Saterdag 30 September 2017

n Verpligting en ‘n Seën

Yom Kippur
(Dag van Versoening)


‘n Verpligting en ‘n Seën


Levitikus / VaYikra {16:1} “En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het; {16:2}  en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel. {16:3}  Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met ‘n jong bul as sondoffer en ‘n ram as brandoffer. {16:4}  Hy moet ‘n heilige linnerok aantrek en ‘n linnebroek moet oor sy vlees wees en met ‘n linnegordel moet hy hom gord en ‘n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek.”


Dit gebeur nie dikwels dat Yom Kippur op ‘n Sabbat val nie, maar wanneer dit wel gebeur, word die bogemelde Parasha in Levitikus gewoonlik voorgelees.


Dit bly vir my ‘n raaisel dat hierdie parasha nou juis met die dood van Aäron se twee seuns begin. Wat het dit met Yom Kippur te doen en die tema daarvan as “Die Dag van Versoening”?. Wel, ek meen dat hierdie Skrifgedeelte met die dood van Aäron se twee seuns begin omdat dit ons leer dat ons almal iets het om voor boete te doen, naamlik die sonde van ongehoorsaamheid! Hierdie sonde is juis wat tot die dood van Aäron se twee seuns gelei het en ongelukkig is dit nie net tot hulle beperk nie. Ons is almal op een of ander wyse ongehoorsaam aan God en gevolglik het ons almal versoening (boetedoening) nodig. Ongehoorsaamheid aan God is afgodsdiens deurdat die eie wil vóór God se Wil gestel word en dít is ‘n groot sonde; trouens, dit is wat die Skrif sê van iemand wat sondig:


Esegiël  / Yechekiel {18:4} ”Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.”


Is dit nie wat met Aäron se seuns gebeur het nie, dat hulle juis daarom gesterf het nie? Met dít in gedagte, verklaar hierdie aanvangsgedeelte van ons parasha uitdruklik wat óns gedrag en houding teenoor God en die versoeningsproses moet wees, sodat die volk van God nie vanweë hule sonde sal sterf nie:


Levitikus / VaYikra {16:7} “Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms. {16:8}  En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel. {16:9}  Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die HERE op gekom het en hom as sondoffer berei; {16:10}  maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die HERE gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.”


Aangesien elkeen van ons sondaars is en die siel wat sondig dus sal sterf, sal geen mens vanweë God se geregtigheid uiteindelik bly lewe op die aarde nie. Om hierdie rede het God Sy volk van ‘n proses van versoening voorsien, soos ons hierbo gelees het.


Twee bokke moes in óns plek geneem word op die Dag van Versoening – hierdie besondere dag wat vir versoening opsy gesit is. Een bok is geslag as die vereiste versoening vir die sondes wat die volk gepleeg het, dit was hul doods-plaasvervanger, met ander woorde ‘n onskuldige dier wat in die plek van die volk doodgemaak moes word. Die tweede bok – die sondebok (of sondofferbok) genoem – is in die woestyn losgelaat, as teken dat die volk se sondes van hulle weggeneem en vergewe, vergete en ver weg van hulle af verdryf is. Die proses word ook in hierdie skrifgedeelte, soos volg aan ons verduidelik:


Miga / Micah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.”


Op grond hiervan, kan ons die Versoeningsdag-proses maklik verstaan: ons is almal sondaars en verdien dus die dood, maar God het vir ons ‘n weg tot versoening voorsien. Wanneer die versoening nagekom is, belowe Hy om nooit meer daardie sondes in gedagte te hou of dit weer téén ons te hou nie.


Soos ons in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) inbeweeg, merk ons dat hoegenaamd niks verander het nie en die versoeningsproses steeds onveranderd is:


Romeine / Romim {6:23} “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Paulus (Shaul) verduidelik in hierdie gedeelte dat Jesus die Messias ons Yom Kippur-versoening is. Wat ‘n verpligting en seën is dit tog nie, veral omdat daar nie ‘n tempel (Bet HaMikdash) is waar twee bokke geoffer moet word nie!

 Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-09-18



Saterdag 23 September 2017

Leef Jy Steeds in Sonde?

Ha'Azinu
(Luister)


Deuteronomium / Devarim {32:1} "Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2}  Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3}  Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4}  Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. {32:5}  Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag. {32:6}  Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?”   

Parasha Ha'Azinu is 'n lied wat Moses vir die kinders van Israel geskryf het, om te leer en voor te dra, maar hoe weet ons dit was 'n lied? Ons het dit in verlede week se parasha verneem:

Deuteronomium / Devarim {31:22} "Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23}  En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees."

Die sesde vers van hierdie lied het my veral getref en wel waar Moses sê: "Is Hy nie jou Vader, wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?". Ek veronderstel dat hierdie woorde moontlik vreemd vir die kinders van Israel geklink het. Hulle het dalk gewonder: " Wat bedoel Moses deur te sê dat  God, ons Vader, ons gekoop het? "Die feit dat God hulle gevestig en bevry het van slawerny, sou nie vir hulle moelik gewees het om te verstaan nie, maar om deur God gekoop te gewees het, sou hulle beslis nie kon begryp nie.

Van kindsbeen af is die kinders van Israel, as deel van standaard-opvoeding ongetwyfeld geleer dat God hulle uit die stof van die aarde geskep het. Dus sou hulle waarskynlik nie kon verstaan waarom Hy hulle moes koop nie. Tog het Moses dit vir hulle in sy lied duidelik gemaak dat dit presies is wat gebeur het: God het die kinders van Israel gekoop! Ek is seker dat baie van ons - ten minste diegene wat nie in Jesus die Messias glo nie - hierdie konsep dat God mense koop, nie verstaan nie; trouens, dit sou klink soos uit slawerny tot slawerny! 
Die feit is dat God die kinders van Israel gekoop het. Moses se lirieke is korrek! Hy hét hulle gekoop, of meer spesifiek, verower soos buit in 'n oorlog. Die vyand - ongeag die semantiek - in hierdie geval, Egipte, het egter aanspraak gemaak op die volk wat God afgesonder het om Sy eie besondere eiendom te wees. Die Egiptenare het hulle as slawe behandel en God moes hulle terugwen - oftewel, hulle koop uit die slawerny.

Psalm / Mizmor {135:4} "Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom."

Wat was die koopsom? Dit was die dood van Farao, wat op hulle aanspraak gemaak en as slawe vir sy eie doeleindes aangehou het. Indien julle hierdie dinge kan insien, aanvaar en ontvang, dan behoort julle te verstaan en aanvaar dat die Hernieude Verbond ons meedeel dat Jesus die Messias, oftewel God as mens, na die aarde gekom het om vir ons te sterf en ons terug te koop vir God. Hierdie keer, het God egter nie slegs die kinders van Israel teruggekoop nie, maar wel die ganse wêreld. Waarom sou Hy ons wéér koop as God ons reeds gekoop het? Die antwoord is dat ons in der waarheid onsself weer verkoop het, maar hierdie keer aan sonde. Ons het slawe van die sonde geword - in essensie het ons, ons siele aan die duiwel, die satan, verkoop en ons is in sy besit.

Johannes / Yochanan  {8:34} "Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is."

Dan deel koning Salamo ons mee:

Prediker / Kohelet  {7:20} "want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Ons, deur ons eie toedoen, het onsself terugverkoop aan slawerny, oftewel die slawerny van die sonde, maar God wou ons terugkoop. Hy wou die mensdom, sowel Jode as as nie-Jode, verlos van die satan, wat hulle in die slawerny van hul sonde hou, maar om hierdie transaksie na te kom, moes daar 'n losprys wees: 'n uitruiling. Vir die kinders van Israel van ouds, was dit Farao en sy leërmag, maar vir die hedendaagse wêreld, is dit Jesus die Messias.

Hebreërs / Ivrim {2:14}  "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— {2:15}  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Jesus die Messias was die losprys: Hy was die verruiling vir ons siele. Sy sterwe het vir ons en ons sondes betaal, sodat die satan nie langer aanspraak op ons sou hê nie. God self - in die gedaante van Jesus die Messias - het die prys geword. Jesus was sowel die koper as die verkoper. Hy het ons verlos om God in gees en waarheid te dien.

Galasiërs / Galitim {5:1} "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."

Indien jy nog nie Jesus die Messias as jou Verlosser aanvaar het nie, is jy nog steeds 'n slaaf van die sonde. Die betekenis van Sy dood en die losprys, wat dit verteenwoordig, is nie aan jou toegewys nie. Waarom ontvang jy nie vir Jesus as jou Saligmaker nie en word deel van die bevrydende transaksie wat God vir jou bewerkstellig het?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-09-27

Saterdag 16 September 2017

Verbondenheid

Nitzavim - VaYelech
(Hulle Staan – En Hy Het Gegaan)

Verbondenheid

Devarim / Deuteronomium {29:10} ”Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel; {29:11} julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, {29:12}  om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit; {29:13} sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het. {29:14} En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie. {29:16} Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het. {29:17} En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien, {29:18} sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie,”

Indien julle wedergebore gelowiges in Jesus die Messias is, dan behoort julle tot die Verbond wat God met Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Aangesien julle tot die verbond behoort, behoort julle ook tot die volk en land Israel. As gelowiges is ons woning in die hemel, maar ons tuisland is Israel. Waarom is Israel dan ons tuisland? Dit is omdat Jesus die Messias vanuit Israel vir ‘n duisend jaar sal heers en regeer en aan ons gesê het dat waar Hy ookal is, ons sal wees.

Hitgalut / Openbaring {20:6} ”Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Dit maak nie saak in welke land van die wêreld julle nou woon nie. Elke keer wanneer julle die Tora (die eerste vyf boeke van Moses) lees en dit op julle self toepas, soos dit op jul lewe vandag toepaslik is, word julle herhinner aan julle verbintenis aan die Verbond, volk en land van Israel. Israel is jul tuisland! Moontlik mag julle tans nie welkom wees om julle dáár te vestig nie, veral as julle nie-Jode is of indien julle Joodse gelowiges in Jesus die Messias is, maar dit sal alles verander wanneer Jesus die Messias weer kom.

Ons behoort almal tot die Verbond omdat ons dáár by die kinders van Israel gestaan het toe hulle die Goddelike Verbond van God by berg Sinaï ontvang het, soos in die eerste Skrifaanhaling hierbo vermeld word. Ons behoort tot die volk omdat julle Jode is of as julle nie-Jode is nie, sal julle eendag kan kies aan watter stam julle wil behoort en ‘n erfdeel in daardie stam ontvang:

Yechekiel / Esegiël {47:23} ”En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.”

Laastens, behoort ons tot die land omdat daar in die Skrifgedeelte uit Openbaring (20:6) hierbo, geskryf staan dat ons saam met Hom vir ‘n duisend jaar in Jerusalem sal heers en regeer.

Devarim / Deuteronomium {31:28} ”Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem. {31:29} Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg. {31:30} Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek. ”

Dit is behoorlik asof ‘n mens die pyn in Moses se hart kan aanvoel toe hy gespreek en hierdie woorde geskryf het. Hy sou sterf maar God het hom toegelaat om te weet dat die kinders van Israel, na sy dood, ‘n afvallige nasie sou word. Moses het lank en hard gestry om die kinders van Israel op die regte weg te hou en ek is oortuig dat hy baie slapelose nagte in gebed vir hulle deurgebring en namens hulle by God voorspraak gedoen het, al sy gebede, al sy onderrig en al sy onderhandelinge met God sou eindig met die afvallig-wording van die kinders van Israel. Dit moes inderdaad vir hom ontmoedigend gewees het!

Jesus, aan ons bekend as die tweede Moses, het ‘n baie soortgelyke belewenis gehad met diegene vir wie Hy Sy lewe opgeoffer het:

Mattityahu / Mattheüs {26:31} ”Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. {26:32} Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. {26:33} Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. {26:34} Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. ”

Ek veronderstel dat dit die geval is wanneer enige leier te sterwe kom of weggaan. Daar is nooit werklik ‘n ononderbroke oordrag van gesag nie. Aan Moses is dit egter gegun om die wederkoms van Jesus te “sien”: Die saad van herstel van Israel.

Die mens is feilbaar, maar God nooit!

Kom gou Jesus!
PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2010-09-04

Saterdag 09 September 2017

Gee uit Dankbaarheid of uit Skuldgevoel

Ki Tavo
(Wanneer Jy Ingaan)


Deuteronomium / Devarim {16:1} “En as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon, {26:2}  dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ‘n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, {26:3}  en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee. {26:4}  En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit. {26:5}  Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was ‘n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ‘n groot, magtige en talryke nasie geword. {26:6}  Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê. {26:7}  Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; {26:8}  en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders; {26:9}  en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. {26:10}  Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God.”

Is jou gawe betekenisloos? Gee jy uit skuldgevoel of uit dankbaarheid? Dit is tog jammer dat wanneer ons wel gee, meeste van ons uit skuldgevoel gee. God het ons beveel om te gee, dus gee ons met die verwagting (natuurlik!) dat ons as beloning daarvoor, geseën sal word. Uit vandeesweek se Skrifgedeelte, sien ons egter dat ons uit dankbaarheid en nie uit skuldgevoel nie moet gee. Dit is naamlik as ‘n blyk van dankbaarheid vir wat God vir óns gedoen het, dat ons moet gee en dit derhalwe ruimhartig moet doen.

God het soveel vir ons gedoen. Hy het ons van slawerny van sonde verlos om Hom vryelik te kan dien en Sy gebooie deur Jesus die Messias te onderhou. Hy het ons smekinge gehoor, hy het ons trane aanskou en Hy het geweet van ons slapelose nagte. God was gegrief oor die wyse waarop  die Satan ons verdruk het en het ons met Sy magtige hand verlos. Ten spyte daarvan, gee meeste van ons ons tiendes omdat ons daartoe verplig voel.

God het ons in Sy koninkryk ingebring, wat waarlik ‘n plek van ryke seën is. Sy koninkryk is nie iewers ver in ons toekoms nie, dit is híér, nou en binne-in ons. Ons, wat in Jesus die Messias glo, is die koninkryk van God. Daarom beskik ons self oor die koninkryks-eienskappe van liefde, vreugde, blydskap, geduld, barmhartigheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Dit is die vrugte van die Gees (Ruach), God se Gees wat met ons verlossing in ons kom woon het. Juis daarom is God se koninkryk lewend en aanwesig op aarde en dít is ons.

Eendag, ná die wederkoms van Jesus die Messias, sal die oordeel van die goddeloses plaasvind. Dié wat onwaardig bevind word, sal oorgelewer word aan ‘n plek van geestelike duisternis, ‘n plek wanhoop – ‘n plek sonder God. Diegene wat egter regverdig bevind word, sal gered en deelagtig aan die koninkryk van God word. Dan sal Sy koninkryk die ganse aarde insluit. Tot dan, is dit egter beperk tot dié van ons wat glo. Ons is geweldige dankbaarheid aan God verskuldig vir alles wat Hy vir ons gedoen het en in Sy Woord, het Hy vir ons gesê:

Deuteronomium / Devarim {8:11} ”Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:12}  sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, {8:13}  en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder— {8:14}  en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; {8:15}  wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ‘n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; {8:16}  wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen— {8:17}  en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. {8:18}  Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, soos dit vandag is.”

Ek dink ons moet daadwerklik selfondersoek doen wanneer ons ons tiendes en offerande aan die Here bring; trouens, ons moet miskien hierdie Skrifgedeelte, uit ons Parasha aangehaal, probeer aanpas en verpersoonlik en besluit om dit te herhaal, elke keer wanneer ons, ons gawe bring. Hier is ‘n voorstel:

Ek was ‘n skuldenaar onder slawerny van die sonde. Die sonde het met my gehandel, my beproef, my ‘n swaar knegskap aangeroep, Hy het my stem gehoor, my beproewing aanskou, netso ook my geswoeg en onderdrukking. God het my verlos deur die bloed van Jesus die Messias, wat op Golgota vir my gestort is. Hy het aan my vreugde en vrede geskenk. Nou bring ek die eerste vrug van my arbeid wat U, o God, aan my geskenk het, as blyk van danksegging en waardering.

Wanneer jy dus volgende keer jou gawe vir God bring, moet jy in plaas daarvan om dit in die kollektemandjie te gooi of in die Tzadaka-houer (soos wat ons hier by Melech Yisrael doen) te plaas, die bogemelde toewyding opsê, wanneer jy jou eerste vrugte vir God bring. Wat ‘n verskil sal dit nie maak nie!

Kom gou Jesus!
PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2010-08-28

Saterdag 02 September 2017

Verlos van onsself

Ki Teitzei
(Wanneer jy uitgaan)


Deutoronomium / Devarim {21:10} “As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, ...”

Wat ‘n bemoedigende Skrifgedeelte! Bemoedigend, in dié sin dat ons verneem dat die oorlog die Here s’n is! Ons sing ook hierdie woorde in ons Messiaanse gemeentes. Ons lees hierdie woorde of soortgelyke woorde keer-op-keer in die Skrif, waar ons leer dat God vir Israel stry, Hom verdedig en sy vyande voor hom uitroei. Ons ondervind ook hierdie woorde in ons eie lewens wanneer God ons verlos uit die hand van die vyande wat teen ons te staan kom, met die doel om ons op een of ander wyse kwaad aan te doen. Deur geloof, glo ons hierdie woorde – die stryd is die Here s’n!

Hierdie Skrifgedeelte hou egter ook ‘n mate van bedreiging in omdat, ofskoon die stryd die Here s’n is, die oorwinning meesal van onsself afhang! Julle sal die insident met betrekking tot die twaalf verspieders onthou; tien van die twaalf manne , deur Moses gestuur om die land Kanaän te gaan verken, het met ‘n negatiewe verslag teruggekeer. Hulle het daardeur geslaag om die harte van die ganse volk van God te laat afdwaal. Toe God egter die verspieders met ‘n plaag getref en hulle gesterf het, het die kinders van Israel hulle fout besef, berou getoon en ingestem om die land binne te gaan en daarvoor te veg, maar dit was te laat vir oorlog; trouens, wat erger as dit was, is die feit dat dit vir hulle te laat was om die gevolge van hul sonde van opstand, te verhoed.

Numeri / Bamidbar {14:40} “en die môre vroeg klaargemaak en op die top van die berg geklim en gesê: Hier is ons, en ons wil optrek na die plek wat die HERE gesê het, want ons het gesondig. {14:41}  Maar Moses het gesê: Waarom oortree julle tog die bevel van die HERE, aangesien dit tog nie sal geluk nie? {14:42}  Moenie optrek nie, want die HERE is nie in julle midde nie—anders word julle verslaan voor julle vyande. {14:43}  Want die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val; omdat julle van die HERE afvallig geword het, daarom sal die HERE nie met julle wees nie.”

God sal ons gevegte vir ons stry en Hy sal ons vyande in ons hande oorlewer, maar óns het sekere verantwoordelikhede teenoor Hom. God sal alles doen wat Hy belowe het, maar ons moet deelneem indien óns die oorwinning verlang. Ons móét dus gehoorsaam wees! Gehoorsaamheid ontsluit die deur tot al ons seëninge,

Deuteronomium / Devarim {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2}  En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. {28:7}  Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.”

Dit klink alles heel eenvoudig en voor-die-hand-liggend, maar dit was nie vir die kinders van Israel moontlik om hierdie eenvoudige opdrag uit te voer nie, eweneens ook nie vir die meeste van ons nie. Iets so eenvoudig soos gehoorsaamheid, blyk die allermoeilikste om na te kom. Ons moet onsself afvra: Waarom? Waarom is dit dan, dat ten spyte van God se versekering dat Hy ons sal seën en al ons vyande aan ons sal oorlewer as ons gehoorsaam is, ons nie gehoorsaam kan wees nie? Sou dit wees omdat ons nie geseën wil word nie of is dit omdat ons sadisties is en pyn en lyd geniet? Ek twyfel of dit so is! Waarom is dit dan so moeilik om gehoorsaam te wees? Meeste mense sal graag wil sê: “Die duiwel het my dit laat doen”, maar die feit bly dat óns te blameer is. Ons eie selfsug, ons begeerte om ons eie sin te kry en dinge op ons eie wyse te doen, ons begeerte om ons vlees te bevredig – dít is die rede.

Romeine / Romim {7:19} “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. {7:20}  Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. {7:21}  Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. {7:22}  Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; {7:23}  maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. {7:24}  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? {7:25}  Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.”

Kom ons wees eerlik: Ons is ons ergste vyande, maar danksy Jesus die Messias, is ons van onsself verlos!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-08-21