Saterdag 23 April 2011

Die Paaslam en Om God te Ken

23 April 2011 / Nisan 19 5771

Paasfees / Pesach


Alhoewel hierdie gedeelte eintlik bedoel is om tydens die dae van Paasfees (Kol Moed Pesach) gelees te word, behels hierdie week se les één kort versie met betrekking tot die Fees van Ongesuurde Brood (Pesach / Hag HaMatzah):

Eksodus / Shemot {34:18} “Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.”

Daar is ook ‘n bykomende les vir hierdie week se parasha en dit is die addisionele diere-offers bo-en-behalwe die gebruiklike daaglikse offerhandes wat voorgeskryf is vir die sewe dae van Pesach Hag HaMatzah, Die Skrifgedeelte vir ons parasha, waaroor ek kommentaar gaan lewer is egter die volgende:

Eksodus / Shemot {34:25} “Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood slag nie, en die offer van die paasfees mag nie tot die môre toe oorbly nie”

Ek het al dikwels gewonder waarom die paaslam nie op die tweede dag geëet mag word nie; trouens, die Skrif bepaal dat dít wat van die paaslam oorbly, met vuur verbrand moet word. Om ‘n idee van die antwoord te verkry, laat ons kyk na sommige vereistes met betrekking tot die voorbereiding van hierdie lam. Dit moes ‘n jaaroud lam en in elke opsig volmaak – sonder enige gebrek – wees. Om dít te verseker, moes die lam by die huisgesin aangehou en vir vier dae ondersoek word. Op die vierde dag moes dit ritueel geslag word. Die bloed daarvan moes in ‘n bak opgevang en dan met hisop as ‘n kwas, aan die deurkosyn gesmeer word. Dit was met die doel om vir die “huisgesin” redding te verseker. Geeneen van die lam se bene moes gebreek word nie en, volgens bykomende Bybelse voorskrifte, heel aan ‘n rygpen in ‘n vertikale posisie verbrand word.

Indien die Skrif ondersoek word, sal ‘n mens sien dat hierdie paaslam Jesus die Messias versinnebeeld. Voordat Hy gekruisig is, is Jesus vir vier dae deur die Fariseërs in die Tempel (Bet HaMidash) ondervra en hulle kon hoegenaamd geen fout met Hom vind nie. Jesus is daarna geneem en aan ‘n Romeinse teregstelllingskruis vasgespyker, waar sy bloed gestort is om vir die wêreld redding te bring. Volgens die Skrif is geeneen van Sy bene gebreek nie. Jesus het nie vir ‘n tweede dag aan die kruis gehang nie maar is afgehaal en op dieselfde dag waarop Hy gekruisig is, begrawe. Wanneer dit alles in oorweging geneem word, kan ons verstaan waarom die paaslam Jesus, die Lam van God, verteenwoordig het en op grond daarvan, niks van die paaslam op die volgende dag geëet moes word nie.

Die volgende besprekingspunt, is na aanleiding van die onderstaande Skrifgedeelte:

Eksodus / Shemot {33:13} “As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.”

Ongewtyfeld begeer elkeen van ons om genade by God te vind en hierdie Skrifgedeelte verstrek juis aan ons die nie-verborge HOE. In hierdie gedeelte het Moses God versoek om Sy weë aan hom bekend te maak sodat hy Hom kan ken en dus in Sy oë genade mag vind. Die enigste klaarblyklike wyse om genade in die oë van God te vind, is deur Hom te ken. Meen julle dit is bloot per toeval dat, kort nadat Moses sy versoek aan God gerig het, God hom beveel om die volgende te doen?

Eksodus / Shemot {34:1} “Toe het die HERE aan Moses gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes; dan sal Ek op die tafels die woorde skrywe wat op die eerste tafels was, wat jy verbrysel het.”

Die enigste manier om God te ken, is deur Sy Woord. God se Woord is Sy karakter en Sy karakter is Sy Woord. Indien ons dus vir God en Sy weë wil ken, moet ons Sy Woord ken. Daarom is ‘n gestruktureerde Bybelleesprogram ‘n noodsaaklike deel van ‘n gelowige se lewe. Elke gelowige in Jesus die Messias behoort die Bybel eenmaal elke jaar te lees. Dit, tesame met gereelde bywoning van Bybelstudie, sal verseker dat julle God en Sy weë sal ken, omdat Hy dit deur Sy Woord aan julle sal bekendmaak.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 16 April 2011

Mag God Ons Genadig Wees

16 April 2011 / Nisan 12 5771

Na Die Dood / Acharei Mot

Levitikus / VaYikra 16:1 – 18:30
Maleagi / Malachi 3:4 – 24
Hebreërs / Ivrim 9:11 – 28

Hierdie parasha is vol simboliek van Jesus! Alhoewel dit nie die simboliek is wat ek vandeesweek wil bespreek nie, meen ek tog dat dit die moeite werd is om aan ten minste twee daarvan aandag te skenk.

Levitikus / VaYikra {16:21} “en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur. {16:22} So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.”

Ek herinner julle graag aan verlede week se kommentaar (drash) oor die twee voëls. Hier handel dit egter oor twee bokke, wat presies dieselfde Persoon simboliseer as die twee voëls: Jesus die Messias. Aäron moes sy hande lê op die lewendige bok, wat met die bloed van die dooie bok besprinkel is, die sondes van Israel óór die bok bely en dit dan in die wildernis vrylaat. Die simboliek hiervan is dat tensy ons ons hande lê op Jesus as ons Messias, Here en Redder en tensy ons ons sondes oor Sy bloedbevlekte liggaam bely, ons sondes nie vergewe sal word nie. Indien ons dit egter wel doen, leer die Skrif dat Hy ons sondes namens ons sal dra en dit op ‘n plek laat, waar dit nooit in herhinnering gebring sal word nie.

Mica / Micah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.”

In die volgende gedeelte, vind ons die tweede simboliek:

Levitikus {17:11} “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”

Lewe om lewe, bloed om bloed! Is dit nie waarop al die offerandes in die tabernakel (Miskhan) en die tempel (Bet HaMikdash) eintlik betrekking gehad het nie? Natuurlik, was dit! Dít is trouens waarop alles aangaande Jesus gehandel het! Sy lewe vir óns lewe en Sy bloed vir óns bloed!

Nou, wil ek graag kortliks kommentaar lewer oor die volgende Skrifgedeeltes van hierdie week se parasha:

Levitikus {18:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {18:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Ek is die HERE julle God. {18:3} Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen Ek julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie. {18:4} My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die HERE julle God. Lev 18:5 Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die HERE. ”

Hier het God die kinders van Israel bevel om nie lewenswyses, gebruike en praktyke van die mense van die land, waarheen Hy hulle sou lei, na te volg nie. Dan, soos ons verder in die parasha lees, noem Hy sommige van die afskuwelike praktyke wat die kinders van Israel moet vermy. Dit het bloedskande, bestialiteit, homoseksualiteit asook ander vorms van seksuele immoraliteit ingesluit. Ongeag die besonderhede van hierdie lys, was dit beslis nie die enigste seksuele praktyke wat die inwoners van die land beoefen het nie. Daar is talle ander misdrywe wat nie hier gemeld word nie maar wel in ander Skrifgedeeltes voorkom. Voldoende om te sê, is hierdie lys netso op ons van toepassing. Ek stel dus voor dat ons dit noukeurig deurlees en besef hoeveel van hierdie afskuwilikhede ons vandag steeds in ons samelewing beoefen. Ek meen dat ek met vrymoedigheid kan sê dat ons ons aan elk daarvan skuldigmaak! Waarna kan ons dus uitsien? Ek vermoed dít wat in die volgende skrifgedeelte voorkom (Dit is ook hierdie week se parasha):

Levitikus {18:26} “Maar júlle moet my insettinge en my verordeninge onderhou en niks van al hierdie gruwels doen nie die kind van die land of die vreemdeling wat onder julle vertoef. {18:27} Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie gruwels gedoen, en die land het onrein geword. {18:28} Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was. {18:29} Want almal wat enigeen van hierdie gruwels doen die siele wat dit doen, moet uitgeroei word onder hulle volk uit. {18:30} Daarom moet julle my ordening onderhou om niks te doen van die gruwelike insettinge wat voor julle gedoen is nie, dat julle jul nie daardeur verontreinig nie. Ek is die HERE julle God. ”

Mag God ons genadig wees!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 09 April 2011

Die Simboliek

9 April 2011 / Nisan 5 5771

Die Onrein Persoon / Metzora

Levitikus / VaYikra 14:1 – 15:33 2
Konings / Melachim Bet 7:3-20
Romeine / Romim 6:9-23

Levitikus {14:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2} Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word, {14:3} en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is, {14:4} moet die priester bevel gee dat hulle vir hom wat gereinig moet word, twee lewendige rein voëls en sederhout en skarlakendraad en hisop moet bring. {14:5} Die priester moet ook bevel gee dat hulle die een voël in ‘n erdepot oor vars water slag. {14:6} Die lewendige voël moet hy neem, sowel as die sederhout en die skarlakendraad en die hisop, en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die vars water geslag is. {14:7} En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg. “

In hierdie verse is aansienlike simboliek. Die enigste ander geval waar iets soortgelyk voorkom, waar een dier geslag en die ander vrygelaat word, is op Yom Kippur, wanneer die hoëpriester (Cohen HaGadol) een bok slag, sy bloed op die altaar sprinkel en ‘n tweede bok in die wildernis loslaat.

Die twee voëls, soos die twee bokke, verteenwoordig dood en opstanding. Aangesien Jesus gesê het dat die Tora na Hom verwys, is dit dan duidelik dat die voël wat doodgemaak word, Jesus se dood voorstel. Die bloed van die eerste voël, wat op die tweede voël gesprinkel word, simboliseer die versoenende krag van Sy bloed. Die tweede voël wat losgelaat word, versinnebeeld Jesus se opstanding.

1 Korinthiërs (Korintim Alef) {15:3} “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;”

Ons sien ook die gebruik van sederhout in hierdie seremonie. Die sederhout is met bloedrooi garing aan die hisop vasgemaak sodat dit ‘n tipe kwas gevorm het. Die kwas is dan in die water-bloedmengsel gedoop en, soos ‘n verfkwas, gespat oor die persoon wat deur hierdie seremonie gereining word. Wat is die simboliek hiervan? Die mure van die tabernakel (Bet HaMikdash) is bedek met sederhout, vanweë die duursaamheid daarvan. Dus, om ons analogie voort te sit, verteenwoordig die sederhout die onverganklikheid van Jesus. Die hisop simboliseer skynbaar die Woord van God, soos dit in die volgende Skrifgedeelte gebruik word:

Psalm / Tehillim {51:7} “Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. ”

Die bloedrooi garing, glo ek, stel geloof voor. Geloof bind alles tesame en daarsonder is alles waardeloos. Selfs die feit dat die garing rooi is, dui op geloof in die bloed. Die gebruik van aldrie hierdie items om die bloed-watermengsel mee aan te wend, verteenwoordig die aanwending van die verlossingskrag van Jesus die Messias op die persoon wat gereinig word.
Die simboliek eindig egter nie daar nie aangesien die erdekruik die menslike liggaam voorstel:

2 Korinthiërs / Korintim {4:7} “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.”

Die vloeiende water simboliseer lewende water:

Johannes / Yochanan {4:10} “Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ”

Ons sien dus dat al hierdie simboliek Jesus se menslikheid duidelik verteenwoordig. Hy het na die aarde toe gekom as ‘n mens, God in vleeslike gedaante, om vir ons sonde te sterf. Sy opstanding is die bewys dat Hy die aanvaarde korban (naderkomsoffer) is, om ons van ons sonde te reinig en aan ons lewe te skenk. Die persoon wat gereinig moes word, is sewemaal deur die priester besprinkel. Sewe is die volmaakte getal en derhalwe verteenwoordig die sewevoudige besprinkeling volkome en finale reiniging van die persoon wat besprinkel word. Slegs Jesus is ons volkome en finale verlossing!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 02 April 2011

‘n Volle Deelnemer

2 April 2011 / Adar II 27 5771

Ontvang / Tazria

Levitikus / VaYikra 12:1-13:59 
Esegiël / Yechezekiel 45:16-46:18 
Matthéüs / Mattityahu 8:1-4

Levitikus / VaYikra {12:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2} Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. {12:3} En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word. {12:4} Dan moet sy drie en dertig dae in die reinigingsbloed bly. Aan niks wat heilig is, moet sy raak nie en in die heiligdom mag sy nie kom nie totdat die dae van haar reiniging verby is."

Daar bestaan onder Christene heelwat misverstand oor b’rit milah (die ritueel van besnydenis) en daarom wil ek graag van hierdie geleentheid gebruik maak om daardie misverstand in hierdie week se kommentaar op Parasha Tazria, te verduidelik. Om hierdie rede, gaan ek die waarskynlik mees misvatte Bybelboek, Galasieërs (Galitim) – die een in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), wat meeste oor die besnydenis handel – gebruik.

In die tyd van die apostel Paulus (Shaliach Shaul), was daar ‘n algemene leer onder sekere Joodse gelowiges in Jesus die Messias – veral dié van die Jerusalem-gemeente – aangaande die ritueel van besnydenis. Hulle het daarop aangedring dat ‘n nie-Jood, wat ‘n gelowige in Jesus die Messias wou word, proseliet in Judaïsme (die geloof!) moes word om ten volle ingelyf te word in die verbond wat tussen Isreael en God bestaan het. Paulus het egter nie daarmee saamgestem nie en, vir die rekord, ek ook nie! Dit is hierdie valse leer, komende uit die geledere van Joodse gelowiges van die Jerusalem-gemeente, wat Paulus aangespoor het om die volgende Skrifgedeelte te skrywe:

Galasiers / Galitim {5:6}”Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.”

Juis uit hierdie gedeelte asook ander wat soortgelyk is, ontstaan kerke se leer dat die besnydenis nie langer nodig is nie omdat die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus as’t ware daarmee weggedoen het. Hulle beweer dus dat Christene, van hierdie wet vrygestel is. Niks hiervan is egter verder van die waarheid verwyder nie. Vergun my om julle toe te lig hoedat Paulus die woord “besnydenis” in Galasiërs gebruik.

Die mees deurslaggewende vereiste in tradisionele Judaïsme vir ‘n nie-Jood om hom tot Judaïsme te bekeer, is die besnydenis. Dit is waarom die faksie van Joodse gelowiges van die Jerusalem–gemeente vereis het dat nie-Joodse gelowiges uit Galicia besny moes word, of anders gestel, dat hulle proseliete moes word om ten volle in die geloof ingelyf te word. Dit is die rede waarom dié gemeente op die besnydenis gefokus het, want, volgens hulle, was die besnydenis ‘n vereiste vir redding.

Paulus begin die voorafgaande vers met die woord “Want”, wat daarop dui dat hierdie vers ‘n rede vir iets bepaal – die propaganda van die faksie Joodse gelowiges in Jerusalem. Daarom moet ons die betrokke vers verstaan, met die betekenis – ongeag of jy ‘n Joodse proseliet is of nie – dat dit niks met ‘n mens se redding te doen het nie. Nóg die Joodse gelowiges, word deur die besnydenis (bekering) gered, maar eerder soos Paulus dit gestel het: “...maar die geloof wat deur die liefde werk.”.

Ek hou van die manier waarop Tim Hegg dit stel: “This is why “neither circumcision nor uncircumcision means anything.” Once again, we must understand this terminology as meaning “neither Jewish status nor non-Jewish status means anything.” And we must likewise understand this statement of the Apostle within the context in which he gives it. He is not saying that Jewish identity is nothing, nor is he saying that non-Jewish identity is unimportant. Our station in life is a direct result of G-d’s divine providence. But the point Paul is making is that one’s entrance into Messiah is not predicated upon one’s lineage or membership in a given people group. G-d’s salvation is not automatically given to those who trace their linage to Jacob, nor is it automatically withheld from those who trace their heredity to the nations. G-d’s salvation is given to those who are “in Messiah Yeshua.” “.

Die gevolgtrekking is dus dat Paulus glad nie van die besnydenis as sulks praat nie. Hy gebruik die woord “besnydenis” as sinoniem vir bekering tot die geloof van Judaïsme. Paulus se slotsom is dus dat ‘n nie-Jood homself nie tot Judaïsme hoef te bekeer ten einde ‘n volle deelnemer aan die verbonde van Israel te wees nie.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou