Saterdag 30 Julie 2011

30 Julie 2011 / Tammuz 28 5771

Lewensreis – “Log”

Reise / Masei


Numeri / Bamidbar {33:1} “Dit is die trekke van die kinders van Israel wat uit Egipteland uitgetrek het volgens hulle leërafdelings, onder leiding van Moses en Aäron. {33:2} Volgens die bevel van die HERE het Moses die plekke opgeskrywe vanwaar hulle van plek tot plek verder getrek het; en dit is hulle plekke vanwaar hulle al verder getrek het. {33:3} Hulle het van Raämses af opgebreek in die eerste maand, op die vyftiende dag van die eerste maand; op die dag ná die pasga het die kinders van Israel deur ‘n hoë hand voor die oë van al die Egiptenaars uitgetrek, {33:4} terwyl die Egiptenaars besig was om dié te begrawe wat die HERE onder hulle verslaan het, al die eersgeborenes; ook het die HERE aan hulle gode strafgerigte voltrek. {33:5} Toe die kinders van Israel van Raämses af opgebreek het, het hulle laer opgeslaan in Sukkot. {33:6} En hulle het van Sukkot af opgebreek en laer opgeslaan in Etam wat aan die kant van die woestyn lê. {33:7} En hulle het van Etam af opgebreek en weggedraai na Pi-Hágirot wat oos van Baäl-Sefon lê; en hulle het laer opgeslaan voor Migdol. ”.

Dit is slegs ‘n klein gedeelte van die breedvoerige beskrywing van die kinders van Israel se omswerwinge. Nagenoeg een derde van hierdie parasha word in beslag geneem deur ‘n breedvoerige reis-“log” van die kinders van Israel se tog na die Beloofde Land. Waarom sou God dan so in besonderhede ingaan betreffende hul tog uit Egipte na die Beloofde Land? Ek glo dat die antwoord in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) te vinde is:

1 Korithiërs / Korintim Aleph {10:11} “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”.

Alles in die Skrif is geskryf as ‘n voorbeeld vir ons. Watter voorbeeld kan ons in hierdie parasha verkry uit die kinders van Israel se reis-“log”? Ons kan inderdaad veel daaruit leer, maar ons moet allereers die rede besef waarom God die kinders van Israel langs ‘n lang ompad gelei het en waarom hulle uiteindelik vir veertig jaar in die wildernis rondgeswerf het.
Kom ons kyk waarom God hulle met ‘n lang ompad uit Egipte gelei het.

Eksodus / Shemot {13:17} “Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte.”.

Heeltemal vanselfsprekend! Wat is die betekenis daarvan vir ons? Ons raak dikwels gefrustreerd met God omdat Hy nie ons gebede verhoor, soos wat ons meen wat reg is nie. Wat ons egter nie verstaan nie, is dat daar omstandighede en gevare (beide fisies en geestelik) is, wat ons nie kan sien nie, maar waarvan God alleen bewus is. God weet ook wat en hoeveel ons in ons verhouding met Hom kan hanteer. Aangesien Hy daarvan bewus is en ons life het, verander Hy ons lewensreis-“log” dienoorkomstig. Boonop plaas Hy dikwels versperrings in ons pad, wat veroorsaak dat ons noodgedwonge van rigting moet verander. Ons mag hierdie dinge beleef as komende van die duiwel om ons te verhinder of as God se gebrek aan liefde vir ons, maar dit is geensins die duiwel nie aangesien hy tot niks in staat is, wat God hom nie toelaat om te doen nie. Wat God se liefde vir ons betref, is dit juis omdat Hy ons liefhet, dat Hy ons met ‘n lang ompad lei. Nou, gaan ons terug na die rede waarom die kinders van Israel vir veertig jaar lank in die wildernis moes rondswerf.

Prediker / Kohelet {7:20} “want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.”.

Hierdie feit verander nie ná ons redding nie. Met ons redding word ons nuwe skepsels in Jesus die Messias en word ons van ons sondes gereinig, alhoewel ons nie ‘n nuwe aard ontvang nie: ons sondig steeds en ons sondes skei ons van God. Dit is presies in daardie tye van sonde, wat God ons in die wildernis laat ronddwaal sodat ons kan besin oor ons lewens en die sondes wat ons gepleeg het, berou kan ervaar oor wat ons verkeerd gedoen het en na Hom kan terugkeer. Netso het God die kinders van Israel se wildernis-omswerwinge gebruik om hulle te leer. Hy moes van die ou mens ontslae raak sodat Hy met die nuwe mens kon werk. Indien jy voel asof jy in die wildernis verkeer, moenie versuim totdat jy dáár sterf nie. Vra God om aan jou die dinge in jou lewe, wat sondig is, uit te wys, toon berou daaroor en herstel jou verhouding met Hom. Dit was slegs nadat die oorspronklike geslag gesterf het en die nuwe geslag gereed was, dat God die kinders van Israel tot by die grens gebring het om die Beloofde Land in te gaan. Hy het dit gedoen sodat hulle die land kon binnegaan en geseën word.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 23 Julie 2011

Wie Doen Dit

23 Julie 2011 / Tammuz 21 5771

Stamme / Matot


Numeri / Bamidbar {31:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {31:2} Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete; daarna sal jy by jou volksgenote versamel word. {31:3} Daarop het Moses met die volk gespreek en gesê: Laat manne uit julle midde hul vir die oorlog wapen, dat hulle teen Mídian kan trek om die wraakgerig van die HERE aan Mídian te voltrek. {31:4} duisend vir elke stam van al die stamme van Israel moet julle na die oorlog stuur. {31:5} Toe is daar uit die duisende van Israel duisend vir elke stam gelewer, twaalf duisend wat vir die oorlog gewapen was. ”

Vind jy iets ongewoons in hierdie Skrifgedeelte wat ek uit hierdie week se parasha geneem het? Laat my toe om jou te help. Telkens wanneer God vir Israel kwaad was oor hulle oortreding van Sy Tora, het hy hulle gestraf deur vuur, slange, plae en ander oordele oor hulle te bring. Hier beveel God egter vir Moses om die manne te bewapen ten einde op die Midianiete te gaan wraak neem. Hy was ongetwyfeld meer as in staat daartoe om Self vir Israel te straf en met die Midianiete af te reken.

Psalm / Tehilim {79:10} “Waarom sou die heidene sê: Waar is hulle God? Laat voor ons oë onder die heidene bekend word die wraak oor die vergote bloed van u knegte.”.

Psalm / Tehilim {3:7} “Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek.”.

In albei hierdie verse word God deur die psalmis gesmeek om op sy vyande wraak te neem. Ons weet egter dat koning Dawid, wat hierdie verse geskryf het, ‘n krygsman was, wat die een oorlog na die ander gevoer het. Tydens hierdie oorloë het hy sy vyande asook dié van Israel verslaan. Hy het dit eiehandig gedoen. Terwyl die psalmis se taal, in hierdie verse gebruik, dus was om God te versoek om die vyand te straf en te tref, was dit dikwels in werklikheid koning Dawid en sy leer wat teen die vyand geveg het. Toe God Israel dus beveel om op die Midianiete wraak te neem, versoek Hy hulle om presies te doen wat koning Dawid veronderstel was om te doen.

Myns insiens handhaaf die hedendaagse gelowiges in Jesus die Messias al te veel van ‘n passiewe rol in hulle verhouding met God. Hulle bid om iets en sit dan agteroor met ‘n houding van “laat ons maar wag en sien”, in plaas van ‘n pro-aktiewe houding van “kom ons pak dit aan” met die nodige geloof dat God hulle pogings sal ondersteun. Ek het op ‘n keer verneem van ‘n gelowige wat werkloos was, maar sy tyd verwyl het deur op God te wag om vir Hom ‘n betrekking te vind en dit deur gebed vir hom te gee, pleks daarvan om te bid om ‘n betrekking en self te gaan werk soek. Ongetwyfeld kan God vir ons ‘n betrekking of enigiets anders skenk waarom ons mag bid maar netso kon Hy die Midianiete deur middel van ‘n plaag uitgewis het of koning Dawid se vyande deur vuur uit die hemel verteer het. Selfs Moses moes op die manne ‘n beroep doen om hulself te bewapen vir oorlog. God was inderdaad dáár en het die oorwinning aan hulle besorg.

1 Samuel / Shmuel Aleph {17:45} “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. {17:46} Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het.”.

Dawid het Góliat verslaan en sodoende die oorwinning vir homself en die hele Israel behaal, maar die oorlog as sulks was die Here s’n. Sonder God, kan ons veg soos ons wil maar die oorwinning sal ons nie smaak nie. As God nie daarin is nie, sal ons beslis nie oorwin nie. Indien God wel betrokke is, sal dit wees soos met Moses en met koning Dawid. Húlle het geveg en die oorwinning behaal, maar die oorlog was die Here s’n. Dit is vandag nog dieselfde. God wil dat ons tot Hóm moet bid. God wil dat ons tot Hóm bid vir voorsiening in ons behoeftes; Hy verlang egter dat ons pro-aktief moet optree en in vennootskap met Hom moet verkeer.

So dink ek byvoorbeeld daaraan dat evangelisasie deel van God se Wil is. God kan ongetwyfeld op bonatuurlike wyse die harte van ongelowiges aanraak en hulle tot ‘n besef van verlossing deur Jesus die Messias lei, maar meer dikwels maak Hy op óns staat om die evangelisasie-voetwerk te doen, terwyl Hy self die verlossing van persone teweegbring.

Markus / Mordechai {16:15} “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 16 Julie 2011

Demokrasie Sal Verdwyn

16 Julie 2011 / Tammuz 14 5771

Demokrasie Sal Verdwyn

Phinias / Pinchas


Numeri / BaMidbar {27:15} “Toe het Moses met die HERE gespreek en gesê: {27:16} Laat die HERE, die God van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel {27:17} wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die HERE nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie. {27:18} Toe sê die HERE aan Moses: Neem vir jou Josua, die seun van Nun, ‘n man in wie die Gees is; en lê hom die hand op, {27:19} en stel hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering, en gee hom ‘n opdrag voor hulle oë; {27:20} en lê op hom van jou hoogheid, sodat die hele vergadering van die kinders van Israel na hom kan luister. {27:21} En hy moet voor die priester Eleásar staan, dat dié vir hom die beslissing van die Urim kan vra voor die aangesig van die HERE; volgens sy uitspraak moet hulle uittrek en volgens sy uitspraak moet hulle intrek, hy en al die kinders van Israel saam met hom en die hele vergadering. {27:22} En Moses het gedoen soos die HERE hom beveel het: hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering gestel, {27:23} en hy het hom die hande opgelê en hom ‘n opdrag gegee soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het. ”

Demokrasie word vandag allerweë ernstig beskou. President Obama van die Verenigde State van Amerika doen alles in sy vermoë om demokratiese regerings in die Islamitiese Midde-Oosterse lande wat deur diktators regeer word en waar die shariawet geld, te bevorder en beïnvloed.

Volgens Wikipedia, is demokrasie ‘n regeringsvorm waarin alle burgers gelyke seggenskap het in die besluitnemings wat hulle lewens raak. Dit behels gelyke (en min of meer regstreekse) deelname in die voorstel, ontwikkeling en deurvoering van wetgewing in wette. Dit omvat sosiale-, ekonomiese- en kulturele omstandighede, wat die vrye en gelyke praktyk van selfbeskikking moontlik maak.

Dit is bewonderingswaardig van president Obama om dit vir Islamitiese lande in die vooruitsig te stel om dieselfde mate van vryheid te geniet wat die demokratiese stelsel aan sy burgers bied, maar demokratiese regerings en die demokratiese stelsel op sigself is nie Bybels nie. Hoe weet ons dit? Die eerste Skriftuurlike bewys is God se ontevredenheid met Israel, toe hulle vir ‘n koning gevra het.

1 Samuel / Shmuel Aleph {8:5} “en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies. {1Sa 8:6} Maar die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig, en Samuel het tot die HERE gebid. {1Sa 8:7} Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.”

Wat ons hier in die Skrif sien, is Israel se verwerping van God as hul Koning en hulpversoek om ‘n menslike koning in sy plek te hê. Wat meer is, is soos wat ons in hierdie hoofstuk verder lees, dat dit God was wat die koning gekies het om oor Sy volk te regeer. Dit het nie by wyse van demokratiese verkiesing geskied nie!

Verder sien ons in dié week se Parasha hierdie selfde scenario met die oordrag van gesag vanaf Moses na Josua. God het Moses nie beveel om ‘n demokratiese verkiesing te laat plaasvind om ‘n nuwe leier aan te wys nie, maar God het hom gekies en Moses eenvoudig aangesê om Josua te salf ten einde sy plek in te neem.

Nog iets wat ons nie in die Bybel vind nie, is dat God nie ‘n demokratiesverkose liggaam toelaat om nuwe wette te maak of Sy bestaande wette te wysig nie. Die volk moes volgens die gebooie, voorskrifte en geregtigheid van die Tora leef. God het selfs aan Sy aardse verteenwoordiger, die cohen hagadol (hoëpriester), die Urim en Thummim gegee, as metode om hom oor juridiese aangeleenthede te raadpleeg. Hierdie metode het verseker dat God se gebooie nougeset nagekom word.

Die finale bewys dat demokrasie nie Bybels is nie, berus op die feit dat wanneer Jesus die Messias weer kom om Sy Koninkryk op aarde te vestig, word aan ons vertel:

Openbaring / Hitgalut {19:15} “En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. {Rev 19:16} En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. ”

Met Jesus se wederkoms, sal die regsreël die Woord van God, Sy Bybel wees! Demokrasie sal iets wees waaroor mense in toekomstige geskiedenisboeke sal lees.

Dit is baie onbaatsugtig van President Obama dat Islamities-regeerde state demokraties behoort te wees, maar die feit van die saak is, dat húlle inderwaarheid reg en óns verkeerd is. Meeste van hierdie lande staan onder die Koran. Anders as die feit dat hulle ‘n valse god volg, aanvaar hulle ten minste hierdie valse god se leer as húlle regsreël. Wat ons demokrasie egter gedoen het, is dat hulle wette daargestel het, wat geheel-en-al teenstrydig met die Wet en Wil van die Enigste Waaragtige God van hemel en aarde is.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die Bybel is nie gekant teen kapitalisme nie – inteendeel dit word aangemoedig! Die Bybel ondersteun net nie die konsep van demokrasie nie. Volgens Openbaring, is dit duidelik dat demokrasie nie die wederkoms van Jesus sal oorleef nie en waarskynlik reeds geskiedenis sal wees selfs vóór die koms van die anti-messias.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 09 Julie 2011

Pratende Esels

9 Julie 2011 / Tammuz 7 5771

Balak


Numeri / BaMidbar {22:28} “Maar die HERE het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het? {22:29} Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ‘n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan. {22:30} En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee. ”

Almal van my ouderdom, sal moontlik nog die televisieprogram “Mister Ed” onthou. Ter inligting van diegene wat dit nie gesien het nie, was dit oor ‘n perd wat gepraat het. Dit was ‘n baie gewilde program, waarin gassterre ondermeer soos Clint Eastwood te sien was. “Mr. Ed” is van 1958 to 1966 vertoon en geregiseer deur Arthur Lubin, wat dit aangepas het op grond van ‘n reeks kortverhale oor ‘n pratende perd, deur Walter Brooks in 1937 geskryf. Ek kan dit nie met sekerheid sê nie, maar sou nie verbaas gewees het as Mnr. Brooks die konsep van ‘n pratende perd ontleen het aan die Bybelse verslag van Bileam se esel nie. Sedert hierdie program, was daar al tallose boeke, films en televisieprogrogramme van verskeie asook uiteenlopende soorte pratende diere.

Kan diere praat? Omvattende navorsing is selfs al gedoen om hierdie vraag te beantwoord. Ofskoon dit bekend is dat diere sekere mens-klinkende geluide namaak of enkele mens-klinkende woorde voortbring, kon ‘n dier nog nooit – soos Bileam se esel – ‘n gesprek voer nie. Ja, selfs “Mr. Ed” kon nie werklik praat nie. Sy “stem” was dié van Les Hilton, wie se naam nooit met die program vereenselwig is nie.

As ‘n mens dus oor duisende jare nie daarin kon slaag om ‘n dier te leer om ‘n gesprek te voer nie – selfs nie eers sinne nie – hoe was dit dan moontlik dat Bileam se esel kon praat? Die antwoord is eenvoudig en word verstrek in Numeri {22:28}, wat soos volg lui: “Die Here het die bek van die esel geopen...”. Dit is natuurlik geen groot openbaring nie. God is by magte om enigiets te doen en volgens die bovermelde teks, het Hy die esel se bek geopen en haar laat praat. Dit is egter nie die pratende eselin wat my verbaas nie, maar wel wat sy gesê het ({22:30}).

Uit die woorde van die esel, is dit duidelik dat God daarop wou wys dat Bileam haar nie “geken” het nie, ten spyte daarvan dat hy feitlik lewenslank op haar gery het. Hierdie was ‘n esel, wat hom vir baie jare getrou gedien het. Esels leef tussen 25 en 30 jaar, sodat dit verstaanbaar is dat Bileam die esel langer as 10 jaar gebruik het. ‘n Mens sou dink dat hy teen dié tyd met sy esel se geaardheid en gewoontes vertroud sou gewees het. Uit die verhaal, is dit duidelik dat God geweet het dat hy haar móés geken het maar ongelukkig het Bileam nie en is hy as gevolg daarvan byna dood. Glo dit of nie, maar die feit dat Bileam na soveel jare sy esel nog nie geken het nie, is inderdaad vir my ‘n troos!

Ek is die afgelope bykans sestien jaar die rabbi van “Congregation Melech Yisrael” en ek vertrou dat ek ‘n getroue dienaar van die Here was terwyl ek hierdie gemeente met volle oorgawe gedien het. My onderrig en prediking is opgeneem vir almal om daarna te luister. Vanaf die heel eerste preek wat ek ooit gelewer het, het ek die gemeente van notas met betrekking tot die preek voorsien, wat Skrifverwysings verstrek het om alles wat ek vir hulle geleer het, te fundeer. Enigeen kon dus elke woord wat ek ooit gesê het, baie maklik kontroleer asook alles wat ek geleer, aan die geskrewe Woord van God toets. Ek was nog altyd ‘n oop boek!

My eggenote en ek het hierdie gemeente deur dik en dun deur sowel voorspoedige as moeilike tye, getrou en onbaatsugtig gedien. Ons het altyd integriteit, getrouheid en geregtigheid nagestreef. Baie lidmate hier ken ons al vir jare en enkeles ken ons reeds vir ‘n dekade of langer. Terwyl dit die geval is, kan jy jou voorstel hoedat ons moet voel wanneer misnoeë ontstaan of sekere misleide persone ons beskuldig van ‘n leer van kettery of dat ons in ons bestuur gefaal het of een van ‘n menigte ander dinge waarvan ons oor die jare heen beskuldig is. Die ergste is wanneer ander, wat ons liefhet en vir jare reeds ken, daardie persone glo en selfs geloofwaardigheid aan hulle beskuldigings verleen. So kan julle besef waarom ek my met Bileam se esel vereenselwig! Ek bevind my in elk geval in goeie geselskap! Sowel Moses as die apostel Paulus het presies dieselfde ervarings met die volk wat hulle gelei het.

Dit is betreurenswaardig dat Bileam sy getroue eselin, na al haar jare diens, nog nie geken het nie. Ek kan begryp waarom God hieroor so kwaad was dat die esel se bek geopen is om Bileam te tugtig. Die ergste van alles was egter die skande dat dit ‘n esel moes gewees het om Bileam se hart te ontbloot …

Hebreërs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 02 Julie 2011

Nie Van Ons Afhanklik Nie

2 Julie 2011 / Sivan 30 5771

Ordinansie / Chukat


Númeri / BaMidbar {20:7} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {20:8} Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink. {20:9} Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het. {20:10} En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei? {20:11} Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee. {20:12} Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie. {20:13} Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het. ”

Dit was nie die eerste waternood wat die kinders van Israel ooit in die woestyn ondervind het nie; trouens, dit was die derde keer. Die eerste geval was by Mara (“bitter”) toe die water bitter en ondrinkbaar was. Dáár het Moses God aangeroep en God het aan hom ‘n staf getoon en bevel om dit in die water te gooi. Toe Moses God se Woord gehoorsaam het, het die bitter water soet geword. Wat hier plaasgevind het was simbolies; God was besig om vir Israel ‘n voorstelling van Jesus se geboorte te toon. Die staf wat Moses in die water gegooi het, was ‘n sort “Boom van Lewe”, ‘n sinnebeeld van Jesus. Tydens ons Tora-diens sing ons “Aitz Chaim” (Boom van Lewe). Hierdie gedeelte van die liturgie, wat verwys na die Tora – die Woord van God – versinnebeeld die Messias Jesus, wat die lewende Woord is. Toe die die “Boom van die Lewe” dus in die dooie water gegooi is, het dit die water lewend gemaak. Eweneens het Jesus, toe Hy in die ‘n “dooie” wêreld gekom het, lewe daarin gebring.

Die tweede geval van waternood was by Rephidim, oftewel “rusplekke”. Moses het weereens die Here aangeroep en God get hom beveel om Hom by die “Rots” te ontmoet. God se heerlikheid sou saam met Hom by die “Rots” verskyn; Moses moes die “Rots” eenmaal slaan waarop God water daaruit sou laat voortkom. Moses het die opdrag uitgevoer en water het uit die “Rots” gevloei. Ook dit was simbolies en ‘n voortsetting van die beeld van die lewe van Jesus. Daar word heeldikwels in die Skrif na Jesus verwys, as die “Rots”. Dit was dáár waar God aan Israel getoon het dat Hy sal toelaat dat die “Rots”, Sy seun Jesus, éénmaal geslaan word om die lewende water van die Ruach Kodesh (Heilige Gees) te laat voortvloei en die dors van hulle hulle wat dors het, te les. Dit was ‘n beeld van Jesus se dood.

Nou is ins weer terug by die waternood. God het weereens die kinders van Israel van water ontneem, nou vir die derde maal. Die kinders van Israel bevind hulself in Kades (letterlik “heilig’) en kyk na Moses vir uitkoms. Laat ons kyk wat hier gebeur het: Errstens het Moses die staf geneem – netsoos God hom voorheen beveel het (goed tot dusver!). Tweedens het hy die volk by die rots laat vergader (alles steeds reg!), maar inplaas daarvan om die rots aan te spreek, ooreenkomstig God se opdrag voorheen, het Moses in woede die volk aangespreek: {20:10} “En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?”. God het Moses nooit beveel om vir die volk te preek nie! Hy het hom beveel om as Sy instrument, water te voorsien sodat Hy verheerlik mag word. In sy woede, het Moses egter gedeeltelik, indien nie geheel-en-al nie, God as’t ware van sy heerlikheid ontneem en dit op Hom laat neerkom. Waar het die “ons” dan vandaan gekom? Moses se groot sonde blyk egter hieruit: {20:11} “Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.”.

Soos ek vroëer daarop gewys het, het God Moses beveel om die rots aan te spreek en nie daaarteen te slaan nie! Deurdat Moses teen die rots geslaan het, het hy die finale beeld wat God van ons Messias, Jesus, wou verduidelik, vernietig! Die Here het by Mara alreeds simbolies aan die kinders van Israel, Jesus se geboorte getoon, Sy dood by Rephidim en nou wou Hi die finale beeld aan hulle toon. Wat is daardie finale deel van die beeld? Teneinde verlossing te ontvang, moet ons almal “Die Rots” (Jesus) vra (aanspreek) en Hy sal Sy lewende water uitstort. Ons ontvang daardie lewende water van Jesus af bloot om daarvoor te vra (bid), maar Moses het Jesus simbolies gekruisig deur Hom ‘n tweede keer (by Kades) te slaan. Wat veronderstel was om ‘n heilige tyd te wees, is letterlik verander in ‘n tyd van “tweedrag” en “stryd”. Besef julle du swat hier plaasgevind het? Geen wonder dat God vir Moses kwaad was nie! Hy moes die “Rots” aangespreek het en die redding sou hulle s’n gewees het omdat die “Rots” alreeds (by Rephidim) geslaan is.

Moses het in sy woede die volk bestraf, God se heerlikheid “gesteel” en God se verklaring van genade vernietig, maar wat egter verstommend is, is dat God in ieder geval die water geskenk het. Dit is omdat God se voorsienigheid nie afhanklik is van ons dade of geregtigheid nie. Sy voorsienigheid hang hoegenaamd nie af van wat óns gedoen of nagelaat het om te doen nie. God se voorsienigheid word allenliok bevestig deur Sy barmhartigheid en genade. Moses het geen aandeel in die voorsiening van die water gehad nie. Dit was God se volk hierdie. Dit was God se staf. Dit was God se Rots en dit was God se water. Moses was slegs die instrument wat God gekies het om te gebruik. God was geensins van Moses afhanklik om die water te voorsien nie. Netso is Hy ook nie van ons afhanklik nie! Dit is reg: Hy is nie vir enigiets van jou of my afhanklik nie. Hy seen ons deur van ons gebruik te maak; Hy word nie vir één oomblik deur ons beperk nie. Hy is, in en Vanself, waarlik algenoegsaam.

Jakobus / Ya’acov {4:10} “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou