Sondag 29 September 2019

Geen Verskoning

Nitzavim
(Hulle Staan)


In hierdie week se lesing, Parasha Nitzawim, maak die Here baie duidelik dat indien die kinders van Israel al Sy gebooie nakom, presies soos Hy dit vir hulle neergelê het, alles met hulle lewens sal goed gaan. Dieselfde geld natuurlik ook vir ons.

Deuteronomium / Devarim {29:29} "Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet"

Daar bestaan geen twyfel nie dat daar baie dinge is wat die Here nie aan ons geopenbaar het nie en sekerlik, met ons beperkte verstandsvermoeë, is daar baie dinge aangaande God, wat ons nie kan en wil verstaan nie. Ek begryp steeds nie tenvolle hoedat God Homself kan openbaar op wyses wat onafhanklik funksioneer, maar nogtans één is nie. Ek kan nie verstaan hoedat God bepaal het wat vir Sy volk eetbaar was en wat nie eetbaar was nie. Dit maak egter nie saak of ek hierdie dinge begryp of nie, omdat ek in hierdie Parasha meegedeel word dat ek nie veronderstel is om alles te begryp, wat God sê en doen nie. Daar is dinge wat Hy verkies om nie ten volle aan ons te openbaar nie; trouens ons word meegedeel dat dat daar sekere verborge dinge is, wat God om welke rede ookal, verkies het om vir Homself te hou. In die bovermelde vers, maak die Here dit egter baie duidelik dat alles wat Hy in die Tora geskryf het, of ek dit begryp of nie, ek nogtans verplig word om dit alles na te kom. Dan net ingeval ek sou poog om myself vry te stel van enige van God se gebooie deur te beweer dat Hy gespreek het slegs tot diegene wat op daardie tydstip dáár was of dat Hy gespreek het slegs tot diegene van die nasie van Israel en hulle toekomstige lewe in die land van Israel of dat hierdie gebooie slegs op Jode maar nie op nie-Joodse gelowiges of Christene van toepassing is nie, verwys ons na volgende verse: 

Deuteronomium / Devarim {29:14} "En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15}  maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie."

Die Here verwys na almal van ons hier en selfs indien ons nie almal fisies in die land van Israel is nie en selfs indien ons nie almal Joodse gelowiges in Jesus die Messias is nie, is alles wat Hy toé tot die kinders van Israel gespreek het, vandag op ons van toepassing en móét ons dit gehoorsaam, anders as daardie sake wat Tempel-afhanklik is, aangesien die Tempel nie langer bestaan nie.

Die land wat ons as gelowiges in Jesus die Messias binnegegaan het, is die Koninkryk van God. Vroeër was ons uitgesluit uit God se Koninkryk vanweë ons sonde, maar nóú, deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons kappora (versoening) en Sy betaling van die prys wat vir ons sonde (dood) vereis is, het ons toegang verkry tot Sy Koninkryk en die land, wat God vir diegene voorberei het wat Hom lief het en Sy gebooie onderhou. Ons moet egter onthou dat daar ‘n Koning in hierdie Koninkryk is, waaroor Hy regeer. Aan ons word vertel dat Hy ‘n jaloerse Koning is en nie Sy Koninkryk met enigeen of enigiets sal deel nie; ook dat Hy ‘n veeleisende Koning is, wat aan ons wette , reëls en regulasies gegee het wat Hy van ons verwag om te onderhou indien ons in Sy land wil woon. Ons word ook gesê dat Hy ‘n liefdevolle, genadige welwillende Koning is en Hy belowe het om ons te seën in die Land indien ons Sy gebooie navolg en onderhou - net soos Hy belowe het om Israel te seën as hulle Hom sou volg en gehoorsaam wanneer hulle hul beloofde land binnegaan.

Sien julle nou? Die land van Israel in die Bybel is ‘n sinnebeeld van die Koninkryk van God. Moet dit egter nie misverstaan nie. Die Koningkryk van God is nie ‘n spirituele Koninkryk nie - dit is ‘n fisiese Koninkryk en dit is ONS! Vandag is die Koninkryk lewend en wel en ons wat gelowiges in Jesus die Messias is dít. Hierdie Koninkryk mag huidig gering wees in vergelyking met al die sekulêre koninkryke van die wêreld, maar eendag sal dit die enigste Koninkryk op aarde wees. Dan sal sy Koning Jesus die Messias, weer kom om Sy regmatige plek op Sy troon in te neem vanwaar Hy sal heers en regeer vanuit Jerusalem.

Dan net ingeval ons sou sê, soos wat ek baie mense al hoor sê het: “dit is onmoontlik in die moderne en voortsnellende gang van die wêreld, om al die gebooie, wat die Here van ons vereis, na te kom”. Die Here sê egter: 

Deuteronomium / Devarim {30:11} "Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12}  Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13}  Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14}  Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."

Kom ons besef dit: ons het geen verskoning nie ! 

Kom gou Jesus!

 Lees Parasha



Vrydag 20 September 2019

Onthou en Wees Bly! (Ki Tavo - Wanneer Jy Ingaan)

Ki Tavo
(Wanneer Jy Ingaan)

Deuteronomium / Devarim {26:1} “EN as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon, {26:2} dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ’n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, {26:3} en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee. {26:4} En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit. {26:5} Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was ’n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ’n groot, magtige en talryke nasie geword. {26:6} Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ’n harde diens op ons gelê. {26:7} Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; {26:8} en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en duur tekens en wonders; {26:9} en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. {26:10} Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God.”

Wanneer julle jul tiendes bring, gee julle dit uit skuldgevoel of uit verpligting of uit dankbaarheid? Ongelukkig gee baie van ons dit uit skuldgevoel of verpligting. God het ons beveel en daarom gee ons; Trouens oor soveel jare heen was daar soveel valse onderrig oor die gee daarvan, dat baie mense gee met die verwagting om dubbel of driemaal soveel terug te ontvang. Uit die Skrifgedeelte van hierdie week, sien ons dat ons moet gee uit dankbaarheid, nie uit skuldgevoel of verpligting nie en beslis nie om enigiets terug te verwag nie. Ons moet gee en oorvloedig gee wat dit betref, uit dankbaarheid vir wat die Here vir ons gedoen het.

God het soveel vir ons gedoen: Hy het ons uitroepe gehoor, Hy het ons trane gesien, Hy was bewus van ons slapelose nagte en Hy was bedroef hoe die Satan ons onderdruk het. Dus het Hy ons verlos uit die slawerny van sonde na die vryheid om Hom te aanbid. Gebooie wat ons eens as neerdrukkend beskou het, het nou deur Jesus die Messias, wat in ons woon, ‘n vreugde geword en ‘n seën wat daarop volg. Ja, soos deur die profete van ouds belowe, het God na ons toe neergebuig, ons met Sy reddende regterhand gered en ons is as Sy kinders weergebore. Desnieteenstaande, gee baie van ons steeds ons tiendes omdat ons daartoe verplig voel.

Deur Jesus die Messias is ons weergebore in die koninkryk van God - ‘n ware plek van seën. God se koninkryk is nie iewers ver in die toekoms nie: dit is waarlik hier en lewe binne-in ons.Ons, gelowiges in Jesus die Messias, is die koninkryk van God. Daarom dra ons in onsself die eienskappe van die koninkryk: liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid , betroubaarheid, sagtheid en selfbeheersing. Dit is die vrugte van God se Gees, wat met ons redding in ons kom woon het. Daarom is God se koninkryk lewend, hier op aarde en ons daarin.

Eendag, een of ander tyd na die wederkoms van Jesus die Messias, sal die bose geoordeel word. Almal wat onwaardig bevind word, sal gestuur word na ‘n plek van spirituele duisternis en hopeloosheid - ‘n plek sonder God. Diegene wat egter regverdig bevind word, sal gered word en in die hemel gaan woon - ‘n plek wat met God se liefde gevul is. In daardie tyd sal die koninkryk van God die ganse aarde omvat. Tot dan, word dit egter beperk tot dié van ons wat glo. Ons is ‘n geweldige dankbaarheid verskuldig aan die Here vir alles wat Hy vir ons gedoen het en om hierdie rede waarsku Hy ons soos volg in Sy Woord:

Deuteronomium / Devarim {8:11} “Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:12} sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, {8:13} en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder — {8:14} en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; {8:15} wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ’n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; {8:16} wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen — {8:17} en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe.{8:18} Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is.”

Ek dink dit is noodsaaklik om ons harte te ondersoek wanneer ons tiendes en offergawes aan die Here bring; trouens, ons behoort hierdie Skrifgedeeltes, in ons Parasha aangehaal, aan te pas en verpersoonlik asook in ons harte te onthou wanneer ons gee dat ons ook eens skuldenaars in slawerny aan die sonde was. Ons moet daaraan dink dat sonde wreed met ons gehandel het, ons beproef het, geteister het en ‘n swaar slawerny op ons gelê het. Toe het ons die God van ons voorvaders aangeroep - Hy het ons stem gehoor, ons beproewing, ons ons swaarkry en onderdrukking gesien. Die Here het na ons toe neergebuig en ons uit ons beproewing gered deur die bloed  van Jesus die Messias, wat aan die kruis vir ons gestort is. Hy het ons gebring by ‘n plek van vreugde en vrede. Nou kan ons die eerste vrug van ons arbeid bring, nie uit skuldgevoel of verpligting nie, maar met dankbaarheid en waardering.

Wanneer julle dus volgende keer aan die Here gee - in plaas daarvan om dit in die kollektemandjie te plaas of in die Tzadaka (offer) - houer te steek, onthou wie julle toe was en wie julle nou is en gee uit dankbaarheid en waardering. Wat ‘n verskil sal dit nie maak nie!

 Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Vrydag 13 September 2019

Verdedig die Waardigheid van 'n Vrou

Ki Teitzei
(Wanneer jy Uittrek)

Deuteronomium / Devarim {21:10} “AS jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, {21:11} en jy onder die gevangenes ’n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem, {21:12} dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip. {21:13} En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ’n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees. {21:14} En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.”

Ek is al dikwels versoek om hierdie Skrifgedeelte te verduidelik. Wat dit behels, is dat wanneer ‘n soldaat ‘n vroulike gevangene aantreklik vind, moet hy, voordat hy haar as sy vrou neem, haar eers toelaat om oor haar vader en moeder- wat waarskynlik in die oorlog omgekom het- te rou vir ‘n tydperk van dertig dae. Gewoonlik is slegs maagde gevange geneem en alle ander vroue normaalweg doodgemaak. In die geval van die aantreklik gevange maagd, nadat haar routyd (een maand) verstryk het, is die gevangenemer toegelaat om met haar te trou. Die Skrif vereis dat indien sy haar gevangenemer nie meer langer behaag nie, hy haar moet vrylaat maar nie verkoop nie aangesien hy haar onteer het.

Baie mense het al probeer om hierdie Skrifgedeelte te gebruik om egskeiding te regverdig. Hulle beweer dat indien die Here so iets met ’n vreemde vrou toelaat, Hy dan sekerlik die egskeiding van alle vroue sou toelaat. Met die eerste oogopslag en vanuit ‘n oppervlakkige indruk van hierdie Skrifgedeelte, sou ek moes saamstem. Oënskynlik dui dié op egskeiding volgens die gier van die man, maar is dit wat werklik bedoel word?

Eerstens, soos ons bewus is, verafsku God egskeiding! Daarom sou Hy die seksuele op-die-proefstel van jou vrou, (soos wanneer ‘n mens ‘n paar skoene aanpas) voordat jy besluit of jy met haar wil trou, hoegenaamd nie kondoneer nie. Ook sou Hy haar verwerping nie kondoneer indien sy die man se misnoeë op die hals haal, soos die Skrif blykbaar bepaal nie. Kom ons beskou die gedeelte van nader en probeer presies bepaal wat die Here hier vir ons sê.

Soos wat ek hierdie gedeelte lees en verstaan, kondoneer die Here nie egskeiding nie! Hy gee eerder opdrag dat ‘n vrou wat in oorlog gevange geneem is, redelik en met medelye behandel moet word. Tydens oorlog was verkragting en vanuit ‘n posisie van bevoorregting bo gevange vroue, ‘n baie algemene praktyk onder die heidense nasies, wat Israel besig was om van hulle grondgebied te ontneem. God se volk sou uiteenlopende standaarde van moraliteit hê, selfs in oorlogstyd. Dus het die Here toegewings gemaak vir soldate, wat ná oorlog ‘n gevange vrou aantreklik sou vind. Die vrou moes haar hare afskeer, haar naels afknip, haar klere vervang met rougewaad en onaangeraak vir dertig dae in haar buitmaker se huis bly. Die afskeer van haar hare, afknip van haar naels en die dra van ‘n sakgewaad sou ongetwyfeld alle oppervlakkige fisiese aantreklikheid van die vrou ontneem. Die dertig dae wagtyd sou aan die man die geleentheid bied om die ware vrou, haar persoonlikheid, karakter en temperament waar te neem. Na dertig dae kon die man geslagsgemeenskap met haar hê en en haar as sy vrou neem. Dan bepaal die Skrif verder:

Deuteronomium / Devarim {21:14} “En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.”

Dit is hier waar die misverstande ontstaan Om te begryp wat hierdie vers eintlik beteken, moet ons sekermaak waarna die woorde “omdat jy haar onteer het“ verwys. Daar is ‘n aantal in die Hebreeuse Geskrifte, wat op die regte betekenis hiervan kan dui: 

1 Kronieke / Divre Ha Yamin Alef {19:4} “Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan.”

Hierdie gebeurtenis van die afskeer van koning Dawid se dienaars, was ‘n vorm van vernedering in die antieke Nabye Ooste. Soos ons meegedeel word, het die mans, uit skaamte nie na Jerusalem teruggekeer voordat hulle baarde weer gegroei het nie. Net so was die afskeer van ‘n vrou se hare,’n vorm van vernedering en skande vir haar.

Job / Iyov {1:20} “Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval”

Hierdie gedeelte dui daarop dat Job sy hare afgeskeer het as ‘n vorm van verootmoediging voor die Here nadat hy die nuus van die dood van sy kinders verneem het.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {11:15} “maar as ’n vrou lang hare dra, dit vir haar ’n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ’n bedekking?”

Die afskeer van ‘n vrou se hare, die afknip van haar naels en die dra van rougewaad, is almal antieke Nabye Oosterse metodes van verootmoediging en vernedering van ‘n persoon. Daarom sou “omdat jy haar onteer het” nie toepaslik wees op die feit dat die man geslagsgemeenskap met haar gehad, haar tot vrou geneem en toe nie van haar gehou het nie, maar eerder verwys na die feit dat die vrou sowel verootmoedig as verneder is deur die afskeer van haar hare, afknip van haar naels en die dra van ‘n rougewaad voordat hy met haar getroud is. Ons God vereis regverdige behandeling en respek vir alle vrouens. 

Dit sou dus die werklike verloop van gebeure wees wat in die aangehaalde gedeelte verduidelik is. ‘n Soldaat het ‘n gevange vrou aantreklik gevind en wou haar tot sy vrou neem. Voordat hy dit egter kon doen, moes hy haar fisies onaantreklik maak, as bewys van sy ware toegeneentheid en voorneme; ook met in agneming dat sy nou nie ‘n moeder of vader gehad het om haar saak te bepleit nie. Derhalwe moes sy haar hare afskeer, haar naels afknip en vir dertig dae ‘n sakgewaad dra. Indien hy ná dertig dae haar steeds aantreklik gevind het, kon hy met haar trou. As hy egter gedurende die tydperk van dertig dae, voordat hy met haar geslagsgemeenskap gehad het, vind dat sy hom nie langer behaag nie, moet die man haar vrylaat en kan hy haar nie as ‘n slavin behandel nie omdat hy haar onderdanig gemaak en verneder het deur haar hare af te skeer, haar naels af te knip en haar rougewaad te laat dra het.

Ons kan dus sien dat hierdie gedeelte geensins ‘n egskeiding kondoneer volgens die nuk van die man nie, maar eerder die regte en waardigheid van die vrou verdedig! Ons God is ‘n ontsagwekkende God!!! 

Kom gou Jesus!

PDF weergawe










Saterdag 07 September 2019

Die Tora en die invloed daarvan op die lewe van ‘n gelowige

Shoftim 
(Rigters) 


Deuteronomium / Devarim  {18:18} “‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. {18:19} En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

Hierdie is ‘n besondere belangrike Skrifgedeelte. God het alreeds daardie Profeet (Navi) wat soos Moses is, verwek. Moses het die kinders van Israel gelei uit slawerny na vryheid, uit gebondenheid na vrylating. Wat Moses fisies gedoen het, het die Profeet – net soos Moses – geestelik gedoen. Soos Moses, het Hy verlos en verlos Hy nog steeds almal wat Hom volg uit die slawerny van sonde en gebondenheid deur die satan. Daardie Profeet is Jesus die Messias. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak ten opsigte van hierdie Skrifgedeelte uit vandeesweek se parasha nie. Wat ek graag uit hierde gedeelte wil bespreek, is:

Deuteronomium / Devarim {18:18}  “… en ek sal My woorde in sy mond lê, en Ek sal vir hulle alles sê wat Ek hom beveel. {18:19} En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

Ek vind dit betreurenswaardig en steurend dat daar soveel “Christene” is wat glo dat Jesus die Messias iets nuuts onder die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) gedoen het en “Christene” gevolglik nie onder die Tora is nie. Dit is hoegenaamd nie wat ek aflei uit die bovermelde Skrifaanhaling nie. Uit wat ek lees, word aan my vertel dat Jesus slegs gespreek het wat die Vader aan Hom gegee het om te spreek. Is dit trouens nie wat Jesus aan ons bevestig het nie?

Johannes / Yochanan {8:28} “En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.”

Dink daaroor! Sou die Vader aan Sy Seun gesê het om te weerspreek wat Hy in Sy Woord sê? Hoegenaamd nie! Ons God is dieselfde gister, vandag en tot in alle ewigheid. Ek besef dat ek vantevore al hierdie onderwerp behandel het, maar ek kan dit nie genoeg benadruk nie en sal nie ophou om dit te sê totdat die Kerk dit regstel nie: “Daar is niks nuuts in die Hernieude Verbond nie en Jesus het nie die Tora weerspreek nie”.

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”

Jesus het gekom ter vervulling van wat die Tora en profete aangaande Hom voorspel het. Hy het nie gekom om ‘n einde aan die Tora te maak en ‘n nuwe godsdiens in te stel nie. Boonop verseker Hy ons hier dat die Tora geldig sal bly “totdat alles vervul is.”. Dit beteken: totdat die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek, wat nie sal plaasvind tot ná die Duisendjarige Ryk nie.

Ek beweer nie dat die Mesiaanse Judaïsme al die antwoorde kan verstrek óf indien jy nie ‘n Messiaanse Joodse gelowige is nie, jy nie gered is nie. Wat ek wel sê, is indien jy glo dat jy nie langer onder die Tora is nie, is jy mislei en onbeteulde misleiding kan begryplikerwyse tot verlies van jou redding lei. Die Torah is vandag nog net so geldig soos wat dit met die skepping van die aarde was.

Konteks is alles. Hier by Kehila Melech Yisrael, vier ons die kerngebruike van Joodse lewe, met inbegrip van die Sabbat, Kosher en Feesdae (Moedim), ons nadruk is op die Tora, wat die gebooie van God bevat. Vanselfsprekend eerbiedig ons slegs daardie gebooie, wat vandag nog toepaslik is, aangesien die tempel nie langer bestaan nie. Ons volg die Tora, soos van toepassing op ‘n wêreld sonder ‘n fisiese tempel. Die Tora en die invloed wat dit op die lewe van ‘n Messiaanse Joodse gelowige het, is juis dit wat ons onderskei en van die wêreld afsonder.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2007-09-03