Saterdag 09 Augustus 2008

Die tekortkominge Wat Ons In Ander Raaksien


9 Augustus 2008 / Av 8th 5768
Deuteronomium / Devarim 1:1-3:22
Jesaja / Yeshayahu 1:1-27
Handelinge / Ma’asei Talmidim 7:51 – 8:4

Deuteronomium {1:1} "In hierdie boek word die woorde van Moses (Moshe) weergegee. Hy het al die Israeliete (Yisrael) toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan (Yarden), oorkant Suf (Suph), in die omgewing van Paran (Paran), Tofel (Tophel), Laban (Lavan), Gaserot (Hazeroth) en Di-Sahab (Di-Zahab)."

Deuteronomium – Hierdie oordenking (Parasha) in besonder – is geskrywe in die vorm van Moses (Moshe) se verhaal oor sy lewenservaring. Dis die verhaal van ‘n man wat gestyg het van ‘n behoeftige persoon tot ‘n prins. Beslis nie ‘n maklike reis nie! Moses (Moshe) se lewe het begin as ‘n slawegesin in Egipte (Mitzrajim) se wegsteekkindjie, wat deur die Farao se dogter uit die Nylrivier gered en as ‘n prins van Egipte (Mitzrajim) grootgemaak is. Hy het later weer ‘n vlugteling geword en moes uit Egipte (Mitzrajim) vlug vir sy lewe. Tog, aan die einde van sy lewe, is hy weer ‘n prins, maar hierdie keer ‘n prins uit die volk Israel (Bnei Yisrael).
In die hedendaagse Judaïsme word Moses (Moshe) vereer, nie slegs as ‘n leier en ‘n prins van die Joodse volk nie, maar ook as Moses, ons leermeester (Moshe Rabbeinu). Hierdie titel het hy verwerf aangesien hy in die verlede en, trouens, steeds instrumenteel is in die onderrig van die Torah aan alle geslagte. Nietemin, so geseënd en deur God (HaShem) gebruik, was Moses (Moshe) egter bloot menslik, soos uit hierdie skrifgedeelte van ons oordenking (Parasha) blyk.

Deuteronomium / Devarim {1:12} “Hoe kan ek alleen julle probleme oplos, die verantwoordelikheid vir julle dra en julle hofsake verhoor?”

Klink dit soos ‘n man wat geestelike volmaaktheid bereik het? Beswaarlik! Moses (Moshe) was eintlik maar soos die res van ons. Die verantwoordelikheid van leierskap het duidelik swaar op hom gerus en, soos ons weet, het hy toegegee aan versoeking en by tye sy humeur verloor. Moses (Moshe), die groot leier van die volk Israel (Yisrael) was dus geensins volmaak nie. Hy het meer as een keer sy humeur verloor, en alhoewel hy hooggeag en deur Messiaanse gelowiges bestudeer word, deur tradisionele Jode vereer en deur die Kerk bewonder word, het hy egter beter verdien as wat hy deur die volk Israel (Bnei Yisrael) behandel is.
Elke gemeente het spesifieke behoeftes; hulle ondervind sekere probleme en daar is belangrike aangeleenthede wat slegs deur leiers aangespreek kan word. Gemeentelede kan soms ook onbedagsaam, selfsugtig, selfgesentreerd wees en bloot ingestel op eie belang terwyl daar van leiers verwag word om deurentyd na al hul behoeftes om te sien. Almal verwag van leiers om te alle tye geduldig, vriendelik, meelewend en begrypend te wees. Ons eis die bomenslike van hulle; om op elke saak wat na hulle verwys word, geduldig, vriendelik, liefdevol en meelewend te reageer. Leiers is ook maar net mense! Net soos vir Moses (Moshe), is dit vir hulle ook onmoontlik om altyd op ‘n volmaakte wyse te reageer. Hulle het ook gevoelens wat soms gekrenk kan word. Daarbenewens het leiers net soos gemeentelede, ook behoefte aan liefde, waardering en aandag. Hulle wil ook geborgenheid ervaar van die kant van die gemeente. Leiers het ‘n behoefte daaraan om nie te voel asof hulle deurentyd onder ‘n vergrootglas verkeer nie.
Alhoewel die volk Israel (Bnei Yisrael), Moses (Moshe) nou vereer, is dit ongelukkig nie soos hul voorgeslagte hom destyds behandel het nie. Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) in die Nuwe Testament (Brit Chadasha) het iets te sê gehad oor hierdie latere verering, wat myns insiens, heel toepaslik is op die hedendaagse geslag van die volk van Israel (Bnei Yisrael).

Matteus / Mattityahu {23:29} “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes, {23:30} en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie’.” {23:31} “Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete.” {23:32} “Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het!” {23:33} “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?”

Die feit is egter dat diegene wat Moses (Moshe) nou vereer, hom net soos hul voorvaders sou behandel het as hulle ook destyds geleef het en net so sou ons ook. Watter versekering het ek dat ons, wedergebore gelowiges, Moses (Moshe) sou behandel het net soos die volk Israel (Bnei Yisrael)? Dit is, trouens, hoe ons teenoor ons leiers van vandag optree. Dis vir ons maklik om ander beskuldigend, afkeurend en veroordelend te bejeën, maar eintlik is ons presies dieselfde. Ek het gevind dat die foute wat ons in ander raaksien, gewoonlik ons eie is. Indien dit nie so was nie en jy ‘n ware gelowige in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) was, sou jy nie ander se tekortkominge raaksien nie, maar eerder van jou eie bewus wees.

Matteus / Mattityahu {7:4} “Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag laat ek die splinter uit jou oog uithaal’, en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog?” {7:5} “Huigelaar, haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal…”

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved