Saterdag 31 Maart 2018

Die Paaslam en Om God te Ken

Pesach
(Paasfees)


Alhoewel hierdie gedeelte eintlik bedoel is om tydens die dae van Paasfees (Kol Moed Pesach) gelees te word, behels hierdie week se les één kort versie met betrekking tot die Fees van Ongesuurde Brood (Pesach / Hag HaMatzah):

Eksodus / Shemot {34:18} “Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.”

Daar is ook ‘n bykomende les vir hierdie week se parasha en dit is die addisionele diere-offers bo-en-behalwe die gebruiklike daaglikse offerhandes wat voorgeskryf is vir die sewe dae van Pesach Hag HaMatzah, Die Skrifgedeelte vir ons parasha, waaroor ek kommentaar gaan lewer is egter die volgende:

Eksodus / Shemot {34:25} “Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood slag nie, en die offer van die paasfees mag nie tot die môre toe oorbly nie”

Ek het al dikwels gewonder waarom die paaslam nie op die tweede dag geëet mag word nie; trouens, die Skrif bepaal dat dít wat van die paaslam oorbly, met vuur verbrand moet word. Om ‘n idee van die antwoord te verkry, laat ons kyk na sommige vereistes met betrekking tot die voorbereiding van hierdie lam. Dit moes ‘n jaaroud lam en in elke opsig volmaak – sonder enige gebrek – wees. Om dít te verseker, moes die lam by die huisgesin aangehou en vir vier dae ondersoek word. Op die vierde dag moes dit ritueel geslag word. Die bloed daarvan moes in ‘n bak opgevang en dan met hisop as ‘n kwas, aan die deurkosyn gesmeer word. Dit was met die doel om vir die “huisgesin” redding te verseker. Geeneen van die lam se bene moes gebreek word nie en, volgens bykomende Bybelse voorskrifte, heel aan ‘n rygpen in ‘n vertikale posisie verbrand word.

Indien die Skrif ondersoek word, sal ‘n mens sien dat hierdie paaslam Jesus die Messias versinnebeeld. Voordat Hy gekruisig is, is Jesus vir vier dae deur die Fariseërs in die Tempel (Bet HaMidash) ondervra en hulle kon hoegenaamd geen fout met Hom vind nie. Jesus is daarna geneem en aan ‘n Romeinse teregstelllingskruis vasgespyker, waar sy bloed gestort is om vir die wêreld redding te bring. Volgens die Skrif is geeneen van Sy bene gebreek nie. Jesus het nie vir ‘n tweede dag aan die kruis gehang nie maar is afgehaal en op dieselfde dag waarop Hy gekruisig is, begrawe. Wanneer dit alles in oorweging geneem word, kan ons verstaan waarom die paaslam Jesus, die Lam van God, verteenwoordig het en op grond daarvan, niks van die paaslam op die volgende dag geëet moes word nie.

Die volgende besprekingspunt, is na aanleiding van die onderstaande Skrifgedeelte:

Eksodus / Shemot {33:13} “As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.”

Ongewtyfeld begeer elkeen van ons om genade by God te vind en hierdie Skrifgedeelte verstrek juis aan ons die nie-verborge HOE. In hierdie gedeelte het Moses God versoek om Sy weë aan hom bekend te maak sodat hy Hom kan ken en dus in Sy oë genade mag vind. Die enigste klaarblyklike wyse om genade in die oë van God te vind, is deur Hom te ken. Meen julle dit is bloot per toeval dat, kort nadat Moses sy versoek aan God gerig het, God hom beveel om die volgende te doen?

Eksodus / Shemot {34:1} “Toe het die HERE aan Moses gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes; dan sal Ek op die tafels die woorde skrywe wat op die eerste tafels was, wat jy verbrysel het.”

Die enigste manier om God te ken, is deur Sy Woord. God se Woord is Sy karakter en Sy karakter is Sy Woord. Indien ons dus vir God en Sy weë wil ken, moet ons Sy Woord ken. Daarom is ‘n gestruktureerde Bybelleesprogram ‘n noodsaaklike deel van ‘n gelowige se lewe. Elke gelowige in Jesus die Messias behoort die Bybel eenmaal elke jaar te lees. Dit, tesame met gereelde bywoning van Bybelstudie, sal verseker dat julle God en Sy weë sal ken, omdat Hy dit deur Sy Woord aan julle sal bekendmaak. 

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-04-23

Saterdag 24 Maart 2018

Om te kan dien, moet ons tweeledig gesalf wees

Tzav
(Opdra)


Levitikus / VaYikra {8:24} “Moses het ook die seuns van Aäron laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlel en aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet gestryk; daarna het Moses die orige bloed rondom teen die altaar uitgegooi.”

Die eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek hierdie Skrifgedeelte gelees het, was: “Waarom het God verkies dat noodwendig die regterhand van die priesters met bloed gesalf word? Is dit dan verkeerd om linkshandig te wees?” Die antwoord daarop is natuurlik, nee! Insgelyks het God so ook aan die regteroor en – groottoon voorkeur verleen. Ons het nog nooit verneem van iemand wat regs of links van gehoor of toon is nie, veral met ‘n sekere negatiewe konnotasie, wat in die verlede algemeen van toepassing was op mense wat linkshandig-dominant was. Gevolglik moet daar ‘n ander verduideliking bestaan.

Psalm / Tehillim {118:15} “‘n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die HERE doen kragtige dade. {118:16}  Die regterhand van die HERE verhef; die regterhand van die HERE doen kragtige dade.” 

Psalm / Tehillim {110:1} “Van Dawid. ‘n Psalm. Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”

Hebreërs / Ivrim {12:2} “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

Op grond van die bovermelde asook talle ander soortgelyke verse, kan ons aanvaar dat die regterhand Jesus die Messias simboliseer. Ons weet ook dat al die naderkomsofferandes (korbanot) simbole was van ons Messias, Jesus, wat, trouens, die finale korban was. Dit is Sy bloed wat ons reinig van ons sonde, Sy bloed wat ons red en Sy bloed wat ons heilig (wy) vir diens. Die voorbeeld wat God dus aan ons voorhou, is soos volg: Die bloed van Sy (d.w.s. Jesus) regterhand gesmeer aan die regteroorlel, die regterduim en regtergroottoon van Aäron en sy seuns, het hulle geheilig vir diens. Hierdie drie ekstremiteite verteenwoordig die dienslewering deur die Hoëpriester, wat Jesus by die volk verteenwoordig het: Die oor is om die stem van die Here te hoor, die duim is om die werk van die Here te verrig en die groottoon is om te wandel in die weë van die Here. Die natuurlike mens ontvang nie die geestelike gawes van die Here nie. Dit is onmoontlik om Hom te dien, soos wat Hy dit van ons vereis, sonder dat ons gered is. Daarom is dit bloed, spesifiek die bloed van versoening – Jesus die Messias, ons finale versoening – wat ons red.

Hebreërs / Ivrim{9:14} “hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”

Ons moet veral let op iets baie betekenisvol aan die einde van vers 14 hierbo. Afgesien van die aanwending van bloed aan Aäron en sy seuns, het Moses ook rondom teen die altaar, die bloed gesprinkel. Bloed op die altaar simboliseer God se genade.

Efesiërs / Efesos {2:18} “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”

Die simboliek eindig egter nie daar nie.

Levitikus / VaYikra {8:30} “Moses het ook van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron, op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns gesprinkel. So het hy dan Aäron, sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns geheilig.”

Aäron en sy seuns is ingeseën met bloed en olie. Die aanwending van bloed wás ‘n simbool van sondevergifnis en die olie ‘n simbool van salwing met die Heige Gees. Sonder sondevergifnis en salwing met die Heilige Gees, sou dit vir Aäron en sy seuns onmoontlik gewees het om namens God diens te verrig. 

Levitikus / VaYikra {17:11} “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”

Tot vandag toe het niks verander nie:

Matthéüs / Mattityahu {26:28} “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.”

Jesus die Messias – ons finale versoening – het Sy bloed vir ons gestort dat ons sondevergifnis mag ontvang en Hy het ons met die Heilige Gees gesalf, sodat ons as gesalfde priesters van die Allerhoogste God, Sy getuies hier op aarde mag wees.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-03-19


Saterdag 17 Maart 2018

Hoe Beskou Julle Dit?

VaYikra
(En Hy Het Geroep)


Levitikus / VaYikra {1:1} “En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê:  {1:2}  Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ‘n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. {1:3}  As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind. {1:4}  En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen. {1:5}  Dan moet hy die jong bul voor die aangesig van die HERE slag; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed bring en die bloed rondom teen die altaar uitgooi wat by die ingang van die tent van samekoms is. {1:6}  Dan moet hy die brandoffer afslag en dit in sy stukke verdeel. {1:7}  En die seuns van Aäron, die priester, moet vuur op die altaar neersit en hout op die vuur reglê. {1:8}  Ook moet die seuns van Aäron, die priesters, die stukke, die kop en die vet reglê op die hout wat op die altaarvuur is. {1:9}  Maar die binnegoed en die pote moet hy met water was, en die priester moet dit alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. {1:10}  En as sy offer ‘n stuk kleinvee is, van skape of van bokke, as brandoffer, moet dit ‘n ram sonder gebrek wees wat hy bring. {1:11}  En hy moet dit slag aan die noordekant van die altaar, voor die aangesig van die HERE; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed daarvan rondom teen die altaar uitgooi. {1:12}  Daarna moet hy dit in sy stukke verdeel, met die kop en die vet, en die priester moet dit reglê op die hout wat op die altaarvuur is. {1:13}  Maar die binnegoed en die pootjies moet hy met water was, en die priester moet dit alles bring en op die altaar aan die brand steek; ‘n brandoffer is dit, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. {1:14}  En as sy offer aan die HERE ‘n brandoffer is van voëls, moet hy sy offer bring van tortelduiwe of van jong duiwe. {1:15}  En die priester moet dit na die altaar bring en die kop afknyp en op die altaar aan die brand steek, en die bloed moet teen die kant van die altaar uitgedruk word. { 1:16}  Dan moet hy die krop met die vere daaraan verwyder en dit by die altaar gooi, aan die oostekant, op die asplek. {1:17}  Dan moet hy dit by die vlerke skeur sonder om hulle af te trek; en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek, op die hout wat oor die vuur is; ‘n brandoffer is dit, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.”

Hierdie week se parasha is vol voorskrifte en vereistes vir die korbanot (toenaderingsoffer) ten opsigte van iemand wat gesondig het. Volgens my mening, kan al hierdie vereistes op tweërlei wyse beskou word: óf dit kan as ‘n argaïese stelsel beskou word, wat destyds gewerk het, maar in ons moderne en verligte samelewing nie langer toepaslik is nie (veral sedert Jesus die Messais eens en vir altyd vir al ons sondes gesterf het en dus ons finale toenaderingsoffer is óf hierdie offers kan as ‘n objek-les van God se oppermagtige heerskappy in ons lewens gesien word. Ek beskou laasgenoemde as die aangewese wyse. Toe ek hierdie komplekse offerandelys deurgelees het, kon ek nie anders as om te besef dat ek nie aan my eie lot oorgelaat is nie – ek is nie die een wat in beheer van my lewe is nie! Ek is verantwoordelik en verskuldig aan ‘n almagtige God, Skepper van die hemel en aarde en alles wat bestaan, wat myself insluit. Dit beteken dat ek niks kan doen soos wat dit my behaag of op ‘n wyse wat ek meen dit gedoen moet word nie – ek móét alles op God se wyse doen, dit is, indien ek Hom wil behaag Waarom sou ek nou ‘n God, wat ek nog nooit aanskou het nie, wil behaag? Die antwoord is eenvoudig: omdat Hy God is en Hy my geskape het.

Ek onthou die dissipline wat my opgelê is toe ek, as kind, aan my ouers ongehoorsaam was. Soms was dit nie juis aangenaam nie en by ander tye, het dit my gegrief, maar as ek daaroor terugdink, besef ek dat die dissipline noodsaaklik was. Ek was ‘n rebelse kind en dit was inderdaad nodig dat ek terreggewys moes word om my aan die gesag van my ouers te onderwerp. Ons is nie geskape om te sondig nie. Adam, ons voorvader, is volmaak en sondeloos geskape. Toe hy nie aan die volmaaktheid waarin hy geskep is, voldoen het nie, het hy die onbellemerde gemeenskap met sy Skepper verbeur. Die gevolg hiervan was dat hy uit die tuin van Eden weggestuur is. Kom ons wees eerlik: daar is gevolge as ons bevele nie gehoorsaam nie. So is daar gevolge indien ons ‘n spoedoortreding begaan of in ‘n “Geen Parkering”- gebied parkeer. Daar is gevolge as ons nalaat om ons motor, soos deur die vervaardiger aanbeveel, te laat diens. Waarom sou ons dan nie ons lewens gevolge verwag, as ons versuim om God te volg en behaag deur Sy Tora – Sy Lewenshandleiding – te verontagsaam nie? Die feit is dat daar gewis gevolge sal wees!

Wat het julle geleer uit hierdie week se parasha? Het julle dit beskou as ‘n hele spul argaïese reëls, regulasies en voorskrifte, wat, nadat julle nou gered is, nie langer nagekom hoef te word nie? Of het julle dit soos ek ingesien? Het julle ook besef dat ons nie aan ons eie lot oorgelaat is nie en daar ‘n Hoër Gesag is wat ons geskape het en aan wie ons verantwoordbaar is?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-03-12

Saterdag 10 Maart 2018

Raak Fisies (Steek Jou Hande Uit Jou Moue!)

VaYakhel
(En Hy Het Byeengebring)


Eksodus / Shemot {35:10} “En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die HERE beveel het: {35:11}  die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute, sy pilare en sy voetstukke; {35:12}  die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking; {35:13}  die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die toonbrode; {35:14}  en die kandelaar tot verligting, met sy gereedskap en sy lampe, en die olie vir die kandelaar; {35:15}  en die reukaltaar met sy draaghoute, en die salfolie en die reukwerk van speserye, en die bedekking vir die ingang van die tabernakel; {35:16}  die brandofferaltaar met sy traliewerk van koper, sy draaghoute en al sy gereedskap; die waskom met sy voetstuk; {35:17}  die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking van die poort van die voorhof; {35:18}  die penne van die tabernakel en die penne van die voorhof met hulle lyne; {35:19}  die kunstige klere om in die heiligdom te dien, die heilige klere vir die priester Aäron en die klere van sy seuns om die priesteramp te bedien. {35:25}  En elke vrou wat kunsvaardig was, het met haar eie hande gespin en die spinsel gebring: die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne. {36:1}  So moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie die HERE wysheid en verstand gegee het om met kennis al die werk tot vervaardiging van die heiligdom te verrig, dit maak net soos die HERE beveel het.”

Ek het onlangs ‘n konferensie van Rabbi’s bygewoon wat deur die Internasionale Alliansie van Messiaanse Sinagoges (‘n organisasie waarmee ons gemeente geaffilieer is) gereël is. Hierdie jaarlikse byeenkomste word gewy aan opvoeding, bespreking, onderrig en gebed en het elke jaar ‘n besondere tema. Vanjaar se tema het betrekking gehad op die bestuur van ‘n gemeente wat God onder beheer van die rabbi’s geplaas het. Die besprekingsonderwerpe het gewissel van personeelhantering en beheer, toeligting oor integriteit, goeie besigheidsvaardighede/-praktyke, met inbegrip van alle finansiële aspekte (tiendes, boekhouding, rekeningwese en regeringsverslae). Baie ander aangeleenthede is ook bespreek – dit het gewissel van eenvoudige sake, byvoorbeeld welke afstand gemeentelede van hul gemeentes woonagtig behoort te wees, tot die meer komplekse, soos Federale programme, voordele en regeringsagentskappe.

In die verlede het ek nooit werklik veel aandag bestee aan die mikrobestuur van die gemeente nie, maar by die aanhoor van lesings, het ek besef dat ek tans inderdaad baie, indien nie alles nie, van die sake wat tydens lesings bespreek is, wel behartig. Na bywoning van hierdie konferensie, het dit my egter laat besef dat die onderhoud en bedryf van ‘n gemeente ook veel fisiese aktiwiteite vereis.

Nadat ek die voorafgaande Skrifgedeelte – trouens, die hele Parasha Vayakhel, wat dit betref – deurgelees het, het ek tot die besef gekom van die grootsheid en omvang van werk aan die konstruksie van die tabernakel (Mishkan), wat Moses moes behartig het.

Dit wil voorkom asof Moses ‘n fabriekstipe-produksielyn daargestel het om al die dekklede, gordyne, hout en hakies wat benodig is vir die konstruksie van die tabernakel te verskaf. Daar was spinners, wewers, skrynwerkers, gietvormmakers, juweliers en monteurs. Daarbenewens sou mense, wat hulle moes bystaan, soos gereedskapmakers en talle ander handlangers wat enigiets asook geringe take kon behartig, en skoonmakers benodig word. Verder, soos ons bewus is, is ‘n fabriek nie volledig nie sonder ontwerpers, toesighouers, voormanne en, laaste maar nie die minste nie, ‘n goeie bestuurder. Moses het oor almal beskik.

Die konstruksie van die tabernakel was geensins bloot ‘n geestelike gebeurtenis nie. Dit het lang werksure en harde fisiese arbeid geverg. Die enigste mate van spiritualiteit wat ter sprake was, was die liefde, toewyding en arbeidwilligheid van almal wat God gedien het.

Ek glo dit bewys dat nie alle werk vir die Here spiritueel van aard is nie; dit vereis ook ‘n mate van fisiese arbeid. Sommige mense verkeer onder die wanindruk dat hulle slegs hul hande op koerantadvertensies vir beskikbare poste hoef te lê en God sal vir hulle ‘n betrekking voorsien, of meen dat hulle net hoef te bid en hulle nuwe gebou sal opgerig word. Sonder twyfel is God in die wonderwerk “bedryf” en gebed om ‘n werk of enigiets – selfs iets essensieel – is nodig, maar eweneens ook om fisies te raak. Om ‘n betrekking te bekom, om ‘n gemeente aan die gang te hou of ‘n tabernakel op te rig, verg harde werk en fisiese inspanning, maar sommige mense is so hemelsgerig, dat hulle van geen aardse nut is nie!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-02-26


Saterdag 03 Maart 2018

Die Mikvah – Die Kern van ‘n Bybelse Samelewing

KiTisa
(Wanneer Jy Verhef)


Eksodus / Shemot {30:17} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {30:18}  Jy moet ook ‘n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin, {30:19}  dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was. {30:20}  As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur ‘n vuuroffer aan die HERE aan die brand te steek. {30:21}  Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte.”

Dit is die eerste aangetekende verwysing ooit na ‘n mensgemaakte waskom (mikvah). Die priesters moes hulle hande en voete daaruit was, wat beteken dat hulle die water in die waskom gebruik het om hulself te reinig. Die rede waarom God hulle beveel het om hulself daaruit te reinig, is “… sodat hulle nie sterwe nie;”. Die vraag ontstaan nou egter: wat sou die verband dan wees tussen versuim om met water gereinig te word en om te sterwe?

In talle opsigte is die indoop (t’vilah) in water, die drumpel van onderskeid tussen die onheilige en heilige – maar selfs meer as dit. Die blote indoop in ‘n mikvah, dui op ‘n statusverandering of méér korrek ‘n verandering van aansien. Die ongeëwenaarde werking daarvan lê in die mag van transformasie, die vermoë om ‘n metamorfose te weeg te bring. Byvoorbeeld: vanaf die aanvang van haar menstruasie, is ‘n vrou geag om in ‘n staat van uitsluiting (Nidda) te verkeer. Sy is van haar man afgesonder tot na afloop van haar menstruasie en totdat sy in ‘n mikvah gereinig is. Slegs dan is sy tot geslagsgemeenskap met haar man herenig. In tempeltye is mans en vrouens, wat vanweë rituele verontreiniging van dienslewering uitgelsuit is, ná t’vilah, toegelaat om die tempelberg op te gaan, die huis van God binne te gaan en self by die wydingsofferande betrokke te raak. Nog meer dramaties, kon ‘n proseliet, wat in die mikvah as ‘n nie-Jood gereinig is, as ‘n Jood uit die water kom.

Die gebooie van God word in drie onderskeie kategorieë verdeel:

Strawwe (Mishpatim) – Wette wat die siviele en morele lewe beheer. Dit is logies, geredelik verstaanbaar en algemeen as deurslaggewend en tot handhawing van ‘n gesonde samelewing geag. Voorbeelde van die mishpatim is die veroordeling met betrekking tot moord, diefstal en egbreuk.

Statute (Eidut) – Rituele en rites, wat beste beskryf kan word as bewyslewering. Hierdie kategorie behels die vele godsdienstige handelinge, wat Jode herinner aan historiese gebeure in hulle geskiedenis en dien as erkenning van die vernaamste instellings (gebruike) van die Joodse geloof. Voorbeelde hiervan is die onderhouding van die Sabbat, die vier van Paasfees (Pesach) en die aanbring van ‘n mezuzah aan die deurkosyn.

Ordonansies (Chukkim) – Bonatuurlike beginsels. Dit behels Goddelike verorderinge wat die menslike verstand nie by magte is om te oordeel nie. Chukkim gaan alle beskrywing deur mense intellek en begrip te bowe. Dit is juis onder hierdie kategorie waarin t‘vilah in ‘n mikvah ressorteer, tesame met ander instellings soos die Kosher-wette (Kashrut) en die Rooi Verskalf. Chukkim mitzvot word beskou as die vernaamste, aangesien dit die siel op sy diepste vlak beïnvloed. Onbelemmerd deur die beperkings van die menslike verstand, word hierdie ordonansies om slegs één rede beoefen – gehoorsaamheid aan God se Woord. Eenvoudig gestel, ons onderhou hierdie mitzvot slegs omdat God dit so beveel  het.

Ongeag die feit dat t’vilah in ‘n mikvah vir ons as ‘n misterie voorkom, kan ons nietemin sekere insigte verkry wat ons behulpsaam kan wees om tot ‘n beperkte begrip van die dimensies en implikasies van die t’vilah binne óns t’vilah-ervaring te verkry.

Die konsep van ritueel rein (tamei) en ritueel onrein (tahor), soos in die Torah beveel en in tempeltye toegepas is het geen vergelyking of gelykwaarde in hierdie postmoderne eeu nie. Moontlik is die rede waarom dit vir die hedendaagse Westerse begrip moeilik is om by die begrip aanklank te vind en dit as toepaslik te beskou. In antieke tye, was tamei en tahor van die uiterste belang – dit was die bepalende faktore in ‘n samelewing wat rondom die tempel en gepaardgaande stelsels van offerandes gesentreer het. Die aansien van ‘n persoon – of hy/sy rein of onrein was – was die kern van die Bybelse samelewing. Dit het ‘n persoon se betrokkenheid in alle aspekte van, nie slegs die rituele lewe nie maar inderdaad ook die lewe self, dikteer en beheer. Daar was talryke tipes van onreinheid wat op ‘n persoon se rol in sowel die samelewing as tempeldiens betrekking gehad het. Ofskoon die onreinheid ‘n verskeidenhied reinigingsprosesse behels het, was t’vilah in die mikvah die hoogtepunt van reiniging in elke geval. Selfs vir ‘n persoon wat ritueel rein was, was die proses van verheffing ‘n hoër vlak van geestelike betrokkenheid of heiligheid, deur t’vilah in ‘n mikvah ‘n vereiste. As sulks, was die instelling van t’vilah van die deurslaggewende betekenis in die lewe van enigeen wat in die tempel (Biet HaMikdash) diens verrig het. In ‘n rituele samelewing, wat in ‘n toestand van tahor verkeer het, sou toegang tot die tempel onmoontlik gewees het en korbanot-offerandes dus geheel-en-al nie aangebied kon word nie.

Ons keer dus nou terug tot ons vraag: “Wat sou die verband dan wees tussen versuim om met water gereinig te word en om te sterwe?” Op dieselfde wyse sou die inbring van vreemde vuur in die tempel, tot die dood van Aäron se seuns gelei het – dit geld vir enigiemand anders en dit is vir ons die antwoord. Aäron en sy seuns sou God hoegenaamd nie op sommer enige wyse kon nader nie. Ten einde in Sy teenwoordigheid te kom, moes hulle gereinig wees en verhef gewees het tot ‘n hoër geestelike aansien, wat oënskynlik uitsluitlik deur God se Chukkim van reiniging met water, vervul kon word.


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-02-19