Saterdag 28 Augustus 2010

Gee uit Dankbaarheid of uit Skuldgevoel

28 Augustus 2010 / Elul 18 5770


Wanneer Jy Ingaan / Ki Tavo (Congregation Melech Yisrael)


Deuteronomium / Devarim 21:10 – 25:19

Jesaja / Yeshayahu 60:1 – 22

Handelinge / Ma’asei Talmidim 7:30 – 36


Deuteronomium / Devarim {16:1} En as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon, {26:2} dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ‘n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, {26:3} en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee. {26:4} En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit. {26:5} Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was ‘n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ‘n groot, magtige en talryke nasie geword. {26:6} Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê. {26:7} Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; {26:8} en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders; {26:9} en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. {26:10} Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God.


Is jou gawe betekenisloos? Gee jy uit skuldgevoel of uit dankbaarheid? Dit is tog jammer dat wanneer ons wel gee, meeste van ons uit skuldgevoel gee. God het ons beveel om te gee, dus gee ons met die verwagting (natuurlik!) dat ons as beloning daarvoor, geseën sal word. Uit vandeesweek se Skrifgedeelte, sien ons egter dat ons uit dankbaarheid en nie uit skuldgevoel nie moet gee. Dit is naamlik as ‘n blyk van dankbaarheid vir wat God vir óns gedoen het, dat ons moet gee en dit derhalwe ruimhartig moet doen.


God het soveel vir ons gedoen. Hy het ons van slawerny van sonde verlos om Hom vryelik te kan dien en Sy gebooie deur Jesus die Messias te onderhou. Hy het ons smekinge gehoor, hy het ons trane aanskou en Hy het geweet van ons slapelose nagte. God was gegrief oor die wyse waarop die Satan ons verdruk het en het ons met Sy magtige hand verlos. Ten spyte daarvan, gee meeste van ons ons tiendes omdat ons daartoe verplig voel.


God het ons in Sy koninkryk ingebring, wat waarlik ‘n plek van ryke seën is. Sy koninkryk is nie iewers ver in ons toekoms nie, dit is híér, nou en binne-in ons. Ons, wat in Jesus die Messias glo, is die koninkryk van God. Daarom beskik ons self oor die koninkryks-eienskappe van liefde, vreugde, blydskap, geduld, barmhartigheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Dit is die vrugte van die Gees (Ruach), God se Gees wat met ons verlossing in ons kom woon het. Juis daarom is God se koninkryk lewend en aanwesig op aarde en dít is ons.


Eendag, ná die wederkoms van Jesus die Messias, sal die oordeel van die goddeloses plaasvind. Dié wat onwaardig bevind word, sal oorgelewer word aan ‘n plek van geestelike duisternis, ‘n plek wanhoop – ‘n plek sonder God. Diegene wat egter regverdig bevind word, sal gered en deelagtig aan die koninkryk van God word. Dan sal Sy koninkryk die ganse aarde insluit. Tot dan, is dit egter beperk tot dié van ons wat glo. Ons is geweldige dankbaarheid aan God verskuldig vir alles wat Hy vir ons gedoen het en in Sy Woord, het Hy vir ons gesê:

Deuteronomium / Devarim {8:11}”Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:12} sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, {8:13} en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder— {8:14} en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; {8:15} wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ‘n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; {8:16} wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen— {8:17} en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. {8:18} Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, soos dit vandag is.


Ek dink ons moet daadwerklik selfondersoek doen wanneer ons ons tiendes en offerande aan die Here bring; trouens, ons moet miskien hierdie Skrifgedeelte, uit ons Parasha aangehaal, prober aanpas en verpersoonlik en besluit om dit te herhaal, elke keer wanneer ons, ons gawe bring.

Hier is ‘n voorstel:

“Ek was ‘n skuldenaar onder slawerny van die sonde. Die sonde het met my gehandel, my beproef, my ‘n swaar knegskap aangeroep, Hy het my stem gehoor, my beproewing aanskou, netso ook my geswoeg en onderdrukking. God het my verlos deur die bloed van Jesus die Messias, wat op Golgota vir my gestort is. Hy het aan my vreugde en vrede geskenk. Nou bring ek die eerste vrug van my arbeid wat U, o God, aan my geskenk het, as blyk van danksegging en waardering.”

Wanneer jy dus volgende keer jou gawe vir God bring, moet jy in plaas daarvan om dit in die kollektemandjie te gooi of in die Tzadaka-houer (soos wat ons hier by Melech Yisrael doen) te plaas, die bogemelde toewyding opsê, wanneer jy jou eerste vrugte vir God bring. Wat ‘n verskil sal dit nie maak nie!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 21 Augustus 2010

Verlos van Onsself

21 Augustus 2010 / Elul 11 5770

Verlos van onsself (Congregation Melech Yisrael)

Wanneer jy uitgaan / Ki Teitzei

Deutoronomium / Devarim 21:10 – 25:19

Jesaja / Yeshayahu 54:1-10

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 5:1-5

Deutoronomium / Devarim {21:10} “As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, ...”


Wat ‘n bemoedigende Skrifgedeelte! Bemoedigend, in dié sin dat ons verneem dat die oorlog die Here s’n is! Ons sing ook hierdie woorde in ons Messiaanse gemeentes. Ons lees hierdie woorde of soortgelyke woorde keer-op-keer in die Skrif, waar ons leer dat God vir Israel stry, Hom verdedig en sy vyande voor hom uitroei. Ons ondervind ook hierdie woorde in ons eie lewens wanneer God ons verlos uit die hand van die vyande wat teen ons te staan kom, met die doel om ons op een of ander wyse kwaad aan te doen. Deur geloof, glo ons hierdie woorde – die stryd is die Here s’n!


Hierdie Skrifgedeelte hou egter ook ‘n mate van bedreiging in omdat, ofskoon die stryd die Here s’n is, die oorwinning meesal van onsself afhang! Julle sal die insident met betrekking tot die twaalf verspieders onthou; tien van die twaalf manne , deur Moses gestuur om die land Kanaän te gaan verken, het met ‘n negatiewe verslag teruggekeer. Hulle het daardeur geslaag om die harte van die ganse volk van God te laat afdwaal. Toe God egter die verspieders met ‘n plaag getref en hulle gesterf het, het die kinders van Israel hulle fout besef, berou getoon en ingestem om die land binne te gaan en daarvoor te veg, maar dit was te laat vir oorlog; trouens, wat erger as dit was, is die feit dat dit vir hulle te laat was om die gevolge van hul sonde van opstand, te verhoed.

Numeri / Bamidbar {14:40} “en die môre vroeg klaargemaak en op die top van die berg geklim en gesê: Hier is ons, en ons wil optrek na die plek wat die HERE gesê het, want ons het gesondig. {14:41} Maar Moses het gesê: Waarom oortree julle tog die bevel van die HERE, aangesien dit tog nie sal geluk nie? {14:42} Moenie optrek nie, want die HERE is nie in julle midde nie—anders word julle verslaan voor julle vyande. {14:43} Want die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val; omdat julle van die HERE afvallig geword het, daarom sal die HERE nie met julle wees nie.


God sal ons gevegte vir ons stry en Hy sal ons vyande in ons hande oorlewer, maar óns het sekere verantwoordelikhede teenoor Hom. God sal alles doen wat Hy belowe het, maar ons moet deelneem indien óns die oorwinning verlang. Ons móét dus gehoorsaam wees! Gehoorsaamheid ontsluit die deur tot al ons seëninge.


Deuteronomium / Devarim {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2} En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. {28:7} Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.


Dit klink alles heel eenvoudig en voor-die-hand-liggend, maar dit was nie vir die kinders van Israel moontlik om hierdie eenvoudige opdrag uit te voer nie, eweneens ook nie vir die meeste van ons nie. Iets so eenvoudig soos gehoorsaamheid, blyk die allermoeilikste om na te kom. Ons moet onsself afvra: Waarom? Waarom is dit dan, dat ten spyte van God se versekering dat Hy ons sal seën en al ons vyande aan ons sal oorlewer as ons gehoorsaam is, ons nie gehoorsaam kan wees nie? Sou dit wees omdat ons nie geseën wil word nie of is dit omdat ons sadisties is en pyn en lyd geniet? Ek twyfel of dit so is! Waarom is dit dan so moeilik om gehoorsaam te wees? Meeste mense sal graag wil sê: “Die duiwel het my dit laat doen”, maar die feit bly dat óns te blameer is. Ons eie selfsug, ons begeerte om ons eie sin te kry en dinge op ons eie wyse te doen, ons begeerte om ons vlees te bevredig – dít is die rede.

