Maandag 27 Januarie 2014

satan die nabootser

D’Var Torah
U sal beveel – Tezaveh


Eksodus / Shemot {28:29} “So moet Aäron dan die name van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om hulle in gedagtenis te bring voor die aangesig van die HERE gedurigdeur. {28:30}  Jy moet ook in die borstas van beslissing die Urim en die Tummim sit, dat hulle op die hart van Aäron kan wees as hy voor die aangesig van die HERE ingaan. So moet Aäron dan die beslissing van die kinders van Israel gedurigdeur op sy hart dra voor die aangesig van die HERE.”.

Niemand weet presies wat die Urim en Tummim was nie. Ons weet egter dat dit deel van die borstas was wat die hoëpriester (Cohen HaGadol) gedra het – iets wat eksklusief vir sy gebruik was. Uit hierdie Skrifgedeelte wil dit ook voorkom dat dit slegs gebruik is wanneer die hoëpriester in die teenwoordigheid van God was, naamlik in die Heilige van heiliges (Kadosh Kedoshim). Dit blyk ook dat dit gebruik was vir die doel van besluitneming.

Ek het twee Skrifgedeeltes teëgekom wat die gebruik van die Urim en Tummim deur die hoëpriester verduidelik. Dit verduidelik insgelyks die belangrikheid om ‘n hoëpriester te hê, wie dit kon raadpleeg terwyl hy in die teenwoordigheid van God was.

Esra / Ezra {2:63} “En die goewerneur het aan hulle gesê dat hulle nie mag eet van die hoogheilige gawes nie, totdat ‘n priester sou optree met Urim en Tummim.”.

Nehémai / Nechemyah {7:65} “En die goewerneur het aan hulle gesê dat hulle nie mag eet van die hoogheilige gawes nie, totdat die priester sou optree met Urim en Tummim.”.

Nee, ek het nie fouteer nie! Ek het nie dieselfde Skrifaanhalings twee keer geskryf nie – dit is regstreeks uit die boeke Esra en Nehémia oorgeskrywe. Beide boeke het presies dieselfde inligting verstrek. Ons sal onthou dat aan hierdie twee persone die verantwoordelikheid opgedra is om na die ballingskap na Babilon, die tempel (Bet HaMikdash) en die mure van Jerusalem te herbou. ‘n Mens kan dus die belangrikheid wat in Bybelse tye aan die Urim en Tummim geheg was terdeë begryp.

Ons beskik vandag nie langer oor die Urim en Tummim nie vanweë die feit dat ons nie meer ‘n funksionerende tempel het nie. Daar bestaan ook nie langer ‘n behoefte aan die Urim en Tummim nie – ons het Jesus die Messias as ons Hoëpriester en wanneer ons in gebed voor Hom staan met ‘n vraag, ontvang ons die antwoord deur die Heilige Gees (Ruach HaKodesh) wat in ons woon.

Wat egter interessant is, is dat die satan die Urim en Tummim asook die Heilige Gees nageboots het. Hoe het hy dit gedoen? Deur middel van okkultisme! Ek weet nie van julle nie maar toe ek jonk was, het my vriende en ek met die sogenaamde skuifbord (“Wee Gee Board”) gespeel. ‘n Vraag word aan die skuifbord gestel en het dit dan toegelaat om met ons hande na die antwoord te “stuur”. Nadat ek gered is, het ek besef dat die skuifbord my in aanraking met demone gebring het. Dit was niks anders as ‘n sataniese namaaksel van die Urim en Tummim. Dit was nie die skuifbord wat ons hande gelei het nie maar wel onsigbare demone, wat in die proses was om ons demonies te beïnvloed. Ek het dit lankal berou dat ek dit ooit gebruik het. Skuifborde word vandag steeds grootliks gebruik. Die Heilige Gees is ook deur die satan nageboots. Ek dink dat meeste van ons – voordat ons gered is – ‘n waarsêer of spiritus medium geraadpleeg het om ons fortuin te laat vertel of moontlik ‘n vlutige blik op ons toekeoms te verkry. Die boodskappe wat ons dan op ons vrae ontvang het, was afkomstig van “bekende” geeste wat hulself as die Gees van die Lig voorgedoen het. Ek het sedertien ook berou gehad oor my ondervinding met hierdie geeste. Die Skrif waarsku ons:

1 Johannes / Yochanan Alef {4:1} “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. {4:2}  Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; {4:3}  en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. ”.

Wees versigtig hoedat jy hierdie Skrifgedeeltes vertolk. Die satan kan en wil erken dat Jesus die Messias in vlees gekom het, maar dit is beslis nie wat hierdie gedeeltes bedoel nie. Wat dit wel bedoel, is dat deur jóú erkenning dat Jesus die Messias in vlees gekom het, jou lewe asook toewyding aan die gebooie, jou geloof sal weerspieël: “Ons sal hulle ken aan hulle vrugte (lewe)”. Dít is sonder twyfel iets wat die anti-Messias nie kan doen nie.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 20 Januarie 2014

Planne van hoop

D’Var Torah
Offerande – Terumah


Eksodus / Shemot {25:8} “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9}  Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak. ”.

Voordat ek ‘n Messiaanse Rabbi geword en terwyl ek daarvoor studeer het, was ek ‘n algemene boukontrakteur. As sulks het ek kontrakte aanvaar om huise te bou asook ander geboue vir verskeie eienaars. Gewoonlik het die eienaar dan ‘n argitek aangewys, wat die planne volgens die eienaar se persoonlike voorkeur en behoefte moes opstel. Vanselfsprekend sou die argitek seker maak dat alles in ooreenstemming met plaaslike- en staatsvereistes voldoen. Alvorens ek ‘n kontrak om te bou, aanvaar het, het ek die planne noukeurig bestudeer en dan ‘n prys, gegrond op die argiteksontwerp en spesifikasies, bereken. Dikwels, met die argitek op die bouterein, is ek ook gehuur vir die vervaardiging van presies gespesifiseerde komponente vir die gebou, byvoorbeeld vensters, deure, vloeroppervlaktes en sekere afwerkings wat uitgevoer moes word. As kontrakteur, was dit my verantwoordelikheid om alles wat deur die argitek gespesifiseer is, noukeurig uit te voer. Indien ek dit sou nagelaat het, was ek verplig om wat ookal foutief geïnstalleer was, te verwyder en op my eie koste met die regte item te vervang. Soms was ‘n produk deur die argitek gespesifiseer nie beskikbaar nie of het die afleweringsdatum vanaf die vervaardiger ‘n vertraging van die projek veroorsaak. Dan moes ek na die argitek teruggaan en in die teenwoordigheid van die eienaar, ‘n alternatiewe produk oorweeg of ‘n kompromie aangaan. Boonop omdat nie alle argitekte altyd oor die nodige ondervinding beskik nie, sou ek toevallig tydens die konstruksie ‘n teenstrydigheid in die planne agterkom – iets wat op papier moontlik was maar nie in die praktyk nie. Hieroor sou ek ook weer die argitek en eienaar moes raadpleeg om die nodige veranderings aan te bring. Ongeag die omstandighede, was één ding wat ek nie kon waag nie, om enigsins van die planne af te wyk, alvorens die argitek en eienaar vooraf geraadpleeg is nie. Die voltooide gebou moes presies ooreenstem met die ontwerp en presies funksioneer soos wat die argitek en eienaar dit voorgestel het.

In die geval van die tempel, was God sowel die argitek as eienaar. Ek kan dus ten volle begryp dat Moses God se planne tot in die fynste besonderhede moes nakom, sonder om enigsins daarvan af te wyk. Die voltooide tempel moes presies lyk en funksioneer soos wat God dit ontwerp het. Nie eers ‘n enkele kleur kon vervang word nie. Die rede hiervoor was dat alles betreffende die tempel, Jesus die Messias verteenwoordig het.

Hebreërs / Ivrim {12:12} “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof …”.

Op grond van hierdie Skrifgedeelte, aanvaar ek dat God sowel die argitek as bouer (algemene kontrakteur) van ons geloof is. As sulks het Hy ons lewens tot in die fynste besonderheid ontwerp en presies gespesifiseer wat sal of sal nie in ons konstruksie (wat Hy ons sal bou om te wees) gebruik word nie. Hy het ons ontwerp en gebou tot wat ons eindelik sal word.

Jesaja / Yeshayahu {64:8} “Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand. ”.

Jy mag miskien onder die indruk verkeer dat dit slegs van toepassing is op diegene wat Jesus die Messias as hulle Here en Redder aanvaar het, maar dit is nie die geval nie. Dit geld ten opsigte van elke mens, soos uit hierdie Skrifgedeelte blyk:

Romeine / Romim {9:21} “Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? ”.

God maak sommige mense eerbaar en ander nie. Dit is moeilik om te verstaan en selfs moeiliker om te aanvaar dat ons volgens God se besluit sal word presies soos wat Hy ons ontwerp het om te wees: gered of ongered, goed of sleg. Omdat ons boonop nie aan onsself behoort nie maar teen ‘n prys deur die bloed van Jesus die Messias losgekoop is, het ons hoegenaamd geen seggenskap in die uitkoms nie. Ons het egter ‘n God wat ons met ewige liefde liefhet, ‘n God wat vir ons gesê het:

Jeremia / Yirmeyahu {29:11} “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. ”.

Daarom hoef ons nie te vrees nie. Sy ontwerp (plan) en Sy voltooide eindproduk sal volmaak wees!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 15 Januarie 2014

Vermy kwaadspraak

D’Var Torah
Oordele – Mishpatim


Eksodus / Shemot {23:1} “Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om ‘n kwaadwillige getuie te wees nie. ”.

Ek verwys ons graag na ‘n gedeelte van die Skrif uit verlede week se parasha:

Eksodus / Shemot {20:16} “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. ”.

Die woord “vals” kan ook vertaal word as “verwaandheid” of “leeg”. Deur valse getuie af te lê, ongeag die motief daaragter, word bedoel om ‘n ander persoon deur dit wat gesê word of iets te doen, sonder grondige bewys of rede daarvoor, te beskuldig. Volgens die Bybel, moet getuies oor persoonlike, eerstehandse en regstreekse kennis oor die feit beskik, andersins kan hulle nie getuies wees nie. Dit bring ons by die onderwerp van kwaadspraak wat in die kategorie van verwaandheid of leë woorde val.

Kom ons kyk allereers wat onder die woord “kwaadspraak” (skinder) verstaan word. In die eerste plek is dit eenvoudig om te praat van iemand wat nie teenwoordig is nie wanneer inligting oor so ’n persoon oorgedra word, of dit nou waar is aldan nie. Ons bedoel nie altyd doelbewus om gemeen te wees wanneer ons iets van ‘n ander kwytraak nie; trouens meesal probeer ons slegs om waardevolle inligting deur te gee, wat nuttig mag wees om so ’n iemand te help. Kwaadspraak gaan egter nie bloot oor motief nie – dit kan ook “onbedoelde gevolge” inhou. Indien ‘n persoon benadeel word of ‘n ander persoon se opinie oor iemand anders negatief beïnvloed word deur wat ons van hom / haar sê, het ons hulle te na gekom en dít is kwaadspraak. Ons het met ander woorde sonder deernis iets van iemand gedeel of gesê en dit is onvanpas: dít is om kwaad te spreek.

Daar is  minstens vier tipes kwaadspraak, wat ek graag wil behandel:

Die eerste is “gebabbel”. Dit is die tipe van kwaadspraak wat moontlik soos volg lui: “Het jy verneem dat so-en-so gaan verhuis?” Hierdie tipe storie betref altyd basiese inligting en is dikwels sonder skadelike gevolge. Dit bly egter ‘n gevaarlike element en ons moet versigtig wees met welke inligting ons aan ander meedeel omdat dit moontlik tot ernstige kwaadspraak kan lei.

Tweedens is daar “gebed”. Hierdie tipe kwaadspraak word heel onskuldig in ‘n gebed of gebedsversoek gemeld, maar mag miskien aangeleenthede oor iemand onthul wat tot kwaadspraak kan lei. Indien ons bid of vra vir gebed vir iemand wat nie teenwoordig is nie, moet ons vermy om die betrokkene openlik te identifiseer en uiters versigtig wees met hoe ons die gebed fraseer. Gebed is allereers daarop gemik om ons verhoudings met God te bou en ander mense op te hef om Sy koningkryk te bevorder. Derhalwe is die doel van gebed hoegenaamd nie om inligting te deel waarvan ander beslis nie hoef te weet nie. Ons moet dus persoonlike besonderhede ten alle koste vermy tensy die betrokkene oor wie dit gaan, toestemming daartoe verleen het om dit met ander te deel. Ons moet verder daarteen waak om nie net voldoende inligting te verstrek wat die indruk mag laat van: “Laat ons bid vir so-en-so wat aanhoudend hulle werk verloor nie” – dit is kwaadspraak. Dit sou beter gewees het om te sê: “so-en-so soek werk – laat ons vir hulle bid.”. Dit sou selfs beter wees, om na die betrokkenes te gaan om hulle te bemoedig en privaat saam met hulle te bid.

Derdens, is “nuusberigte” – ‘n tipe kwaadspraak wat inligting deel, wat mense moontlik daartoe mag lei om hul optrede of oordeel oor ‘n ander persoon te baseer op dit wat ons met hulle gedeel het. Opmerkings soos: “Het julle gehoor dat so-en-so se ouers weer rusiemaak?” of “So-en-so verkeer in ‘n slegte bui en dit is raadsaam om hulle te vermy.”.

Daar is maar ‘n geringe onderskeid tussen kwaadspraak en opbouende kritiek. Eersgenoemde gee aanleiding tot die eskalasie van ‘n probleem; dit neig tot subjektiwiteit, veroorsaak verdeeldheid onder mense en is nie gegrond op eerstehandse toestemming om sodanige inligting te verstrek nie. Let wel: ek sê toestemming tot sodanige inligting. Ons behoort vooraf toestemming te verkry alvorens ons enigiets aangaande ‘n ander persoon verstrek. Opbouende geselskap het ten doel om ‘n persoon op te hef en laat groei asook verbetering aan te moedig; dit is objektief, gegrond op feite en word met die nodige toestemming gedeel ten einde positiewe verandering mee te bring.

In die vierde plek is daar beswaddering (laster). Hierdie tipe van kwaadspraak is om iets te vertel of herhaal wat moontlik waar of onwaar is. Heel dikwels doen mense dit om hulleself te verhef deur die betrokkene te verneder. Laster impliseer dikwels ‘n gerug oor mense wat nie altyd op feite gegrond is nie. Dit kan ook aanmatigend wees om iemand se voornemens te bevraagteken, terwyl persoonlike innerlike voornemens slegs aan God bekend is.

Die satan beoog verdeeldheid tussen gelowiges en besef dat hy oneindige skade deur die ongebreidelde gebruik van die tong kan teweegbring. Hy hoef ons nie dood of slegs siek te maak nie: al wat hy hoef te doen is om ons kwaadwilliglik van ander te laat praat in hulle afwesigheid. Daardeur sal hy daarin slaag om die eenheid, waarvoor Jesus die Messias Sy bloed uitgestort het om juis dít te koop, vernietig.

Ons kan gewoonlik onderskei wanneer iets wat ons verneem, op kwaadspraak sal uitloop indien die gesprek met “Net tussen jou en my…” begin. Dit behoort die waarskuwingsteken te wees dat dit wat jy gaan verneem, jou verstand gaan vergiftig ten opsigte van iemand wat nie dáár is om hom -/ haarself te verdedig nie. Of ons mag moontlik hoor: “Ek vertel jou dit omdat jy dit behoort te weet,” of “”Ek deel dit met jou omdat ek diep besorg is oor die situasie.”. Daardie persoon mag jou iets vertel wat op die waarheid gegrond is, maar jy uiteindelik uitgelok sal word tot ‘n kritiese evaluasie van die persoon ter sprake en dit is onmiskenbaar kwaadspraak.

Voordat jy ‘n storie herhaal, vra jouself die volgende vrae af: Is dit waar en indien wel, onskadelik? Selfs indien dit onskadelik blyk te wees, is dit inspirerend? Indien wel inspirerend, is dit werklik nodig? Indien werklik nodig, is dit welmenend en indien wel, is die betrokkene teenwoordig om te hoor wat jy van hom / haar sê, sodat hulle kommentaar daarop kan lewer en hulself desnoods verdedig? Sou die antwoord op hierdie vrae telkens “nee” wees, moet dit dan nie met ander deel of herhaal nie, want dit is kwaadspraak!

Speuke / Mishlei {11:13} “Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak. ”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 08 Januarie 2014

Hy kan dit ook vir my doen

D’Var Tora
Jetro – Yitro


Matthéüs / Mattityahu {18:7} “Daarop gaan Moses uit, sy skoonvader tegemoet, en hy het gebuig en hom gesoen; en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan. {18:8}  Moses vertel toe aan sy skoonvader alles wat die HERE aan Farao en aan die Egiptenaars, ter wille van Israel, gedoen het; al die moeilikheid wat hulle op die pad oorgekom het, en dat die HERE hulle verlos het. {18:9}  En Jetro het hom verheug oor al die goeie wat die HERE aan Israel gedoen het, dat Hy hulle uit die hand van die Egiptenaars verlos het. {18:10}  Daarop sê Jetro: Geseënd is die HERE wat julle verlos het uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van Farao, wat die volk onder die hand van die Egiptenaars uit verlos het. {18:11}  Nou weet ek dat die HERE groter is as al die gode, naamlik in die saak waarin hulle vermetel was teen hulle. ”.

Iets van besondere belang het hier plaasgevind. Moses het sy getuienis met sy skoonvader gedeel en dit wat hy hom vertel het, het ‘n positiewe uitwerking op sy lewe gehad, in soverre dat Jetro God verheerlik en erken het dat Hy groter as al die gode was. Dit was alles op grond van wat Moses met hom gedeel het.

Ek vertrou dat dit aan ons die belangrikheid van ons getuienisse toon. Meeste mense deel slegs die moeilike tye wat hulle in hul lewens ondervind het. Hulle ontbied hul rabbi en vriende, stuur e-posse aan almal wat hulle ken en versoek hulle om te bid vir hulle in hul besondere nood. Ek ontvang e-posse van mense wat versoek dat daar op ‘n gereelde grondslag vir hulle gebid word en omdat niks daarmee verkeerd is nie, bid ek wel vir hulle, maar ontvang selde opvolg e-posse om verslag te doen oor die resultate en doeltreffendheid van al die gebede.

Ek bid graag vir mense – dit is werklik ‘n seën. Ek weet dat wanneer ek vir iemand anders se nood bid, God my gebede vir my behoeftes sal verhoor. Ek is oortuig daarvan dat Hy my gebede sal verhoor op grond van Sy liefdevolle goedheid en genade, maar bo alles volgens Sy wil. Om te verneem van al die droefheid, siektes en probleme wat mense in hulle lewens ervaar, is egter nie juis opheffend en bemoedigend nie.

Die teenoorgestelde is die geval wanneer ek getuienisse oor lofprysing-verslae ontvang. Wanneer ek verneem hoedat God iemand seën of genees het van ‘n kwaal of siekte of hoe Hy hulle op ‘n besondere wyse geseën het, hulle beskerm, vir hulle voorsien of vir hulle ‘n wonderwerk laat plaasvind het, ervaar ek algehele opheffing en bemoediging. Net soos Jetro, seën ek God (Ad-nai) vir wat Hy gedoen het en verheug ek my oor die persone wat hulle getuienisse deel.

Die feit is om te verneem hoedat God in ander mense werk en hulle seën, bemoedig my in my gebede en in my verwagtinge van die Here. Ek wéét dat wat Hy vir ander doen, Hy ook vir my sal doen. Selfs al het ek nog nie my persoonlike deurbraak of wonderwerk ervaar nie, word ek steeds geïnspireer deur wat Hy vir ander gedoen het en dit ondersteun my in my geloof.

‘n Positiewe getuienis is ook van groot waarde in evangelisasie – byvoorbeeld Jetro se reaksie op Moses se getuienis.

Eksodus / Shemot {18:11}  “Nou weet ek dat die HERE groter is as al die gode, naamlik in die saak waarin hulle vermetel was teen hulle. ”.

Ons leef in ‘n wêreld sonder hoop. Die aansporings woord vandag is: “Leef vir die oomblik” en omdat soveel mense hierdie houding inneem, is daar geen positiewe uitsig op die toekoms nie. Hoe bemoedigend moet ‘n positiewe getuienis van watter groot dinge God in jou lewe verrig nie vir iemand wees wat die Here nie ken nie. Moontlik kan dit sulke mense aanspoor om hulle Heer en Redder netso goed te ken.

As gelowiges in Jesus die Messias, ondervind almal van ons wonderwerke – sommige gering, ander groot – in ons lewens. God werk konstant in ons lewens; waarom dan nie met ander deel wat Hy in jóú lewe doen en hulle bemoedig met wat Hy vir jóú doen, Hy ook vir hulle kan doen nie?

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou