Sondag 26 Mei 2013

Haal die balk uit jou eie oog uit

D’Var Torah 

Stuur om jou eie onthalwe – Shelach


Númeri {13:27} “En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. {13:28} Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. {13:29} Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan. {13:30} Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. {13:31} Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. {13:32} So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. {13:33} Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.” 

Wanneer ‘n mens hierdie Skrifgedeelte lees, is jy meesal geneig om baie gou die tien verkenners wat teruggekeer het met ‘n ongunstige verslag, te veroordeel en jouself eerder met Kaleb (Calev) en Joshua (Yehoshua), wat met gunstige verslae teruggekom het, te vereenselwig. Moontlik sal ons voel dat indien óns daar was, ons ook gunstig verslag sou gedoen het. Ek is egter daarvan oortuig dat meeste van ons – indien nie almal nie – sou teruggekom het met ‘n ongunstige verslag, net soos die tien verkenners. Ons behoort onsself nie te mislei nie – ons is moontlik net so negatief, selfs erger as wat hulle was. 

“In watter opsig?” mag jy vra. Het jy al ooit voor ‘n probleem te staan gekom wat, volgens jou mening, onoorkomelik was? Het jy al ooit met iemand van mening verskil? Het iemand jou al ooit iets toegevoeg wat jou ontstel het? Was jy al ooit kwaad vir jou werkgewer of kollega by die werk? Het jy die probleem gekonfronteer, die meningsverskil, die persoon, die werkgewer of die kollega of het jy verkies om dit eerder daar te laat en niks te sê nie? Heel waarskynlik sou jy die laaste uitweg gekies het, wat meeste mense doen. Hulle verkies om van die probleem af weg te vlug eerder as om dit regstreeks te konfronteer. 

Dit is vir ‘n mens maklik om ‘n uitweg te vind en jou by Kaleb en Josua te skaar, omdat ons die verhaal gelees het en die uiteinde daarvan ken. In ons eie onderskeie situasies, waarin ons geen benul het van wat in die toekoms mag gebeur nie, sou ons geensins van die tien verkenners verskil nie! 

Ons behoort ons eie lewens in oënskou te neem en oorweeg hoe óns sou opgetree het in situasies, soortgelyk aan dié waarvan ons hier gelees het, alvorens ons ander mense begin veroordeel. Hulle het ongetwyfeld die verkeerde keuse gedoen, wat hulle duur te staan gekom het, maar ons ook, onder geringer uiterste omstandighede, doen daagliks verkeerde keuses en moet uiteindelik vir die gevolge betaal. 

Matthéüs (Mattityahu) {7:3} “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? {7:4} Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! {7:5} Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.” 

Een van my vrou se geliefkoosde gesegdes is “As jy kan sien wat in iemand anders se lewe verkeerd is, sien jy dit heel waarskynlik raak omdat dieselfde in jóú lewe verkeerd is.”. Ek stem saam met haar. Ons was nie saam met die kinders van Israel tydens hulle omswerwing in die woestyn nie, terwyl ons elke dag ‘n beter lewe vir onsself en ons kinders verwag het nie. Ons het geen benul daarvan hoedat ons wat ‘n land van melk en heuning – sonder reuse – verwag het, sou reageer het toe ons inderdaad deur reuse en versterkte stede gekonfronteer is nie. Laat hierdie parasha dus vir ons ‘n les leer en laat ons eers ons eie lewens beoordeel voordat ons ‘n ander s’n beoordeel. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 19 Mei 2013

Leiers moet as voorbeeld dien

D’Var Torah 
Wanneer jy aanspraak maak – Beha’alotecha 




Númeri / Bamidbar {8:9} “En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel. {8:10} Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê. {8:11} En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig.” 

Op grond van die vorige sensus, weet ons dat daar meer as ses-honderd duisend manne onder die kinders van Israel was en twee-en-twintig duisend Leviete. Die binnehof van die tent van samekoms (Ohel Moed) was sekerlik nie groot genoeg om soveel mense te huisves nie – hoe was dit dus moontlik dat elke person onder die kinders van Israel hul hande op die Leviete kon lê? Beslis onmoontlik! Dit is dus voor die hand liggend dat dit nie God se bedoeling was dat elke indiwiduele Israeliet sy hande op die Leviete lê nie, maar wel slegs die leiers van elke stam. Ongeag hierdie feit, is ek egter seker dat al die kinders van Israel rondom die tabernakel vergader het om die geleentheid te aanskou of ten minste net te kon sê dat hulle teenwoordig was, aangesien die werklike seremonie beswaarlik deur die skare mense aanskou sou kon word. Die lang gordyne rondom die tent van samekoms, sou meeste mense se uitsig belemmer het, selfs indien die ingange oopgelaat is. Daarbenewens sou die verrigtinge op grondvlak plaasgevind het aangesien daar geen verhoog in die tent van samekoms was nie. 

Beslis nie elke persoon sou sy hande op die Leviete kon lê nie. Ek is oortuig daarvan dat wat God daarmee bedoel het, was dat ‘n verteenwoordiger uit elke stam, hulle prins, as ‘n groep hulle hande op die Leviete sou lê en hulle sodoende aan God voorstel. 

Dit benadruk vir my die belangrikheid wat God aan leierskap heg. Baie mense probeer die rol van leierskap binne ‘n gemeente geringskat, wat God oënskynlik nie so ag nie. Dit bring dus geweldige implikasies ook vir leiers mee. In die lig hiervan, wil ek graag hierdie kommentaar (drash) aan alle gemeenteleiers rig. 

Sommige leiers voel miskien dat hulle iets besonders is, in soverre hulle aan die gemeente kan voorskryf wat om te doen maar hulleself daarvan uitsluit. Met inagneming van die verantwoordelikheid wat God aan leierskap heg en die feit dat leiers hulle hele stam verteenwoordig, beteken dat dit vir ons iets baie belangrik inhou. Op leiers rus daar ‘n geweldige verantwoordelikheid: hulle optrede en die wyse waarvolgens hulle lewe, sal die hele gemeente beïnvloed; trouens, die leiers moet as voorbeeld dien vir diegene wat deur hulle gelei word. Indien hulle verwag dat die gemeente skenkings doen of geldelik bydra tot iets, móét hulle dieselfde doen. Indien hulle die aanvangstye van dienste of ‘n ander geleentheid bepaal, moet hulle vroegtydig reeds dáár wees om diegene wat betyds is, te groet. Indien die leierskap van die gemeente verwag om tiendes te gee, moet die leiers dit ook doen. Indien die leier van die gemeente verwag om in ‘n bediening te dien, moet hy ook in bedienings dien. Van leiers word verwag om deur hulle voorbeeld te lei. 

Johannes / Yochanan {13:4} van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en ‘n doek geneem en dit om Hom vasgemaak. {13:5} Daarna het Hy water in ‘n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was en afdroog met die doek wat Hy omgehad het. {13:3} Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. {13:14} As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. {13:15} Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. {13:16} Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. {13:17} As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen. 

 Dáár het jy dit, duidelik uit die mond van God! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 12 Mei 2013

Kom Ons Maak Ons Lewens Skoon!

D’Var Torah 
Neem – Naso 


Numeri {5:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {5:2} Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle uit die laer wegstuur al die melaatse mense en almal wat ‘n vloeiing het, en almal wat deur ‘n lyk onrein is. {5:3} Man sowel as vrou moet julle wegstuur; buitekant die laer moet julle hulle wegstuur, sodat hulle nie hul laer verontreinig waar Ek in hulle midde woon nie. {5:4} En die kinders van Israel het so gedoen en hulle buitekant die laer gestuur; soos die HERE met Moses gespreek het, so het die kinders van Israel gedoen.” 

Wanneer ‘n mens hierdie vier verse lees, is ek oortuig daarvan dat meeste van ons – indien nie almal nie – ons skaars weer daaraan steur. Dink egter daaroor! Die laer van Israel het bestaan uit nagenoeg twee miljoen mense! Dit is groter as meeste stede in Kanada en selfs groter as baie stede oor die wêreld heen. Kan jy jou die enorme taak voorstel van wat dit sou behels om deur die hele laer te gaan en vas te stel wie melaats (tzara’at) was, ‘n vloeiing gehad of aan ‘n lyk geraak het? Probeer jou voorstel wat dit sou behels om so iets te onderneem in die stad waarin jy woon – dan sal jy ongetwyfeld verstaan waaroor ek praat. Dit moes ‘n haas onmoontlike taak gewees het, maar dit is presies wat God vereis en presies wat die kinders van Israel gedoen het. 

God woon vandag nie meer fisies tussen ons nie, altans, nie op dieselfde wyse as wat Hy in die laer van die kinders van Israel gewoon het nie. Tόé het Sy fisiese teenwoordigheid in die vorm van die Shekinah die tempel (Mishkan) gevul. Die teenwoordigheid van God woon vandag egter ín ons, deur die onsigbare vorm van die Heilige Gees (Ruach Hakodesh). Ek vind dit ontstellend dat baie gelowiges God se teenwoordigheid in hulle as vanselfsprekend aanvaar. In die betrokke verse lees ons hoedat God geweier het om te woon tussen melaatses, mense met ‘n vloeiing of persone wat aan ‘n lyk geraak het maar vandag verontreinig baie gelowiges hulself op soveel ander wyses en traak dit hulle geensins nie. 

1 Korinthiërs (Korintim Alef) {3:16} “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” 

Ons Skrifgedeelte uit vandeesweek se Tora-deel beklemtoon die feit van God se heiligheid. Dit verduidelik aan ons, sonder omhaal van woorde, dat God se heiligheid baie beslis nie vanselfsprekend aanvaar mag word nie. Dit bewys aan ons dat ons tot die alleruiterste moet gaan om in ons lewens ontslae te raak van enigiets wat ons mag besoedel, en gevolglik όns “laer” in ‘n omgewing skep waarin die Heilige Gees hoegenaamd nie kan woon nie. 

Om deur ‘n laer van bykans 2 miljoen mense te gaan ten einde van die teenwoordigheid van God te verwyder enigiets wat onrein kon wees, was ongetwyfeld nie ‘n maklike taak nie. Ek meen dat ek in alle eerlikheid mag sê dat dit nie in ‘n dag, ‘n week of selfs ‘n maand kon geskied het nie, maar dit is nietemin uitgevoer. Netso kan iets wat ons besoedel nie in ‘n oogwink uitgeskakel word nie, maar móét ontslae van geraak word indien die Gees van God vreedsaam ín ons kan woon. 

Let wel, uit ons Skrifgedeelte, dat sodra God die kinders van Israel beveel het om die laer skoon te maak, het hulle dit dadelik gedoen. In die bovermelde Skrifgedeelte in 1 Korinthiërs {3:16} het God ons uitdruklik beveel om ons lewens skoon te maak. Kom ons doen dit sonder verdere versuim! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 05 Mei 2013

Die ontwikkeling van ‘n gegriefdheid

D’Var Torah 
In die Wildernis – Bamidbar 

Númeri  / Bamidbar 1:1 – 4:20

Númeri / Bamidbar {3:25} “En die seuns van Gerson moet by die tent van samekoms versorg: die tabernakel en die tent, sy dekkleed en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms; {3:26} en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en sy lyne—alles wat by sy bediening behoort. {3:27} En aan Kehat het behoort die geslag van die Amramiete en die geslag van die Jishariete en die geslag van die Hebroniete en die geslag van die Ussiëliete. Dit is die geslagte van die Kehatiete. {3:28} Volgens die getal van almal wat manlik is, van ‘n maand oud en daarbo, was daar agt duisend ses honderd wat die diens van die heiligdom waargeneem het. {3:29} Die geslagte van die seuns van Kehat moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, aan die suidekant. {3:30} En owerste oor die familie vir die geslagte van die Kehatiete moet wees Elísafan, die seun van Ussiël. {3:31} En hulle moet versorg: die ark en die tafel en die kandelaar en die altare en die gereedskap van die heiligdom waarmee hulle diens doen, en die voorhangsel en alles wat by die bediening daarvan behoort.”. 

Wat leer ons met die lees van hierdie parasha? Wat my veral opgeval het was hoe elke gemelde familie vanuit die Leviete (Leviim), hulle eie besondere verantwoordelikheid met die opbreek en opslaan van die tabernakel (Mishkan) gehad het. Het jy al ooit gewonder waarom God die keuses gemaak het oor wie watter taak moes verrig? Die proses het ongetwyfeld God se opperheerskappy bewys omdat daar skynbaar geen logiese rede vir Sy keuses was nie – ten minste wanneer dit by ons beperkte begrip kom nie. Dit is egter interessant dat die Kohatiete deur God aangewys is om die gewyde (kadosh) voorwerpe van die tabernakel te dra. Daarbenewens ook, anders as enige ander lede van die stam van die Leviete, was hulle die enigste familie aan wie geen vervoermiddel gegee is waarop hulle vragte gelaai kon word nie – hulle moes alles met die pale wat voorsien is, op hul skouers dra. 

Waarom was dít vir my interessant? Korag, wat een van die leiers van die opstand teen Moses was, was van die seuns van Kohat. Daar mag moontlik geen verband tussen hulle taak en die feit dat hulle eindelik in opstand gekom het, bestaan nie maar dan weer kon daar tog ‘n rede gewees het. 

Númeri / Bamidbar {4:4} “Dit sal die dienswerk van die seuns van Kehat by die tent van samekoms wees, naamlik die hoogheilige dinge. {4:5} By die opbreek van die laer moet Aäron en sy seuns kom en die voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek. {4:6} En hulle moet ‘n dekkleed van robbevelle daarop sit en ‘n doek, heeltemal van pers stof, daar bo-oor uitsprei en sy draaghoute insteek. {4:15} En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms.”. 

Nadat hierdie gedeelte gelees is, sou iemand wat op die fisiese en nie op die spirituele ingestel is, maklik die gevolgtrekking maak: “O, ek is goed genoeg om die heilige voorwerpe te dra, maar nie om die tabernakel binne te gaan nie en dit te bedek nie.”. Ons kan dus aflei hoedat die gegriefdheid teen Moses en Aaron moontlik hieruit gespruit het. Hulle kon ook maklik aanstoot geneem het aangesien almal vervoermiddels gehad het om hulle vragte mee te vervoer, maar húlle dit op hul skouers moes dra. 

Hoe maklik is dit vir wêreldse mense of selfs wêreldse gelowiges – dié wat meer op die fisiese as die spirituele ingestel is – om ‘n gegriefdheid te ontwikkel omdat hulle voel dat dít waarvoor hulle aangewys is, nie aan hulle verwagtings voldoen nie. 

Dit sou vir ons maklik kon wees om ‘n vinger na die Kohatiete te wys en te sê dat óns nooit só ’n iets sou doen nie, maar die feit is dat ons nie net in staat daartoe is nie, maar dit inderdaad doen! Ons is gegriefd teen ons leiers wanneer óns aangewys word om iets te doen, wat ons as minderwaardig beskou in vergelyking met iemand wat wel gekies is om dit te doen. Ons voel gegriefd wanneer óns nie gekies word vir ‘n bepaalde projek nie maar iemand anders wat na ons mening minder gekwalifiseerd as ons is, daarvoor gekies word. Die gevolg is dat ons ‘n gegriefdheid begin opbou. Kom ons wees nou eerlik: baie van ons is geensins beter as Korag nie, selfs al noem ons onsself gelowiges. 

Matthëüs / Mattityahu {7:5} “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal. ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou