Saterdag 27 Augustus 2022

Die Emanasies van God



Re’eh
(Kyk)

Deuteronomium {13:6} “As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat jy en jou vaders nie geken het nie, {13:7}  uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde— {13:8}  dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie, {13:9}  maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. {13:10}  En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. {13:11}  En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ‘n verkeerde ding by jou doen nie.”

Hierdie Skrifgedeelte is myns insiens ‘n ernstige struikelblok wat veroorsaak dat Joodse mense Jesus as die Messias verwerp. Ek sal dus my uiterste bes doen om duidelikheid oor dié gedeelte te probeer verkry en verduidelik waarom dit nie op die geloof in of aanbidding van Jesus die Messias, toegepas behoort te word nie.

Indien jy ‘n Joodse persoon was en hierdie Skrifgdeelte gelees het, sou jy nie skepties gewees het as ‘n Christen na jou gekom en vir jou vertel het dat God drie persone is nie, naamlik die God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, en dat jy Hulle nou moet aanbid nie? Dit het met my persoonlik gebeur! Nadat ek intellektueel tot die gevolgtrekking gekom het dat Jesus (ek het Hom toe nog nie as Jesus geken nie!) die Messias van die Joodse mense is, het dit my jare geneem voordat ek Hom volkome aanvaar het. Dit was aanvanklik vir my selfs moeilik om die naam “Jesus” te sê, om nie eers te praat van om in Hom te glo en Hom te aanbid nie! As Jood was ek te bang om ‘n vreemde God te dien, maar dit het natuurlik alles verander en nou ken ek die Messsias van Israel persoonlik. Ek wéét wie Hy is en is dankbaar vir wat Hy vir my gedoen het. Ek ken Hom ook op die Naam wat Sy Vader aan Hom gegee het: Jesus, wat Redder beteken. Vanweë my eie persoonlike ervarings, kan ek egter begryp hoedat my broers en susters in die vlees, hierdie God in drie persone moet ervaar. 

Ek is egter nie gemaklik met die terme “Drietal” (“Trinity”) of “Drie-eenheid” nie, omdat dit die indruk wek dat daar drie gode is, wat die moontlikheid (één wat reeds plaasgevind het) laat ontstaan dat mense, veral Jode, tot die gevolgtrekking kom dat gelowiges in die Messias Jesus, veelgodery (politeïsme) beoefen. Ons weet dit is nie waar nie! Christelike liedere soos “God in drie Persone, die Heilge Drietal”, wat in vele kerke gesing word, help egter nie om hierdie valse indruk uit die weg te ruim nie.

Meeste gelowiges – Joods of nie-Joods in die Messias Jesus, wat ek al teëgekom het, sou geen probleme hê met die voordra van die “Sh’ma”, wat in Deuteronomium  / Devarim 6:4 voorkom nie: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.” Daarom is ek van mening dat die misverstand onder die Joodse gemeenskap bloot semanties is.

Ons kan nie die feit wegredeneer nie dat God een is – nie ‘n Drietal van een of Drie-eenheid van een nie, maar onteenseglik slegs EEN is. Messiaanse gelowiges aanbid geensins drie gode nie. Ook nie God Een God met drie persoonlikhede nie. Hy is Een God wat funksioneer en Homself gemanifesteer het as die Av (Vader), Ben (Seun) en Ruach Hakodesh (Heilige Gees) en dit verander hoegenaamd nie die feit van Sy Eenheid nie. 

Dit is tog eienaardig dat ofskoon die breër Joodse gemeenskap die beginsel van die pluariteit van God verwerp, dit nie ‘n Christelike konsep is nie maar eerder ‘n Joodse een. ‘n Gewilde boek (ek sal nie die titel vermeld nie) oor Joodse mistisisme, verwys na die drie manifestasies of openbarings van God nie, maar wel tien. Hierdie boek noem dit die “Sefirot”. Waar het hulle aan hierdie konsep gekom? Waarskynlik uit die Skrif! Dit is waar hulle gevind het dat God Homself op verskillende wyses aan die mens openbaar. Met inagneming hiervan, toon ek julle na, ‘n voorbeeld, uit die Skrif, van die pluraliteit van God:

Jesaja {48:12} “Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. {48:13}  Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam. {48:14}  Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die HERE liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die Chaldeërs. {48:15}  Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees. {48:16}  Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here HERE my met sy Gees gestuur.”

In vers 12 deur die middel van vers 14, verwys die spreker van hierdie verse na Homself as die Een wat Israel geroep het, wat die Eerste en die Laaste is. Dan in vers 13 beskryf dieselfde spreker Homself as die Skepper van hemel en aarde. Dit is dus heel duidelik dat die Spreker in vers 12 deur die middel van vers 14, God is. In hierdie verse spreek God, die Spreker, skynbaar oor Homself, maar doen dit in die derde persoon. Dit mag aanvanklik voorkom asof God na iemand anders verwys – moontlik Sirus, koning van Persië – maar lees weer vers 16. In hierdie vers is dit duidelik dat die spreker steeds God is, maar Hy beskrywe twee persone wat die sending verrig, plus ‘n meervoudige werkwoord wat gebruik word. Wat in effek hier gesê word, is dat God en Sy Gees vir God gestuur het. Derhalwe is dit duidelik dat Jesaja in hierdie gedeelte die pluraliteit van God beskrywe; in hierdie geval, drie manifestasies.

Daarbenewens, verwys ek graag na die volgende Skrifgedeeltes wat die Messias as God beskrywe:

Miga {5:2} “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.”

Jeremia {23:5} “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. {23:6} In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.”

Beide hierdie gedeeltes is ongetyweld Messiaans en albei verwys na die Messias as synde God.

Ten slotte wil ek graag daarop wys dat die gedeelte uit ons Torah-deel van hierdie week – Parasha Te’eh – nie van toepassing is op Messiaanse gelowiges wat Jesus die Messias aanbid nie. Vandeesweek se gedeelte is eerder van toepassing op heidense afgodery: die aanbidding van heidense gode, soos wat die volkere van Israel moes gaan onteien.

Kom gou Jesus!


Donderdag 18 Augustus 2022

Het Jy Hom Lief?



Ekev
(Gevolglik)

Deuteronomium {8:2} "En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan."

Toe ek hierdie verse van Parasha Ekev gelees het, het my hart uitgegaan na al die mense wat nie langer die Here volg nie omdat hulle geloof vernietig is deur wederwaardighede en beproewings wat in hulle lewens ondervind is. Ek is bewus van telkemale wanneer ‘n tragedie oor ‘n familie kom, hulle pleks van nader aan die Here beweeg, hulle eerder verder wegbeweeg het. Hoe jammer is dit tog nie! Het die tragedie werklik onthul wat in die eerste instansie in hulle harte was? 

Ja, dit het en dit is nie vir my om so te sê nie, dit is die Here!

Indien ons wil weet hoedat God met ons handel, hoef ons slegs die Bybel te raadpleeg. Ons God is dieselfde gister, vandag en môre, want Hy verander of dwaal nooit af daarvan nie. Soos wat Hy met die kinders van Israel gehandel het, is presies dieselfde as wat Hy met ons handel.

In vandeesweek se Parasha vertel die Here ons dat Hy die kinders van Israel die wildernis ingestuur en hulle toegelaat het om honger te ly, en ek kan byvoeg, dors te ly, sodat Hy hulle so kon verootmoedig dat hulle kon bewus word van wat in hulle harte aangegaan het. Dit is dus maklik vir mense om die Here lief te hê, Sy gebooie na te kom eredienste gereeld by te woon, te dien en tiendes te gee wanneer dit met hulle goed gaan en hulle geseën word. Hoe raak dit egter hulle verhouding met en toewyding aan God wanneer ‘n probleem, tragedie, swaarkry of beproewing op hulle pad kom? Wat doen hulle dan? Volgens die Here, is dit die ware aanduiding van egtheid van hulle geloof. Dit is soos ‘n weermag. Die offisiere weet nooit waartoe voetsoldate in staat is alvorens hulle in ‘n oorlogsituasie teen die vyand moet optree nie. Leiers neem dus altyd waar en evalueer die beste troepe se optrede. Dit is dan diegene wat hulle vertrou en gebruik om die taak uit te voer. Dit is wat God met Israel gedoen het en wat Hy ook met ons doen!

Ek het al dikwels by gemeentelede navraag gedoen wanneer ek hulle nie tydens Sabbatsdienste gesien het nie en verneem dan dat hulle tuisgebly het omdat hulle na ‘n week se harde werk te moeg, depressief of ietwat ongesteld was; nogtans het hulle op ‘n Sondag sekere take verrig en was Maandag by die werk asof niks gebeur het nie. Dit was jammer, want dit was eerder asof die Here hulle getoets het en hulle het gefaal! Hy het moegheid, depressie ’n ligte ongesteldheid oor hulle laat kom om hulle op die proef te stel sodat hulle sou besef wat in hulle harte was. Julle mag moontlik vra: 

“Hoe kan ’n liefdevolle God dan so iets doen?” 

Sou God werklik depressie oor ‘n persoon laat kom?” Wel, as ons glo wat in die Bybel geskryf is, sal ons dit nie eers hoef te bevraagteken nie. Ja Hy sou; om te openbaar wat werklik die gesindheid van ons harte is! 

Indien Hy Israel vir veertig jaar in die wildernis gestuur het en hulle laat honger en dors ly het met die doel om hulle harte te openbaar, waarom sou Hy ons nie ook op die proef stel nie?

God vereis dat ons Hom eerste in ons lewens stel, wat vanselfsprekend een van Sy gebooie is; trouens, dit is die vernaamste van almal:

Deuteronomium {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"

Indien iemand die Here liefhet met hul hele hart en met hul hele siel en met hul hele krag, sal hulle hul werk vóór Hom stel? Sal hulle toelaat dat depressie tussen hul en God kom? 

Sal hulle nie kom en Hom aanbid selfs as hulle ietwat ongesteld is nie? Nogtans stel baie gelowiges in Jesus die Messias vir God tweede. Hulle plaas die wektuigkundige, die verhuising, die televisie-hersteller, die internet-tegnikus en dies meer vóór Hom en verwag natuurlik dan steeds om geseën te word.

Tydens my jare as Messiaanse gemeente leier, het mense my ingelig dat hulle nie eredienste hoef by te woon om God te aanbid nie - hulle kan dit netso effektief in die privaatheid van hulle eie wonings nakom. Ja, ons kan God tuis aanbid en ons behoort dit te doen, maar dit moet nie die bywoning van eredienste vervang nie. Die Bybel is nie aan indiwidue gegee nie, maar wel aan ‘n byeenkoms van ‘n gemeente en dit is waarom die skrywer van Hebreërs dit pertinent soos volg verduidelik:

Hebreërs {10:24} "en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25} en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom."

Ek dink ons moet dit behoorlik insien dat ons dit nie op ons eie manier van doen kan systap nie. Ons sal dit aan onsself moet bewys en ofskoon dit moontlik probleme en ongerief vir ons mag meebring, kan daar nooit ‘n kompromis met die Here aangegaan word nie.

Jesus die Messias het dit op die heel beste wyse soos volg gestel:

Matthéüs {10:37} "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. {10:39} Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind."

Jesus vertel vir ons presies dieselfde as die verse wat ek aan die begin aangehaal het. Hy sê dat Hy ons sal toets ten einde ons toewyding aan Hom op die proef te stel. Hy sal dit doen deur ons familie, deur ons vriende, deur ons stokperdjies of deur enigiets anders wat ons gesindheid teenoor Hom te bepaal. Alles in ag genome, sê Jesus die Messias: 

Deuteronomium {6:5} "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. {6:6} En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;"

Het julle Hom op hierdie wyse lief?

Kom gou Jesus!





Sondag 14 Augustus 2022

Liefde

Va'Etchanan 
(En Ek Het Gepleit)

Deuteronomium {3:23} "Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24} Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25} Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon! {3:26} Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.”

Dit was nie vir my nodig om baie ver in ons oordenking vir hierdie week te lees nie, voordat ek iets gevind het om kommentaar oor te lewer; trouens, ons het hierdie einste onderwerp drie weke gelede tydens ons Sabbatoggend Tora-studie behandel. Wat ons bespreek het, was: "Waarom verhoor God soms nie ons gebede nie?" Waarom is dit dat, indien ons bid vir sake soos die genesing van 'n familielid of 'n baie vroom persoon of ons bid vir die redding van 'n vriend of familielid of enigiets anders ookal, wat ons in verband met die wil van God bring, verhoor God ons nie? In die hernieude Verbond staan daar immers dat wat ons ookal vra, Hy aan ons sal gee.

Johannes {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

Waarom is dit dus so dat in die week se oordenking, Moses God vra om hom toe te laat om in die Beloofde Land in te gaan, maar dit hom geweier word? Sekerlik, soos ons bewus is, het Moses 'n persoonlike verhouding met God gehad - Moses het tog van aangesig tot aangesig met God gespreek. Daarom, eenvoudig gegrond daarop, sou 'n mens verwag het dat sy versoek toegestaan sou word. Nogtans het God geweier.

Baie gelowiges raak moedeloos of verloor selfs hulle geloof, wanneer hulle Johannes 14:13 gelees het, maar hulle gebede nie verhoor word nie. God het egter nooit gesê dat hy al ons gebede sal verhoor nie. Ons moet dus kyk na Jesus se verklaring, binne die konteks waarin Hy gespreek het, voordat ons tot die gevolgtrekking kan kom dat God alles wat ons vra, sal gee. Om daardie konteks beter te begryp, moet ons die volgende lees:

Johannes {14:10} "Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. {14:11} Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. {14:12} Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan."

In hierdie gedeelte word ons vertel dat Jesus die werke van die Vader doen omdat die Vader in Hom is en Hy in die Vader. Jesus verklaar dus dat Hy niks op eie inisiatief doen nie. Alles wat Hy doen, word gedoen omdat die Vader in Hom bly. Dan sê Jesus verder dat as ons in Hom glo, sal ons ook die werke doen wat Hy gedoen het - trouens, selfs groter werke as dit. Indien ons in Jesus glo, bly Hy in ons en ons in Hom en op grond daarvan, kan Hy deur ons soortgelyke of groter werke doen, as wat Hy gedoen het. Die konteks van hierdie gedeelte is dus Sy inwoning en deur hierdie inwoning, ons vermoë om "werke" te doen en "selfs groter werke". Dan sê Jesus verder:

Johannes {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

As die onderwerp waaroor Jesus spreek , ons "werke" is, wat die gevolg van Sy inwoning in ons is, dan moet die "wat julle ookal in My Naam mag vra" op daardie onderwerp betrekking hê. Wat bedoel Jesus dus eintlik wanneer Hy sê dat wat ons ookal van Hom bid, Hy aan ons sal gee? As die "wat.....ookal" werke is en die voorbeeld wat Jesus ons gee, is dat Hy niks buiten die wil van Sy Vader se inwoning doen nie, dan moet presies dieselfde ook op ons van toepassing wees. Deur Jesus se inwoning in ons, kan ons niks buiten Hom doen nie. In daardie geval, wat is daar dan wat ons kan vra, wat Hy aan ons sal gee, indien ons niks buiten Hom kan doen nie? Dit is "werke" en "selfs groter werke"! Dit is egter nie net enige soort werke wat Jesus sê Hy aan ons sal gee wanneer in Sy naam daarvoor bid nie, maar spesifieke "werke", soos aan ons gesê word: 

Johannes {13:34} "‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê." {14:15} "As julle My liefhet, bewaar My gebooie." {15:12} "Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het." 

Die "werke" is liefde! Soos wat ons in Jesus inwoon en Hy in ons, sal Hy enige tyd wat ons om die vermoë vra om lief te he - of dit vir Hom of iemand anders is - dit aan ons skenk; trouens, Hy sal aan ons so 'n kapasiteit gee om lief te he, dat ons liefde selfs 'n groter uitwerking as Syne op mense sal hê. Dit is natuurlik verstaanbaar wanneer 'n mens begryp dat Jesus nie langer op aarde by ons is nie en onsigbaar is. Die enigste Jesus wat die wêreld vandag duidelik kan sien, is die Een wat deur ons liefhet. 

Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Donderdag 04 Augustus 2022

Gehoorsaamheid

Devarim
(Woorde)

Deuteronomium 1:1 – 3:22 

Jesaja 1:1 – 27

1 Timótheüs 3:1 – 7

Gehoorsaamheid


Deuteronomium {1:20} “Toe het ek vir julle gesê: ‘Ons het nou die Bergwêreld van die Amoriete bereik. Die Here ons God gee dit vir ons. {1:21} Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie.’ {1:22} “Julle almal het toe na my toe gekom en gevra ons moet manne voor ons uit stuur dat hulle die land vir ons kan verken en ons kan kom inlig oor die pad wat ons moet vat en oor die stede waarheen ons op pad is. {1:23} Ek het gedink dis 'n goeie plan en ek het twaalf man uit julle gekies, een uit elke stam.”


Die hele insident steek my dwars in die krop. Wat het van Moses se geloof geword? Het hy dan nie iets geleer toe hy veronderstel was om tot die rots te spreek in plaas van om daarteen te slaan nie? Duidelik nie! Was Moses steeds so besig dat hy weereens nie na God geluister het nie? Die Here het uitdruklik vir hom gesê dat die kinders van Israel die land van die Amoriete sou verower en dat dit ‘n goeie land was. Waarom sou Moses dan saamstem met die voorstel om verspieders te stuur ten einde te bevestig wat die Here alreeds aan hom meegedeel het? Dit was na alles, God se land, ‘n goeie land en hulle sou dit besit- einde van die verhaal!


Deuteronomium {6:1} “Dit is die wet, die voorskrifte en die bepalings, wat die Here julle God my beveel het om vir julle te leer, sodat julle daarvolgens kan lewe in die land wat julle in besit gaan neem.”


In hierdie Skrifgedeelte het Moses die kinders van Israel gewaarsku om God nie op die proef te stel nie - hier het hy die Here egter getoets deur verspieders uit te stuur. In die Nuwe Testament, toe aan Sagaria gesê is dat hy ‘n seun sou hê, wie hy Johannes moes noem, het hy die engel van God nie geglo nie. Sagaria het gevra vir ‘n teken van bevestiging; hy het nie aanvaar wat aan hom meegedeel is nie, selfs al het die woord van God af gekom. Hy het ook die Here op die proef gestel. Dít het God kwaad gemaak en Hy het Sagaria met stomheid getref, tot ná die geboorte van sy seun.


Die Here het ons baie dinge in Sy Woord geleer. Veel daarvan kan regstreeks op ons lewens toegepas word: tog betwyfel baie van ons Hom. Ons verlang bevestiging, tekens en wonders in plaas daarvan om net te glo en vertrou wat die Here in Sy Woord geskryf het.


Meeste kommentators is van mening dat dit die tien verspieders was wat daartoe gelei het dat die kinders van Israel vervloek is deur doelloos vir veertig jaar rond te swerf in die wildernis; trouens, Moses het egter die volk beskuldig, soos ons in die volgende verse sien:


Deuteronomium {1:26} ““Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God. {1:27} Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei.”


Let op die “julle het gerebelleer” en “julle het gemurmureer”, deur Moses te gebruik, asof hy niks daarmee te doen gehad het nie! Dit is heel moontlik, selfs waarskynlik, dat die volk nooit in opstand sou gekom of gemurmureer het nie as Moses sy vertroue in die Here geplaas het en die kinders van Israel slegs na die grens van die Beloofde Land gelei en hulle beveel het om in te gaan en die land in besit te neem, soos wat hy beveel is. Maar nee! Moses het God op die proef gestel en daardeur homself en die volk aan sonde blootgestel.


As ‘n leier, neem ek hierdie les, wat ek uit Parasha Devarim ontvang het baie ernstig op. Ek bestudeer die Woord van die Here, lees dit van voor tot agter, eenmaal elke jaar. Ek maak my vertroud met alles wat die Here gesê het en alles wat Hy belowe het en dan, na die beste van my  vermoë, volstaan ek by Sy Woord - selfs wanneer ander my aanspoor om Hom op die proef te stel.     


Daar is geen waarborg dat die kinders van Israel Moses se finale woord sou aanvaar het om die Here te glo en Hom daarom te volg in die land nie; ‘n land, moet ek sê, wat hulle s’n was om te neem - hulle kon in elkgeval nog in opstand gekom het. Maar ons sal nóu nooit weet nie, sal ons? Ten minste nie totdat ons almal in die Hemel ontmoet nie.


Hoeveel het ons nie al gedwaal vanweë ons gebrek aan geloof in God nie en Hom nie op Sy Woord geneem nie? Hoeveel maal het ons gebrek aan vertroue, gebrek aan geloof, nie al daartoe gelei dat ons die Here op die proef gestel het nie? Soms wonder ek hoe anders my lewe sou gewees het, as ek geheel-en-al, te alle tye, die Here op Sy Woord geneem het, maar dan weer, ek sal nooit weet nie, of sal ek?, ten minste nie totdat ek God in die Hemel ontmoet nie!


Kom gou Jesus!


PDF weergawe