BeHa'Alotecha
(In Jou Opset)
Númeri / BaMidbar / 8:1-12:16
Sagaría / Zecharyah 2:14-4:7
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 10:6-13
Númeri / Bamidbar {8:6}
“Neem die Leviete onder die kinders van Israel uit en reinig hulle.
{8:7} En so moet jy met hulle doen om
hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n
skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself
reinig {8:8} Daarna moet hulle ‘n jong
bul neem en die spysoffer wat daarby behoort: fynmeel met olie gemeng; en ‘n
ander jong bul moet jy as sondoffer neem. {8:9}
En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die
hele vergadering van die kinders van Israel versamel. {8:10} Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van
die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die
Leviete lê. {8:11} En Aäron moet die
Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders
van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig.
{8:12} En die Leviete moet hulle hande
op die kop van die bulle lê; en berei jy een as sondoffer en een as brandoffer
vir die HERE, om vir die Leviete versoening te doen. {8:13} Dan moet jy die Leviete stel voor Aäron en sy
seuns en hulle as beweegoffer aan die HERE beweeg. {8:14} En jy moet die Leviete onder die kinders van
Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees. {8:15} En daarna moet die Leviete inkom om die tent
van samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer
beweeg.”
Terwyl ek vandeesweek se oordenking oorweeg en bepeins het,
het ek besef dat alles wat Moses as leier moes doen, ook op my betrekking het.
Hierdie oordenking behels die take wat hy, as deel van sy posisie as leier,
moes verrig. Aanvanklik is die taak van wyding van die Leviete aan God, aan hom
opgedra.
Dit opsigself was 'n aansienlike taak en ek is oortuig dat
dit buitengewone bestuurs-en administratiewe vaardighede vereis het. Laat ons
van één ding seker wees: Daar was hoegenaamd geen kans om foute te begaan met
dít wat hy moes uitvoer nie.
Dit het my daaraan laat dink dat ofskoon ek die geestelike
leier van ons gemeente is, daar ook van my verwag word om allerlei
administratiewe en bestuursfunksies - wat nie deel van my geestelike bediening
uitmaak nie - te verrig. Tog hét dit betrekking daarop, want die geestelike sy
kon nie reg gewees het sonder dat die administratiewe-en bestuursgedeelte van
my werk, ook reg is nie: Dit is algeheel toepaslik. Bediening behels meer as
die geestelike, alhoewel die geestelike by uitstek belangrik is; bediening is
ook bestuur en administrasie.
Moses het onder 'n swaar las gebukgegaan, sowel geestelik as
fisies, maar oënskynlik het God hom met die nodige vaardigheded toegerus om sy
werk uit te voer. Waarvandaan het Moses hierdie vaardighede ontvang? Die
geestelike het voortgevloei uit 'n omskepte lewe: Moses deur God! Ek bedoel dat
hy waarlik 'n onmoeting met God gehad het, nie slegs fisies vanuit 'n brandende
bos nie, maar hy het God ook ontmoet op 'n persoonlike en verhoudingswyse, wat
sy lewe vir ewig verander het. Maar, soos ons Moses ken, om 'n goeie leier te
wees, het hy meer as bloot geestelik -
vervul te wees, nodig gehad: Hy moes 'n goeie bestuurder en administrateur
wees. Wanneer hierdie vaardighede met die Gees gekombineer word, het dit al die
eienskappe van 'n goeie leier. Dus verstaan ons waar en hoe Moses die
geestelike ontvang het, maar wat van die fisiese?
Moses het grootgeword as 'n prins in Egipte. As sulks is hy
opgelei om 'n leier van manne, 'n krygsman en 'n staatsman te wees. Te oordeel
aan die wyse waarop hy opgetree het om bykans 'n miljoen mense in die woestyn
te beheer, kan 'n mens ekerlik aflei dat hy in Egipte deeglik onderrig is.
Daarbenewens het hy veertig jaar lank in Midian skape opgepas. Ek besef dat ek
Moses se jare as skaapherder dikwels voorgestel het asof hy net rondgesit het,
met een oog op die skape en die ander op die groeiende weiding.
Ja, in die verlede het ek die indruk geskep dat Moses sy tyd
bloot nutteloos verwyl het, maar moontlik het ek 'n valse indruk geskep. Ek is
oortuig dat Moses veel meer as 'n skaapherder was. Hy was, trouens, saam met sy
skoonvader, in die veebedryf. Om skape op te pas is maar 'n deel van die pligte
van 'n herder. Deur die besit van hierdie skape, het Moses tog sekerlik skape
gekoop en verkoop asook op die plaaslike markte met skaapprodukte soos melk,
kaas en wol handel gedryf. Benewens die skape, het die kudde ook bokke behels,
wat ook vir finansiële gewin geteël is. Moses was 'n entrepeneur, en indien
julle enige kennis van die Midde-Oostelike kultuur het, sou julle besef dat hy
ook 'n bedrewe onderhandelaar was en oor vaardige bedingingsvermoëns beskik
het.
Oorweeg gerus ook hierdie verdere aspek van Moses se
leierskapvermoë: Hy moes met mense se aanhoudende klagtes, negatiwiteit en
valse beskuldigings opgeskeep sit. Dít is waar die geestelike en genade van God
ter sprake kom.
Númeri / Bamidbar {11:1} “En die volk het hulle voor die ore
van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn
ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die
kant van die laer. {11:2} Toe het die
volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het
doodgegaan. {11:3} Daarom het hulle die
plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het.
{11:4} En die gemengde bevolking wat
onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer
geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte
verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie
en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons
siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë. “
Waarheen gaan ek hiermee? Wel, ek het die gelentheid gehad
om met baie messiaanse rabbi's te gesels en is dikwels vertel dat mense hul
werk ligtelik opneem en slegs twee dae per week (Vrydag en Saterdag) werk. Niks
kan egter verder van die waarheid wees nie! Gemeenteleiers moet - en dis nie
ongewoon nie - 60 tot 70 uur per week werk, wat nodig is om alles te doen wat
van hulle vereis word. So, volgende keer as julle dink dat julle moeg is vir
jul sekulêre werk en verkieslik jul rabbi's se werk sou wou hê, dink aan Moses
en ook aan wat ek sopas gesê het!
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-06-13