Saterdag 31 Oktober 2020

Volg Hom

Lech Lecha
(Gaan Uit) 


Genesis {12:1} “EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.”

In Bybelse tye was dit nie ‘n algemene gebruik vir ‘n familie om hulself te ontwortel en om geen rede na ‘n ander gebied te trek nie. Meeste mense se rykdom en sosiale status het afgehang van hoeveel grond hulle besit het en die grootte van hulle kudde. Vir Terach (Abram se vader) om op te pak en met sy familie uit Ur te trek, wat ‘n stad van grootte en aansien was, na Haran - ‘n betreklik onbekende verafgeleë stad - verleen aan ‘n mens ‘n geringe aanduiding van die sosio-ekonomiese status van Abram se familie. Hulle was óf behoeftig en het nie hulle eie grond besit nie óf hulle was nomadies met ‘n minimum kudde. Nogtans het hulle lank genoeg in Ur van die Chaldeërs (die huidige Irak) gewoon, waar Abram groot geword en met Sarah getroud is. Terwyl hulle in Haran gewoon het, het daar nou van nêrens af ‘n Stem vir Abram beveel om sy besittings op te pak, sy lewe dáár agter te laat, uit sy vader se huis en familie weg te gaan na ‘n onbekende plek, ‘n vreemde onbekende land. Abram is beveel om te gaan maar was geheel en al onbewus van waarheen hy moes gaan. Wat sou julle in sy situasie gedoen het? Meeste van ons sou twyfel oor wat ons besig was om te hoor; ons sou selfs gedink het dat ons nie reg gehoor het nie en nie verder daarop ag geslaan en nie getrek het nie. Dit was egter nie die geval met Abram nie. Hy het sy besittings bymekaar gemaak en sondermeer die instruksies van die Stem gevolg en weggetrek.

Ons moet nou onthou dat Abram nie Joods was nie en heelwaarskynlik soos almal in Ur, ‘n afgod aanbid het. Ur was ‘n stad wat daarop geroem het dat die maangod aldaar aanbid is, met die gevolg dat dit onwaarskynlik was dat Abram enige vorige verhouding of selfs kennis van die God van Israel sou gehad het. Nietemin het hy, nadat hy die Stem van God gehoor het, dit gehoorsaam en ‘n God gevolg wat hy nooit eers geken het nie en ‘n Stem - die God van Israel -  wat hy nog nooit voorheen gehoor het nie.

Daar is ’n Skrifgedeelte, wat anti-sendelinge soos “Jode vir Judaisme”, gebruik om die Brit Chadasha (Nuwe Testament) te kritiseer. Hulle gebruik dit ten opsigte van onvermoedende en marginale gelowiges om te bewys dat Jesus nie die beloofde Messias was nie; trouens, hulle gebruik hierdie gedeelte as bewys dat die Nuwe Testament nie deur God geïnspireer kon gewees het nie omdat, volgens hulle “God nooit van ‘n persoon sou verwag om so ’n meedoënlose, wrede ding te doen nie.” Daardie Skrifgedeelte is:

Matthéüs {10:37} “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”

Daar is geen manier dat Abram die God van Israel meer kon liefgehad het as sy moeder en vader nie, omdat hy Hom nie eers geken het nie. Wat sou julle dink van ‘n God, Wie julle nie geken het nie; ‘n God wat so’n onredelike opdrag vereis het? Sou julle van Hom gedink het as gevoelloos en meedoënloos en Hom geïgnoreer het? Wel, Abram het nie! Hy het homself net met oortuiging en almal na aan hom verlaat en God gevolg. Ek meen dit kon van Abram gesê word dat hy sy kruis (die kruis om alles waarmee hy vertroud was te verlaat, alles wat gerieflik was, agter te laat) opgeneem en God na die onbekende gevolg het.

In ruil vir die feit dat hy geluister het na die Stem van God en gehoorsaam was aan die aan die opdrag, het die Here ‘n baie besondere belofte aan Abram gemaak.

Genesis {12:2} “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. {12:3} En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

Is dit nie interessant nie, want kyk wat Jesus die Messias vir almal wat Hom meer liefhet as vir ‘n vader of moeder; sê:

Matthéüs {19:29} “En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.”

Wat Jesus in die Nuwe Testament sê, is basies dieselfde as wat die Tanach (Hebreeuse Skrifte) in B’reshet sê. Dit is omdat dit dieselfde God is wat dit in beide gevalle sê. Ja, die God van die Tanach en die God van die Brit Chadasha is dieselfde God. Enigeen wat deur die teendeel beïnvloed word deur anti-sendelinge of enigiemand anders wat dit betref, word mislei. Jesus het ‘n teregwysing gehad vir organisasies soos die “Jode vir Judaïsme”, ons hedendaagse eiewyse Fariseërs. Hy het gesê : 

Matthéüs {23:15} “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self.”

Ek dink dit is die anti-sendelinge vir wie ons moet versigtig wees en nie die Messiaanse Jode nie. Sou julle nie saamstem nie? In elkgeval, Jesus het nie haat teenoor ouers bepleit nie; Hy het bloot feite gestel. Enigeen of enigiets wat tussen ons en ons verhouding met God kom, sal uiteindelik veroorsaak dat daardie verhouding skipbreuk lei en ons onwaardig maak vir ‘n verhouding met Hom. Ons kan nie verdeelde lojaliteite hê wat God betref nie; Hy moet eerste in ons lewens wees en alles anders tweede. Die feit is dat hierdie één van die vernaamste beginsels van die Tanach en Juadisme is.

Deuteronomium {6:5} “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.”

Ek meen hierdie gedeelte kwalifiseer as ‘n opdrag van God om niemand vóór Hom te stel nie; nie vader, nie moeder, selfs nie eers kinders nie. Kyk gerus daarna! Ons kan ook dieselfde teks (Matthéüs 10:37) gebruik om te verifieer dat Jesus aanspraak maak om God te wees, iets wat die anti-sendelinge ontken dat Hy ooit daarop aanspraak gemaak het!

Kom gou Jesus!


Lees Parasha

Saterdag 24 Oktober 2020

Nature

Noach
(Noag)

Genesis {8:6} “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, {8:7}  en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. {8:8}  Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. {8:9}  Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. {8:10}  Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark. {8:11}  En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. {8:12}  Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie.”

Ek het iets baie interessant ontdek toe ek die bovermelde gedeelte gelees het. Soos ons lees, het Noag ‘n kraai uitgestuur voordat hy die duif losgelaat het. Let egter daarop dat die kraai nie teruggekeer het nie maar eerder heen en weer oor die aarde gevlieg het totdat waters weggedroog het. Volgens wat ek uit die geskrewe gedeelte aflei, kon hierdie kraai vir ten minste sewe dae rondgevlieg het sonder voedsel en sonder om te gaan sit.

Kraaie is onrein voëls, dus was daar slegs twee in die ark. Noag het net één losgelaat. Ten einde voort te plant, sou die een wat losgelaat is, een of ander tyd, die ander een wat nog in die ark was, moes teëkom?. Die kraai, soos ek gemeld het, is ‘n onrein voël; trouens ‘n aasvreter en as sulks sou hy voedsel gevind het. Boonop sou die kraai plek gevind het om te gaan sit op die duisende karkasse van dooie diere en opgeblaaste lyke, wat op die waters gedryf het. As gevolg daarvan, was dit nie nodig om na die ark terug te vlieg nie.

Duiwe, daarenteen is rein voëls en dus nie aasvreters nie. Daarom sou die duif wat Noag losgelaat het, nie kon oorleef nie. Daar was geen voedsel of rusplek vir die holte van sy voet nie en hy moes noodwendig terugkeer na die ark.

Hieruit blyk ‘n groot geestelike les om geleer te word. Ons moet onthou dat daar sowel rein as onrein diere in die ark was – hulle is saam aangehou. Ons moet ook daaraan dink dat God alles op aarde in een van twee kategorieë of nature verdeel het, naamlik rein of onrein. Ongelukkig beskik ons as gelowiges in Jesus die Messias ook oor hierdie twee nature.

Romeine {7:18} “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.”

Paulus het hier ons twee nature beskryf, wat konstant in stryd met mekaar verkeer. Die stryd wat binne-in ons woed. Is tussen ons ou natuur (ons vlees) en ons nuwe natuur (of wedergebore gees). Die kraai het uitgegaan in ‘n wêreld vol dood, maar vir hom ‘n fees. Hy het heen en weer oor die aarde gevlieg, op karkasse en lyke gaan sit en dit verslind. Dit is ‘n beeld van ons ou natuur. Die ou natuur hunker na die dinge van die wêreld en wil daarop teer, maar al wat die wêreld kan bied, is slegs die dood. Die duif verteenwoordig egter ons nuwe natuur. Hy het niks in die wêreld gevind wat die moeite werd was om op neer te stryk nie – niks aanloklik of aptytwekkend nie en gevolglik na die veiligheid en beskerming van die ark (Jesus die Messias!) teruggevlieg.

As gelowiges, is ons in dié wêreld maar nie van die wêreld nie. Daar behoort niks van hierdie wêreld te wees wat ons aanstaan nie. Die wêreld het groter behoefte aan ons as wat ons die wêreld nodig het. Daarom behoort ons hierdie wêreld as ‘n geleentheid te gebruik om dié wat verlore (ongered) is, te wen vir Jesus die Messias, uit ‘n wêreld van leuens tot waarheid.

Vir die kraai was ‘n dooie en sterwende wêreld aanloklik; hy wou daaraan gebonde bly. Die duif, daarenteen, het besef dat daar niks in die wêreld vir hom was nie en het dus slegs in die ark rus gevind.

Met watter voël sou jy graag jóú lewe wou vereenselwig?

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Saterdag 17 Oktober 2020

Nuut

Bereshit
(In die begin)

Genesis 1:1 - 6:8
Jesaja 42:5 - 5:43
Johannes 1:1 - 5

Genesis (2:4) “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, {2:5} was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. {2:6}  Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. {2:7} En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. {2:8} Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. {2:9}  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. {2:10} En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. {2:11}  Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. {2:12}  En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. {2:13} En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. {2:14} En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. {2:15}  Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. {2:16}  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, {2:17} maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”

Moontlik sal dit wat ek nou gaan leer, vir julle ietwat verwarrend voorkom, maar dit is wat God op my hart gelê het.

Ons is nog altyd geleer dat die tuin van Eden (Gan Eden) ‘n letterlike fisiese aardse plek was. Baie mense het oor die jare heen, die werklike ligging sonder welslae probeer karteer, maar ek is oortuig daarvan dat dit ‘n mors van tyd was. Soos ek dit verstaan, was en is die Tuin van Eden geen fisiese plek nie.

Eerstens glo ek dat die aarde en die Tuin van Eden twee verskillende entiteite was. Die aarde is ‘n fisiese plek en die Tuin van Eden ‘n spirituele plek - moontlik op of selfs buite die aarde. Adam en Eva (Chava) is uit die stof van die aarde geskep maar daarna in die Tuin van Eden gevestig waar, so glo ek, verheerlikte gestaltes aan hulle gegee is. Hulle verheerlikte gestaltes was baie soortgelyk aan dié van Jesus na Sy opstanding. Julle sal onthou dat Hy met Sy opgestane spirituele gestalte deur mure kon beweeg maar ook ‘n maaltyd saam met Sy dissipels kon nuttig. Met hulle verheerlikte gestaltes kon Adam en Eva vir God sien, saam met God wandel en met God praat, so normaalweg as wat ons vandag met mekaar praat. Ek glo ook dat hulle uit vrye wil tussen die spirituele en fisiese kon verwissel. Nogtans kon hulle eet en beweeg in die tuin, wat hulle voedsel verskaf het en wat hulle moes versorg. In wese was hulle in staat om met hulle verheerlikte gestaltes, dinge te doen waartoe ons vandag met ons fisiese liggame nie in staat is nie.

Tweedens word ons in die bovermelde Skrifgedeelte meegedeel dat die Tuin van Eden deur ‘n mis bevogtig is aangesien daar toe nog geen reën was nie. Verderaan verneem ons egter dat ‘n rivier deur die Tuin van Eden gevloei het. Wat was dit dan - is die Tuin van Eden deur ‘n mis of ‘n rivier besproei? Myns insiens geeneen van die twee nie. In plaas daarvan, so glo ek, was die Tuin van Eden ‘n spirituele entiteit, moontlik ‘n wêreld binne die spirituele ryk of selfs ‘n spirituele wêreld, bo ons aarde, waaruit Adam en Eva eindelik verdryf is.

“Oos” verteenwoordig altyd die ewigheid; die Tuin van Eden, word ons meegedeel, was geleë in die ooste: die troon van God. Met dit in gedagte, was die twee bome in die Tuin van Eden, moontlik nie letterlike bome nie, maar spirituele skeppings. Die eerste, die boom van lewe was Jesus, terwyl die boom van kennis van goed en kwaad, die satan was. Die riviere wat die Tuin van Eden besproei het, was dus nie letterlike riviere nie - hulle het die Woord verteenwoordig wat uit God gevloei het.

“Gan Edan”, vertaal, beteken “tuin van goedheid”. Ons verneem dat ‘n rivier uit hierdie tuin gevloei en in vier riviere vertak het. Dit herinner my aan die Skrifgedeelte in Psalms (T’hillim):

Psalm {36:8} “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.”

Daar was ‘n enkele rivier wat uit die Tuin van Eden gevloei en in vier riviere vertak het - ‘n  verskynsel wat nie by riviere voorkom nie, want riviere vertak gewoonlik in syriviere en nie in afsonderlike riviere nie. Alle riviere ontspring uit hulle eie hoofbron. Dít is vir my ‘n verdere aanduiding dat die Tuin van Eden ‘n spirituele en nie ‘n fisiese plek was nie. Kom ons skenk aandag aan die name en betekenis van die riviere.

Die eerste rivier is Pison (Pishon) genoem, wat “vermeerder” of “rondom” beteken. Die naam van die tweede rivier, Gihon, beteken “voortvloei”. Die derde rivier, Tigris (Hiddekel) se naam beteken “voorspoed” en die betekenis van die vierde rivier, Eufraat (Frat) is “vrugbaarheid”. Ek glo dat wat ons hier in die name van die riviere sien, is dat God die Tuin van Goedheid omring het en toename deur die voortvloeiing van Sy Gees bewerkstellig het, wat voorspoed en vrugbaarheid meegebring het.

Of ek korrek is of nie, moet nog bewys word, maar wat ons wel weet, is dat die Tuin van Eden aan die einde herstel sal word, soos in Openbaring beskrywe!

Openbaring {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. {21:2} En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. {21:3}  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. {21:4}  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. {21:5}  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”
 
Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Saterdag 10 Oktober 2020

Eersgeborene

VEZOTH HA-BARACHAH
(En Dit Is Die Seën)


Deuteronomium {33:29} ”Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ‘n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap.”

Dit is inderdaad die profesie wat Moses, voor sy dood, aan Israel gegee het. Ek hou van die gedeelte waar hy sê dat Israel se vyande hulself aan hom sal onderwerp en hy op hul hoogtes (bedoelend hul afgodeverering) sal trap. Dit is verbasend hoe betekenisvol hierdie gedeelte vandag is, veral met inagneming dat Israel se vyande besig is om hul met mening te bewapen en sy nuwe grootste vyand (Iran) kernwapens oorweeg. Voordat ek egter begin om oor vandeesweek se Parasha kommentaar te lewer, is daar ‘n aantal Skrifgedeeltes waarop ek graag die aandag wil vestig:

Deuteronomium {21:15} ” As ‘n man twee vroue het, een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou, {21:16} dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie. {21:17} Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.”

Eksodus {4:22} “Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.”

Hier het ons dit dus! Israel is God se eersgeborene en soos ons so pas gelees het, selfs as die eersgeborene dié is van die vrou wat iemand minder lief het, moet hierdie kind as eersgeborene geag en dus nogtans die reg van ‘n eersgeborene geniet, wat, volgens die Skrif, hoofskap van die familie en ‘n dubbele porsie van die erfenis behels.

Vanuit die staanspoor was Israel nie eintlik ‘n model seun nie. Hy is voorgestel om ‘n verteenwoordiging van die lewende God vir die volkere te wees – ‘n taak waarin hy hopeloos gefaal het. In plaas daarvan, het hy opgegroei om sy Vader te verwerp en gevolglik het God hom getugtig deurdat hy dwarsoor die wêreld verstrooi en sy Beloofde Land nie verwenselik is nie. Ten spyte van alles, is Israel in 1948 herbore as die Beloofde Land en gerepatrieer. Hy is egter herbore as ‘n sekulêre volk en Israel is vandag miskien erger daaraan toe as wat hy was toe hy verban is. Sedert Israel se totstandkoming, is meer Jode deur aborsies doodgemaak as deur Hitler, homoseksueles het die reg om te trou en kan openlik in Jerusalem paradeer. Varkplase het oral oor die land onstaan en varkvleis word deur slaghuise in baie van die groot stede verkoop, Die rotskoepel oorheers die horison van Jerusalem, terwyl ‘n Bahai-tempel die lug bo Haifa oorheers. Erger nog, is dat God tot bloot ‘n tradisie gereduseer is. In die lig van die feit dat Israel se vyande al hoe sterker en méér word, is dit alles behalwe ‘n gunstige beeld van Israel!

Nietemin lees ons in hierdie week se Parasha dat Israel se vyande hulself aan hom sal onderwerp en hy op hul afgodspraktyke sal trap. Hoe kan dit ooit moontlik wees as die huidige situasie in ag geneem word?

Ek gaan geen profetiese voorspellings waag nie, maar indien ek tog sou, sou ek voorspel dat Hamas, Hezbulla, Iran en alle ander nasies wat hierdie nasies openlik of heimlik ondersteun, nie voorspeodig sal wees nie.

Iran werk deesdae aan ‘n nuwe wapen, “Die ambassadeur van die dood” genaamd, maar Israel het egter steeds ‘n magtiger wapen en dit is die God van Israel, wat toevallig ook die God van hemel en aarde is. Hy het gesê:

Jesaja {44:2} ”So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het!”

Jesaja {54:17} ”Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.”

Israel is God se eersgeborene, Sy erfenis. Soos hierbo gemeld, sal Israel nie oorwin word nie, nóg kan Israel vervang of onterf word, soos vele kerke en pastore trouens verkondig. Israel kan nie vergeet of in die steek gelaat word nie. God se eersgebore seun sal nie vernietig word nie! 
Kom gou Jesus!

Vrydag 02 Oktober 2020

Oorskietkos

Sukkot 
(Tabernakels) 


Levítikus {22:26} "Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {22:27} As ‘n bees of ‘n lam of ‘n bok aankom, moet dit sewe dae lank onder sy moeder bly; maar van die agtste dag af en verder sal dit met welgevalle aangeneem word as ‘n vuuroffergawe aan die HERE. {22:28} ‘n Bees of stuk kleinvee mag julle ook nie saam met sy kleintjie op een dag slag nie. {22:29} En as julle ‘n lofoffer aan die HERE bring, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind. {22:30} Op dieselfde dag moet dit geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe nie. Ek is die HERE. {22:31} Hou dan my gebooie en doen dit. Ek is die HERE. {22:32} En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel. Ek is die HERE wat julle heilig, {22:33} wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle ‘n God te wees. Ek is die HERE." 


Hierdie Sabbat is daar 'n spesiale Torah Parasha - lesing, omrede dit die eerste dag van Sukkot is. Sukkot is 'n dankseggingsfees; dit verteenwoordig, landboukundig, die einde van die najaar-oesseisoen en daarom word dank betuig vir die milddadige oes en voorsiening van God aan Sy kinders. Spiritueel is Sukkot 'n beeld van Jesus die Messias, wat ons op aarde beskut. 

Volg my, soos wat ek die reeks gebeure wat deur die Feeste van die Here uitgebeeld word, verduidelik. Die Feeste van die Lente, wat die dood en opstanding van Jesus verteenwoordig, is reeds verby en uitgebeeld deur Paasfees en Hag HaMatzah (Ongesuurde Brood). Die Fees van Yom HaBikkurim (Eerste Vrugte) wat óns voorstel as die eerste vrugte van Jesus se opstanding, is ook reeds verby. Die Fees wat die instelling van die Heilige Gees se uitstorting oor alle vlees, het reeds begin, soos uitgebeeld deur Shavuot (Pinkster). Die Fees wat die Oordeel oor die Aarde voorstel, word deur Yom Teruah (Dag waarop die Shofar geblaas word) voorgestel en terwyl die voorstelling wat hierdie fees uitbeeld, nog nie fisies plaasgevind het nie, het die viering daarvan reeds verbygegaan met hierdie Bybelse jaar. Die Fees wat die triomfantlike wederkoms van Jesus die Messias as Koning van Israel asook die wêreld verteenwoordig, is ook reeds in hierdie bybelse jaar verby, soos deur Yom Kippur (Dag van Versoening) uitgebeeld. Al wat nog vanjaar oorbly, is die Fees wat Jesus die Messias, nou ons Koning, uitbeeld wat Sy koninkryk op aarde finaal vestig en by ons bly vir eenduisend jaar, gedurende Sy Messiaanse Heerskappy. Dit is waaroor Sukkot alles gaan. 

Dit is vanweë Sukkot dat hierdie gedeelte van Levítikus (Va Yikra) op die eerste dag van Sukkot gelees word. Die rede is, eerstens, omdat die aanvangsgedeelte, waarna hierbo verwys word, die dankoffer beskryf: Sukkot is 'n Dankseggingsfees. Tweedens, omdat die laaste gedeelte van die lesing al die Bybelse feesdae beskrywe en eindig met die Fees van Sukkot, wat ons hierdie Sabbat begin vier. 

Met die lees van bogemelde Skrifgedeelte, het iets baie interessant my opgeval. Laat ek weer dié besondere Skrifgedeelte aanhaal: 

Levítikus {22:29} "En as julle ‘n lofoffer aan die HERE bring, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind. {22:30} Op dieselfde dag moet dit geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe nie. Ek is die HERE." 

Toe ek grootgeword het, het my moeder nooit vir ons oorskietkos, met ander woorde voedsel wat van die vorige dag se maaltye oorgebly het, gegee om te eet nie. Sy het altyd alles wat oorgebly het op die dag waarop sy dit voorberei het, weggegooi. So het ek natuurlik grootgeword onder die indruk dat dit so hoort: mense eet nie voedsel wat oorgebly het nie. Toe ek egter ouer geword het, uit my ouerhuis getrek en op my eie gaan woon het, het ek dit as 'n vermorsing beskou om goeie voedsel weg te gooi, wat ek die volgende dag sou kon eet en veral aangesien ek nou my eie maaltye moes voorberei. Dit was bloot logies en het my sowel tyd as geld gespaar. By tye wanneer ek egter sulke oorblyvoedsel weer wou verhit, het ek gevind dat dit reeds bederf het, dit het totaal bedorwe geraak. 

Nadat ek bogemelde Skrifgedeelte deurgelees het, het ek gewonder:" Hou God nie van oorblyvoedsel nie?" Was my moeder al die jare reg gewees en ek verkeerd? 

Die feit is dat geeneen van ons reg of verkeerd was nie, ons het verskillende voor-en afkeure gehad. Hierdie gedeelte van ons Parasha-lesing vir dié week, het niks met oorblyvoedsel te doen nie, maar inderdaad alles met Jesus die Messias. 

Die dankoffer was vrywillig; elkeen het dit vrywilliglik gegee. Aangesien Jesus die Messias al die offers geword het, omdat sedert Sy dood en opstanding en vóór die vernietiging van die tempel, verteenwoordig die Korban (Offergawe wat vir die Here aanneemlik is) in vers 29 hierbo, die Vader se vrywillige Korban van Sy Seun en die Seun se vry wil om geoffer te word. 

Hebreërs {12:2} "die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het." 

Dit was Jesus die Messias se vreugde om Homself vir ons te offer. Daarom moet hierdie offer 
dieselfde dag geëet word, sodat daar nie geleentheid is dat dit kan bederf of geheel bedorwe raak nie. 

Ons Messias het nie bederf gesien nie: Hy het uit die dood opgestaan en sit nou aan die regterhand van die Vader in die Hemel, waar Hy vir ons as Bemiddelaar optree. 

Psalm {16:10} "want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie." 

Kom gou Jesus! 

PDF weergawe





Voorheen uitgegee: 2018-09-29