D’Var Torah
Stuur om jou eie onthalwe – Shelach
Númeri {13:27} “En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. {13:28} Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. {13:29} Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan. {13:30} Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. {13:31} Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. {13:32} So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. {13:33} Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.”
Wanneer ‘n mens hierdie Skrifgedeelte lees, is jy meesal geneig om baie gou die tien verkenners wat teruggekeer het met ‘n ongunstige verslag, te veroordeel en jouself eerder met Kaleb (Calev) en Joshua (Yehoshua), wat met gunstige verslae teruggekom het, te vereenselwig. Moontlik sal ons voel dat indien óns daar was, ons ook gunstig verslag sou gedoen het. Ek is egter daarvan oortuig dat meeste van ons – indien nie almal nie – sou teruggekom het met ‘n ongunstige verslag, net soos die tien verkenners. Ons behoort onsself nie te mislei nie – ons is moontlik net so negatief, selfs erger as wat hulle was.
“In watter opsig?” mag jy vra. Het jy al ooit voor ‘n probleem te staan gekom wat, volgens jou mening, onoorkomelik was? Het jy al ooit met iemand van mening verskil? Het iemand jou al ooit iets toegevoeg wat jou ontstel het? Was jy al ooit kwaad vir jou werkgewer of kollega by die werk? Het jy die probleem gekonfronteer, die meningsverskil, die persoon, die werkgewer of die kollega of het jy verkies om dit eerder daar te laat en niks te sê nie? Heel waarskynlik sou jy die laaste uitweg gekies het, wat meeste mense doen. Hulle verkies om van die probleem af weg te vlug eerder as om dit regstreeks te konfronteer.
Dit is vir ‘n mens maklik om ‘n uitweg te vind en jou by Kaleb en Josua te skaar, omdat ons die verhaal gelees het en die uiteinde daarvan ken. In ons eie onderskeie situasies, waarin ons geen benul het van wat in die toekoms mag gebeur nie, sou ons geensins van die tien verkenners verskil nie!
Ons behoort ons eie lewens in oënskou te neem en oorweeg hoe óns sou opgetree het in situasies, soortgelyk aan dié waarvan ons hier gelees het, alvorens ons ander mense begin veroordeel. Hulle het ongetwyfeld die verkeerde keuse gedoen, wat hulle duur te staan gekom het, maar ons ook, onder geringer uiterste omstandighede, doen daagliks verkeerde keuses en moet uiteindelik vir die gevolge betaal.
Matthéüs (Mattityahu) {7:3} “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? {7:4} Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! {7:5} Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”
Een van my vrou se geliefkoosde gesegdes is “As jy kan sien wat in iemand anders se lewe verkeerd is, sien jy dit heel waarskynlik raak omdat dieselfde in jóú lewe verkeerd is.”. Ek stem saam met haar. Ons was nie saam met die kinders van Israel tydens hulle omswerwing in die woestyn nie, terwyl ons elke dag ‘n beter lewe vir onsself en ons kinders verwag het nie. Ons het geen benul daarvan hoedat ons wat ‘n land van melk en heuning – sonder reuse – verwag het, sou reageer het toe ons inderdaad deur reuse en versterkte stede gekonfronteer is nie. Laat hierdie parasha dus vir ons ‘n les leer en laat ons eers ons eie lewens beoordeel voordat ons ‘n ander s’n beoordeel.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou