Vrydag 28 Februarie 2020

Vrygewigheid

Terumah
(Offerande)

Daar is ‘n baie belangrike Bybelse beginsel in hierdie week se Parasha, wat ek graag wil toelig:

Eksodus {25:1} "TOE het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ’n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.{25:3} En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8} Ook moet hulle vir My ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9} Volgens alles wat Ek jou laat sien — die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort — so moet julle dit maak. {25:10} HULLE moet dan ’n ark van akasiahout maak. Twee en ’n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte wees. {25:11} En jy moet dit oortrek met suiwer goud, van binne en van buite moet jy dit oortrek. En jy moet daaraan ’n goue krans maak rondom. {25:12} En giet daarvoor vier goue ringe, en sit dit aan sy vier voete vas, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant is.”

Vrywillige gawe was nog altyd ‘n beginsel van die Tora - Dit word ook gevind in die Nuwe Testament (Brit Chadasha); Trouens, die gemeente in Fillipi word deur Paulus (saul) geprys vir hulle gewilligheid om te gee.

Fillipense {4:15} "En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. {4:16} Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. {4:17} Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening.”

Die vrug waarna Paulus hier verwys, is die vreugde en seëninge wat voortspruit uit vrywillige gawes.

Eksodus {12:35} “En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; {12:36} en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.”

Die kinders van Israel het volop ontvang toe hulle Egipte verlaat het en nou is hulle deur die Here versoek om vrylik te gee, elkeen soos hulle harte hulle gewillilig gemaak het. Die Skrif is vol voorbeelde wat ons meedeel dat ‘n vrygewige hart ‘n vreugdevolle hart is.

1 Kronieke {29:9} "En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ’n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly."

Kan dit duideliker wees: om te gee, verskaf vreugde! Dit beteken dat ‘n vrygewige persoon, ‘n vreugdevolle persoon sal wees. Om te gee, is om die Here heelhartig te dien. As jy suinig is, dan is jy inhalig en daar is sekerlik geen vreugde daarin nie. Ook, as jy die Here dien, maar vreugde ontbreek, dan dien jy die in die vlees en nie in die Gees nie. Sommige persone gee ook in die vlees: Hulle gee met die verwagting om in ruil daarvoor iets van God of iemand te verwag. Dit is beslis nie om vrywillig te gee nie. Vrywillige gawe is ‘n onselfsugtige gawe wat aangespoor word deur ‘n begeerte om aan die Here te gee met ’n gewillige hart, terwyl niks terug verwag word nie.

Matthéûs {6:19} “MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; {6:20} maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; {6:21} want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. {6:22} Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. {6:23} Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! {6:24} Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!”

Wat in hierdie Skrifgedeelte gesê word, is dat ons doelgerig moet wees wanneer ons die Here dien. ‘n Mens kan nie dubbelsinnig wees nie, deur rykdom na te jaag en terselfdertyd probeer om God heelhartig te dien en volg nie - indien ons dit doen, sal beide skade ly. Ek wil ook graag hê dat ons moet kyk wat Jesus in hierdie verse sê, naamlik die effek van suinigheid en inhaligheid, motte wat verniel wat ons opgaar en inbrekers wat sal inbreek en steel. Ons almal het al skade ondervind wat motte aan klere doen en om op een of ander tyd besteel te word. Deur op te gaar, dink ons dat ons nog meer kan bymekaar maak, maar ons is verkeerd, omdat God sê ons is verkeerd!

Indien ons opgaar, sal Hy motte stuur om te verniel en diewe om te steel. Hy sal toelaat dat ons verkul word; teenspoed met ons motorvoertuig wat teen aansienlike koste herstel moet word; aansienlike mediese uitgawes. Met ander woorde, ons dink ons wen, maar dit is nie so nie. God is besig om te neem wat ons vrywillig aan Hom moes gegee het. Dit loon dus nie om suinig te wees nie.

Haggai {1:6} "julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ’n stukkende beurs te steek."

Hierdie vers vertel ons dat dit nie saak maak hoeveel geld ons het nie, dit sal nooit genoeg wees as ons nie vrywillige gewers is nie. Om op te gaar, sal altyd wees soos om geld te spaar in ‘n sak vol gate - dit sal altyd uitval. Deur dus ‘n vrygewige persoon te wees, is nie ‘n opsie nie - dit is ‘n noodsaaklikheid! Daarbenewens is om te gee, ‘n Bybelse beginsel vir versamel en behoud van rykdom. Jesus noem ook roes as ‘n gevolg van opgaar. Roes bederf, neem iets goeds wat mooi en bruikbaar is weg en verander dit in iets sleg, lelik of onbruikbaar. Wanneer Hy sê dat geld en rykdom, wat aan ons gegee is om ten goede te benut, in die hande van ‘n sefsugtige, inhalige persoon, alles wat lelik, sleg en nutteloos is sal word. Ten slotte, sê Jesus, as ons oog sleg is, sal ons hele liggaam sleg wees en andersom. ‘n Slegte oog, is ‘n Hebreeuse gesegde wat daarop dui om selfsugtig, inhalig en begerig te wees. Daarom sal ‘n slegte oog ons hele liggaam affekteer en ons lewens basies ruîneer. Wat is die oplossing?

Eksodus {25:1} "TOE het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ’n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring."

Probeer om ‘n vrygewige hart te hê - jy het vrylik ontvang, gee dus vrylik en oorvloedig.

Kom gou Jesus!

PDF weergawe














Vrydag 21 Februarie 2020

Wraak

Mishpatim
(Oordele)


Om Parasha Mishpatim te lees, is soos om te lees uit die bladsye van ‘n wetboek. Sekerlik sou dit moontlik wees om howe byeen te bring en regters aan te wys deur  bloot te gebruik wat in hierdie week se Tora-gedeelte vervat is. Dit is trouens, presies wat God van Sy mense verwag het; vir hulle om ‘n regstelsel, gegrond op die Tora, op te stel. Hy wou hulle model-mense binne ‘n model-nasie maak, wat ‘n getuie vir al die ander nasies van die wêreld sou wees aangaande die Een Ware God en Sy regverdige en billike wette

Deuteronomium {4:7} "Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8} En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?"

Dit gesê, is daar één wet in Parasha Mishpatim wat oor die jare aansienlike teenstrydigheid veroorsaak het. Dit is ‘n wet wat blyk om ‘n leerstelling wat deur Jesus in die Nuwe Testament (Brit Chadasha) uitgespreek het, te weerspreek. Die omstrede wet, waarna ek verwys, is: 

Eksodus {21:23} "Maar is daar ’n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, {21:24} oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, {21:25} brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek."

Hierdie gebod word weer tweemaal in die Tora herhaal: in Levitikus 24:20 asook in Deuteronomium 19:21. Dié feit op sigself behoort vir ons ‘n aanduiding te wees van die belangrikheid daarvan in die oë van die Here. Baie Bybelse geleerdes vind dit egter moeilik om hierdie leerstelling wat Jesus uitgespreek het, daarmee te versoen:

Matthéüs {5:38} "Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. {5:39} Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe."

Om ten volle te verstaan of Jesus wel, aldan nie, wat in die Tora gesskryf was, weerspreek en om te voorkom dat ons tot enige gevolgtrekkings kom, moet ons elk van hierdie gedeeltes binne konteks, verstaan.

Die Tora is ‘n samestelling van onderrig en gebooie, wat die Here aan ons gegee het. Sekere onderrig is in verhaalvorm verstrek soos Jona en die groot vis en Josef se betrokkenheid by sy broers. Hierdie verhale en ander soortgelykes, is bedoel om ons te leer van die groot bybelse beginsels binne die konteks van die lewens van die persone wat dit ervaar het. Die gebooie van die Tora is meer direk, sootgelyk aan wat ons hier in Parasha Mishpatim teëkom. Beide die onderrig en gebooie word vir dieselfde doel aan ons gegee; om die sondaars se skuld te bewys deur hulle sondigheid op hulself te reflekteer en hulle onvermoë te toon om te lewe volgens die onderrig en gebooie van die Tora. Op hierdie wyse dien die Tora as ‘n leermeester wat aan die sondaars die weg na hul Redder aandui. Dan, wanneer die persoon gered is, verander die Tora die uitwerking daarvan op so’n persoon: dit beweeg van veroordeling van die sondaar, na onderrig van die geredde persoon om die lewe te lei as ‘n gelowige in Jesus die Messias. Dit is wat Paulus ons ook vertel:

Galasiërs {3:24} "Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. {3:25} Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie. {3:26} Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27} want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee."

Die konteks van die gebod in ons Tora-gedeelte (Eksodus 21:23) is streng juridies: begaan ‘n misdaad en betaal die boete. In daardie opsig, netsoos in die geval van moord (die Tora se straf in dié verband is die dood), as jy iemand se oog uitsteek, dan word jou oog uitgesteek. God het ‘n lys van misdade opgestel en ook die straf ten opsigte van elke besondere misdaad. Die straf is natuurlik net toegepas na deeglike ondersoek en ‘n geregtelike verloop van die saak, soos in die volgende Skrifgedeelte uiteengesit: 

Deuteronomium {19:15} "Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ’n saak van krag wees."

Ek reken nou dat jy sal verstaan waarom ek die misdaad en vereiste straf deur God voorgeskryf, letterlik uiteensit. Hoe dit ookal sy en ek moet dit egter met spyt byvoeg, soos die Bybelse straf vir moord, word die geregtigheid wat God bedoel het, nie langer toegepas nie. In plaas daarvan het ons howe en versekeringsmaatskappye ‘n geldelike waarde aan liggaamsdele toegepas. Dus indien jy vandag skuldig bevind word aan die verlies van iemand se oog, is die straf x-bedrag ter vergoeding, terwyl as jy iemand se hand afsny, moet jy y-bedrag skadevergoeding betaal. Dit is dus duidelik dat vanweë die wydverspreide voorkoms van misdaad in ons liberale samelewing en die kritiese oorbevolking van ons gevangenisse, die gewensde maatreëls om misdaad te bekamp, geensins bereik is nie!

Hoe versoen ons dus wat Jesus ons in Matthéüs 5:38 leer met wat ons in Eksodus 21:23 - 25 lees? Indien ons glo dat Jesus die vleesgeworde God (God het na die aarde gekom in menslike gestalte) is en Hy die Lewende Tora (“In die begin was die Woord en die Woord het vlees geword”) is en ons glo dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is, dan moet ons glo dat God Homself nie weerspreek nie! In Matthéüs hoofstuk 5, het Jesus basies verduidelik wat Hy in die Tora beveel het. Hy stel alles wat Hy gesê het in die vorm van ‘n gebod in die Tora, in behoorlike konteks en toepassing. Toe Hy gesê het: “Julle het gehoor”, het Hy verwys na die manier waarop Sy Tora-gebod destyds toegepas was, in teenstelling met hoe Hy voorgestel het dat dit toegepas behoort te word. Ons sluit hiermee af met wat Hy gesê het, soos ons verder lees:

Matthéüs {5:40} "En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. {5:41} En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam."

Verse 40 en 41 is ’n voortsetting van verse 38 en 39 en soos ons kan sien, het dit geen betrekking op “‘n Oog vir ‘n oog” of “‘n Tand vir ‘n tand” nie. Ons moet dus verstaan Wie Jesus is en dit wat Hy gesê het en dit in die regte konteks plaas. Wanneer ons dit doen, sien ons dat Hy nie Sy eie verordening in Eksodus 21:23 weerspreek nie. Jesus leer eerder die skare oor ‘n onderwerp wat Sy verordening betref. Die onderwerp van Sy riglyn is nie regterlik (misdaad en straf), soos uiteengesit in Eksodus 21:23 nie, maar eerder dat Hy ‘n riglyn verskaf oor die BEGINSEL van hoe om die regterlike toe te pas. Meer presies lig Hy ons toe Oor WRAAK. 

Niks wat ons doen, geen oordeel wat ons fel, geen straf wat ons oplê, behoort ooit op wraak gegrond wees nie. Jesus sê vir ons dat ons nooit wraaksugtig in ons oordeel moet wees nie en om nooit wraak te neem nie. Daar is dus geen teenstrydigheid nie!

Kom gou Jesus!

PDF weergawe



Maandag 17 Februarie 2020

Metafore

Yitro
(Jetro)


Eksodus {19:3} "Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig: {19:4} Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. {19:5} As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. {19:6} En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel."

Dis verbasend hoe mense woorde uit die Bybel aanhaal en hele teologieë daaromheen ontwikkel: soos die naam van God. Dikwels gebruik God in die Skrif die uitdrukking: “Roep My Naam aan.” baie mense gebruik hierdie uitdrukking letterlik en beskou dit as ‘n naam vir God. Dié uitdrukking bedoel hoegenaamd nie dat God verlang dat ons Hom op dié naam noem, soos ons ‘n vriend sal noem, byvoorbeeld Johan of Gert nie. God verwys hier eerder na Sy karakter. God se naam is Sy karakter! Om dus te roep op die “Naam van God”, sou beteken om te roep op Hom as die God wat ons genees, die God wat ons beskerm, die God wat vir ons voorsien, die God wat ons red ens. Ongelukkig het hele teorieë ontwikkel om die vind en gebruik, wat sommige mense besluit die eintlike naam van God behoort te wees. Daar is selfs ‘n beweging genaamd “Die Heilige Naam”. Hulle hele teologie is gebaseer op die woorde in die Bybel: “Roep My Naam aan”, tog het ontelbare mense onder die bekoring van hulle kettery verval. “Roep My Naam aan” is basies ‘n metafoor en God gebruik talle metafore in die Skrif, soos byvoorbeeld hierdie een:

Jesaja {41:10} "Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand."

Die woorde waarmee God beskryf word deur Sy Regterhand te gebruik, kom dwarsdeur die Skrif voor. Bedoel God werklik dat Hy fisies vanuit die hemel sal neerreik en ons met Sy Regterhand ondersteun? Nee, dit is ‘n metafoor wat bedoel dat God ons sal beskerm en ondersteun deur Sy krag en mag. In meeste gevalle, wanneer God na Sy Regterhand van Geregtigheid verwys, verwys Hy meer dikwels na Jesus, wat nou aan die Vader se regterhand sit.

’n Ander metafoor vind ons in vandeesweek se Parasha: “.....dat Ek julle op arendsvlerke gedra (het) ….” Ons weet dat dit slegs ‘n metafoor is omdat die kinders van Israel deur die wildernis moes loop om by berg Sinai uit te kom. Daar was beslis geen arende in die uittog nie. Daar was beslis geen arende betrokke by die eksodus nie (daar mag enkele aasvoëls rondgevlieg het in die hoop om iets te aas, maar daar was hoegenaamd geen Hebreërs wat deur arende gedra is nie). So, waarom deel God ons mee dat Hy die kinders van Israel op arendsvlerke gedra het? Hy beskrywe eintlik ‘n beeld. Dit is soortgelyk aan al die ander metafore wat God gebruik, om eintlik ‘n beeld van Homself en Sy optrede te beskrywe. Deur ons mee te deel dat Hy die kinders van Israel op arendsvlerke gedra het, verstrek God aan ons ‘n beeld van hoe Hy vir Sy mense gesorg het om hulle te bring waarheen Hy hulle wou laat gaan, soos ‘n arend wat sorg vir haar kuikens. Dit is ‘n uitdrukking van die wonderlike teerheid wat God aan Israel bewys het soos in die volgende Skrifgedeelte verduidelik word:

Deuteronomium {32:11} "Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels — {32:12} die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie."

Na die beste van my kennis is daar geen arende wat hul kuikens op hulle vlerke dra nie. Eweneens is daar ook geen soort arend wat hul kuikens hoog in die lug opvang nie. Dus word ons weer aan ‘n metafoor voorgestel. Deur hulle te vertel dat Hy hulle nes versteur het, gevang en op Sy vlerke gedra het, sê God dat Hy spiritueel op Israel “neergestryk” het, hulle omstandighede verander het om daardeur hulle bevryding te bespoedig en dít het Hy met die spoed en gemak van ‘n arend vergelyk. Dit dui essensieel op God se besondere sorg en toegeneentheid teenoor Israel. Egipte was soos ‘n nes vir die kinders van Israel - dit was waar hulle “gebroei” het tot ‘n nasie Die tyd vir hulle bevryding het egter aangebreek. God het gewag vir die geleë tyd voordat Hy oor hulle “gesweef”, “opgetel” en begeester het om hul nes spoedig en kragtig te verlaat, soos ‘n arend wat haar kuikens uit hul nes druk wanneer hulle gereed is om te vlieg.

Dit is die beelde wat die Here ons wil laat sien. Die mooiste deel is dat die Here ons ook op arendsvlerke gedra het. Indien jy ‘n gelowige in Jesus die Messias is dan weet jy dat, voordat jy begin glo het, jy in slawerny gehou was deur ‘n wrede en genadelose meester, die Satan. Miskien het jy destyds nie besef nie, maar God het heeltyd oor jou gesweef soos ‘n arend oor haar nes sweef terwyl Hy gewag het vir die regte oomblik om jou vinnig en met krag te bevry.

Indien jou reddingsondervinding enigsins soos myne was, sal jy besef dat in Sy volmaakte tyd, die Here jou nes sal versteur deur dinge baie ongemaklik vir jou te maak en dan wanneer jy besluit om jou lewe aan Hom te wy, Hy jou met arendsvlerke opgetel en weggevoer het na Sy aardse koninkryk. As jy nie hierdie ondevinding gehad het nie en God, deur jou nes te versteur, dit vir jou ongemaklik maak om in dieselfde ou lewe te bestaan, aanvaar dan vir Jesus die Messias; nooi Hom in jou hart en lewe in en kyk hoedat God jou dra op Sy vleuels en met die krag en spoed van ‘n arend, jou wegvoer tot in Sy glorieryke koninkryk van gelowiges hier op aarde.

Kom gou Jesus!



Vrydag 07 Februarie 2020

Persoonlike demone

BeShalach
(Wanneer Om Te Laat Gaan)


Genesis {14:9} "En die Egiptenaars het hulle agtervolg — al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag — en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon.{14:10} Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep. {14:11} En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? {14:12} Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe. {14:13} Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie."

Dis moeilik om te glo wat die kinders van Israel hier gesê het, aangesien hulle in erge, onderdrukkende slawerny in Egipte verkeer het. Ek reken hulle het vergeet hoe mishandel hulle was, gedwing om harde arbeid te verrig deur die maak van stene met strooi wat hulle self moes bymekaarmaak sonder dat die vereiste daaglikse kwota verminder is. Dit klink nie soos ‘n lewe waarheen enigeen sou wou terugkeer nie - ek sou immers nie wou nie! Waarom het hulle dan teenoor Moses gekla? Waarom het hulle dan gesê dat hulle in hulle ontneemde slawerny in Egipte beter daaraan toe was?

Ongelukkig herinner dit my aan een of twee gelowiges oor die jare heen wat verlangend en met geneentheid gepraat het oor hulle lewe in die verlede was, dit is voordat hulle gered is, toe hulle gely het en op daardie tydstip deur die Satan in slawerny gehou is.

Ek is eenmaal genader deur iemand wat verstandelik en emosioneel dag en nag getreiter is. Hy het stemme gehoor en was as gevolg daarvan ellendig en verontrus. Tydens ons gesprek, het dit geblyk dat hy gemoeid was met die okkultisme, voor dié tyd het hy egter geen van hierdie simptome beleef nie maar alles het daarna verander. Voordat ek gered is, was ek ook betrokke by die okkultisme. Dus het ek geweet dat hierdie persoon ‘n demoon of twee op homself gehaal het deur wat hy besig was om te doen en nou was hy demonies onderdruk daardeur.

‘n Mens kan demone op jou haal indien ons betrokke raak by die ryk van die Satan, wat hy gebruik om die onbehoedsame persoon te te verstrik. Goed soos taropkaarte, lees van die handpalm, séance (praat met die dooies), psigometrie, astrologie en selfs iets wat onskadelik skyn te wees, soos om jou met sterrewiggelary besig te hou. Hierdie praktyke hou almal die potensiaal in van demoniese onderdrukking vir diegene wat daarby betrokke raak en mag selfs lei tot die besetting deur demone. Ek het vir hierdíe persoon gebid om hom van sy betrokkenheid by die okkultisme te laat afstand doen, ‘n metode van bevryding, wat ek in die verlede toegepas het - selfs op myself. Ek glo dat deur my geloofsgebed die demone gewyk het en die persoon nou ontslae was van die onderdrukking. Ongelukkig, het ek, slegs minute na my gebede hom gehoor sy verhaal vertel aan iemand anders en hom ook versoek het om te bid vir sy bevryding. Ek was toe seker dat welke demone die wyk geneem het, nou met wraak sou teruggekeer het.

Die doel van my storie en die Skrifgedeelte, wat ek in ons Parasha vandeesweek aangehaal het, is dat sommige persone heel gemaklik is met hulle demone en nie werklik daarvan ontslae wil raak nie. Die bovermelde persoon wou nie aanvaar dat hy deur my geloofsgebed bevry is nie en wou gehad het dat iemand anders ook vir hom bid, ‘n siklus, waarvan ek oortuig is, hy oor en oor herhaal het. Dit kan baie moontlik sy lot wees totdat óf die demone lei tot kranksinnigheid by hom, sodat hy gehospitaliseer en psigiatriese behandeling moet ontvang óf totdat hy sy bevryding finaal aanvaar en daardie demone eens en vir altyd terugstuur na waar hulle hoort.

Soos ons gelees het, was die kinders van Israel gemaklik met hulle demone. Hulle wou nie ‘n nuwe lewe van vryheid in die beloofde land begin nie, hulle was tevrede met hulle omstandighede in Egipte en wou daarheen terugkeer. Die gedagte aan bevryding - ofskoon dit vir hulle goed geklink het toe Moses dit aanvanklik voorgestel het - het nie langer so goed geklink nie omdat die Satan hulle anders oorreed het. Bevryding was vir hulle te moeilik; dit was vir hulle  verstandelik te veel om te aanvaar. Hulle wou terugkeer na hulle vorige bestaan, ‘n lewe van slawerny en onderdrukking, omdat dít is wat hulle geken het en waarmee hulle gemaklik was. Hulle was gemaklik met hulle demone!

Baie mense word demonies onderdruk - selfs gelowiges in Jesus die Messias! Tensy hulle ophou om met hulle demone gemaklik te wees, sal hulle nooit daarvan bevry word nie.

Jakobus {4:7} "Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. {4:8} Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! {4:9} Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid."

Wil jy van demoniese onderdrukking bevry word? Hou dan op om gemaklik te wees met jou demone!

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Saterdag 01 Februarie 2020

Verootmoediging

 Bo
(Gaan)


Eksodus {10:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, {10:2}  en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is.”

Waarom verhard die Here ‘n mens se hart? Ek glo dat Hy dit doen om ‘n tweeledige doel. Eerstens, sodat Hy Sy wil kan volbring deur ‘n persoon en tweedens, sodat die persoon mag besef dat Hý God is en dat daar geen ander god is nie. Beide hierdie bedoelings word verklaar in hierdie week se Parasha deurdat God die hart van die Farao verhard het ter voorbereiding vir die kinders van Israel se uittog uit Egipte.

Met die lees van hierdie Parasha, mag sommige verras en selfs besorgd wees oor die feit dat God dit tot Sy eer gedoen en geroem het op die verharding van Farao se hart. Hulle mag selfs aanvaar dat dit bedoel dat God sonder onderskeid mense se harte verhard ten einde hulle te straf. Dit sou hulle lei om te glo dat God moonltik wispelturig te werk gaan en Hy, sonder rede, hulle hart eendag sal verhard. God verhard egter nie ‘n persoon se hart sonder ‘n regverdige rede nie. As dit dus die geval is, en ek glo dit is, hoe kies God wie se hart Hy gaan verhard en om welke rede? Ons Tora-gedeelte beantwoord daardie vraag vir ons:

Eksodus {10:3} “Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.”

God verhard dus die harte van diegene wat weier om hulself voor Hom te verootmoedig. Die Farao het meer as genoeg tyd gehad om homself voor God te verootmoedig, maar hy het nie. In plaas daarvan, het hy homself as ‘n god beskou, en geweier om die opperheerskapy van die Here God van Israel, die enigste ware God, te aanvaar. Daarom het God die Farao se reeds verharde trotse hart gebruik en dit selfs veel harder gemaak om aan hom te bewys dat Hy God is en daar geen ander God buiten Hom is nie.

Die Farao is nie uniek om homself as ‘n god te beskou nie. Baie mense beskou hulself as gode, selfs vandag nog. Hulle doen dit deur na te laat om die één ware God, die God van Israel, die God van hemel en aarde te erken deur te sê: daar is meer as één manier om gered te word; deur te weier om Sy gebooie na te kom; deur te dink dat hulle beter weet as Hy; deur Hom nie as Here van hulle lewe te maak nie en deur Hom opervlakkig te vereer en tot Hom te bid, asof Hy een of ander gees is wat wag om hulle te beveilig, om slegs enkeles te noem. Dit is makliker om van onsself gode te maak, as wat ons dink. Een van die mees algemene maniere vandag, is om verwaand te wees en onsself nie te verootmoedig nie, soos die Farao. Hoe doen ons dit? Elke keer wat ons sê ons gaan iets doen, iets tot stand bring of êrens heen gaan sonder die erkenning van die opperheerskappy van God, onder Wie se wil ons is en deur Wie ons bestaan, maak ons asof ons ‘n god is.

Jakobus {4:13} “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— {4:14}  julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. {4:15}  In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”

Deur nie God te erken in alles wat ons doen nie, is dit asof óns in beheer van ons lewens is. Ons word verwag om onsself voor Hom te verootmoedig en besef dat ons deur Sy wil bestaan. Die enigste manier om onsself te verootmoedig, is deur gehoorsaamheid aan Sy Tora en onderworpenheid aan Sy wil. Ons moet God altyd in alles erken, deur die byvoeging van die woorde: “Bizrat Ha Shem”  (as dit God se wil is), in ons gesprekke. Dink daaraan hoeveel male julle julself as ‘n god geag het, net soos die Farao, deur te sê: “more sal ék dit doen of daarheen gaan”, sonder om te erken dat, sou dit nie God se wil wees nie, julle niks sou kon doen nie. Erken God  van vandag af in alles wat julle sê en doen of beplan om te doen. As bygevoegde aansporing om dit te doen, onthou hierdie gelykenis van Jesus:

Lukas {12:18} “Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. {12:19}  En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. {12:20}  Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?”

Kom gou Jesus!

PDF weergawe