Saterdag 25 Junie 2011

As Ek Net ...

25 Junie 2011 / Sivan 23 5771

Korag / Korach


In verlede week se Parasha is ‘n voorbeeld van ons bedorwe eienskap, wat nooit bevredig sal word nie, uitgewys – ongeag wat ons reeds het! Hierdie toestand van ons diepste wese is deur ‘n subtiele voorbeeld aangedui, wat onderliggend was met betrekking tot die verspieders. In vandeesweek se Parasha, bly dié bedorwe menslike eienskap van onvergenoegdheid egter skreiend duidelik.

Numeri / Bamidbar {16:8} “Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi! {16:9} Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie, {16:10} en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou—dat julle nou ook die priesteramp begeer? {16:11} Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer? ”

Watter vermetelheid het hierdie mense nie gehad nie! God het die Levi-stam uit al die stamme van Israel uitgesonder om Sy priesters te wees. Hulle is spesiaal gekies om in die tabernakel (mishkan) vir Hom diens te verrig. Hulle is ook spesiaal vir Hom gekies om Hom onder die mense te verteenwoordig. ‘n Mens sou dink dat hulle bevoorreg en beskeie sou gewees het om tot so’n verhewe amp gekies te word, maar hulle was nie!

Dit is egter vir ons maklik om terug te sit en hierdie mense te kritiseer, maar die feit van die saak is dat ons net so bedorwe is! Ja, dit is reg: ons is geensins beter as Korag, Datan en Abíram nie; trouens ons verdien dieselfde straf deur God, wat hulle ontvang het.

Het jy al ooit gedink of selfs gesê: “As ek net ‘n beter motor gehad het; as ek net ‘n beter betrekking beklee het; as ek net meer geld gehad het, dan sou die lewe soveel makliker gewees het.”. Of miskien het jy gedink of gesê:” As ek net ‘n groter huis gehad het, dan sou ek gasheer vir ‘n Havdala kon wees en die hele gemeente daarheen uitnooi.”. Of wat van:” As ek net ‘n sterker persoonlikheid gehad het; as ek net mooier was, as ek net beter opleiding gehad het, dan sou ek susesvol gewees het.”. “As Ek Net”, is ‘n seweletter leuen! Dit is sinsbegogeling wat die gelowige aanspoor om te begeer. Hierdie woorde is ‘n truuk van die satan om jou en my te laat sondig.

Hoe laat dit ons dan sondig? Dit maak ons ondankbaar en nie waarderend vir dit wat ons het nie, wie ons is, hoedat ons in die oë van God lyk en wat God al vir ons gedoen het. In plaas van danbaarheid vir alles waaroor ons beskik, begeer ons dit wat ons nie het nie en word hierdie drie woordjies:”As Ek Net”, ‘n klagte téén God oftewel ‘n sonde.

Eksodus / Shemot {20:17} “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie. ”

Uit hierdie Skrifgedeelte, is dit duidelik dat God noodwendig wéét wat in ons harte aangaan. Ons besef dat Hy verstaan dat ongeag wat ons het, ons nogtans nie tevrede is nie. Ons wil altyd net ‘n bietjie meer hê. Rockefeller, die multi-multi-miljoenêr, is by geleentheid gevra: “Hoeveel geld is genoeg?” Hy het geantwoord: “Net nog één dollar!”. Met so’n antwoord deur iemand wat materieel oor soveel beskik, kan ons seker daarvan wees dat vir die mens, is genoeg nooit genoeg nie en weet jy wat? God beskou dit as hebsug.

Wat is hebsug dan? Die betekenis daarvan behels vele implikasies. Dit word gedefineer as ‘n begeerte na iets, maar dit sluit in om meer te begeer, maar onvergenoegdheid nadat jy dit wel ontvang het – ongeag wat ookal! Begeerte kan dus ook besou word as ‘n drang na of wens vir iets en dit hoef nie noodwendig aan iemand anders te behoort, ten einde begeer te word nie. Dit kan byvoorbeeld iets in ‘n winkelvenster of ‘n motorvertoonlokaal wees. Dit kan selfs iets op ‘n kennisgewingbord wees of wat op televisie gesien is. Begeerste is hebsug en hebsug is presies die teenoorgestelde van tevredenheid (=vergenoegdheid).

Psalm / Tehillim {10:2} “In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Laat hulle gegryp word in die listige planne wat hulle uitgedink het! {10:3} Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE.”.

God verafsku ‘n mens wat begeer. Die woorde: “As Ek Net”, is vir Hom ‘n afskuwelikheid, maar hoe dikwels het ons dit al gesê nie? Die waarheid is egter dat God se plan in die behoefte van ons lewens voorsien – veral as ons dit as ‘n gemeenskap saamdoen. God vereis om, deur goddelike inisatief, sekere dinge in jou lewe en in my lewe te voorsien en dit dan toe te laat om vir ons ten goede uit te werk. Hy ken jou / my behoeftes, Hy weet wat jy en ook ek kan hanteer en Hy weet wat jy / ek nodig het om te verander. Vir jou kan dit moontlik ‘n huis van $700,000 wees en vir ‘n ander slegs ‘n kamer teen $250 per maand. Ons kan nooit eers probeer om alles te verstaan of waarom God sekere keuses maak nie, maar ons kan besef dat Hy wéét wat vir ons die beste is. God stel nie belang in dinge nie, maar wel in ‘n mens se karakter. God het ‘n plan vir die lewens van elkeen van ons, maar wanneer ons begeer, verydel ons daardie plan en ontbeer ons die ewige skatte wat Hy vir ons voorberei het.

Ten slotte het God ons alreeds alles gegee wat ons in Jesus benodig. Hy is alles wat ons nou nodig het en Hy is alles wat ons ooit nodig sal hê. Die waarheid is dat wanneer ons Jesus het, het ons alles. Ons het in ons lewens dus niks meer nodig ten einde gelukkig te wees nie. Ons moet net tevrede wees en dan sal allerlei geestelike rykdomme ons s’n wees. ‘n Opregte verhouding met God, is al wat ‘n mens tevrede stel!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 18 Junie 2011

Kan Jy Jou Motiverings Verdra?

18 Junie 2011 / Sivan 18 5771

Ondersoek Jouself / Selach

Hebreërs / Ivrim 3:7 – 4:11

Numeri / BaMidbar {13:17} “En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. {13:18} En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; {13:19} en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; {13:20} ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe. {13:21} En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat— {13:22} hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. {13:23} Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye. ”

Ek is seker ons is almal vertroud met de gesegde: “Die pad na ‘n man se hart, is deur sy maag.”. Dit was egter geensins die geval met tien van die twaalf verspreiders wat Moses uitgestuur het nie. Was dit nie dieselfde mense wat nie lank tevore ook gekla het oor die gebrek aan smaaklike voedsel en die agteruitgang van beskikbare voedsel wat hulle onderweg na Kanaän moes verduur nie?

Numeri / BaMidbar {11:4} “ En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë. ”

‘n Mens sou dink dat die kinders van Israel, onder hierdie omstandighede enigiets sou gedoen het om dié vrugbare oorvloedige land, wat hulle verken het, binne te gaan, om hulself uiteindelik daarin te verlustig en ‘n uiteenlopende keuse van voedsel te hê. Dit was egter hoegenaamd nie die geval nie! Dit is vreemd dat die kinders van Israel, vanweë hul gebrek aan smaaklike voedsel, selfs bereid was om Moses dood te maak, maar nie bereid was om te sterf ten einde sulke voedsel te bekom en ‘n land van hulle eie te besit nie.

Talle oorloë oor voedsel of die gebrek daaraan, is al gevoer; trouens, ‘n honger leeu is gevaarliker as een wat versadig is! Dus is dit onbegryplik dat die kinders van Israel so onwillig was om die land wat God aan hulle belowe het, te gaan inneem. Klaarblyklik was vrees vir hul lewens groter as hul eetlus! Om die Kanaäniete te gaan aanval, was dus nie prioriteit nie. Hulle sou eerder, ten spyte van hul vroeëre klagtes, maar met die manna probeer tevrede wees.

Ek hat al dikwels gewonder waarom God Moses die vrugbaarheid van die land Kanaän so duidelik laat beskryf het. Die oënskynlike rede sou wees dat Hy die land Israel (Eretz Yisrael) vroeër reeds beskryf het as ‘n land wat vloei met melk en heining – met ander woorde ‘n land van oorvloed. Die ander oënskynlike rede en die één wat na my mening oorweeg behoort te word, is dat God aan ons iets van ons eie karakter wil uitwys. Mense is, ongeag geslag of tyd in die geskiedenis, nou maar ten ene male mense! Wat is dus hierdie karakterles? Myns insiens, is dit naamlik dat “ongeag wat God ons bied, ons nooit tevrede sal wees nie en ons altyd ‘n rede sal vind om te kla.”.

Markus / Modechai {7:20} “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. {7:21} Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, {7:22} diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. {7:23} Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein. ”

Al word hierdie skrifgedeelte nie in die konteks waarvoor dit eintlik dedoel was, gebruik nie, is dit beslis op hierdie situasie van toepassing. Die kinders van Israel het, wat beskryf is as “Engele-voedsel” geëet. Dit is deur God vanuit die hemel gestuur – alleenlik vir hulle – maar dit het geen uitwerking op hulle gehad nie, in die sin dat dit hulle nie méér engelagtig of “goddelik” gemaak het nie. In plaas daarvan, het dit hulle ware karakter openbaar: vanuit hulle is dit voorafgegaan deur opstandigheid en vrees.

Romeine / Romim {14:17} “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 11 Junie 2011

Vanweë Ons Sondigheid

11 Junie 2011 / Sivan 9 5771

Jou Ingesteldheid / BeHa’Alotecha


Numéri / BaMidbar {11:1} “En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. {11:2} Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. {11:3} Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. ”

Wanneer die verslag van wat dáár gebeur het, gelees word en dit op ‘n natuurlike wyse in oënskou geneem word, sou ek meen dat dit soos volg plaasgevind het: Iemand het dié aand ‘n vuur aangesteek vir hitte of om in die tent kos te kook, toe die tent aan die brand geslaan en die vuur baie gou buite beheer geraak het. In die warm, droë omgewing van die woestyn, het die vlamme skybaar vinnig versprei en ‘n groot gedeelte van die buitenste kant van die laer verswelg voordat dit eindelik onder beheer gebring is. Soos ons almal bewus is, gebruik God soms die natuurlike om die bonatuurlike te bewerkstellig. Ongeag hoedat die brand werklik fisies ontstaan het, vind ek dit tog interessant dat sowel die volk as Moses besef het dat die ontstaan van die brand en die verwoesting daardeur, met die volk se murmerering en kwaadspraak verband gehou het. Vandaar hul versoek aan Moses om te bid.

Indien iemand vandag aan mense selfs sou suggereer dat die lewensmoelikhede waaronder hulle gebukgaan, ‘n regstreekse gevolg is van iets wat hulle gesê of gedoen het, wat sondig en teen die wil van God was, sou hulle hom summier as veroordelend en wreedaardig uitkryt. Die waarheid is egter dat wanneer ons sondig – ongeag of dit kwaadpraat, inhaligheid, woede, wellus, ens. is – word God se beskerming van jou weggeneem en op daardie punt, raak jy ‘n weerlose teiken vir die duiwel. Ek dink dit is hoogtyd dat ons die slegte dinge wat in ons lewens plaasvind, met ons sondes en houdings begin assosieer. Die bovermelde teksverse is inderdaad nie die eerste keer in die Bybel, wat God vir ons die verband uitwys nie.

Numerí / BaMidbar {21:5} “En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. {21:6} Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. {21:7} En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.”

Daar is allerlei soorte slange in ‘n woestyn-tipe-wildernis, soortgelyk aan dié een waardeur die kinders van Israel getrek het. Toe sekere giftige slange in die laer ingekom en die volk gepik sodat hulle as gevolg daarvan begin sterf het, waarom sou hulle toe die indringing van slange, met hul sonde geassosieer het? Eenvoudig, omdat dit nog altyd so was en is!

Dis reg; God toon iets hier aan ons! ’n Duidelike boodskap word deur hierdie voorbeelde uitgestuur en ek dink ons moet wakker skrik en erken dat daar nie so’n iets soos ‘n ongeluk is nie. Hoegenaamd niks gebeur “toevallig” nie. God beheer alles en ook ons sondige gesindhede – hetsy gedagtes of dade – het gevolge!

Gaan jy gebuk onder problem in jou lewe? Dit kan moontlik aan jou sonde toegeskryf word. Probleme by die werk? Miskien is dit vanweë jou sonde. Probleme tuis? Moontlik is dit as gevolg van jou sonde. Het jy geld verloor, is jy beroof, het jy ‘n ongeluk ondervind, het jou motor gaan staan, het jou woonhuis aan die brand geslaan, is jy deur ‘n insek of dier gebyt of het enige van duisende ander teëspoede jou getref? Dit is moontlik aan jou sonde te wyte!

Numerí / BaMidbar {11:2} “Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan.”

Numerí / BaMidbar {21:7} “En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid. ”

Indien ons begin erken en toegee dat die probleme in ons lewens te wyte is aan ons eie sondigheid, sal ons miskien doen wat die kinders van Israel gedoen het toe hulle dit besef het. Hulle het hul sonde erken, gebid en om vergifnis gesmeek.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 04 Junie 2011

‘n Eer, ‘n Behae en ‘n Seën

4 Junie 2011 / Sivan 2 5771

Ophef / Naso


Numeri {7:11} “En die HERE het aan Moses gesê: Elke owerste moet, elkeen op ‘n afsonderlike dag, sy offer bring vir die inwyding van die altaar. {7:12} En hy wat op die eerste dag sy offer gebring het, was Nagson, die seun van Ammínadab, van die stam van Juda. {7:13} En sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; {7:14} een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; {7:15} een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; {7:16} een bokram as sondoffer; {7:17} en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Nagson, die seun van Ammínadab. ”

Wanneer ‘n mens by hierdie Skrifgedeelte en die daaropvolgende verse van hoofstuk 7 kom, word die name van elke stamleier verstrek asook wat hulle vir die inwyding van die tabernakel (Mishkan) gebring het. Alles is goed en wel, maar elke gawe moes identies soos die vorige een s’n wees. Elkeen het dus presies dieselfde gebring! Twaalf maal herhaal die Tora presies dieselfde inligting behalwe dat die naam van die leier, wat die offerande bring, verskil. Ek het al dikwels gewonder waarom die Tora dit twaalf keer in hierdie Parasha herhaal. Kon God nie slegs die name van die twaalf leiers gemeld en dan voorgeskryf het dat elkeen van hulle een silwerskottel – met ‘n gewig van een-en-‘n half kilogram, een silwerkom van agthonderd gram, vol meel met olie gemeng, as graanoffer, een goue pannetjie van honderd-en-vyftien gram, met wierook gevul, ens. moes bring nie? Dit sou veel meer sinvol gewees het en natuurlik veel minder ruimte in die Bybel opgeneem het. Wanneer jy Bybel lees, slaan jy ook eenvoudig al die gawes wat elke leier gebring het, oor en lees hoofstuk 8?

Ons kan nie volkome seker wees waarom God dit alles so neergeskryf het nie, maar ek kan sekerlik ‘n rede voorstel:

Haggai / Hagggai {1:5} “So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: {1:6} julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek. {1:7} So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het! ”

Om aan God te offer, is ‘n uiterse belangrike deel van aanbidding. Hierdie offergawes is iets baie persoonlik. Ek glo dus dat God deur die twaalf herhalings van die twaalf individuele offergawes, bedoel het dat wat óns as individue bied nie ongesiens by Hom geskied nie. Êrens op ‘n sekere wyse hou God boek van alles wat ons aan Hom geoffer het. Daar bestaan moontlik ‘n “grootboek” bo in die hemel en bo-aan ‘n bladsy verskyn ons name. Sou dit nie ‘n onbeskryflike verleentheid gewees, wanneer jy in die hemel kom en vóór God staan en hy die “grootboek” uithaal, na jóú bladsy blaai en julle albei na ‘n blanko-bladsy of slegs hier en daar enkele inskrywings bevat staar nie?

Om vir die Here te gee is beslis nie ‘n opsie nie – dit is ‘n eer, ‘n behae en ‘n seën.

Lukas / Uri {6:38} “Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou