Saterdag 28 Desember 2019

Wat Verraai Jou Hart?

Miketz
(Aan Die Einde) 


Genesis {42:8} "En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie. {42:9} Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is. {42:10} Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. {42:11} Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie."

Dit is die eerste keer in die Skrif waar ons verneem dat daar politieke spioene gedurende die tydperk voor Moses was. Koning Salomo was inderdaad reg toe hy gesê het:

Prediker {1:9} "Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie."

Die vernaamste spioene in die Skrif is die twaalf stamhoofde wat deur Moses gestuur is om die land Kanaän te gaan verken - dit het beslis nie goed afgeloop nie! Ons lees ook in die Skrif dat die Fariseërs spioene gebruik het om ondersoek in te stel en meer van die Man van Galilea te gaan uitvind. Hulle het ook spioene gebruik om redes te vind teneinde Hom van ‘n ernstige misdaad aan te kla; hulle wou Jesus dood en uit die pad hê. Alle lande van die wêreld gebruik spioene om inligting of ‘n sekere tipe voordeel oor vreemde regerings te bekom. Dit maak egter nie saak of hulle vriend of vyand is nie, lande spioeneer steeds op mekaar. Hedendaagse Israel gebruik ook spioene. Een van die bekende spioene Jonathon Pollard, is onlangs eers vrygelaat na dekades in gevangeskap in die Verenigde State. Die mees bekende spioen in Israel was Eli Cohen, wat van 1961 - 1965 op Sirië gespioeneer het en aansienlike voordele vir Israel oor Sirië teweeggebring het; trouens, in elke stad in Israel is ‘n straat na hom vernoem.

Wanneer hulle in hegtenis geneem word, erken niemand dat hulle spioene was nie, tensy hulle miskien gevang word terwyl hulle op die land spioeneer waar marteling aangewend word om ‘n bekentenis af te dwing. Ongelukkig ontken ‘n land vir wie hulle spioeneer het in meeste gevalle, dat die spioenasie vir hulle geskied het of selfs dat die spioene aan hulle bekend is en word sodanige spioene aan hulle eie genade oorgelaat om hulself te verdedig. Ek beskou dit as ‘n prys wat ‘n mens moet betaal om ‘n spioen te wees.

Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat spioenasie betreklik algemeen in die antieke Midde-Ooste was en selfs moontlik ‘n probleem tydens Josef se onder-koningskap in Egipte was. Indien dit nie die geval was nie, is ek seker dat Josef iets anders sou gekies het om sy broers van te beskuldig. Dit is egter nie die feit dat Josef sy broers van spioenasie beskuldig het, wat my opgeval het nie, maar wel sy broers se reaksie op die beskuldiging

Genesis {42:11} "Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie."

Dit is beslis seker dat sy broers nie besef het vir wie hulle dit gesë het nie - Josef het geweet dat hulle enigiets behalwe eerlike manne was! Hulle het, trouens, pas vantevore vir hom gelieg deur te insinueer dat hy dood was, terwyl hulle hom op hartelose wyse teen ‘n wins verkoop het aan ‘n groep Midianiete. Ongeag hiervan, glo ek egter dat hierdie tien manne hulself werklik as eerlike mense beskou het, ten spyte van die skuld, waaronder hulle verkeer het vanweë die onreg wat hulle alles aan hulle broer Josef, gedoen het. Dit is tog verbasend welke verwronge beeld ons aangaande onsself in ons gedagtes kan versin.

Kan jy nog onthou wat jy van jouself gedink het voordat jy gered is? Toe het geeneen van ons onsself as sondaars beskou nie! Ek weet nie van julle nie, maar ek het myself deurgaans as ‘n goeie persoon beskou. Na my mening was ek meelewend, vrygewig, liefdevol, bedagsaam, onselfsugtig en ‘n lojale vriend of, so het ek gedink totdat ek gered is. Toe het ek myself gesien, soos wat God my sien -  dít was nie aangenaam nie. Selfs noudat ons gelowiges is, ten spyte daarvan dat ons almal nog veel het wat uit ons lewens verwyder moet word, beskou meeste van ons - daarvan is ek oortuig onsself as beter as wat ons werklik is.

Die probleem met Josef se broers, wat ook ons probleem is, is dat ons onsself beoordeel volgens ons eie maatstawe in plaas van God s’n. Josef was deeglik bewus van die feit met wie hy te doen gehad het, maar by sy broers het dit ontbreek. Josef moes hulle dus eers deur die skyn lei voordat hulle finaal besef het dat hulle na alles nie sulke “eerlike manne” was nie.

Josef, weet ons, is ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias. Daarom, as ons oorweeg wat Josef moes doen om sy broers se oë te open vir die realiteit van hulle ware aard, dink net wat Jesus moontlik aan jou moes gedoen het om jou ware aard bloot te lê. My raad is, selfs indien jy gered is en in Jesus die Messias glo as jou Here en Redder, bely dat jy nog lank nie volmaak is nie en vra  die Here om jou saggies tot ‘n verandering te lei.  

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Saterdag 21 Desember 2019

Jaloesie

Vayeshev
(En Hy Het Geskik)


Terwyl ons hierdie gedeelte van die Bybel deurlees, wil ek graag kyk na wat, tussen Yoseph (Josef) en sy broers gebeur het. God werk op bonatuurlike wyse op die natuurlike gang van sake in, Hy werk met doodgewone mense wat hulle lewens baie soos ons s’n voer, wat van dag tot dag spartel, besluite moet neem en keuses moet uitoefen, wat Hy uiteindelik gebruik vir Sy doel en Sy heerlikheid. Dit is natuurlik op dieselfde wyse as wat Hy met ons werk, of ons dit nou besef of nie. Eindelik sal elke besluit - goed of sleg - wat ons neem, deur God aangewend word vir Sy doel en tot Sy heerlikheid.

Genesis {37:3}"Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. {37:4} God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei."

Genesis {37:8} "God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag."

Genesis {37:19} "Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag. {37:20} Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”

Onderlinge wedywering tussen broers en susters is geensins vreemd vir my nie, aangesien ek saam met twee broers en ‘n suster grootgeword het, wat beslis nie sonder konflik was nie. Indien ek my gesinslewe in oënskou neem, reken ek dat ‘n mens kan sê dat ek ietwat soos Josef was. As oudste seun, het my vader my tog ‘n bietjie voorgetrek en ek is seker dat my broers en suster, dit ergerlik gevind het. Ek moet egter toegee dat dit nooit die punt bereik het wat hulle my wou dood hê nie, maar ek is seker dat dit ongetwyfeld tot onderlinge spanning gelei en jaloesie tot gevolg gehad het.

Op grond van wat hulle gesê het, is dit duidelik dat Josef se broers uiters jaloers op hom was en wel in só‘n mate dat dit hulle gedryf het tot wat hulle met hom gedoen het. Hulle was egter nie die enigste Bybelse karakters wat afguns openbaar het nie: Kain was jaloers op Abel; Sarai was jaloers op Hagar; Saul was was afgunstig op Dawid en Joab op Abner. Waartoe het die jaloesie hulle uiteindelik gedrywe? Kain het vir Abel doodgemaak, Sarai het Hagar weggejaag, Saul het Dawid agtervolg en Joab het Abner doodgemaak.

Mense is om verskillende redes jaloers. Dit kan wees as gevolg van voorkoms, geld, ‘n geliefde, goed (geld, elektronika, ens.), begunstiging, werk, salaris, wonings, motors, families, vakansies, aansien: noem dit op en mense kan daaroor jaloers wees. Die probleem is egter dat jaloesie vernietigend is vir sowel die persoon wat afgunstig is as dié een waarop hulle jaloers is. Jaloesie is ‘n negatiewe menslike emosie!

Spreuke {6:34} "want jaloersheid is ’n toorngloed in ’n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;"

Spreuke {27:4} "Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?"

Hooglied {8:6} "Dra my soos ’n seëlring op u hart, soos ’n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ’n gloed van vuur, ’n vlam van die HERE."

