Saterdag 24 November 2012

God Het Hom Voorspoed Laat Geniet

D’Var Torah 
En Hy Het Uitgegaan / Vayetzei 

Johannes / Yochanan 1:43 – 45

Genesis / Bereshit {28:18} “Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. {28:19} En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. {28:20} En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, {28:21} en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. {28:22} En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan. ”. 

Ek skryf eintlik oor tiendes (die gawe van ‘n tiende aan God), maar hierdie Skrifgedeelte is so gebiedend oor dié onderwerp, dat ek nie anders kon as om dit te bespreek nie. Jakob het belowe om van alles wat God aan Hom skenk, ‘n tiende (10 %) daarvan aan Hom af te staan, indien Hy met hom sou wees, hom bewaar op die weg wat hy gaan, vir hom brood gee om te eet, klere om aan te trek, hom in vrede behoue na die huis van sy vader laat terugkeer en sy God sal wees. Soos dit toe gebeur het, hét God aan al hierdie versoeke – en nog veel meer – van Jakob voldoen. 

Op grond van wat Jakob gesê het, is dit duidelik dat om te gee eintlik ‘n daad van aanbidding is. Dit is terselfdertyd ‘n gebaar van liefde en dankbaarheid, nie slegs ten opsigte van God se seëninge op stoflike gebied nie, maar ook teenoor Hom omdat Hy ons God is. Om te gee, is, trouens, ‘n gebaar van ons liefde vir God omdat ons geneig is om krampagtiger aan ons geld vas te klem as enigiets anders wat ons besit en wanneer ons dus daarvan afstaan, beteken dit dat ons God liewer het as ons geld. 

Ek verstrek graag sekere verstommende Bybelse feite. Die woord liefde word nagenoeg 400 keer in die Bybel vermeld, gebed 500 keer maar om te gee, byna 2000 keer. Meeste Bybelkenners stem saam dat indien God in Sy Woord iets twee maal meld, Hy dit uiters belangrik ag; dink dus net daaraan hoeveel te meer Hy dit belangrik ag, wanneer daar gegee word! 

2 Korinthiërs / Korintim Bet {9:7} “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. ”. 

Baie mense gebruik hierdie Skrifgedeelte om dit te regverdig wanneer hulle gawe aan God minder as 10 persent (‘n tiende) is. Dit is egter ‘n foutiewe vertolking en toepassing van hierdie vers want dit gaan nie oor die bedrag wat gegee behoort te word nie, dít word voldoende gedek dwarsdeur die Skrif. Dit is eerder die gesindheid waarin ons moet gee: die gawe moet vrywillig wees, eerder as om dit uit noodsaak of teësin te doen. Die laaste gedeelte van die vers hierbo, wat soos volg lui, bevestig dit: “…want God het ‘n blymoedige gewer lief.”. 

Maleági / Malachi {3:8} “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. ”. 

Uieindelik word elke misdadiger gevang, want een of ander tyd begaan hy ‘n fout, raak nalatig en word in hegtenis geneem. Hoe kan enigeen in sy wildste drome ooit dink dat hy daarmee sal wegkom deur God te beroof? Nogtans skenk die meeste gelowiges in Jesus die Messias nie hulle tiende nie. God probeer om ons te laat afsien van iets wat vir ons kosbaar is, sodat ons kan leer hoe om Hom geheel-en-al met belangrike sake te vertrou – soos ons siele. Die vraag is egter: wil ons luister? 

Maleági / Malachi {3:10} “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. {3:11} Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.”. 

God het gesê dat ons Hom moet toets en dan sal Hy Homself bewys. Om te besef hoe belangrik dit is, herinner ek julle daaraan dat dit die enigste plek in die Bybel is waar daar geskrywe staan dat ons toegelaat word om God op die proef te stel. Wanneer ons probeer bereken hoeveel ons tiendes behoort te wees, voer ons dikwels gerieflike verskonings aan. God stel geensins in ons gerieflikheid belang nie, maar wel of ons gehoorsaam is. Indien ons voldoende gehoorsaam is om aan God ons tiende te skenk, sal ons vanselfsprekend gehoorsaamheid betoon deur aan Hom ‘n gedeelte van alles anders ook te skenk. As gelowiges, is dit ons uitdruklike plig om God te gehoorsaam, maar te veel van ons kies en keur ons gehoorsaamheid en sluit gevolglik ons oë vir die opdrag om ‘n tiende asook allerbeste aan God te gee. 

Ons word beveel om aan Hom die eerste van ons vrugte te skenk, maar ons neem dit vir onsself en gee slegs aan Hom dit wat oorbly of wat ons eintlik nie meer nodig het nie. Ons skenk dus aan Hom uit ons gerief in plaas van uit ons liefde. Ons gee aan God die krummels van ons lewens of dít wat oorbly nadat óns die fees geniet het. God is hoegenaamd nie ‘n God van oorskietkrummels of skamele oorblyfsels nie. God is ‘n heilige God en verdien die eerste van alles wat ons het. 

Jakob het vir ons die voorbeeld van om tiendes te gee gestel en ons almal weet hoedat God hom persoonlik (hy was die vader van die 12 stamme van Israel), finansieel (hy was ‘n welgestelde man) en geestelik geseën het; in so ’n mate dat God selfs sy naam verander het van Jakob na Israel. 

God verlang méér van jou as jou geld. Hy eis van jou jou algehele gehoorsaamheid en liefdevolle hart. Sal jy jou hart aan Hom gee? Indien wel, sal die vrywillige gawe van alles verder maklik geskied! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 11 November 2012

Jou Geboortereg Verag

11 November 2012 
D’Var Torah 
Geskiedenis – Toledot 


Romeine / Romim 9:1 – 13

Genesis / Bereshit {25:30} “Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. {25:31} En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. {25:32} En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? {25:33} Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. {25:34} En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag. ”. 

‘n Mens is alte geneig om Esau te kritiseer oor so ’n dwaasheid soos om sy geboortereg te verkoop. Hy was ongetwyfeld honger, maar was hy werklik tot die dood toe honger? Ek dink nie so nie! Na my mening het sy vlees bloot die oorhand oor hom gekry. Die lensie gereg het heerlik geruik, smaaklik gelyk en hy was honger. Sommige mense sal enigiets sê om te verkry wat hulle wil hê. Kan julle eerlik sê dat julle dit nog nooit gedoen het nie? Boonop is ek seker dat Jakob in hierdie omstandigheid ook nie geheel-en-al onskuldig was nie; trouens, hy het nie sommer uit die bloute met die “verkoop aan my jou geboortereg”-eis gekom nie. Dit was iets waaraan hy waarsynlik lankal reeds gedink en moontlik beplan het. Ek is daarvan oortuig dat Esau nie doelbewus sy geboortereg verag het nie, andersins sou hy daarna nie so berou oor sy daad gehad het en woede teenoor sy broer gekoester het nie. Anders as in die geval van Jakob, was dit met Esau ‘n besluit wat hy impulsief geneem het. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak nie: die punt is dat versoeking die oorhand oor Esau gekry en hy gevolglik dadelik daaraan toegegee het. 

Dink gerus daaroor na aangesien hierdie presiese scenario sigself moontlik herhaaldelik vandag in die lewens van gelowiges in Jesus die Messias afspeel. Miskien het dit selfs met julle al gebeur! Wanneer ons in Jesus die Messias weergebore word, ontvang ons ‘n geboortereg. Daardie geboortereg is verlossing wat die belofte van ewige lewe inhou terwyl ons die wedren van ons geloofslewe aflê, met die vaste voorneme om te oorwin. 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {9:24} “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. {9:25} En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. {9:26} Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. {9:27} Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”. 

Sommige van ons kom egter maklik in versoeking. Net soos Esau, gee ons toe aan die begeerte van ons oë en ons vlees, veral in tye van swakheid. Juis om dié rede, leer ons hier by Melech Yisrael om jouself nooit in situasie te laat beland wat daartoe mag lei dat jy in gevaar verkeer om aan versoeking toe te gee nie. Enkellopendes van die teenoorgestelde geslag behoort nooit saam alleengelaat te word nie, selfs nie eers verloofdes nie. ‘n Getroude persoon behoort ook nooit sonder sy / haar gade alleen in die geselskap van ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag te verkeer nie, of dié persoon nou ookal getroud is aldan nie. In elke situasie moet ons op ons hoede wees om nie in versoeking gestel te word of selfs die indruk van boosheid te skep nie. 

1 Petrus / Kefa Aleph {5:8} “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. ”. 

Talle gelowiges in Jesus die Messias het al aan versoeking toegegee en hulle geboortereg vir seks, geld, ‘n partytjie, dwelms, ens. verkoop. Hulle het geensins beplan om hulle geboortereg te verkoop nie – dit het soos in Esau se geval op die ingewing van die oomblik plaasgevind. Kom ons leer iets hieruit: Nadat Esau sy geboortereg verkoop het, kon hy dit nie terugkry nie, dit was te laat. Hy het wel ‘n seëning ontvang en was geseënd in sy lewe, maar hy het sy posisie (as eersgeborene) verloor en moes die tweede plek inneem. Is dit wat julle werklik verlang? 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {10:11} “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. {10:12} Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”. 

Mag dit nóóit van julle “(vul jou naam hierin)” gesê word, “het sy / haar geboortereg verag nie” nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 10 November 2012

Die opstanding van die dode

D’Var Torah 
Sarah het gelewe – Chaye Sara 


2 Petrus / Kefa Bet 2:4 – 11

Genesis / Bereshit {23:2} “En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.”. 

Genesis / Bereshit {23:16} “Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het-vier honderd sikkels silwer gangbaar by die koopman. {23:17} So het dan die stuk grond van Efron wat in Magpéla teenoor Mamre lê, die stuk grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die ganse gebied daarvan rondom staan, {23:18} die eiendom van Abraham geword voor die oë van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingegaan het. {23:19} Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kanaän. {23:20} So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.”. 

Ek wil graag aan twee sake uit hierdie twee Skrifgdeeltes, aangehaal uit dié week se parasha, aandag skenk. In die eerste groep Skrifgedeeltes word vertel dat Sarah gesterf en Abraham gekom het om oor haar rou te beklaag. Die feit dat Abraham gekom het om oor haar rou te beklaag, veronderstel dat hulle met haar afsterwe nie op dieselfde plek was nie. Aangesien ‘n reis destyds nie was soos dit vandag is nie, is dit dus onmoontlik om te bepaal hoe lank dit Abraham moes geneem het om die plek van Sarah se afsterwe te bereik. Juis om hierdie rede, glo ek, verstrek die Skrif aan ons dié woorde van Abraham: “…dat ek die dode van my af weg kan begrawe.”. 

Soos ons verneem het, was Sarah ‘n pragtige vrou en na my mening is dit hoe Abraham haar graag wou onthou. Sy was nou dood en weens ‘n gebrek aan hedendaagse verkoelingsgeriewe en dit toe ook nie prakties moontlik was om haar te balsem nie, kon Sarah se ontbindende liggaam en doodsreuk beslis nie aangenaam gewees het nie. Derhalwe kan ek begryp waarom Abraham haar so spoedig moontlik voor sy aangesig wou weghê. Hierdie waarheid bewys ook hoe bedorwe ons sterflike liggame is. Daar is niks goeds aan ons vlees nie; trouens, dit is die speelgrond van die duiwel. Eenhonderd persent van al ons sonde is as gevolg van ons vlees: begeerte van die oë, wellus van die vlees, lewenstrots. Juis om hierdie rede leer die Skrif ons: 

Romeine / Romim {8:3} “Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, {8:4} sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”. 

Die volgende saak wat ek wil oorweeg, handel oor die vraag: “Waarom het Abraham verkies om Sarah in Kanaän te begrawe?”. Ek meen die feit dat Abraham verkies het om haar dáár te begrawe, illustreer weereens sy geloof in die belofte van God. God het Abraham belowe dat Hy aan hom hierdie land as ‘n besitting gee. Ofskoon Abraham nooit die vervulling van daardie belofte beleef het nie, sou hy tog. Eendag, met die opstanding, sal Sarah opstaan uit hierdie plek in Hebron – nie net sy nie, aangesien Abraham, Isak, Ragel, Jakob en Lea ook daar begrawe is. Dit word selfs deur die rabbi’s gemeen dat Adam en Eva dieselfde plek deel. Waarom is die aartsvaders en vermoedelik ook Adam en Eva in die land Kanaän begrawe? Die rede, volgens my mening, is dat met die opstanding, hulle in hulle vlees die vervulling van God se belofte sal aanskou. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 03 November 2012

God Weet Wanneer Jy Lieg

3 November 2012 
D’Var Torah 
En Hy Het Verskyn – Vayera 


Genesis / Bereshit {18:13} “Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? {18:14} Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor 'n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal 'n seun hê. {18:15} Maar Sara het dit ontken en gesê: Ek het nie gelag nie-want sy was bang. Maar Hy sê: Nee, maar jy het gelag.”. 

Wanneer lieg ‘n mens? Hier word vertel dat Sara gelieg het omdat sy bang was. Dit is beslis een van die redes waarom mense dit doen. Ander redes is om hulle aansien te behou, hulle teen gevaar te beskerm, ‘n tipe voorsprong of voordeel te verkry, vir finansiële gewin, die oorhand te bekom, ander te beïndruk, iemand anders te beskerm, hulself te verontskuldig, ens. Hierdie is slegs sommige redes waarom mense lieg, maar daar is natuurlik talle ander ook. In die Skrif, word die ware rede vir leuens egter verstrek: 

Johannes / Yochanan {8:44} “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.”. 

Mense lieg dus omdat die satan hulle vader is. Maar vanselfsprekend waar! Die feit is dat almal een of ander tyd lieg, selfs ook diegene wat wedergebore gelowiges in Jesus die Messias is en ons almal het verskonings vir leuens. Sara s’n was omdat sy bang was. Het julle geweet dat om te oordryf ‘n leuen is? Ofskoon dit die mees algemene van alle leuens is, oordryf gelowiges tog sonder om te blik of te bloos. 

Dit is vir my interessant dat ons, as ouers, ons kinders geensins hoef te leer hoe om te lieg nie. 

Psalm / Tehillim {58:3} “Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.”. 

Die mees betreurenswaardige feit is, dat ons sondig en vanaf geboorte leuenaaars is! Jesus die Messias het gekom om ons van sulke sondigheid te verlos maar baie van ons, wat wedergebore gelowiges is maak ons nogtans aan leuens skuldig. Bedoel dit dan dat ons kinders van die duiwel is? Ons vlees is wel! Wanneer ons ons bekeer, is ons wedergebore uit die Gees – ons vlees verander geensins nie en behou die ou sondige gewoontes. Dit is dus ‘n ononderbroke stryd tussen ons gees en vlees. 

Dit is juis hier waar die volgende Skrifgedeelte van toepassing is: 

Fillipense / Pilifim {2:12} “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”. 

Verlossing hou nie by wedergeboorte op nie – ons moet ons eie verlossing uitwerk deur die eliminasie van vleeslike sonde. Ons moet ons vlees onderwerp aan ons gees en dus met alle leuenagtigheid wegdoen. 

Romeine / Romim {6:11} “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”. 

Ek is oortuig daarvan dat Sara ‘n duur prys vir haar leuen betaal het. Sy het aan haar vlees toegegee en gevolglik toegelaat dat die duiwel deur haar praat. Moontlik was dit die rede waarom die duiwel haar kon beïnvloed om haar slavin aan haar man te gee sodat sy vir hom ‘n kind kon baar. 

Dink ‘n oomblik daaroor na welke gevolge moontlik aan jou leuens toegeskryf kan word. God wéét wanneer jy lieg! “’Maar Hy sê :’ Nee, maar jy het gelag.’”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou