede het ek myself ook met ander vergelyk en myself as ‘n nie te slegte persoon beskou nie. Ek het myself oortuig dat ek nie sulke vreeslike dinge soos my vriende en kennise sou doen nie, maar tog gevind dat ek dit wel doen. Ek sou waag om te sê dat dít is wat die moordadige afgodsaanbidder, Abimeleg, miskien van homself gedink het toe hy Isak bersipe en die streep getrek het deur nie by ‘n ander man se vrou te slaap nie. Ongelukkig is dít wat baie mense doen; hulle trek denkbeeldige strepe ten opsigte van hulle eie moraliteit totdat hulle sonde in die lig van Jesus blootgelê word. Dit is dán wanneer hulle besef dat hulle intussen hulself bedrieg het.
Kom gou Jesus!




