Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Saterdag 29 Januarie 2011
Derhalwe Is Ek Hier
Saterdag 22 Januarie 2011
Daar Is ‘n Stryd En Ons Is Die Beloning
Saterdag 08 Januarie 2011
Lewe Met Die Swaard en Sterf Met Die Swaard
15 Januarie 2011 / Shevat 10 5771
Wanneer Om Te Laat Gaan / BeShalach
Eksodus / Shemot 13:17 – 17:16
Eksodus / Shemot {3:17} “Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte. {13:18} Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek.”
Dit was vir my interessant toe ek in hierdie verse lees dat die kinders van Isarel inderdaad gewapen was met hulle uittog uit Egipte. God sou hulle egter nie naby die Filistyne langs lei nie, ingeval hulle uit vrees vir oorlog, na Egipte sou wou terugkeer. Ek het altyd gemeen dat as jy jouself bewapen, moet jy daarop voorbereid wees om dit te gebruik. In hierdie geval was die kinders van Israel egter bewapen maar nie bereid om te veg nie!
Daar was al heelwat meningsverskil en bespreking oor die feit of gelowiges in Jesus die Messias oor vuurwapens behoort te beskik aldan nie. Vóór my bekering tot die Here, terwyl ek in Florida (‘n staat waar meeste burgers vuurwapens besit) woonagtig was, het ek ook ‘n vuurwapen besit; trouens ek het meer as een besit. Ek het ‘n vuurwapen by my gedra en een in my motor aangehou. Nadat ek gered is, het ek egter van al my vuurwapens ontslae geraak en my veiligheid en sekuriteit aan die Here toevertrou. Met vrymoedigheid kan ek verklaar dat vanaf daardie dag, die Here selfs in hierdie opsig getrou was. Beteken dit dus dat gelowiges in Jesus die Messias nie ‘n vuurwapen vir selfverdediging moet besit nie? Ek moet erken dat ek nie heeltemal seker is daaroor nie. Daar is soms sulke “gemengde” boodskappe in die Bybel.
Ons is almal bewus daarvan dat God moord hoegenaamd nie goedkeur nie, maar dit is verantwoordelik om te sê dat as jy ‘n vuurwapen besit, jy beslis daarop voorbereid moet wees om dit te gebruik. Dit bring ‘n mens voor ‘n problem te staan: indien jy per ongeluk iemand doodskiet, kan die owerhede dit as moord klassifiseer – ten spyte daarvan dat moord hoegenaamd nie jou bedoeling was nie. God keur egter oorlog goed, wat vanselfsprekend sowel wapens as dood behels. Dan is daar in die Bybel nou weer verse soos hierdie:
Lukas / Uri {22:35} “En Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie. 22:36 Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ‘n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ‘n swaard koop.”
Klaarblyklik het Jesus die dra van ‘n wapen in vredestyd goedgekeur, met die bedoeling dat dit nie gebruik sou word vir ‘n regering-gesanksioneerde oorlog nie. Soos ons weet, het Petrus (Kefa) op die Olyfberg ‘n wapen gebruik, wat impliseer dat hy die wapen moes besit het. In daardie Skrifverband lees ons:
Mattheüs / Mattitayu {26:52} “Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.”
Hierdie Skrifgedeelte word dikwels aangehaal deur sommige persone wat teen die dra van (vuur)wapens gekant is, maar spreek Jesus Hom werklik daarteen? Ek dink nie so nie. Waarskynlik het Jesus verwys na diegene wat reeds onderweg was om Hom gedwonge met wapens van hul eie gevange te neem. Jesus het hier slegs geprofeteer oor die wyse waarop hierdie persone self sou omkom, welke profesie inderdaad deur die Romeine ten uitvoer gebring is. Hulle het met wapens gekom om die oorhand oor Hom te kry maar hulle sou self deur wapens omkom. Dan is daar egter Skrifgedeeltes soos hierdie een:
Psalms / Tehillim {37:39} “Tau. Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid. {37:40} En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.”
Sekerlik sou hierdie Skrifgedeelte en soveel meer soortgelyke verse te kenne gee dat dit nie vir ons nodig is om onsself met wapens te verdedig nie. Ons is egter bewus daarvan dat Dawid, voor en nadat hy koning van Israel geword het, meeste van die Psalms geskryf het wat betrekking op God as ons beskerming, het, maar dat hy nietemin altyd swaar gewapen was.
Wat is dus my gevolgtrekking en antwoord op die vraag of gelowiges in Jesus die Messias gewapen moet wees aldan nie? Dit skyn asof daar geen klinkklare Skriftelike bewys is wat die dra van wapens verbied nie, maar laat ons onthou dat indien jy ‘n wapen dra, moet jy gereed en bereid wees om dit te gebruik indien nodig. Andersins mag dit met jou soos met Petrus, ‘n visserman, die geval wees, wat Jesus met ‘n swaard probeer verdedig het toe hy na alle waarskynlikheid die hoëpriester se slaaf probeer onthoof het, maar slegs daarin geslaag het om sy oor af te kap. Sou Jesus nie dáár gewees het om tot sy redding te kom nie, het Petrus gevaargeloop om self onthoof te word.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Slegs Die Messias Kan Dit Uitdryf
8 Januarie 2011 / Shevat 3 5771
Gaan / Bo
Jeremia / Yirmeyahu 46:13 – 28
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 11:20 – 34
1 Johannes / Yochanan Aleph {2:18} “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.”
1 Johannes / Yochanan Aleph {4:3} “en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.”
Uit die bovermelde Skrifgedeeltes, sal julle sekerlik saamstem dat Johannes ‘n ernstige waarskuwing aan ons rig aangaande die gees van die anti–Messias; trouens, ons word gewaarsku dat hierdie gees alreeds in die wêreld bedrywig is. Hierdie gees, waarna Johannes verwys, is nie ‘n persoon nie; dit kan dus ook nie betrekking hê op die bees, in die boek Openbaring (Hitgalut), nie. Dit is ‘n werklike gees, ‘n anti-Messias gees, wat Jesus as God verloën en ook die Vader verloën. Hierdie gees is inderdaad sedert die val van Lucifer uit die hemel, in die wêreld bedrywig. Uit die bovermelde Skrifaanhaling is dit duidelik dat dié gees aktief was in die tyd van Johannes, toe hy sy sendbrief geskryf het en ons sal sien dat dit al bedrywig was in Egipte toe Moses die Farao probeer oorreed het om die kinders van Israel te laat trek. Dié gees is tot vandag toe nog bedrywig. Dit is ‘n bedrieglike, leuenagtige en beherende gees. Ons sien sy bedrywigheid in parasha Bo.
Eksodus / Shemot {10:7} “Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie? {10:8} Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan? {10:9} En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir die HERE hou. {10:10} Toe sê hy vir hulle: Mag die HERE só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë. { 10:11} Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe. ”
{10:24} “Toe het Farao Moses laat roep en gesê: Gaan heen, dien die HERE; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan.”
Uit hierdie Skrifgedeeltes, kan ons werklik die beherende aard van die anti-Messias-gees sien en in welke mate dit oor Moses en die kinders van Israel beheer probeer uitoefen het. “Julle kan gaan, maar nie julle kinders nie.”. “Julle en julle kinders kan gaan, maar nie julle vee nie.”. Dit was dieselfde gees wat in Sowjet-Rusland geheers het en wat nou in ander kommunistiese – en onderdrukkende diktator-beheerde lande heers.
In Kuba mag gesinne nie as ‘n eenheid buite die landsgrense reis nie. Die kinders moet agterbly en soms sowel die kinders as een van die ouers. Toe die aanvanklike aantal Jode die voormalige Sowjet-Unie verlaat het, is hulle slegs toegelaat om na Israel te gaan, op voorwaarde dat alles wat hulle besit het, agtergelaat moes word. Hulle is toegelaat om slegs dit wat in één tas pas, saam te neem en die kontantbedrag is beperk en aangeteken.
Sien julle die ooreenkomste tussen die voorwaardes waaronder die Farao, die kinders van Israel gestel het vir hul vertrek uit Egipte en die vereistes wat hedendaagse tiranne hul mense oplê? Dieselfde anti-Messias-gees, wat aktief die Farao beheer het, is steeds aktief en bedrywig.
Feit is dat hierdie bedrieglike-, leuenagtige-, beherende gees nie tot regerings, diktators en tiranne beperk is nie. Dieselfde gees is moontlik aktief in jóú aan die werk. Indien jy ‘n chroniese leuenaar en bedrieër is, as jy voorgee om meer te wees as wat jy waarlik is, as jy ‘n beherende tipe persoon is of ‘n konstante klakous, dan is hierdie anti-Messias–gees in beheer van jou en slegs gebed en Jesus die Messias kan jou verlos!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Saterdag 01 Januarie 2011
God Maak Nie Foute Nie / Die Keuse Berus By Ons
1 Januarie 2011 / Tevet 25 5771
God Maak Nie Foute Nie / Die Keuse Berus By Ons
En Ek Het Verskyn / VaEra
Esegiël / Yechezkel 28:25 – 29:21
Eksodus / Shemot {9:17} “Versit jy jou nog teen my volk, dat jy hulle nie wil laat trek nie? {9:18} Kyk, Ek sal môre omtrent sulke tyd ‘n baie swaar hael laat reën soos wat in Egipte nie gewees het van die dag af dat dit gegrond is tot nou toe nie. {9:19} Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe. {9:20} Hy wat die HERE se woord gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy slawe en sy vee in die huise laat vlug; {9:21} maar hy wat op die HERE se woord geen ag gegee het nie, het sy slawe en sy vee in die veld laat bly.”
God het die Farao en Egiptenare vroegtydig gewaarsku vóór elk van die plae wat Hy oor hulle land gebring het. Hierdie is egter die enigste plaag waar Hy die mense vooraf waarsku en hulle bevel om hul vee in veiligheid te bring. Dit is ook die enigste plaag waar Hy die mense waarsku om nie na buite te gaan indien hulle nie wil sterf nie. Volgens ons rabbynse wysgere, was die haelstene geweldig groot; trouens, om die lewe van ‘n vier – tot seshonderd-pond koei te bedreig, moes dit inderdaad groot gewees het. Volgens die Skrif, het waarskynlik nie almal in Egipte op God se waarskuwing ag geslaan nie, behalwe ‘n geringe aantal van diegene wat reeds die voorafgaande plae belewe het en nou die God van Israel gevrees het. Dit was die enigstes wat dié waarskuwing gehoorsaam het. Wat was dus die gevolg van ongehoorsaamheid en om nie God se waarskuwing ernstig op te neem nie? Hulle asook hulle vee het omgekom en dit was nie God wat vir hul dood aanspreeklik was nie – dit was hulle eie keuse.
In die hedendaagse Israel is dieselfde maatreël toegepas om die inwoners van Gaza te waarsku om sekere tye, tydens die laaste Gaza-oorlog, binnenshuis te bly. Hul verontagsaming van die waarskuwings, sou, soos aan hulle gesê is, hulle in gevaar stel en moontlik tot hul dood lei. Pamflette is versprei waardeur inwoners in bepaalde areas en woonbuurte gewaarsku is dat die Israeli-Verdedigingsmag van voornemens was om dáár militêre operasies uit te voer. Die verdedigingsmag was dus nie aanspreeklik vir die dood van daardie burgerlikes wat nie op die waarskuwing ag geslaan het nie – die keuse was hulle s’n. Israel het sy eie troepe in gevaar gestel om hierdie waarskuwings uit te reik – dit was dus die korrekte optrede.
Deuteronomium / Devarim {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2} En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. {28:15} Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. {28:20} Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het.”
Net soos die Egiptenare moes besluit om God se waarskuwings te gehoorsaam – aldan nie – en sowel hulle lewens as dié van hul vee te red, net so moes die inwoners van Gaza-stad besluit of hulle aan die waarskuwings van die Israeli-Verdedigingsmag sou gehoor gee en in hul huise bly; eweneens moet ons ook besluit of ons God se waarskuwing gaan gehoorsaam. God het ons in Sy Woord – hierbo aangehaal – gewaarsku, deur aan ons die gevolge van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan Sy gebooie, uiteen te sit. Dit is dus nou vir óns om te besluit wat ons gaan doen! God sal nie aanspreeklik wees indien ons die verkeerde besluit neem nie: die keuse berus by ons.
Daar is ‘n kritieke vermaning in die Skrif, wat ek ten slotte met julle wil deel: dit is ‘n waarskuwing waarop ons almal moet agslaan en dit gehoorsaam. Ek glo dat dit die finale waarskuwing deur God is:
Johannes / Yochanan {14:6} “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
1 Johannes / Yochanan Aleph {2:23} “Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.”
Noudat julle hierdie vermaning het, wat gaan julle daaromtrent doen? Die keuse berus by julle.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou