Maandag 24 Februarie 2014

As Jesus God is

D’Var Torah
En Hy het geroep – Vayikra


Levítikus / Vayikra {4:27} “En as iemand van die volk van die land in swakheid sondig, omdat hy enigiets doen wat die HERE verbied het, en hy skuldig word; {4:28}  of as sy sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend word, dan moet hy as sy offer bring ‘n bok sonder gebrek, ‘n ooi, vir die sonde wat hy gedoen het; {4:29}  en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en die sondoffer slag op die plek van die brandoffer. {4:30}  Dan moet die priester van haar bloed met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet; {4:31}  en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankoffer af weggeneem is, en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as lieflike geur vir die HERE. So moet die priester dan vir hom versoening doen, en dit sal hom vergewe word. {4:32}  Maar ingeval hy ‘n skaaplam as sy sondoffer bring, moet dit ‘n ooi wees sonder gebrek wat hy bring; {4:33}  en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en dit as sondoffer slag op die plek waar hulle die brandoffer slag. {4:34}  Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk, maar al die orige bloed moet hy aan die onderkant van die altaar uitgiet; {4:35}  en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankofferlam weggeneem word, en die priester moet dit op die altaar oor die vuuroffers van die HERE aan die brand steek. So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word. ”.

Ek dink hierdie Skrifgedeelte is baie duidelik. Daar bestaan geen twyfel nie dat indien iemand sondig deur ongehoorsaamheid aan enige van die gebooie van die Here, dan is hulle in Sy oë skuldig en moet berou betoon en vervolgens boete doen deur die bring van ‘n offer ten einde vergifinis te ontvang. Dit is egter interessant dat die kerk oor die algemeen hierdie Skrifgedeelte weerspreek deur te beweer dat daar met die Tora weggedoen is. Ek vind dit moeilik om te aanvaar en wonder selfs hoe redelike, intelligente Christene wat die Bybel lees, dit kan glo!

Meeste kerkbywonende Christene glo dat Jesus inderdaad God is, wat Homself in die vlees gemanifesteer het om vir die sonde van die wêreld te boet. Ek aanvaar ook dus geredelik dat die ingewikkelde stelsel van diere-offers as versoening vir sonde nie langer is nie. Jesus, wat die plek van diere ingeneem het, het Self ons soenoffer geword. Deur Hom en Sy dood aan die kruis, het ons vergifnis ontvang, op voorwaarde egter dat ons berou het en om vergifnis bid. Ons (die kerk en ekself) stem in daardie opsig ooreen. Ofskoon die proses om vergifnis van sonde verander het – van diere tot Jesus – is daar niks wat aandui dat dít wat God as sonde ag, verander of mee weggedoen is nie. Laat my toe om te verduidelik.

Indien die Christelike kerk geredelik aanvaar dat Jesus God is, hoe bring hulle hierdie Skrifgedeeltes in ooreenstemming met mekaar?

Jakobus / Ya’acov {1:17} “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. ”.

Duidelik bevestig Jakobus hier dat die Vader (God) nooit verander nie. Ons lees verder:

Hebreërs / Ivrim {13:8} “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”.

Hierdie Skrifgedeelte sou nie moeilik wees om te aanvaar nie aangesien Jesus God is en Hy, soos die Vader, nooit sal verander. In daardie opsig, terwyl Jesus dus God in die vlees gemanifesteer is, sou dieselfde gebooie wat van die Vader kom, ook Sy gebooie wees, korrek? Dit sou beteken dat toe Jesus die volgende gesê het, Hy na die Tora (die Wet van God) verwys het.

Johannes / Yochanan {15:10} “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”.

Die Vader se gebooie is natuurlik die Tora, want welke ander gebooie is van God afkomstig? Daarbenewens is daar in die Skrif hoegenaamd geen bewys wat daarop dui dat Jesus enige van die Tora gebooie oortree het nie; trouens, Hy het vir ons gesê:

Matthéüs / Mattityahu {5:18} “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. ”.

Sonder twyfel kon Jesus dit sê omdat Hý die Een was wat die Tora voorsien het. Boonop, waarna Hy verwys wanneer Hy sê: “… totdat alles gebeur het …”. – dus die totstandkoming van die nuwe hemel en nuwe aarde.

Openbaring / Hitgalut {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. {21:2}  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. {21:3}  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. {21:4}  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. {21:5}  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. {21:6}  En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.”.

Die feit dat Jesus verwys het na die tyd van die nuwe hemel en nuwe aarde, word deur hierdie Skrifgedeelte bevestig:

Openbaring / Hitgalut {21:22} “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”.

Studeer dus om jouself as goedgekeur te toon. Amen


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 17 Februarie 2014

Geseënd om gered te wees

D’Var Torah
Berekenings / Pekude


Eksodus / Shemot {38:21}  “Dit is die berekening van die koste van die tabernakel, van die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Moses, deur die diens van die Leviete, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.”.

Soos wat ‘n mens verder in hierdie Skrifgedeelte lees, besef jy dat die kosteberekening, wat verstrek word, beperk is. Nie alles wat vir die konstruksie van die tabernakel (Mishkan) gebruik is, was bereken nie – dit wil sê, al die onverwerkte materiaal, wat in die oprigting daarvan gebruik is. Ons het ‘n gedetaileerde berekening van die gewig van die goud, silwer en koper wat benodig is, maar geen presiese hoeveelhede van hout, edelgesteentes of weefstof word verstrek nie. Ek glo nie dit was te wyte aan ‘n oorsig aan die kant van God of Moses nie. Ek twyfel ook nie daaraan dat hierdie Skrifgedeelte bedoel is om ‘n werklike oudit van die boeke te wees nie. Na aanleiding va die lysting van die goud, silwer en koper, lei ek af dat God slegs die mees kosbare verbruiksartikels opgenoem het, want soos vandag, was dit ook in Moses se tyd waardevolle metale.

Neem byvoorbeeld die goud; bykans 1,930 pond goud was in die konstruksie van die tempel gebruik. Daar is sestien onse in ‘n pond wat sout uitreken op 30,880 onse goud. Met inagneming van die huidige Amerikaanse prys van goud van ongeveer $1,260 per ons, sou dit beteken dat $ 38,908,800 Amerikaanse waarde van goud vir die tempel gebruik is. ‘n Mens mag wel sê dat die goudwaarde tóé aansienlik minder was, as wat dit nou is, maar dit moet in gedagte gehou word dat alles relatief is en dat dit gevolglik vir hulle net so ‘n astronomiese bedrag was, as wat dit nou vir ons is. Indien die waarde van die silwer en koper hierby ingereken word, is ‘n geweldige groot bedrag in die tempel belê. Wat egter interessant is, is dat elke ons goud, silwer en koper vrywilliglik deur die Egiptenaars aan die kinders van Israel gegee is, vóór hulle vertrek uit Egipte. Die Egiptenaars is nie deur die Hebreërs geplunder soos ‘n vyand in oorlog geplunder word nie. God het dit op die harte van die Egiptenaars gelê om dit te oorhandig en die kinders van Israel om dit te vra.

Eksodus / Shemot {11:2} “Sê tog voor die ore van die volk dat elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste silwergoed en goue goed moet eis. {11:3}  En die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars. Ook was die man Moses baie groot in Egipteland, in die oë van Farao se dienaars en in die oë van die volk.”.

Dit herinner my aan ‘n profesie van duisende jare tevore deur die profeet Jesaja:

Jesaja / Yesayahu {61:1} “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; {61:2}  om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; {61:3}  om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking. {61:4}  En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag. {61:5}  Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees. {61:6}  Maar júlle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle heerlikheid julle beroem. ”.

Benewens die profesie in dié verband, het hy ook geskrywe:

Jesaja / Yesayahu {60:5} “Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.  {60:11} En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. ”.

Voorwaar wonderlike profesieë! Die feit is egter dat dit wel gebeur en reeds gebeur het sedert die totstandkoming van die staat Israel. Die Joodse volk wat oor die wêreld heen versprei is en voorspeod geniet het in die lande waarin God hulle gevestig het, stuur die rykdom van volkere na die land. Met die toenemende vervolging en anti-Semitisme dwarsoor die wêreld, immigreer Jode na Israel en bring die rykdom van volkere saam met hulle. Evangeliese Christene, veral uit die Verenigde State, het dit op hulle geneem om Israel finansieel te ondersteun. Ek weet van ‘n Joodse bediening in Israel wat feitlik geheel-en-al deur Christene ondersteun word tot die jaarlikse bedrag  $ 55 miljoen.

Dit hou nooit op om my te verstom hoedat ons God te werk gaan nie! Hy is dieselfde: gister, vandag en tot in alle ewigheid. Ek is só geseënd  om wedergebore en gered te wees!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Dinsdag 11 Februarie 2014

Die altaar vir verbrande offerandes (Mitzbayach) en Jesus die Messias

D’Var  Torah
En Hy het versamel – Vayakhel


Eksodus / Shemot {38:1} “Hy het ook die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte, vierkantig, en drie el sy hoogte. {38:2}  En hy het sy horings op die vier hoeke gemaak; sy horings was, daarmee saam, uit een stuk: en hy het dit met koper oorgetrek. {38:3}  Hy het ook al die gereedskap van die altaar gemaak: die potte en die skoppe en die komme, die vurke en die vuurpanne. Al dié gereedskap het hy van koper gemaak. {38:4}  Ook het hy vir die altaar ‘n traliewerk gemaak, ‘n netwerk van koper, onder sy lys, onderaan tot by die helfte van die altaar. {38:5}  En hy het vier ringe aan die vier ente van die kopertraliewerk gegiet, as plekke vir die draaghoute. {38:6}  En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek.”.

Die tempel in sy geheel is ‘n beeld van Jesus die Messias. Ek het die altaar vir verbrande offerande uitgesonder om vir julle te verduidelik – sonder enige besondere rede, as wat dit my aandag getrek het.

Die betrokke altaar is ‘n beeld van Jesus die Messias aan die teregstellingspaal (kruis) terwyl die horings van die altaar God se mag en God se genade simboliseer. In die Skrif vind ons dat wanneer iemand sy hande op die altaarhorings lê, so’n persoon beveilig en begenadig is.

1 Konings / Malachim Alef {1:50} “Maar Adónia was bevrees vir Salomo en het opgestaan en heengegaan en die horings van die altaar vasgehou. {1:51}  Toe is daar aan Salomo meegedeel en gesê: Kyk, Adónia is bevrees vir koning Salomo; en kyk, hy hou die horings van die altaar vas en sê: Laat koning Salomo eers vir my sweer dat hy sy dienaar nie met die swaard sal ombring nie.”
.
Baie mense glo foutiewelik dat die Hebreeuse Skrifte (Tanach) betrekking het op God se oordeel, terwyl die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) op God se genade betrekking het. Hier, met die doel en betekenis van die altaarhorings, sien ons dat dit inderdaad nie waar is nie, want die genade van God het in die Hebreeuse Skrifte begin en is eenvoudig in die Hernieude Verbond voortgesit.

Horings is die vernaamste aanvals- en verdedigingswapens aan diere wat God aan hulle voorsien het, maar wanneer in die Skrif daarna verwys word, word dit aangewend as ‘n sinnebeeld van God se krag.

Psalm / Mizmot {18:2} “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.”.

Dit is die rede waarom die bloed van die dier wat geoffer is, op die altaarhorings aangebring moes word. Dit is juis deur die bloed en vanweë die krag en genade van God, dat ons gered word.

Die uiteenlopende offers wat op die altaar aangebied is, verteenwoordig die verskillende aspekte van Jesus die Messias se sterwe aan die kruis; trouens, in daardie opsig het God niks buite rekening gelaat nie. In hulle eenvoudigste vorm, is dit die volgende:
Die (Chatat) sonde-offer – ‘n algemene offerande vir die sonde van die kinders van Israel, wat ‘n allesomvattende offer vir vrymaking was. Die doel en effek van die sonde-offer is verduidelik as synde die vergifnis van sonde (Levitikus / Vayikra {12:8}).

Die oortredingsoffer – wat betrekking gehad het op ‘n mens se sonde teen sy naaste, dit wil sê anders as die sonde-offer wat betrekking op ‘n mens se sonde teen God was. Basies, het die oortredingsoffer, sonde in verband met die menslike afdwaling van God se weg behels.

Die Olah- (verbrandings-) offerande – was ‘n offerande van algehele toewyding van die mens aan God. Dit het aan ‘n mens formeel toegang tot die teenwordigheid van God verleen. Anders as die ander offerandes, is die dier – behalwe vir die vel – geheel–en-al deur vuur op die altaar verteer. Hierdie offerande het die mens se totale oorgawe aan God gesimboliseer.

Die graanoffer – dit het God as ons Bron erken. Dit het erkenning aan die soewereiniteit van God en Sy mildadigheid – deur al Sy seëninge vir voorsiening – oor ons, verleen.

Die vredesofferande – die vrede is geskenk uit dankbaarheid vir die vrede van God – nie noodwendig slegs vrede onder die ampsdraers nie maar algehele vrede, wat terloops die eindresultaat van al die ander offers is.

Jesus verteenwoordig hierdie offers altesaam en dit het Hy gedoen deur homself as die finale offerande aan te bied. Deur Sy sterwe ten enemale aan die kruis. Maar net soos die offers op sigself nie effektief was tensy dit gepaard gegaan het met ‘n berouvolle hart en geloof in Gods Woord nie, so ook is ons aanvaarding van Jesus die Messias as óns finale offer, ook oneffektief tensy dit met ‘n berouvolle hart en geloof in die Woord van God gepaardgaan.

Psalm / Mizmot {51:16} “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. {51:17} Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! ”.

Indien jy in Jesus die Messias glo, gaan dit met berou in jou hart en geloof in Gods Woord gepaard in jou aanvaarding van Jesus die Messias as jou Here en Redder?


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 03 Februarie 2014

Mondelinge Tora?



D’Var Torah
Wanneer jy verhef – KiTisa


Eksodus / Shemot {30:22} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {30:23}  En jy, neem vir jou van die beste speserye: vyf honderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig sikkels, en twee honderd en vyftig sikkels geurige kalmoes {30:24}  en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ‘n hin olyfolie; {30:25}  en maak daarvan heilige salfolie, ‘n salfmengsel soos ‘n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees. ”.

Eksodus / Shemot {30:31} “En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My ‘n heilige salfolie wees in julle geslagte. {30:32}  Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees. {30:33}  Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. {30:34}  Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum—speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede, {30:35}  en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig. {30:36}  En vrywe ‘n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit ‘n deel daarvan neer voor die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig moet dit vir julle wees. {30:37}  En die reukwerk wat jy moet maak—na dieselfde voorskrif mag julle vir julle nie maak nie; as iets heiligs aan die HERE moet dit vir jou wees. {30:38}  Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”

Nadat ek hierdie Skrifgedeelte gelees het, het dit my as baie interessant opgeval dat God vir Moses die presiese formule vir sowel die heilige salfolie as heilige wierook laat neerskryf het, met die wete dat alle toekomstige geslagte dit sal lees; trouens, dit vorm deel van die ewige Torah. Ons is egter almal terdeë bewus van die menslike natuur, dus is ek oortuig daarvan dat mense God se opdrag verontagsaam en beide items volgens die presiese geformuleerde hoeveelhede gereproduseer het. Indien God vooraf geweet het dat dit sou gebeur – en ek is seker Hy het – waarom het Hy Moses die formule dan laat neerskryf? Daar is twee moontlike redes.

Die eerste rede het betrekking op die rabbynse aanspraak dat God op die berg (Har) Sinai (Saini) vir Moses sowel die geskrewe Tora as mondelinge Toa gegee het. Met ander woorde, hulle maak daarop aanspraak dat Moses nie alles wat God vir Hom gesê het, neergeskryf het nie en ‘n deel van wat hy op berg Sinai geleer het, mondeling vertel het en dit oor geslagte heen deur leier aan leier oorgedra is. Ander geleerdes verskil aansienlik met hierdie aanspraak. Daar bestaan egter geldige argumente vir beide sienswyses oor hierdie mening. Ek wil beslis nie kant kies nie maar die feit dat die twee formules, wat God uitdruklik nie wou laat dupliseer nie, duidelik neergeskryf is vir enigeen om te kopieer, stel ‘n sterk argument téén ‘n mondelinge Tora. Indien hierdie formules per slot van sake slegs vir die priesters, naamlik die Leviete (Leviim) was, om te vervaardig, sou dit ongetwyfeld gekwalifiseer het as iets wat mondeling deur Moses aan hulle oorgedra is.

Die tweede rede het betrekking op die vers aan die einde van elke formule: “Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uitgeroei word uit sy volksgenote.” (vers 33) en”Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”. (vers 38).

Slegs ware aanbidders is aan God gehoorsaam! God het in Sy Tora ons verbied om baie dinge te doen, sonder om redes te verstrek. Van ons word eenvoudig verwag om God op Sy Woord te neem en niks te doen wat Hy verbied nie. Voorbeelde van hierdie verbod is die eet van varkvleis of sekere soorte vis en alle skulpvis. Aan ons word eenvoudig aangesê om dit nie te eet nie.

Dít alles betref gehoorsaamheid. Die ware gelowige sal God op Sy Woord aanvaar, Sy Woord nie bevraagteken nie en doen wat Hy verlang. Waarom? Omdat hulle die Here liefhet en begeer om Hom te dien met hulle hele hart, hulle hele siel, hulle hele verstand en met al hulle krag. Met die ongelowiges of swak gelowiges daarenteen, is dit egter nie die geval nie. Hulle sal elke gebod bevraagteken en is juis diegene wat waarskynlik verskonings sal voorhou waarom hulle nie hierdie of ander gebooie, waarin hulle nie glo of waarmee hulle nie saamstem, nakom nie. Daarom sal dit húlle wees op wie die laaste verse betrekking het: “Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uitgeroei word uit sy volksgenote.” en ”Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou