Balak
(Balak)
Numeri / BaMidbar {22:28} “Maar die HERE het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het? {22:29} Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ‘n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan. {22:30} En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.”
Almal van my ouderdom, sal moontlik nog die televisieprogram “Mister Ed” onthou. Ter inligting van diegene wat dit nie gesien het nie, was dit oor ‘n perd wat gepraat het. Dit was ‘n baie gewilde program, waarin gassterre ondermeer soos Clint Eastwood te sien was. “Mr. Ed” is van 1958 to 1966 vertoon en geregiseer deur Arthur Lubin, wat dit aangepas het op grond van ‘n reeks kortverhale oor ‘n pratende perd, deur Walter Brooks in 1937 geskryf. Ek kan dit nie met sekerheid sê nie, maar sou nie verbaas gewees het as Mnr. Brooks die konsep van ‘n pratende perd ontleen het aan die Bybelse verslag van Bileam se esel nie. Sedert hierdie program, was daar al tallose boeke, films en televisieprogrogramme van verskeie asook uiteenlopende soorte pratende diere.
Kan diere praat? Omvattende navorsing is selfs al gedoen om hierdie vraag te beantwoord. Ofskoon dit bekend is dat diere sekere mens-klinkende geluide namaak of enkele mens-klinkende woorde voortbring, kon ‘n dier nog nooit – soos Bileam se esel – ‘n gesprek voer nie. Ja, selfs “Mr. Ed” kon nie werklik praat nie. Sy “stem” was dié van Les Hilton, wie se naam nooit met die program vereenselwig is nie.
As ‘n mens dus oor duisende jare nie daarin kon slaag om ‘n dier te leer om ‘n gesprek te voer nie – selfs nie eers sinne nie – hoe was dit dan moontlik dat Bileam se esel kon praat? Die antwoord is eenvoudig en word verstrek in Numeri {22:28}, wat soos volg lui: “Die Here het die bek van die esel geopen...”. Dit is natuurlik geen groot openbaring nie. God is by magte om enigiets te doen en volgens die bovermelde teks, het Hy die esel se bek geopen en haar laat praat. Dit is egter nie die pratende eselin wat my verbaas nie, maar wel wat sy gesê het ({22:30} “En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.”).
Uit die woorde van die esel, is dit duidelik dat God daarop wou wys dat Bileam haar nie “geken” het nie, ten spyte daarvan dat hy feitlik lewenslank op haar gery het. Hierdie was ‘n esel, wat hom vir baie jare getrou gedien het. Esels leef tussen 25 en 30 jaar, sodat dit verstaanbaar is dat Bileam die esel langer as 10 jaar gebruik het. ‘n Mens sou dink dat hy teen dié tyd met sy esel se geaardheid en gewoontes vertroud sou gewees het. Uit die verhaal, is dit duidelik dat God geweet het dat hy haar móés geken het maar ongelukkig het Bileam nie en is hy as gevolg daarvan byna dood. Glo dit of nie, maar die feit dat Bileam na soveel jare sy esel nog nie geken het nie, is inderdaad vir my ‘n troos!
Ek is die afgelope bykans sestien jaar die rabbi van “Congregation Melech Yisrael” en ek vertrou dat ek ‘n getroue dienaar van die Here was terwyl ek hierdie gemeente met volle oorgawe gedien het. My onderrig en prediking is opgeneem vir almal om daarna te luister. Vanaf die heel eerste preek wat ek ooit gelewer het, het ek die gemeente van notas met betrekking tot die preek voorsien, wat Skrifverwysings verstrek het om alles wat ek vir hulle geleer het, te fundeer. Enigeen kon dus elke woord wat ek ooit gesê het, baie maklik kontroleer asook alles wat ek geleer, aan die geskrewe Woord van God toets. Ek was nog altyd ‘n oop boek!
My eggenote en ek het hierdie gemeente deur dik en dun deur sowel voorspoedige as moeilike tye, getrou en onbaatsugtig gedien. Ons het altyd integriteit, getrouheid en geregtigheid nagestreef. Baie lidmate hier ken ons al vir jare en enkeles ken ons reeds vir ‘n dekade of langer. Terwyl dit die geval is, kan jy jou voorstel hoedat ons moet voel wanneer misnoeë ontstaan of sekere misleide persone ons beskuldig van ‘n leer van kettery of dat ons in ons bestuur gefaal het of een van ‘n menigte ander dinge waarvan ons oor die jare heen beskuldig is. Die ergste is wanneer ander, wat ons liefhet en vir jare reeds ken, daardie persone glo en selfs geloofwaardigheid aan hulle beskuldigings verleen. So kan julle besef waarom ek my met Bileam se esel vereenselwig! Ek bevind my in elk geval in goeie geselskap! Sowel Moses as die apostel Paulus het presies dieselfde ervarings met die volk wat hulle gelei het.
Dit is betreurenswaardig dat Bileam sy getroue eselin, na al haar jare diens, nog nie geken het nie. Ek kan begryp waarom God hieroor so kwaad was dat die esel se bek geopen is om Bileam te tugtig. Die ergste van alles was egter die skande dat dit ‘n esel moes gewees het om Bileam se hart te ontbloot
Hebreërs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-07-09