Saterdag 26 Maart 2011

Almal Wie God Vrees en Doen Wat Reg is, is Welkom

26 Maart 2011 / Adar II 20 5771

Agste / Shemini


Levitikus / VaYikra {11:1} “En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en aan hulle gesê: Lev 11:2 Spreek met die kinders van Israel en sê: Dit is die diere wat julle mag eet van al die viervoetige diere wat op die aarde is. {11:12} Alles wat onder die diere gesplitste kloue het, en wel heeltemal gesplitste kloue, en herkou dit mag julle eet. {11:4} Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: die kameel, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle; {11:5} en die das, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle; {11:6} en die haas, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle; {11:7} ook die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie onrein is hy vir julle. {11:8} Van hulle vleis mag julle nie eet nie en aan hulle aas nie raak nie onrein is hulle vir julle. {11:9} Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere dit mag julle eet. {11:10} Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is ‘n gruwel is dit vir julle. {11:11} Ja, ‘n gruwel moet hulle vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie, en hulle aas moet julle vir ‘n gruwel hou. {11:12} Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie ‘n gruwel is dit vir julle. {11:13} En die volgende moet julle van die voëls vir ‘n gruwel hou hulle mag nie geëet word nie, ‘n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël; {11:14} en die kuikendief en die valk volgens sy soorte; {11:15} elke kraai volgens sy soorte; {11:16} en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk volgens sy soorte; {11:17} en die steenuil en die visvanger en die steunuil; {11:18} en die silweruil en die pelikaan en die klein aasvoël; {11:19} en die groot sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep hoep en die vlermuis. {11:20} Al die insekte met vlerke wat op vier pote loop ‘n gruwel is hulle vir julle. ”

Soos julle in hierdie week se Parasha gelees het, onderrig God ons oor wat vir ons eetbare voedsel is en wat nie. Hy sonder spesifiek uit daardie diere, visse, voëls en insekte, dié wat geëet en wat nie geëet mag word nie deur die mens – in die besonder enige persoon wat in Jesus die Messias glo. Die hedendaagse geldigheid van hierdie lys word egter deur sommige mense bevraagteken. Hulle verklaar basies dat op grond van die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), ons nie langer deur hierdie voorskrifte van die Tora gebind word nie. Één Skrifgedeelte wat hulle as bewys aanvoer is die volgende:

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:11} “hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. {10:12} Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. {10:13} Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! {10:14} En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. {10:15} En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. {10:16} En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.”

Die feit is dat hierdie gedeelte van die Skrif geensins betrekking het op kosher (geskikte / gepaste) – voedsel of die herroeping van die voedselwette nie – presies dié wat in vandeesweek se parasha beskryf word. Indien ‘n mens die konteks van hierdie gedeelte noukeurig nagaan, blyk dit duidelik dat die visioen wat aan Petrus (Kefa) geopenbaar is, betrekking gehad het op wat in ‘n ander deel van die land besig was om te gebeur.

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:1} “En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. {10:2} Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. {10:3} Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! {10:4} En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. {10:5} Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. {10:6} Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen.”

Hieruit blyk dit dat Petrus aan ‘n Romeinse kaptein, voorgestel sou word, wat binnekort gered moes word. Volgens die Judaïsme van destyds, het Jode geen omgang met nie-Jode gehad nie – allermins om hul huise te betree! Dit is, trouens, nogsteeds die praktyk onder sekere ultra-ortodokse sektes van Judaïsme. Derhalwe het God aan Petrus getoon dat hy nie slegs Jode tot redding moes bring nie, maar wel ook nie-Jode. God was besig om uit twee nasies, één nuwe mens te maak. Deur sy visioen van die neerdalende laken, het God aan Petrus geopenbaar, dat Hy besig was om diegene wat voorheen deur die Jode as onrein beskou is, te red en daardeur sekere mense van die nasies te reinig. Petrus moes dus nie langer nie-Joodse gelowiges as onrein beskou en hulle daardeur uitsluit van gemeenskap met ander Messiaanse Joodse gelowiges nie. Petrus het uiteindelik tot die besef gekom dat sy visioen nie op voedsel betrekking gehad het nie, maar wel op redding van nie-Jode. Dit blyk duidelik wanneer ons lees wat Petrus aan die die Romeinse kaptein gesê het toe hy sy huis binnegegaan het.

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:28} “en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. ” {10:29} Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.”

Handelinge / Ma’asai Talmidim {10:34} “En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, {10:35} maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 19 Maart 2011

Om te kan dien, moet ons tweeledig gesalf wees

19 Maart 2011 / Adar II 13 5771

Opdra / Tzav


Levitikus / VaYikra {8:24} “Moses het ook die seuns van Aäron laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlel en aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet gestryk; daarna het Moses die orige bloed rondom teen die altaar uitgegooi.”

Die eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek hierdie Skrifgedeelte gelees het, was: “Waarom het God verkies dat noodwendig die regterhand van die priesters met bloed gesalf word? Is dit dan verkeerd om linkshandig te wees?” Die antwoord daarop is natuurlik, nee! Insgelyks het God so ook aan die regteroor en – groottoon voorkeur verleen. Ons het nog nooit verneem van iemand wat regs of links van gehoor of toon is nie, veral met ‘n sekere negatiewe konnotasie, wat in die verlede algemeen van toepassing was op mense wat linkshandig-dominant was. Gevolglik moet daar ‘n ander verduideliking bestaan.

Psalm Tehillim {118:15} "'n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die HERE doen kragtige dade. {118:16} Die regterhand van die HERE verhef; die regterhand van die HERE doen kragtige dade."

Psalm /Tehillim {110:1} “Van Dawid. ‘n Psalm. Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”

Hebreërs / Ivrim {12:2} “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

Op grond van die bovermelde asook talle ander soortgelyke verse, kan ons aanvaar dat die regterhand Jesus die Messias simboliseer. Ons weet ook dat al die naderkomsofferandes (korbanot) simbole was van ons Messias, Jesus, wat, trouens, die finale korban was. Dit is Sy Bloed wat ons reinig van ons sonde, Sy bloed wat ons red en Sy bloed wat ons heilig (wy) vir diens. Die voorbeeld wat God dus aan ons voorhou, is soos volg: Die bloed van Sy (d.w.s. Jesus) regterhand gesmeer aan die regteroorlel, die regterduim en regtergroottoon van Aäron en sy seuns, het hulle geheilig vir diens. Hierdie drie ekstremiteite verteenwoordig die dienslewering deur die Hoëpriester, wat Jesus by die volk verteenwoordig het: Die oor is om die stem van die Here te hoor, die duim is om die werk van die Here te verrig en die groottoon is om te wandel in die weë van die Here. Die natuurlike mens ontvang nie die geestelike gawes van die Here nie. Dit is onmoontlik om Hom te dien, soos wat Hy dit van ons vereis, sonder dat ons gered is. Daarom is dit bloed, spesifiek die bloed van versoening – Jesus die Messias, ons finale versoening – wat ons red.

Hebreërs / Ivrim{9:14} “hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”

Ons moet veral let op iets baie betekenisvol aan die einde van vers 14 hierbo. Afgesien van die aanwending van bloed aan Aäron en sy seuns, het Moses ook rondom teen die altaar, die bloed gesprinkel. Bloed op die altaar simboliseer God se genade.

Efesiërs / Efesos {2:18} “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”

Die simboliek eindig egter nie daar nie.

Levitikus / VaYikra {8:30} “Moses het ook van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron, op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns gesprinkel. So het hy dan Aäron, sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns geheilig.”

Aäron en sy seuns is ingeseën met bloed en olie. Die aanwending van bloed wás ‘n simbool van sondevergifnis en die olie ‘n simbool van salwing met die Heige Gees. Sonder sondevergifnis en salwing met die Heilige Gees, sou dit vir Aäron en sy seuns onmoontlik gewees het om namens God diens te verrig.

Levitikus / VaYikra {17:11} “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”

Tot vandag toe het niks verander nie:

Matthéüs / Mattityahu {26:28} “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.”

Jesus die Messias – ons finale versoening – het Sy bloed vir ons gestort dat ons sondevergifnis mag ontvang en Hy het ons met die Heilige Gees gesalf, sodat ons as gesalfde priesters van die Allerhoogste God, Sy getuies hier op aarde mag wees.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 12 Maart 2011

Hoe Beskou Julle Dit

12 Maart 2011 / Adar II 6 5771

En Hy Het Geroep / VaYikra


Levitikus / VaYikra {1:1} “En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: {1:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ‘n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. {1:3} As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind. {1:4} En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen. {1:5} Dan moet hy die jong bul voor die aangesig van die HERE slag; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed bring en die bloed rondom teen die altaar uitgooi wat by die ingang van die tent van samekoms is. {1:6} Dan moet hy die brandoffer afslag en dit in sy stukke verdeel. {1:7} En die seuns van Aäron, die priester, moet vuur op die altaar neersit en hout op die vuur reglê. {1:8} Ook moet die seuns van Aäron, die priesters, die stukke, die kop en die vet reglê op die hout wat op die altaarvuur is. {1:9} Maar die binnegoed en die pote moet hy met water was, en die priester moet dit alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. {1:10} En as sy offer ‘n stuk kleinvee is, van skape of van bokke, as brandoffer, moet dit ‘n ram sonder gebrek wees wat hy bring. {1:11} En hy moet dit slag aan die noordekant van die altaar, voor die aangesig van die HERE; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed daarvan rondom teen die altaar uitgooi. {1:12} Daarna moet hy dit in sy stukke verdeel, met die kop en die vet, en die priester moet dit reglê op die hout wat op die altaarvuur is. {1:13} Maar die binnegoed en die pootjies moet hy met water was, en die priester moet dit alles bring en op die altaar aan die brand steek; ‘n brandoffer is dit, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. {1:14} En as sy offer aan die HERE ‘n brandoffer is van voëls, moet hy sy offer bring van tortelduiwe of van jong duiwe. {1:15} En die priester moet dit na die altaar bring en die kop afknyp en op die altaar aan die brand steek, en die bloed moet teen die kant van die altaar uitgedruk word. { 1:16} Dan moet hy die krop met die vere daaraan verwyder en dit by die altaar gooi, aan die oostekant, op die asplek. {1:17} Dan moet hy dit by die vlerke skeur sonder om hulle af te trek; en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek, op die hout wat oor die vuur is; ‘n brandoffer is dit, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. ”

Hierdie week se parasha is vol voorskrifte en vereistes vir die korbanot (toenaderingsoffer) ten opsigte van iemand wat gesondig het. Volgens my mening, kan al hierdie vereistes op tweërlei wyse beskou word: óf dit kan as ‘n argaïese stelsel beskou word, wat destyds gewerk het, maar in ons moderne en verligte samelewing nie langer toepaslik is nie (veral sedert Jesus die Messais eens en vir altyd vir al ons sondes gesterf het en dus ons finale toenaderingsoffer is óf hierdie offers kan as ‘n objek-les van God se oppermagtige heerskappy in ons lewens gesien word. Ek beskou laasgenoemde as die aangewese wyse. Toe ek hierdie komplekse offerandelys deurgelees het, kon ek nie anders as om te besef dat ek nie aan my eie lot oorgelaat is nie – ek is nie die een wat in beheer van my lewe is nie! Ek is verantwoordelik en verskuldig aan ‘n almagtige God, Skepper van die hemel en aarde en alles wat bestaan, wat myself insluit. Dit beteken dat ek niks kan doen soos wat dit my behaag of op ‘n wyse wat ek meen dit gedoen moet word nie – ek móét alles op God se wyse doen, dit is, indien ek Hom wil behaag Waarom sou ek nou ‘n God, wat ek nog nooit aanskou het nie, wil behaag? Die antwoord is eenvoudig: omdat Hy God is en Hy my geskape het.

Ek onthou die dissipline wat my opgelê is toe ek, as kind, aan my ouers ongehoorsaam was. Soms was dit nie juis aangenaam nie en by ander tye, het dit my gegrief, maar as ek daaroor terugdink, besef ek dat die dissipline noodsaaklik was. Ek was ‘n rebelse kind en dit was inderdaad nodig dat ek terreggewys moes word om my aan die gesag van my ouers te onderwerp. Ons is nie geskape om te sondig nie. Adam, ons voorvader, is volmaak en sondeloos geskape. Toe hy nie aan die volmaaktheid waarin hy geskep is, voldoen het nie, het hy die onbellemerde gemeenskap met sy Skepper verbeur. Die gevolg hiervan was dat hy uit die tuin van Eden weggestuur is. Kom ons wees eerlik: daar is gevolge as ons bevele nie gehoorsaam nie. So is daar gevolge indien ons ‘n spoedoortreding begaan of in ‘n “Geen Parkering”- gebied parkeer. Daar is gevolge as ons nalaat om ons motor, soos deur die vervaardiger aanbeveel, te laat diens. Waarom sou ons dan nie ons lewens gevolge verwag, as ons versuim om God te volg en behaag deur Sy Tora – Sy Lewenshandleiding – te verontagsaam nie? Die feit is dat daar gewis gevolge sal wees!

Wat het julle geleer uit hierdie week se parasha? Het julle dit beskou as ‘n hele spul argaïese reëls, regulasies en voorskrifte, wat, nadat julle nou gered is, nie langer nagekom hoef te word nie? Of het julle dit soos ek ingesien? Het julle ook besef dat ons nie aan ons eie lot oorgelaat is nie en daar ‘n Hoër Gesag is wat ons geskape het en aan wie ons verantwoordbaar is?

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 05 Maart 2011

Die Aanspreeklikheid Berus by die Een Wat Verantwoordelik is

5 Maart 2011 / Adar I 29 5771

Rekenskap / Pekudei


Eksodus / Shemot {39:32} “So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi; en die kinders van Israel het dit gemaak net soos die HERE Moses beveel het; so het hulle dit gemaak. {39:33} En hulle het die tabernakel na Moses gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy style, sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke, {39:34} en die dekkleed van rooigeverfde ramsvelle en die dekkleed van robbevelle en die voorhangsel tot bedekking; {39:35} die ark van die Getuienis met sy draaghoute en die versoendeksel; {39:36} die tafel met al sy gereedskap en die toonbrode; {39:37} die suiwer kandelaar met sy lampe, die lampe wat daarop gerangskik moes word, met al sy gereedskap en die olie vir die kandelaar; {39:38} verder die goue altaar en die salfolie en die reukwerk van speserye en die bedekking vir die ingang van die tent; {39:39} die koperaltaar en sy kopertraliewerk, sy draaghoute met al sy gereedskap, die waskom en sy voetstuk; {39:40} die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking vir die poort van die voorhof, die lyne en penne wat daarby behoort, en al die gereedskap vir die diens in die tabernakel van die tent van samekoms; {39:41} die kunstige klere, om in die heiligdom te dien, die heilige klere van die priester Aäron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien. {39:42} Net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel die hele werk gemaak. “

Ons het almal die gesegde “The Buck Stops Here!” gehoor. Dit verwys na die uiterste aanspreeklikheid en rekenpligtheid waaroor die mees senior persoon op die geslagsleer beskik. ‘n Mens besef dan dat dit presies dít is, wanneer ons die Skrifgedeeltes van parasha Pekudei lees. Die volle verantwoordelikheid het inderdaad by Moses berus: hy was die een wat van God die opdragte aangaande die oprigting van die Mishkan ontvang het en almal wat daarmee gemoeid was, het hul instruksies van Moses ontvang. Met die voltooing van al die toebehore vir die Mishkan, moes Moses alles noukeurig nagaan alvorens dit opgerig is. Indien daar die geringste afwyking in enige van die voorbereidings van die Mishkan was, sou God nie vir Bezalel ben Uri of Oholiab ben Ahisamach of enige ander ambagsman aanspreeklik gehou het nie, maar uitsluitlik wel vir Moses omdat hy in die finale instansie vir alles verantwoordelik was.

Ek lees tans ‘n boek oor die ware verhaal van ‘n entrepeneur wat ‘n hotel-bestuursmaatskappy besit het. Hotelle sou dikwels sy maatskappy nader nadat hulle pogings om dit suksesvol te bestuur, gefaal het. Toe die vraag aan hom gestel is wat sy eerste stap sou wees nadat hy so’n hotel oorgeneem het, was sy antwoord: “Ek dank die bestuurder af!” Sy sienswyse was dat as die betrokke bestuurder die hotel gebring het tot by die punt waar die eienaars hom in diens moes neem, dan moes daardie bestuurder afgedank word! Dit was dus geensins die ontvangsdame of kamerbediendes se verantwoordelikheid nie – ofskoon hulle almal tot die sukses of mislukking van die hotel begedra het – die bestuurder moes die skuld dra!

Daar is talle voorbeelde in die Skrif, waar die aanspreeklikheid neerkom op die één aan wie dit opgedra is:

Johannes / Yochanan {17:12} “Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.”

Hiervolgens doen Jesus verantwoording aan die Vader oor diegene wat aan Hom toevertrou was. Klaarblyklik was Jesus terdeë bewus van hierdie beginsel en het Hy ons verseker dat Hy volle aanspreeklikheid aanvaar het vir die twaalf dissipels wat God aan Hom toevertrou het.

Leiers is noodsaaklik en is ‘n Bybelse deel van ons fisiese- en geestelike lewe. ‘n Gemeente wat onder beheer van ‘n komittee of ‘n sekere groep persone verkeer – soos wat soms die geval is – voldoen geensins aan die God-gegewe Bybelse model nie. Iemand móét aanspreeklik wees en God bepaal dat dit dié persoon is wat deur Hom aangewys is!

Hebreërs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie. ”


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou