Saterdag 27 Mei 2017

Kranksinnigheid is Nader as wat ons Meen

Behar
(Op die Berg)
Levitikus / VaYikra {25:25} “As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het. {25:26}  En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing, {25:27}  moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan. {25:28}  Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan. ”
Elkeen van ons ervaar een of ander tyd moeilike tye. ‘n Mens hoef nie ver te soek om te sien hoe waar dit is nie – kyk maar wat in die Verenigde State van Amerika plaasvind! Vanweë die ekonomiese resessie, is baie mense werkloos en ly daaronder. Juis as gevolg van hierdie ongunstige ekonomiese omstandighede, kan vele mense nie hul verpligtinge met betrekking tot verbande nakom nie en verloor hulle hul woonhuise. Gesinne, ouers met hul kinders, word uit hul huise gesit – sommige selfs met geweld – moontlik nie deur hul eie toedoen nie, maar as gevolg van ‘n nasionale sonde van gierigheid. Ja, gesinne met kinders, wat voorheen in rykmanswoonbuurte gewoon het, word deur dié ongunstige ekonomiese toestand wat deur gierigheid gepropageer is, gedwing om in goedkoop eenkamer-motelle te woon of selfs in hul motors te slaap. Hulle leef daagliks van die hand na die mond. Mans en dames wat vroeër bogemiddelde salarisse verdien het, moet nou die minderwaardigste moontlik beskikbare werk verrig om net te kan oorleef.

Almal ondervind soms moeilike tye, maar sou dit nie wonderlik gewees het as die Verenigde State van Amerika en, wat dit betref, alle wêreldlande die Tora gehoorsaam en aan die Bybelse opdragte (soos hierbo) uitvoering gegee het nie? Indien die Tora die landswet was, sou hierdie mense die hoop kon hê om eendag na hul huise en die plek waar hulle kinders grootgemaak is, terug te keer. Hulle sou daarna kon uitsien om terug te gaan na waar hulle grootliks hul lewe deurgebring het – alles sou nie verlore gewees het nie! Daar sou nog geleentheid gewees het om van hul skade te herstel. Sou dit nie ideaal gewees het nie?

Die lewe is siklies: een jaar is teëspoedig en die volgende voorspoedig. Meen julle nie ook dat dit die rigting behoort te wees waarheen ‘n verligte en sorgsame wêreld moes beweeg nie? In plaas daarvan, beweeg die wêreld in die teenoorgestelde rigting. Die “Sharia”-wet – wat die Moslem- of Islamitiese wet is – word oorweeg en toegepas in verskeie state van die Verenigde State asook in ander nie-Moslem-lande oor die wêreld heen! ‘n Wet wat ‘n agtjarige seuntjie in Iran se arm deur ‘n motor laat afry het, as straf omdat hy ‘n brood gesteel het; ‘n wet wat die regte van ‘n vrou misken en mans begunstig, soos in Nigerië waar ‘n vrou gestenig word vir owerspel, maar die man wat daarby betrokke was, ongestraf gelaat het en ‘n wet wat moorde ter wille van eer toelaat. Dit is wat die leiers van ons vrye wêreld toelaat in plaas van om die Tora toe te laat en die navolging van die voorskrifte daarvan, aan te moedig. Sou julle meen dit is vanweë anti-Semitisme of is net téén God of bloot uit vrees vir weerwraak deur die Moslem-gemeenskap?

Die dag sal nog aanbreek waarop daar geen geregtigheid op aarde sal wees nie. Kranksinnigheid sal die wêreld oorneem. Dit is ‘n feit dat, met die Sharia-wet wat geleidelik ons provinsies, state en lande infiltreer, ons inderdaad nader aan daardie kranksinnigheid is as wat ons werklik besef.

Donderdagaande word hier by Melech Yisrael se Schacharit-oggend-biddiens ‘n gebed gebid wat elke oggend in meeste sinagoges regoor die wêreld plaasvind. Dit lui soos volg (vry vertaal):

Vernuwe ons regters soos in die vroegste tye en raadgewers soos wat dit aanvanklik was; neem droefheid en gekerm van ons weg; en heers oor ons – U, o God, alleen – met goedheid en mededoë, en verdedig ons op grond van U oordeel. Geseënd is U, God, die Koning wat geregtigheid en oordeel liefhet.”


Kom gou Jesus!

Saterdag 20 Mei 2017

Enigiets Anders is Afgodery

Behar – BeChukotai
(Op die Berg – In My Insettinge)

Levitikus / Vayikra {26:1} “Julle mag vir julle geen afgode maak nie; en ‘n gesnede beeld of ‘n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en ‘n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die HERE julle God. {26:2} My sabbatte moet julle hou en my heiligdom ontsien. Ek is die HERE.”
Ek dink, om die verbodsbepalings deur God in hierdie verse uitgespreek, te verstaan, is dit nodig om afgodsdiens te omskrywe en begryp wat dit wesenlik is. Meeste mense is nie onkundig nie en ek sou graag wou glo dat hulle besef dat die afbeelding wat hulle gemaak of gekoop het en voor neerbuig, slegs van hout, metaal of klip is, maar nie 'n god nie. Afgodery is egter nie so eenvoudig nie. Wanneer mense voor enige mensgemaakte beeld neerbuig, kniel hulle voor dít wat hulle beskou 'n fisiese voorstelling van die spirituele krag wat hulle god noem, te wees. Daardeur skryf hulle aan hierdie beeld die essensie en krag toe van die god wat dit verpersoonlik. Hulle bid ook en praat met hierdie fisiese voorstelling en glo dat, deur daarna te kyk of dit te aanbid, hul gebede gehoor en verhoor sou word. Afgodery is dus nie dat die mensgemaakte afbeelding God is nie, maar eerder dat hierdie beeld bedoel is om God te verteenwoordig. Om te glo dat jy God kan aanbid deur middel van 'n mensgemaakte beeld, is afgodery!
Selfs indien hulle moontlik nie eers glo dat die voorwerp van hulle aanbidding 'n god is nie, is bloot die gedagte dat dit 'n fisiese teken of voorstelling van God is, afgodery. Baie mense openbaar die beste bedoelings wanneer hulle fisiese- of geïllustreerde voorstellings van God koop en in hul huise of elders vertoon. Ons God stel egter nie in ons goeie bedoelings belang nie, maar wel in ons gehoorsaamheid.
Eksodus / Shemot {32:26} “het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. {32:27} En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. {32:28}  En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval.“
Die kinders van Israel het sekerlik goeie bedoelings gehad toe hulle die goue kalf gemaak en opgerig het. Ongetwyfeld was dit reg in hul harte. Aäron het selfs bevestig dat dit in hul harte reg was toe hy uitgeroep het:
Eksodus / Shemot {32:5} “Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE.”
Indien dit slegs goeie bedoelings was wat getel het, sou God die kinders van Israel sekerlik nie gestraf het oor wat hulle gedoen het en waarom duisende mense hul lewens moes verloor nie.
Moet egter nie mislei word nie: iets so onskuldig soos 'n prent van Jesus wat aan jou muur hang, is afgodery volgens die begrip wat ons sopas hierbo bespreek het. Kinders is baie ontvanklik vir hierdie soort afgodery. Hulle sien só 'n prent, word vertel dit stel Jesus voor en assosieer onmiddelik dié afbeelding in hul verstande met 'n fisiese teken of voorstelling van God – dit is afgodery.
Wat behoort 'n mens te doen? Die antwoord op daardie vraag is eenvoudig: Verwyder enige fisiese – of  geïllustreerde voorstellings van God uit jou lewe.
Johannes / Yochanan {4:23} “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. {4:24}  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-05-08

Saterdag 13 Mei 2017

Die Brood van Teenwoordigheid

Emor
(Spreek)


Levitikus / Vayikra {24:5} “Jy moet ook fynmeel neem en twaalf koeke daarvan bak, twee-tiendes van 'n efa moet elke koek wees; {24:6} en jy moet hulle in twee stapels neersit, ses in 'n stapel, op die rein tafel voor die aangesig van die HERE. {24:7} En by elke stapel moet jy suiwer wierook byvoeg, wat vir die brood as gedenkoffer moet dien, as vuuroffer aan die HERE. {24:8} Op elke sabbatdag moet hy dit gedurigdeur voor die aangesig van die HERE regsit, van die kant van die kinders van Israel as 'n ewige insetting. {24:9} En dit moet aan Aäron en sy seuns toekom: hulle moet dit in 'n heilige plek eet; want as iets hoogheiligs behoort dit aan hom uit die vuuroffers van die HERE - 'n ewige insetting.”

Die “Brood van die Teenwoordigheid”, soos hierdie twaalf koeke genoem is, moes vóór God geplaas word – vars, op elke Sabbat. Wanneer die ou brood verwyder is, moes dit deur die nuwe varsgebakte brood vervang word. Daarna, soos voorgeskryf, moes die ou brood deur Aäron en sy seuns geëet word.

Die vraag is al dikwels aan my gestel waarom God dit van iemand sou verwag om ou brood van ‘n week oud, te eet; trouens, indien die brood – soos dit wel die geval was – onbedek gelaat is, is die kans goed dat vlieë daarop kon gesit of dat dit muwwerig kon geraak het. Aangesien ons egter weet wat God se opdrag met betrekking tot skimmel of muf was, hoe kon so ‘n opdrag dan moontlik wees? Sommiges beweer dat die brood wonderbaarlik vars gebly het, terwyl ander meen dat die suiwer wierook, wat op elke ry, langs die brood geplaas is, dit vars laat bly het. Nadat ek egter die bewaringsmoontlikhede van wierook nagegaan het, het ek vasgestel dat dit oor geen sodanige eienskappe beskik nie. Wierook is in antieke tye deur Egiptenare gebruik as bestandeel vir oogomlyner, asook in tradisionele medisyne, vanweë die verskeie genesende eienskappe daarvan, maar was en word steeds gebruik vir die welriekendheid daarvan. Wat is dus die antwoord: waarom is daar van Aäron en sy seuns verwag om muwwerige brood te eet? Eintik is dit baie eenvoudig:

Levitikus / Vayikra {2:11} “Geen spysoffer wat julle aan die HERE bring, mag van iets wat ingesuur is, berei word nie; want van géén suurdeeg of heuning mag julle vir die HERE 'n vuuroffer aan die brand steek nie.”

Indien niks wat ingesuur was of suurdeeg bevat het, in enige offerhande aan God moes wees nie, was die brood van die Teenwoordigheid, dus geensins brood nie, maar wel matzah. Hierdie feit verander alles! Ter inligting vir diegene wat onbekend is met matzah, word daarop gewys dat dit eintlik ‘n tipe bros kraakbeskuitjie is, saamgestel slegs uit meel en water. Dit word dan binne agtien minute nadat dit aangemaak is gebak om te voorkom dat dit, selfs vanself, rys. Matzah wat behoorlik versorg word, sal nie bedorwe raak nie. Ons beskik oor verpakte matzah, wat oorgebly het van die vorige Paasfees (Pesach). Dit is steeds bros en so vars soos die dag waarop dit gebak is. (Terloops, dit is feitlik smakeloos) Matzah kan wel beskadig word deur klammigheid, maar in aggenome die Israelse droë klimaat, is vogtigheid dus selde ‘n problem. Die brood van die Teenwoordigheid sou gevolglik aan die einde van die week net so vars gewees het soos aan die einde van die week en steeds geskik gewees het vir Aäron en sy seuns om te eet.

Die twaalf matzhot (meervoud van matzah), wat in die gewyde plek geplaas is, het die twaalf stamme van Israel verteenwoordig. Daarom glo ek, dat die twaalf matzhot, tesame met die wierook, ‘n herhinnering voor God was van wie die kinders van Israel was deur die korbanot (naderkoms-/ sondoffers) wat hulle gebring het. Die feit dat die brood elke week vervang moes word, meen ek, het ‘n “vars” herhinnering voor God verteenwoordig van wie die kinders van Israel in die olam haba (toekomstige wêreld) sou wees – sondeloos soos die matzhot. Die wierook was ‘n aangename geur voor God, wat Hom herhinner het hoe aangenaam ‘n sondelose Israel sou wees. Die feit dat Aäron en sy seuns die ou brood in ‘n gewyde plek moes eet en nie toegelaat is om dit huis toe te neem en dit gedurende die week saam met hul maaltye te eet nie, herhinner ons daaraan dat enigiets wat vir God se doeleindes gebruik is, nie alledaags geag moet word nie. Ek glo dus dat die eet van hierdie heilige brood, geen ander betekenis gehad het as dat dit hul erfdeel van God was nie.

Volgens Rabbynse leer, het die cohenim (priesters) die opdrag van God dat die Brood van Teenwoordigheid altyddeur voor Hom moes wees, so ernstig opgeneem dat wanneer ou brood deur een cohen (priester) aan die éénkant van die tafel van die toonbrood verwyder word, ‘n ander priester terseldertyd die nuwe brood daarop moes neerlê.

Soos die kinders van Israel van vandag – sowel Jode as nie-Jode – één in Jesus die Messais is, is Jesus ons konstante en ewige vars herhinnering voor God van wie ons in die olam haba (toekomstige wêreld) sal wees. Nie slegs dit nie, maar ons is Jesus se erfdeel, deur die Vader aan Hom toevertrou.

Herbreërs / Ivrim {2:13} “en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het.”

Kom gou Jesus!

Saterdag 06 Mei 2017

Beskrywing van die Toekomstige Wêreld

Acharei Mot – Kedoshim
(Na Die Dood – Heiliges)

Ek het besluit om hierdie week slegs kommentaar oor parasha Acharei Mot te lewer.
Levítikus / VaYikra {16:12} “en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. {16:13}  En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. {16:14}  En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. {16:15} Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.”
Iets het my opgeval toe ek hierdie deel van parasha Acharei Mot gelees het. Wat ek besef het, was dat die Heilige der Heilige (Kedosh Kedushim) pikdonker was en daar dus geen manier was dat Aäron iets daarbinne kon gesien het nie. As 'n mens dink hoedat die tabernakel (Mishkan) opgerig was, word dit duidelik dat daar drie lae bedekkings was en aan die buitekant, was die laaste laag robbevel. Gevolglik was dit onmoontlik dat enige lig daardeur kon skyn en boonop was daar binne die tabernakel 'n dik gordyn (Kapporet) war die heiligdom van die Heilige der Heilige geskei het. Hierdie gordyn was swaar en dig geweef – na bewering sowat 10,1 cm (4 duim) dik – en dus ook ondeurdringbaar vir lig. Die enigste lig in die tabernakel was die Menora, wat egter in die heiligdom was waar die Levitiese priesters (Leviim) diens gedoen het. Vanweë die dik gordyn, het of kon die lig van die Menora nie die Heilige der Heilige bereik nie. Hoe het  Aäron dan binne die  Heilige der Heilige sy weg gevind, veral wanneer hy deur God beveel is om die vertrek met reukwerk te vul sodat hy nie sterf nie? Vermoedelik was die bedoeling met die reukwerk om sy sig te belemmer, maar hy kon in elk geval niks sien nie, of kon hy? Was daar moontlik bonatuurlike lig in die Heilige der Heilige waarmee hy sou kon sien en as gevolg daarvan, sy sig deur middel van reukwerk belemmer moes word?
Ons moet allereers onthou dat die tabernakel God se heiligdom was, Sy woonplek onder die kinders van Israel – 'n plek waar 'n heilige God onder 'n onheilige volk kon woon. Dit was egter meer as dit, in soverre die tabernakel 'n herskepping van die tuin van Eden (Gan Eden) was. Juis daarom is niks ritueel onrein of onvolmaak daarbinne toegelaat nie. Die tabernakel het die volmaakte herskepping van die wêreld voorgestel.
Wat word aan ons vertel van hierdie toekomstige wêreld?
Openbaring / Hitgalut {22:5} “En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.”
Die Heilige der Heilige was skynbaar deur die heerlikheid (Cavod) van God verlig – daarom sou  Aäron kon sien. Dit was nie pikdonker daarbinne nie en dus is sy sig slegs deur die brandende reukoffer belemmer.
In die toekomstige wêreld (olam haba) sal 'n tempel ook nie meer nodig wees nie.
Openbaring / Hitgalut {21:22} “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”
Hoe 'n pragtige beeld het God nie vir ons voorgestel deur die beskrywing van die toekomstige wêreld, aan die hand van die konstruksie en die funksie van die tabernakel en tempel nie! Is julle nie geseënd dat julle eendag deel van hierdie toekomstige wêreld sal wees nie?


Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2009-04-24