Sondag 27 Junie 2021

Waarskuwings

 Balak

(Balak)


Numeri 22:2 - 25:9 

Miga 5:6 - 6:8 

1 Korinthiërs 1:20 – 31

Waarskuwings


Numeri {22:28} “Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?” {22:29} Bileam antwoord toe: “Jy hou my vir die gek. As ek 'n swaard by my gehad het, het ek jou doodgemaak.” {22:30} Toe sê die donkie vir Bileam: “Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?” en Bileam antwoord: “Nee!””


Diegene van my tydgenote, uit die Verenigde State, sal waarskynlik die televisiereekse “Mister Ed” onthou. Vir almal wat dit nie gesien het nie, was dit oor ‘n perd wat gepraat het. Dit was ‘n baie gewilde program, waarin gaskunstenaars van die kaliber van Clint Eastwood voorgestel is. Die vertoning was aangepas uit ‘n reeks kortverhale oor ‘n pratende perd, deur Walter R. Brooks, in 1937 geskryf. Ek kan dit nie verseker sê nie, maar dit sou my nie verbaas het as hy die patent van ‘n pratende perd verkry het uit die Bybelse verslag oor Balak se donkie nie.


Ons weet dat diere nie kan praat nie, alhoewel dit al beweer is dat diere sekere menslike klanke kan namaak of ‘n paar menslike woordklanke kan weergee, maar ‘n dier kon nog nooit ‘n gesprek voer, soos Bileam se donkie nie. Ja, selfs Mr. Ed kon nie werklik praat nie.


Indien ‘n mens selfs oor duisende jare nie daarin kon geslaag het om ‘n dier in sinne te laat praat nie, hoe kon Bileam se donkie dan praat? “Die Here het die bek van die donkie geopen…” Dit was nie die donkie wat gepraat het nie, maar die Here wat deur die donkie gepraat het. Dit is natuurlik geen groot openbaring nie - die Here kan enigiets doen! Dit was egter nie die pratende donkie wat my geïnteresseer het nie - dit was wat die donkie gesê het, wat my aandag aangegryp het. “Is ek nie jou esel waarop jy lewenslank tot vandag toe gery het nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen?” Dit is duidelik dat God vir Bileam wou toon dat hy sy donkie nie geken het nie, selfs nadat hy sy hele lewe lank daarop gery het. ‘n Mens sou kon dink dat Bileam teen hierdie tyd al sy donkie se karakter en gewoontes moes geken het. Ongelukkig het hy nie en dit het het byna sy lewe gekos.


Wat probeer God ons hier wys? Daar moet beslis in hierdie Skrifgedeelte ‘n eenvoudige betekenis wees, wat ek glo, ‘n boodskap vir ons in dié voorval geleë is. Die Here het uitdruklik vir Bileam belet om na Balak te gaan. Dit was egter eers na die verontagsaming van die eerste Nee en terwyl hy Hom herhaaldelik gevra het, het God eindelik met voorbehoude ingestem. Nou, terwyl hy met sy donkie na Balak gery het, het die Here ‘n engel gestuur om in sy pad te staan. Die donkie sien die engel maar Bileam is nie bewus van sy teenwoordigheid nie. Eers het die donkie van die pad afgedraai in die veld in en toe dit Bileam nie gekeer het nie, het die donkie Bileam se been teen ‘n muur beseer, wat ook nie gewerk het nie. Eindelik het die donkie onder hom gaan lê, maar steeds was Bileam onbewus van die engel se teenwoordigheid. Dit was nie voordat die donkie gepraat het nie, dat God Bileam se oë geopen het.


Wat sal dit van God verg om ons aandag te kry? Wat is dit in ons lewens wat ons doen terwyl ons weet wat verkeerd is: dinge wat ons wel besef dat ons buite die wil van God lewe, maar ons volhard in elk geval daarmee! So dikwels in ons lewens kies ons ‘n afdraaipad  wat nie deur die Here goedgekeur word nie. Hy het die een boodskap na die ander gestuur deur my herhaaldelik te waarsku deur middel van mense wat ek behoort te vertrou het, maar ek was steeds oortuig daarvan dat ek reg was en het gevolglik daarmee volhard. Selfs nadat ek ook teen ‘n muur geslaan is, was ek nogtans vasberade en het ek versuim om rond te kyk vir ‘n ander pad daarom heen. Ek het gedink dat ek reg optree totdat God eendag vir my ‘n “donkie” gestuur het, iemand wie se opinie ek die minste sou respekteer, om my te berispe en skielik is my oë geopen en het ek besef op watter gevaarlike pad ek op was.


Ja God spreek vandag tot ons en soms gebruik hy die mees onortodokse wyses om dit te doen. Dit mag nooit ‘n pratende donkie wees nie maar soos in my geval, mag dit van iemand of iewers kom waar ‘n mens dit die minste verwag. Die mees opvallende wyse, egter, wat God tot ons spreek, is deur Sy geskrewe Woord. Die Bybel is vol waarskuwings, vermanings, en wat ons mag en nie mag doen nie, maar soos Bileam, gee ons gehoor daaraan of neem ons God en Sy waarskuwings as vanselfsprekend?    


Dit is jammer dat Bileam nie sy getroue donkie na soveel jare se diens geken het nie. Ek kan verstaan waarom die Here kwaad genoeg vir hom was deur die donkie se bek te open om hom te bestraf. Meeste van alles egter, was dit ‘n skande om ‘n donkie te gebruik om Bileam se hart bloot te lê. Bileam het sy donkie as vanselfsprekend aanvaar en baie van ons doen dieselfde met die Here. Hy vertel ons soveel oor Homself in Sy Woord maar baie van ons, soos Bileam en sy donkie, ken Hom nie ten spyte van die feit dat Hy ons lewe aan ons gegee het.


Psalm {81:13} “Daarom het Ek hulle laat begaan in hulle koppigheid en hulle het hulle eie sin en wil gevolg.”   

Kom gou Jesus!



PDF weergawe

Sondag 20 Junie 2021

Heiligheid

 Chukat

(Statute)


Numeri 19:1 – 22:1

Rigters 11:1 – 33

Johannes 3:10 - 21


Numeri {20:7 - 13} “Die Here sê toe vir Moses: {20:8} “Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.” {20:9} Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het {20:10} en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” {20:11} Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink. {20:12} Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.” {20:13} Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.”


Dit was nie die eerste keer dat die kinders van Israel dors gely het terwyl hulle deur die wildernis getrek het nie - dit was die derde keer. Daar is egter meer as net water betrokke. Ons sal nog sien dat God die Evangelieboodskap binne hierdie drie gebeure aan water aangeleenthede gekoppel het.


Die eerste voorval het by Mara plaasgevind waar die water bitter en ondrinkbaar was. Mara beteken “bitter”. Dáár het Moses vir God aangeroep namens die volk en is hy beveel om ‘n boomtak in die water te gooi. Wonderbaarlik het die water soet geword! Wat is die Evangeliese betekenis hier? Die tak wat Moses in die water gegooi het, was simbolies van die Boom van Lewe: Jesus. Tydens ons Tora-diens in Kenia, het ons die “Aitz Chaim” (Boom van Lewe) gedreunsang as deel van ons liturgie. Hierdie lied verwys na die Woord van God, Messias Jesus, wat die Lewende Woord is. Dus toe die Boom van Lewe, gesimboliseer deur die tak wat in die bitter water by Mara gegooi is, het dit lewe aan daardie water gebring en die bitter water het soet geword. Netso, toe Jesus vlees geword het in ‘n bitter wêreld, het Hy redding en lewe daarin gebring: die bitter het soet geword. Hierdie eerste voorval van gebrek aan water, verteenwoordig Jesus se vleeswording, Sy geboorte.


Die tweede waterskaarste was by Rephidim wat  “rusplek” beteken. Moses het weer tot die Here geroep en is beveel om God by die “Rots” te ontmoet, waar Sy verheerliking sou verskyn. Ook dit was simbolies en ‘n voortsetting van die Evangeliese voorstelling. Daar word dikwels in die Skrif na Jesus as “Die Rots” verwys. Dit was by Rephidim (rusplek) waar “die Rots” geslaan is sodat lewende water vir die mense uitgestort kon word. Na Jesus se dood, is die Heilige Gees uitgestort oor alle vlees, soos Lewende Water deur die Rots - eenmaal - te slaan was simbolies ‘n aanduiding van Jesus se dood. Die tweede watervoorval was dus ’n beeld van Jesus wat geslaan word: Sy dood.


Volgens Parasha Chukat ondervind Israel weer verdere tekort aan water: hierdie keer by Kadesh, wat “Heilig” beteken. Hier is Moses beveel om die mense rondom “Die Rots” te laat byeenkom, die Rots aan te spreek en lewende water sou daaruit vloei. God het Moses beveel om slegs te praat, nie om daarteen te slaan nie! Deur wel teen die Rots te slaan, het Moses nie vir God gehoorsaam nie en die finale Evangeliese beeld vernietig; wat God besig was om te skilder oor ons Messias Jesus en vandaar die wrede gevolge. God het alreeds by Mara simbolies aan Israel van Jesus se geboorte getoon, sy daad by Rephidim en nou wou Hy aan hulle die finale deel van die Evangeliese beeld toon: REDDING. Ten einde gered te word (weer gebore), hoef ons slegs ”Die Rots” (Jesus) te vra om ons te red! Wanneer ons dít doen, stort Hy Sy lewende water van redding oor ons. Omdat Moses teen die Rots by Kadesh geslaan het, is Jesus ‘n tweede keer simbolies gekruisig. Wat ‘n HEILIGE tyd moes gewees het, het ‘n tyd van “tweedrag” en “stryd” geword . Geen wonder dat God vir Moses kwaad geword het nie! 


Deur sy optrede het Moses die volk bestraf, God se heerlikheid is ontneem, God se betuiging van genade vernietig. Dit is egter verstommend dat God in elk geval wel water gestuur het. Dit is omdat God se voorsiening nie afhanklik is van ons dade van geregtigheid nie: God se voorsiening is uitsluitlik afhanklik van Sy genade en guns. Moses het niks te doen gehad met die voorsiening van die water nie Hierdie was God se mense, dit was God se tak in Moses se hand, dit was God se Rots en dit was God se water. Moses was slegs die medium wat God gekies het om op hierdie besondere tye te gebruik. God was nie afhanklik van Moses om water te voorsien nie, netsoos Hy ook nie van ons afhanklik is nie! Dit is reg: God is nie van julle of my vir enigiets afhanklik nie. Hy seën ons deur ons te gebruik, maar word nie vir ‘n sekonde deur ons beperk nie. Hy is, in en deur Homself, geheel en al selfgenoegsaam.


Jakobus {4:10} “Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”


Kom gou Jesus!


PDF weergawe



Sondag 13 Junie 2021

Die Wet

 Korach

(Korag)

 

Numeri 16:1 – 18:32

1 Samuel 11:14-12:22

Romeine 13:1 - 7 


Numeri {18:1} “Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns, en jou stam saam met jou, word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die heiligdom, maar net jy en jou seuns word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die priesteramp wat deur julle beklee word. {18:2} Jy moet jou Levitiese ampsgenote uit jou stam na jou toe laat kom dat hulle by jou kan aansluit en jou kan help. Jy en jou seuns moet die ampspligte by die tent met die getuienis verrig. {18:3} Die Leviete is tot jou beskikking vir al die diens by die tent. Hulle mag egter nie die offergereedskap hanteer om op die altaar te offer nie, want dan sal hulle en julle sterf. {18:4} Hulle moet by jou aansluit en die diens by die tent van ontmoeting waarneem, al die werk by die tent. Iemand wat nie daartoe bevoeg is nie, mag nie saam met julle diens doen nie. {18:5} Net júlle mag die diens by die heiligdom en die altaar waarneem, sodat die toorn van die Here nie weer oor die Israeliete kom nie.”


Hierdie Skrifgedeelte bevat sommige baie ernstige opdragte! Trouens so ernstig, dat ek dink ons weer na vers 1 moet kyk.


Numeri {18:1} “Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns, en jou stam saam met jou, word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die heiligdom, maar net jy en jou seuns word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die priesteramp wat deur julle beklee word.”


Verstaan julle die implikasies hiervan? Dit beteken dat alles wat in die Tabernakel plaasvind, was die verantwoordelikheid van Aäron en sy seuns; hulle was aanspreeklik daarvoor. Dit beteken dat alle naderkoms-offerande, deur die mense gebring, alle belydenisse en berou wat daar plaasgevind het, alle prosedures met betrekking tot die onderhoud van die Tabernakel, alles wat gebeur, alles wat gedoen en alles wat onderrig is deur óf Aäron, sy seuns, selfs hulle in sy vader se huis (die Leviete) was hulle verantwoordelikheid. Om dit eenvoudig te stel, indien enigeen op welke wyse fouteer het,verkeerde dinge geleer het, sou hulle aanspreeklik gehou word selfs in hulle vader se huis.Ons het ‘n voorbeeld gesien van wat die gevolge van rekenskap was toe Aäron se seuns gefouteer en gesterf het. Ek weet nie van julle nie, maar dit sou my tweemaal laat dink het voordat ek die verantwoordelikheid van om ‘n priester te wees, aanvaar het. Die feit is egter dat hierdie gewigtige taak van verantwoordelikheid steeds vandag nog toepaslik is op gemeenteleiers en ek bedoel nie slegs die rabbi nie, maar eerder op elkeen in ‘n leierskapsposisie.


Jakobus {3:1} “My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.”


Dit klink beslis soos wat ons hierbo gelees het. Dieselfde gewigtige verantwoordelikheid wat op Aäron en sy gesin gerus het, is uitgebrei na die Nuwe Testament, op elkeen in enige hoedanigheid van gemeentelike leierskap.


Ek kan julle verseker dat ek hierdie verantwoordelikheid ervaar elke keer wat ek iets doen deur gemeentes in Kenya te lei; ek moet beginselvas wees in my navolging van God en ek waarsku die leierskap onder my om dieselfde te doen. As leiers moet ons hard stry om standpunt in te neem vir wat reg is en wat bybels is. Ongelukkig ken ek en het al vele gewetenlose gemeenskapsleiers teëgekom wat hulle posisies misbruik en ek sidder as ek dink aan die gevolge wat daar vir hulle wag. Oorweeg byvoorbeeld hierdie gedeelte:


Matthëús {5:18} “Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. {5:19) Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.”


Die Wet waarna Jesus verwys, is die Tora. Die kleinste van die Hebreeuse letters staan bekend as ‘n tittle (titel), die strook is die yod (jota) en kotz (horing). Laasgenoemde verwys na die klein horingagtige punt wat uit ‘n Hebreeuse letter steek. Soos ons weet het die hemel en die aarde nog nie verby gegaan nie, trouens nog nie en sal ook nie verbygaan tot na die Duisendjarige Ryk van die Messias nie.


Openbaring {21:1} “Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.”


Dit is ontstellend wanneer ek oorweeg dat al die kerke en al die pastore leer dat ons nie langer onder die Tora (Wet) verkeer nie. Ja, Jesus het die Tora opgehef as die middel om die regverdigheid met God te volbring. Hy het egter nie die Tora as deel van die Woord van God of as deel van die geskiedenis van Israel opgehef nie. Ook het Hy nie al die lesse wat ons uit die Tora lees, opgehef nie of al die gebooie in die Tora wat ons moet nakom en wat vandag vir ons in die Tora toepaslik is nie. Hy het slegs die Tora opgehef teneinde die geregtigheid met God te bereik. Solank die Tora die vereiste vir geregtigheid was, telkens wanneer ons geregtigheid wou eis, kon die Satan daar staan en verwys na ‘n sekere gebod, ‘n sekere ordinansie wat ons nie gehoorsaam het nie en ons aankla dat ons nie regverdig was nie en hy reg sou wees. Dankie Jesus dat u ons bevry het van die wet van sonde en dood.

Kom gou Jesus!



PDF weergawe

Saterdag 05 Junie 2021

Wil

 Shelach

(Ondersoek Jouself)


Numeri 13:1 – 15:41 

Josua 2:1 – 24 

Hebreërs 3:7 – 4:11


Numeri {13:25} “Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan. {13:26} Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. {13:27} Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. {13:28} Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. {13:29} Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.” {13:30} Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” {13:31} Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.” {13:32} Die manne het toe 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot. {13:33} Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.””


Soos ons kan sien is hierdie Parasha en die gedeelte daarvan wat ek gekies het om aan te haal, oor die twaalf verspieders wat Moses gekies het om die Land van Kanaän te gaan verken. Twee van die verspieders, Kaleb en Josua het die land as verowerbaar beskou en aan Moses ‘n positiewe verslag voorgehou, deur hom en die kinders van Israel te bemoedig dat die Kanaäniete verslaan sou kon word en hulle die land sonder moeite in besit sou kon neem. Tien verspieders het egter terug gekeer met ‘n negatiewe verslag en hulle oorredingsredes verstrek waarom die Kanaäniete nie deur die kinders van Israel verslaan sou kon word nie. Dit is tog interessant dat, nadat al twaalf verspieders alles belewe het wat God vir hulle gedoen het tydens hulle tog deur die wildernis, hulle steeds nie die vertroue gehad het om in God te glo nie, selfs nadat God aan Moses die versekering gegee dat Hy die land aan hulle sou gee. Kaleb en Josua was dus reg.


Numeri {13:1} “Die Here het vir Moses gesê: {13:2} “Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.””


Daar is ‘n valse leer wat al ‘n geruime tyd in omgang is in die kerk en wyd aangehang word. Dit word genoem “noem dit en eis dit”. Die aanhangers daarvan, glo dat God aan hulle oorwinning gegee het in elke opsig van hulle lewens, veral op die gebied van finansiële voorspoed; al wat hulle hoef te doen is om geloof te hê deur te glo dat God aan hulle sal skenk wat dit ookal is, wat hulle wil hê. In essensie, as hulle eis sonder om te weifel, deur hulle uitdrukking van geloof, staan God hulle versoek toe. Indien ‘n persoon toevallig egter nie ontvang wat hy geëis het nie, lê die fout nie by God nie maar by die persoon se geloof. 


Natuurlik is dit ‘n valse onderrig en hierdie Parash bevestig dit. In dié Parasha het God alreeds aan die kinders van Israel oorwinning gegee oor die Kanaäniete. Al wat Israel moes doen, was om die land binne te val, daarvoor te veg en enige weerstand wat hulle ondervind het, sou oorwin word. In plaas daarvan het die Israel in opstand gekom teen God en geweier om Kanaän in te neem soos God dit wou gehad het en wanneer Hy dit wou gehad het.Toe hulle egter later hul sonde besef het en die fout wat hulle begaan het, het hulle besluit om teen  die Amelekiete en Kanaäniete op te ruk, maar dié keer het hulle opgetree sonder God se beskerming en is verslaan. Al het hulle nou geloof en vertroue gehad dat hulle die inwoners van die land sou verslaan, was hulle roem op die oorwinning nie voldoende nie omdat God nie meer met hulle was nie. 


Israel het alreeds die land Kanaän oorwin. Dit was ‘n oorwinning wat reeds in die hemel verorden is en daar is nou gewag dat hulle dit moet inneem. Teneinde daardie oorwinning vanuit die hemel te ontvang moes hulle hul wil met die wil van God laat ooreenstem. Om slegs die oorwinning te eis, sou nie gewerk het nie. Ongehoorsaamheid aan God se wil, het neerlaag en nie oorwinning meegebring nie. 


Sekerlik is ons as gelowiges oorwinnend in Jesus en wag die oorwinning vir ons in die hemel, om dit op te neem. Om te oorwin, hang egter nie af van hoeveel ons dit noem en eis nie, of oor hoeveel geloof ons beskik nie. Oorwinning hang af van iets veel meer as dit; Dit hang af of óns wil ooreenstem met Gód se wil, sodat wat Hy vir ons beskik, vrygestel kan word. Elkeen van ons beste pogings om te noem en eis - sal as ons dit nie met God se wil, laat ooreenstem nie, tot neerlaag lei!


Kom gou Jesus!


PDF weergawe