D’Var Torah
En Hy Het Uitgegaan / Vayetzei
Genesis / Bereshit {28:18} “Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. {28:19} En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. {28:20} En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, {28:21} en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. {28:22} En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan. ”.
Ek skryf eintlik oor tiendes (die gawe van ‘n tiende aan God), maar hierdie Skrifgedeelte is so gebiedend oor dié onderwerp, dat ek nie anders kon as om dit te bespreek nie. Jakob het belowe om van alles wat God aan Hom skenk, ‘n tiende (10 %) daarvan aan Hom af te staan, indien Hy met hom sou wees, hom bewaar op die weg wat hy gaan, vir hom brood gee om te eet, klere om aan te trek, hom in vrede behoue na die huis van sy vader laat terugkeer en sy God sal wees. Soos dit toe gebeur het, hét God aan al hierdie versoeke – en nog veel meer – van Jakob voldoen.
Op grond van wat Jakob gesê het, is dit duidelik dat om te gee eintlik ‘n daad van aanbidding is. Dit is terselfdertyd ‘n gebaar van liefde en dankbaarheid, nie slegs ten opsigte van God se seëninge op stoflike gebied nie, maar ook teenoor Hom omdat Hy ons God is. Om te gee, is, trouens, ‘n gebaar van ons liefde vir God omdat ons geneig is om krampagtiger aan ons geld vas te klem as enigiets anders wat ons besit en wanneer ons dus daarvan afstaan, beteken dit dat ons God liewer het as ons geld.
Ek verstrek graag sekere verstommende Bybelse feite. Die woord liefde word nagenoeg 400 keer in die Bybel vermeld, gebed 500 keer maar om te gee, byna 2000 keer. Meeste Bybelkenners stem saam dat indien God in Sy Woord iets twee maal meld, Hy dit uiters belangrik ag; dink dus net daaraan hoeveel te meer Hy dit belangrik ag, wanneer daar gegee word!
2 Korinthiërs / Korintim Bet {9:7} “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. ”.
Baie mense gebruik hierdie Skrifgedeelte om dit te regverdig wanneer hulle gawe aan God minder as 10 persent (‘n tiende) is. Dit is egter ‘n foutiewe vertolking en toepassing van hierdie vers want dit gaan nie oor die bedrag wat gegee behoort te word nie, dít word voldoende gedek dwarsdeur die Skrif. Dit is eerder die gesindheid waarin ons moet gee: die gawe moet vrywillig wees, eerder as om dit uit noodsaak of teësin te doen. Die laaste gedeelte van die vers hierbo, wat soos volg lui, bevestig dit: “…want God het ‘n blymoedige gewer lief.”.
Maleági / Malachi {3:8} “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. ”.
Uieindelik word elke misdadiger gevang, want een of ander tyd begaan hy ‘n fout, raak nalatig en word in hegtenis geneem. Hoe kan enigeen in sy wildste drome ooit dink dat hy daarmee sal wegkom deur God te beroof? Nogtans skenk die meeste gelowiges in Jesus die Messias nie hulle tiende nie. God probeer om ons te laat afsien van iets wat vir ons kosbaar is, sodat ons kan leer hoe om Hom geheel-en-al met belangrike sake te vertrou – soos ons siele. Die vraag is egter: wil ons luister?
Maleági / Malachi {3:10} “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. {3:11} Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.”.
God het gesê dat ons Hom moet toets en dan sal Hy Homself bewys. Om te besef hoe belangrik dit is, herinner ek julle daaraan dat dit die enigste plek in die Bybel is waar daar geskrywe staan dat ons toegelaat word om God op die proef te stel.
Wanneer ons probeer bereken hoeveel ons tiendes behoort te wees, voer ons dikwels gerieflike verskonings aan. God stel geensins in ons gerieflikheid belang nie, maar wel of ons gehoorsaam is. Indien ons voldoende gehoorsaam is om aan God ons tiende te skenk, sal ons vanselfsprekend gehoorsaamheid betoon deur aan Hom ‘n gedeelte van alles anders ook te skenk. As gelowiges, is dit ons uitdruklike plig om God te gehoorsaam, maar te veel van ons kies en keur ons gehoorsaamheid en sluit gevolglik ons oë vir die opdrag om ‘n tiende asook allerbeste aan God te gee.
Ons word beveel om aan Hom die eerste van ons vrugte te skenk, maar ons neem dit vir onsself en gee slegs aan Hom dit wat oorbly of wat ons eintlik nie meer nodig het nie. Ons skenk dus aan Hom uit ons gerief in plaas van uit ons liefde. Ons gee aan God die krummels van ons lewens of dít wat oorbly nadat óns die fees geniet het. God is hoegenaamd nie ‘n God van oorskietkrummels of skamele oorblyfsels nie. God is ‘n heilige God en verdien die eerste van alles wat ons het.
Jakob het vir ons die voorbeeld van om tiendes te gee gestel en ons almal weet hoedat God hom persoonlik (hy was die vader van die 12 stamme van Israel), finansieel (hy was ‘n welgestelde man) en geestelik geseën het; in so ’n mate dat God selfs sy naam verander het van Jakob na Israel.
God verlang méér van jou as jou geld. Hy eis van jou jou algehele gehoorsaamheid en liefdevolle hart. Sal jy jou hart aan Hom gee? Indien wel, sal die vrywillige gawe van alles verder maklik geskied!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou