Sondag 27 Januarie 2013

Evaluasie van realiteit

D’Var Torah
Jetro / Yitro 

Eksodus / Shemot 18:1 – 20:23

Eksodus / Shemot {18:5} “En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het. {18:6} En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar. ”. 

Soos ons weet, was daar onenigheid tussen Moses en sy vrou, wat daartoe gelei het dat sy hom verlaat en hy haar met hulle twee seuns na haar vader se huis gestuur het. In die verhaal word die ouderdomme van Moses se seuns nie gemeld nie. Indien hulle nog baie jonk was, kan ‘n mens begryp waarom hulle met hul moeder saam gegaan het, maar indien hulle ouer – selfs tieners – was, is dit vreemd dat hulle nie by hul vader agtergebly het nie. Vaders en seuns, ouer as sewe jaar kan, soos trouens vandag die geval is, reeds ‘n baie hegte verhouding hê. As dit verder in ag geneem word dat Moses soos ‘n koning vir die kinders van Israel was, wie sou dan meer geskik gewees het om sy opvolger te wees, as een van sy seuns? Ek besef dat ek nou hier veel as vanselfsprekend aanvaar, maar wees asseblief geduldig terwyl ek my standpunt verduidelik. 

Eksodus / Shemot {18:13} “en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land; {18:4} en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.) ”. 

In die Joodse godsdiens word Moses verhef tot iemand soortgelyk aan ‘n heilige. Indien daar in Judaïsme heiliges was, sou Moses ongetwyfeld een gewees het. Hy was egter geensins ‘n heilige nie aangesien die feite, volgens die Skrif, eerder daarop dui dat hy ‘n doodgewone man was, soos meeste van ons is, en ek is van mening dat die Skrif dit ten spyte van sy nederigheid, baie duidelik stel. 

Moses was inderdaad soos ‘n koning vir die kinders van Israel en dit blyk dat die taak wat God aan hom opgedra, vir hom te veel geraak het. Indien sy skoonvader nie die inisiatief geneem het om sy vrou en seuns na hom terug te bring nie, sou Moses na alle waarskynlikheid homself onder sy werk toegegooi en moontlik nie so nederig gebly het nie. 

Ons het almal op een of ander tyd, ‘n evaluasie van realitiet nodig: om terug te staan en ons hele lewensbeeld in oënskou te neem, waar ons met ons lewens verkeer en waarmee ons ons tans besig hou. Baie van ons skarrel rond in ‘n poging om te veel op ons eie te bereik, waarvan vele take eerder aan ander gedelegeer kon word, maar in ons huidige situasie, sien ons dit nie altyd so in nie. Soos Moses, word ons byna verblind deur ywer om sake af te handel. Moses is egter deur so ’n evaluasie van realiteit gekonfronteer toe sy skoonvader op die toneel verskyn het. Ons mag miskien ook aan ‘n soortgelyke evaluasie onderwerp word deur ‘n vriend, onderwyser, rabbi of ons gade, maar uiteindelik moet ons onsself sien in dieselfde lig as wat ander mense ons sien en dan, afhangende van húlle indrukke, die nodige positiewe aanpassings maak. Geeneen is volmaak nie, selfs nie eers Moses nie, maar ons kan almal tog beskeie wees, soos hy was, indien ons bereid is om positiewe advies met nederigheid te aanvaar. 

Jakobus / Ya’acov {4:10}“ Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog. ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 19 Januarie 2013

Wanneer Hy jou red van ‘n ernstige onheil

D’Var Torah 
Wanneer hy laat gaan het / Beshalach



Eksodus / Shemot {13:17} “Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte. {13:18} Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek. ”. 

Julle het seker gemerk dat die kinders van Israel gewapen was toe hulle Egipte verlaat het. ‘n Mens bewapen jouself immers nie tensy jy van plan is om te veg nie en oorlog te voer nie. God het egter die kinders van Israel doelbewus met ‘n ander pad om die land van die Filistyne gelei sodat dit die Filistyne nie aanleiding sou gee om uit te gaan om teen die kinders van Israel oorlog te voer nie. Die rede word in die bogenoemde Skrifgedeelte verstrek: Hulle was nog nie gereed om oorlog te sien nie. 

Oorlog is alles behalwe aangenaam om te aanskou. Hier in Noord-Amerika is meeste van ons geïsoleer van oorlog. Ofskoon ons gewapende magte reeds dikwels in die buiteland talle oorloë gevoer het en tans ‘n oorlog in Afghanistan voer, het soortgelyke konflikte ons in Kanada nie weer sedert 1812 bedreig nie. 

My vrou en ek het vanjaar inderdaad met oorlog kennisgemaak. Geeneen van ons het ons nog ooit te midde van ‘n konflik bevind nie, deurdat ons die Vietnamese Oorlog misgeloop het, maar met ons besoek aan Israel, tydens die mees onlangse Gaza –konflik, het ‘n mens werklik ‘n voorsmaak – ofskoon dit nie te ernstig was nie – ervaar wat oorlog werklik behels. Oorlog is beslis nie mooi om te aanskou of aangenaam om te ervaar nie. 

Vir tien dae lank was die stad wat ons besoek het, die teiken van lukrake missielaanvalle vanuit Gaza. Dag en nag moes ons in die bomskuiling gaan skuil telkens wanneer ‘n waarskuwingsirene gehoor is en dít het gereeld gebeur. Met elke ontploffing, wat ons gehoor het (hulle beweer dat ’n mens nie die één hoor wat jou tref nie!), was ons alte dankbaar dat geeneen in ons buurt geval het nie. Ons was egter terdeë bewus daarvan dat met elke ontploffing iemand êrens in die stad getref is. Ongelukkig was daar sterftes en aansienlike skade, maar veel geringer as wat daar sou gewees het as dit nie vir God se bewaring was nie. Tydens die hele voorval, was ons nie beangs of bevrees nie: ons het op God vertrou en om Sy beskerming gesmeek; ons was egter baie besorg en het besef dat, indien Gaza binnegeval sou word, ons die besondered moeilike besluit sou moes neem om óf te bly óf ontruim te word. Oorlog is geensins aanskoulik of aangenaam om te ervaar nie. 

Indien ons nie op daardie tydstip in Israel was tydens die Gaza-oorlog nie, sou ek dit nooit werklik verstaan het waarom God die kinders van Israel met ‘n lang ompad gelei het om die Filistyne te vermy nie. Ons, wat nooit vantevore ‘n oorlogsone gesien of beleef het nie, kan nou bely dat dit nie ‘n aangename ervaring was nie. Ek begryp nou duidelik waarom God die kinders van Israel so ’n belewenis so spoedig na hulle pasverkrygde vryheid wou spaar. 

Teen hoeveel traumatiese ervarings het God jou al beskerm? Hoe dikwels het Hy jou met ‘n ompad gelei om te voorkom dat jy ‘n gebeurtenis ervaar, wat jou moontlik sou laat omdraai en van Hom afgedwaal het? Hoe dikwels het Hy nie veroorsaak dat jy laatkom, vassit in die verkeer, vertraag of jou geheel-en-al verhoed om iets te doen en jou daardeur van ‘n ernstige onheil bewaar nie? Die waarheid is egter dat ons nie bewus is van al die kere wat Hy dit inderdaad gedoen het nie. Ons kan sonder twyfel van één ding seker wees: as God dit vir die kinders van Israel gedoen het, het Hy dit ook al vir ons gedoen! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 13 Januarie 2013

Dit is onmoontlik om ‘n onweerstaanbare mag te weerstaan

D’Var Torah 
Gaan – Bo 

Jeremia / Yirmeyahu 46:13 – 28
1 Korinthiërs / Korintim Aleph

Eksodus / Shemot {10:7} “Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie? {10:8} Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan? {10:9} En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir die HERE hou. {10:10} Toe sê hy vir hulle: Mag die HERE só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë. {10:11} Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe. ” 

Nadat ek vandeesweek se parasha gelees het, vertrou ek dat julle, soos ek, tot dieselfde gevolgtrekking sal kom, naamlik dat God tot die alleruiterste sou gaan om Sy Naam te verheerlik. Dit was die werklike doel van die tien plae, soos ons in die volgende Skrifgedeelte, geneem uit aanstaande week se Parasha, lees: 

Eksodus / Shemot {14:4} “En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen.”. 

Die wêreld van vandag verkeer in ‘n haglike toestand. Ek dink nie ek sou oordryf indien ek gesê het dat die Midde-Ooste die oorsaak is nie en ek twyfel of hulle daaruit sal kom sonder groot lewensverlies. Dit is egter te begryp aangesien dít die deel van die wêreld is waaraan God besig is om aandag te skenk. Die Bybel en alles daarin sentreer om Yisrael (Israel) en die uiteindelike verlossing van die Joodse volk. 

Die doel van wat God vandag in die wêreld doen, is ter verheerliking van Sy Naam. Die harte van mense is verhard net soos dié van die farao en soos God elke poging van die farao om Sy gesag te ondermyn, laat misluk het, doen Hy vandag dieselfde met elke mens. Ten spyte van die huidige pogings van die mensdom om ‘n beter, veilger wêreld te verseker, sal omstandighede nooit verbeter nie maar eerder vererger, tot tyd en wyl hulle die feit onvoorwaardelik aanvaar dat daar ‘n God in die Hemel is en Sy Naam verheerlik. Netsoos die plae in Egipte een na die ander in intensiteit toegeneem het tot die laaste plaag (die dood van alle eersgeborenes), so sal die rampe wat daagliks op aarde voorkom, ook al hoe erger word. Elkeen is gegrond op die voorafgaande tot die finale ramp, wanneer dit ookal mag plaasvind. Wat ons behoort te besef, is dat wanneer dit ons lewens wesenlik raak, dit in die wêreld dieselfde wyse is soos wat Hy met ons as individue handel. Indien ons harte teenoor Hom verhard is, sal Hy met ons handel deur één probleem, één trauma, één ramp na die ander in ons lewens te laat plaasvind, totdat ons óf sterf in ons sonde of ons harte verander en Hom verheerlik. 

Al wat die farao moes gedoen het om ‘n einde aan die plae te bring, was om homself te verootmoedig en die God van Israel as die enigste ware God te aanvaar. Indien hy dit gedoen het, sou al die plae en rampe nie oor Egipte gekom het nie. Sy trots sou hom egter nie daartoe toegelaat het nie. 

Wat verhinder jou nog om Jesus die Messias as jou Heer en Redder aan te neem – is dit moontlik jou trots? Die farao se trots het die oorhand oor hom gehad en hy het die God van die Hebreërs net so mistiek soos al die gode van Egipte beskou, sodat hy Hom kon weerstaan en verwerp, maar hy kon nie. 

Spreuke / Mishlei {11:2} “Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid. ”. 

Wanneer sal jy erken: dit is onmoontlik om ‘n onweerstaanbare mag te te weerstaan? 

Matthéüs / Mattityahu {10:28} “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. ”. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 06 Januarie 2013

Verskonings, ons vrees vir verwerping

D’Var Torah 
En hy het gesê - Vaera 


Eksodus / Shemot {6:11} “ Maar Moses het voor die aangesig van die HERE gespreek en gesê: As die kinders van Israel na my nie geluister het nie, hoe sal Farao dan na my luister terwyl ek onbesnede van lippe is? {6:12} Daarop het die HERE met Moses en Aäron gespreek en hulle met ‘n boodskap gestuur na die kinders van Israel en na Farao, die koning van Egipte, om die kinders van Israel uit Egipteland uit te lei. ”. 

In die voorafgaande verse van hierdie parasha, het God Moses so pas bemoedig deur te sê dat Hy Sy verbond met die kinders van Israel sal vervul en hulle die land wat Hy aan hulle beloof het, in besit sal neem. Ons onthou dat Moses na die kinders van Israel gegaan het met die boodskap wat hy van God ontvang het, maar dat hulle hom verwerp en uitgelag het. Nou beveel God vir Moses om na die farao te gaan en hom te spreek oor die vrylating van die kinders van Israel. Moses reageer egter negatief omrede hy aan erge verwerping ly. 

Is dit nie maar soos dit met ons ook die geval is nie? Ek vind dit veral waar wanneer dit evangelisasie betref. Ons is so ywerig en opgewonde om ons geloof met ander mense te deel, dat ons by die gemeente se evangelisasie-bediening aansluit. Saam met die uitreikspan, gaan ons vol moed op straat uit om met ‘n verbyganger oor Jesus te praat. In plaas van aanvaarding, nadat ons dit met die persoon gedeel het, word ons egter beledig, verskree en selfs gespu. Wat is die gevolg daarvan? Ons stap erg verleë daar weg met ‘n gevoel van verwerping – erger nog ons wil nie weer iemand anders konfronteer nie uit vrees vir wat mag plaasvind. Ons het neutraal geraak uit vrees vir verwerping. Dit was inderdaad die geval met Moses: Hy was vanweë sy vorige verwerping, bang om dit weer te verduur. 

Wat gebeur dus indien ons die eerste maal of selfs ‘n tweede - of derde keer verwerp word, wanneer die feit is dat verwerping eintlik slegs ‘n metode is wat God gebruik om ons geloof te toets? Waarom aanvaar ons bloot dat net omdat ons kinders van God is, alles in ons lewens voorspoedig sal wees? Ons sal wel verwerping ervaar maar dit gaan egter eerder hóé ons daarop reageer en veral op die verwerping as sulks, nie dat óns verwerp word nie. 

Johannes / Yochanan {16:33} “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin. ”. 

Dit is my mening dat Jesus, op grond van die voormelde Skrifgedeelte, dit uitdruklik gesê het dat alles nie altyd aan ons verwagting sal voldoen nie. Ons gaan wel verdrukking asook verwerping verduur, maar Hy stel ons gerus dat Hy dit alles reeds oorwin het. In Hom, kan ons vrede ervaar te midde van verdrukking en selfs verwerping. 

Waarom het die kinders van Israel die eerste keer, toe Moses na hulle gegaan het, hom verwerp? Alles inaggenome, het hy dit nie uit eie beweging gedoen nie. Hy het in opdrag en met die krag van die Koning van die heelal na hulle gegaan. Moses sou dit tog, nadat hy die wonderwerke wat God reeds vir hom gedoen het toe hy die eerste keer geroep is, kon herken. Ongelukkig het hy nie! Die verwerping deur die kinders van Israel, was ‘n toets vir Moses. 

Ons almal móét noodwendig ons vrees vir verwerping oorkom en besef dat God ons geloof toets deur toe te laat dat ons van tyd tot tyd verwerping ervaar. Neem, byvoorbeeld, om voor mense van jou geloof te getuig. Ons besef dat God van ons verwag om ons geloof te deel en dat dit Hy is wat red en nie ons nie. As ons dus met iemand ons getuienis deel en verwerp word, verwerp so’n persoon nie vir ons nie maar wel vir God. Derhalwe moet niks ons ooit daarvan weerhou om oor en oor te getuig net omdat iemand die boodskap, die vorige keer wat ons dit gebring, verwerp het nie. 

Die boodskap wat Moses aan die farao moes bring, was hoegenaamd nie syne nie – dit was van God af. Moses het geen rede gehad om die farao te vrees nie, omrede lasgenoemde deur die verwerping van die boodskap, nie vir Moses sou verwerp nie, maar wel vir God, terwyl God inderwaarheid onaantasbaar is selfs wat verwerping of uittarting aanbetref. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou