Sondag 27 Mei 2012

Getrouheid in die uitvoering van die taak wat aan ons toegewys is

27 Mei 2012
 D’Var Torah 
Lig die Hoof Op / Naso 




Númeri / Bamidbar {4:24} “Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer: {4:25} hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms {4:26} en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig. {4:27} Die hele dienswerk van die seuns van die Gersoniete—alles wat hulle moet dra en hulle hele diens—moet wees volgens die bevel van Aäron en sy seuns; en julle moet hulle al hulle drawerk aanwys om dit waar te neem. {4:28} Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van die Gersoniete by die tent van samekoms; en wat hulle te besorg het, moet plaasvind onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron. ”. 

 Die Skrif gaan verder met die uiteensetting van die verantwoordelikheid van elk van die priesterlike families met die aftakeling en oprigting van die tent van samekoms (Ohel Moed). Elke familie het hulle besondere taak gehad en die drie priesterlike families het eensgesind saamgewerk om te verseker dat die taak doeltreffend, volledig en spoedig afgehandel is. 

Het julle al ooit die geleentheid gehad om toe te kyk wanneer ‘n reisende sirkus hulle tente ter voorbereiding van die openingsvertoning opslaan? In Florida, waar ek vandaan kom, het vele sirkusgroepe in die winter na die sonnige suide getrek. ‘n Mens sou dan die stoet vragmotors, elk met ‘n afsonderlike deel van die sirkustoerusting en -diere in die omgewing sien aankom. Hulle het tot by ‘n stuk oop veld gery, dit afgekamp en met militêre presisie die groottent (hoof sirkustent) begin oprig. Ek het altyd met verwondering gekyk hoedat dié groot tent op die grond uitgelê en binne ure opgerig is, sodat alles betyds in gereedheid gebring kan word. Die vragmotors is letterlik in ‘n verskeidenheid karnavaalspeletjies, ritte en kosstalletjies omskep. Teen die aand van só ‘n dag van nougesette spanwerk, sou alles gereed wees en kon ‘n mens die geluide hoor, geure ruik en opwinding, wat met ‘n sirkus gepaardgaan, ervaar. 

Dit is vreemd dat ek tot nou toe nooit werklik die ooreenkoms tussen die oprig van ‘n sirkustent en die taak wat die priester gehad het met die aftakel en oprig van die tent van samekoms begryp het nie. Ofskoon laasgenoemde ‘n heilige taak was, is ek oortuig daarvan dat die militêre akkuraatheid en nougesetheid wat dit vereis het, presies dieselfde moes gewees het. 

In die geval van die sirkus, het elke individu – sonder om aangesê te word – gou-gou hulle vragmotors afgelaai en dadelik die taak, wat aan hulle opgedra is, uitgevoer soos wat hulle menigmaal in die verlede reeds gedoen het. Niemand het gekla nie, niemand het in mekaar se pad gekom nie. Almal het hulle besondere verantwoordelikhede gehad, wat hulle met doelgerigtheid ter wille van die geheel uitgevoer het. 

Kan julle julself voorstel, met die oprigting van die tent van samekoms, indien één groep by die ander twee agtergeraak het, of één individu binne ‘n groep besluit het dat hy nie langer sy taak gaan uitvoer nie, omdat hy dit vir die afgelope twintig jaar herhaaldelik moes doen? Dit sou die hele proses in die wiele gery en uiteindelik die gesamentlike aanbidding van die volk omvergewerp het. 

God het aan elkeen van ons sekere take binne die Liggaam van die Messias (Goof HaMashiach) toegeken. Ons het elkeen ‘n rol om te vertolk om God se gemeente (kehila) en uiteindelik Sy koninkryk te bou. Dit maak egter nie saak hoe wêrelds of gering jou aandeel daarin mag lyk nie en of jy dieselfde taak al vir jare moes uitvoer en uiters verveeld daarmee is nie: sonder jóú aandeel sal die geheel daaronder ly. 

1 Korínthiërs / Korintim Aleph {12:14} “Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. {12:15} As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:16} En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:17} As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? {12:18} Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. {12:19} As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? {12:20} Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. {12:21} En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. ”. 

God gaan ons nie beloon volgens die belangrikheid wat ons taak in die koninkryk was nie. Hy gaan ons wel egter beloon na gelang van ons getrouheid in die uitvoering van die taak, wat aan ons toegewys is. Wees dus getrou in dít wat aan jou opgedra is en op die bestemde tyd sal jy beloon word. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 20 Mei 2012

Nageslag van Abraham, en Erfgenaam Volgens die Belofte

26 Mei 2012 
D’Var Torah 
In Die Wildernis / BaMidbar 


Númeri / BaMidbar {1:16} “Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel. {1:17} Toe het Moses en Aäron dié manne geneem wat met hulle name aangewys was, {1:18} en hulle het die hele vergadering op die eerste dag van die tweede maand bymekaar laat kom; en dié het hulle afkoms opgegee volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, hoof vir hoof, ”. 

Moses was nou besig om die kinders van Israel te tel ten einde ‘n leër op die been te bring. Hulle sou gaan oorlog voer, met die doel om die land , wat God aan hulle voorouers belowe het, in besit te neem. Elke volwasse man van twintig jaar en ouer, wat geskik was om te veg, moes getel word. Aangesien hierdie die tweede jaar van hulle bevryding was, was dit die eerste geslag bevryde slawe, wat uit Egipte gekom het. Ek veronderstel dat dit die rede was waarom Moses en Aäron van hulle vereis het om hulle afkoms of voorgeslagte te verklaar. In die eerste instansie, het ons verneem dat daar ‘n gemengde skare was wat Egipte saam met die kinders van Israel verlaat het. Diegene, soos ek in vorige kommentare reeds verduidelik het, het bestaan uit gevange slawe van ander lande, wat deur die Egiptenare verslaan was, mense van gemengde huwelike asook kinders uit sodanige huwelike of Egiptenare, wat in die God van Israel begin glo het. Hierdie mense moes geïdentifiseer word om te verseker dat hulle nie swakker of enigsins anders as die res behandel sou word nie. 

Eksodus / Shemot {23:9} “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het. ”. 

Dit was ook noodsaaklik om vas te stel wie hulle was, sodat hulle geaffilieer kon word met ‘n bepaalde stam of één van hulle keuse. Tweedens, vir almal wat werklik van Israel afgestam het, sou die verklaring van herkoms verseker dat hulle geïdentifiseer word met die regte stam – die stam van hulle voorvaders – en dus onder die korrekte banier marsjeer. Genealogie was van die uiterste belang in Bybelse tye, net soos dit vandag in Israel belangrik is, veral in die geval van immigrasie. Allerbelangrik egter, deur die verklaring van iemand se afkoms, was dat dit sy affiliasie met- en toewyding aan die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob verseker het. God het hoegenaamd geen verdraagsaamheid ten opsigte van afgodery gehad nie! 

Eksodus {34:14} “Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy. ”. 

Jesus die Messias se afkoms was ewe belangrik. Ten einde die Koning in Israel te wees, moes Hy aan twee maatstawwe voldoen: Eerstens moes Hy afgestam het van die patriarge, spesifiek van die stam van Juda en tweedens, mag Hy nie ‘n afstammeling van die vervloekte afstamming (lyn) van koning Jekonia gewees het nie. Sy geslagsregister, soos opgeteken in beide Matthéüs en Lukas, verstrek aan ons Sy afkoms en bevestig Sy aanspraak op die troon van Dawid. 

As gelowiges in Jesus die Messias, is ons afkoms ewe belangrik vandag as wat dit in Númeri was. Ons mag geen ander God as die God van Israel dien nie. 

Dikwels vertel mense aan my dat hulle ‘n familielid of vriend het wat byna gered (wedergebore) is. Jy kan nie byna gered wees nie – jy is óf vír Jesus die Messias óf jy is téén Hom; daar bestaan geen grys area wanneer dit by redding kom nie! Elkeen in die ganse wêreld sal eendag voor die enigste ware God, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob verskyn en Hy sal elkeen versoek om sy / haar afkoms te verklaar. Indien hulle nie hulle afkoms van Abraham deur Jesus die Messias kan nagaan nie, sal geen Jood of nie-Jood geag word om kinders van God te wees en sal hulle nie die Komende Wêreld (Olam Haba) kan ingaan nie. 

Galasiërs / Galatim {3:26} “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27} want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. {3:28} Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. {3:29} En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 13 Mei 2012

Vrees God genoegsaam om ons sonde te verafsku

13 Mei 2012 
D’Var Torah 
Op Die Berg / Volgens My Verordeninge // Behar / Behukotai 

Levitikus / Vayikra 25:1 – 26:2 
Jeremia / Yirmeyahu 32:6 – 27 
Lukas / Uri 4:16 – 21 

Levitikus / Vayikra {25:17} “Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God. {25:18} En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land. ”. 

Levitikus / Vayikra {25:39} “En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie. {25:40} Soos ‘n dagloner, soos ‘n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien; {25:41} dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan. {25:42} Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos ‘n mens ‘n slaaf verkoop nie. {25:43} Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees. ”. 

Die rede waarom ek hierdie twee Skrifgedeeltes uit parasha Behar gekies het om oor kommentaar te lewer, het betrekking op die woorde “…vrees jy jou God.”. Een van die grootste probleme onder gelowiges vandag is dat hulle God nie vrees nie. Ek bedoel nie om bang te wees nie vir God soos wat ons vir ‘n uitgehongerde hond, wat ons op straat bestorm, sou bang wees nie. Wat ek bedoel, is om ‘n eerbiedige vrees vir die ontsagwekkendheid en almag van die Een wat lewe en dood in Sy hande hou, te koester. 

Die gebrek aan vrees, volgens my mening, spruit uit die feit dat die meerderheid, wat in Jesus die Messias glo, nie hulle tekortkominge oftewel hulle sonde besef nie. Ek het al dikwels met gelowiges gesels, wat openlik erken dat hulle een of ander onbeheerbare soort sonde het of aan ‘n verslawing ly. Ongelukkig, wanneer omstandighede met verloop van tyd verbeter, verval hulle keer op keer weer in dieselfde sonde, wat dan tot berou en vele nagevolge lei. Ek skryf hulle sondesiklus toe aan die gebrek aan Godvresenheid. Indien ons God waarlik gevrees en die gevolge van sonde op fisiese-, verstandelike- en geestelike gebied, wat deur Hom teweeggebring en, trouens, uitdruklik in Sy Woord opgesom word, besef het, sou ons sonder twyfel twee maal gedink het voordat ons gesondig het! Waarom is ons vrees vir God dan nie genoegsaam om ons te laat ophou sondig nie? Besef ons nie dat ons lewens veel beter en makliker sou gewees het indien ons God gevrees het nie? Ongelukkig is die meeste van ons se vrees vir God nie genoegsaam vir ons om ons sonde te verafsku en ons lewens te verander nie. 

Neem nou ‘n oomblik en probeer dink aan ‘n gevolg wat jy in jou lewe ervaar het of moontlik tans ervaar en probeer dit in verband bring met ‘n sonde wat jy in die verlede gepleeg het. Sou jy hierdie gevolg ervaar het indien jy God gevrees en nie gesondig het nie? Volgende keer as jy in versoeking kom om byvoorbeeld ‘n seksuele sonde in ‘n oomblik van passie te pleeg, dink aan die vrees vir God. Wanneer jy in versoeking verkeer om ‘n leuen te vertel ten einde uit ‘n moelike situasie te kom, onthou die vrees vir God. Volgende keer wanneer jy jou humeur of geduld wil verloor, dink aan die vrees vir God. 

Matthéüs / Mattityahu {10:28} “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. ”. 

Om nou insig in parasha Behukotai te verkry: 

Levitikus / Vayikra {26:3} “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, {26:4} sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.”. 

Levitikus / Vayikra {26:15} “en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek {26:16} dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.”. 

Parasha Behukotai is die “as jy, sal Ek” – parasha. Die woorde “As jy” kom negemaal voor en die woorde “Ek sal” verskyn vier-en-twintig maal in hoofstuk 26. Die les om uit hierdie parasha te leer, is dus heel eenvoudig. God sal ooreenkomstig ons gehoorsaamheid aan Sy gebooie, optree of reageer. Dit is inderdaad ‘n ontnugterende gedagte wanneer ‘n mens daaraan dink dat die meerderheid gelowiges in Jesus die Messias, God nie waarlik vrees nie.

Dinsdag 01 Mei 2012

Verskonings: God Ken My Hart

1 Mei 2012 
D’Var Torah 
Sê / Emor 
“Verskonings: God Ken My Hart” 
Levítikus / Vayikra 21:1 – 24:23 
Eségiël / Yechezekiel 44:15 – 31 
1 Petrus / Kefa Aleph 2:4 – 10 


Levítikus / Vayikra {21:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Spreek met die priesters, die seuns van Aäron, en sê vir hulle: Aan ‘n dooie moet ‘n priester hom nie verontreinig onder sy volksgenote nie; {21:2} behalwe aan sy bloedverwant, sy nabestaande: aan sy moeder en sy vader en sy seun en sy dogter en sy broer; {21:3} en aan sy suster wat jongmeisie is, sy nabestaande, wat nie aan ‘n man toebehoort het nie aan haar mag hy hom verontreinig. {21:4} Hy mag hom as getroude man nie verontreinig onder sy volksgenote om hom te ontheilig nie. ”. 

Ons behoort almal vertroud te wees met die uitdrukking: “Aan wie veel gegee is, van hom / haar word veel verwag”. Hier het ons selfs ‘n voorbeeld daarvan. Aan Aäron en sy seuns is ‘n verhewe amp onder die kinders van Israel verleen. Vir geslagte lank sou die amp van Hoëpriester (Cohen Gadol) in hulle familie voortbestaan en sou daar na hulle opgesien word en hulle die hoogste aansien onder die ganse volk geniet. Die priesters (cohanim) was die geestelike leiers van die volk, die verteenwoordigers van God, die pilare van die samelewing en het oor die beslissende woord in alle geestelike –en wetlike aangeleenthede beskik. Gevolglik sou God van hulle ‘n hoër mate van heiligheid verwag het. 

Die priesters het in die teenwoordigheid van God diens verrig. Hulle taak het in hoofsaak die administrasie van die stelsel van naderkomsoffers (korbanot) behels. Hierdie offers was bedoel om lewe te verseker (vergifnis van sonde). God is lewe; dus kon ‘n priester, wat verontreinig was deur die teenwoordigheid van ‘n dooie persoon, die God van lewe nie behoorlik verteenwoordig nie. Soos ons gelees het, is God egter vol liefde en erbarming en het Hy wel voorsiening gemaak vir uitsonderings, wat ‘n priester toegelaat het om die begrafnisse van spesifieke familielede by te woon. 

Dit bring ons by die vraag: “Het God dan uitsonderings op Sy voorskrifte?” Dit grief my dat, wanneer mense nalaat om die gebooie van God te gehoorsaam, veral dié met betrekking tot die Sabat, hulle hulself probeer regverdig. Hulle is al te gou om te sê: “ God ken my hart” of “God verstaan.” God ken inderdaad ons harte en ongetwyfel verstaan Hy ook: 

1 Kronieke / Divre HaYamim {28:9} “…want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes…”. 

Meen dit egter nou dat God op al Sy gebooie uitsonderings maak? Die antwoord daarop is uitdruklik NEE!  

Deuteronomium {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2} En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God.”.{ 28:15} “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.”. 

God verstaan en ken ons harte, maar dit verander geensins óns verantwoordelikheid om Sy gebooie (mitzvot) na te kom nie en dan presies soos wat dit gegee is. Die enigste geleentheid waar daar wel ‘n uitsondering sou wees, is wanneer God gesê het dat daar ‘n uitsondering is, andersins is daar geen. 

God het Israel, om geen rede hoegenaamd nie, uitverkies om Sy besondere skat te wees: 

Deuteronomium {7:7} “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. ”. 

Die feit is, God het ons, op dieselfde wyse – om geen besondere rede nie – gekies om in Jesus die Messias te glo. Van Israel (Yisrael) as volk, is ook verwag om ‘n hoër peil te handhaaf en tereg ook, omdat “Aan wie veel gegee is, van hom / haar word veel verwag.”: Selfs aan ons is té veel gegee: God het Sy eniggebore Seun gegee, sodat ons gered mag word en “Kinders van God” genoem kan word. Daarom verwag God ook van ons om ‘n hoër peil te handhaaf. Die verskonings: “God ken my hart” of “God verstaan” of enigiets soortgelyk, is nie van toepassing nie om ons vry te stel van die voorskrif om Sy gebooie noukeurig na te kom, presies soos wat dit aan ons gegee is.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou