14 Oktober 2012
D’Var Torah
Noag /Noach
Genesis / Bereshit {6:9} “Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel. ”.
Met die lees van hierdie Skrifgedeelte, is dit heel moontlik dat mense die verkeerde indruk van Noag mag kry. Hy was, na alles, net ‘n gewone mens, soos enige ander, ons inkluis. Juis daarom val Hy onder die kategorie van alle mense – hy was gebore as ‘n sondaar en, selfs indien hy moontik gered was, het hy nogtans gesondig. Dit herhinner ‘n mens aan die volgende twee Skrifgedeeltes:
Prediker / Kohelet {7:20} “want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie. ”.
Romeine / Romim {3:23} “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, ”.
Indien Jesus die Messias in die versoeking gestel was om te sondig, dan kan ons seker wees dat dit ook met Noag die geval was. Jesus was egter sondeloos – iets wat ek my verstout om te sê, nie van Noag gesê kan word nie.
Hebreërs / Ivrim {4:15} “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.”.
1 Korinthiërs / Korintim Aleph {10:12} “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. {10:13} Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. ”.
Wat word dan in die Skrif bedoel wanneer gesê word: “Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote.”? Wat ons wel moet doen om die betekenis daarvan te begryp, is om verder in hierdie parasha te lees. Daarvolgens blyk dit dat Noag in baie bose tye gelewe het:
Genesis / Bereshit {6:11} “Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. {6:12} Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”.
Die mense se lewens het in die oë van God bedorwe geraak. Vir my beteken dit dat hulle afgewaal het van God en Sy doel met die mensdom – hulle het hulle eie gang gegaan. Dit was nie dat hulle abnormale lewens gely het nie; hulle het wel normale lewens gely, maar op ‘n abnormale wyse.
Matthéüs / Mattityahu {24:38} “Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, ”.
Juis daarom, in vergelyking met almal wat in Noag se tyd op aarde was, was hy ‘n tzaddik (regverdige). Ek gee hier egter hoegenaamd nie te kenne dat God mense volgens ‘n kurwe gradeer nie. Noag was regverdig maar nie volmaak nie.
In die Skrif word ons meegedeel dat die bose tye waarin Noag gelewe het, op aarde herhaal sal word vóór die wederkoms van Jesus die Messias. Met ander woorde, die mense sal normale lewens ly: eet, drink, trou en in die huwelik gee, maar hulle sal dit op abnormale wyses doen – nie volgens die doel van God, soos wat dit in die tyd van Noag was nie. Is dit nie vandag reeds die geval nie? Die wêreld is vol boosheid en elkeen gaan sy eie gang – selfs sogenaamde gelowiges!
God se toenaderings tot die mens, word grotendeels verontagsaam en meer en meer Christene asook baie Messiaanse Jode, is besig om af te dwaal van die tradisionele konserwatiewe waardes.
Hulle luister veel eerder na liberale predikers, wat tekens en wonders najaag in plaas daarvan om tot hulle sinne te kom en eerder Tora-gesentreerde lewens te ly. Dit is behoorlik asof dit wat reg is, verkeerd geword het en dit wat verkeerd is, reg geword het.
2 Petrus / Kefa Bet {3:3} “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel ”.