Sondag 29 Julie 2012

Luister, Leer en Doen!

29 Julie 2012 
D’Var Torah 
En ek het gesmeek – Va’etchanan 


Deuternonomum / Vevarim {5:1} “En Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle moet dit leer en dit sorgvuldig hou. ”. 

Dit word beweer dat ons 50% van wat ons hoor, 70% van wat ons sê en 90% van wat ons doen, onthou. Ek is oortuig daarvan dat hierdie gevolgtrekking gegrond is op wetenskaplike studies en kliniese toetse oor ‘n bepaalde tydperk. Diegene wat by hierdie studie betrokke was, kon hulleself die tyd, moeite en geld bespaar het indien hulle bloot die Woord van God vertrou en geglo het. 

In ons aangehaalde Skrifgedeelte uit parasha Va’etchanan word aan ons die noodsaaklike stappe verstrek om die Woord van God te onthou. Eerste op die lys is om Sy insettinge en verorderinge aan te hoor, tweedens moet dit geleer word en derdens moet dit gedoen word. Dit is verbasend in welke mate die betrokke kliniese studie met God se eie opdragte ooreenstem! Derhalwe kan ons tot die gevolgtrekking kom dat indien ons God se bevele uitvoer, ons ongewtyfeld minstens 90% van Sy Woord sal onthou. 

Ek weet nie van julle nie maar indien ek sou geweet – oftewel onthou – het dat ek 90% van die Woord van God kon onthou deur slegs Sy eenvoudige drie stap-program te volg, sou ek die geleentheid sonder versuim aangegryp het. Ongelukkig doen nie elke gelowige in Jesus die Messias dit nie en volg dus nie God se metode nie. Julle sal weldra verstaan waarom nie. 

Ons hoor die Woord van God deur gereeld dienste by te woon. Dit is ons plaaslike Messiaanse Joodse gemeente of aanlyn-deelname, waar die Woord van God gereeld verkondig en gelees word. Baie gelowiges woon nie gereeld dienste by of luister nie aanlyn nie. Hoe kan hulle hul dan op die beloftes van God beroep indien hulle nie eers weet wat dit behels nie? 

Ons leer die woord van God deur deelname aan al die Torah, Haftarah, Brit Chadasha – studies. Die gemeente Melech Yisrael bied aan gelowiges, wat sou belangstel, drie Bybelstudies per week asook één twee-weekliks. Dit is nie al nie! Benewens om dit persoonlik by te woon, is al ons Bybelstudies op die internet beskikbaar. Ons beskik selfs oor ‘n geselskamer, waar diegene wat inluister, vrae kan stel en tydens uitsending dadelik antwoord daarop ontvang. Deur vrae te stel, word terselfdertyd ook geleer. Indien gelowiges in Jesus die Messias al de studies wat aangebied word, bywoon, sou hulle die Woord doelmatig leer, maar ongelukkig laat baie van hulle dit na om die Bybelstudies by te woon of aanlyn te luister. 

Indien iemand die moeite doen om na die Woord te luister deur gereelde bywoning van dienste of aanlyn te luister en deur gereeld persoonlik die Bybelstudies by te woon of aanlyn daaraan deel te neem, sou die natuurlike gevolg wees, om uitvoering aan die Woord van God want nadat ons dit gehoor en geleer het, glo ons dit. Niemand sal doen wat God sê tensy hulle glo wat Hy sê nie. 

Die daad van glo en doen is geloof. 

Jakobus / Ya’acov {1:22} “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. {1:23} Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, dié is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; {1:24} want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. ”. 

Wanneer ons oor ‘n werklike, kragtige geloof beskik sal ons onsself nie hoef te dwing om mense lief te hê of om alles te doen wat God van ons vereis nie. Ons sal nie hoef te probeer om Sy gebooie te onderhou nie – ons sal dit eenvoudig spontaan in geloof dóén omdat ons glo. Wanneer ons oor werklike geloof beskik, sal niemand ons kan oortuig dat ons God se Woord ooit sal bevraagteken nie: ons sal net eenvoudig glo, vertrou en gehoorsaam. Indien ons God waarlik glo met betrekking tot vergifnis, sal dit nie meer moeilik wees om mense te vergewe nie. Wanneer ons waarlik glo, sal gebed en die bywoning van gebedsbyeenkomste nie meer ‘n las wees nie. Deur ware geloof kan God spontaan geprys word – ons kan dit nie onderdruk nie. Dit is ons plig om te glo. Werk daaraan, dan sal julle God se insettings en verorderinge uitvoer (doen). 

Wat is die proses nou weer? Luister, leer en doen!! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 22 Julie 2012

God salf één man, één leier

22 Junie 2012 
D’Var Torah 
Deuteronomium / Devarim 


Deuteronomium / Devarim {1:9} “En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie. {1:10} Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. {1:11} Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! {1:12} Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra? {1:13} Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel. {1:14} Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer. {1:15} Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme. {1:16} En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. {1:17} Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.”. 

 Daar was vir ‘n geruime tyd sekere gemeentes en mees onlangs – binne die afgelope vyf tot tien jaar – Messiaanse gemeentes, wat verklaar dat ‘n enkele aangestelde leier onbybels is. Hulle glo dat ‘n gemeente (kehila) verkieslik deur ‘n groep leiers, hoofsaaklik ouderlinge, bestuur moet word, wat dan om die beurt preek en lei. Indien dit die Bybelse wyse was om ‘n gemeente te bestuur, sou ek volkome daarmee saamgestem het maar alles in die Skrif en die gedeeltes hierbo aangehaal, dui beslis in ‘n ander rigting, naamlik slegs één aangestelde leier. 

Deuteronomium / Devarim {1:17} “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.”. 

Ek glo nie dit verg ‘n ruimtetuig-wetenskaplike om te verstaan wat hier geskrywe is nie. Moses deel ons mee dat God hóm beveel het om leiers aan te stel; regters wat hom sou bystaan om die las van die kinders van Israel, wat deur die jare aansienlik in getal toegeneem het, te help dra. Dit is wys omdat elke leier bystand benodig, veral wanneer die gemeente (kehila), wat hy lei, buitengewoon groot word. Dit is na alles onmoontlik vir één persoon om aan behoeftes van elkeen in ‘n groot gemeente, persoonlike aandag te skenk. 

Die woorde ”...want die gereg (mishpat) is God se saak.” Het my egter opgeval. Elke gelowige besef of behoort te besef dat alle oordeel van God kom. Aangesien dit die geval is en ons wéét dit is, waarom sou daar dan ooit iets te moeilik vir die aangestelde regters wees om te oordeel, juis omdat dit God is wat oordeel? Waarom sou hulle ooit ‘n “saak wat vir julle te moeilik is”, aan Moses voorlê, indien God aan hulle al die oplossings sou verstrek? Die feit is egter dat God nie aan hulle al die oplossings verstrek het nie. 

God het Moses immers nie versoek om regters aan te stel om hom te vervang nie. Hy is egter versoek om mense aan te stel om hom by te staan. Dit is, trouens, omdat God één man, één leier, in hierdie geval Moses, spesiaal daarvoor gesalf het. Daar was dus sake wat vir sy assistente te moeilik was om te beoordeel. Dit is duidelik dat indien elkeen van die leiers gelyk was, dit nie nodig sou gewees het om moeilike sake aan Moses voor te lê nie. God beskik oor en het steeds leiers: manne aan wie Hy spesiale salwing vir leierskap gegee het. Indien ‘n mens daaroor nadink, is dit nie juis waaroor parasha Korach (Korag) gehandel het nie? 

Númeri / Bamidbar {16:1} “En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2} en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3} En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? ”. 

Korag en sy groep opstandelinge het ‘n probleem gehad met die feit dat slegs één as leier gekies is en ons is almal bewus van wat met hulle gebeur het. Dit is egter goed om te weet dat God nie ‘n probleem het met slegs één leier nie; trouens, Hy bepaal dat dit so moes wees. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 15 Julie 2012

Leer om Sinisme te Vermy

2012-07-15 Mattot_Masse Afrikaans.docx
15 Julie 2012
D’Var Torah
Stamme / Reise   Matot/Masse


Númeri / BaMidbar {32:1} “En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, ‘n groot menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind hulle uit dat die plek ‘n plek vir vee was. {32:2} Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê: {32:3} Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en Behon— {32:4} die land wat die HERE voor die vergadering van Israel uit verower het—is ‘n land vir vee, en u dienaars het vee. {32:5} Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan u dienaars as ‘n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie.”
Aan die begin van parasha Matot, kry ons te doen met die aanvang van die verdeling van die verowerde land tussen die stamme (Matot) van Israel. Die kinders van Israel het Og en Sihon, twee konings aan die oostekant van die Jordaanrivier, verslaan. Dit is die land wat vandag as die Golanhoogte bekendstaan – ‘n eiendom wat weereens onder beheer van Israel is. Die stamme van Ruben, Gad en halwe stam van Manasse het hierdie land geskik gevind vir hulle groot veetroppe (indien jy hierdie area gesien het, sal jy verstaan waarom hulle dit gekies het) en het Moses versoek om dit aan hulle toe te wys. Dit was die land wat die kinders van Israel verower het en het na regte aan hulle behoort, met die gevolg dat dit vir hulle beskikbaar was om te bewoon. Moses se reaksie op hulle versoek, meen ek, verg ‘n verduideliking.

Númeri / BaMidbar {32:6} “Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly? {32:7} Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het? {32:8} So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk. {32:9} Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die HERE aan hulle gegee het.”
Dit is dus begryplik waarom Moses ontsteld was. Hy was blykbaar van mening dat ‘n ongelukkige voorval – ‘n herhaling van die insident met die tien spioene – weer besig was om plaas te vind. Dit het hom skynbaar herhinner aan daardie persone wat met ‘n negatiewe verslag oor die Land Kanaän teruggekeer en dus die kinders van Israel ontmoedig het om die land in te neem. Ons besef dat dit daarop uitgeloop het dat Moses-hulle vir veertig jaar in die wildernis moes rondswerwe – ongetwyfeld ‘n pynlike herhinnering.

Nou weet ons dat die stamme van Ruben, Gad en Manasse eindelik ingestem het om saam met die res van die stamme van Israel te veg totdat ook hulle húl erfenis wes van die Jordaanrivier ontvang het, maar tydens hulle versoek, was Moses nie hiervan bewus nie. Derhalwe, met dít in gedagte, is die interaksie tussen die twee en ‘n halwe stam en Moses baie interessant asook die gebeure daarna insiggewend vir ons vandag. Moses was bevrees en het steeds slegs gekonsentreer op wat in die verlede plaasgevind het. Gevolglik het hy nie besef dat hierdie ‘n nuwe generasie was nie. Sy verstand was vertroebel en hy het onmiddelik hulle versoek negatief vertolk. Die feit is egter dat hierdie groep se opstandige ouers byna voor-die-voet in die wildernis omgekom het en die nuwe geslag meer as bereid was om Moses se opvolger, Josua, in die Beloofde Land in te volg.

Wat ek graag hier wil uitwys, is dat ons verlede by ons kan spook en dus veroorsaak dat ons mense en hulle voornemens misverstaan. Moses kon nie afsien van die feit dat die kinders van Israel in opstand gekom het in plaas daarvan om te gehoorsaam en die land in besit te neem nie. Ek wil graag waag om te sê dat Moses, na alles wat hy met die kinders van Israel moes verduur, sinies geraak het.

Ongelukkig is dit vir gemeenteleiers ook nie moeilik om sinies te raak nie. Ek moes daardie geneigdheid al dikwels bestry. As herder van ‘n gemeente van gelowiges – wat almal inderdaad van die gebod “om mekaar lief te hê” bewus is, sou ‘n mens verwag dat daar vrede, respek, eer en integriteit moet heers. Pleks daarvan, vind ‘n mens al te dikwels rugstekery, geskinder, valse beskuldigings, haatdraendheid, naywer en opstandigheid om slegs enkele probleme te meld, waarmee leierskap te doen kry; sommige hiervan selfs onder hul naaste gemeentelede en vertrouelinge.

Ja, ook Moses, die nederigste mens op aarde, kon sinies raak. Laat ons dus ‘n les uit hierdie week se parasha leer en besluit om ons leiers nooit aanleiding te gee om sinies te raak nie.

Hebreërs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 08 Julie 2012

Die Dood van ‘n Sondaar

8 Julie 2012
D’Var Torah 
Pineas / Pinchas 


Númeri / Bamidbar {25:10} “Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:11} Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie.”. 

Hier is iets baie betekenisvol en belangrik waarop ons almal moet agslaan en verstaan. God se toorn is deur die dood van Simri en Kosbi afgewend. Dit is besonder vreemd aangesien die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) soos volg lui: 

2 Petrus / Kefa Bet {3:9} “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. ”. 

In die betrokke geval in parasha Pinchas, is die dood van twee persone dit wat God verlang het – dit was juis hulle dood waardeur die plaag, wat besig was om die kinders van Israel uit te roei, gestuit is. 

Wat is dit dus? Verlang God die dood van ‘n sondaar of dat niemand omkom nie? Ek meen die antwoord op hierdie vraag is in beide geleë en sal dit verduidelk soos wat ons verder gaan. 

Daar is ‘n verdere geval in die Skrif waar die dood van ‘n persoon God tog positief beïnvloed het. 

Josua / Yehoshua {7:1} “Maar die kinders van Israel het hulle vergryp aan die bangoed; want Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed geneem, sodat die toorn van die HERE ontvlam het teen die kinders van Israel.”. 

As gevolg van die sonde van Agan, is Israel deur die manskappe van Ai verslaan: ses-en-dertig van die driehonderd Israeliete het in die oorlog gesneuwel. Toe dit egter aan die lig kom dat die onheil vanweë Agan se sonde oor Israel gekom het, het Moses hom laat stenig. God het genoë geneem met die dood van hierdie sondaar en op grond van sy dood, het God Sy vervloeking teen Israel opgehef en het hulle Ai verslaan. 

Daar is selfs nog ‘n geval: 

1 Konings / Melachim Aleph {13:1} “Toe kom daar ‘n man van God uit Juda deur die woord van die HERE in Bet-el aan, terwyl Jeróbeam op die altaar staan om offerrook te laat opgaan; {13:2} en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die HERE en gesê: Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, ‘n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word.”. 

Onthou julle hierdie verhaal? Die man, waarna hier verwys word, is later langs die pad deur ‘n leeu doodgemaak omdat hy aan God ongehoorsaam was. Hy het God se opdrag nie behoorlik nagekom nie, naamlik om niks te eet of drink terwyl hy in die noordelike koningkryk (Israel) was nie. Selfs na die profeet se ongehoorsaamheid, het God vervul wat Hy oor die altaar (deur Jerobeam opgerig) uitgespreek het. 

Watter ooreenkoms is daar tussen hierdie drie gebeure? Al drie persone is vooraf gewaarsku om nie te sondig nie, maar het dit verontagsaam en in elk geval tog gesondig. 

Nahum / Nachum {1:3} “Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.”. 

God waarsku ons nie aangaande ons sonde deur ‘n profeet nie; trouens, Hy het nie langer profete – in die ware sin van die woord in die Hebreeuse Skrifte – nodig nie, maar het ons deur Sy geskrewe Woord teen sonde vermaan. Ons beskik nou oor Sy geskrewe Woord, waarvolgens ons geleer word wat ons behoort en nie behoort te doen nie. Daar bestaan geen twyfel oor wat reg of verkeerd is in God se oë vir ons nie: die Bybel is altyd baie verstaanbaar. God neem nie genoë met die dood van ‘n sondaar nie, maar indien ‘n sondaar se dood nodig is om Sy woede te laat bedaar en Sy toorn af te wend, sal daardie sondaar sterf. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 01 Julie 2012

Valse Profete: Bedrieër – ‘n Werktuig van die Satan

D’Var Torah 
Balak 


Numeri (Bamidbar) {22:41} “En in die môre het Balak Bíleam geneem en hom op die hoogtes van Baäl laat opklim vanwaar hy die kant van die volk kon sien. {23:1} Toe sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme. {23:2} En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer. {23:3} Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan; miskien sal die HERE my tegemoetkom, en wat Hy my ook al laat sien, sal ek jou bekend maak. En hy het na ‘n kaal heuwel gegaan.”.

Bileam was nie ‘n ware volgeling van God nie. Hy was nie een van God se profete nie en ook nie ‘n lid van die gemeenskap van Israel nie. Hy was ‘n Mesopotamiese astroloog, ‘n waarsêer wat waarskynlik vir homself naam gemaak het as iemand wat ‘n vloek oor mense kon bring. Hoedat hy van die God van Israel te wete gekom het, is onbekend maar ons weet wel dat hy van iets aangaande die aanbidding van God kennis gedra het. 

In die verse hierbo aangehaal, sien ons dat Bileam van die getal sewe gebruik maak. Hierdie getal is God se getal van voltooiing en volmaaktheid. Waarom Bileam dus die getal sewe (sewe altare, sewe bulle en sewe ramme) gekies het, word nie aan ons meegedeel nie, maar ons weet egter dat hy ‘n opportunis was. Uiteindelik het hebsug die oorhand oor hom gekry en het hy geswoeg voor die wense van Balak en sodoende ‘n bose plan teen Israel gesmee. 

Bileam het voorgegee dat hy ‘n man van God is, maar was dit inderdaad nie. Net so het hy homself voorgedoen om ‘n profeet van God te wees, wat hy beslis ook nie was nie; trouens, hy was ‘n bedrieër en werktuig van die satan. 

Die punt wat ek graag hier wil maak, is dat nie elkeen wat homself ‘n gelowige noem, werklik ‘n gelowige is nie. 

Matthéüs (Mattityahu) {7:15} “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”.

Jesus het ons dikwels gewaarsku teen bedrieërs, mense wat voorgee om van God te wees, maar nie is nie. Hy het verwys na koring wat saam met onkruid groei (Matthéüs 13:25). Hy het ons gewaarsku teen diewe (= valse herders) wat van ‘n anderkant af in die skaapstal inklim, in plaas daarvan om by die deur in te gaan (Johannes 10:1-3) en die dief wat net kom om te steel, slag en verwoes (Johannes 10:10). Daar is baie bedrieërs daarbuite en tot my spyt, het ek al talle van hulle deur die jare teëgekom. Daar is selfs ook godsdienstige organisasies wat hulself daarop beroem om Christelik en volgelinge van Jesus die Messias te wees, maar nie is nie. Dit is ontstellend om die voorspoed van hierdie instellings te sien asook die misleiding van hulle volgelinge – maar Jesus het ons ook van hulle vertel. 

2 Timothéüs (Timoteus Bet) {4:3} “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”. 

Daar is ‘n gebed wat ons Donderdae met ons oggendgebed (Shacharit) bid, wat soos volg lui: “U het die mens genadiglik met kennis toegerus en ‘n brose sterfling insig geleer. Rus ons genadiglik vanuit Uself toe met wysheid, insig en kennis. Geseënd is U, o God, genadige Skenker van kennis.” (Vrye vertaling uit Engels) 

Daar is vandag soveel bedrog in die wêreld en soveel valse leermeesters, valse Messiaanse leermeesters ingesluit. Hulle verkondig valse leerstellings en mislei mense daardeur. Ofskoon Bileam uiterlik goed voorgekom het, was hy innerlik net so bedrieglik soos Balak. 

Matthéüs (Mattityahu) {23:25} “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.”.

Waak daarteen om nie tussen diegene te wees wat deur bedrieglike leermeesters en valse profete mislei word nie. Maak gerus die Shacharit-gebed deel van jou daaglikse gebedslewe. Congregation Melech 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou