Saterdag 30 Junie 2018

Pratende Esels

Balak
(Balak)


Numeri / BaMidbar {22:28} “Maar die HERE het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het? {22:29}  Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ‘n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan. {22:30}  En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.”

Almal van my ouderdom, sal moontlik nog die televisieprogram “Mister Ed” onthou. Ter inligting van diegene wat dit nie gesien het nie, was dit oor ‘n perd wat gepraat het. Dit was ‘n baie gewilde program, waarin gassterre ondermeer soos Clint Eastwood te sien was. “Mr. Ed” is van 1958 to 1966 vertoon en geregiseer deur Arthur Lubin, wat dit aangepas het op grond van ‘n reeks kortverhale oor ‘n pratende perd, deur Walter Brooks in 1937 geskryf. Ek kan dit nie met sekerheid sê nie, maar sou nie verbaas gewees het as Mnr. Brooks die konsep van ‘n pratende perd ontleen het aan die Bybelse verslag van Bileam se esel nie. Sedert hierdie program, was daar al tallose boeke, films en televisieprogrogramme van verskeie asook uiteenlopende soorte pratende diere.

Kan diere praat? Omvattende navorsing is selfs al gedoen om hierdie vraag te beantwoord. Ofskoon dit bekend is dat diere sekere mens-klinkende geluide namaak of enkele mens-klinkende woorde voortbring, kon ‘n dier nog nooit – soos Bileam se esel – ‘n gesprek voer nie. Ja, selfs “Mr. Ed” kon nie werklik praat nie. Sy “stem” was dié van Les Hilton, wie se naam nooit met die program vereenselwig is nie.

As ‘n mens dus oor duisende jare nie daarin kon slaag om ‘n dier te leer om ‘n gesprek te voer nie – selfs nie eers sinne nie – hoe was dit dan moontlik dat Bileam se esel kon praat? Die antwoord is eenvoudig en word verstrek in Numeri {22:28}, wat soos volg lui: “Die Here het die bek van die esel geopen...”. Dit is natuurlik geen groot openbaring nie. God is by magte om enigiets te doen en volgens die bovermelde teks, het Hy die esel se bek geopen en haar laat praat. Dit is egter nie die pratende eselin wat my verbaas nie, maar wel wat sy gesê het ({22:30} “En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.”).

Uit die woorde van die esel, is dit duidelik dat God daarop wou wys dat Bileam haar nie “geken” het nie, ten spyte daarvan dat hy feitlik lewenslank op haar gery het. Hierdie was ‘n esel, wat hom vir baie jare getrou gedien het. Esels leef tussen 25 en 30 jaar, sodat dit verstaanbaar is dat Bileam die esel langer as 10 jaar gebruik het. ‘n Mens sou dink dat hy teen dié tyd met sy esel se geaardheid en gewoontes vertroud sou gewees het. Uit die verhaal, is dit duidelik dat God geweet het dat hy haar móés geken het maar ongelukkig het Bileam nie en is hy as gevolg daarvan byna dood. Glo dit of nie, maar die feit dat Bileam na soveel jare sy esel nog nie geken het nie, is inderdaad vir my ‘n troos!

Ek is die afgelope bykans sestien jaar die rabbi van “Congregation Melech Yisrael” en ek vertrou dat ek ‘n getroue dienaar van die Here was terwyl ek hierdie gemeente met volle oorgawe gedien het. My onderrig en prediking is opgeneem vir almal om daarna te luister. Vanaf die heel eerste preek wat ek ooit gelewer het, het ek die gemeente van notas met betrekking tot die preek voorsien, wat Skrifverwysings verstrek het om alles wat ek vir hulle geleer het, te fundeer. Enigeen kon dus elke woord wat ek ooit gesê het, baie maklik kontroleer asook alles wat ek geleer, aan die geskrewe Woord van God toets. Ek was nog altyd ‘n oop boek!

My eggenote en ek het hierdie gemeente deur dik en dun deur sowel voorspoedige as moeilike tye, getrou en onbaatsugtig gedien. Ons het altyd integriteit, getrouheid en geregtigheid nagestreef. Baie lidmate hier ken ons al vir jare en enkeles ken ons reeds vir ‘n dekade of langer. Terwyl dit die geval is, kan jy jou voorstel hoedat ons moet voel wanneer misnoeë ontstaan of sekere misleide persone ons beskuldig van ‘n leer van kettery of dat ons in ons bestuur gefaal het of een van ‘n menigte ander dinge waarvan ons oor die jare heen beskuldig is. Die ergste is wanneer ander, wat ons liefhet en vir jare reeds ken, daardie persone glo en selfs geloofwaardigheid aan hulle beskuldigings verleen. So kan julle besef waarom ek my met Bileam se esel vereenselwig! Ek bevind my in elk geval in goeie geselskap! Sowel Moses as die apostel Paulus het presies dieselfde ervarings met die volk wat hulle gelei het.

Dit is betreurenswaardig dat Bileam sy getroue eselin, na al haar jare diens, nog nie geken het nie. Ek kan begryp waarom God hieroor so kwaad was dat die esel se bek geopen is om Bileam te tugtig. Die ergste van alles was egter die skande dat dit ‘n esel moes gewees het om Bileam se hart te ontbloot 

Hebreërs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-07-09


Saterdag 23 Junie 2018

Nie Van Ons Afhanklik Nie

Chukat
(Statute)

Númeri / BaMidbar {20:7} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {20:8}  Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink. {20:9}  Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het. {20:10}  En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei? {20:11}  Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee. {20:12}  Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie. {20:13}  Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.”

Dit was nie die eerste waternood wat die kinders van Israel ooit in die woestyn ondervind het nie; trouens, dit was die derde keer. Die eerste geval was by Mara (“bitter”) toe die water bitter en ondrinkbaar was. Dáár het Moses God aangeroep en God het aan hom ‘n staf getoon en bevel om dit in die water te gooi. Toe Moses God se Woord gehoorsaam het, het die bitter water soet geword. Wat hier plaasgevind het was simbolies; God was besig om vir Israel ‘n voorstelling van Jesus se geboorte te toon. Die staf wat Moses in die water gegooi het, was ‘n sort “Boom van Lewe”, ‘n sinnebeeld van Jesus. Tydens ons Tora-diens sing ons “Aitz Chaim” (Boom van Lewe). Hierdie gedeelte van die liturgie, wat verwys na die Tora – die Woord van God – versinnebeeld die Messias Jesus, wat die lewende Woord is. Toe die die “Boom van die Lewe” dus in die dooie water gegooi is, het dit die water lewend gemaak. Eweneens het Jesus, toe Hy in die ‘n “dooie” wêreld gekom het, lewe daarin gebring.

Die tweede geval van waternood was by Rephidim, oftewel “rusplekke”. Moses het weereens die Here aangeroep en God get hom beveel om Hom by die “Rots” te ontmoet. God se heerlikheid sou saam met Hom by die “Rots” verskyn; Moses moes die “Rots” eenmaal slaan waarop God water daaruit sou laat voortkom. Moses het die opdrag uitgevoer en water het uit die “Rots” gevloei. Ook dit was simbolies en ‘n voortsetting van die beeld van die lewe van Jesus. Daar word heeldikwels in die Skrif na Jesus verwys, as die “Rots”. Dit was dáár waar God aan Israel getoon het dat Hy sal toelaat dat die “Rots”, Sy seun Jesus, éénmaal geslaan word om die lewende water van die Ruach Kodesh (Heilige Gees) te laat voortvloei en die dors van hulle hulle wat dors het, te les. Dit was ‘n beeld van Jesus se dood.

Nou is ons weer terug by die waternood. God het weereens die kinders van Israel van water ontneem, nou vir die derde maal. Die kinders van Israel bevind hulself in Kades (letterlik “heilig’) en kyk na Moses vir uitkoms. Laat ons kyk wat hier gebeur het: Errstens het Moses die staf geneem – netsoos God hom voorheen beveel het (goed tot dusver!). Tweedens het hy die volk by die rots laat vergader (alles steeds reg!), maar inplaas daarvan om die rots aan te spreek, ooreenkomstig God se opdrag voorheen, het Moses in woede die volk aangespreek: {20:10} “En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?”. God het Moses nooit beveel om vir die volk te preek nie! Hy het hom beveel om as Sy instrument, water te voorsien sodat Hy verheerlik mag word. In sy woede, het Moses egter gedeeltelik, indien nie geheel-en-al nie, God as’t ware van sy heerlikheid ontneem en dit op Hom laat neerkom. Waar het die “ons” dan vandaan gekom? Moses se groot sonde blyk egter hieruit: {20:11} “Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.”.

Soos ek vroëer daarop gewys het, het God Moses beveel om die rots aan te spreek en nie daaarteen te slaan nie! Deurdat Moses teen die rots geslaan het, het hy die finale beeld wat God van ons Messias, Jesus, wou verduidelik, vernietig! Die Here het by Mara alreeds simbolies aan die kinders van Israel, Jesus se geboorte getoon, Sy dood by Rephidim en nou wou Hy die finale beeld aan hulle toon. Wat is daardie finale deel van die beeld? Teneinde verlossing te ontvang, moet ons almal “Die Rots” (Jesus) vra (aanspreek) en Hy sal Sy lewende water uitstort. Ons ontvang daardie lewende water van Jesus af bloot om daarvoor te vra (bid), maar Moses het Jesus simbolies gekruisig deur Hom ‘n tweede keer (by Kades) te slaan. Wat veronderstel was om ‘n heilige tyd te wees, is letterlik verander in ‘n tyd van “tweedrag” en “stryd”. Besef julle dus wat hier plaasgevind het? Geen wonder dat God vir Moses kwaad was nie! Hy moes die “Rots” aangespreek het en die redding sou hulle s’n gewees het omdat die “Rots” alreeds (by Rephidim) geslaan is.

Moses het in sy woede die volk bestraf, God se heerlikheid “gesteel” en God se verklaring van genade vernietig, maar wat egter verstommend is, is dat God in ieder geval die water geskenk het. Dit is omdat God se voorsienigheid nie afhanklik is van ons dade of geregtigheid nie. Sy voorsienigheid hang hoegenaamd nie af van wat óns gedoen of nagelaat het om te doen nie. God se voorsienigheid word allenlik bevestig deur Sy barmhartigheid en genade. Moses het geen aandeel in die voorsiening van die water gehad nie. Dit was God se volk hierdie. Dit was God se staf. Dit was God se Rots en dit was God se water. Moses was slegs die instrument wat God gekies het om te gebruik. God was geensins van Moses afhanklik om die water te voorsien nie. Netso is Hy ook nie van ons afhanklik nie! Dit is reg: Hy is nie vir enigiets van jou of my afhanklik nie. Hy seën ons deur van ons gebruik te maak; Hy word nie vir één oomblik deur ons beperk nie. Hy is, in en Vanself, waarlik algenoegsaam.

Jakobus / Ya’acov {4:10} “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” 


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-07-02

Saterdag 16 Junie 2018

As Ek Net …

Korach
(Korag)


In verlede week se Parasha is ‘n voorbeeld van ons bedorwe eienskap, wat nooit bevredig sal word nie, uitgewys – ongeag wat ons reeds het! Hierdie toestand van ons diepste wese is deur ‘n subtiele voorbeeld aangedui, wat onderliggend was met betrekking tot die verspieders. In vandeesweek se Parasha, bly dié bedorwe menslike eienskap van onvergenoegdheid egter skreiend duidelik.

Numeri / Bamidbar {16:8} “Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi! {16:9}  Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie, {16:10}  en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou—dat julle nou ook die priesteramp begeer? {16:11}  Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?”

Watter vermetelheid het hierdie mense nie gehad nie! God het die Levi-stam uit al die stamme van Israel uitgesonder om Sy priesters te wees. Hulle is spesiaal gekies om in die tabernakel (mishkan) vir Hom diens te verrig. Hulle is ook spesiaal vir Hom gekies om Hom onder die mense te verteenwoordig. ‘n Mens sou dink dat hulle bevoorreg en beskeie sou gewees het om tot so’n verhewe amp gekies te word, maar hulle was nie!

Dit is egter vir ons maklik om terug te sit en hierdie mense te kritiseer, maar die feit van die saak is dat ons net so bedorwe is! Ja, dit is reg: ons is geensins beter as Korag, Datan en Abíram nie; trouens ons verdien dieselfde straf deur God, wat hulle ontvang het.

Het jy al ooit gedink of selfs gesê: “As ek net ‘n beter motor gehad het; as ek net ‘n beter betrekking beklee het; as ek net meer geld gehad het, dan sou die lewe soveel makliker gewees het.”. Of miskien het jy gedink of gesê:” As ek net ‘n groter huis gehad het, dan sou ek gasheer vir ‘n Havdala kon wees en die hele gemeente daarheen uitnooi.”. Of wat van:” As ek net ‘n sterker persoonlikheid gehad het; as ek net mooier was, as ek net beter opleiding gehad het, dan sou ek suksesvol gewees het.”. “As ek net”, is ‘n seweletter leuen! Dit is sinsbegogeling wat die gelowige aanspoor om te begeer. Hierdie woorde is ‘n truuk van die satan om jou en my te laat sondig.

Hoe laat dit ons dan sondig? Dit maak ons ondankbaar en nie waarderend vir dit wat ons het nie, wie ons is, hoedat ons in die oë van God lyk en wat God al vir ons gedoen het. In plaas van danbaarheid vir alles waaroor ons beskik, begeer ons dit wat ons nie het nie en word hierdie drie woordjies:”As Ek Net”, ‘n klagte téén God oftewel ‘n sonde.

Eksodus / Shemot {20:17} “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.”

Uit hierdie Skrifgedeelte, is dit duidelik dat God noodwendig wéét wat in ons harte aangaan. Ons besef dat Hy verstaan dat ongeag wat ons het, ons nogtans nie tevrede is nie. Ons wil altyd net ‘n bietjie meer hê. Rockefeller, die multi-multi-miljoenêr, is by geleentheid gevra: “Hoeveel geld is genoeg?” Hy het geantwoord: “Net nog één dollar!”. Met so’n antwoord deur iemand wat materieel oor soveel beskik, kan ons seker daarvan wees dat vir die mens, is genoeg nooit genoeg nie en weet jy wat? God beskou dit as hebsug.

Wat is hebsug dan? Die betekenis daarvan behels vele implikasies. Dit word gedefineer as ‘n begeerte na iets, maar dit sluit in om meer te begeer, maar onvergenoegdheid nadat jy dit wel ontvang het – ongeag wat ookal! Begeerte kan dus ook beskou word as ‘n drang na of wens vir iets en dit hoef nie noodwendig aan iemand anders te behoort, ten einde begeer te word nie. Dit kan byvoorbeeld iets in ‘n winkelvenster of ‘n motorvertoonlokaal wees. Dit kan selfs iets op ‘n kennisgewingbord wees of wat op televisie gesien is. Begeerste is hebsug en hebsug is presies die teenoorgestelde van tevredenheid (=vergenoegdheid). 

Psalm  / Tehillim {10:2} “In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Laat hulle gegryp word in die listige planne wat hulle uitgedink het! {10:3}  Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE.”.

God verafsku ‘n mens wat begeer. Die woorde: “As ek net”, is vir Hom ‘n afskuwelikheid, maar hoe dikwels het ons dit al gesê nie? Die waarheid is egter dat God se plan in die behoefte van ons lewens voorsien – veral as ons dit as ‘n gemeenskap saamdoen. God vereis om, deur goddelike inisiatief, sekere dinge in jou lewe en in my lewe te voorsien en dit dan toe te laat om vir ons ten goede uit te werk. Hy ken jou / my behoeftes, Hy weet wat jy en ook ek kan hanteer en Hy weet wat jy / ek nodig het om te verander. Vir jou kan dit moontlik ‘n huis van R 7 000,000 wees en vir ‘n ander slegs ‘n kamer teen R 2 500 per maand. Ons kan nooit eers probeer om alles te verstaan of waarom God sekere keuses maak nie, maar ons kan besef dat Hy wéét wat vir ons die beste is. God stel nie belang in dinge nie, maar wel in ‘n mens se karakter. God het ‘n plan vir die lewens van elkeen van ons, maar wanneer ons begeer, verydel ons daardie plan en ontbeer ons die ewige skatte wat Hy vir ons voorberei het.

Ten slotte het God ons alreeds alles gegee wat ons in Jesus benodig. Hy is alles wat ons nou nodig het en Hy is alles wat ons ooit nodig sal hê. Die waarheid is dat wanneer ons Jesus het, het ons alles. Ons het in ons lewens dus niks meer nodig ten einde gelukkig te wees nie. Ons moet net tevrede wees en dan sal allerlei geestelike rykdomme ons s’n wees. ‘n Opregte verhouding met God, is al wat ‘n mens tevrede stel!

Kom gou Jesus!
PDF weergawePDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2011-06-25


Saterdag 09 Junie 2018

Kan Jy Jou Motiverings Verdra?

Shelach
(Ondersoek Jouself )


Numeri / BaMidbar {13:17} “En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. {13:18}  En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; {13:19}  en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; {13:20}  ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe. {13:21}  En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat— {13:22}  hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. {13:23}  Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.”

Ek is seker ons is almal vertroud met die gesegde: “Die pad na ‘n man se hart, is deur sy maag”. Dit was egter geensins die geval met tien van die twaalf verspreiders wat Moses uitgestuur het nie. Was dit nie dieselfde mense wat nie lank tevore ook gekla het oor die gebrek aan smaaklike voedsel en die agteruitgang van beskikbare voedsel wat hulle onderweg na Kanaän moes verduur nie?

Numeri / BaMidbar {11:4} “En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5}  Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6}  Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.”

‘n Mens sou dink dat die kinders van Israel, onder hierdie omstandighede enigiets sou gedoen het om dié vrugbare oorvloedige land, wat hulle verken het, binne te gaan, om hulself uiteindelik daarin te verlustig en ‘n uiteenlopende keuse van voedsel te hê. Dit was egter hoegenaamd nie die geval nie! Dit is vreemd dat die kinders van Israel, vanweë hul gebrek aan smaaklike voedsel, selfs bereid was om Moses dood te maak, maar nie bereid was om te sterf ten einde sulke voedsel te bekom en ‘n land van hulle eie te besit nie.

Talle oorloë oor voedsel of die gebrek daaraan, is al gevoer; trouens, ‘n honger leeu is gevaarliker as een wat versadig is! Dus is dit onbegryplik dat die kinders van Israel so onwillig was om die land wat God aan hulle belowe het, te gaan inneem. Klaarblyklik was vrees vir hul lewens groter as hul eetlus! Om die Kanaäniete te gaan aanval, was dus nie prioriteit nie. Hulle sou eerder, ten spyte van hul vroeëre klagtes, maar met die manna probeer tevrede wees.

Ek het al dikwels gewonder waarom God Moses die vrugbaarheid van die land Kanaän so duidelik laat beskryf het. Die oënskynlike rede sou wees dat Hy die land Israel (Eretz Yisrael) vroeër reeds beskryf het as ‘n land wat vloei met melk en heining – met ander woorde ‘n land van oorvloed. Die ander oënskynlike rede en die één wat na my mening oorweeg behoort te word, is dat God aan ons iets van ons eie karakter wil uitwys. Mense is, ongeag geslag of tyd in die geskiedenis, nou maar ten ene male mense! Wat is dus hierdie karakterles? Myns insiens, is dit naamlik dat “ongeag wat God ons bied, ons nooit tevrede sal wees nie en ons altyd ‘n rede sal vind om te kla.”.

Markus / Modechai {7:20} “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. {7:21}  Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, {7:22}  diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. {7:23}  Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”

Al word hierdie skrifgedeelte nie in die konteks waarvoor dit eintlik dedoel was, gebruik  nie, is dit beslis op hierdie situasie van toepassing. Die kinders van Israel het, wat beskryf is as “Engele-voedsel” geëet. Dit is deur God vanuit die hemel gestuur – alleenlik vir hulle – maar dit het geen uitwerking op hulle gehad nie, in die sin dat dit hulle nie méér engelagtig of “goddelik” gemaak het nie. In plaas daarvan, het dit hulle ware karakter openbaar: vanuit hulle is dit voorafgegaan deur opstandigheid en vrees.

Romeine / Romim {14:17} “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.”


Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2011-06-18


Saterdag 02 Junie 2018

Vanweë Ons Sondigheid

BeHa’Alotecha
(Jou Ingesteldheid)


Numéri / BaMidbar {11:1} “En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. {11:2}  Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. {11:3}  Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het.”

Wanneer die verslag van wat dáár gebeur het, gelees word en dit op ‘n natuurlike wyse in oënskou geneem word, sou ek meen dat dit soos volg plaasgevind het: Iemand het dié aand ‘n vuur aangesteek vir hitte of om in die tent kos te kook, toe die tent aan die brand geslaan en die vuur baie gou buite beheer geraak het. In die warm, droë omgewing van die woestyn, het die vlamme skynbaar vinnig versprei en ‘n groot gedeelte van die buitenste kant van die laer verswelg voordat dit eindelik onder beheer gebring is. Soos ons almal bewus is, gebruik God soms die natuurlike om die bonatuurlike te bewerkstellig. Ongeag hoedat die brand werklik fisies ontstaan het, vind ek dit tog interessant dat sowel die volk as Moses besef het dat die ontstaan van die brand en die verwoesting daardeur, met die volk se murmerering en kwaadspraak verband gehou het. Vandaar hul versoek aan Moses om te bid.

Indien iemand vandag aan mense selfs sou suggereer dat die lewensmoelikhede waaronder hulle gebukgaan, ‘n regstreekse gevolg is van iets wat hulle gesê of gedoen het, wat sondig en teen die wil van God was, sou hulle hom summier as veroordelend en wreedaardig uitkryt. Die waarheid is egter dat wanneer ons sondig – ongeag of dit kwaadpraat, inhaligheid, woede, wellus, ens. is – word God se beskerming van jou weggeneem en op daardie punt, raak jy ‘n weerlose teiken vir die duiwel. Ek dink dit is hoogtyd dat ons die slegte dinge wat in ons lewens plaasvind, met ons sondes en houdings begin assosieer. Die bovermelde teksverse is inderdaad nie die eerste keer in die Bybel, wat God vir ons die verband uitwys nie.

Numerí / BaMidbar {21:5} “En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. {21:6} Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. {21:7}  En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.”

Daar is allerlei soorte slange in ‘n woestyn-tipe-wildernis, soortgelyk aan dié een waardeur die kinders van Israel getrek het. Toe sekere giftige slange in die laer ingekom en die volk gepik sodat hulle as gevolg daarvan begin sterf het, waarom sou hulle toe die indringing van slange, met hul sonde geassosieer het? Eenvoudig, omdat dit nog altyd so was en is!

Dis reg; God toon iets hier aan ons! ’n Duidelike boodskap word deur hierdie voorbeelde uitgestuur en ek dink ons moet wakker skrik en erken dat daar nie so’n iets soos ‘n ongeluk is nie. Hoegenaamd niks gebeur “toevallig” nie. God beheer alles en ook ons sondige gesindhede – hetsy gedagtes of dade – het gevolge!

Gaan jy gebuk onder probleem in jou lewe? Dit kan moontlik aan jou sonde toegeskryf word. Probleme by die werk? Miskien is dit vanweë jou sonde. Probleme tuis? Moontlik is dit as gevolg van jou sonde. Het jy geld verloor, is jy beroof, het jy ‘n ongeluk ondervind, het jou motor gaan staan, het jou woonhuis aan die brand geslaan, is jy deur ‘n insek of dier gebyt of het enige van duisende ander teëspoede jou getref? Dit is moontlik aan jou sonde te wyte!

Numerí / BaMidbar {11:2} “Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan.”

Numerí / BaMidbar {21:7} “En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.”

Indien ons begin erken en toegee dat die probleme in ons lewens te wyte is aan ons eie sondigheid, sal ons miskien doen wat die kinders van Israel gedoen het toe hulle dit besef het. Hulle het hul sonde erken, gebid en om vergifnis gesmeek.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-06-11