Jaloesie is ‘n sondige toestand van die menslike siel wat kan lei tot woede, wraak, haat en selfs moord. Dus, dink ek, dat ons uit ons Parasha oor Josef en sy broers móét leer dat in plaas van jaloers te wees, begin om vergenoeg te wees, ongeag wat ons toestand of aansien in die lewe is. God het ‘n plan en ‘n plek vir ons. Dit mag miskien nie so voortreflik soos ‘n ander persoon s’n wees nie, maar dit is nietemin Sy plan vir ons. Dink daaroor: God sou jou nie in die wêreld gebring het indien daar reeds iemand anders was om jóú plek vol te staan nie.

1 Korinthiërs {7:17} "Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes."

My gebed vir jou en elkeen wat hierdie kommentaar lees, is dat julle gereeld die volgende spreuk sal opsê en julle persoonlike gebed maak:

Spreuke {30:7} "Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: {30:8} Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is;{30:9} dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie."

Kom gou Jesus!

PDF weergawe



Donderdag 12 Desember 2019

Vinnige Gevolgtrekkings

VaYislach
(En Hy Het Gelewe)


Genesis (32:13-8} "En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, ’n geskenk geneem vir sy broer Esau: {32:14} tweehonderd bokooie en twintig bokke, tweehonderd skaapooie en twintig ramme, {32:15} dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels; {32:16} en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat ’n plek oop tussen trop en trop. {32:17} Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s’n is die goed daar voor jou? {32:18} dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s’n. Dit is ’n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan."

Wanneer mense my vra of ek oefen, antwoord ek grappender wys: “Ja, ek kom redelik gou tot gevolgtrekkings”. Met inagneming van die bovermelde Skrifgedeelte, kan dit tot ‘n baie ernstige saak lei deur te gou tot ‘n gevolgtrekking te kom - dit kan selfs ‘n sonde wees! Laat my asseblief toe om te verduidelik.

Dikwels tydens ‘n gesprek met ander, kan ons hulle moontlik verkeerd verstaan. Ons vertolking van wat hulle sê, mag onjuis wees, deurdat hulle gesigsuitdrukkings en lyftaal verkeerd verstaan word en ons gevolglik “(te gou) tot gevolgtrekkings” kom oor hulle eintlike bedoelings. Ons ontwikkel dus ‘n “wat het hulle daarmee bedoel” - vermoede.

Esau en Jakob is twintig jaar tevore nie juis in die beste gesindheid teenoor mekaar uiteen nie. Dus is dit begryplik dat toe Jakob verneem het dat sy broer hom met vierhonderd manne tegemoet kom, hy die ergste vermoed het. Daar is in die Skrif egter geen aanduiding hoegenaamd dat Esau se voorneme enigsins minder as eerbaar was nie Sommige kommentare het beweer dat Esau gekom het om sy broer dood te maak, menende dat hy juis teruggekom het om sy erfdeel op te eis. Hulle sê dat, nadat hy die geskenke ontvang het wat Jakob vooruit aan hom gestuur en afgelei het dat sy broer welgesteld was en nie sy vader se erfenis nodig gehad het nie, sy voorneme verander het. Hierdie afleiding kon moontlik gewees het, maar nêrens in die Skrif word so’n iets aangedui nie. Indien dit wel die geval was - en ek betwyfel dit in alle erns - kon Esau ook “tot ‘n gevolgtrekking gekom” het aangaande sy broer, Jakob.

Esau was waarskynlik ‘n welgestelde man. Hy het die vlak van welgesteldheid, invloed en mag behaal wat hy gehoop het om te bereik deurdat sy vader hom as eersgeborene sou geseën het. Hy het dit alles egter sonder sy seën bereik. Sy geboortereg het vir hom geen betekenis gehad twintig jaar gelede nie en noudat hy gehad het wat hy graag wou hê - finansieel en polities - het hy dit waarskynlik selfs nog minder vir hom beteken - so waarom gegriefd voel? Esau het alles gehad en dit op “sy manier” verkry. Dit was nie langer nodig om kwade gevoelens teenoor sy broer te koester nie, wat as ‘n jonger broer hom destyds uit sy potensiële welvaart, invloed en mag verkul het.

Jakob, aan die anderkant, het die voorafgaande twintig jaar nie so goed gevaar nie. Hy het Lea as vrou ontvang terwyl Ragel die vrou van sy drome was. Hy moes twintig jaar swoeg vir feitlik niks nie. Hy was vermoënd maar het dit deur manipulasie en onderduimsheid verkry. Mense wat manipuleer, beskou elkeen anders as soortgelyk. Is dit dus enige wonder dat Jakob sy broer gewantrou het? Jakob, vanwee die moeilike lewe wat hy moes gely het, het steeds skuldig gevoel oor wat hy sy broer aangedoen het en dit het hom gelei om “tot gevolgtrekking te kom”. Julle sien dus dat indien julle nie betroubaar is nie, sal julle nie vertrou nie; indien julle verkul, sal julle altyd vermoed dat julle verkul word; as julle bedrieërs is, sal julle altyd meen dat julle bedrieg word. Dit was Jakob, dit was sy lewe en as julle voel dat dit wat ek sê, op julle betrekking het, is dit moontlik netso wel in julle lewens ook die geval! 

Wanneer dit natuurlik op spirituele vlak beskou word, was daar ‘n geweldige verskil tussen wat met Esau gebeur en wat met Jakob gebeur het oor twintig jaar. Jakob, ten spyte van al sy tekortkominge het ‘n opregte gesindheid teenoor God gehad en daarom was God besig om hom te giet en vorm in die man wat Hy bedoel het hy moes wees. Moeilike tye en omstandighede tesame met ‘n goeie gesindheid teenoor God bou karakter en teëspoed trek ‘n mens nader aan God, maar Jakob het egter nie voldoende verander nie. Daar het steeds nog te veel van sy ou self in hom geskuil en die gewoonte” om (te gou) tot gevolgtrekking te kom,” in plaas daarvan om God te vertrou, het dit bewys. Esau, aan die anderkant, was vleeslik en spiritueel dood, soos wat hy twintig jaar vantevore reeds was en nou moontlik selfs méér so. Esau se godloosheid manifesteer sigself in sy trotsheid. Ek meen dat dit die rede was waarom hy sy broer met vierhonderd  (berede) manskappe tegemoet gekom het. Dit was geensins vir magsvertoon of om moord te pleeg nie. Na my mening, was dit om te spog: “Ek het oorleef ten spyte van jou, Jakob, dus kom ek nou om jou te red van jou huislose dwalings en jou te bring om in my koninkryk te woon”.

Ek dink die les wat hieruit te leer is, is dat ons eie skuld ons eie manipulerende en suspisieuse neigings ons bedrieg “om tot gevolgtrekking te kom”; ‘n baie gevaarlike en spiritueel ontdoenende praktyk. Dit neem ons fokus weg van God en vestig dit op die self! Daar is egter ‘n “teenmiddel” en dit is:

Fillipense {4:8} "Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit."

Bied aan ander die voordeel van die twyfel totdat hulle julle verkeerd bewys, maar vertrou bo alles op die Here!! 

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Vrydag 06 Desember 2019

Engele

Vayetze
(En Hy Het Uitgegaan)

Genesis / Bereshit {28:12} “En hy het gedroom—daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. {28:13} En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; {28:14} en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. {28:15} En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. {28:16} Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. {28:17} En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.” 

Dit is verstaanbaar dat Jakob gedink het dat die plek waar hy aan die slaap geraak het, die hemelpoort was. Dit was omdat hy engele gesien het wat met ‘n leer opklim na die Hemel en afklim. Hoe dit ookal sy, kom ons wees eerlik: het engele werklik ‘n leer nodig om na en van die hemel te beweeg? Ek dink nie so nie! In die Skrif word engele beskryf as sou hulle vlerke gehad het (lees Jesaja / Yeshiyahu 6:2). Daarbenewens word dit in Hebreërs / Ivrim 13:2 beskryf dat hulle in menslike voorkoms verskyn het. Dus is dit beslis nie nodig om van ‘n leer gebruik te maak nie! Dit is egter presies wat Jakob gesien het en soos wat ek in vorige jare se parashot bespreek het, is die droom inderdaad van profetiese belang. Is daar werklik engele wat ons dag vir dag dien? Tree hulle regtig tussen beide in ons lewens soos in die geval met Jakob? Die woord vir engel in Hebreeus is “malach’ en dit beteken boodskapper. Wonder jy miskien hoeveel engele / boodskappers daar in die hemel is? 

Openbaring / Hitgalut {5:11} “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende;” 

Volgens hierdie Skrifgedeelte, is daar ten minste een honderd miljoen engele en is hulle geskep om te dien, soos in die volgende vers gemeld: 

Hebreërs / Ivrim {1:13} “En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?” 

Indien jy in Jesus die Messias as jou Here en Redder glo, dan is jy ook ‘n erfgenaam van die redding, wat hier te sprake is: die engele is dus geskep om ook jou te dien! Hier volg enkele dinge wat engele vir ons doen: Hulle beskerm ons (Psalm / Tehillim 91:11-12); hulle lei ons (Bereshit / Genesis 19:15-17); hulle bemoedig ons (Rigters / Shoftim 6:12); hulle bevry ons (Handelinge / Ma’asei HaTalmidim 12:17); hulle lig ons voor (Mattheus / Mattityahu 2:19-20 en laastens, versterk hulle ons (Lukas / Uri 22:43). 

Ons moet egter versigtig wees en altyd onthou dat God nooit deur engele vervang word nie; inteendeel, hulle rig ons altyd op God. Derhalwe moet ons daarteen waak om nooit só met engele behep te raak tot op ‘n punt waar ons God terugskuif na ‘n tweede plek in ons lewens nie. 

Ons moet ook daarteen waak om engele nie te herskep om aan ons eie wanvoorstellings te voldoen nie. Wat ons van engele weet, moet gegrond wees op wat die Bybel aangaande hulle leer en beslis nie op wat ons in films en op televisie sien of wat ons graag van hulle wil glo nie. In die Bybel verskyn die engel van God altyd in ‘n manlike gedaante. Engele is nie altyd net goed en medelyend nie! Kyk in die boek Openbaring: wie gaan die oordeel voltrek op aarde? Die engele! Moet dus nie oor engele fantaseer of glo wat die wêreld oor engele te sê het nie. Bestudeer verkieslik die Bybel en verneem wat God ons in Sy Woord oor engele leer. 

Engele word nooit aanbid nie. In die tyd van die apostel Paulus (Shaliach Shoul) was daar ‘n dogma genaamd Gnostisisme, wat die aanbidding van engele beoefen het. 

Kolossense / Kolosim {2:18} “Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid,” 

In die Bybel word na twee tipes engele verwys: Die engele van God en die engele van satan, wat demone genoem word. So waarsku die Bybel ons dat die demone van die Satan hulle soms as engele van lig voordoen, maar inderdaad demone is. 

2 Korinthiërs / Korintim Bet {11:14} “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. {11:15} Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.” 

1 Johannes / Yochanan Aleph {4:1} “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. 1 Johannes / Yochanan Aleph {4:2} Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;” 

Besef jy wat ek bedoel? Slegs omdat jy gesien het wat jy vermoed het ‘n engel was, beteken hoegenaamd nie dat dit een van God se engele was nie. Weet jy dat twee van die hoof valse gelowe in die wêreld ontstaan het as gevolg van engele? Islam is die resultaat van Mohammed wat na ‘n engel geluister het en Mormonisme, deur Joseph Smith, wat van ‘n engel genaamd “Moroni” verneem het. Elke engel is nie noodwendig van God nie! Ons moet die geeste op die proef stel om te bepaal of hulle wel van God is aldan nie. Een ding is egter seker en dit is dat daar baie engele is, geskep om diensbaar te wees aan ons, die erfgename van redding. 

Kom gou Jesus!

PDF weergawe