Saterdag 25 Desember 2010

God Het My Nederig Gehou

25 Desember 2010 / Tevet 18 5771

Name / Shemot

Eksodus / Shemot 1:1 – 6:1

Jesaja / Yeshayahu 27:6 – 25:13; 29:22 – 23

Jeremia / Yirmeyahu 1:1 – 2:28

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 14:13 – 25

Eksodus / Shemot {4:10} “Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. {4:11} En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? {4:12} Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.”

Daar is allerlei baie interessante punte in die drie verse wat ek uit vandeesweek se parasha aangehaal het. Eerstens sien ons dat Moses vir God sê dat hy moelik praat en swaar van tong is. Indien Moses slegs gesê het dat hy moelik praat en dit daarby gelaat het, dan kon ons aanvaar dat hy homself as ‘n swak openbare spreker geag het. Die feit dat hy bygevoeg het dat hy ook swaar van tong was, laat by ‘n mens die indruk dat Moses wel ‘n soort spraakgebrek kon gehad het. Dit is interessant omdat in elke aangetekende ontmoeting tussen Moses en die Farao, was daar nooit enige kommentaar oor sy spraak nie – dit is nie een maal gemeld nie. Kon dit gewees het omdat Moses nooit enige praatwerk gedoen het nie?

Eksodus {4:14} “Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hy goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart. {4:15} Jy moet dan met hom spreek en die woorde in sy mond lê. En Ék sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen. {4:16} En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ‘n mond wees en jy vir hom ‘n god wees. “

Aäron het dus in die openbaar namens Moses gespreek! Stel julle voor hoe vernederend dit vir Moses moes gewees het. Dit blyk veral so wanneer ons lees wat God vir Moses gesê het:

Eksodus {4:11} “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?

As dit dan wel die geval was, kon God nie Moses se spraak aangeraak het nie? ‘n Mens sou so dink, maar Hy het nie en ek het al so dikwels gewonder waarom Hy dit nie gedoen het nie. Dit is verbasend dat die antwoord eintlik baie eenvoudig is en in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) verstrek word.

2 Korinthiërs / Korintim Bet {12:6} “Want as ek sou wil roem, sou ek nie ‘n dwaas wees nie, want ek sou die waarheid praat; maar ek laat dit ná, sodat niemand my hoër mag skat as wat hy van my sien of wat hy van my hoor nie. {12:7” En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.

Eenvoudig, nie waar nie? Die apostel Paulus het besef dat daar by hom die geneigdheid van selfverheffing bestaan het; derhalwe is hy deur God ‘n belemmering – wat Paulus “’n doring in die vlees” noem, opgelê. Dit kon moontlik ‘n tipe fisiese gebrek gewees het – nietemin iets wat hom nederig gehou het. Miskien besef ons nou waarom dit in die Skrif soos volg gestel word:

Numeri / BaMidbar {12:3} “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.

Vanweë die doring in sy vlees – sy spraakgebrek – het Moses homself nooit as iemand besonders geag nie. Die feit dat hy vroeër ‘n prins in Egipte was en nou deur God aangewys is om die bevryder en leier van die kinders van Israel te wees asook die feit dat hy regstreeks – van aangesig tot aangesig – deur God aangespreek is, het geen invloed op sy waardigheid gehad nie. Moses het altyd nederig gebly omdat hy die swakheid van sy menswees besef het. Ek kan onteenseglik getuig dat dit vir ‘n leier maklik is om verwaand te raak en meer van jouself te dink as wat jy werklik is. Selfs in my geval, het God ‘n wyse gevind om my nederig te hou, om my te laat besef dat ek maar net ‘n brose mens, slegs stof is en dat dit Hy is wat my geskep het en nie ek vir Hom nie!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 18 Desember 2010

Wees vergewe en gaan voort

18 Desember 2010 / Tevet 11 5771

En Hy Het Gelewe / VaYechi

Genesis / BeReshit 47:28 – 50:261

Genesis / BeReshit {50:15} “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.


Ons behoort almal te besef dat Josef ‘n voorbeeld is van Jesus die Messias: Josef is deur sy broers verwerp, as ‘n slaaf verkoop, beledig en mishandel, in die gevangenis opgesluit, uit die gevangenis losgelaat en groot aansien verwerf onder die nasies, waarvan Egipte ‘n voorbeeld is. Jesus die Messias is deur Sy broers – Sy eie mense – verwerp. Hy is deur een van Sy dissipels vir dertig silwerstukke verkoop. Hy het neergedaal in die put (=hel), is opgewek en allerhoogste eerbied onder die nasies verwerf. Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus die Messias eindig egter nie dáár nie – dit is slegs die begin en dít is ook hoegenaamd nie toeval nie. Hierdie gedeelte is vir my so tiperend van hedendaagse gelowiges. Vergun my om dit te verduidelik. Julle sal onthou dat in verlede week se parasha (parasha VaYigash), Juda en die ander broers hul harte voor hom bely het. Op daardie stadium het Josef homself nog nie aan hulle openbaar gemaak nie. Wanneer hy later egter sy ware identiteit aan sy broers bekendmaak, verseker hy hulle dat hy hul sonde vergewe en hul vrygespreek van wat hulle aan hom gedoen het.

Genesis / BeReshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.


Josef se broers is vrygespreek: Alles wat in die verlede plaasgevind het, is vergeet en vergewe. Josef het met sy lewe aangegaan, wat skynbaar nie die geval met sy broers was nie. Ten spyte van die feit dat Josef hulle vergewe het, het hulle hulself nie vergewe nie en steeds onder ‘n skuldgevoel gebuk gegaan.

Indien ons nou voortgaan met die vergelyking van Josef as ‘n voorbeeld van Jesus die Messias, is hierdie scenario nie ontstellend gelykstaande aan die lewens van menige gelowige vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, soos wat hy inderdaad erken het, is deur God beskik met die doel dat sy broers, toekomstige geslagte van die kinders van Israel en soveel meer uit ander nasies daardeur bevoordeel sou word. Die broers se belydenis aan Josef, het aan hulle die voordeel verleen om te woon onder die beskerming van Josef, wat tot die magtige posisie van onder-koning van Egipte verhoog is. Eweneens, was alles wat met Jesus die Messias plaasgevind het, deur die Vader bestem met die uitdruklike doel om die kinders van Israel en mettertyd die ganse wêreld te bevoordeel. Wanneer ons ons sonde voor Jesus bely – die sonde wat ons teen Hom gepleeg het deur die oortreding van Sy wette van die Tora, vergewe Hy ons, trouens, ons word verseker:

Miga / Michah {7:19}Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.


Vergewe ons egter onsself? Baie van ons doen dit nie! Ten spyte daarvan dat ons vergifnis ontvang het, gaan ons nogtans onder skuldgevoelens gebuk. Laat hierdie week se parasha en die aangehaalde Skrifgedeeltes in die besonder, julle in staat stel om nie soos Josef se broers te wees nie. Aanvaar die vergifnis wat Jesus die Messias aan julle geskenk het en gaan voort met jul lewens.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 11 Desember 2010

Vergewe en Word Vergewe

11 Desember 2010 / Tevet 4 5771

En Hy Het Nadergekom / VaYigash

Genesis / Bereshit 44:18 – 47:27

Genesis / Bereshit {44:18}” Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ‘n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. {44:19} My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ‘n vader of broer? {44:20} En ons het my heer geantwoord: Ons het ‘n ou vader; en daar is ‘n jong seun, ‘n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief. {44:21} Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig. {44:22} En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat. {44:23} Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie. {44:24} En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het, {44:25} het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons ‘n bietjie voedsel. {44:26} Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. {44:27} En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het— {44:28} die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.

Miskien ervaar ek nie juis ‘n goeie dag nie en voel ek ietwat sinies, omdat ek, met die lees van hierdie Skrifgedeelte, aanhoudednd gedink het: “Watter onsin het Juda nie gepraat nie.”. Hoe kon enigeen sulke leuens kwytraak? Sy broer Josef was dood! Sy vader was onder die indruk dat hy deur ‘n wilde dier verskeur is! Juda was egter terdeë bewus van wat met sy broer gebeur het – hy het hom as ‘n slaaf verkoop! Ja, dieselfde een wat voorgestel het om ‘n wins uit hul stiefbroer te maak, het nou in ‘n powere poging om hul oorblywende stiefbroer te red, blatant gelieg. Dit is egter ironies omdat ons almal weet aan wie hy hierdie leuens vertel het.

Kom ons plaas onsself vir ‘n oomblik in Josef se posisie. Indien dit jy of ek was, aan wie Juda hierdie opgemaakte storie vertel het, sou ons hom ongetwyfeld voor stok gekry het – veral (soos jy moontlik uit hierdie kommentaar wel kan aflei) was ek bloot, deur dit deur te lees, absoluut ontsteld! Stel jouself voor indien ek die tweede magtigste person in die land was en ek sulke bog werklik moes aanhoor – verstommend!

Weet jy wat is selfs nog meer verstommend – Josef se reaksie!

Genesis {45:1} “Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. {45:2} Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. {45:3} En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.

Of Josef was ‘n heilige óf God probeer hier vir ons iets meedeel – dit is vanselfsprekend die laasgenoemde. Op grond van vorige kommentare is ons reeds daarvan bewus dat Josef ‘n voorbeeld van Jesus die Messias is en ofskoon óns teenoor Juda, negatief sou reageer het, sou dit hoegenaamd nie God se reaksie gewees het nie. Hier het ons dus ‘n volmaakte beeld van die liefde en medelye wat Jesus die Messias teeonoor ons openbaar. Net soos Juda, was ons, vóór ons gered is, ook leuenaars en bedrieërs, terwyl ons altyd alles vir eie gewin skeef voorgestel het, maar toe is ons gered en het alles verander. Wat ons dus in Josef sien, is wat Jesus die Messias ons in die Brit Chadasha geleer het:

Markus / Mordechai {11:25}En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. {11:26} Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”

Josef het die volste rede gehad om vir sy broers kwaad te wees en veral nadat hy moes verduur wat Juda kwytgeraak het, sou dit hom des te meer rede gegee het om kwaad te word. Soos ek reeds gesê het, sou jy of ek beslis ons humeur verloor het, maar God leer hier vir ons ‘n uiters belangrike les, naamlik indien ons nie vergewe nie, sal ons nie vergewe word nie. Verder, leer ons nog ‘n bietjie meer aangaande die karakter van ons Hemelse Vader. Josef, weerspieël hier in werklikheid Jesus die Messias, wat God is. Op grond van hierdie parasha, sien ons waarlik hoedat God Homself aan sy eie Tora onderwerp.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 04 Desember 2010

Lei Tot Verandering

4 Desember 2010 / Kislev 27 5771

Aan Die Einde / Miketz

Genesis / BeReshit 41:1 – 44:17

Sagariá / Zekharyah 2:14 – 4:7

Matthéüs / Mattityahu 27:15 – 46

Genesis {42:8}” En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie. {42:9} Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is. {42:10} Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. {42:11} Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.


Dit is die eerste keer wat ons in die Skrif verneem van politieke spioene, selfs in Bybelse tye. Koning Salomo was inderdaad reg toe hy gesê het:

Prediker / Kohelet {1:9} Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.


Die bekendste spioene in die Bybel is die twaalf stamhoofde wat deur Moses gestuur is om die land Kanaän te verken, wat terloops ook nie juis geslaagd was nie! Volgens die Skrif, het die Fariseërs ook van spioene gebruik gemaak om ondersoek in te stel na en verslag te doen oor Jesus, die Man van Galilea. Toe die Fariseërs Hom egter wou dood hê en uit die pad uit, maar tog klagtes teen Hom moes vind om Hom die doodstraf te laat oplê, het hulle spioene gebruik. Alle lande van die wêreld maak van spioene gebruik, ten einde inligting of enige ander soort voordeel oor ander regerings in te win, ongeag of hulle op vriendelike of vyandige voet met mekaar verkeer. Die hedendaagse Israel gebruik ook spioene; een van hulle, Jonathan Pollard, dien tans gevangenisstraf uit in die Verenigde State van Amerika, waar hy skuldig bevind is van spioenasie vir Israel op Amerika.

Wanneer spioene vasgetrek word, erken geeneen ooit dat hulle spioene is nie – dit is tensy hulle besig was om te spioeneer op ‘n land wat van marteling gebruik maak om ‘n bekentenis te verkry. Die land vir wie hulle gespioeneer het, ontken egter gewoonlik enige kennis van hulle en gevolglik moet hulle hulself verdedig. Dit is seker maar die prys wat ‘n mens moet betaal om ‘n spioen te gewees het.

Ons kan dus met redelike sekerheid veronderstel dat spioenasie betreklik algemeen in die Antieke Nabye Ooste voorgekom het en tydens Josef se onder-koningskap in Egipte, reeds ‘n probleem was. Indien dit nie die geval was nie, sou hy sy broers moontlik van ‘n klag van ‘n ander aard beskuldig het. Dit is egter nie die feit dat Josef sy broers van spioenasie verdink het wat my opgeval het nie, maar wel hul reaksie op sy beskuldiging.

Genesis {42:11}Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.

Dit is beslis seker dat hulle hoegenaamd nie besef het aan wie hulle dit gesê het nie. Josef het geweet dat hierdie manne alles behalwe eerlik was! Hulle het so pas vir hom gelieg deur voor te gee dat hy, Josef, dood was, terwyl hulle hom sonder enige berou vir ‘n wins aan ‘n groep Midianiete verkoop het. Ten spyte hiervan, is ek tog van mening dat hierdie tien manne hulself inderdaad as eerlik beskou het, ongeag die skuldgevoel oor wat hulle hul broer, Josef, aangedoen het. Dit is tog verbasend watter verwronge beeld ons in ons verstand oor onsself kan versin.

Kan jy nog jou selfbeeld onthou voordat jy bekeer is? Geeneen van ons het onsself tóé as sondaars beskou nie. Ek weet nie van jou nie, want ek het myself altyd as ‘n goeie person beskou. Ek was meelewend, vrygewig en liefdevol – of ten minste so het ek gedink voordat ek gered is. Selfs noudat ons gelowiges is, ten spyte van die feit dat ons almal baie dinge het wat verkieslik uit ons lewens verwyder moet word, is ek oortuig daarvan dat meeste van ons onsself beskou as beter as wat ons werklik is.

Die probleem met Josef se broers, wat, trouens ook ons s’n is, is dat ons onsself beoordeel volgens ons eie norme in plaas van God s’n. Josef was terdeë bewus daarvan wie voor hom gestaan het, maar sy broers was geheel-en-al onbewus van wie hy werklik was. Josef moes hulle eers beproef voordat hulle eindelik besef het dat hulle na alles nie sulke “eerlike manne” was nie.

Soos ons weet, is Josef ‘n voorbeeld van Jesus die Messias. Daarom, as ons besef wat Josef moes gedoen het om sy broers se oë te open vir die waarheid van hul werklike aard, dink net wat Jesus moontlik moet doen om jou aan jou ware aard te openbaar. My raad aan jou is – selfs al is jy gered en glo jy in Jesus die Messias as jou Here en Redder – bely dat jy nog ver van volmaak is en en bid die Here om jou sagkens tot verandering te lei.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 27 November 2010

Om Ons Les Te Leer Vir Die Volgende Geslag

27 November 2010 / Kislev 20 5771

En Hy Het Gelewe / VaYeshev

Genesis (BeReshit) 37:1-40:23

Amos / Amos 2:6-3:8

Handelinge / Ma’asei Talmidim 7:9-16

Genesis / Bereshit {38:1}In dié tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na ‘n man van Adúllam met die naam van Hira. {38:2} En Juda het daar die dogter van ‘n Kanaänitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan. {38:3} En sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar, en sy het hom Er genoem. {38:4} Daarna het sy weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Onan genoem. {38:5} En sy het nog weer ‘n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het. {38:6} En Juda het vir Er, sy eersgeborene, ‘n vrou geneem, en haar naam was Tamar. {38:7} Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag. Daarom het die HERE hom laat sterwe. {38:8} Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer ‘n nageslag. {38:9} Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie. {38:10} En dit was verkeerd in die oë van die HERE wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe. {38:11} Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly ‘n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.


Waarom kom hierdie verhaal voor in die middel van die Bybelse verslag oor Josef? Die verhaal van Juda en sy skoondogter Tamar, hou skynbaar geen verband met die voorafgaande verslag oor Josef nie. Waarom sou God dit dan hier ingevoeg het?

Voordat ons begin, vergun my egter om te sê dat Josef se ontvoering deur sy broers en uiteindelike verkoop aan die Midianiete, deur God so beskik was. Alles wat veronderstel was om te gebeur, het wel presies so plaasgevind – selfs die gedeelte waar Juda die winsgewende skema voorgestel het om eerder sy broer te verkoop as om hom in ‘n droë put van die dors te laat omkom!

Ek meen dat dit die rede is waarom die verhaal van Juda en Tamar hier ingevoeg is: Juda was bestem om ‘n leier onder die kinders van Israel te word. Deur hom sou die koninklike afstamming ontstaan waaruit Jesus die Messias gebore sou word. Die volgende Skrifgedeeltes het derhalwe op Juda se posisie betrekking:

Lukas / Uri {12:48} “Luk 12:48 maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.


En

Eksodus / Shemot {21:16} “En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié moet sekerlik gedood word.

Juda se sonde met Tamar, het hom blykbaar uitgewys en God se oordeel was dus op hom. In plaas daarvan dat Juda gesterf het, het sy seuns egter die prys (dood) betaal.

Juda het met ‘n Kanaänitiese vrou getrou, wat ek vermoed, God se besluit om die kinders van Israel uit die land Kanaän te verwyder en in Egipte te vestig, bespoedig het. In Egipte sou die kinders van Israel nie ondertrou nie as gevolg van die Egiptenare se vooroordeel teen hulle. Die kinders van Isarel was herders en skaapherders wat Egiptenare met weersin vervul het. Gevolglik sou die kinders van Israel – alleen en op hul eie – vermeerder tot die volk wat God belowe het hulle sou word.

Eksodus / Shemot {34:12} “Neem jou in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin jy kom nie; sodat hy nie miskien ‘n strik by jou word nie. {34:16} en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.


Juda se ontmoeting en ervaring met Tamar het ook die effek van verootmoediging op hom gehad en juis dit het ‘n vername rol gespeel ter voorbereiding van sy toekomstige verootmoediging en belydenis voor die onder-koning van Egipte – sy broer, Josef!

Daar is natuurlik vir ons almal lesse te leer uit Juda se ervaring met Tamar en dit is waarskynlik die rede waarom hierdie gedeelte ingevoeg is. Die eerste les is bevestiging van die Skrif, wat soos volg lui:

Genesis / Bereshit {20:5} “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;


Die tweede les hou met die eerste verband in soverre ons daarop gewys word hoe belangrik dit is om gehoorsaam te wees en God se gebooie uitdruklik na te kom.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 20 November 2010

Die Rede Waarom Edom Behoue Bly

20 November 2010 / Kislev 13 5771

En Hy Het Gestuur / VaYislach

Genesis / BeReshit 32:3-36:43

Obadja / Ovadyah 1:1-21

Matthéüs / Mattityahu 26:36-46

Genesis (BeReshit) {36:9} “Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr. {36:10} Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. {36:11} En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. {36:12} En Timna was ‘n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Amalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. {36:13} En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. {36:14} En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die vrou van Esau—sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag.”


Dit het my veral geïnteresseer dat hierdie Parasha met ‘n gedetaileerde beskrywing van die geskiedenis, afstammelinge en geslagsregister van Esau eindig. Esau, soos ons bewus is, is die vader van Edom, wat volgens oorlewering, gewoon het in die gebied Seir, wat vandag as Jordanië bekend staan. Ofskoon die Edomiete regstreeks verwant was aan Israel, was daar nooit juis goeie betrekkinge met Israel nie; trouens, toe die Assiriërs besig was om die noordelike ryk van Israel aan te val, het Edom in die middel stelling ingeneem en elkeen wat die Assiriese inval probeer ontvlug het, vermoor. Om hierdie rede het God die volgende oordeel oor Edom uitgespreek:


Esegiël (Ezekiel) {25:12} “So sê die Here HERE: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het— {25:13} daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ‘n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.


Joël (Yoel) {3:19} “Egipte sal ‘n woesteny word, en Edom ‘n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het.”

Konings Saul, Dawid en Salomo het almal tydens hul onderskeie regerings Edom verslaan en ingeneem. Nietemin het God, toe Hy Sy belofte om die land Kanaän aan Israel te gee, hulle uitdruklik beveel om Edom alleen te laat. Waarom sou Hy dit gedoen het?

Deuteronomium (Devarim) {2:2} “Toe het die HERE met my gespreek en gesê: {2:3} Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg {2:4} en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op; {2:5} begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee.”


Dit is wat God aan Esau belowe het, selfs al het Saul, Dawid en Salomo die Edomiete verslaan. Uiteindelik het Edom in opstand gekom en hulself van Israel bevry.


Na verloop van ‘n paar duisend jaar, vind ons dat Jordanië wel ‘n vredesooreenkoms met Israel aangegaan het; dit was egter ‘n baie twyfelagtige vrede. Dit laat ‘n mens wonder waarom God aan die nageslag van Edom soveel ruimte in Sy Woord afgestaan het. Ek dink die antwoord kan in die volgende Skrifgedeelte gevind word. (Dié Skrifgedeelte het betrekking op die einde van die verdrukkingstydperk, wanneer die Antichris en sy leërmagte Israel sal binneval):

Daniël {11:40} “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. {11:41} Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.”


Waarom sal Edom ontkom aan die hand van die Antichris? Daar word geglo dat in die eindtye wanneer die Antichris aanval, die Israelse vlugtelinge vir veiligheid na Petra in Jordanië sal vlug en die Jordaniërs hulle sal aanvaar.

Na bewering was die hoofstad van Edom, die hedendaagse Petra. Die Skrif meld dit egter nie by daardie naam nie, maar wel as Bosra (Bozrah). Bosra, die koningstad van Edom, word as Petra beskou omdat die beskrywings so volkome ooreenstem.

Openbaring (Hitgalat) {12:14} “maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.”

Dit is dus my afleiding: Met die aanvang van die aanval van die Antichris se leërmagte, vlug die Israelse vlugtelinge die wildernis in, wat veronderstel word om Petra te wees, oftewel Bosra, volgens die Skrif. Op grond hiervan deel Jesaja (Yeshayahu) die volgende mee:

Jesaja {63:1} “Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. {63:2} Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? {63:3} Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. {63:4} Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. {63:5} En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. {63:6} En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.”

Jesus sal nie éérs die Olyfberg opgaan, soos wat baie glo en leer nie. Hy kom wel eers na Bosra, waar die kinders van Israel deur die Jordaniese magte teen dié van die Antichris beskerm word. Jesus kom dus na Bosra, bevry die Israelse vlugtelinge wat daar skuil en voer met Sy leërmag al vegtend die stryd onderweg na Jerusalem, terwyl die magte van die Antichris tog verslaan word. Daarna sal Hy die Olyfberg opgaan, soos in die volgende Skrifgedeelte beskrywe:

Obadja {1:21} “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.”


Die sogenaamde gebergte van Esau is nie letterlik ‘n berg in Edom nie – dit is egter ‘n verwysing na die heidense nasies van die wêreld. Dit verwys ons na die volgende Skrifgedeelte:


Matthéüs {25:31} “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; {25:32} en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;”


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 13 November 2010

Die Erfgename van Redding

13 November 2010 / Kislev 8 5771

En Hy Het Uitgegaan / VaYeitzei

Genesis / Bereshit 28:10 – 32:2

Hosea / Hoshea 13:16 – 14:10

Johannes / Yochanan 1:43 – 51

Genesis / Bereshit {28:12} “En hy het gedroom—daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. {28:13} En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; {28:14} en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. {28:15} En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. {28:16} Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. {28:17} En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.


Dit is verstaanbaar dat Jakob gedink het dat die plek waar hy aan die slaap geraak het, die hemelpoort was. Dit was omdat hy engele gesien het wat met ‘n leer opklim na die Hemel en afklim. Hoe dit ookal sy, kom ons wees eerlik: het engele werklik ‘n leer nodig om na en van die hemel te beweeg? Ek dink nie so nie! In die Skrif word engele beskryf as sou hulle vlerke gehad het (lees Jesaja / Yeshiyahu 6:2). Daarbenewens word dit in Hebreërs / Ivrim 13:2 beskryf dat hulle in menslike voorkoms verskyn het. Dus is dit beslis nie nodig om van ‘n leer gebruik te maak nie! Dit is egter presies wat Jakob gesien het en soos wat ek in vorige jare se parashot bespreek het, is die droom inderdaad van profetiese belang. Is daar werklik engele wat ons dag vir dag dien? Tree hulle regtig tussen beide in ons lewens soos in die geval met Jakob? Die woord vir engel in Hebreeus is “malach’ en dit beteken boodskapper. Wonder jy miskien hoeveel engele / boodskappers daar in die hemel is?


Openbaring / Hitgalut {5:11} “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende;


Volgens hierdie Skrifgedeelte, is daar tenminste een honderd miljoen engele en is hulle geskep om ons te dien, soos in die volgende vers gemeld:


Hebreërs / Ivrim {1:13} “En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?


Indien jy in Jesus die Messias as jou Here en Redder glo, dan is jy ook ‘n erfgenaam van die redding, wat hier te sprake is: die engele is dus geskep om jou te dien! Hier volg enkele dinge wat engele vir ons doen: Hulle beskerm ons (Psalm / Tehillim 91:11-12); hulle lei ons (Bereshit / Genesis 19:15-17); hulle bemoedig ons (Rigters / Shoftim 6:12); hulle bevry ons (Handelinge / Ma’asei HaTalmidim 12:17); hulle lig ons voor (Mattheus / Mattityahu 2:19-20 en laastens, versterk hulle ons (Lukas / Uri 22:43).


Ons moet egter versigtig wees en altyd onthou dat God nooit deur engele vervang word nie; inteendeel, hulle rig ons altyd op God. Derhalwe moet ons daarteen waak om nooit só met engele behep te raak tot op ‘n punt waar ons God terugskuif na ‘n tweede plek in ons lewens nie.

Ons moet ook daarteen waak om engele nie te herskep om aan ons eie wanvoorstellings te voldoen nie. Wat ons van engele weet, moet gegrond wees op wat die Bybel aangaande hulle leer en beslis nie op wat ons in films en op televisie sien of wat ons graag van hulle wil glo nie. In die Bybel verskyn die engel van God altyd in ‘n manlike gedaante. Engele is nie altyd net goed en medelyend nie! Kyk in die boek Openbaring: wie gaan die oordeel voltrek op aarde? Die engele! Moet dus nie oor engele fantaseer of glo wat die wêreld oor engele te sê het nie. Bestudeer verkieslik die Bybel en verneem wat God ons in Sy Woord oor engele leer.

Engele word nooit aanbid nie. In die tyd van die apostel Paulus (Shaliach Shoul) was daar ‘n dogma genaamd Gnostisisme, wat die aanbidding van engele beoefen het.

Kolossense / Kolosim {2:18} “Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid,”


In die Bybel word na twee tipes engele verwys: Die engele van God en die engele van satan, wat demone genoem word. So waarsku die Bybel ons dat die demone van die Satan hulle soms as engele van lig voordoen, maar inderdaad demone is.


2 Korinthiërs / Korintim Bet {11:14} “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. {11:15} Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”


Besef jy wat ek bedoel? Slegs omdat jy gesien het wat jy vermoed het ‘n engel was, beteken hoegenaamd nie dat dit een van God se engele was nie. Weet jy dat twee van die hoof valse gelowe in die wêreld ontstaan het as gevolg van engele? Islam is die resultaat van Mohammed wat na ‘n engel geluister het en Mormonisme, deur Joseph Smith, wat van ‘n engel genaamd “Moroni” verneem het. Elke engel is nie noodwendig van God nie! Ons moet die geeste op die proef stel om te bepaal of hulle wel van God is aldan nie. Een ding is egter seker en dit is dat daar baie engele is, geskep om diensbaar te wees aan ons, die erfgename van redding.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 06 November 2010

2010-11-06 Toldot Afrikaans

6 November 2010 / Chesvan 29 5771

Om Mysself met Ander Te Vergelyk

Geslagte / Toldot

Genesis / BeReshit 25:9 – 28:9

1 Samuel / Sh’muel Aleph 20:18 - 42

Romeine / Romim 9:1 – 13

Genesis {26:6} “So het Isak dan in Gerar gebly. {26:7} En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou—anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. {26:8} En toe hy al ‘n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. {26:9} En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! {26:10} En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het!

Ons leef sonder twyfel in ‘n bose en immorele wêreld, maar dit was van die begin af reeds so; trouens, op ‘n bepaalde tyd was die wêreld so geweldadig, dat God die ganse mensdom – met die uitsondering van ses persone – deur ‘n vloed vernietig het. Ons weet nie welke mate van goddeloosheid daar in die wêreld geheers het nie, maar as God so ‘n drastiese stap geneem het, moes dit ongetwyfeld veel erger gewees het in vergelyking met dít waarin ons vandag lewe.

Volgens die Skrif, sal die sondigheid in hierdie omvang weer op aarde plaasvind – ‘n sondigheid waardeur God die hele wêreld in geheel sal vernietig, maar hierdie keer deur vuur.

2 Petrus / Kefa Bet {3:10}” Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. {3:11} Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — {3:12} julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.

Die punt wat ek graag wil maak, is dat ten spyte van die feit dat die mensdom vanaf die tyd van Adam en Eva sondig was, daar tog altyd in die één of ander vorm, ‘n wet en ‘n skyn van moraliteit bestaan het.

Koning Abiméleg was ‘n Filistyn en het sekerlik nie in die God van Israel geglo nie; trouens, die Filistyne was afgodsaanbidders, maar in hierdie Parasha, vind ons tog dat hy vir Isak die volgende sê:

Genesis {26:10} ” En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het! ”

Ek onthou dat, alvorens ek in Jesus die Messias geglo het, ek in allerlei sondige praktyke betrokke was: moreel, finansieel en spiritueel (met laasgenoemde bedoel ek dat ek by die okkult betrokke was). Nietemin, ten spyte van my ontneemde geaardheid was daar dinge – sekere sondige praktyke (waarmee my vriende gemoeid was), waartoe ek myself nooit sover sou kon bring om mee te doen of selfs oorweeg om te doen nie. Ek was immoreel, oneties en sondig, maar het juis neergesien op mense wat dinge gedoen het, ofskoon ekself dit nooit sou doen nie. Eindelik, so ontneem as wat ek in sekere gevalle was, het ek besef dat ek tog maar ook dieselfde gedoen het.

Die Filistyne was ‘n sondige, wreedaardige, immorele nasie. Nietemin lees ons van iets wat hulle nie sou gedoen het nie of wat koning Abiméleg nie sou oorweeg het nie.Hy het naamlik ‘n grens gestel om nie by ‘n ander man se vrou te slaap nie.

Is dit nie maar net soos ons is om ons eie morele, etiese en spirituele perke te kies nie? “Ek sal dít doen, maar nooit dát nie. Ek sal só teenoor ander mense optree, maar hulle nie só behandel nie. Ek sal nooit soos so-en-so wees nie of doen wat hulle doen nie”. Die probleem is egter dat ‘n jaar of twee later, besef ons dat ons presies dieselfde doen wat ons in die verlede as ondenkbaar beskou het! Dit is die wyse waarop sonde te werk gaan – dit is hoe die satan met ons werk!

Die enigste uitweg om hierdie kringloop van sonde te verbreek (dit het vir my geslaag), is om Jesus die Messias as jou Here en Redder aan te neem, om jou lewe aan hom toe te vertrou en in Hom te glo as die Redder van jou siel. Dit is die enigste hoop wat jy het om van ‘n lewe van morele, etiese en spirituele sondigheid verlos te word.

Beskou jy jouself miskien nie as so ‘n slegte person nie? Moontlik is dit omdat jy jouself met ander slegte persone vergelyk in plaas daarvan om jouself met God en Sy maatstaf soos in Sy Bybel uiteengesit, te vergelyk. In die verlede het ek myself ook met ander mense vergelyk en ek voel geneë om te dink dat dit juis dít is, wat Abiméleg ook gedoen het.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 30 Oktober 2010

Wat Ontbreek

30 Oktober 2010 / Chesvan 22 5771

Sara Het Gelewe / Chayei Sarah

Genesis / BeReshit 23:1-25:18

1 Konings / Melachim Aleph 1:1-31

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 15:50-57

Genesis {23:1} “En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.


Ek is ‘n voorstaander van éénmaal getroud, altyd getroud (dit is vanselfsprekend totdat die dood ons skei)! Dit is my filosofie dat dit drie persone (man/vrou en Jesus) neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee (man en vrou) om dit op die rotse te laat beland. Ongeag dus wat jy dink oor wat ek in hierdie kommentaar sê, dit is my standpunt en sal nie verander nie.

Interessant genoeg het talle heiliges van die Bybel wankelrige huweliksverhoudings gehad. Moses en sy vrou Sippora, soos ons bewus is, het ‘n meningsverskil oor die besnydenis van hul seun gehad en dit het tot ‘n breuk in hul verhouding gelei. Moses se skoonvader, Laban, het hulle egter weer versoen. Nietemin is daar in die Skrif geen aanduiding dat die versoening hoegenaamd permanent was nie. In hierdie Parasha verneem ons dat Sara in Hebron oorlede is, terwyl ons in verlede week se Parasha gelees het, dat Abraham in Berséba gewoon het. Met vandag se hoofweë is dié twee stede slegs 45 minute van mekaar af oftewel ‘n rit (sonder verkeer) wat agt-en-twintig minute duur. In die tyd van Abraham was egter ‘n aansienlike afstand deur die wildernis en boonop ‘n moeilike en opdraande reis deur ‘n bergagtige gebied – veral vir ‘n bejaarde man soos Abraham. Dus het hulle nie meer saamgewoon nie!

Genesis {22:19} “ En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.


Die rabbis glo egter dat Abraham en Sara uiteen is oor die akida (binding) van Isak. Dit was ten spyte van die feit dat Isak blykbaar reeds in sy dertigs was toe die akida plaasgevind het. Indien ons egter die mening van die rabbis as waarheid aanvaar, beteken dit dat sowel Moses as Abraham met hul vrouens geredeneer en uitmekaar is oor onenigheid rakende hule kinders. Kinders is wel belangrik maar behoort glad nie tussen hul ouers, wat mekaar liefhet en God in hul huwelik het, te kom nie.

Dit laat my ongetwyfeld wonder oor hierdie groot Godsmanne, wat sulke vername rolle in die Bybelgeskiedenis vertolk het. Wat het dan in hul lewens ontbreek en / of in hul huweliksverhoudings wat slegs deur skeiding opgelos kon word? Ek wil nie graag één party uitsonder nie, maar indien ons beide (Abraham en Moses) se situasies van naderby beskou, is daar inderdaad één opvallende ooreenkoms. In albei gevalle was hul kinders betrokke.

Ek maak grootliks op my vrou se mening staat en ofskoon ek altyd ernstige oorweging daaraan skenk, is ons dit eens dat die finale besluit – sonder uitsondering – altyd myne moet wees. Dit mag vir sommige mense miskien vreemd klink, maar my vrou besef dat ek ‘n vroom, Godvresende man is en nooit ‘n vername besluit sal neem voordat ek God nie éérs in gebed en indien nodig, deur te vas, geraadpleeg het nie. Moontlik is die verskil tussen mý vrou en die vrouens van Moses en Abraham, dat sy met dieselfde Heilige Gees (Ruach HaKodesh) vervul is as waarmee ek vervul is. Derhalwe erken sy dit wanneer God deur my werk of wanneer ek deur my vlees gelei word. Dit was nie die geval met beide Sippora en Sara nie. Daar is geen aanduiding dat hulle met die Heilige Gees vervul was nie. Ons moet egter onthou dat die Gees in daardie tyd van die geskiedenis nie op alle vlees uitgestort is nie. Soos ons bewus is, was dit eers met die Shavuot in die eerste eeu, na die hemelvaart van die opgestane Jesus die Messias, dat die Heilige Gees op alles vlees uitgestort is, op diegene wat Jesus die Messias as hul Here en Redder aanvaar het. Voor dié tyd het die Gees gerus op slegs diegene, op wie die Here dit bestuur het en selfs dan, het dit volgens die wil van die Here, gekom en gegaan, volgens Sy wil.

Dit voer ons terug na die beginpunt waar ek gesê het dat dit drie persone neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee om dit op die rotse te laat beland. Dit wil dus vir my voorkom asof in die huwelike van sowel Sippora as Sara, die Derde Persoon ontbreek het!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 23 Oktober 2010

Profesie en Bespotting

23 Oktober 2010 / Chesvan 15 5771

Profesie en Bespotting

En Hy Het Verskyn / VaYera

Genesis / BeReshit 18:1 – 22:24

2 Konings / Melachim Bet 4:1 – 37

2 Petrus / Kefa Bet 2:4 – 11

Genesis {18:9} “Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent. {18:10} En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. {18:11} Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie. {18:12} En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is? {18:13} Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? {18:14} Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.


Hierdie week se Parasha is so omvattend dat dit eintlik moeilik is om te besluit waarop om te fokus, maar onderwyl ek gebid het, het die Here hierdie vers aan my uitgewys:


Genesis {18:12} “En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is?


Met al die belangrike dinge wat in hierdie parasha plaasvind (soos die verskyning van engele in menslike gedaante, die belofte van ‘n erfgenaam vir Abraham en die vernietiging van Sodom en Gomorra), is dit maklik om die baie persoonlike en subtiele interaksie tussen God, die Skepper van hemel en aarde, en Sarah, vrou van Abraham, mis te kyk.


Sarah, soos ons bewus is, was onvrugbaar; sy was reeds op ‘n gevorderde leeftyd, post menopousaal en verby die verwagting om kinders te hê. Dit is vandag in ons veronderstelde moderne, verligte en verdraagsame samelewing, moeilik en dikwels werklik pynlik sowel as beskamend om kinderloos te wees, maar destyds was dit uit-en-uit vernederend.

My eggenote en ek is kinderloos en ten spyte van die feit dat ons op grond daarvan die geleentheid gegun word om God te dien, sonder die verdeelde aandag om ‘n gesin groot te maak, was dit vir ons pynlik en het dit dikwels smart asook tot ons verdriet, bespotting meegebring – selfs deur lede van ons gemeente. Ek self het nie kinders nie met die gevolg dat ek by geleentheid gekorrigeer is wanneer ek aan ouers leiding gegee het met betrekking tot die grootmaak van kinders. Daar is al selfs aan my gesê: “Dit is maklik vir jóú om te praat – jý het geen kinders nie!”. Diegene wat dit nie reguit aan my gesê het nie, het moontlik dieselfde mening gehuldig. My eggenote is ookal verkwalik oor haar kinderloosheid, gewoonlik uiters subtiel, maar nietemin spottenderwys. Ons kan albei daarvan getuig dat dit besonder pynlik is!

Stel julle dus voor hoedat Sarah moes gevoel het in ‘n tyd en samelewing wat nie so verlig en verdraagsaam soos ons s’n is nie; dit was trouens ‘n samelewing waarin ‘n kinderlose vrou verstoot en deur die ander vrouens as ‘n verworpeling behandel is.

Wat ek vreemd vind on te begryp is waarom Sarah op die drie besoekers (twee engele en God) reageer het deur te lag? Daar moes ongetwyfeld geweldige pyn in haar hart gewees het vanweë die swaarkry as gevolg van soveel jare se bespotting wat sy moes verduur het. ‘n Meer begryplike reaksie – na my mening – sou eerder ‘n hewige afkeer van die opmerkings van ‘n verdere drie onsensitiewe mense wees.

Ek het egter tot die gevolgtrekking gekom dat Sarah in werklikheid, om welke rede ookal, in haar binneste, hierdie besoekers geglo het. Dit sou die enigste verduideliking wees vir die feit dat sy gelag het. Dit was eerder ‘n reaksie van behoedsame hoop, wat haar teleurstelling, toe dit nie volgens haar tysberekening gerealiseer het nie, verduidelik sowel as haar begeerte om selfvervulling van hierdie profesie. Sy kon nie die pyn van verdere teleurstelling verduur nie. Erger nog, sy kon nie die blote gedagte dat die profesie moontlik net nog ‘n bydrae was tot haar reeds té lange lys van bespottings, verduur nie.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 16 Oktober 2010

Kom Weg Van Voor die hand liggende Afgodery

16 Oktober 2010 / Cheshvan 8 5771

Gee jý pad / Lech Lecha

Genesis / Bereshit 12:1 – 17:27

Jesaja / Yeshayahu 40:27 – 41:16

Romeine / Romim 4:1 – 25

Genesis {12:1} “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. {12:2} En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. {12:3} En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.


Waarom sou God van Abram verwag om sy land, sy familie en sy eie ouers te verlaat? Dit klink nie reg of redelik nie. Al wat Abram immers mee vertroud was, was die stad waarin hy gewoon het en die familie en vriende saam met wie hy dáár groot geword het. Hoe kon God van iemand van Abram se ouderdom verwag om alles waaraan hy gewoond was, agter te laat en te trek – nie slegs ‘n blok verder weg of na die anderkant van die stad nie, maar wel na ‘n ander land? In daardie dae was dit hoegenaamd nie so maklik om so rond te trek nie. Gewoonlik is die mense gebore en het hulle naderhand gesterf in dieselfde dorp. Die antwoord daarop is dat God ons uit ‘n omgewing van afgodediens wil verwyder sodat Hy in ons ‘n ware verhouding met Hom, die enige ware God, kan skep.

Dit is geen geheim nie dat die Russies-Ortodokse-, Grieks-Ortodokse- en Katolieke Kerk diep betrokke in die eerbetoon van heiliges is. Indien ons begryp waaruit hierdie praktyk ontstaan het, sal ons moontlik die praktyk in sy regmatige perspektief kan plaas.

Toe keiser Konstantyn van Rome gepoog het om sy verdeelde ryk te verenig, het hy ‘n algemene godsdiens gekies om dit te verwesenlik. Dit was nie ‘n epiphanie wat hom tot geloof gebring het nie; sy lewe het geensins daarvan getuig dat hy tot ‘n reddende kennis van Jesus as die Messias gekom het nie. Konstantyn het gesoek na ‘n oplossing vir ‘n politieke probleem wat sy ryk geteister het en dit het sy houvas daarop toenemend laat verswak.

Die Christelike geloof het binne die Romeinse Ryk reeds in gewildheid begin toeneem. Konstantyn het dus bloot gekies om die Christelike geloof sy amptelike godsdiens van die Ryk te verklaar. Hy moes dit egter aanvaarbaar maak vir die algemene publiek, wat in afgodsaanbidding en die heidendom gedompel was. Om dit te verwesenlik, het Konstantyn die Christelike geloof vir sy eie doeleindes aangepas. In die Romeinse Ryk was baie mense daaraan gewoond om op Sondag die songod te aanbid; Konstantyn het gevolglik die dag van aanbidding, van Saterdag na Sondag gewysig. Verder was hulle daaraan gewoond om die gode van die Wintersonstilstand te verheerlik. Op baie heidense feesdae is die geboorte van hulle gode gevier, met inbegrip van Sol Invictus, wat volgens oorlewering op 25 Desember weergebore is en dikwels voorgestel word met ligstrale vanuit sy hoof (presies soos wat Jesus uitgebeeld is). Konstantyn het gevolglik 25 Desember as die geboortedag van Christus laat verklaar. Hulle was gewoond daaraan om Ishtar, godin van vrugbaarheid te herdenk om en by Paasfees, toe Jesus gesterf het. Konstantyn het die herdenking van Ishtar na Paasfees gewysig en dit met die dood van Christus verbind. Die aanbidding van die jeugdige God, Tammuz, en sy moeder, wat as “Madonna en Kind” bekendgestaan het, is vervang deur “Maria en Jesus”. Daar was egter ‘n verdere probleem wat bygelê moes word en dit was die groot aantal gode wat deur die bevolking aanbid is. Konstantyn moes met ‘n oplossing vir hulle vorendag kom, ten einde ‘n sekere vorm van die veelvuldige gode-aanbiddingspraktyke te behou sonder om ‘n algehele kompromie met die monoteïsme van die Christelike geloof aan te gaan: Gevolglik is die konsep van die heiliges ingestel.

Ek is bewus daarvan dat ek die hele proses vereenvoudig het en dus baie fyner besonderhede uitgelaat het. My doel is egter nie om afgodsdiens te verheerlik òf ‘n volledige verslag van die geskiedenis te verstrek nie, maar wel om God te verheerlik – die God van hemel en aarde, die God van Israel, deur slegs die grondbeginsels en eindresultate van die besluite wat geneem is, kortliks te skets.

Wat is dus die punt wat ek deur die voorafgaande verduidelikings wil maak? Eenvoudig dit: Ek het al talle mense wat aan die kerke hierbo gemeld behoort, sowel as ander mense soos hulle, wat daarop aanspraak maak dat hulle gered en wedergebore gelowiges is, teëgekom. Hulle behoort steeds aan hul onderskeie kerke en aanbid saam met hul kerke, volgens hul onderskeie kerklike tradisies. Indien jy miskien een van hulle is, dan versoek ek jou om die volgende te oorweeg: “As God Abram beveel het om “pad te gee” uit die afgodsomgewing waarin hy hom bevind het, selfs sover gegaan om hom in ‘n ander land in te lei (Onthou: Daar was toe geen telefone of ander elektroniese kommunikasiemiddels soos vandag om met vriende en familie tuis in verbinding te bly nie), sou Hy dan nie begeer dat diegene wat beweer dat hulle wedergebore is, uit hierdie duidelik afgodies godsdienste moet weg kom nie?

Die apostel Paulus het hierdie beginsel beslis begryp toe hy geskryf het:

2 Korinthiërs (Korintim Bet) {6:14} “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? {6:15} En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? {6:16} Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. {6:17} Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; {6:18} en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou