Re’eh
(Kyk)
Deuteronomium / Devarim {13:6} “As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat jy en jou vaders nie geken het nie, {13:7} uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde— {13:8} dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie, {13:9} maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. {13:10} En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. {13:11} En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ‘n verkeerde ding by jou doen nie.”
Hierdie Skrifgedeelte is myns insiens ‘n ernstige struikelblok wat veroorsaak dat Joodse mense Jesus as die Messias verwerp. Ek sal dus my uiterste bes doen om duidelikheid oor dié gedeelte te probeer verkry en verduidelik waarom dit nie op die geloof in of aanbidding van Jesus die Messias, toegepas behoort te word nie.
Indien jy ‘n Joodse persoon was en hierdie Skrifgdeelte gelees het, sou jy nie skepties gewees het as ‘n Christen na jou gekom en vir jou vertel het dat God drie persone is nie, naamlik die God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, en dat jy Hulle nou moet aanbid nie? Dit het met my persoonlik gebeur! Nadat ek intellektueel tot die gevolgtrekking gekom het dat Jesus (ek het Hom toe nog nie as Jesus geken nie!) die Messias van die Joodse mense is, het dit my jare geneem voordat ek Hom volkome aanvaar het. Dit was aanvanklik vir my selfs moeilik om die naam “Jesus” te sê, om nie eers te praat van om in Hom te glo en Hom te aanbid nie! As Jood was ek te bang om ‘n vreemde God te dien, maar dit het natuurlik alles verander en nou ken ek die Messsias van Israel persoonlik. Ek wéét wie Hy is en is dankbaar vir wat Hy vir my gedoen het. Ek ken Hom ook op die Naam wat Sy Vader aan Hom gegee het: Jesus, wat Redder beteken. Vanweë my eie persoonlike ervarings, kan ek egter begryp hoedat my broers en susters in die vlees, hierdie God in drie persone moet ervaar.
Ek is egter nie gemaklik met die terme “Drietal” (“Trinity”) of “Drie-eenheid” nie, omdat dit die indruk wek dat daar drie gode is, wat die moontlikheid (één wat reeds plaasgevind het) laat ontstaan dat mense, veral Jode, tot die gevolgtrekking kom dat gelowiges in die Messias Jesus, veelgodery (politeïsme) beoefen. Ons weet dit is nie waar nie! Christelike liedere soos “God in drie Persone, die Heilge Drietal”, wat in vele kerke gesing word, help egter nie om hierdie valse indruk uit die weg te ruim nie.
Meeste gelowiges – Joods of nie-Joods in die Messias Jesus, wat ek al teëgekom het, sou geen probleme hê met die voordra van die “Sh’ma”, wat in Deuteronomium / Devarim 6:4 voorkom nie: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.” Daarom is ek van mening dat die misverstand onder die Joodse gemeenskap bloot semanties is.
Ons kan nie die feit wegredeneer nie dat God een is – nie ‘n Drietal van een of Drie-eenheid van een nie, maar onteenseglik slegs EEN is. Messiaanse gelowiges aanbid geensins drie gode nie. Ook nie God Een God met drie persoonlikhede nie. Hy is Een God wat funksioneer en Homself gemanifesteer het as die Av (Vader), Ben (Seun) en Ruach Hakodesh (Heilige Gees) en dit verander hoegenaamd nie die feit van Sy Eenheid nie.
Dit is tog eienaardig dat ofskoon die breër Joodse gemeenskap die beginsel van die pluariteit van God verwerp, dit nie ‘n Christelike konsep is nie maar eerder ‘n Joodse een. ‘n Gewilde boek (ek sal nie die titel vermeld nie) oor Joodse mistisisme, verwys na die drie manifestasies of openbarings van God nie, maar wel tien. Hierdie boek noem dit die “Sefirot”. Waar het hulle aan hierdie konsep gekom? Waarskynlik uit die Skrif! Dit is waar hulle gevind het dat God Homself op verskillende wyses aan die mens openbaar. Met inagneming hiervan, toon ek julle na, ‘n voorbeeld, uit die Skrif, van die pluraliteit van God:
Jesaja / Yeshayahu {48:12} “Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. {48:13} Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam. {48:14} Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die HERE liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die Chaldeërs. {48:15} Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees. {48:16} Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here HERE my met sy Gees gestuur.”
In vers 12 deur die middel van vers 14, verwys die spreker van hierdie verse na Homself as die Een wat Israel geroep het, wat die Eerste en die Laaste is. Dan in vers 13 beskryf dieselfde spreker Homself as die Skepper van hemel en aarde. Dit is dus heel duidelik dat die Spreker in vers 12 deur die middel van vers 14, God is. In hierdie verse spreek God, die Spreker, skynbaar oor Homself, maar doen dit in die derde persoon. Dit mag aanvanklik voorkom asof God na iemand anders verwys – moontlik Sirus, koning van Persië – maar lees weer vers 16. In hierdie vers is dit duidelik dat die spreker steeds God is, maar Hy beskrywe twee persone wat die sending verrig, plus ‘n meervoudige werkwoord wat gebruik word. Wat in effek hier gesê word, is dat God en Sy Gees vir God gestuur het. Derhalwe is dit duidelik dat Jesaja in hierdie gedeelte die pluraliteit van God beskrywe; in hierdie geval, drie manifestasies.
Daarbenewens, verwys ek graag na die volgende Skrifgedeeltes wat die Messias as God beskrywe:
Miga / Michah {5:2} “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.”
Jeremia / Yirmeyahu {23:5} “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. {23:6} In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.”
Beide hierdie gedeeltes is ongetyweld Messiaans en albei verwys na die Messias as synde God.
Ten slotte wil ek graag daarop wys dat die gedeelte uit ons Torah-deel van hierdie week – Parasha Te’eh – nie van toepassing is op Messiaanse gelowiges wat Jesus die Messias aanbid nie. Vandeesweek se gedeelte is eerder van toepassing op heidense afgodery: die aanbidding van heidense gode, soos wat die volkere van Israel moes gaan onteien.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2012-08-12

