27 November 2011
D’VAR TORAH
EN HY HET UITGEGAAN / VAYETZE
En Hy Het Uitgegaan / Vayetze
Genesis / Bereshit {29:22} “Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ‘n maaltyd berei. {29:23} Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. {29:24} En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. {29:25} En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? {29:26} En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. {29:27} Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring. ”.
Nadat ek hierdie gedeelte gelees het, is ek oortuig daarvan dat jy dink Jakob (Ya’akov) het ontvang wat hy verdien het. Hy was ‘n bedrieër en het presies dieselfde beleef: Hy is bedrieg. Dit is skynbaar die standaardvertolking van hierdie Skrifgedeelte en inaggenome sy karakter en persoonlikheid, skyn dit geldig te wees.
Die vraag ontstaan egter: Het Laban (Lavan) Jakob doelbewus probeer kul of bedrieg? Ek glo nie dat dit werklik sy bedoeling was nie. Hierdie sienswyse laat my moontlik verskil van elke ander kommentator, of ten minste dié waarvan ek bewus is.
Genesis / Bereshit {29:25} “En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?”.
In die voorafgaande gedeelte, sien ‘n mens Jakob vir wat hy inderwaarheid was. Bedrieërs meen altyd dat ander mense hulle probeer bedrieg. Dieselfde geld ten opsigte van leuenaars: Hulle dink altyd dat hulle belieg word en vertrou gevolglik niemand nie. Jakob wás ‘n bedrieër en toe hy dus vir Lea as vrou ontvang, het hy ongetwyfeld dadelik vermoed dat Laban hom bedrieg het. Ek glo egter nie dat dit die geval was nie – Laban se antwoord laat my tot hierdie gevolgtrekking kom.
Genesis / Bereshit {29:26} “En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie.”
Dit was dus die gebruik van daardie gebied – en één wat lank reeds gegeld het – dat ouer dogters altyd vóór die jongeres moes trou. Dit was nie ‘n ongewone gebruik onder die nabye Oosterse volkere in die tyd van Jakob nie. ‘n Mens kan nou redeneer dat Laban vir Jakob vooraf moes gesê het dat hy éérs met Lea moes trou voordat hy Ragel as vrou kon ontvang. Laban was egter onder geen verpligting om dit vir Jakob te sê nie, want laasgenoemde moes van dié gebruik bewus gewees het.
Een jaar, terwyl my vrou en ek ‘n gehuurde motor in Israel bestuur het, is ons deur die polisie afgetrek omdat my hoofligte nie aangeskakel was nie. Dit was gedurende November en volgens wet, moes alle voertuie op die hoofweg, tussen November en Maart, se hoofligte aangeskakel wees. As toeris, was ek nie bewus van hierdie wet nie. Aangesien die hoofligte van alle voertuie in Kanada, outomaties brand wanneer ‘n voertuig aangeskakel word, het ek vanselfsprekend nagelaat om dit in Israel te doen.
Ofskoon die polisiebeampte begrip gehad het vir die feit dat ek ‘n toeris was, is ek genadiglik nie beboet nie en kon ons ons reis voortsit. Ek was natuurlik erg ontevrede met die betrokke motorverhuringsagentskap, wat volgens my mening, nagelaat het om my oor hierdie padreël in te lig. Ek het my voorgeneem om my ontevredenheid teenoor hulle te lug wanneer ek die voertuig terugbesorg.
Daarna het ek besef dat dit eintlik nie die verhuringsagentskap se skuld was nie. Ja, hulle móés my seker van die betrokke hoofweg-padreël verwittig het, maar dan sou hulle my oor talle ander bestuurdersreëls, regulasies en wette, wat in Israel geld, moes ingelig het. Nee, dit was níe hulle plig nie! Ek het ‘n voertuig in ‘n vreemde land gehuur en dit was immers mý verantwoordelikheid om, voordat ons uit Kanada vertrek het, my van die wette en reëls te vergewis, sodat ek dit nie sou oortree nie. In Kanada en om dieselfde rede, in elke land van die wêreld, is onkunde van die wet, geen geldige verweer nie.
Moontlik was Jakob nie afkomstig van dieselfde streek as sy oom Laban nie, maar hy was nogtans ‘n Midde-Oosterling en moes dus van die gebruike aldaar bewus gewees het. Onkunde met betrekking tot die wet, is geen verontskuldiging nie! Jakob is nie bedrieg nie; die bedrieër het homself bedrieg.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou