Sondag 29 November 2020

Name

Vayetze
(En Hy Het Uitgegaan)

Dit wil voorkom asof aan Jakob (Ya’akov) toegekom het wat hy verdien het: Die bedrieër is toe self bedrieg. Dit is die standaardvertolking van hierdie Skrifgedeelte en sekerlik, met inagneming van Jakob se karakter, skyn dit geldig te wees. Die vraag ontstaan egter: het Laban (Lavan) doelbewus probeer om Jakob te kul of te bedrieg? Ek glo egter nie dit was die geval nie. Dit stel my na alle waarskynlikheid teenoor die meeste kommentaar - ten minste dié waarvan ek bewus is.

Genesis {29:25} "En die anderdagmôre — daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?"

Dit is in hierdie gedeelte waar ons Jakob se ware hart sien. Bedrieërs verkeer altyd onder die indruk dat ander mense hulle probeer bedrieg. Dieselfde geld vir leuenaars: hulle dink altyd mense lieg vir hulle, leuenaars glo of vetrou niemand nie. Jakob was inderdaad ‘n bedrieër met die gevolg dat toe hy Lea in plaas van Ragel as vrou gekry het, hy dadelik gemeen het dat Laban hom bedrieg het, maar soos ek hier bo gesê het, glo ek nie dat dit die geval was nie. Laban se antwoord op Jakob se beskuldiging is wat my dit laat glo

Genesis {29: 26} "En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie." 

Dit was dus streeksgebruik en het moontlik reeds lank gegeld, dat die ouer dogter vóór ‘n jonger een moes trou. Aangesien huwelike altyd gebruiklik gereel was, sou dit ‘n baie eenvoudige praktyk gewees het om te volg. Laban spesifiseer dat dit die praktyk by hulle was; Dit was egter ‘n algemene gebruik tussen al die Midde-Oosterse volkere in Jakob se tyd. Nou sal julle moontlik kan redeneer dat Laban vir Jakob moes ingelig het dat hy eers met Lea móés trou voordat hy Ragel as vrou vir hom kon gee. Aangesien dit ‘n algemene praktyk in die hele Midde- Ooste was, meen ek dat hy onder geen verpligting was om dit na te kom nie. Jakob moes dit besef het! Is dit nie die geval dat bedrieërs uiteindelik hulself bedrieg nie?

Toe ek en my vrou aanvanklik Israel begin besoek het - jare voordat ons Aliyah gedoen het (daarheen verhuis het), het ons altyd ‘n voertuig gehuur om in die land rond te reis. Een jaar, terwyl ons met die hoofweg gereis het, is ons deur die polisie voorgekeer. Wat was my oortreding? Ek het bestuur sonder dat my hoofligte aangeskakel was. Dit was gedurende November en ek was nie vertroud met die Israeliese wetgewing nie wat vereis het dat alle voertuie se hoofligte bedags aangeskakel moes wees wanneer op die hoofweg gereis word. Hierdie wet het van November tot April gegeld. As toeris, was ek nie daarvan bewus nie. Alle voertuie in Kanada se hoofligte moes outomaties aangeskakel bly sodra die voertuig aangeskakel word, met die gevolg dat dit nooit eers by my opgekom het om te sorg dat die hoofligte aangeskakel moes word nie. Ofskoon die polisiebeampte verstaan het dat ek ‘n toeris was, het hy skynbaar nie veel omgegee nie - dit was slegs deur God se genade dat ek nie beboet is nie en kon ons ons reis voortsit. Nodeloos om te sê, was ek baie ontsteld dat die voertuigverhuuringsmaatskappy nagelaat het om my in te lig dat die hoofligte aangeskakel moes wees wanneer daar op die hoofweg gereis word. Ek was vanselfsprekend van plan om my misnoeë aan hulle te kenne te gee toe ek die voertuig terug besorg het, maar het toe besef dat die maatskappy eintlik onskuldig was. Nietemin moes hulle my vooraf gewaarsku het, maar dan sou hulle my oor al die dosyne verkeersreëls,- regulasies en - wette , wat aan Israel uniek is, moes ingelig het; Nee, dit was nie hulle verantwoordelikheid nie. Ek het ‘n voertuig in ‘n vreemde land gehuur en elke land beskik oor hulle besondere bestuurswette en - reëls. Dit was eintlik my verantwoordelikheid om, voordat ek ooit Kanada verlaat het, navorsing te doen oor welke wette en regulasies in Israel gegeld het sodat ek dit nie onwetend sou oortree nie. Na alles, is onkunde van die wet, geen geldige verdediging in enige land nie.

Jakob mag moontlik nie van dieselfde streek as sy oom Laban gewees het nie, maar hy was inderdaad Midde-Oosters en sou die gebruike van die land moes geken het. Onkunde van die wet is hoegenaamd geen verskoning nie! Jakob was nie bedrieg nie; die bedrieër het homself bedrieg!

Ons behoort almal daarvan bewus te wees te wees dat die name van die Bybel besonder veelbetekenend is. Heel dikwels dra die Bybelse name wat in verhale gebruik word, ‘n bykomende betekenisvolle boodskap van die verhaal. Dit is dus die geval met die verhaal van Jakob en Laban.

Geeneen, selfs nie in die Bybelse tye nie, sou hulle ‘n kind die die naam van ”slinks” of “berieër” (=Jakob) gegee het, wat Ragel wel gedoen het nie. Ons sien dieselfde met Naomi se twee seuns wat, volgens die boek Rut, voortydig oorlede is: Maglon wat “siekte” beteken en Giljon wat “uitwissing” beteken: beswaarlik name wat ‘n moeder haar kinders sou noem. Ook Abigail, koning dawid se vrou, se gewese man, is Nabal genoem, wat “skelm” beteken. Sou julle ooit kon dink om julle seuntjie “skelm” te noem? Dit is dus interessant hoe die verhaal van Jakob en Laban onderskeid gemaak het tussen die karaktereienskappe van dié twee manne deur die gebruik van letterlike name.

Ons het altyd geleer dat Jakob die slagoffer van die verhaal was: die een wat deur sy oom uitoorlê is , maar dit mag nie die geval in die oë van God wees nie. Soos ons weet, beteken Jakob “slinks” of “bedrieër”. Laban, aan die anderkant, beteken “wit”- ‘n simbool van eerlikheid en reinheid. Kan God ons hier iets meedeel deur die letterlike gebruik van hulle name? Ja; trouens Hy doen dit. Daar is ‘n ander sy, ‘n anderkant aan hierdie verhaal tussen Jakob en Laban; vir Laban betekenis gesien deur sý oë en deur die gebruike van sy tyd. Sy kant is verborge vir die ongeoefende oog, in die name van die karakters wat spesefiek deur die skrywer aan hulle gegee is; ‘n betekenis wat blyk wanneer ons hulle name met die lewe en gebruike, wat in die Bybelse tye beoefen is, kombineer. 

Kom gou Jesus!


Sondag 22 November 2020

Strepe

Toldot
(Geslagte) 

Genesis 25:9 – 28:9

Maleagi 1:1–2:7 

Romeine 9:1 – 13


Genesis {26:6} "So het Isak dan in Gerar gebly. {26:7} En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou — anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. {26:8} En toe hy al ’n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. {26:9} En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! {26:10} En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ’n skuld oor ons gebring het!"

Die “Ek Ook” - beweging in onlangse tye, het beklemtoon hoe boos en immoreel die wêreld is waarin ons vandag lewe. Die wêreld was egter so vanaf die begin van tyd. Op één tydstip was dit so erg dat die Here die hele mensdom moes vernietig deur ‘n vloed en slegs agt mense is geskik bevind om dit te oorleef. Ons weet nie presies wat die mate van boosheid was waarin die wêreld toe verkeer het nie. Dit moes veel erger gewees het in vergelyking met wat ons vandag verduur dat die Here so drasties opgetree het. Boosheid van hierdie omvang, sal egter weer die aarde teister; dit sal ‘n boosheid wees wat die Here sal besiel om die ganse aarde te vernietig, maar hierdie keer met vuur.

2 Petrus {3:10} "Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.{3:11} Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — {3:12} julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt."

Ten spyte van die boosheid in die wêreld sedert die tyd van Adam en Eva, dui die gedeeltes in Genesis 26:6-10 aangehaal, dat daar altyd in een of ander vorm, ‘n skyn van moraliteit was. Koning Abimeleg was ‘n Filistyn ‘n afgod-aanbidder en het beslis nie geweet of geglo in die God van Israel nie, maar tog vind ons in hierdie Parasha die volgende verklaring deur hom aan Isak:

Genesis {26:10} "En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ’n skuld oor ons gebring het!"

Voordat ek in Jesus die Messias geglo het, was my lewe gevul met allerlei sondige dade; moreel, finansieel en spiritueel (deur spiritueel, bedoel ek dat ek by die okkult betrokke was). Nietemin, ten spyte van my onskuldige aard, was daar dinge, beslis sondige dade (dinge wat my vriende gedoen het), wat ekself nooit sou gedink het om te doen nie of selfs gedink het om in dáárdie tyd te doen nie. Ek was immoreel, oneties en sondig, tog sou ek neergekyk het op mense wat dinge gedoen het wat ek gedink het ek nooit sou doen nie. So onskuldig (naief) soos wat ek was, het ek egter gevind dat ek dit eindelik tog ook sou doen.

Die Filistyne was ‘n bose, moordadige, immorele volk. Tog lees ons hier oor iets wat hulle nie sou doen nie of tenminste, koning Abimeleg gedink hy nie sou doen nie.Hy het geweier om by ‘n ander man se vrou te slaap. Is dit nie netsoos ons is om ons morele, etiese en spirituele perke te kies en keur nie? “Ek sal dít doen, maar nooit dát nie. Ek sal mense op hierdie wyse behandel, maar nooit op daardie wyse nie. Ek sal nooit soos so en so wees of doen wat hulle doen nie. Dan sowat ‘n jaar of twee later, vind ons dat ons presies doen wat ons in die verlede as ondenkbaar beskou het. Dit is hoedat sonde te werk gaan - dit is hoe die Satan op ons inwerk! 

Die enigste wat hierdie sondesiklus kan breek (dit het vir my gewerk), is om Jesus die Messias as julle Heer en Redder aan te neem: “Heer”, deur julle lewe aan Hom oor te gee en “Redder”, deur Hom met julle siele te vertrou. Dit is die enigste hoop wat enigeen het om bevry te word van ‘n lewe van morele, etiese en spirituele boosheid.

Beskou jy jouself as nie juis so ’n slegte persoon nie? Moontlik is dit omdat jy jouself met ander slegte mense vergelyk in plaas daarvan om jouself met God en Sy norm, soos in Sy Bybel uiteengesit, vergelyk. In die verlede het ek myself ook met ander vergelyk en myself as ‘n nie te slegte persoon beskou nie. Ek het myself oortuig dat ek nie sulke vreeslike dinge soos my vriende en kennise sou doen nie, maar tog gevind dat ek dit wel doen. Ek sou waag om te sê dat dít is wat die moordadige afgodsaanbidder, Abimeleg, miskien van homself gedink het toe hy Isak bersipe en die streep getrek het deur nie by ‘n ander man se vrou te slaap nie. Ongelukkig is dít wat baie mense doen; hulle trek denkbeeldige strepe ten opsigte van hulle eie moraliteit totdat hulle sonde in die lig van Jesus blootgelê word. Dit is dán wanneer hulle besef dat hulle intussen hulself bedrieg het. 

Kom gou Jesus!




Saterdag 14 November 2020

Huwelik

Chayei Sarah
(Sara Het Gelewe)



Genesis {23:1} “En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2}  En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3}  Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4}  Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.”

Ek is ‘n voorstaander van éénmaal getroud, altyd getroud (dit is vanselfsprekend totdat die dood ons skei)! Dit is my filosofie dat dit drie persone (man/vrou en Jesus) neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee (man en vrou) om dit op die rotse te laat beland. Ongeag dus wat jy dink oor wat ek in hierdie kommentaar sê, dit is my standpunt en sal nie verander nie.

Interessant genoeg het talle heiliges van die Bybel wankelrige huweliksverhoudings gehad. Moses en sy vrou Sippora, soos ons bewus is, het ‘n meningsverskil oor die besnydenis van hul seun gehad en dit het tot ‘n breuk in hul verhouding gelei. Moses se skoonvader, Laban, het hulle egter weer versoen. Nietemin is daar in die Skrif geen aanduiding dat die versoening hoegenaamd permanent was nie. In hierdie Parasha verneem ons dat Sara in Hebron oorlede is, terwyl ons in verlede week se Parasha gelees het, dat Abraham in Berséba gewoon het. Met vandag se hoofweë is dié twee stede slegs 45 minute van mekaar af oftewel ‘n rit (sonder verkeer) wat agt-en-twintig minute duur. In die tyd van Abraham was egter ‘n aansienlike afstand deur die wildernis en boonop ‘n moeilike en opdraande reis deur ‘n bergagtige gebied – veral vir ‘n bejaarde man soos Abraham. Dus het hulle nie meer saamgewoon nie!

Genesis {22:19} “En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.”

Die rabbis glo egter dat Abraham en Sara uiteen is oor die akida (binding) van Isak. Dit was ten spyte van die feit dat Isak blykbaar reeds in sy dertigs was toe die akida plaasgevind het. Indien ons egter die mening van die rabbis as waarheid aanvaar, beteken dit dat sowel Moses as Abraham met hul vrouens geredeneer en uitmekaar is oor onenigheid rakende hulle kinders. Kinders is wel belangrik maar behoort glad nie tussen hul ouers, wat mekaar liefhet en God in hul huwelik het, te kom nie.


Dit laat my ongetwyfeld wonder oor hierdie groot Godsmanne, wat sulke vername rolle in die Bybelgeskiedenis vertolk het. Wat het dan in hul lewens ontbreek en / of in hul huweliksverhoudings wat slegs deur skeiding opgelos kon word? Ek wil nie graag één party uitsonder nie, maar indien ons beide (Abraham en Moses) se situasies van naderby beskou, is daar inderdaad één opvallende ooreenkoms. In albei gevalle was hul kinders betrokke.


Ek maak grootliks op my vrou se mening staat en ofskoon ek altyd ernstige oorweging daaraan skenk, is ons dit eens dat die finale besluit – sonder uitsondering – altyd myne moet wees. Dit mag vir sommige mense miskien vreemd klink, maar my vrou besef dat ek ‘n vroom, Godvresende man is en nooit ‘n vername besluit sal neem voordat ek God nie éérs in gebed en indien nodig, deur te vas, geraadpleeg het nie. Moontlik is die verskil tussen mý vrou en die vrouens van Moses en Abraham, dat sy met dieselfde Heilige Gees (Ruach HaKodesh) vervul is as waarmee ek vervul is. Derhalwe erken sy dit wanneer God deur my werk of wanneer ek deur my vlees gelei word. Dit was nie die geval met beide Sippora en Sara nie. Daar is geen aanduiding dat hulle met die Heilige Gees vervul was nie. Ons moet egter onthou dat die Gees in daardie tyd van die geskiedenis nie op alle vlees uitgestort is nie. Soos ons bewus is, was dit eers met die Shavuot in die eerste eeu, na die hemelvaart van die opgestane Jesus die Messias, dat die Heilige Gees op alles vlees uitgestort is, op diegene wat Jesus die Messias as hul Here en Redder aanvaar het. Voor dié tyd het die Gees gerus op slegs diegene, op wie die Here dit bestuur het en selfs dan, het dit volgens die wil van die Here, gekom en gegaan, volgens Sy wil.

Dit voer ons terug na die beginpunt waar ek gesê het dat dit drie persone neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee om dit op die rotse te laat beland. Dit wil dus vir my voorkom asof in die huwelike van sowel Sippora as Sara, die Derde Persoon ontbreek het!

Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Sondag 08 November 2020

Gasvryheid

VaYera
(En Hy Het Verskyn)

2 Petrus 2:4 – 11

Genesis {19:1} “EN die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe {19:2} en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. {19:3} Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle ’n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet. {19:4} Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. {19:5}En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken. {19:6} Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom toe {19:7} en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie. {19:8} Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom.”

Ek gaan eerstens kommentaar lewer oor die verse aan die begin van hierdie Parasha, waar Abraham met God onderhandel het om Sodom te spaar. Ek het al dikwels gewonder waarom Abraham nie aangehou het om met God te beding oor die aantal regverdiges in Sodom en Gomorra om van die vernietiging gespaar te word nie. Waarom het hy by tien opgehou en nie verder na miskien drie nie? Ek veronderstel dit was van die begin af die Here se bedoeling om Lot en sy gesin te spaar maar verder almal te vernietig vanweë hulle goddeloosheid; soos wat Hy eweneens met Noag se geslag gedoen het. Die vraag is maar was selfs Lot dit werd om gered te word? Oor die algemeen sou mense “NEE” kon gesê het, omdat hy so gewillig was om sy twee dogters op te offer om seksueel misbruik te word in ruil vir die twee gaste aan wie hy skuiling gebied het. Die feit is egter, op grond van die bovermelde verse, dat hy dit wel werd was! Waarom? Omdat hy aangebied het om sy twee dogters in plaas van sy gaste aan hulle te oorhandig, was hy ‘n man van eer.

Ek is al dikwels gevra waarom Lot gewillig was om sy maagdelike dogters op te offer om sodoende sy twee gaste te spaar. Hierdie twee manne was vir hom vreemdelinge en tog was hy bereid om om sy twee dogters in hulle plek te stel om hulle te te beskerm teen misbruik. Lot was geensins bewus daarvan dat dié twee manne engele was nie, so waarom het hy dit gedoen? Die antwoord, na my mening, is eer. Die Tora leer ons om ons naaste lief te hê soos onsself. Dit leer ook ons ook om vreemdelinge goed te behandel. Lot se oom, Abraham, was bekend vir sy gasvryheid en ek is oortuig daarvan dat Lot sy Tora-maniere by hom geleer het. Wat egter hier geleer word, strek verder as gasvryheid - dit spreek tot die hart, oor hoeveel ons ons naaste moet lief hê.

Ek glo dat die Here ons leer deur Lot se bereidwilligheid om sy dogters in plaas van hierdie twee vreemdelinge op te op te offer, iets is, wat na my mening, baie min, indien enige van ons, sou gedoen het. Deur dit te gedoen het, het Lot aan ons bewys wat dit beteken om jou naaste waarlik so lief te hê soos jouself. Dit is dié soort liefde wat bereid is om iets kosbaars (selfs ons kinders) op te offer, om ‘n ander persoon te red.

As ouers, besef ek die tyd, liefde en aandag wat dit vereis om kinders groot te maak. Ons kinders is bloot ‘n verlengstuk van onsself. Lot se dogters was jonk, ofskoon hulle verloof was; dus met in agneming van die ouderdom waarop meisies in daardie jare getrou het, moes albei reeds ouer as dertien gewees het. Daarom is minstens dertien jaar se ouerliefde en vertroeteling deur Lot en sy vrou, bestee aan die grootmaak van hierdie twee dogters Dink dus baie ernstig na oor wat Lot bereid was om op te offer deur liefde vir sy naaste te betoon en stel julle voor hoedat julle sou reageer het in ‘n soortgelyke situasie. Vra jouself dan af : “Is ek werklik so lief vir my naaste as vir myself ? “ 

Jesaja {55:7} "Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. {55:8} Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. {55:7} Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes."

Verstaan julle dit? Ek dink nie Lot was tenminste in hierdie opsig, so regverdig nie, en ek glo ook dat hierdie hele insident deur God beplan was om Lot te toets. Kom ons kyk na die feite: Lot was nie veronderstel om Ur saam met sy oom, Abraham, te verlaat nie. Die Here het Abraham beveel om sy land, sy familie en sy vaderhuis te verlaat, wat nie geïmpliseer het dat hy Lot moes saamneem nie. Daar moes dus ‘n geldige rede vir daardie opdrag gewees het en dit was inderdaad so: Lot was nie ‘n aanwins vir Abraham nie - waarom het Abraham hom dan saamgeneem? Abraham was kinderloos; hy en sy vrou was reeds op ‘n gevorderde leeftyd, Lot se vader was al oorlede en dus moes Abraham hom as sy toekomstige erfgenaam beskou. God het egter ander ander planne vir Abraham en Sara gehad en dit het Lot uitgesluit.

Lot se ware hart, wat selfsugtig en selfgesentreerd was, het geblyk toe hulle twee saamgestem het om te skei en Lot die beste deel van die land vir vir homself gekies het, sodat Abraham sy gang moes gaan en oorleef in die dorre Negev. Hy het sy oom se senioriteit nie gerespekteer nie en beslis nie liefde teenoor hom bewys nie. 

Sou God toegelaat het dat Lot se dogters gemolesteer word - waarskynlik ja, want as Lot nie sy dogters in plaas van die twee manne (engele) aangebied het nie, sou hulle in elk geval saam met al die goddelose mense van Sodom en Gemorra gesterf het. Deur sy finale daad van eer en onselfsugtigheid, het Lot egter homself verlos en sodoende sy lewe en die lewens van sy dogters gespaar.

Ek hoop van harte dat ons hierdie les van Lot geleer het omdat ons dit ‘n beginsel is wat dikwels in die Skrif vir ons herhaal word. Deurdat Lot sy gasvryheid aan hierdie twee vreemdelinge bewys het, het hy nie slegs aan hulle ‘n plek gebied om te bly nie, maar hulle terselfdertyd beskerm; hy het inderwaarheid ‘n plegtige belofte nagekom.

Psalms {15:1} "'n PSALM van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? {15:2} Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; {15:3} wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie; {15:4} in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;"

Kom gou Jesus!

PDF weergawe
PDF weergawe