Woensdag 25 Desember 2013

Terug na Egipte

D’Var Torah
Wanneer Hy laat gaan – Beshallach


Eksodus / Shemot {14:9} “En die Egiptenaars het hulle agtervolg—al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag—en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon. {14:10}  Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep. {14:11}  En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? {14:12}  Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.

Dit is verbasend dat niks oor die afgelope 5000 jaar verander het nie! Mense verkies steeds om slawe te wees (hoe dit ookal sy, van sonde) eerder as om vry te wees in Jesus die Messias. Die kinders van Israel het verkies om slawe in Egipte te wees, eerder as om vry in Eretz (die land van Israel) te wees. Waarom? Want vryheid sou beteken dat hulle verantwoordelikheid vir hulself sou moes aanvaar. Hulle sou vir hulself moes dink, redeneer, op hul eie besluite neem en vir daardie besluite persoonlike aanspreeklikheid aanvaar.

Ek het onlangs na ‘n dokumentêre program oor soldate gekyk, wat na jare diens in die weermag, met hul ontslag, nie kon aanpas by die burgerlike samelewing nie. Die rede? Vir jare was hulle onderworpe aan streng reëls en regulasies. Hulle het ontwaak wanneer hulle aangesê is om dit te doen, geëet wanneer hulle moes eet, gegaan waarheen en waar hulle aangesê is om te gaan en gedoen wat hulle beveel is om te doen. Terug in die burgerlike samelewing was daar niemand om vir hulle te sê wat om te doen nie, met die gevolg dat hulle verlore gevoel het. Die jare wat hulle in die weermag deurgebring het, het gelei tot ‘n verlies van vermoë om hulle eie besluite te neem. Hulle het gevolglik verward geraak, aan hulle self getwyfel en in ernstige depressie verval. Dit was alles te wyte aan die feit dat hulle nooit hul eie besluite geneem, hul eie lewens gely het nie: alles is vir hulle bepaal, van die oomblik dat hulle ontwaak het totdat hulle gaan slaap het. Sommige soldate, wat in hierdie dokumentêr vertoon is, het vanweë hierdie drastiese verandering in hulle lewens, senuwee-ineenstortings en ander sielkundige – en sosiale probleme ondervind: probleme wat hulle ook gediskwalifiseer het om weer aan te sluit. Gevolglik kon hulle nie eers weer terugkeer na die lewenswyse waarin hulle gemaklik was nie.

Prediker / Kohelet {1:9} “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”.

Ongelukkig is dit wat vir die kinders van Israel in die wildernis waar was en waar is vir die oud-soldate, wat in die burgerlike samelewing ontplooi is insgelyks ook waar vir ongeredde mense aan wie die evangelie van waarheid aangebied word; die Goeie Nuus wat hulle sou vrymaak.

Soos voorheen gesê: Egipte is ‘n Bybelse sinnebeeld van ons huidige sondige lewe en – wêreld, waarin ons woon. Moses is die Bybelse sinnebeeld van Jesus die Messias, wat deur God gestuur is om Sy mense te red, hulle uit die slawerny van sonde en sondige wêreld te lei na God se wonderlike lig. Die tog deur die Rooisee is die Bybelse sinnebeeld van verlossing. Dit was op daardie punt waar die kinders van Israel hulle vertroue van die Farao (die Bybelse sinnebeeld van die satan) na Moses (die Bybelse sinnebeeld van Jesus) verplaas het, met ander woorde, hulle het van sonde na redding oorgegaan.

Vóór hulle tog deur die Rooisee en terwyl hulle nog in die satan se gebied was, het die kinders van Israel dit nie nodig geag om gered te word nie. Hulle was tevrede en het eintlik gevoel dat hulle beter af was in die slawerny.

Die situasie wat ek sopas beskryf het, is wat baie van ons met ongeredde geliefdes ervaar. Ek kan begryp hoe frustrerend dit vir Moses moes gewees het toe die vryheid wat God vir die kinders van Israel aangebied het, verwerp is ten gunste daarvan om na Egipte terug te keer. Dit is omdat ek dieselfde scenario ondervind – ofskoon onder verskillende omstandighede – met my familielede. Ek het hulle die lig aangebied wat ontstaan deur die kennis van Jesus maar hulle verkies die duisternis van die satan. Hulle is so deur hom verblind dat hulle eerder in sy sondeslawerny sal verkeer as om deur God bevry te word van die gevolge van hulle sonde.

Ek sluit aan by jou in gebed en betuig meegevoel met elkeen wat ervaar: “Ek wil terugkeer na Egipte” en die “Ek verkies om in slawerny te verkeer” – sindroom, wat jou dierbares betref. Bid asseblief saam met my vir my dierbares.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Pidyon HaBen / Evaluasie van die seun

D’Var Torah
Ingaan – Bo


Eksodus / Shemot {13:12} “dan moet jy alles wat die moederskoot open, aan die HERE afgee; ook elke eersteling, die aanteel van vee, wat jy sal hê—wat manlik is, behoort aan die HERE. {13:13}  Maar elke eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop. En as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Maar al die eersgeborenes van mense onder jou seuns moet jy loskoop. {13:14}  En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? dan moet jy hom antwoord: Die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei. {13:15}  Want toe Farao swarigheid gemaak het om ons te laat trek, het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland gedood, van die eersgeborene van die mense af tot die eersgeborene van die diere toe. Daarom offer ek aan die HERE alles wat die moederskoot open wat manlik is; maar al die eersgeborenes van my seuns koop ek los.”.

Dit is hierdie Skrifgedeeltes wat ons die tradisie van Pidyon HaBen leer, wat letterlik “Evaluasie van die seun” beteken. In hierdie geval, die eersgebore seun wat die eerste is om die moederskoot te open.

Gedurende die tempeltye (Beit HaMikdash), is die pasgebore kind (31 dae oud) na die hoëpriester (Kohen HaGadol) geneem waar hy geëvalueer is volgens die evaluasie soos deur God in die Skrif bepaal. Na ‘n kort liturgiese seremonie en die uitruil van die aflosgeld (evaluasie), is die kind (nie ‘n Leviet nie) van lewenslange diens aan God in die tempel vrygestel. Daarbenewens is die kind ook daarvan vrygestel om doodgemaak te word, soos in die geval van eersteling manlike diere.

“Hoe barbaars”, mag jy reken. “In elk geval keur God menslike offerande nie goed nie”. Korrek, want God kondoneer nie menslike offerande nie; trouens, Hy verafsku dit. Waarom vereis God dus hierdie seremonie van aflos? Dit is op grond van die uittog uit Egipte wat plaasgevind het en die instelling van die offer van die paaslam.

Eksodus / Shemot {13:14} “En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? dan moet jy hom antwoord: Die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei. {13:15}  Want toe Farao swarigheid gemaak het om ons te laat trek, het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland gedood, van die eersgeborene van die mense af tot die eersgeborene van die diere toe. Daarom offer ek aan die HERE alles wat die moederskoot open wat manlik is; maar al die eersgeborenes van my seuns koop ek los.”.

Jy sal onthou dat ek al voorheen geleer het dat Pesach (Paasfees (Pasga)) nie die vakansie, aan ons as Pasga bekend was nie, maar eerder dat die Pesach die lam is en die Pesach (Lam) van die Paasfees Seder (orde of seremonie) Jesus verteenwoordig, wat gesterf het sodat ons van die slawerny van sonde verlos kon word. Dit is om hierdie rede dat die Skrif ons meedeel:

Eksodus / Shemot {12:43} “Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie.

Eksodus / Shemot {12:48} “En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie.”.
In hierdie verband word ‘n onbesnedene gelykgestel aan ‘n heidense afgodsaanbidder, terwyl ‘n besnedene gelykstaande is aan ‘n gelowige in die één ware God, die God van Israel.

Derhalwe beteken hierdie Skrifgedeelte nie dat ‘n onbesnede manlike persoon (gelowige of ongelowige) nie kan deelneem aan die paasfees seremonie nie. Dit beteken slegs dat hy nie van die Pesach (Yeshua / Jesus) mag eet nie. Dit verwys ook terug na:

Johannes / Yochanan {6:56} “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. ”.

In hierdie Skrifgedeelte, verwys Jesus na die Pesach (die Lam) en die derde beker wyn, die beker van Messiaanse verlossing, wat tydens die Paasfees Seder gedrink word. Na alles, is die eet van lamsvleis vandag ‘n geskilpunt omdat lamsvleis nie langer met Paasfees bedien word nie.

Ongeag die feit dat die tempel nie meer bestaan nie en daar ook nie meer ‘n hoëpriester is nie, beoefen ons by die gemeente Melech Yisrael die Pidyon HaBen – seremonie. Dit het trouens, ‘n tradisie by ons gemeente geword. Dit is nie ‘n godsdienstige seremonie nie, maar herhinnering aan wat Jesus vir ons gedoen het en vir God om te weet dat ons al die herhinneringe wat ons kan kry benut!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 18 Desember 2013

Ontvang hulle inderdaad ‘n profesie van God af?

D’Var Torah
En Hy het verskyn / Va’era


Eksodus / Shemot {7:1} “En die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. {7:2}  Jy moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek. {7:3}  En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig. {7:4}  Maar Farao sal na julle nie luister nie; en Ek sal my hand op Egipte lê en my leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit Egipteland uitlei. {7:5}  Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die HERE is, as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei. ”.

Dit is ‘n moeilike gedeelte vir meeste om te verstaan. Die vraag word gevra: “Wat bedoel God wanneer Hy vir Moses sê: ‘Kyk, Ek stel jou as ‘n God vir die Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet (Navi) wees’”.

Baie mense misgis hulleself wanneer die rol van ‘n profeet begryp moet word. Hulle verkeer onder die indruk dat ‘n profeet iemand soos ‘n waarsêer of spiritistiese medium moet wees; trouens, heelparty mense – selfs onder gelowiges vandag – wat vir hulleself die amp van profeet toeëien, is in werklikheid valse profete en bloot waarsêers of spiritistiese media. Dit laat ‘n mens inderdaad wonder of hulle werklik gered is en of hulle waarlik Jesus die Messias as hulle Here en Redder ken.

Wat ek veral van die bovermelde Skrifgedeelte hou, is dat dit na mening die duidelikste omskrywing van ‘n profeet se rol verstrek.

Toe God aan Moses gesê het dat Hy hom as ‘n God vir die Farao stel en Aäron sy profeet sal wees, het Hy bedoel dat Moses opdragte vir Goddelike wonderwerke aan Aäron moes gee en laasgenoemde intern Moses se spreekbuis tot die Farao sou wees. Moses self sou egter nie die wonderwerke uitvoer nie – hy sou dit slegs aankondig, die boodskap aan Aäron oordra en dit sou Aäron wees wat die boodskap aan die Farao moes oordra en die wonderwerke uitvoer.

‘n Profeet is ‘n persoon wat namens God spreek. Hy is die boodskapper van God aan die mense. God spreek tot Sy profeet en die profeet dra die boodskap aan die mense oor. Derhalwe kan ons sê dat ‘n profeet God by die mense verteenwoordig. Hierdie funksie is die teenoorgestelde van dié van ‘n priester, wat die mense voor God verteenwoordig. ‘n Profeet spreek namens God tot die mense en ‘n priester spreek namens die mense tot God. Wat ons dus in die bovermelde gedeelte deur God gesê is, is dat Moses soos God vir die Farao gestel word en Aäron soos ‘n profeet vir Moses. Dit is presies wat ons hulle sien doen in die uitvoering van hulle indiwiduele rolle voor die Farao.

Eksodus / Shemot {7:8} “En die HERE het Moses en Aäron aangespreek met die woorde: {7:9}  As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ‘n wonderteken vir julleself—dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ‘n slang word. ”.

Moses, in sy funksie as God, sê vir Aäron wat om te doen. Aäron as God se verteenwoordiger by die mense, doen wat God hom beveel. Verstaan jy dit?

‘n Profeet ontvang sy boodskap regstreeks van God. Indien die boodskap van God af egter deur middel van ‘n engel oorgedra word, kan die ontvanger van die profesie nie as ‘n profeet geag word nie. Daarom is Jesus die laaste van die aangetekende profete. Ek stel dus voor dat jy uiters versigtig optree wanneer iemand homself as ‘n profeet voordoen. Ontvang hulle inderdaad ‘n profesie van God af?


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 11 Desember 2013

Beskou my gerus as ouderwets

D’Var Torah
Name / Shemot


Eksodus / Shemot {1:1} “En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin: {1:2}  Ruben, Símeon, Levi en Juda; {1:3}  Issaskar, Sébulon en Benjamin; {1:4}  Dan en Náftali, Gad en Aser. {1:5}  En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte. ”.

Dit was vir my interessant dat hierdie Skrifgedeelte tyd ingeruim het om die name van al elf seuns (stamme) wat in Egipte aangekom het, te vermeld (Josef was alreeds daar). Volgens die Skrifgedeeltes het elke man en sy huishouding Jakob vergesel. Dink jy God wou ons laat vermoed dat niemand agtergebly het nie? Ek dink so! Die rede was dat ten einde ‘n familie in staat te stel om voorspoedig te wees en te oorleef, moes hulle bymekaar bly. Die kinders van Israel was onderweg na Egipte en nie soos wat hulle gedink het, om die droogte in die land Kanaän vry te spring nie, maar om slegs in Egipte te vertoef totdat omstandighede tuis sou verbeter. God het egter bedoel dat die kinders van Israel ‘n nasie in Egipte sou word. Indien die familie geskei sou word deurdat een van die stamme sou besluit het om in Kanaän agter te bly, of een van die seuns sou besluit het om na ‘n ander land in plaas van Egipte te gaan, wat sou van die toekoms van die nasie Israel geword het? Ek veronderstel dat dit dan onmoontlik sou gewees het om in ‘n nasie te ontwikkel, soos wat die geval wel was.

Beskou my gerus as ouderwets – baie van julle mag moontlik nie met my saamstem nie – maar hierdie soort familie-samehang en lojaliteit word vandag nie meer aangetref nie. In die verlede het families nooit ver van mekaar af weggetrek nie. Ouers het hulle kinders grootgemaak terwyl hulle in dieselfde area gewoon het en soms in dieselfde huis as die grootouers.

Wat ‘n besondere voorreg was dit nie! Grootouers en ouers het deel gehad aan die grootmaak van kinders / kleinkinders. Die geslagte kon saam op mekaar reageer en hegte familiebande met mekaar vorm. Daarbenewens was dit nie nodig om bejaarde ouers in aftree-oorde of verpleeginrigtings te laat plaas om hulle aan die genade van vreemdelinge en versorgers oor te laat nie; trouens, hulle sou in die gesinswoning deur die gesin versorg word.

Ongelukkig is dit vandag anders. Dit is by uitsondering dat ‘n mens nog ‘n uitgebreide familie aantref, wat in dieselfde huis of selfs dieselfde stad of land woon. Meeste kleinkinders word tans groot sonder ‘n persoonlike verhouding met hul grootouers – in plaas daarvan, het hulle ‘n “Skype“-, “Facebook”- of e-posverhouding met hulle.

Elektroniese media bevorder nie hegte familiebande nie, maar skep eerder verhoudings wat meganies en gediskonnekteerd is. Kinders en kleinkinders kom selde persoonlik in aanraking met ouers en grootouers – hulle raak vervreemd en daar is geen sterk familieverband nie.
Geen wonder dat kinders die versorging tot hulle dood van hulle bejaarde ouers aan vreemdelinge oorlaat nie. Langdurige skeiding van mekaar, het hulle harte verhard.

Ouers en grootouers het eerder ‘n las geword in plaas daarvan om kosbaar te wees, soos dit hoort. Pleks daarvan dat afwesigheid hulle harte met verlange vul, gebeur die teenoorgestelde: verpleeginrigtings is gevul met eensame ou mense, wie se kleinkinders vir hulle vreemdelinge is en wie se kinders hulle selde besoek. Ek erken dat ek van my ouers af weggetrek het, maar soos Abraham (ek vergelyk my hoegenaamd nie met hom nie), is ek deur God geroep om my familie te verlaat. My eggenote en ek is agtien jaar gelede geroep om na Kanada te verhuis. God het vir my ‘n deur geopen om die betrekking van geestelike leier van hierdie gemeente te aanvaar . Dit was nie vir ons maklik om te gaan nie, maar ons albei het besef dat ‘n saak van die Here is en ofskoon ons bra onwillig was, móés ons gaan.

Matthéüs / Mattityahu {10:37} “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38}  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”.

Oor die algemeen is ons geval egter die uitsondering. Die meerendeel familielede wat van hulle ouers wegtrek is nie omdat God hulle tot die bediening geroep het nie. Dit is eerder ‘n geval van selfsug dat hulle wegtrek, om hulle eie begeertes te bevredig, omdat hulle ‘n beter betrekking of warmer klimaat of nuwe geleenthede verlang óf bloot omrede hulle net wil wegkom.

Ja, beskou my gerus ouderwets, maar dít is nie hoe dit behoort te wees nie!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 04 Desember 2013

Waar sal jy begrawe word

D’Var Torah
En hy het gelewe – Vayechi


Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder. {47:28} En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was. {47:29} En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou-begrawe my tog nie in Egipte nie. {47:30} Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord. {47:31} Toe sê hy: Sweer my dit tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.”.

Toe ek hierdie Skrifgdeelte gelees het, kon ek nie verstaan waarom Jakob (Ya’akov) spesifiek begrawe wou word in die plek waar sy voorvaders begrawe is nie. Daar was tog begraafplase in Egipte waar ander Israeliete begrawe was, want na alles, wat is die verskil waar ons begrawe word – ons siel en gees verlaat immers die liggaam wanneer ons sterf en styg op na die hemel om by die Vader te wees. Daarom maak dit nie saak waar ons begrawe word nie want met die opstanding kan God ons liggaam, siel en gees herenig. In die Skrif word ons vertel dat met die opstanding, selfs die see die dode daarin sal opgee.

Dus sal diegene wat ter see begrawe is, opstaan en soos almal, met hulle siel en gees herenig word.
Waarom het Jakob dus sy seun Josef laat belowe om hom nie in Egipte te begrawe nie maar in plaas daarvan, sy liggaam te neem om by sy voorvaders begrawe te word? Hy het immers die belofte ontvang om die land waar sy voorvaders begrawe is, in besit te neem ofskoon dit vóór sy dood nog nie gerealiseer het nie. Die klaarblyklike rede sou gewees het dat hy by sy voorvaders begrawe wóú word en dit was dus geen onredelike versoek nie.

Moontlik wou Jakob bloot nie tussen heidene begrawe word nie, want Egipte was ‘n heidense, afgodaanbiddende volk. Die ander moontlikheid was dat hy begrawe word tussen sy voorvaders, wat hy geweeet het, die één ware God aanbid en Sy gebooie getrou nagekom het. Watter verskil maak dit? Oënskynlik moes dit wel ‘n verskil gemaak het omdat Josef, wat hom betref, dieselfde verlang het. Hy het, trouens, die kinders van Israel laat belowe dat  hulle ook sy beendere uit Egipte sou wegneem wanneer hulle na Israel vertrek, wat hulle inderdaad ook gedoen het.

Verskoon my as ek dit sê, maar ek voel dieselfde oor waar ek begrawe wil word. Natuurlik kan my eggenote en ek nie ook by ons voorvaders begrawe word nie, maar ons het sekergemaak dat ons tussen ander Messiaanse gelowiges ter ruste gelê word. Soos voorheen gemeld, het ons geen benul wat die verskil is nie, maar ons het slegs besluit dat dít ons wens is.

Jesaja / Yeshayahu {66:17} “Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en muise-almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die HERE.”.

Jesaja / Yeshayahu {65:4} “wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet, en daar is brokke onrein vleis in hulle skottels; {65:5} wat sê: Bly daar! Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou! Hierdie mense is 'n rook in my neus, 'n vuur wat die hele dag brand. {65:6} Kyk, dit staan voor my aangesig geskrywe; Ek sal nie swyg nie, tensy dat Ek dit vergeld het; ja, Ek sal dit vergelde in hulle boesem-”.

Jy wonder miskien waarom ek hierdie twee Skrifgedeeltes aanhaal – albei blyk geheel-en-al om geen betrekking op die onderwerp te hê nie. Die feit is egter dat dit nie so is nie!

Die kerklike leer, oor die algemeen, verkondig vandag teenstrydighede met die Tora en in besonder teen die wette aangaande eetgewoontes, wat daarin vervat is. Hulle eet varkvleis en ander voedselsoorte wat as ‘n gruwel in die oë van die Here beskou word. In die betrokke verse leer God ons wat die einde van hierdie mense sal wees. Moet dit egter nie volgens julle mening probeer regverdig dat God slegs tot Israel gespreek het nie, want Hy het nie. Elke gelowige, Jood of nie-Jood, wat gered is, is geënt in dieselfde boom van wie die voorvaders van Israel, die wortels is. Wanneer nie-Joodse gelowiges Jesus as hulle Messias aanvaar, word hulle deel van die ryk van Israel en is gevolglik onderworpe aan die leringe van die Tora.

Wat is dus my punt? Eenvoudig! My beskouing om in ‘n Christelike- of nie-sektariese begraafplaas ter ruste gelê te word, is dieselfde as wat Jakob moontlik gevoel het om in Egipte begrawe te word. Wat staan ‘n mens dus te doen? In die eerste plek vir diegene wat in Kanade en die Verenigde State woon, is daar baie Messiaanse gemeentes, waarvan ons s’n één is. Indien dit vir iemand belangrik genoeg is, sou dit nie moeilik wees – indien hulle nie naby ‘n Messiaanse Joodse begraafplaas woon nie – om hul liggaam te laat verskeep vir begrafnis aldaar nie. Ek is nie bewus daarvan of daar ‘n Messiaanse begraafplaas in Europa is nie, maar ‘n opsie is, indien jy dit natuurlik kan bekostig, om in Israel begrawe te word. Na my beste wete, beskik nie-Jode ook daar oor ‘n begraafplaas.

In elk geval, moet elke persoon in sy / haar hart oortuig wees van waar hulle graag begrawe wil word en per slot van sake, maak dit tog selfs nie ‘n verskil nie!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou