Saterdag 28 Januarie 2012

Gebed: Om Ons Wil met Sy Wil te Verenig

28 Januarie 2012 
D’Var Torah 
Toe Hy Laat Gaan Het / BeShalach 


Eksodus / Shemot {17:8 – 17:13} “Daarop het Amalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. {17:9} En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. {17:10} En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Amalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. {17:11} En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste. {17:12} Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. {17:13} En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegebring.”. 

Ek het al dikwels oor die betekenis van hierdie gedeelte gewonder en myself afgevra: “Waarom was die oorlog in die guns van die kinders van Israel terwyl Moses sy hande, met die staf daarin, omhoog gehou het en om welke rede het dit in die guns van Ámalek verander toe hy sy hande laat sak het?.” Moses het die staf met albei hande vasgehou; Aäron het sy hand aan die eenkant ondersteun en Hur aan die anderkant. Beide het Moses te hulp gekom en sy hande omhoog gehou. Solank as wat Moses se hande in hierdie posisie was, was die stryd in die kinders van Israel se guns. 

Indien die staf die mag om die oorlog te wen of verloor, beslis het, sou dit nie meer sinvol gewees het vir Moses om die staf in een hand vas te hou terwyl dit na die stryende magte uitgestrek is nie? Of, as die staf ‘n simbool van God se teenwoordigheid was, bedoel om die vegtendes aan te moedig, sou dit nie sinvoller gewees het indien Josua dit in die stryd ingedra het waar dit vir die kinders van Israel sigbaar kon wees nie? In plaas daarvan, was dit hoog bokant hulle gehou, waar dit vir hulle onsigbaar was. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat die krag nie in die staf geleë was nie, maar in die omhoog hou van Moses se hande. 

Psalm / Tehillim {28:2} “Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom. ”. 

Psalm / Tehillim {63:4} “Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.”. 

In hierdie Parasha verneem ons dat die kinders van Israel in hulle eerste oorlog betrokke geraak het en wel teen die Ámalekiete. My afleiding uit hierdie gedeeltes is dat Ámalek inderdaad meer as ‘n groep heidense mense was – hulle versinnebeeld die menslike, vleeslike begeertes en alles in die wêreld wat teen God is. Ámalek versinnebeeld dus die mens se sondige, vleeslike natuur. 

Die oorlog tussen Ámalek en die kinders van Israel het in werklikheid nie op die slagveld plaasgevind nie, maar wel op die top van die berg met Moses. Die kinders van Israel se geledere het bestaan uit onervare en waarskynlik swaktoegeruste soldate. Die oorlog kon gevolglik nie deur hulle gevegsvermoë gewen word nie. Nee, hierdie oorlog is geveg en gewen deur deurdat Moses sy hande in gebed opgehef het. Die staf in sy hande was bloot visueel; nie vir die kinders van Israel, wat in die stryd gewikkel was nie, maar vir God, wat vantevore Moses se staf gebruik het om die farao en sy leer te verneder en verslaan. Die geveg teen Ámalek is deur gebed beslis. 

Gebed is ‘n onskatbare voorreg wat ons, as gelowiges, van God ontvang het. Dit is ‘n roepstem om ‘n wagter op die mure te wees, dag en nag sonder rus, totdat redding, hulp, genesing en oorwinning kom. Gebed is magtig, omdat God verkies om deur middel van ons gebede te werk. Dit is dus die handeling van gelowiges, in samewerking met God, om ons wil aan Sy wil te onderwerp. Gebed is egter nie ‘n poging om God te oorreed om óns wil uit te voer nie. Dit is ook nie om as’t ware ‘n wenslys aan God voor te lê nie, asof Hy ‘n tipe kersvader is, van wie ons verwag om aan ons vertoë gehoor te gee en ons “kerskouse” met óns selfsugtige begeertes te vul nie. Dit is ook nie ‘n poging om óns wil op God af te dwing, sodat ons kan ontvang wat volgens ons mening, die beste vir onsself en ander mense is nie. Gebed is om onsself aan God se beskikking te onderwerp: om te verneem wat God se wil is en dan deur gebed met Hom saam te stem / aanvaar. 

Gebed verander nooit iets wat God vantevore bepaal het nie. Dit word bloot volbring, terwyl gebedloosheid niks bereik nie. Dikwels stel God uit wat Hy wil doen, slegs omdat Hy nie ons gebedsamewerking het nie. Ofskoon ons nie weet waarom nie, wéét ons egter dat God nie onafhanklik handel nie. Hy het aan ons ‘n vrye wil geskenk en sal dit nie gering ag deur Sy wil op ons af te dwing nie. Hy wag vir ons om in gebed met Hom te verenig voordat hy handel, selfs indien dit beteken dat die satan tydelik offensief in ons lewens is. Dit bewys hoeveel God óns reg om te kies respekteer en in hoe ‘n mate God ons gebede begeer. 

Jy en ek sal nooit die Ámalekiete in ons lewens kan verslaan nie. Ons vleeslike begeertes kan nie deur wilskrag oorwin word nie. Die enigste manier om oor ons vlees die oorwinning te behaal, is deur gebed, net soos Moses gedoen het. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 22 Januarie 2012

Om Julle Kinders Agter te Laat

22 Januarie 
D’Var Torah 
Kom Binne / Bo 


Eksodus / Shemot {10:7} “Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie? {10:8} Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan? {10:9} En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir die HERE hou. {10:10} Toe sê hy vir hulle: Mag die HERE só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë. {10:11} Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe. ”. 

Die Farao het vermoed dat indien hy elkeen van die kinders van Israel, dit wil sê kinders ingesluit, sou laat gaan, Moses in die woestyn sou intrek en dan net verder wegtrek. Dit was dus die bedoeling van die Farao, ten einde die ekonomie van Egipte te verseker, om nie sy slawe-arbeiders te verloor nie. Hy het besef dat solank hulle kinders agterbly, die kinders van Israel nie sou probeer ontvlug nie. Daar was egter geen moontlikheid dat Moses sou instem om die kinders agter te laat nie. Nie omdat hy oorweeg het om te vlug nie maar wel dat hy nie geweet het wat daarna sou gebeur nie. Al wat Moses wél geweet het, is wat God hom meegedeel het en dit was om die kinders van Israel drie dae ver in die woestyn in te lei om Hom te aanbid. Dit was Moses se besluit om niemand in Egipte agter te laat nie en hieruit is daar vir ons ‘n besondere les te leer. In die Messiaanse gemeenskap is kinders ons grootste bate. Ons was al almal in ‘n mindere of meerdere mate by evangelisasie betrokke en ons besef dus hóé moeilik dit kan wees om van Jesus die Messias te getuig. Ons kan meer verwerping as aanvaarding ondervind en vir sommige mense plaas juis dít ‘n demper op die bereidheid om ons geloof te deel. 

Met ons kinders is dit egter nie die geval nie: ons het die geleentheid om hulle vanaf geboorte in Messiaanse Judaïsme op te voed. Selfs indien óns met hulle geboorte nog nie gered was nie, kan bloot ons veranderde lewens, nadat ons gered is, ‘n magtige getuie vir ons kinders wees. 

‘n Goeie voorbeeld is die verhaal wat deur my Rabbi aan my vertel is. Nadat hy, op grond van sy nuut-gevonde geloof, vir baie jare van sy Joodse familie vervreemd was, sou hy en sy gesin uiteindelik met hulle herenig word. Sy kinders was nog nie tieners nie en al wat hulle geken het, was Messiaanse Judaïsme. Omdat hulle vader nie sy familie wou aanstoot gee tydens hulle eerste besoek nie, het hy hulle versoek om nie van Jesus te praat nie. As Messiaanse Jode, word die naam van Jesus normaalweg dikwels in gesprekke gemeld en veral in gebed vóór ete genome. Gevolglik het hy hulle ernstig versoek om nie Sy naam te meld nie. Daarop het sy dogter gevra: “Waarom Pappa, is hulle dan nie Jode nie?”. 

Moses het geweier om die kinders agter te laat. Hy wou seker maak dat die volgende geslag hulle geloof sou ervaar deur te aanskou hoedat hulle kinders God aanbid op dieselfde wyse as hulle voorvaders duisende jare tevore. Hy het die belangrikheid daarvan besef om kinders deur dié voorbeeld te leer en hulle alles te laat sien, hoor en ruik van wat plaasvind, sodat hulle eendag die tradisie sou voortsit. 

Ongelukkig laat baie Messiaanse gelowiges egter vandag hulle kinders agter. Ja, hulle dwing hulle om op die Sabbat na die sinagoge te gaan en laat hulle spesiale klasse bywoon om met ander kinders te verkeer en sodoende saam met hulle van Messiaanse Judaïsme te leer. Maar dit word nie tuis opgevolg nie. Hulle vier die feesdae in die sinagoge maar nie tuis nie. So byvoorbeeld “Chanuka”: hulle bring moontlik hul kinders saam om op die eerste aand van Chanuka die Chanuka-kerse aan die brand te steek, maar laat dan na om vir die ander sewe dae ook sáám kerse aan te steek. Hulle laat inderdaad hulle kinders agter! Sommige ouers neem hulle kinders selde indien ooit saam na die sinagoge – sodoende laat hulle hul kinders letterlik agter. 

As ons wil hê ons kinders moet die Here hulle God liefhê met hulle hele hart en siel, moet ons die gebod nakom, wat ons bid, elke dag wanneer ons die Shema voordra: 

Deuteronomium / Devarim {11:9} “en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan;”. 

Dit is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n gebod (mitzvah) en om enigiets nie uit te voer nie, sal wees soos om jou kinders by die Farao in Egipte agter te laat! 

Spreuke / Mishlei {22:6} “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 15 Januarie 2012

Wysheid, Insig en Oordeel

D’Var Torah 

En Ek Het Verskyn - Va'Era


Eksodus / Shemot {7:8} “En die HERE het Moses en Aäron aangespreek met die woorde: {7:9} As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ‘n wonderteken vir julleself—dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ‘n slang word. {7:10} Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die HERE hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het ‘n slang geword. {7:11} Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste: {7:12} elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawe verslind. ”. 

Die towenaars van Egipte, wat deur die Farao ontbied is, was in staat om dieselfde wonders as Moses te verrig: Hulle stawwe het ook in slange verander. Dit is interessant om daarop te let dat die Hebreeuse woord “tan-neen” as slang vertaal word, maar ook as krokodil verstaan kan word. Aangesien Moses dus met die Farao by die Nylrivier onderhandel het, is dit heel moontlik dat die betrokke stawwe in krokodille verander het. Soos die geval was, was die towenaars ook by magte om die volgende twee wonders, deur Moses verrig, na te doen, naamlik om water in bloed te verander en die plaag paddas oor die land te bring. 

Dit kon moontlik gewees het, soos sommige kommentators spekuleer, dat hierdie towenaars deur oëverblindery die wonders om ‘n staf in ‘n slang te verander, uitgevoer het. Hulle maak hierdie aanspraak omdat ‘n sekere soort slang wat in Egipte as die Egiptiese Kobra bekendstaan, inderdaad so styf soos ‘n staf kan word wanneer druk op ‘n bepaalde plek agter die kop uitgeoefen word. Hulle aanspraak mag dus gebruik word om hierdie besondere wonder te verduidelik, maar hoe verduidelik ons die ander twee wonders, wat hulle nagedoen het: die verandering van water in bloed en die plaag paddas wat oor die land gekom het? Hierdie wonders kon hoegenaamd nie aan oëverblindery toegeskryf word nie. Dit was slegs tot-en-met die derde wonder, deur Moses en Aäron uitgevoer, dat die Egiptiese towenaars besef het dat hulle nie opgewasse was teen iemand groter as hulle nie. 

Eksodus / Shemot {8:16} “Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland. {8:17} En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland. {8:18} En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op die vee. ”. 

Ek wil graag daarop wys dat nie alle wonders van God kom nie! Ongetwyfeld kan God wondere verrig – selfs vandag nog – maar ons moet uiters versigtig wees, soos ek hierbo vermaan het: “Nie alle wonders geskied deur God nie.”. Meer as ‘n paar keer het mense my al vertel van wonders, wat hulle na bewering gesien, ervaar of van verneem het. Nadat ek na hulle geluister het, was ek betreklik skepties of dit van God gekom het. Hulle was egter oortuig daarvan. Ten spyte van my skeptisisme en uitdruklike vermaning tot versigtigheid, was hulle nogtans daarvan oortuig dat dit van God was. 

In die Bybel is heelwat Skrifgedeeltes, waarvolgens wonders deur entiteite anders as God verrig is. Hier is byvoorbeeld een daarvan: 

Openbaring / Hitgalut {13:11} “En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak. {13:12} En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. {13:13} Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. {13:14} En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. ”. 

Sekere wonders soos die hierbo aangehaal, veral die wat in die eindtyd verwag word, sal waarneembaar wees vir diegene wat met die Skrif vertroud is. Ongelukkig, anders as kennis van die gebeure wat tot die laaste dae sal lei, is daar geen Bybelse leidraad, wat ons meedeel hoe om dit te verifieer, indien ‘n wonder vandag sou plaasvind, as komende van God of van ’n ander bron nie. Neem byvoorbeeld genesing: ek het al mans sowel as vrouens – Christene – gesien wat in die openbaar dade van (wonder) genesing verrig. Hulle het duisende mense oortuig van hulle vermoë om in die naam van Jesus, genesing teweeg te bring. Toe ‘n navorsingsverslag deur ‘n baie toonaangewende nuusstasie, oor hierdie genesings egter verskyn het, het dié genesings onjuis geblyk te wees. Nietemin bly hierdie selfde predikers of (geloofs-) genesers oneindig gewild, terwyl hulle blykbaar duisende Christen-volgelinge bedrieg. Die enigste wyse om ons nie deur wonders , wat nie van God is, te laat bedrieg nie, is vir God om aan ons insig en wysheid te skenk. 

Daar is ‘n gebed uit die Joodse gebedeboek wat elke oggend in sinagoges voorgedra word. Dit lui soos volg: “You graciously endow man with wisdom and teach insight to a frail mortal. Endow us graciously from Yourself with wisdom, insight en discernment. Blessed are You, HaShem, gracious giver of wisdom”. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 07 Januarie 2012

Aanmoediging en Gerustelling Deur God


8 Januarie 2012

D’Var Torah
Shemot / Eksodus


 Eksodus / Shemot {3:11} “Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei? {3:12} En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.” 

 Ek het dit interessant gevind dat God vir Moses berg Horeb (Berg Sinai) aangedui het as plek van aanbidding en Hy vir Moses na die kinders van Israel gestuur het. So ook die feit dat God Berg Horeb as teken bevestig dat Hy met Moses sal wees. Dit is vreemd aangesien die kinders van Israel nie voor ‘n aansienlike tydverloop eers dáár sou aankom nie. Daarbenewens het God vir Moses oor bonatuurlike geestesgawes laat beskik en Homself bewys om dwarsdeur die Eksodus-proses met hom te wees. Waarom sou aanbidding by Berg Horeb dan enigsins ‘n groter teken wees as die tog deur die Rooi See? Wat was dan so uitsonderlik aan Berg Horeb, dat dit ‘n teken was dat God met Moses sou wees, as die ander tekens wat hy alreeds ontvang het? 

Dit is klaarblyklik uit sy teësin om na Egipte terug te keer, dat hierdie voormalige, vreeslose prins inderdaad getemper is gedurende die veertig jaar wat hy in die wildernis van Midian skape opgepas het. Hy het duidelik die politieke aandrif en aktivisme waaroor hy vroeër beskik het, verloor. Dit het alles aan die verlede behoort en hierdie ontmoeting met God op Berg Horeb, het Moses onverhoeds betrap. Gevolglik, lees ons dat hy sê: “Wie is ek, dat ek na die Farao moet gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte moet lei?” 

Moses het homself nie langer as iemand besonders beskou nie en homself beslis nie bevoeg geag om die Farao te konfronteer nie, nog minder om die kinders van Israel uit Egipte te lei. 

Ek kan begryp waarom Moses hierdie woorde tot God gerig het. As ‘n prins in Egipte, het hy kontakte gehad, invloedryke persone geken en dus betrekkinge gehad waardeur hy invloed kon uitoefen. Nou, nadat hy vir veertig jaar ‘n skaapherder was, het hy enige kontakte of invloed verloor. Hy was polities vergete. 

Wat Moses op dié stadium beleef het, is tot selfs vandag toe nie ongewoon nie. Baie afgetredenes, wat vroeër oor mag en invloed in hul werkplek beskik het, ervaar na jare se aftrede, dieselfde belewenis. Selfs indien hulle onverwags versoek sou word om na hulle werkplek terug te keer en voort te gaan vanwaar hulle opgehou het, sou hulle ongetwyfeld ook skepties gevoel en die werkaanbod van die hand gewys het, ongeag of dit deur God so beskik was. 

God het dit klaarblyklik verstaan en met reg ook, want Hy het Moses immers geskep! God het besef dat Moses behoefte aan aanmoediging sou hê om die politieke aktivis in hom weer te laat opvlam. Gevolglik is aan hom tekens gegee van sy staf wat in ‘n slang verander het en sy hand wat met ‘n velsiekte oortrek geraak het. Ten spyte van hierdie tekens, wat moontlik voldoende sou gewees het om meeste mense te oortuig, het Moses nogtans skepties gebly tot op ‘n punt waar God sy broer, Aäron, saam met hom moes stuur, om as sy spreekbuis op te tree. 

Ek is egter oortuig daarvan dat God inderdaad met Moses in Egipte was toe hy eindelik daarheen gegaan het; trouens, die wonders wat hy dáár verrig het, bewys dit onteenseglik. Maar, soos ons almal wil weet of ons ‘n opdrag bevredigend uitgevoer het, het God besef dat Moses ‘n teken daartoe nodig gehad het. God se teken van teveredenheid was tweërlei. 

Wat Moses moes uitvoer, was hoegenaamd geen maklike taak nie – hy het deurentyd behoefte aan bemoediging en gerusstelling deur God gehad. Nogtans het Moses, ongeag wat alles plaasgevind het, homself nooit as iemand besonders geag nie; trouens, hy het nooit van die “Wie is ek” – gesindheid afgesien nie, wat myns insiens hierdie Skrifgedeelte genoodsaak het. 

Numeri / Bamidbar {12:3) “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.” 

Gevolglik was die eerste rede vir die Berg Horeb-ontmoeting, bedoel om as sy uiterste bemoediging en gerusstelling te dien, dat Gód hom gestuur het. Moses het gegaan van prins tot herder en dit was by Berg Horeb wat hy as’t ware weer ‘n prins geword het – selfs meer as ‘n prins, maar wel ‘n koning, priester en profeet. Tweedens, die verlossing en bevryding van die kinders van Israel het eintlik begin met Moses by Berg Horeb. Watter beter, meer gepaste plek vir die volk Israel om “gebore” te word, as op die Berg Horeb! 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou



Sondag 01 Januarie 2012

Messias Seun van Josef / Mashiach ben Yosef

1 Januarie 2012 
D’Var Torah 
En Hy Het Gelewe / Vayechi 


 Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.{47:28} En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was. {47:29} En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie. {47:30} Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord. ”. 

Met die lees van hierdie verse, het ek iets besonder interessant teëgekom. In die verlede het ek verwys na God se gebruik van die name Israel en Jakob in die beskrywing van een en dieselfde persoon. Soms sou God Isak se seun Jakob noem en andersins Israel. Soos ons bewus is, was dit God wat Sy naam van Jakob na Israel (Genesis 32:28) verander het. Die naam “Jakob” beteken “Uitoorlêer” en Israel, “Prins van God”. Die wisselwerking tussen die name was nie toevallig nie – niks in die Bybel geskied lukraak nie! Die feit is dat God doelbewus die name afgewissel het om tussen die twee geaardhede van dieselfde man te onderskei. 

Sy naam Jakob verwys na sy wêreldse natuur, sy ou self, wat dikwels geblyk het in sy omgang met ander mense in die Bybel. Sy naam Israel daarenteen verwys na sy spirituele natuur, oftewel sy nuwe self. Dit is dus op hierdie wyse – so glo ek – dat God die twee name in die bovermelde Skrifgedeeltes gebruik. Kom ons kyk hoedat God dit doen en wat Hy vir ons verduidelik ten opsigte van die afwisseling van die name Jakob en Israel. 

Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.” 

Hier, glo ek, word ons vertel dat gedurende Jakob se leeftyd, in die tyd wat hy en sy familie in Egipte gewoon het, hulle tog ‘n verhouding met God gehad het. Dat hulle verblyf in Egipte, in die land Gosen was, dui daarop dat hulle afgesonder was, verban in ‘n godlose materialistiese land. “Wat, ons dus hier sien, is dat die familie steeds in ‘n geestelike, verwante verhouding met God geplaas was, hoewel verban in die materiële fisiese wêreld wat deur Egipte verteenwoordig word. 

Genesis / Bereshit {47:28} “En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.”. 

Ek meen dat twee sake hier aan ons meegedeel word. Eerstens, deur die gebruik van die naam Jakob in hierdie vers, dat die man inderdaad deur die materialisme van Egipte beïnvloed is. Tweedens, deel God ons mee van die fisiese dood van die man en die aantal jare wat sy fisiese liggaam hierdie aarde bewandel het. Die wysgere is van mening dat wanneer die Tora na Jakob se sewentienjarige verblyf in Egipte verwys, dit gegrond was op sy aardse genot en om te breek met die spirituele onrus wat hy tot op daardie tydstip ondervind het. 

Genesis / Bereshit {47:29} “En toe die dae van Israel naderkom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie.”. 

Ek dink dat hierdie gedeelte ons van ‘n magdom inligting voorsien. God wys vir ons daarop dat met die dood van Jakob, ‘n spirituele dood vir die volk sou aanbreek. Dít word bevestig deur die verandering van sy naam na Israel, wanneer na Jakob se dood verwys word. 

‘n Verdere interessante waarneming is, naamlik, waarom het Jakob nou juis sy seun Josef laat kom, toe hy besef het dat die tyd van sy dood naby was? Was sy ander elf seuns dan nie by hom nie? Kon hy nie een van hulle geroep het nie? Daarbenewens, was Juda op daardie tydstip eintlik die familiehoof en nie Josef nie. 

Ek meen die antwoord lê eintlik opgesluit in die feit dat Josef dwarsdeur hierdie verhaal, ‘n voorstelling van Jesus is. In essensie, kyk ons in die toekoms in. Jakob versoek Jesus om te belowe dat Hy die spirituele verhouding tussen die volk en God sal herstel en hulle in die Beloofde Land vestig. 

Ons weet dat, na Jakob se dood, die volk vir meer as tweehonderd jaar in slawerny in Egipte verkeer het. Gedurende daardie tyd, het hulle alle begrip van hulle verhouding met die God van hemel en aarde verloor en gevolglik die gewoontes en praktyke van die Egiptenare aangeneem. Ongelukkig, leef die grootste gedeelte van die volk Israel tot vandag toe, steeds in ballingskap en spirituele duisternis. Binnekort sal Jesus kom, hulle verhouding met hul God herstel en hulle laat terugkeer na die Land van die Belofte. Congregation 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou