Saterdag 21 Maart 2009

Onderhouding van die Sabbat

En Hy Het Laat Byeenkom - Rekenskap / VaYahhel - Pekudei

21 Maart 2009 / Adar 25th 5769

Eksodus / Shemot 35:1-40:38
Esegiël / Yechezekiel 45:16-46:18
Hebreërs / Ivrim 8:1-12; 9:1-11

Hierdie week het ons 'n dubbele lesing, soos van ons opskrif afgelei kan word. Ek het egter gekies om slegs kommentaar te lewer oor 'n gedeelte van die afrekening-oordenking.

Eksodus / Shemot {35:1} "Toe het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel het, om dit te doen: {35:2} Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word. {35:3} Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie."

Baie Jode, beide streng ortodoks en messiaans, neem hierdie gebod oor die aansteek van vuur baie ernstig op. Hulle kook nie op die Sabbat nie, want dit vereis die aanskakel van die stoof. Hulle skakel nie ligte aan op die Sabbat nie, omdat die skakelaar 'n vonk veroorsaak, wat die aansteek van vuur beteken. Hulle bestuur nie op die Sabbat nie omdat die aanskakel van 'n motor ontbranding vereis, wat op die aansteek van vuur neerkom. Verder doen hulle niks anders wat vuur veroorsaak nie.
Danksy moderne tegnologie, omseil sommige van hierdie mense egter hul interpretasie van die Skrif. Hulle laat byvoorbeeld bewegingsdetektorskakelaars in hul huise installeer wat die ligte outomaties aanskakel sodra 'n vertrek binnegegaan word. Selfs woonstelgeboue het Sabbathysers wat vanself op elke verdieping stilhou sodat hysbakknoppes nie gedruk hoef te word om die hysbak te gebruik nie. Met ander woorde, hierdie gebod word so ernstig en letterlik opgeneem, maar tog word elke moontlike moderne tegnologie tot hul voordeel aangewend om te verhoed dat hulle nie self 'n vuur / vonk veroorsaak nie. Selfs sinagoges kry op die Sabbat 'n nie-Jood om ligte aan - en af te skakel sodat hulle dit nie hoef te doen nie. Hulle redeneer dat indien hulle nie-Jode se dienste gebruik, hulle nogtans die gebod gehoorsaam. Dit klink belaglik, maar is tog waar!
Ons moet onsself dus afvra: het God werklik bedoel dat ons sover moet gaan? Na alles, het Jesus die Messias, God in die vlees, vir ons gesê:

Markus / Mordechi{2:27} "En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie."

Indien die Sabbat dan vir die mens gemaak is en nie die mens vir die Sabbat nie, waarom knoei die mens so om God en Sy gebod te eerbiedig? Dink ook hieroor na: Dit word snags bitter koud (selfs benede 0°) in die wildernis; wat gebeur as die vuur doodgaan? Moes die kinders van Israel 'n nie-Jood - miskien 'n Egiptenaar of Edomiet - vind om die vuur weer aan te steek sodat die kinders nie aan blootstelling aan koue moes ly nie? Of was die Tora slegs geskryf vir mense in warm klimate? Wat van die Eskimos in die vriesende koue van die noorde? Indien hulle tot die geloof bekeer sou word, kon hulle nie op die Sabbat 'n vuur aansteek om warm te bly nie?
Ek dink die eerste deel van die Skrif, wat ek vir ons oordenking aangehaal het beantwoord hierdie vraag.

Eksodus / Shemot {35:2} "Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE..."

Die konteks van ons gedeelte is Werk. Die kinders van Israel word deur God gesê dat hulle ses dae het om te werk. Die sewende dag, die Sabbat, moet 'n rusdag wees.
Terwyl hulle in slawerny in Egipte was, was hierdie beginsel van 'n rusdag - 'n dag sonder om op te staan en te gaan werk - absoluut ongehoord. Om te verneem dat hulle 'n dag nie hoef te werk nie, moes vir die kinders van Israel moeilik gewees het om aan gewoond te raak.
Nietemin, was en is die Sabbat vir God nie om ligtelik opgeneem te word nie. Op hierdie dag het God opgehou om te skep en netso moes die skepsels, wat Hy geskep het, ook ophou werk op die Sabbat, en die straf daarvoor was dat indien hulle daarmee sou volhou, dit die doodstraf sou beteken. Dus, aan al julle werkverslaafdes daarbuite, indien julle voor die moontlikheid gestel word om die doodstraf opgelê te word vir die konstante en ononderbroke arbeid, sou hierdie erge straf bes moontlik 'n dryfveer wees om ook op die Sabbat te rus.
Ons moet ook in oorweging te hou dat, toe die kinders van Israel hierdie gebod ontvang het, niemand na die kantoor of fabriek gegaan het om te werk nie. Besighede was woonplek gebaseer. Die grofsmid het buite sy tent gewerk, netsoos alle ander ambagsmanne. Daarom die woord:"Julle mag op die Sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie." Dit pas eenvoudig in die konteks van geen werk op die Sabbat nie!

Die aansteek van 'n vuur om warm te bly, is nie werk nie. Die aanskakel van ligte in jou huis sodat jy saans kan sien, is nie werk nie. Die aanskakel van jou motor en bestuur daarvan sinagoge toe op die Sabat, is nie werk nie. Kook, op die Sabat, is nie werk nie, tensy jy op die Sabbat werk as 'n professionele sjef, maar jy sê:"Wat van 'n huisvrou wat elke dag vir haar gesin moet kook - ongetwyfeld sal kook vir háár werk wees? Of, wat van 'n man wat op die Sabbat betrap sou word terwyl hy stokkies optel en deur Moses ter dood veroordeel word? Dit was nie werk nie - miskien het hy die hout nodig gehad om sy kinders warm te hou".

In antwoord op daardie vrae: Vir 'n huisvrou is kook en skoonmaak werk, omdat sy dit die ander ses dae van die week doen. Sekerlik moet die huishouding 'n oplossing vind om haar tegemoet te kom sodat sy nie op die Sabbat moet werk nie. My vrou kook vroegtydig sop, wat ons op die Sabbat verhit. Sy berei ook van tyd tot tyd 'n bredie, wat sy op die stoof laat warm bly óf wat ons verhit. Meestal nuttig ons slegs 'n koue ete, wat ons óf uit papierborde eet, wat daarna weggegooi word óf ek help om die borde te was. Wat die man betref wat op die Sabbat stokkies opgetel en ter dood veroordeel is, kan ons nie bloot aanvaar dat hy dit gedoen het om sy kinders warm te hou nie - moontlik het hy die hout gebruik om vuur in sy oond te maak. Dit is werk! 'n Liefdevolle, genadige God sou niemand laat doodmaak, slegs omdat hy hout opgetel het om sy woonplek te verwarm of sy kinders te voed nie. Indien dit wel die geval was, waarom het hy nie vooruit beplan, soos ons met die sop of soos die kinders van Israel, met die optel van manna nie? In elke geval, ons almal behoort verantwoordelik genoeg te wees om te besef dat ons vooruit vir die Sabbat voedsel moet voorberei. Die motor moet vol brandstof wees; die voedsel moet vooraf gekoop en voorberei word, sodat die Sabat werklik onderhou word, soos wat God dit as 'n rusdag vir Homself bedoel het.