Saterdag 29 Oktober 2011

Ons Twee Nature – Yetzer Hara / Yetzer HaTov



D’Var Torah
29  Oktober 2011
Noag – Noach

Genesis / Bereshit {8:6} “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, {8:7}  en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. {8:8}  Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. {8:9}  Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. {8:10}  Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark. {8:11}  En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. {8:12}  Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie. ”.

Ek het iets baie interessant ontdek toe ek die bovermelde gedeelte gelees het. Soos ons lees, het Noag ‘n kraai uitgestuur voordat hy die duif losgelaat het. Let egter daarop dat die kraai nie teruggekeer het nie maar eerder heen en weer oor die aarde gevlieg het totdat waters weggedroog het. Volgens wat ek uit die geskrewe gedeelte aflei, kon hierdie kraai vir ten minste sewe dae rondgevlieg het sonder voedsel en sonder om te gaan sit.

Kraaie is onrein voëls, dus was daar slegs twee in die ark. Noag het net één losgelaat. Ten einde voort te plant, sou die een wat losgelaat is, een of ander tyd, die ander een wat nog in die ark was, moes teëkom. Nee, nie dit nie! Maar die kraai, soos ek gemeld het, is ‘n onrein voël; trouens ‘n aasvreter en as sulks sou hy voedsel gevind het. Boonop sou die kraai plek gevind het om te gaan sit op die duisende karkasse van dooie diere en opgeblaaste lyke, wat op die waters gedryf het. As gevolg daarvan, was dit nie nodig om na die ark terug te vlieg nie.
Duiwe, daarenteen is rein voëls en dus nie aasvreters nie. Daarom sou die duif wat Noag losgelaat het, nie kon oorleef nie. Daar was geen voedsel of rusplek vir die holte van sy voet nie en hy moes noodwendig terugkeer na die ark.

Hieruit blyk ‘n groot geestelike les om geleer te word. Ons moet onthou dat daar sowel rein as onrein diere in die ark was – hulle is saam aangehou. Ons moet ook daaraan dink dat God alles op aarde in een van twee kategorieë of nature verdeel het, naamlik rein of onrein. Ongelukkig beskik ons as gelowiges in Jesus die Messias ook oor hierdie twee nature.

Romeine / Romim {7:18} “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.”.

Paulus het hier ons twee nature beskryf, wat konstant in stryd met mekaar verkeer. Die stryd wat binne-in ons woed. Is tussen ons ou natuur (ons vlees) en ons nuwe natuur (of wedergebore gees). Die kraai het uitgegaan in ‘n wêreld vol dood, maar vir hom ‘n fees. Hy het heen en weer oor die aarde gevlieg, op karkasse en lyke gaan sit en dit verslind. Dit is ‘n beeld van ons ou natuur. Die ou natuur hunker na die dinge van die wêreld en wil daarop teer, maar al wat die wêreld kan bied, is slegs die dood. Die duif verteenwoordig egter ons nuwe natuur. Hy het niks in die wêreld gevind wat die moeite werd was om op neer te stryk nie – niks aanloklik of aptytwekkend nie en gevolglik na die veiligheid en beskerming van die ark (Jesus die Messias!) teruggevlieg.

As gelowiges, is ons in dié wêreld maar nie van die wêreld nie. Daar behoort niks van hierdie wêreld te wees wat ons aanstaan nie. Die wêreld het groter behoefte aan ons as wat ons die wêreld nodig het. Daarom behoort ons hierdie wêreld as ‘n geleentheid te gebruik om dié wat verlore (ongered) is, te wen vir Jesus die Messias, uit ‘n wêreld van leuens tot waarheid.

Vir die kraai was ‘n dooie en sterwende wêreld aanloklik; hy wou daaraan gebonde bly. Die duif, daarenteen, het besef dat daar niks in die wêreld vir hom was nie en het dus slegs in die ark rus gevind.

Met watter voël sou jy graag jóú lewe wou vereenselwig?

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 22 Oktober 2011

Gee Gestalte aan – en Bring Orde in Jou Lewe

D’Var Torah 
Bereshit – In die Begin 




Genesis / Bereshit {1:1} “In die begin het God die hemel en die aarde geskape. {1:2} En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. {1:3} En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. {1:4} Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; {1:5} en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. {1:6} En God het gesê: Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. {1:7} God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. {1:8} En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag. ”. 

My pa het my altyd grappenderwys voorgestel as “My seun die chemikus. Hy neem my geld en verander dit in iets waardeloos.” In ‘n sekere opsig was hy reg, want in my jonger dae was ek baie onverantwoordelik met geld en het gewoonlik spoedig deurgebring wat my pa (hy was besonder vrygewig) aan my gegee het. Ek twyfel egter of ek in daardie opsig nou eintlik uniek was omdat meeste tieners as’t ware leef om geld uit te gee, op hulle behoeftes en begeertes. Dit is juis om hierdie rede dat meeste maatskappye se bemarking grootliks op die behoeftes van jongmense ingestel is. 

Ek natuurlik “’n chemikus”, in die slegte sin van die woord: ek het niks uit iets geskep nie. God is ‘n Skepper: Hy skep iets uit niks. Hy het ‘n vormlose massa geneem en dit in ‘n pragtige planeet omskep. Enigiemand wat al gereis en die grootsheid van God se skepping gesien het, kan daarvan getuig. 

Genesis / Bereshit {1:2} “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. ” 

Soos wat ek hierdie Skrifgedeelte voorstel, was daar hierdie reusagtige massa, wat in die ruimte gesweef en van vorm verander het, sonder dat dit ooit enige werklike vorm aangeneem het. Ek sien dit verder as ‘n watermassa wat doelloos in die ruimte gsweef het, totdat God dit in ‘n vorm (uitspansel) vergestalt het, met water daarbo en water daaronder. Daarna het Hy aan die uitspansel begin vorm gee, aanvanklik met droë grond totdat die aarde sy huidige vorm begin aanneem het. 

Wanneer ek terugkyk op my lewe, voordat ek tot die reddende kennis van Jesus die Messias gekom het, sien ek ook my lewe as ‘n vormlose massa swewend in tyd en ruimte sonder ‘n bepaalde vorm of permanensie. My denke het verander soos wat die samelewing rondom my verander het en wat ek gedoen het en gedink het, het voortdurend gewysig na gelang van dit wat gewild was of wat ander mense daardie jare of ‘n bepaalde tyd gedoen het. Ek was in wese vormloos, leeg en sonder ‘n werklike lewensdoel. Iets het toe met my gebeur. 

Terwyl ek eendag tuis siek was, was ek besig om televisie te kyk en in die proses om ‘n geskikte kanaal te vind, was daar één waar ‘n prediker se paar woorde op daardie oomblik, toevallig my aandag getrek het. Hy was besig om die hel te beskryf asook al die afgryslikhede wat diegene wat daarheen op pad was, sal teëkom. Ek het werklik gedink dat om op aarde te leef, inderdaad hel was. Elke dag moes ek in ‘n meedoënlose arena stry en veg om oorlewing in ‘n vyandige mededingende wêreld. Dit was ‘n wêreld waarin niemand, jou vriende ingesluit, vertrou kon word nie – dit was vir my hel. Toe ek dus van hierdie prediker verneem van ‘n plek wat veel erger sou wees as hierdie, is dit – nodeloos om te sê – dat ek bekommerd, selfs bang geraak het. 

Terwyl ek na hierdie prediker geluister het, het hy as’t ware my lewe begin beskryf. Volgens hom, is die hel vol van onberouvolle leuenaars en bedrieërs; die seksuele permissiewes, trotsaards, hardvogtiges, opstandiges en ‘n hele lys van ander afwykende gedragte, vele waaraan ek daadwerklik skuldig was. Die moontlikheid dat ek, na my dood, in die hel sou beland, was vir my skrikwekkend. 

Het ek miskien ook jóú lewe in die voorafgaande lewensverhaal van myself beskrywe? Is jy ook maar net ‘n vormlose massa wat rondsweef sonder enige werklike doel of vermoë? Indien jy Hom sal toelaat, sal God, gestalte en orde in jou lewe teweegbring. Vra hom om dit te doen! God het in menselike gedaante na die aarde neergedaal om die uiterste prys vir sonde – die dood – te betaal. Jy kan ook ‘n gestalte, ‘n lewensdoel hê: nooi Jesus die Messias net in jou lewe in: bely dat jy ‘n sondaar is, vra Hom om jou red en kyk net hoedat jou lewe gestalte aanneem! 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 15 Oktober 2011

Tabernakels – Succot

D’Var Torah 
Tabernakels – Succot 

Aangesien die Sabbat hierdie week op die eerste intermediêre dag van Succot val, is daar ‘n spesiale Tora-voorlesing, soos hierbo aangedui. Die enigste Skrifgedeelte uit hierdie deel van die Tora, wat op ‘n aanduiding van Succot betrekking het, is die volgende. 

Eksodus / Shemot{ 34:22} “Die fees van die weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koring-oes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar. {34:26} Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die HERE jou God bring.”. 

Daar is egter ook ander toepaslike verse wat met sekerheid op die betekenis en oogmerke van die Fees van Succot dui. Ek het dus die volgende verse gekies om my kommentaar oor te lewer: 

Eksodus / Shemot {33:12} “Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. {33:13} As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is. {33:14} En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?”. 

Die Fees van Succot handel in hoofsaak oor die teenwoordigheid van God by Sy volk. Die hele beginsel van Succot – om in skamele skuilings te woon – verteenwoordig die rus, waarna in vers 14 hierbo verwys word. Om in God rus te vind, beteken om nie bevrees te wees nie, wat beslis vandag nie die geval is nie. Ons leef tans in ‘n samelewing wat behep is met sekuriteit en dít met goeie rede. Niemand voel veilig nie, misdaad neem steeds toe en in die lig van die ongunstige ekonomiese tye, vier diefstal en inbrake toenemend hoogty. Gevolglik, in plaas daarvan om in skamele skuilings te woon soos wat die geval wel sal wees met die wederkoms van Jesus die Messias, woon ons feitlik in vestings met veelvuldige slotte, alarmstelsels en omring deur elektroniese bewakingstoerusting. 

Wat ‘n pragtige wêreld sal dit nie wees nie wanneer God se teenwoordigheid met ons sal wees en ons in vrede, sekuriteit en in God se rus kan lewe. Dit is die essensie van Succot, wat ons verwag en na uitsien telkens wanneer ons hierdie fees vier en tyd in ‘n Succot (skamele skuiling) deurbring, waar ons deur die opbrengs van die land omring is en die sterrehemel bokant ons het. 

Miga / Mikhah {4:1} “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. {4:2} En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. {4:3} En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. {4:4} Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 08 Oktober 2011

Vasgevang in die Gewoonte van Karma, Toeval en Geluk

D’VAR TORAH 
Yom Kippur – Dag Van Versoening 


Op elke vesoeningsdag word hierdie klein gedeelte uit parasha Achare Mot (na die dood) gelees. Aangesien Yom Kippur vanjaar op ‘n Shabbat (Sabbat) val, is hierdie die Tora-gedeelte waaroor ek hierdie week kommentaar sal lewer. 

Levitikus / VaYikra {16:7} “Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms. {16:8} En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel.” 

Toe ek ‘n gelowige in Jesus die Messias geword het, het ek gemeen dat om ‘n muntstuk in die lug op te gooi ten einde ‘n saak op te los of ‘n besluit te neem, goddeloos en blote bygelowigheid was. Ek het gereken dat dit iets is wat ongelowiges doen en dit gevolglik geen plek in ons lewens as gelowiges in Jesus die Messias – nadat ons gered is – gehad het nie. Ek het dieselfde mening gehuldig ten opsigte van die trek van lootjies, byvoorbeeld om name in ‘n hoed te gooi en één te trek. Menige kind het al hierdie metode gebruik om te bepaal wie se beurt dit is om die kombuisafval te verwyder of die gesinsmotor te was ens. Toe ek van hierdie metodes gebruik gemaak het, het ek dit aan geluk toegeskryf, wat hoegenaamd nie bestaan by mense wat glo dat die Here in totale beheer van hul lewens is nie. Dit is dus te verstaan dat ek, na my wedergeboorte, sulke praktyke verwerp het omdat ek tot die gevolgtrekking gekom het dat daar in God se koninkryksgemeenskap geen plek daarvoor is nie. Soos ek nou die Skrif verstaan, besef ek dat daar nie iets soos geluk bestaan nie en die trek van lootjies geen betrekking het op toeval of geluk nie maar wel dat die uitslag geheel–en-al by God berus. 

Die besef dat daar niks soos geluk of toeval bestaan nie nie, is ‘n verstommende openbaring. In my geval, het dit inderdaad lig gewerp op vele dinge wat met my gebeur het, wat ek telkens aan geluk, die gebrek daaraan of toeval toegeskryf het. Dit het beteken dat al die onaangename pligte wat ek teen wil en dank tuis moes verrig, wanneer my broers die lootjie gewen het, al die swak spanne waarin ek beland het toe my naam uit die hoed getrek is, al die weddenskappe met munte, wat ek verloor het, al die ongelukke en rampe wat ek moes verduur – ja dit alles en veel meer, wat ek destyds aan toeval of geluk toegeskryf het, was eintlik maar die wil van God en Sy hand wat in my lewe aan die werk was. 

Spreuke / Mishlei {16:33} “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.” 

Nou besef ek terdeë dat al my kommentaar oor die vooronderstelling dat geluk nou ten ene male nie aan my kant was nie, toe ongunstige dinge met my gebeur het, in werklikheid die beskikking van God was. Hy was besig om aan die deur van my hart te klop en Hy het gesê: “ Maak jou hart oop en laat My in. Hou op om dinge op jou manier te doen. Laat jou lewe aan My oor.” 

Sedert my jeug en selfs tot in my veertiger jare, het ek my baie min aan God gesteur. Soos alle ander mense wat ek geken het, het ek geglo dat karma, geluk en toeval my lewe beheer het; trouens, met tye het ek gevoel dat as ek nie ongeluk ervaar nie, was geluk as sulks nie vir my beskore nie. Normaalweg sou ‘n mens selfs kwaad geword het by die besef dat dit God was wat al die teëspoed bewerk het, maar nie ek nie. In my geval was die teenoorgestelde waar. Ek het gevoel ek word geseën, geseën om te besef dat die God van die hele wêreld besig was om my lewe oor die jare heen te lei om my by ‘n punt van berou te bring en Jesus die Messias as my Heer en Redder aan te neem. Dit ontstel my egter wanneer ek sien of verneem van ongelowiges wat hul lewens as’t ware vermors het en hoe negatief hulle hul lewens bejeën. Hierdie mense is nog vasgeval in die karma-,toevals- en geluksgewoonte, terwyl hulle steeds hoop om eendag die lotery te wen of ‘n mate van goeie geluk in hul lewe te kan geniet. Ek hoop van harte dat wanneer hulle hierdie kommentaar lees en besef dat daar niks soos karma, toeval en geluk bestaan nie hulle nie vir God sal kwaad word nie. Inteendeel, ek hoop hulle kom tot die besef dat hulle hul verstande en houdings moet verander na één van ‘n diepe besef dat hul geloof daarvan afhang of hulle God gehoorsaam en dien. 

“Shema Yisrael, Ad-ni, El-hanu, Ad-ni echad”. “Hoor O Israel, die Here ons God, die Here is Een.”. 

Jesaja {57:21} “Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie! ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 01 Oktober 2011

Pas Hierdie Lied Toe

1 Oktober 2011 / Tishri 3 5771

Luister / Ha’Azinu


Deuteronomium / Devarim {32:1} “Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2} Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3} Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4} Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.” 

Daar is soveel om te sê aangaande slegs hierdie vier verse; trouens ek reken dat volumes geskryf sou kon word indien ek oor elkeen van die verse van hierdie lied kommentaar moes lewer. Dit is ‘n lied wat Moses vir die kinders van Israel geleer het. In die laaste vers van verlede week se parasha is ons meegedeel: 

Deuteronomium / Devarim {31:30} “Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek.” 

Waarom dan ‘n lied? Ek het al dikwels daaroor gewonder. Die rede, daarvoor is ek seker, is omdat liedere ‘n samelewing so dramaties kan beïnvloed. Dit is maklik om te onderskei tussen die musiek waaraan ons ouers gewoond was en die musiek waarmee ons grootgeword het. So is daar sommige radiostasies wat musiek uit die vyftiger jare speel en ander weer musiek uit die sewentiger – of tagtiger jare. Dit klink egter alles verskillend. Wanneer ons dink aan Frank Sinatra of die “Motown”-klank, dink ‘n mens onwillekeurig aan twee verskillende en bepaalde tye in die geskiedenis. Ja, liedere het ongetwyfeld ‘n vername invloed op die samelewing. Andrew Fletcher, ‘n Skotse politikus, het by geleentheid gesê: “Laat my toe om die liedere van ‘n nasie te skryf; dit traak my nie wie die wette skryf nie”, en ek moet erken dat ek heelhartig saamstem! Kyk na ons hedendaagse samelewing; die musiek waarna geluister word en die wyse waarop die samelewing daardeur beïnvloed word, is blatant voor die hand liggend. Indien musiek ‘n maatstaf van ‘n samelewing is, is ons gewis sleg daaraan toe. 

Met die aanvangsvers van hierdie parasha, verduidelik God aan die nuwe geslag van die kinders van Israel die voorwaardes wat Hy gestel het vir wanneer hulle die Land binnegaan. Dit is basies waaroor hierdie hele parasha handel. Indien die kinders van Israel die gebooie van God, soos in Sy Tora saamgevat, gehoorsaam, dan sal Hy ‘n skans rondom hulle wees en ‘n hulp in tye van moelikheid. Hy sal vir hulle sorg soos ‘n arend sy kleintjies versorg. Hy sal sorg dat die land groot genoeg is vir hulle en Hy sal hulle ondersteun. Dit was egter alles onderhewig daaraan dat hulle Sy gebooie onderhou. Net ingeval hulle enigsins daaroor getwyfel het, het God hulle beveel om te dink aan die vorige geslagte, naamlik hoe Hy vir hulle gesorg en voorsien het totdat hulle aan Hom gehoorsaam geraak het en Sy wraak in plaas van seëninge moes verduur. 

Deuteronomium / Devarim {32:15} ” Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop—jy het vet geword, dik geword, spekvet geword—en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.” 

Jesúrun is ‘n ander benaming vir Israel. Ek weet nie of Moses hier geprofeteer het nie, maar dit is presies wat met Israel gebeur het voordat God die Assiriërs gestuur het om die Noordelike Ryk te vernietig en in ballingskap weggevoer het en die Babiloniërs om die Suidelike Ryk te vernietig en in ballingskap weg te voer. Dit is interessant dat Jesaja die presiese openingswoorde met sy profesie oor die dreigende ballingskap van Israel uit die Land, gebruik het. Dit was sewehonderd jaar nadat Moses hierdie woorde gebesig het, alvorens Israel die Land sou binnegaan. 

Jesaja / Yeshayahu {1:1} “Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda. {1:2} Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree.” 

Hierdie profetiese lied kan maklik op ons eie lewens toegepas word. Ek vertrou dat jy dit op joune sal toepas en daaruit sal leer sodat God jou nie ook in ballingskap laat wegvoer nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou