Saterdag 26 September 2009

Leef Jy Steeds in Sonde

Luister / Ha'Azinu |Afrikaans skakel|English skakel|

26 September 2009 / Tishrei 8th 5770

Deuteronomium / Devarim 32:1-52
Hosea / Hoshea 14:2-10
Joël / Yoel 2:11-27
Miga / Micha 7:18-20
Romeine / Romim 10:14-11:12

Deuteronomium / Devarim {32:1} "Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2} Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3} Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4} Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. {32:5} Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag. {32:6} Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?"

Parasha Ha'Azinu is 'n lied wat Moses vir die kinders van Israel geskryf het, om te leer en voor te dra, maar hoe weet ons dit was 'n lied? Ons het dit in verlede week se parasha verneem:

Deuteronomium / Devarim {31:22} "Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23} En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees."

Die sesde vers van hierdie lied het my veral getref en wel waar Moses sê: "Is Hy nie jou Vader, wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?". Ek veronderstel dat hierdie woorde moontlik vreemd vir die kinders van Israel geklink het. Hulle het dalk gewonder: " Wat bedoel Moses deur te sê dat God, ons Vader, ons gekoop het? "Die feit dat God hulle gevestig en bevry het van slawerny, sou nie vir hulle moelik gewees het om te verstaan nie, maar om deur God gekoop te gewees het, sou hulle beslis nie kon begryp nie.

Van kindsbeen af is die kinders van Israel, as deel van standaard-opvoeding ongetwyfeld geleer dat God hulle uit die stof van die aarde geskep het. Dus sou hulle waarskynlik nie kon verstaan waarom Hy hulle moes koop nie. Tog het Moses dit vir hulle in sy lied duidelik gemaak dat dit presies is wat gebeur het: God het die kinders van Israel gekoop! Ek is seker dat baie van ons - ten minste diegene wat nie in Jesus die Messias glo nie - hierdie konsep dat God mense koop, nie verstaan nie; trouens, dit sou klink soos uit slawerny tot slawerny!

Die feit is dat God die kinders van Israel gekoop het. Moses se lirieke is korrek! Hy hét hulle gekoop, of meer spesifiek, verower soos buit in 'n oorlog. Die vyand - ongeag die semantiek - in hierdie geval, Egipte, het egter aanspraak gemaak op die volk wat God afgesonder het om Sy eie besondere eiendom te wees. Die Egiptenare het hulle as slawe behandel en God moes hulle terugwen - oftewel, hulle koop uit die slawerny.

Psalm / Mizmor {135:4} "Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom."

Wat was die koopsom? Dit was die dood van Farao, wat op hulle aanspraak gemaak en as slawe vir sy eie doeleindes aangehou het. Indien julle hierdie dinge kan insien, aanvaar en ontvang, dan behoort julle te verstaan en aanvaar dat die Hernieude Verbond ons meedeel dat Jesus die Messias, oftewel God as mens, na die aarde gekom het om vir ons te sterf en ons terug te koop vir God. Hierdie keer, het God egter nie slegs die kinders van Israel teruggekoop nie, maar wel die ganse wêreld. Waarom sou Hy ons wéér koop as God ons reeds gekoop het? Die antwoord is dat ons in der waarheid onsself weer verkoop het, maar hierdie keer aan sonde. Ons het slawe van die sonde geword - in essensie het ons, ons siele aan die duiwel, die satan, verkoop en ons is in sy besit.

Johannes / Yochanan {8:34} "Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is."

Dan deel koning Salamo ons mee:

Prediker / Kohelet {7:20} " want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Ons, deur ons eie toedoen, het onsself terugverkoop aan slawerny, oftewel die slawerny van die sonde, maar God wou ons terugkoop. Hy wou die mensdom, sowel Jode as as nie-Jode, verlos van die satan, wat hulle in die slawerny van hul sonde hou, maar om hierdie transaksie na te kom, moes daar 'n losprys wees: 'n uitruiling. Vir die kinders van Israel van ouds, was dit Farao en sy leërmag, maar vir die hedendaagse wêreld, is dit Jesus die Messias.

Hebreërs / Ivrim {2:14} "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— {2:15} en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Jesus die Messias was die losprys: Hy was die verruiling vir ons siele. Sy sterwe het vir ons en ons sondes betaal, sodat die satan nie langer aanspraak op ons sou hê nie. God self - in die gedaante van Jesus die Messias - het die prys geword. Jesus was sowel die koper as die verkoper. Hy het ons verlos om God in gees en waarheid te dien.

Galasiërs / Galitim {5:1} "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."

Indien jy nog nie Jesus die Messias as jou Verlosser aanvaar het nie, is jy nog steeds 'n slaaf van die sonde. Die betekenis van Sy dood en die losprys, wat dit verteenwoordig, is nie aan jou toegewys nie. Waarom ontvang jy nie vir Jesus as jou Saligmaker nie en word deel van die bevrydende transaksie wat God vir jou bewerkstellig het?

Congregation Melech Yisrael all rights reserved

Saterdag 19 September 2009

Plant Jouself

Yom Teruah
Die Dag van die Trompetgeklank

Yom Teruah, die dag wat daar op die shofar geblaas word, val vanjaar op 'n Shabbat en daarom is daar 'n spesiale Torah-lesing vir hierdie Shabbat, wat nie met die gereëlde Torah-siklus ooreenstem nie. Rabbis vereenselwig Yom Teruah met die "geboorte" van die planeet Aarde en derhalwe gebruik hulle die meer algemene naam van Rosh Hashanah vir hierdie feesdag. Letterlik vertaal, beteken dit "Hoof van die jaar" oftewel Nuwejaar en om hierdie rede begroet die Joodse mense mekaar dan met "Voorspoedige nuwejaar" tydens hierdie gety. Ook omdat die rabbis glo dat die aarde op Yom Teruah "gebore" is, verander die kalender op hierdie feesdag. Dit is nou die jaar 5770 - volgens die rabbis is die aarde nou vyfduisend sewehonderd-en-sewentig jaar oud, wat natuurlik korrek of nie mag wees nie.

So, waarom word Genesis 21 tydens Yom Teruah, die fees van Trompette dan gelees? Soos hierbo gemeld, word Yom Teruah deur die rabbis as die geboortedag van die planeet Aarde, geag; Genesis 21 handel oor die geboorte van Isak en vir Judaïsme is dit die "geboortedag" van die volk Israel.

Genesis {21:33} "En hy het ‘n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van die HERE, die ewige God, aangeroep. {21:34} En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef. "

Hierdie Skrifgedeelte van ons Parasha is nogal vreemd want waarom sou God ons nou wou laat weet dat Abraham 'n tamariskboom in Beer-Sheva geplant het? Watter geestelike betekenis kon dit moontlik inhou? Daar is werklik niks besonders aan 'n tamariskboom, wat hierdie spesiale vermelding regverdig nie, behalwe dat dit 'n boom is wat goed aangepas is om in dié gedeelte van die land te groei.

Elke jaar, in die maand wat lei tot Tu Beshvat ("Boomdag" in Israel), wat gewoonlik in Februarie val, moedig ek ons gemeentelede aan om 'n boom aan te koop en plant in Israel. Oor die jare heen het ek 'n slagspreuk - "Skiet wortel in Israel" - ontwikkel, om die aankoop van bome te bevorder.

Gevolglik het ons deur die jare 'n ontelbare aantal bome in Israel geplant en is ek oortuig daarvan dat honderde teen hierdie tyd reeds baie groot is, wat beteken dat ons wortels in hierdie land diep lê.

Ek glo dat dit soortgelyk is aan wat God in hierdie gedeelte aan ons sê. Ek meen dat God hiermee bedoel dat Abraham homself in die land van Israel ingewortel het, wat juis deur die plant van 'n boom gesimboliseer is; hy het Homself as't ware geplant, soos wat ons in Genesis {21:34} lees:

Genesis {21:34} "En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef."

Abraham het sy plek gevind: hy het nou sy eie put gehad en dit was hier waar hy sou woon en hier waar hy die Here, die ewige God, sou aanbid. Ek is seker Abraham se tamariskboom het in 'n groot boom ontwikkel, waarvan die wortels diep in die Israeli-aarde gegroei het.

Abraham se put is tot vandag toe, een van die stad, Beer-sheva, se besienswaardighede. Wie weet of een van die vele tamariskbome, wat daardie put nou omring, nie miskien dié een is wat Abraham geplant het, óf dalk 'n afstammeling van die oorsponklike boom is nie!

Nog iets is, volgens Genesis 21, was in Israel "gebore" en dit was nie slegs Isak nie. In Isak was die "geboorte" van die vervulling van die belofte van God:

Genesis {12:1} "En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. {12:2} En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees."

God het ook aan ons 'n belofte gedoen - één wat vandag in julle "gebore" kan word as julle, soos Abraham, wil tot stilstand kom en julleself plant as deel van die koningkryk van God:

Psalm {1:1} "Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; {1:2} maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. {1:3} En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit."

Kom gou Jesus!

Saterdag 12 September 2009

Bewoon die Land en Verslaan God se Vyande

Julle Staan - En Hy Het Gegaan / Nitzavim-VaYelech | Afrikaans Skakel | CMY English Link

12 September 2009 / Elul 23rd 5769

Deuteronomium / Devarim 29:9-31:30
Jesaja / Yeshayahu 61:10-63:9
Romeine / Romim 7:7-12

Parasha Nitzvavim: God stel dit baie uitdruklik dat, as die kinders van Israel, oftewel almal van ons, Sy gebooie gehoorsaam, noukeurig nakom soos wat Hy beveel het, dan sal dit met hulle lewens voorspoedig gaan.

Deuteronomium / Devarim {29:29} "Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet"

Daar is ongetwyfeld baie dinge wat God nie aan ons openbaar het nie en gewis, met ons beperkte insig, is daar baie dinge wat ons nie kan begryp en nie sal verstaan nie. Ek begryp nog nie heeltemal hoe God Homself kan manifesteer op wyses wat onafhanklik funksioneer nie, maar nogtans Een kan wees nie. Ek verstaan nie hoe God bepaal het wat Sy volk mag eet en wat nie. Dit maak egter nie saak nie nie want in hierdie Parasha verneem ek dat ek nie veronderstel is om sowel daardie as ander dinge te verstaan nie. Ek is oortuig dat ek nie is nie omdat dit nog nie ten volle aan my geopenbaar is nie; trouens ons word gesê dat daar sekere geheime is wat, om welke rede rede ookal, God verkies het om vir Homself te bewaar. God het egter in die bogemelde vers, dit baie duidelik gestel dat alles wat Hy in die Torah geskryf het - of ek dit verstaan of nie - ek dit móét onderhou. Dan, ingeval ek myself sou probeer vrystel van enige van die gebooie van God, deur te sê dat Hy Homself slegs tot die kinders van Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel gerig het, wat op daardie tyd dáár was óf dat Hy slegs gespreek het tot diegene van die volk Israel en hul toekomstige lewe in die Land Israel óf dat hierdie gebooie nie op nie-Joodse gelowiges toepaslik is nie, het Hy vir ons hirdie vers gegee:

Deuteronomium / Devarim {29:14} "En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie."

God verwys na ons hier en, selfs indien ons nie fisies in die land van Israel is nie of selfs indien ons nie almal Joodse gelowiges in Jesus die Messias is nie, wat hierdie Parasha lees, is alles wat Hy tot die kinders van Israel gespreek het, steeds op ons van toepassing.

Die land wat ons as gelowiges in Jesus die Messias binnegegaan het, is God se Koninkryk. Voorheen is ons uit Sy Koninkryk uitgesluit vanweë ons sonde, maar nou, deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons versoening, het Hy die prys vir ons sonde betaal en op grond van wat Hy vir ons gedoen het, het ons toegang tot Sy Koninkryk verkry en die land, wat God voorberei het vir almal wat Hom liefhet, binnegegaan. Ons moet egter onthou dat daar 'n Koning in hierdie Koninkryk is, wat daaroor regeer. Hy vertel ons dat Hy 'n jaloerse Koning is, 'n streng Koning wat wette, reëls en regulasies neergelê het, wat Hy van ons verwag om te eerbiedig en ons is verplig om dit te eerbiedig, as ons in sy land wil bly woon. Hy verseker ons egter dat Hy 'n liefdevolle, genadige en welwillende Koning is en het belowe om ons te seën in die land, soos wat ons Sy gebooie gehoorsaam en onderhou, net soos Hy belowe het om Israel te seën indien hulle Hom sou volg en gehoorsaam wanneer hulle die land Israel binnegegaan het.

Begryp julle dit nie? Die land Israel in die Bybel is 'n tipe Koninkryk van God. Moet dit egter nie misverstaan nie! Die Koninkryk van God is nie 'n spirituele Koninkryk nie - dit is fisies en dit is ons. Vandag is die Koninkryk lewendig en gesond en ons, wat in Jesus die Messias glo, is inderdaad dít. Hierdie Koninryk mag nou wel klein wees in vergelyking met al die hedendaagse sekulêre koninkryke op aarde, maar eendag sal dit die enigste Koninkryk op aarde wees. Dan sal sy Koning, Jesus die Messias, wéér kom om Sy regmatige posisie in te neem op Sy troon, waar Hy vanuit Jerusalem sal regeer.

Dan, net ingeval ons sou sê - soos ek dikwels al mense hoor sê het: "Dis onmoontlik in ons moderne wêreld en teen sy snelle pas, om al hierdie gebooie, wat God van ons vereis, te onderhou". God sê egter:

Deuteronomium / Devarim {30:11} "Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12} Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13} Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14} Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."

Kom ons wees eerlik: ons het geen verskoning nie!

Deuteronomium / Devarim {31:3} "Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. Deu 31:4 En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; Deu 31:5 die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het."

Die kinders van Israel sou in die land teenkanting ondervind. Om die land te verower, sou nie maklik gewees het nie. Die Kanaäniete en Hittiete, onder andere, was daar en hulle sou die kinders van Israel nie sonder 'n geveg toelaat nie. Daarom, as ons volhard om die land van Israel as 'n tipe van God se huidige Koninkryk hier op aarde te beskou, wat óns is, dan kan ons ook opposisie van God se vyande, wat die aarde saam met ons bewoon, verwag terwyl ons na alles poog om hulle ook te onteien. Daar is ook demone in die land, wat nie sonder 'n stryd sal opgee nie. Indien jy in Jesus die Messias glo, dan sal jy besef wat ek bedoel, begryp waarvan ek praat. Soos vir Israel sê God egter vir ons:

Deuteronomium / Devarim {31:6} Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.

Laat ons lesse van Israel leer, want soos God met Israel gehandel het, so sal Hy ook met ons Handel. Ons moet dus leer uit hulle foute en ywerig Sy gebooie onderhou, sodat ons lank in die land mag woon en God se vyande verslaan.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 05 September 2009

Bid Dat Hulle Gered Sal Word

Waneer Jy Kom / Ki Tavo | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


5 September 2009 / Elul 16th 5769

Deuteronomium / Devarim 26:20-29:8

Jesaja / Yeshayahu 60:1-22

Handelinge / Ma'asei Talmidim 7:30-36


Deuteronomium / Devarim {29:1} "Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. {29.2} En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3} die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4} Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie. {29:5} En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet."


Nie almal nie, maar baie van die kinders van Israel was oud genoeg om, voordat hulle Egipte verlaat het, die groot wondertekens wat God vir hulle gedoen het, te onthou. Diegene wat te jonk was, het later eerstehands van hul ouers en grootouers verneem wat plaasgevind het. Ingeval dit egter nie gedoen is nie, het Moses hulle daaraan herhinner dat, terwyl hulle in die woestyn gedwaal het, hul klere en skoene nie verslete geraak het nie, maar behoue gebly gedurende die hele tyd wat hulle in die woestyn was.


Verstaan julle wat God hier vir die kinders van Israel sê? Ek hoop so, want Hy kon dieselfde sê vir diegene in Israel, selfs vir ons wat hierdie kommentaar nou lees! Ja, ten spyte van alles wat God vir die kinders van Israel gedoen het, het hulle dit steeds nie ter harte geneem nie. Moses het hulle gevolglik bestraf vir hul afgestompdheid van hart en gebrek aan insig, veral na wat God vir hulle gedoen het en hulle Hom steeds nie ten volle vertrou het nie. Hy het gehoop dat hulle dan beter sou wees as hul ouers en grootouers, wat vanweë hul ongeloof in die woestyn omgekom het, maar dit het nie gebeur nie. Verstaan julle dit nou?


Ek wil graag hê dat ons die kinders van Israel se vordering deur die geskiedenis moet volg omdat hulle 'n geskiedenis gehad het van geen insig nie. Ons het in hierdie week se oordenking gelees van Moses se bestraffing van Israel oor hul gebrek aan geloof en vertroue. Duisende jare later sien ons dat niks verander het nie, omdat hulle weereens dieselfde verneem het van 'n ander profeet:


Jesaja / Yeshayahu {6:10} "Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie."


God het baie profete voor en na Jesaja gestuur, maar die kinders van Israel het steeds nie daarop ag geslaan nie. Honderde jare na Jesaja, hierdie keer in die Hernieude Verbond, wat vind ons? Die apostel Paulus se vir die kinders van Israel presies dieselfde.


Romeine / Romim {11:8} "Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe."


Dit is betreurenswaardig dat nou, selfs na 'n verdere duisend jaar verloop het van Paulus tot vandag toe, kan presies dieselfde vir die kinders van Israel gesê word: hulle het steeds nie gehoor gegee nie. Treurig, is dit nie?

Het Moses, Jesaja en Paulus dan vir die kinders van Israel gesê dat hul oë het wat nie kan sien nie en ore wat nie kan hoor nie omdat God hul sinne verdof het? Nee, hulle was alreeds verdof en hulle het dit aan hulself gedoen. Hulle het dit vir die kinders van Israel gesê omdat God hulle tot hul sinne wou bring!


Indien julle afgewaal het daarvan om God te hoor, vanweë die hardheid van jul harte en jul ongeloof, dan maak dit nie saak wat enigeen vir julle sê aangaande God en Sy waarhede nie, ongeag hoe welsprekend iemand die evangelie aan julle mag voordra, of welke wondertekens julle sou sien wat gebeur, sal julle nogtans oë hê wat nie kan sien en ore wat nie kan hoor nie.


Lukas / Uri {16:31} "Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan."


Stel julle voor om veertig jaar lank in die woestyn te dwaal, sonder dat julle klere en skoene verslete raak! Ek is seker daarvan dat mense vandag sal sê dat indien dit met hulle gebeur het, dan sou hulle glo. Die feit van die saak is egter dat hulle nie sou glo nie!


Ons skrif van Lukas bevestig dit. Selfs vandag, met die herlewing van die Messiaanse Judaisme na 'n stil tydperk van duisende jare, die heftige verwerping van die Messias deur die tradisionele Joodse gemeenskap, behoort dit voldoende bewys te wees dat tradisionele Jode steeds verhard van hart en doof vir die waarheid is.

Mense glo nie – nie dat daar 'n gebrek aan voeldoende bewys is dat Jesus die Messias is nie – vanweë die verhardheid van hul harte. Die menslike hart is inherent boos en gevolglik is mense die vyand van God.


Yirmeyahu (Jeremiah) {17:9} "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?"


Die moderne Staat van Israel het soveel groot wondertekens oor die afgelope 60 jaar beleef. Die totstandkoming van die Staat van Israel in slegs een dag is maar een daarvan. Die oorlog van 1948 is 'n ander en die Sesdagoorlog selfs 'n verdere een. Tot hede toe is daar voortdurende verslae oor wondertekens wat steeds plaasvind, maar ten spyte daarvan volhard hulle met blindheid, doofheid en ongeloof.


Psalm / Mizmor {81:10} “Ek is die HERE jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul. {81:11} Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. {81:12} Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel. {81:13} Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel! {81:14} Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek."


Die feit dat Israel, sedert die totstandkoming daarvan, nie 'n oomblik van ware vrede beleef het nie, is voldoende bewys dat hul volgehoue verhardheid van hart voortduur. Bid dus vir hulle – bid dat hulle hul Messias mag sien en gered word!


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved