Vrydag 30 Augustus 2019

Die emanasies van God

Re’eh
(Kyk)


Deuteronomium / Devarim {13:6} “As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat jy en jou vaders nie geken het nie, {13:7}  uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde— {13:8}  dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie, {13:9}  maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. {13:10}  En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. {13:11}  En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ‘n verkeerde ding by jou doen nie.”

Hierdie Skrifgedeelte is myns insiens ‘n ernstige struikelblok wat veroorsaak dat Joodse mense Jesus as die Messias verwerp. Ek sal dus my uiterste bes doen om duidelikheid oor dié gedeelte te probeer verkry en verduidelik waarom dit nie op die geloof in of aanbidding van Jesus die Messias, toegepas behoort te word nie.

Indien jy ‘n Joodse persoon was en hierdie Skrifgdeelte gelees het, sou jy nie skepties gewees het as ‘n Christen na jou gekom en vir jou vertel het dat God drie persone is nie, naamlik die God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, en dat jy Hulle nou moet aanbid nie? Dit het met my persoonlik gebeur! Nadat ek intellektueel tot die gevolgtrekking gekom het dat Jesus (ek het Hom toe nog nie as Jesus geken nie!) die Messias van die Joodse mense is, het dit my jare geneem voordat ek Hom volkome aanvaar het. Dit was aanvanklik vir my selfs moeilik om die naam “Jesus” te sê, om nie eers te praat van om in Hom te glo en Hom te aanbid nie! As Jood was ek te bang om ‘n vreemde God te dien, maar dit het natuurlik alles verander en nou ken ek die Messsias van Israel persoonlik. Ek wéét wie Hy is en is dankbaar vir wat Hy vir my gedoen het. Ek ken Hom ook op die Naam wat Sy Vader aan Hom gegee het: Jesus, wat Redder beteken. Vanweë my eie persoonlike ervarings, kan ek egter begryp hoedat my broers en susters in die vlees, hierdie God in drie persone moet ervaar. 

Ek is egter nie gemaklik met die terme “Drietal” (“Trinity”) of “Drie-eenheid” nie, omdat dit die indruk wek dat daar drie gode is, wat die moontlikheid (één wat reeds plaasgevind het) laat ontstaan dat mense, veral Jode, tot die gevolgtrekking kom dat gelowiges in die Messias Jesus, veelgodery (politeïsme) beoefen. Ons weet dit is nie waar nie! Christelike liedere soos “God in drie Persone, die Heilge Drietal”, wat in vele kerke gesing word, help egter nie om hierdie valse indruk uit die weg te ruim nie.

Meeste gelowiges – Joods of nie-Joods in die Messias Jesus, wat ek al teëgekom het, sou geen probleme hê met die voordra van die “Sh’ma”, wat in Deuteronomium  / Devarim 6:4 voorkom nie: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.” Daarom is ek van mening dat die misverstand onder die Joodse gemeenskap bloot semanties is.

Ons kan nie die feit wegredeneer nie dat God een is – nie ‘n Drietal van een of Drie-eenheid van een nie, maar onteenseglik slegs EEN is. Messiaanse gelowiges aanbid geensins drie gode nie. Ook nie God Een God met drie persoonlikhede nie. Hy is Een God wat funksioneer en Homself gemanifesteer het as die Av (Vader), Ben (Seun) en Ruach Hakodesh (Heilige Gees) en dit verander hoegenaamd nie die feit van Sy Eenheid nie. 

Dit is tog eienaardig dat ofskoon die breër Joodse gemeenskap die beginsel van die pluariteit van God verwerp, dit nie ‘n Christelike konsep is nie maar eerder ‘n Joodse een. ‘n Gewilde boek (ek sal nie die titel vermeld nie) oor Joodse mistisisme, verwys na die drie manifestasies of openbarings van God nie, maar wel tien. Hierdie boek noem dit die “Sefirot”. Waar het hulle aan hierdie konsep gekom? Waarskynlik uit die Skrif! Dit is waar hulle gevind het dat God Homself op verskillende wyses aan die mens openbaar. Met inagneming hiervan, toon ek julle na, ‘n voorbeeld, uit die Skrif, van die pluraliteit van God:

Jesaja / Yeshayahu {48:12} “Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. {48:13}  Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam. {48:14}  Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die HERE liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die Chaldeërs. {48:15}  Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees. {48:16}  Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here HERE my met sy Gees gestuur.”

In vers 12 deur die middel van vers 14, verwys die spreker van hierdie verse na Homself as die Een wat Israel geroep het, wat die Eerste en die Laaste is. Dan in vers 13 beskryf dieselfde spreker Homself as die Skepper van hemel en aarde. Dit is dus heel duidelik dat die Spreker in vers 12 deur die middel van vers 14, God is. In hierdie verse spreek God, die Spreker, skynbaar oor Homself, maar doen dit in die derde persoon. Dit mag aanvanklik voorkom asof God na iemand anders verwys – moontlik Sirus, koning van Persië – maar lees weer vers 16. In hierdie vers is dit duidelik dat die spreker steeds God is, maar Hy beskrywe twee persone wat die sending verrig, plus ‘n meervoudige werkwoord wat gebruik word. Wat in effek hier gesê word, is dat God en Sy Gees vir God gestuur het. Derhalwe is dit duidelik dat Jesaja in hierdie gedeelte die pluraliteit van God beskrywe; in hierdie geval, drie manifestasies.

Daarbenewens, verwys ek graag na die volgende Skrifgedeeltes wat die Messias as God beskrywe:

Miga / Michah {5:2} “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.”

Jeremia / Yirmeyahu {23:5} “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. {23:6} In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.”

Beide hierdie gedeeltes is ongetyweld Messiaans en albei verwys na die Messias as synde God.

Ten slotte wil ek graag daarop wys dat die gedeelte uit ons Torah-deel van hierdie week – Parasha Te’eh – nie van toepassing is op Messiaanse gelowiges wat Jesus die Messias aanbid nie. Vandeesweek se gedeelte is eerder van toepassing op heidense afgodery: die aanbidding van heidense gode, soos wat die volkere van Israel moes gaan onteien.

Kom gou Jesus!

 Lees Parasha

Voorheen uitgegee: 2012-08-12

Saterdag 24 Augustus 2019

Hy Reken Af Met Die Goddeloses (Sondaars)

Ekev
(Gevolglik)


Deuteronomium / Devarim {7:22} “En die HERE jou God sal hierdie nasies so langsamerhand voor jou uit verjaag; jy mag hulle nie gou vernietig nie, dat die ongediertes nie teen jou die oorhand kry nie. {7:23}  Maar die HERE jou God sal hulle aan jou oorgee en hulle in groot verwarring bring totdat hulle verdelg word. {7:24} Ook sal Hy hulle konings in jou hand gee, dat jy hulle naam onder die hemel kan laat verdwyn; niemand sal teen jou standhou totdat jy hulle verdelg het nie.”

Ek weet dat God se opdrag aan Israel met betrekking tot die Kanaäniete – vir baie van julle – streng, wreed en genadeloos klink; trouens, dit is Skrifgedeeltes soos hierdie wat die Kerk gebruik om tussen die God van die Tanach (Hebreeuse Skrifte) en die God van die Brit Chadasha (Hernieude Verbond) te onderskei. Op grond van wat hulle beweer, het die God van Israel ‘n ongunstige reputasie onder kerkgangers verkry. Ek het al dikwels hoor sê dat die God van die “Ou Verbond” ‘n God van oorlog en vernietiging is maar die Jesus van die “Nuwe Verbond”, ‘n God van vrede en genade is. Dit kan egter nie verder van die waarheid verwyder wees nie omdat dit één en dieselfde God is. Het God dan nie gesê nie:

Maleagie / Malachi {3:6} “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.”

Hebreërs  / Ivrim {13:8} “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

Die God van die Bybel – die God van Israel – was barmhartig, is barmhartig en sal altyd barmhartig wees. Die mense wat Hy van plan was om te onteien en vernietig, het behoort aan ‘n volk wat gruwels soos die offerande van kinders, godsdienstige goedgekeurde seksorgies (manlik sowel as vroulik) asook ander afskuwelikhede, verbonde aan hulle afgodsdiens beoefen. Wat God beplan het om hulle aan te doen, was beslis wat hulle verdien het.

Ons word ook vertel:

Genesis / Bereshit {15:13} “Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. {15:14}  Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. {15:15}  Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. {15:16}  En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.”

Die Amoriete, wat deel van die Kanaäniete was, was selfs gedurende die tyd van Abram, alreeds sondig. Let daarop dat sedert die tyd waarop God dit aan Abram meegedeel het tot die tyd wat Israel die Land Kanaän binnegegaan het, ‘n tydperk van vierhonderd-en-dertig jaar verloop het. God was genadig aangesien Hy aan hulle vierhonderd-en-dertig jaar verleen het om te sien of hulle van hulle sonde sou afsien, maar hulle het nie en inderdaad selfs sondiger geraak. Dink gerus daaraan: hoe lank sou julle hulle gegee het? Hoeveel langer, meen julle, moes God nog gewag het? Probeer belasting ontduik of bly in gebreke om julle verband of huur te betaal en kyk hoe lank dit die regering neem om julle te vervolg.

Matthéüs / Mattitayahu {25:32} “en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; {25:33}  en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. {25:41} Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”

Hierdie gedeelte beskryf wat Jesus met Sy wederkoms sal doen alvorens Hy Sy Duisendjarige Ryk sal totstandbring. Hy sal al die goddeloses vanoor die wêreld heen bymekaarmaak, hulle oordeel en hulle dan na die ewige verdoemenis in die hel stuur. Die Kanaänitiese verbond mag moontlik uit miljoene mense bestaan het, maar indien hierdie gedeelte verwys na die bymekaarmaak van al die goddeloses vanoor die hele aarde, praat ‘n mens ongetwyfeld van biljoene. Soveel vir die siening dat: “die God van die “Ou Verbond”, ‘n God van oorlog en vernietiging is, maar die Jesus van die “Nuwe Verbond” ‘n God van vrede en genade is.”

Noudat ons begryp wie God is en hoe Hy teenoor goddeloses, indien julle nog nie gered is nie, optree, dink aan ‘n weergebore gelowige in Jesus die Messias: Hoe lank meen julle gaan God aan júlle tyd gun om julle van julle sonde te bekeer, voordat júlle geoordeel word?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-08-05

Vrydag 16 Augustus 2019

Luister, Leer en Doen!

V’Etchanan
(En Ek Het Gesmeek)


Deuternonomum / Vevarim {5:1} “En Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle moet dit leer en dit sorgvuldig hou.”

Dit word beweer dat ons 50% van wat ons hoor, 70% van wat ons sê en 90% van wat ons doen, onthou. Ek is oortuig daarvan dat hierdie gevolgtrekking gegrond is op wetenskaplike studies en kliniese toetse oor ‘n bepaalde tydperk. Diegene wat by hierdie studie betrokke was, kon hulleself die tyd, moeite en geld bespaar het indien hulle bloot die Woord van God vertrou en geglo het.

In ons aangehaalde Skrifgedeelte uit parasha Va’etchanan word aan ons die noodsaaklike stappe verstrek om die Woord van God te onthou. Eerste op die lys is om Sy insettinge en verorderinge aan te hoor, tweedens moet dit geleer word en derdens moet dit gedoen word. Dit is verbasend in welke mate die betrokke kliniese studie met God se eie opdragte ooreenstem! Derhalwe kan ons tot die gevolgtrekking kom dat indien ons God se bevele uitvoer, ons ongewtyfeld minstens 90% van Sy Woord sal onthou.

Ek weet nie van julle nie maar indien ek sou geweet – oftewel onthou – het dat ek 90% van die Woord van God kon onthou deur slegs Sy eenvoudige drie stap-program te volg, sou ek die geleentheid sonder versuim aangegryp het. Ongelukkig doen nie elke gelowige in Jesus die Messias dit nie en volg dus nie God se metode nie. Julle sal weldra verstaan waarom nie.

Ons hoor die Woord van God deur gereeld dienste by te woon. Dit is ons plaaslike Messiaanse Joodse gemeente of aanlyn-deelname, waar die Woord van God gereeld verkondig en gelees word. Baie gelowiges woon nie gereeld dienste by of luister nie aanlyn nie. Hoe kan hulle hul dan op die beloftes van God beroep indien hulle nie eers weet wat dit behels nie?

Ons leer die woord van God deur deelname aan al die Torah, Haftarah, Brit Chadasha – studies. Die gemeente Melech Yisrael bied aan gelowiges, wat sou belangstel, drie Bybelstudies per week asook één twee-weekliks. Dit is nie al nie! Benewens om dit persoonlik by te woon, is al ons Bybelstudies op die internet beskikbaar. Ons beskik selfs oor ‘n geselskamer, waar diegene wat inluister, vrae kan stel en tydens uitsending dadelik antwoord daarop ontvang. Deur vrae te stel, word terselfdertyd ook geleer. Indien gelowiges in Jesus die Messias al de studies wat aangebied word, bywoon, sou hulle die Woord doelmatig leer, maar ongelukkig laat baie van hulle dit na om die Bybelstudies by te woon of aanlyn te luister.

Indien iemand die moeite doen om na die Woord te luister deur gereelde bywoning van dienste of aanlyn te luister en deur gereeld persoonlik die Bybelstudies by te woon of aanlyn daaraan deel te neem, sou die natuurlike gevolg wees, om uitvoering aan die Woord van God want nadat ons dit gehoor en geleer het, glo ons dit. Niemand sal doen wat God sê tensy hulle glo wat Hy sê nie.

Die daad van glo en doen is geloof.

Jakobus / Ya’acov {1:22} “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. {1:23}  Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, dié is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; {1:24}  want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.”

Wanneer ons oor ‘n werklike, kragtige geloof beskik sal ons onsself nie hoef te dwing om mense lief te hê of om alles te doen wat God van ons vereis nie. Ons sal nie hoef te probeer om Sy gebooie te onderhou nie – ons sal dit eenvoudig spontaan in geloof dóén omdat ons glo.

Wanneer ons oor werklike geloof beskik, sal niemand ons kan oortuig dat ons God se Woord ooit sal bevraagteken nie: ons sal net eenvoudig glo, vertrou en gehoorsaam. Indien ons God waarlik glo met betrekking tot vergifnis, sal dit nie meer moeilik wees om mense te vergewe nie. Wanneer ons waarlik glo, sal gebed en die bywoning van gebedsbyeenkomste nie meer ‘n las wees nie. Deur ware geloof kan God spontaan geprys word – ons kan dit nie onderdruk nie. Dit is ons plig om te glo. Werk daaraan, dan sal julle God se insettings en verorderinge uitvoer (doen).

Wat is die proses nou weer? Luister, leer en doen!!

Kom gou Jesus!


 PDF weergawe
PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2011-07-29



Saterdag 10 Augustus 2019

God salf één man, één leier

Devarim
(Woorde)


Deuteronomium / Devarim {1:9} “En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie. {1:10}  Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte. {1:11}  Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! {1:12}  Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra? {1:13}  Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel. {1:14}  Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer. {1:15} Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme. {1:16}  En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. {1:17}  Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.”

Daar was vir ‘n geruime tyd sekere gemeentes en mees onlangs – binne die afgelope vyf tot tien jaar – Messiaanse gemeentes, wat verklaar dat ‘n enkele aangestelde leier onbybels is. Hulle glo dat ‘n gemeente (kehila) verkieslik deur ‘n groep leiers, hoofsaaklik ouderlinge, bestuur moet word, wat dan om die beurt preek en lei. Indien dit die Bybelse wyse was om ‘n gemeente te bestuur, sou ek volkome daarmee saamgestem het maar alles in die Skrif en die gedeeltes hierbo aangehaal, dui beslis in ‘n ander rigting, naamlik slegs één aangestelde leier.

Deuteronomium / Devarim {1:17} “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.”

Ek glo nie dit verg ‘n vuurpyl-wetenskaplike om te verstaan wat hier geskrywe is nie. Moses deel ons mee dat God hóm beveel het om leiers aan te stel; regters wat hom sou bystaan om die las van die kinders van Israel, wat deur die jare aansienlik in getal toegeneem het, te help dra.

Dit is wys omdat elke leier bystand benodig, veral wanneer die gemeente (kehila), wat hy lei, buitengewoon groot word. Dit is na alles onmoontlik vir één persoon om aan behoeftes van elkeen in ‘n groot gemeente, persoonlike aandag te skenk.

Die woorde ”...want die gereg (mishpat) is God se saak.” Het my egter opgeval. Elke gelowige besef of behoort te besef dat alle oordeel van God kom. Aangesien dit die geval is en ons wéét dit is, waarom sou daar dan ooit iets te moeilik vir die aangestelde regters wees om te oordeel, juis omdat dit God is wat oordeel? Waarom sou hulle ooit ‘n “saak wat vir julle te moeilik is”, aan Moses voorlê, indien God aan hulle al die oplossings sou verstrek? Die feit is egter dat God nie aan hulle al die oplossings verstrek het nie.

God het Moses immers nie versoek om regters aan te stel om hom te vervang nie. Hy is egter versoek om mense aan te stel om hom by te staan. Dit is, trouens, omdat God één man, één leier, in hierdie geval Moses, spesiaal daarvoor gesalf het. Daar was dus sake wat vir sy assistente te moeilik was om te beoordeel. Dit is duidelik dat indien elkeen van die leiers gelyk was, dit nie nodig sou gewees het om moeilike sake aan Moses voor te lê nie. God beskik oor en het steeds leiers: manne aan wie Hy spesiale salwing vir leierskap gegee het. Indien ‘n mens daaroor nadink, is dit nie juis waaroor parasha Korach (Korag) gehandel het nie?

Númeri / Bamidbar {16:1} “En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2}  en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3}  En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? ”

Korag en sy groep opstandelinge het ‘n probleem gehad met die feit dat slegs één as leier gekies is en ons is almal bewus van wat met hulle gebeur het. Dit is egter goed om te weet dat God nie ‘n probleem het met slegs één leier nie; trouens, Hy bepaal dat dit so moes wees.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-07-22


Vrydag 02 Augustus 2019

Leer om Sinisme te Vermy

Matot-Masei
(Stamme – Reise)

Jeremia / Yirmiyahu 2:4 – 28; 3:4

Númeri / BaMidbar {32:1} “En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, ‘n groot menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind hulle uit dat die plek ‘n plek vir vee was. {32:2} Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê: {32:3} Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en Behon— {32:4} die land wat die HERE voor die vergadering van Israel uit verower het—is ‘n land vir vee, en u dienaars het vee. {32:5} Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan u dienaars as ‘n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie.”

Aan die begin van parasha Matot, kry ons te doen met die aanvang van die verdeling van die verowerde land tussen die stamme (Matot) van Israel. Die kinders van Israel het Og en Sihon, twee konings aan die oostekant van die Jordaanrivier, verslaan. Dit is die land wat vandag as die Golanhoogte bekendstaan – ‘n eiendom wat weereens onder beheer van Israel is. Die stamme van Ruben, Gad en halwe stam van Manasse het hierdie land geskik gevind vir hulle groot veetroppe (indien jy hierdie area gesien het, sal jy verstaan waarom hulle dit gekies het) en het Moses versoek om dit aan hulle toe te wys. Dit was die land wat die kinders van Israel verower het en het na regte aan hulle behoort, met die gevolg dat dit vir hulle beskikbaar was om te bewoon. Moses se reaksie op hulle versoek, meen ek, verg ‘n verduideliking.

Númeri / BaMidbar {32:6} “Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly? {32:7} Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het? {32:8} So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk. {32:9} Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die HERE aan hulle gegee het.” 

Dit is dus begryplik waarom Moses ontsteld was. Hy was blykbaar van mening dat ‘n ongelukkige voorval – ‘n herhaling van die insident met die tien spioene – weer besig was om plaas te vind. Dit het hom skynbaar herhinner aan daardie persone wat met ‘n negatiewe verslag oor die Land Kanaän teruggekeer en dus die kinders van Israel ontmoedig het om die land in te neem. Ons besef dat dit daarop uitgeloop het dat Moses-hulle vir veertig jaar in die wildernis moes rondswerwe – ongetwyfeld ‘n pynlike herhinnering.

Nou weet ons dat die stamme van Ruben, Gad en Manasse eindelik ingestem het om saam met die res van die stamme van Israel te veg totdat ook hulle húl erfenis wes van die Jordaanrivier ontvang het, maar tydens hulle versoek, was Moses nie hiervan bewus nie. Derhalwe, met dít in gedagte, is die interaksie tussen die twee en ‘n halwe stam en Moses baie interessant asook die gebeure daarna insiggewend vir ons vandag. Moses was bevrees en het steeds slegs gekonsentreer op wat in die verlede plaasgevind het. Gevolglik het hy nie besef dat hierdie ‘n nuwe generasie was nie. Sy verstand was vertroebel en hy het onmiddelik hulle versoek negatief vertolk. Die feit is egter dat hierdie groep se opstandige ouers byna voor-die-voet in die wildernis omgekom het en die nuwe geslag meer as bereid was om Moses se opvolger, Josua, in die Beloofde Land in te volg.

Wat ek graag hier wil uitwys, is dat ons verlede by ons kan spook en dus veroorsaak dat ons mense en hulle voornemens misverstaan. Moses kon nie afsien van die feit dat die kinders van Israel in opstand gekom het in plaas daarvan om te gehoorsaam en die land in besit te neem nie. Ek wil graag waag om te sê dat Moses, na alles wat hy met die kinders van Israel moes verduur, sinies geraak het.

Ongelukkig is dit vir gemeenteleiers ook nie moeilik om sinies te raak nie. Ek moes daardie geneigdheid al dikwels bestry. As herder van ‘n gemeente van gelowiges – wat almal inderdaad van die gebod “om mekaar lief te hê” bewus is, sou ‘n mens verwag dat daar vrede, respek, eer en integriteit moet heers. Pleks daarvan, vind ‘n mens al te dikwels rugstekery, geskinder, valse beskuldigings, haatdraendheid, naywer en opstandigheid om slegs enkele probleme te meld, waarmee leierskap te doen kry; sommige hiervan selfs onder hul naaste gemeentelede en vertrouelinge.

Ja, ook Moses, die nederigste mens op aarde, kon sinies raak. Laat ons dus ‘n les uit hierdie week se parasha leer en besluit om ons leiers nooit aanleiding te gee om sinies te raak nie.

Hebreërs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-07-15