D’Var Torah
Noag – Noach
Genesis
/ Bereshit {8:6} “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster
oopgemaak van die ark wat hy gebou het, {8:7}
en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die
waters weggedroog het van die aarde af. {8:8}
Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor
die aarde verminder het. {8:9} Maar die
duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom
teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan
sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. {8:10} Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur
hy die duif weer uit die ark. {8:11} En
die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy
bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. {8:12} Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif
uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie. ”.
Ek het iets baie interessant ontdek toe ek
die bovermelde gedeelte gelees het. Soos ons lees, het Noag ‘n kraai uitgestuur
voordat hy die duif losgelaat het. Let egter daarop dat die kraai nie
teruggekeer het nie maar eerder heen en weer oor die aarde gevlieg het totdat
waters weggedroog het. Volgens wat ek uit die geskrewe gedeelte aflei, kon
hierdie kraai vir ten minste sewe dae rondgevlieg het sonder voedsel en sonder
om te gaan sit.
Kraaie is onrein voëls, dus was daar slegs
twee in die ark. Noag het net één losgelaat. Ten einde voort te plant, sou die
een wat losgelaat is, een of ander tyd, die ander een wat nog in die ark was,
moes teëkom. Nee, nie dit nie! Maar die kraai, soos ek gemeld het, is ‘n onrein
voël; trouens ‘n aasvreter en as sulks sou hy voedsel gevind het. Boonop sou
die kraai plek gevind het om te gaan sit op die duisende karkasse van dooie
diere en opgeblaaste lyke, wat op die waters gedryf het. As gevolg daarvan, was
dit nie nodig om na die ark terug te vlieg nie.
Duiwe, daarenteen is rein voëls en dus nie
aasvreters nie. Daarom sou die duif wat Noag losgelaat het, nie kon oorleef
nie. Daar was geen voedsel of rusplek vir die holte van sy voet nie en hy moes
noodwendig terugkeer na die ark.
Hieruit blyk ‘n groot geestelike les om
geleer te word. Ons moet onthou dat daar sowel rein as onrein diere in die ark
was – hulle is saam aangehou. Ons moet ook daaraan dink dat God alles op aarde
in een van twee kategorieë of nature verdeel het, naamlik rein of onrein.
Ongelukkig beskik ons as gelowiges in Jesus die Messias ook oor hierdie twee
nature.
Romeine
/ Romim {7:18} “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon
nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.”.
Paulus het hier ons twee nature beskryf, wat konstant
in stryd met mekaar verkeer. Die stryd wat binne-in ons woed. Is tussen ons ou
natuur (ons vlees) en ons nuwe natuur (of wedergebore gees). Die kraai het
uitgegaan in ‘n wêreld vol dood, maar vir hom ‘n fees. Hy het heen en weer oor
die aarde gevlieg, op karkasse en lyke gaan sit en dit verslind. Dit is ‘n
beeld van ons ou natuur. Die ou natuur hunker na die dinge van die wêreld en
wil daarop teer, maar al wat die wêreld kan bied, is slegs die dood. Die duif
verteenwoordig egter ons nuwe natuur. Hy het niks in die wêreld gevind wat die
moeite werd was om op neer te stryk nie – niks aanloklik of aptytwekkend nie en
gevolglik na die veiligheid en beskerming van die ark (Jesus die Messias!)
teruggevlieg.
As gelowiges, is ons in dié wêreld maar nie
van die wêreld nie. Daar behoort niks van hierdie wêreld te wees wat ons
aanstaan nie. Die wêreld het groter behoefte aan ons as wat ons die wêreld
nodig het. Daarom behoort ons hierdie wêreld as ‘n geleentheid te gebruik om
dié wat verlore (ongered) is, te wen vir Jesus die Messias, uit ‘n wêreld van
leuens tot waarheid.
Vir die kraai was ‘n dooie en sterwende
wêreld aanloklik; hy wou daaraan gebonde bly. Die duif, daarenteen, het besef
dat daar niks in die wêreld vir hom was nie en het dus slegs in die ark rus
gevind.
Met watter voël sou jy graag jóú lewe wou vereenselwig?
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou