Saterdag 26 Januarie 2019

Gebed: Die Tora is nie ‘n Werkgeoriënteerde Boek Nie

Yitro
(Jetro)


Eksodus / Shemot {20:24} “‘n Altaar van grond moet jy vir My maak, en daarop moet jy jou brandoffers en dankoffers, jou kleinvee en beeste, offer. Op elke plek waar Ek my Naam sal laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën. {20:25} Maar as jy vir My ‘n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit.”

Een van die gewildste meningsopvattings van die Christelike Kerk, aangaande die Tora, is dat dit ‘n boek van wette is, wat verlossing gegrond op dade (of pligte) verkondig, terwyl die Brit Chadasha (Hernieude Verbond) ‘n boek van genade is. Niks kan egter meer van die waarheid verskil nie! In die eerste plek is die Tora hoegenaamd nie slegs ‘n wetboek nie. Dit bevat ondermeer, die skeppingsverslag sowel as die merkwaardige verhale van Josef en die uittog van die kinders van Israel uit Egipte.

Die gedeelte wat die Kerk meesal gebruik om te bewys dat die Tora nie meer geldig is nie, maar deur genade vervang is, is die volgende:

Galate (Galásiërs) / Galatim {3:24} “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. {3:25} Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.”

Vergun my om behoorlik te verduidelik wat Paulus hier eintlik bedoel. Die gebruik van die woord “tugmeester”, of in sekere vertalings “leermeester”, gee nie die werklike Griekse betekenis weer nie. In Grieks verteenwoordig die woord, wat hier gebruik is, die beeld van ‘n slaaf wat ‘n leerling na sy leermeester vergesel. Dit is juis die rol van die Tora wat Paulus hier benadruk: dit is soos ‘n dienaar wat ons na Jesus die Messias lei. Aangesien die Galate, tot wie Paulus homself rig, alreeds deur geloof in Jesus die Messias gekom het, het hulle nie meer die Tora nodig gehad om hulle na Hom te lei nie. Gevolglik het dit in daardie opsig nie langer vir hulle gedien nie. Die waarheid hiervan, blyk uit wat Paulus in die volgende vers sê:

Galate (Galásiërs) / Galatim {3:26} “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;”

Die Galate was alreeds gered en het dus nie meer behoefte daaraan gehad om Jesus die Messias gerig te word nie. Dit ontken egter nie die feit dat die Tora steeds dien as leermeester vir diegene wat nog nie die geloof aangeneem het nie. Die Torah leer ons onteenseglik dat ons nie onsself kan red nie en dat ons ‘n noodsaaklike behoefte aan ‘n leermeester het om ons na Jesus te lei. Nadat ons egter gered is, verskaf die Tora steeds aan ons meer en meer van ‘n goddelike openbaring oor Jesus, wat ons bystaan om in Sy ewebeeld in te groei. Die Tora verander hoegenaamd nie nadat ons gered is nie – die werking / funksie daarvan wel. Vóór ons redding, dien die Tora as leermeester en daarna as handleiding, wat die geredde persoon onderrig hoe om as ‘n kind van God te lewe. Ofskoon die funksie van die Tora as bedienaar of leermeester nie langer vir ‘n geredde persoon nodig is nie, gaan die rol van die Tora ná redding, steeds voort om die volle werking en doel van Jesus die Messias te openbaar.

Tweedens, die feit dat die Tora nie ‘n werkgeoriënteerde wetbook is nie, word in hierdie week se Parasha verduidelik deur die Skrifgedeelte, wat vroëer aangehaal is, maar hierdie een in besonder:

Eksodus / Shemot {20:25} “Maar as jy vir My ‘n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit.”

Ek begryp die konteks van hierdie vers, naamlik die eenvoudige betekenis (pashat) betreffende die verbod op die kinders van Israel om enige gereedskap te gebruik met die konstruksie van ‘n klipaltaar (mizbeach) vir God. Die dieper betekenis (remez) wanneer dit enige werk vir God betref, is dat enigiets waaraan ‘n mens raak of by betrokke raak, deur hom besoedel word. Aangesien die kinders van Israel deur middel van die klipaltaar sondevergifnis ontvang het, sê God dat die mens nie kan werk om homself te red nie. Dit bewys dus dat die Tora nooit bedoel was om ‘n middel tot redding te wees nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-02-05




Saterdag 19 Januarie 2019

Gebed: Om Ons Wil met Sy Wil te Verenig

BeShalach
(Wanneer Om Te Laat Gaan)


Eksodus / Shemot {17:8 – 17:13} “Daarop het Amalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. {17:9}  En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. {17:10}  En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Amalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. {17:11}  En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste. {17:12}  Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. {17:13}  En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegebring.”

Ek het al dikwels oor die betekenis van hierdie gedeelte gewonder en myself afgevra: “Waarom was die oorlog in die guns van die kinders van Israel terwyl Moses sy hande, met die staf daarin, omhoog gehou het en om welke rede het dit in die guns van Ámalek verander toe hy sy hande laat sak het?” 

Moses het die staf met albei hande vasgehou; Aäron het sy hand aan die eenkant ondersteun en Hur aan die anderkant. Beide het Moses te hulp gekom en sy hande omhoog gehou. Solank as wat Moses se hande in hierdie posisie was, was die stryd in die kinders van Israel se guns.

Indien die staf die mag om die oorlog te wen of verloor, beslis het, sou dit nie meer sinvol gewees het vir Moses om die staf in een hand vas te hou terwyl dit na die stryende magte uitgestrek is nie? Of, as die staf ‘n simbool van God se teenwoordigheid was, bedoel om die vegtendes aan te moedig, sou dit nie sinvoller gewees het indien Josua dit in die stryd ingedra het waar dit vir die kinders van Israel sigbaar kon wees nie? In plaas daarvan, was dit hoog bokant hulle gehou, waar dit vir hulle onsigbaar was. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat die krag nie in die staf geleë was nie, maar in die omhoog hou van Moses se hande.

Psalm / Tehillim {28:2} “Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom.”

Psalm / Tehillim {63:4} “Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.”

In hierdie Parasha verneem ons dat die kinders van Israel in hulle eerste oorlog betrokke geraak het en wel teen die Ámalekiete. My afleiding uit hierdie gedeeltes is dat Ámalek inderdaad meer as ‘n groep heidense mense was – hulle versinnebeeld die menslike, vleeslike begeertes en alles in die wêreld wat teen God is. Ámalek versinnebeeld dus die mens se sondige, vleeslike natuur.

Die oorlog tussen Ámalek en die kinders van Israel het in werklikheid nie op die slagveld plaasgevind nie, maar wel op die top van die berg met Moses. Die kinders van Israel se geledere het bestaan uit onervare en waarskynlik swaktoegeruste soldate. Die oorlog kon gevolglik nie deur hulle gevegsvermoë gewen word nie. Nee, hierdie oorlog is geveg en gewen deur deurdat Moses sy hande in gebed opgehef het. Die staf in sy hande was bloot visueel; nie vir die kinders van Israel, wat in die stryd gewikkel was nie, maar vir God, wat vantevore Moses se staf gebruik het om die Farao en sy leer te verneder en verslaan. Die geveg teen Ámalek is deur gebed beslis.

Gebed is ‘n onskatbare voorreg wat ons, as gelowiges, van God ontvang het. Dit is ‘n roepstem om ‘n wagter op die mure te wees, dag en nag sonder rus, totdat redding, hulp, genesing en oorwinning kom. Gebed is magtig, omdat God verkies om deur middel van ons gebede te werk. Dit is dus die handeling van gelowiges, in samewerking met God, om ons wil aan Sy wil te onderwerp. Gebed is egter nie ‘n poging om God te oorreed om óns wil uit te voer nie. Dit is ook nie om as’t ware ‘n wenslys aan God voor te lê nie, asof Hy ‘n tipe kersvader is, van wie ons verwag om aan ons vertoë gehoor te gee en ons “kerskouse” met óns selfsugtige begeertes te vul nie. Dit is ook nie ‘n poging om óns wil op God af te dwing, sodat ons kan ontvang wat volgens ons mening, die beste vir onsself en ander mense is nie. Gebed is om onsself aan God se beskikking te onderwerp: om te verneem wat God se wil is en dan deur gebed met Hom saam te stem / aanvaar.

Gebed verander nooit iets wat God vantevore bepaal het nie. Dit word bloot volbring, terwyl gebedloosheid niks bereik nie. Dikwels stel God uit wat Hy wil doen, slegs omdat Hy nie ons gebedsamewerking het nie. Ofskoon ons nie weet waarom nie, wéét ons egter dat God nie onafhanklik handel nie. Hy het aan ons ‘n vrye wil geskenk en sal dit nie gering ag deur Sy wil op ons af te dwing nie. Hy wag vir ons om in gebed met Hom te verenig voordat hy handel, selfs indien dit beteken dat die satan tydelik offensief in ons lewens is. Dit bewys hoeveel God óns reg om te kies respekteer en in hoe ‘n mate God ons gebede begeer.

Jy en ek sal nooit die Ámalekiete in ons lewens kan verslaan nie. Ons vleeslike begeertes kan nie deur wilskrag oorwin word nie. Die enigste manier om oor ons vlees die oorwinning te behaal, is deur gebed, net soos Moses gedoen het.
Kom gou Jesus!
Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-01-28






Saterdag 12 Januarie 2019

Om Julle Kinders Agter te Laat

Bo
(Gaan)


Eksodus / Shemot {10:7} “Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie? {10:8}  Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan? {10:9}  En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir die HERE hou. {10:10}  Toe sê hy vir hulle: Mag die HERE só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë. {10:11}  Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe.”

Die Farao het vermoed dat indien hy elkeen van die kinders van Israel, dit wil sê kinders ingesluit, sou laat gaan, Moses in die woestyn sou intrek en dan net verder wegtrek. Dit was dus die bedoeling van die Farao, ten einde die ekonomie van Egipte te verseker, om nie sy slawe-arbeiders te verloor nie. Hy het besef dat solank hulle kinders agterbly, die kinders van Israel nie sou probeer ontvlug nie. Daar was egter geen moontlikheid dat Moses sou instem om die kinders agter te laat nie. Nie omdat hy oorweeg het om te vlug nie maar wel dat hy nie geweet het wat daarna sou gebeur nie. Al wat Moses wél geweet het, is wat God hom meegedeel het en dit was om die kinders van Israel drie dae ver in die woestyn in te lei om Hom te aanbid. Dit was Moses se besluit om niemand in Egipte agter te laat nie en hieruit is daar vir ons ‘n besondere les te leer. In die Messiaanse gemeenskap is kinders ons grootste bate. Ons was al almal in ‘n mindere of meerdere mate by evangelisasie betrokke en ons besef dus hóé moeilik dit kan wees om van Jesus die Messias te getuig. Ons kan meer verwerping as aanvaarding ondervind en vir sommige mense plaas juis dít ‘n demper op die bereidheid om ons geloof te deel.

Met ons kinders is dit egter nie die geval nie: ons het die geleentheid om hulle vanaf geboorte in Messiaanse Judaïsme op te voed. Selfs indien óns met hulle geboorte nog nie gered was nie, kan bloot ons veranderde lewens, nadat ons gered is, ‘n magtige getuie vir ons kinders wees.

‘n Goeie voorbeeld is die verhaal wat deur my Rabbi aan my vertel is. Nadat hy, op grond van sy nuut-gevonde geloof, vir baie jare van sy Joodse familie vervreemd was, sou hy en sy gesin uiteindelik met hulle herenig word. Sy kinders was nog nie tieners nie en al wat hulle geken het, was Messiaanse Judaïsme. Omdat hulle vader nie sy familie wou aanstoot gee tydens hulle eerste besoek nie, het hy hulle versoek om nie van Jesus te praat nie. As Messiaanse Jode, word die naam van Jesus normaalweg dikwels in gesprekke gemeld en veral in gebed vóór ete genome. Gevolglik het hy hulle ernstig versoek om nie Sy naam te meld nie. Daarop het sy dogter gevra: “Waarom Pappa, is hulle dan nie Jode nie?”

Moses het geweier om die kinders agter te laat. Hy wou seker maak dat die volgende geslag hulle geloof sou ervaar deur te aanskou hoedat hulle kinders God aanbid op dieselfde wyse as hulle voorvaders duisende jare tevore. Hy het die belangrikheid daarvan besef om kinders deur dié voorbeeld te leer en hulle alles te laat sien, hoor en ruik van wat plaasvind, sodat hulle eendag die tradisie sou voortsit.

Ongelukkig laat baie Messiaanse gelowiges egter vandag hulle kinders agter. Ja, hulle dwing hulle om op die Sabbat na die sinagoge te gaan en laat hulle spesiale klasse bywoon om met ander kinders te verkeer en sodoende saam met hulle van Messiaanse Judaïsme te leer. Maar dit word nie tuis opgevolg nie. Hulle vier die feesdae in die sinagoge maar nie tuis nie. So byvoorbeeld “Chanuka”: hulle bring moontlik hul kinders saam om op die eerste aand van Chanuka die Chanuka-kerse aan die brand te steek, maar laat dan na om vir die ander sewe dae ook sáám kerse aan te steek. Hulle laat inderdaad hulle kinders agter! Sommige ouers neem hulle kinders selde indien ooit saam na die sinagoge – sodoende laat hulle hul kinders letterlik agter.

As ons wil hê ons kinders moet die Here hulle God liefhê met hulle hele hart en siel, moet ons die gebod nakom, wat ons bid, elke dag wanneer ons die Shema voordra:

Deuteronomium / Devarim {11:9} “en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan;”

Dit is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n gebod (mitzvah) en om enigiets nie uit te voer nie, sal wees soos om jou kinders by die Farao in Egipte agter te laat!

Spreuke / Mishlei {22:6} “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-01-22


Saterdag 05 Januarie 2019

Wysheid, Insig en Oordeel

VaEra
(En Ek Het Verskyn)


Eksodus / Shemot {7:8} “En die HERE het Moses en Aäron aangespreek met die woorde: {7:9}  As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ‘n wonderteken vir julleself—dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ‘n slang word. {7:10}  Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die HERE hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het ‘n slang geword. {7:11}  Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste: {7:12}  elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawe verslind.”

Die towenaars van Egipte, wat deur die Farao ontbied is, was in staat om dieselfde wonders as Moses te verrig: Hulle stawwe het ook in slange verander. Dit is interessant om daarop te let dat die Hebreeuse woord “tan-neen” as slang vertaal word, maar ook as krokodil verstaan kan word. Aangesien Moses dus met die Farao by die Nylrivier onderhandel het, is dit heel moontlik dat die betrokke stawwe in krokodille verander het. Soos die geval was, was die towenaars ook by magte om die volgende twee wonders, deur Moses verrig, na te doen, naamlik om water in bloed te verander en die plaag paddas oor die land te bring.

Dit kon moontlik gewees het, soos sommige kommentators spekuleer, dat hierdie towenaars deur oëverblindery die wonders om ‘n staf in ‘n slang te verander, uitgevoer het. Hulle maak hierdie aanspraak omdat ‘n sekere soort slang wat in Egipte as die Egiptiese Kobra bekendstaan, inderdaad so styf soos ‘n staf kan word wanneer druk op ‘n bepaalde plek agter die kop uitgeoefen word. Hulle aanspraak mag dus gebruik word om hierdie besondere wonder te verduidelik, maar hoe verduidelik ons die ander twee wonders, wat hulle nagedoen het: die verandering van water in bloed en die plaag paddas wat oor die land gekom het? Hierdie wonders kon hoegenaamd nie aan oëverblindery toegeskryf word nie. Dit was slegs tot-en-met die derde wonder, deur Moses en Aäron uitgevoer, dat die Egiptiese towenaars besef het dat hulle nie opgewasse was teen iemand groter as hulle nie.

Eksodus / Shemot {8:16} “Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland. {8:17}  En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland. {8:18}  En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op die vee. ”

Ek wil graag daarop wys dat nie alle wonders van God kom nie! Ongetwyfeld kan God wondere verrig – selfs vandag nog – maar ons moet uiters versigtig wees, soos ek hierbo vermaan het: “Nie alle wonders geskied deur God nie.” Meer as ‘n paar keer het mense my al vertel van wonders, wat hulle na bewering gesien, ervaar of van verneem het. Nadat ek na hulle geluister het, was ek betreklik skepties of dit van God gekom het. Hulle was egter oortuig daarvan. Ten spyte van my skeptisisme en uitdruklike vermaning tot versigtigheid, was hulle nogtans daarvan oortuig dat dit van God was.

In die Bybel is heelwat Skrifgedeeltes, waarvolgens wonders deur entiteite anders as God verrig is. Hier is byvoorbeeld een daarvan:

Openbaring / Hitgalut {13:11} “En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak. {13:12}  En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. {13:13}  Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. {13:14}  En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.”

Sekere wonders soos die hierbo aangehaal, veral die wat in die eindtyd verwag word, sal waarneembaar wees vir diegene wat met die Skrif vertroud is. Ongelukkig, anders as kennis van die gebeure wat tot die laaste dae sal lei, is daar geen Bybelse leidraad, wat ons meedeel hoe om dit te verifieer, indien ‘n wonder vandag sou plaasvind, as komende van God of van ’n ander bron nie. Neem byvoorbeeld genesing: ek het al mans sowel as vrouens – Christene – gesien wat in die openbaar dade van (wonder) genesing verrig. Hulle het duisende mense oortuig van hulle vermoë om in die naam van Jesus, genesing teweeg te bring. Toe ‘n navorsingsverslag deur ‘n baie toonaangewende nuusstasie, oor hierdie genesings egter verskyn het, het dié genesings onjuis geblyk te wees. Nietemin bly hierdie selfde predikers of (geloofs-) genesers oneindig gewild, terwyl hulle blykbaar duisende Christen-volgelinge bedrieg. Die enigste wyse om ons nie deur wonders , wat nie van God is, te laat bedrieg nie, is vir God om aan ons insig en wysheid te skenk.

Daar is ‘n gebed uit die Joodse gebedeboek wat elke oggend in sinagoges voorgedra word. Dit lui soos volg: “You graciously endow man with wisdom and teach insight to a frail mortal. Endow us graciously from Yourself with wisdom, insight en discernment. Blessed are You, HaShem, gracious giver of wisdom”.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-01-15