Saterdag 29 Augustus 2009

Verafsku en Verfoei die Gruwel

Regters / Shoftim | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

29 Augustus 2009 / Elul 9th 5769

Deuteronomium / Devarim 16:18-21:9

Jesaja / Yeshayahu 51:12-52:12

Johannes / Yochanan 1:19-27

Deuteronomium / Devarim {16:18} "Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak. {16:19} Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. {16:20} Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee. {16:21} Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."

Iets interessant het my opgeval met die deurlees van hierdie week se Tora-Parasha en wel in die vyf openingsverse. Die parasha begin met God se gebod dat ons altyd onpartydig in ons oordeel moet wees en nooit omkoopgeld /-prys aanvaar nie. Ek dink ons is almal terdeë bewus daarvan in soverre enige vorm van omkoop ons oordeel kan en sal vertroebel. Daarom is ek uiters versigtig om geeneen in ons gemeente aan te moedig om aan my groot geskenke, veral geldbedrae, te skenk nie. Ek beklemtoon die woord "groot", omdat klein geskenkies 'n gebaar van waardering is, iets aanvaarbaar in 'n gepaste situasie. Nietemin kan ek sien hoedat 'n groot geskenk of één met bymotiewe, my oordeel kan beïnvloed en gevolglik veroorsaak dat ek die gewers se lewens nie aanspreek wanneer ek enige spirituele teenstrydigheid by hulle agterkom nie.

Regverdige oordeel en omkoop is 'n uiters belangrike onderwerp - iets waaroor ek 'n hele kommentaar kan lewer. Dit is egter nie wat my opgeval het toe ek vandeesweek se Tora-Parasha gelees het nie. Hierdie verse in die besonder het my aandag getrek:

Deuteronomium / Devarim {16:21} “:Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."

Dit, soos ek gesê het, het vir my vreemd voorgekom dat God so onversetlik is dat geen tipe heilige boomstamme of pilare langs Sy altaar opgerig mag word nie. Wat is die soort heilige boomstamme en pilare? Dit is natuurlik simbole van heidense godsdiens.

Die heidense nasies het hierdie bome en pale opgerig as deel van die heidense vereing van hul sataniese afgode. God wou verhoed dat Sy mense enigiets te doen sou hê met die heidendom, veral wou Hy voorkom dat hulle nie heidense praktyke in hul aanbidding van Hom inbring nie.

Hoe raak hierdie gebod ons vandag? Inderdaad veel. Die Christendom het beslis heidense praktyke vermeng met die aanbidding van die Een Waaragtige God. So het hulle die heidense versierde boomsimbool ingelyf by die herdenking van die geboorte van ons Messias Jesus en verder die godin van vrugbaarheid (Ishtar en haar simbool van vrugbare eiers / Paasfees) by die herdenking van die opstanding van Jesus, ingebring. Daar is selfs christelike denominasies wat heidense veelgodery (politeïsme) by hul godsdiens ingelyf het deur die aanvaarding van die valse teologie van heiliges wat in die hemel vir ons intree.

Christene is egter nie die enigste wat skuldig is nie. Judaïsme het die "hames-hand", ook as die "hand van Miriam" en die "alsiende oog" geïnkorporeer - beide van heidense oorsprong, maar nogtans 'n deel van Judaïsme. Hulle verkondig en het ook die praktyk van kabbalah ingelyf: 'n vorm van Joodse mistisisme wat, benewens ander gruwels, astrale projeksie en reïnkernasie insluit. Dit hou egter nie eers dáár op nie! Selfs Messiaanse Jode laat dit toe dat kabbalah in hul onderrig en gelowe indring. Eweneens besit talle gelowiges afskrifte van die Koran en die Boek van die Mormone; hulle het pamflette van die Jehova's Getuies in hul besit en het Boeddhas en ander sataniese, heidense afgodsimbole in hul huise.

Devarim {7:26} "En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek."

Ek wonder welke deel van "jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie...jy moet daar heeltemal 'n afsku van hê...", verstaan ons nie?

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 22 Augustus 2009

Tussen Die Gevangenis

Wanneer Jy Uitgaan / Ki Teitzei | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

22 August 2009 / Elul 9th 5769

Deuteronomium / Devarim 21:10-25:19

Jesaja / Yeshayahu 54:1-10

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 5:1-5

Deuteronomium / Devarim {21:10} "As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, {1:11} en jy onder die gevangenes ‘n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem, {21:12} dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip. {21:13} En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ‘n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees. {21:14} En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het."

Ek is al dikwels uitgevra oor hierdie gedeelte en het self ook al vrae hieroor gehad. Wat uit dié gedeelte duidelik is, is dat wanneer 'n soldaat 'n vroulike gevangene aantreklik vind, moet sy toegelaat word om vir dertig dae te rou oor haar ouers, wat vermoedelik tydens die oorlog omgekom het. Gewoonlik is slegs maagde gevange geneem en die res doodgemaak. In die geval van die aantreklike gevange maagd - nadat haar maandlange routyd verstryk het - kon die buitmaker met haar trou. Die Skrif bepaal oënskynlik dat as hy nie langer behae in haar het nie, moet hy haar laat gaan, maar haar nie verkoop nie omdat hy haar onteer het.

Baie mense het al hierdie Skrifgedeelte probeer gebruik om sodoende egskeiding te regverdig. Hulle beweer dat as God so 'n iets in die geval van 'n vreemde vrou toegelaat het, dan sou Hy sekerlik toelaat dat alle vroue kan skei. Op die oog af en oppervlakkig beskou, sou ek moes saamstem. Blykbaar dui hierdie Skrifgedeelte op egskeiding as 'n nuk of gril, maar is dit inderdaad wat dit bedoel?

Eerstens, soos ons bewus is, haat God egskeiding en sou Hy sekerlik dit nie kondoneer nie as jy jou vrou seksueel "uitprobeer", soos byvoorbeeld 'n paar nuwe skoene en as sy jou nie behaag nie, haar weggooi, soos wat hier die geval blyk te gewees het. Kom ons kyk meer noukeurig na hierdie gedeelte en probeer presies bepaal wat God hier vir ons wil sê.

Soos ek dit verstaan, kondoneer God hoegenaamd nie egskeiding nie, maar gebied Hy die redelike en ontfermde behandeling van 'n vrou wat tydens oorlog gevange geneem is. In oorlogtye was verkragting en misbruik van gevange vroue baie algemeen en onder heidense nasies, wat Israel gereed was om te onteien. God se volk, daarenteen, sou ander moraliteitstandaarde, selfs gedurende oorlog, handhaaf.

God het dus voorsiening gemaak vir soldate, wat na 'n oorlog, 'n gevange vrou aantreklik gevind het. Die vrou moes haar hare afskeer, naels afknip, haar klere vervang met rouklere en onaangetas vir dertig dae in haar buitmaker se huis bly. Die afskeer van hare, afknip van naels en dra van sakgewaad sou haar ongetwyfeld van alle oppervlakkige aantreklikeid ontneem. Tydens die dertig dae, sou die man ook die geleentheid gekry het om die vrou werklik te sien, so ook haar persoonlikheid en ware geaardheid te leer ken. Na die dertig dae kon die man haar tot vrou neem.

Verder vervolg die Skrif:

Deuteronomium / Devarim {21:14} "En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het."

Dit is juis hier waar die misverstand ontstaan. On dié vers behoorlik te verstaan, moet vasgestel word waarna die woorde:"...omdat jy haar onteer het.", verwys. In die Hebreeuse Skrifte (Tanach) is daar 'n hele aantal gedeeltes, wat as aanduiding sou kon dien:

1 Kronieke / Divre HaYamim Alef {19:4} "Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan."

Hierdie geval waar Hanun die dienaars van koning Dawid laat skeer en hul klere gedeeltelik laat afsny het, was in die antieke Nabye Ooste 'n vorm van vernedering. Die mans, so verneem ons, het nie na Jerusalem teruggekeer totdat hul baarde weer gegroei het nie. Indien 'n vrou se hare nie afgesny is nie, sou dit eweneens 'n vorm van vernedering gewees het.

Job / Iyov {1:20} "Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval"

Hier volgens blyk dit ook dat die afskeer van Job se hare, 'n vorm van ootmoed (vernedering) voor die Here was, nadat hy van die dood van sy kinders verneem het.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {11:15} "maar as ‘n vrou lang hare dra, dit vir haar ‘n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ‘n bedekking?"

Die knip van 'n vrou se naels en dra van rouklere was ook simbole van vernedering in die antieke Nabye Ooste. Daarom sou die woorde: "...omdat jy haar onteer het.", nie beteken dat die man met die vrou gemeenskap gehad het , haar tot vrou geneem en daarna belangstelling in haar verloor het nie, maar veeleerder dat die vrou daadwerklik verneder is, deurdat haar hare afgeskeer, haar naels geknip en sy rouklere moes dra. Ons God vereis die regverdige behandeling van en respek vir alle vroue.

Dit sou dan die werklike verloop van gebeure wees: 'n soldaat vind 'n gevange vrou aantreklik en wil haar tot vrou neem, maar voordat dit gebeur, moet hy haar fisies onaantreklik maak om sy ware toegeneendheid en voornemens te toets. Hy laat haar hare afsny, haar naels afknip en haar na dertig dae steeds aantreklik vind, mag hy met haar trou, maar as hy gedurende die dertig dae, voordat hy met haar gemeenskap gehad het, vind dat sy hom nie behaag nie, moet hy haar vrylaat. Hy mag haar nie as 'n slavin behandel nie omdat hy haar onteer het, deur haar hare af te sny, haar naels te laat knip en haar rouklere laat dra het.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 15 Augustus 2009

Hulle Kan Maar Ons Kan Nie

Sien / Re'eh | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

15 Augustus 2009 / Av 25th 5769

Deuteronomium / Devarim 11:26-16:17

Jesaja / Yeshayahu 54:11-55:5

1 Johannes / Yochanan Aleph 4:1-6

Deuteronomium / Devarim {14:21} "Julle mag geen aas eet nie; vir die vreemdeling wat in jou poorte is, kan jy dit gee, dat hy dit eet, of jy kan dit aan ‘n uitlander verkoop; want jy is ‘n heilige volk aan die HERE jou God. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie."

Oordenking Re'eh handel oor wat God as kosher (behoorlik) beskou vir Sy volk om te eet. Ek sou gedink het dat hierdie lys van wat eetbaar en nie eetbaar is nie op almal van toepassing sou wees. Nadat ek egter die bovermelde gelees het blyk dit nie die geval te wees nie. Vreemdelinge en uitlanders kan blykbaar eet wat hulle wil; trouens, dit skyn asof God nie gemoeid is met wat vreemdelinge en uitlanders eet nie, andersins sou Hy nie vir die kinders van Israel gesê het dat hulle vir diegene kan gee wat hulle self nie moet eet nie.

'n Vreemdeling en 'n uitlander is enigeen wat nie deel van die volk Israel uitmaak nie, enigeen wat nie as 'n kind van God geag word nie. Dit sou dan enigeen wees wat nie onder die kategorie van diens aan die God van Abraham, Isak of Jakob val nie, of hulle nou binne-of buite Israel gewoon het.

'n Uitlander, soos hier gemeld, is 'n vreemdeling, iemand uit 'n ander land, wat nie deel van die volk Israel is nie aangesien hy nie in Israel woonagtig is of Israel besoek nie. Eweneens is vreemdelinge ook vreemdes, maar kan wel onder een van die gemelde kategorieë val. 'n Vreemdeling kan óf 'n inwonende vreemdeling wees, dit wil sê iemand wat tussen die kinders van Israel behoort, maar nie tot die kinders van Israel behoort nie óf iemand wat deur Israel reis, moontlik om besigheid te doen. Dit is egter in teenstelling met die "vreemdeling", wat in Hebreeus as "ger" bekendstaan. 'n "Ger" is 'n inwonende vreemdeling, iemand wat deel van die kinders van Israel geword het. Hulle is deel van Israel en húl God, die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is aangaande hierdie mense, "gerim" (=meervoud), wat God gesê het:

Eksodus / Shemot {12:49}"Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef."

Op grond van die Brit Chadasha", word verstaan dat 'n "ger" is:

Efese / Efesos {2:11} "Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, {2:12} dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. {2:13} Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus."

Dus is 'n "ger" enige nie-Joodse gelowige in Jesus die Messias en verstaan ons nou waarom die apostel Petrus, hierdie stelling gemaak het:

1 Petrus / Kefa Alef {2:9} "Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, {2:10} julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is."

Jy hoef nie noodwendig Joods te wees om deel van God se uitverkore mense te wees nie. Al wat jy hoef te wees, is om in Jesus die Messias te glo. Wat ek dus wil hê ons moet sien en verstaan, volgens oordenking Re'eh, is dat God se uitverkore volk - of ons gelowige Jode of nie-Jode is - ons is almal in God se oë spesiaal, maar belangriker, ons is verskillend. Vreemdelinge en uitlanders kan doen en in die besonder eet wat hulle wil, maar ons wat in die Messias Jesus glo, kan nie.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 08 Augustus 2009

Basies Gestel

As Gevolg van / Ekev | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


8 Augustus 2009 / Av 18th 5769

Deuteronomium / Devarim 7:12-11:25

Jesaja / Yeshayahu 49:14-51:3

Romeine / Romim 8:31-39


Deuteronomium / Devarim {8:2} "En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan."

Met die lees van hierdie verse uit oordenking Ekev, het my hart werklik uitgegaan na al die mense wat nie meer die gemeente Melech Yisrael bywoon nie omrede hul geloof vernietig is deur beproewing en swaarkry, wat hul ervaar het. Ek is juis besig met 'n geval waar 'n gesin deur 'n tragedie getref is, maar in plaas daarvan dat hulle daardeur nader aan God gekom het, blyk dit dat hulle steeds verder wegbeweeg, wat waarlik te betreur is. Openbaar hierdie tragedie moontlik wat werklik in hul harte aangegaan het? Sommige mense mag my selfs vra hoe ek dit kan sê, hoedat ek so wreed in my oordeel kan wees? Wel ,ek kán dit sê omdat dit nie werklik ek is wat dit sê nie, dit is God.

Indien ons wil weet hoe God met ons handel, hoef ons slegs in die Bybel te lees hoedat God met die kinders van Israel handel. In hierdie week se oordenking, sê God dat Hy die kinders van Israel doelbewus in die woestyn ingestuur en toegelaat het dat hulle honger en dors ly, sodat Hy hulle kon verootmoedig om te besef wat in hul harte was. Dis maklik vir mense om God lief te hê, Sy gebooie na te kom, gereeld eredienste by te woon, gemeentediens te verrig, tiendes te gee wanneer hulle voorspoed ervaar en hulle geseën word, of dit nou matig of oorvloedig is.

Hoe hanteer hulle egter hul verhouding met en verbondenheid tot God wanneer teenspoed, tragedie, swaarkry en beproewing oor hulle kom? Wat doen hulle dan, want volgens God is dit die ware bewys van hulle geloof. Dit is soos wat dit in die leër gaan: offisiere weet nooit van watter stoffasie 'n voetsoldaat gemaak is nie totdat hulle in 'n oorlogsituasie verkeer en die vyand moet konfronteer. Daarom is hulle baie besig om die troepe waar te neem en evalueer, om te sien wie is geskik en dié word vertrou en aangewend. Hoeveel te meer onse God!


Hoe dikwels het ek al persone geskakel omdat ek hulle nie by eredienste op die Sabbat gesien het nie, net om te verneem dat hulle tuisgebly het omdat hulle te moeg was na 'n moelike week by die werk of depressief of ietwat ongesteld gevoel het. Sondag was hulle egter uit om inkopies te doen of hul daaglikse huiswerk te verrig en Maandag was hulle terug by die werk asof niks gebeur het nie.


Hoe jammer tog want God het hulle waarskynlik getoets en hulle het hopeloos gefaal. Hy het hierdie dinge soos moegheid, depressie of 'n ligte ongesteldheid oor hulle laat kom om hulle te toets sodat hulle sou weet wat in hul harte aangaan. "Hoe kan 'n liefdevolle God sulke dinge doen?" kan julle moontlik vra. "Sou God werklik iemand in depressie laat verval?" As julle wel glo wat in die Bybel geskryf staan, sou julle nie eers so 'n vraag hoef te vra nie. Ja, Hy sou dit doen , om sodoende te openbaar wat werklik in ons harte is. Indien Hy Israel vir veertig jaar in die woestyn gestuur het en hulle honger en dors laat ly het, waarom sou Hy ons dan nie deur hierdie dinge beproef nie?

God vereis dat ons Hom eerste in ons lewens stel, wat, trouens een van Sy gebooie is, indien nie die vernaamste van almal nie:

Deuteronomium / Devarim {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"

Wanneer iemand God met sy hele hart en siel liefhet, sou hy sy werk vóór Hom stel? Sou hy toelaat dat depressie tussen hom en God kom? Sou hy nie kom en God aanbid, selfs as hy 'n bietjie onwel was nie? Gelowiges in Jesus die Messias is tog maar altyd geneig om God tweede te stel. Hulle stel selfs die motorwerktuigkundige en die televisie-hersteltegnikus voor Hom en verwag dan natuurlik om nogtans geseën te word. Ek het ookal dikwels gehoor dat mense sê hulle hoef nie die eredienste by te woon omdat hulle God netsowel in die privaatheid van hul wonings kan aanbid. Dit is 'n leuen uit die diepte van die hel en sowel diegene wat dit sê as dié wat dit glo, bedrieg hulself. Die Bybel is nie vir individue gegee nie maar wel vir gemeenskap van mense; daarom kon die skrywer van Hebreërs onomwonde sê:


Hebreërs / Ivrim {10:24} "en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25} en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom."


Ek dink ons moet ernstig besef dat ons nie kan wegkom deur dinge op óns manier te doen nie. Ons sal onsself moet bewys, al sou dit met moeilikhede en swaarkry gepaardgaan, sonder om die here te kompromiteer. Jesus die Messias het dit op die allerbeste so gestel:


Matthéüs / Mattityahu {10:37} "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. {10:39} Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. "


Jesus vertel vir ons presies dieselfde as die verse wat ek aan die begin uit oordenking Ekev aangehaal het, Hy sê dat Hy julle toewyding aan Hom sal toets, selfs deur jul gesinne, om te sien of julle opreg is. Basies gestel, sê Jesus die Messias:


Deuteronomium / Devarim {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"


Is dit wat julle doen?


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 01 Augustus 2009

Deur Ons

En Ek Het Gepleit / Va'Etchanan | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

1 Augustus 2009 / Av 11th 5769

Deuteronomium / Devarim 3:23-7:11

Jesaja / Yeshayahu 40:1-26

Markus / Mordechai 12:28-34

Deuteronomium / Devarim {3:23} "Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24} Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25} Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon! {3:26} Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.

Dit was nie vir my nodig om baie ver in ons oordenking vir hierdie week te lees nie, voordat ek iets gevind het om kommentaar oor te lewer; trouens, ons het hierdie einste onderwerp drie weke gelede tydens ons Sabbatoggend Tora-studie behandel. Wat ons bespreek het, was: "Waarom verhoor God soms nie ons gebede nie?"! Waarom is dit dat, indien ons bid vir sake soos die genesing van 'n familielid of 'n baie vroom persoon of ons bid vir die redding van 'n vriend of familielid of enigiets anders ookal, wat ons in verband met die wil van God bring, verhoor God ons nie? In die hernieude Verbond staan daar immers dat wat ons ookal vra, Hy aan ons sal gee.

Johannes / Yochanan {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

Waarom is dit dus so dat in die week se oordenking, Moses God vra om hom toe te laat om in die Beloofde Land in te gaan, maar dit hom geweier word? Sekerlik, soos ons bewus is, het Moses 'n persoonlike verhouding met God gehad - Moses het tog van aangesig tot aangesig met God gespreek. Daarom, eenvoudig gegrond daarop, sou 'n mens verwag het dat sy versoek toegestaan sou word. Nogtans het God geweier.

Baie gelowiges raak moedeloos of verloor selfs hulle geloof, wanneer hulle Johannes 14:13 gelees het, maar hulle gebede nie verhoor word nie. God het egter nooit gesê dat hy al ons gebede sal verhoor nie. Ons moet dus kyk na Jesus se verklaring, binne die konteks waarin Hy gespreek het, voordat ons tot die gevolgtrekking kan kom dat God alles wat ons vra, sal gee. Om daardie konteks beter te begryp, moet ons die volgende lees:

Johannes / Yochanan {14:10}"Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. {14:11} Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. {14:12} Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan."

In hierdie gedeelte word ons vertel dat Jesus die werke van die Vader doen omdat die Vader in Hom is en Hy in die Vader. Jesus verklaar dus dat Hy niks op eie inisiatief doen nie. Alles wat Hy doen, word gedoen omdat die Vader in Hom bly. Dan sê Jesus verder dat as ons in Hom glo, sal ons ook die werke doen wat Hy gedoen het - trouens, selfs groter werke as dit. Indien ons in Jesus glo, bly Hy in ons en ons in Hom en op grond daarvan, kan Hy deur ons soortgelyke of groter werke doen, as wat Hy gedoen het. Die konteks van hierdie gedeelte is dus Sy inwoning en deur hierdie inwoning, ons vermoë om "werke" te doen en "selfs groter werke". Dan sê Jesus verder:

Johannes / Yochanan {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

As die onderwerp waaroor Jesus spreek , ons "werke" is, wat die gevolg van Sy inwoning in ons is, dan moet die "wat julle ookal in My Naam mag vra" op daardie onderwerp betrekking hê. Wat bedoel Jesus dus eintlik wanneer Hy sê dat wat ons ookal van Hom bid, Hy aan ons sal gee? As die "wat.....ookal" werke is en die voorbeeld wat Jesus ons gee, is dat Hy niks buiten die wil van Sy Vader se inwoning doen nie, dan moet presies dieselfde ook op ons van toepassing wees. Deur Jesus se inwoning in ons, kan ons niks buiten Hom doen nie. In daardie geval, wat is daar dan wat ons kan vra, wat Hy aan ons sal gee, indien ons niks buiten Hom kan doen nie? Dit is "werke" en "selfs groter werke"! Dit is egter nie net enige soort werke wat Jesus sê Hy aan ons sal gee wanneer in Sy naam daarvoor bid nie, maar spesifieke "werke", soos aan ons gesê word:

Johannes / Yochanan {13:34} "‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." {14:15} "As julle My liefhet, bewaar My gebooie." {15:12} "Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het."

Die "werke" is liefde! Soos wat ons in Jesus inwoon en Hy in ons, sal Hy enige tyd wat ons om die vermoë vra om lief te he - of dit vir Hom of iemand anders is - dit aan ons skenk; trouens, Hy sal aan ons so 'n kapasiteit gee om lief te he, dat ons liefde selfs 'n groter uitwerking as Syne op mense sal hê. Dit is natuurlik verstaanbaar wanneer 'n mens begryp dat Jesus nie langer op aarde by ons is nie en onsigbaar is. Die enigste Jesus wat die wêreld vandag duidelik kan sien, is die Een wat deur ons liefhet.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved