Pesach
(Pasge)
Eksodus {33:14}
"En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te
verskaf? {33:15} Toe sê hy vir Hom: As U
nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. {33:16} Want waaraan sou dan bekend word dat ek
genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons
saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op
die aarde is."
Moses het die invloed van God se teenwoordigheid op die
lewens van die kinders van Israel terdeë besef. Daarsonder sou hulle wees soos
al die ander volkere op aarde. Moses het inderdaad ondervind hoe dit was om
onder ander nasies te leef, waar die teenwoordigheid van God ontbreek het. Hy
het in Egipte en Midian gewoon en dit gevolglik eerstehands beleef waaroor dit
by afgodsdienstige nasies gaan. Nou, na sy ervaring by die brandende doringbos
op die bergtop, wou hy nooit weer terugkeer na waar hy sonder God se
teenwoordigheid sou wees nie. Dit is dus verstaanbaar waarom Moses so verbind
was aan God en so passievol was oor die verhouding wat hy met Hom gehad het,
dat hy hoegenaamd nie bereid was om êrens heen te gaan as die teenwoordigheid
van God nie saam met hom gegaan het nie. Onthou julle die rede wat hy aangevoer
het vir God se teenwoordigheid by die kinders van Israel? "So sal ons, ek en U volk, onderskeie wees van elke volk wat op
aarde is.". Moses het geweet dat die teenwoordigheid van God in mense
se lewens, hulle anders gemaak het; inderdaad so verskillend, dat dit hulle
anders as enige ander volk op aarde sou maak.
Wat beteken dit dus om in die teenwoordigheid van God te
leef? Wanneer ons in Sy teenwoordigheid is, word Hy ons passie, ons fokuspunt.
Daar is krag in God se teenwoordigheid. Die kinders van Israel sou dus geen
ander volk hoef te vrees nie omdat, solank hulle in die teenwoordigheid van God
was, niemand hulle sou kon verslaan nie. Daar is geen vrees in Sy
teenwoordigheid nie, maar wel berou, vergifnis en verandering van karakter.
Daar is ook waarheid, leiding, onderrig, profetiese openbaring, berusting en
volkome vrede in God se teenwoordigheid. Dit was geen wonder dat Moses nie
sonder die teenwoordigheid van God wou wees nie. Sou jy?
Op hierdie Sabat vier ons die eerste oorgang (of
tussenkomende) dag van Paasfees. Vir ons gaan dit alles om die dood en
opstanding van Jesus, die Messias. Elke element van die Paas-seremonie,
beskrywe op een - of - ander wyse wat ons Messias vir ons gedoen het. Waarom
moes die Messias aarde toe kom en sterf? Hy móés kom en sterf sodat ons gered
kan word, maar ook om die volgende rede:
Johannes / Yochanan {16:7}"Maar Ek sê
julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie
weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek
Hom na julle stuur; "
Vóór Jesus die Messias - God wat in die vlees na die aarde
gekom het in menslike vorm - was die kinders van Israel sonder 'n profeet,
selfs sonder die teenwoordigheid van God; Sy teenwoordigheid het van die tempel
uitgegaan, soos deur die profeet, Esegiël,
beskrywe in hoofstukke 10 en 11 van sy boek.
Uiteindelik, na meer as vierhonderd jaar, het die Messias gekom en was die
kinders van Israel weereens in die teenwoordigheid van God.
Jesus was egter op die punt om te vertrek. Hy moes Sy plek
in die hemel inneem sodat Hy 'n belangrike deel in ons en die wêreld se
verlossingsproses kon volbring, maar dié keer sou God ons nie sonder Sy
teenwoordigheid laat nie. Hy sou die Heilige Gees stuur om met ons te wees.
Johannes / Yochanan {14:16} "En Ek sal
die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in
ewigheid"
Almal wat in Jesus die Messias glo, het die teenwoordigheid
van God binne in hulle, "...So sal ons, ek en u
volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.". Kan
julle waarlik sê dat julle 'n volkome ander lewe lei?
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-04-11