Romeine / Romim {7:19} “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. {7:20} Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. {7:21} Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. {7:22} Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; {7:23} maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. {7:24} Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? {7:25} Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.


Kom ons wees eerlik: Ons is ons ergste vyande, maar danksy Jesus die Messias, is ons van onsself verlos!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 15 Augustus 2010

Rykdomme

14 Augustus 2010 / Elul 4 5770

Rykdomme (Congregation Melech Yisrael)

Rigters / Shoftim

Deuteronomium / Devarim 16:18 – 21:9

Jesaja / Yeshayahu 51:12 – 52:12

Johannes / Yochanan 1:19 – 27

Deuteronomium / Devarim {17:15}” dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie. {17:16} Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die HERE vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie. {17:17} Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.


Ek het onwillekeurig aan koning Salomo (Shlomo) gedink toe ek hierdie gedeelte gelees het. Indien dít die maatstaf moes gewees het waarvolgens ‘n koning in Israel veronderstel was om te leef, het Salomo inderdaad in alle opsigte gefaal! Koning Salomo het nie net baie perde uit Egipte aangeskaf nie, maar ook baie vroue gehad en groot hoeveelhede goud en silwer vergaar.

1 Konings / Malachin Aleph {10:21}” En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie. {10:27} Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.


Dit is duidelik dat koning Salomo grootliks fouteer het. Die vreemdste is egter dat God aan hom groot rykdom belowe het. Die vraag ontstaan dus enersyds, dat indien die koning nie veronderstel was om groot rykdom te vergaar nie, maar andersyds, dat God wel aan hom groot rykdom belowe het, wat ons dan hieruit moet aflei?

2 Kronieke / Divre Hayamim Bet {1:11} Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs ‘n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer— {1:12} daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie.


Soos ons weet, was Salomo se rykdom juis een van die dinge wat uiteindelik tot sy ondergang gelei het. Sy rykdom en buitensporige lewenswyse het ongetwyfeld bygedra tot sy versameling van perde uit Egipte en die aanskaf van honderde vreemde vroue, wat hom uiteindelik tot afgodsdiens verlei het. Was God dan verantwoordelik vir Salomo se afvalligheid van genade? Het God vir hom daardie strik gestel?

Spreuke / Mishlei {26:1}” Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by ‘n dwaas nie.

Koning Salomo was beslis nie ‘n dwaas nie. Volgens die Psalmis, is ‘n dwaas iemand wat ontken dat daar ‘n God is (Psalm / Tehillim 14:1). Salomo het egter die bestaan van God erken, maar teen die einde van sy lewe het hy soos ‘n dwaas opgetree deur saam met sy vroue valse gode te dien. Ofskoon God wel aan Salomo rykdom belowe het, het Hy egter nooit aan hom toestemming verleen om daardie rykdom buitensporig aan te wend deur die vermenigvuldiging van perde en vroue nie; dit was sy eie doen en late. Die aanspreeklikheid vir Salomo se ondergang berus dus geheel-en-al by homself en kan ons geensins beweer dat God vir hom die strik gestel of selfs beproef het nie.

Jakobus / Ya’acov {1:13} Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. {1:14} Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. {1:15} Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.


God het nie Salomo se afvalligheid van Sy genade beskik nie – dit was ook deur sy eie toedoen. Toe Salomo om wysheid en kennis in plaas van rykdom gevra het, het God aan Hom sowel rykdom as eer geskenk. Rykdom en eer vir iemand wat reeds oor wysheid en kennis beskik, behoort totaal beheerbaar te wees, maar vir Salomo wat wys en kundig was, het die rykdom en eer tog die oorhand oor hom gekry.

Ek dink dit is ‘n goeie les vir ons almal om te leer omdat baie van ons meen dat indien ons baie geld gehad het, ons soveel wat goed is, daarmee sou kon doen. Ons moet egter ons les leer by Salomo, wat die slimste man was wat ooit geleef het. Hierdie les is dat mag, rykdom en eer – selfs by mense wat oor oortreffende wysheid en kennis beskik – ‘n mens se ondergang kan bewerkstellig! Laat ons dus eerder by ‘n ander Koning – Jesus – leer, wat gesê het:

Matthéüs / Mattityahu {8:20} En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie. {11:29} Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 07 Augustus 2010

Wees teësinnig om te glo

7 Augustus 2010 / Av 27 5770


Kyk / Re’eh (Congregation Melech Yisrael)


Deuteronomium / Devarim 11:26 – 16:17

Jesaja / Yeshayahu 54:11 – 55:5

1 Johannes / Yochanan Aleph 4:1-6


Deuteronomium / Devarim {13:1} “As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, {13:2} en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, {13:3} dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. {13:4} Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang. {13:5} Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy het afval verkondig van die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat die HERE jou God jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.


‘n Verstommende Skrifgedeelte! Dit vertel vir ons iets – eintlik meer as dit. Dit waarsku ons teen ‘n gevaarlike dwaling, wat baie ernstig is – ‘n verskynsel wat vandag besonder toepaslik is, naamlik dat nie alle tekens en wonders van God af kom nie. As in aanmerking geneem word dat die rigting wat vele kerke en selfs sommige Messiaanse gemeentes vandag inslaan, is dit werklik ‘n baie ernstige waarskuwing. Waarom sê ek dit? Ek sê dit omdat hedendaagse gelowiges, oral in die wêreld, geneig is om heen en weer agter die jongste teken en wonder aan te hardloop.


Ek dink ons moet uiters oordeelkundig wees met betrekking tot tekens en wonders. Dit is selfs van toepassing wanneer daardie teken of wonder toevallig plaasvind, soos wat ons Skrifgedeelte meld. Die blote feit dat ‘n profesie, droom, teken of wonder plaasvind, beteken nie noodwendig dat dit van God af kom nie. Inteendeel, ons word gewaarsku dat sekere tekens en wonders wel mag voorkom om ons te probeer oortuig om ander gode te dien.


Die vraag ontstaan dus waarom God tekens en wonders, wat nie van Hom is nie, toelaat? Ons weet God is in beheer van alles en dat niks op die aarde, onder die aarde of bo die aarde – fisies of spiritueel – sonder Sy wete en goedkeuring plaasvind nie. Ons word egter in die Skrifgedeelte meegedeel dat God wel valse tekens en wonders toelaat om plaas te vind, om die volgende rede:


Deuteronomium / Devarim {13:3} “dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.


Dit is nogal ‘n ontnugterende verklaring as in ag geneem word dat Toronto (Kanada), die stad waarin ons gemeente geleë is, een van die grootste “tekens-en-wonders”-kerke in die wêreld huisves!


Hoe toets God ons dan wanneer Hy dromers van drome, profete, tekens en wonders na ons stuur, wat nie van Hom af is nie? Hy wil daardeur aan ons toon dat ons kan sien of ons die volgende sal doen:


Deuteronomium / Devarim {13:3} “...of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Deu 13:4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.


Wat beteken dit? Die bedoeling is dat ons uiters teësinnig moet wees om te glo in sommer enige droom, enige profesie, enige teken of wonder van iemand besonders of komend can ‘n kerk van gelowiges of Messiaanse sinagoge, wat nie – in liefde – die gebooie van God, oftewel Sy Tora, gehoorsaam nie!


Dit is nodeloos om te sê dat God se gebooie in Sy Tora uiteengesit is. Jesus, soos ons weet, is God, en juis daarom, toe Hy as Samesteller van die Tora, ons beveel het om Sy gebooie te onderhou, het Hy ons ook beveel om daarvolgens te lewe. Ja, ons kan nie daardie gebooie, wat afhanklik is van die bestaan van ‘n tempel (Bet HaMikdash, nakom nie omdat laasgenoemde nie meer bestaan nie; eweneens kan ons ook nie daardie gebooie gehoorsaam, wat betrekking het op ons wat Die Land (HaAretz) bewoon nie, indien ons nie in die Land woon nie, maar ons is nietemin verantwoordelik om die res te onderhou. Ek glo self dat dit die plig van beide Joodse en nie-Joodse gelowiges is om dit op dieselfde wyse na te kom omdat God beveel het dat dit só moet wees.


Die volgende keer wat julle dus ‘n dromer van drome of ‘n profeet raakloop of tekens en wonders ervaar, komende van persone wat nie sê en wie se optrede nie daarop dui dat hulle in die Tora glo nie, verkondig hulle inderdaad opstand teen die Here julle God. Wees teësinnig om hulle te glo!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou