Saterdag 27 Februarie 2010

Die Altaar (Mitzbe'ach) en Die Naderkomsofferande (Korbanot)

27 Februarie 2010 / Adar 13 5770


Oordele / Tetzaveh |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel


27 Februarie 2010 / Adar 13 5770


Eksodus / Shemot 27:20-30:10

1 Samuel / Sh'muel Aleph 15:2-34

Hebreërs / Ivrim 13:10-16


Eksodus / Shemot {29:42} Dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek. {29:43} En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word. {29:44} So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien. {29:45} En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees; {29:46} en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die HERE hulle God.


Waarom moes die altaar (mitzbe'ach) by die ingang van die deur vóór die Tent van Samekoms (Ohel Moed) geplaas word? Waarom kon dit nie daaragter of by enigeen van die kante geplaas word nie?


Soos uit hiedie parasha blyk, was daar ingewikkelde voorskrifte met betrekking tot die naderkomsofferande (korbanot), wat nagekom moes word alvorens Aaron en sy seuns toegelaat is om die Tent van Samekoms binne te gaan. Voordat hulle verder as die altaar beweeg het, moes hulle eers gewy word en van sonde gereinig wees ten einde in die teenwoordigheid van 'n heilige God en die altaar, waarop die naderkomsofferande geoffer is, te kom. Deur die Tent van Samekoms, het God vir Homself 'n plek geskep waar Hy te midde van Sy volk kon wees. Die rede hiervoor was dat 'n heilige God nie tussen onheilige mense kon verkeer nie. Wat was dan die doel daarvan dat God te midde van Sy volk sou wees? Dit was sodat hulle 'n persoonlike verhouding met Hom kon hê en volgens die Skrif hierbo, sodat hulle sou besef Hy is die God wat is, wat was en wat sal wees (Yud Hay Vav Hay), die God wat hulle uit die land van die Egiptenare gelei het.


God is nie 'n God van voorskrifte en regulasies nie – Hy is 'n God van verhoudings! Dit is egter onmoontlik vir onheilige mense om enige soort verhouding met 'n heilige God te hê, vandaar dus die altaar en die naderkomsofferande. Niks wat onrein is kon verder as die altaar kom nie omdat niks onheiligs ooit 'n verhouding met God kan hê nie. Die Skrif is baie uitdruklik dat om die Tora te gehoorsaam en die gebooie (mitzvoth) te onderhou, geen mens heilig maak nie. Wat 'n mens wel heilig maak, is vergifnis van sonde deur die plaasvervangende offer (korban).


Het julle met die lees van die parasha aftergekom dat Aaron en sy seuns hul hande op die offerdiere moes lê voordat dit doodgemaak is? Die handoplegging simboliseer die oordra van sonde op die offerdier. Die dier waarop hulle hul hande gelê het, is dan doodgemaak en aan God geoffer as plaasvervanger vir die dood van die menslike sondaar, in hierdie geval Aaron en sy seuns.


God is vandag nog netso heilig soos wat Hy in die bybelse tye was en daarom het ons steeds 'n offerdier (korban) nodig, netsoos in die bybelse tye, indien ons 'n verhouding met Hom wil hê. Wat is die korban dan nou, aangesien daar nie meer 'n Tent van Samekoms (Ohel Moed) of 'n altaar (mitzbe'ach) is waarop 'n korbanot geoffer kan word nie? Waarop kan ons ons hande lê om as't ware ons sonde daarop oor te plaas, sodat ons 'n verhouding met 'n heilige God mag hê? Dit is natuurlik Jesus die Messias.


Jesaja / Yeshayahu {59:2} maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.


Jesaja / Yeshayahu {53:5} Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.


Daar is 'n interessante punt wat ek graag met julle wil deel aangaande die altaar (mitzbe'ach) en offerhandes (korbanot): dit het betrekking op wat Jesus gespreek het:


Matthéüs / Mattityahu {23:34} Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, {23:35} sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.


Ons is bewus daarvan dat met Jesus se wederkoms, Sy voete die Olyfberg sal aanraak, wat drie plekke behels, waarvan die Tempelberg één is, en hierdie bergreeks sal skeur om nuwe berge te vore te bring. Daar is 'n goeie rede hiervoor en dit het betrekking op die skrifgedeelte hierbo aangehaal.


Het julle opgelet in ons Skrifgedeelte uit Matthéüs, dat Sagaria vermoor is tussen die altaar (mitzbe'ach) en die tempel? Onthou julle dat, volgens hierdie parasha, Aaron en sy seuns geheilig moes word voordat hulle die altaar verbygegaan het ten einde die Tent van Samekoms binne te gaan?


Die altaar is op die besondere plek geplaaas om vir vergifnis van sonde te offer vir enigiets wat tussen die altaar en die buitewêreld gedoen is. Vir enige sonde, soos in hierdie geval in die Skrifgedeelte hierbo gemeld, wat tussen die altaar en die tempel gepleeg is, was daar geen versoening nie omdat dit aan die verkeerde kant van die altaar plaasgevind het.


Vergeet van die Rotskoepel wat Sion nou oorheers, vergeet daarvan dat dit die Tempelberg onteer en daardie omgewing ontheilig. Hierdie gedeelte van die grond is onteer – nie vanweë die moskee nie – maar as gevolg van die bloed van Sagaria, wat tussen die tempel en die altaar vermoor is. Vir sy bloed was daar nie en kan daar nie versoening voor wees nie – om dié rede sal die tempel, in sy huidige toestand, altyd onteer wees. Daarom sal die bestaande berg vernietig móét word en 'n nuwe berg móét verrys sodat die Messias se duisendjarige tempel (Bet HaMikdash) daarop gebou kan word.


Jesaja / Yeshayahu {2:1} Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. {2:2} En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. {2:3} En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 20 Februarie 2010

Hy Voorsien vir Ons ‘n Weg

Offerhandes / Terumah |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

20 Februarie 2010 / Adar 6 5770

Eksodus / Shemot 25:1 – 27:19

1 Konings / Melachim Aleph 5:26 – 6:13

Matthéüs / Mattityahu 5:33 -37

Hebreërs / Ivrim 9:1 – 10

Eksodus / Shemot {25:1} ”Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3} En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8} Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9} Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.”

God het nie sommer net vir Moses opdrag gegee om die tabernakel te bou nie – Hy het vir hom die ontwerp gewys! Ek is oortuig daarvan dat toe Moses van die berg Sinai afgeklim het met die twee kliptafels, hy ook die argiteksplan van die tabernakel by hom gehad het.

Die tabernakel het gedien as simbool van God se teenwoordigheid, wat in die midde van Sy volk woon – ten spyte van hul gevalle toestand! Met die oprigting van die tabernakel, kon die heilige God nou in die midde van ‘n onheilige volk woon.

Die realiteit is dat die tabernakel eintlik ‘n herskepping van die tuin van Eden was, ‘n heilige plek vir God om te woon. Die tabernakel was, in essensie, Gos se toevlugplek / oord, ‘n plek waar daar geen onvolmaaktheid was nie, ‘n plek waar niks wat met dood of onreinheid geassosieer is, kon inkom nie. Hierdie tabernakel was geheel-en-al God-gesentreerd.

Die hele korban-stelsel (offerhande), soos in die boek Leviticus ({1-4}) uiteengesit, was mens-gesentreerd – met ander woorde die mens wat tot God nader. Ons het God deur die korban genader, terwyl God deur die tabernakel na ons gekom het. Vanweë sonde, het die mens nie daarin geslaag om na God te kom nie omdat God nie met sonde gemeenskap hou nie, met die gevolg dat God ‘n sigbare wyse vir die mens geskep het om na Hom te kom en vir Hóm om na die mens te kom.

Eksodus / Shemot {25:8} “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.”

God lig hierbo drie aspekte uit: Sy tabernakel (Mishkam), Sy fisiese teenwoordigheid (Shekinah) en Sy heiligheid (kedushah), wat Sy begeerte om onder Sy volk te woon, verteenwoordig. Die tabernakel dui altyd op die heiligdom en is sinoniem vir die frase: “Tent van Samekoms”. Die woord Mishkan (=tabernakel) plaas die klem op die verteenwoordigende teenwoordigheid van God:

Levitikus / Vayikra {26:11} “En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie. {26:12} En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ‘n God wees, en júlle sal vir My ‘n volk wees.”

Die tabernakel was ‘n mobiele tempel, ‘n plek vir God om tussen Sy volk te wees terwyl hulle in die wildernis geswerf het. Dit het Sy heiligheid (kedushah) beskerm. ‘n Kadosh (Heilige / Afgesonderde) God kon nie, vanweë hul sonde, vrylik tussen Sy volk wandel nie. Daarom moes ‘n heiligdom voorsien word sodat Hy tussen hulle kon wees, sodat kinders van Israel versoeningsoffers vir hul sonde kon bring en sodat God en Sy kosbaarste besitting gemeenskap kon hê met mekaar. Die tabernakel was ‘n plek waar die kinders van Israel kon aanbid en met ‘n Kadosh-God kon gemeenskap hê.

Shekinah is ‘n woord wat die sigbare goddelike teenwoordigheid van God uitdruk, veral wanneer Hy gerus het tussen die gerubs bokant die Kaporet (Versoeningsetel). Shekinah verwys na die tye wanneer God Homself op sigbare wyse openbaar het, byvoorbeeld op berg Sinai toe daar rook, donderweer en weerlig was – dit was Shekinah-Heerlikheid van God. In die Kodesh HaKodashim (Heilige de Heilige), het ‘n skitterende wolk oor die Aron HaKodesh (Ark van die Verbond) verskyn en die vertrek verlig – dit was die Shekinah-Heerlikheid van God. So ook die wolk – en vuurkolom, wat oor die kinders van Israel gewaak en in die wildernis ingelei het – dit was die Shekinah-Heerlikheid van God.

Die Mishkan (tabernakel) dui op die sondigheid van die mens. Die noodsaaklike skeiding tussen ‘n heilige God en sondige mens word duidelik getoon in die konstruksie en bestaan daarvan.

Die Mishkan dui ook op die Heiligheid van God, sodat ons kan besef dat ons God op Sý wyse moet nader – nie op óns manier nie!

Hebreërs / Ivrim {10:19} “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus {10:20} op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, “

Laastens weerspieël die tabernakel die genade van God. Dit toon aan ons dat , ten spyte van ons sondigheid, God verkies om ons te red en in elk geval onder ons te woon. Hy doen dit vanweë Sy liefde vir ons en Sy begeerte om in ons midde te wees. Hy reik af na die mens om met Hom te verkeer en (sodat Hy) onder ons kan woon. Hy voorsien aan ons ‘n weg om die hindernisse wat ons geskei het, te oorkom.

Jesus is nie altyd duidelik in die Tanach nie. God het Hom verberg in simbolieke, bewaar vir diegene wat gewillig is om Hom te soek, te vind, Hom te herken en in Hom te glo. As iemand dus waarlik begeer om God te vind, hoef hy slegs te kyk na die simboliek, wat vir ons gebied word in die boumateriaal en wyse van konstruksie, soos deur God gespesifiseer vir die bou van die tabernakel.

Sou iemand vir jou sê daar was $ 100 000,00 se goud êrens in jou kamer versteek en jy kan dit hou as jy dit gevind het, wed ek jou dat jy onverwyld die vertrek sou omkeer en afbreek om dit te soek, sou jy nie?

God het die ewige lewe by Hom in die hemel. Hy het dit in Sy Woord verskuil. Goud sal slegs vir jóú leeftyd duur, terwyl die ewige lewe, EWIG, is. Watter een van dié twee is vir jou die waardevolste om te besit?

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Vrydag 12 Februarie 2010

Beloftes, Gedwonge Slawerny en Besluite

Oordele / Mishpatim |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

13 Februarie 2010 / Shevat 29 5770

Eksodus / Shemot 21:1-24:18

2 Konings / Melachim Bet 12:1-17

Matthéüs / Mattityahu 5:38-42

Eksodus / Bereshit {21:2} “As jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan. {21:3} As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word. {21:4} As sy heer aan hom ‘n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word. {21:5} Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie— {21:6} dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.”

As julle soos ek is, dan het julle moontlik al gewonder waarom God mense toegelaat het om ander mense te koop. Netsoos ek, is ek seker dat julle dit ook al bevraagteken het waarom ‘n slaaf, wat besluit het om na verloop van die ses jaar by sy eienaar aan te bly, na ‘n deurkosyn geneem is waar sy oor met ‘n els deurboor is.

Sekere vorme van slawerny in Bybelse tye was nie soos ons dit vandag ken nie. Die Bybel maak geen toegewing aan ‘n persoon wat bankrot raak nie; inteendeel, die Skrif leer ons dat indien ons ‘n belofte aflê, dit nagekom móét word. Die leen van geld of aankope op krediet, het altyd die belofte van terugbetaling impliseer. Gevolglik was die nie-nakoming van so ‘n belofte ‘n ernstige oortreding in die oë van die Here.

Númeri / Bamidbar {30:2} ”As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan. “

In die Bybelse tye het mense egter net soos vandag geld geleen. Boere, is ek seker, het geleen teen hul verwagte oeste en gedurende maer jare, sou hulle seker ook verbande op hul lande moes uitneem of teen hul boerdery-benodighede (bv. die os waarmee geploeg is), geld leen. Indien hulle moontlik hul lenings nie kon terugbetaal nie, kon hulle nie bankrot raak nie. Daar was dus absoluut geen manier om hul skuld af te skryf nie,

Bankrotskap is ‘n uitvinding van ons moderne tye en bestaan nagenoeg vierhonderd jaar, maar volgens die Woord van God, kan skuld nie afgeskryf word nie – dit móét vereffen word. Wat het dus gebeur wanneer iemand nie sy skuld kon betaal nie? God het inderdaad vir só ‘n gebeurlikheid voorsiening gemaak! Die lener moes sy skuld aan die skuldeiser terugbetaal deur sonder vergoeding vir hom te werk. God, wat die boosheid van die menslike hart ken, het egter ‘n beperking op die tyd van sodanige verpligte arbeid gelê: ses jaar was die tydperk wat dit sou duur om skuld terug te betaal. Verder moes daar vir die lener huisvesting en voedsel voorsien word asook dat hy, soos deur die Tora voorgeskryf, billik behandel word. Na verloop van die ses jaar, moes die lener weggestuur word met voldoende goedere om hom te help om sy lewe as skuldvrye man te hervat. Omrede skuld nie afgeskryf kon word nie, behalwe deur genadebetoning van die skuldeiser aan die lener, word skuldeisers soos volg deur die Skrif gewaarsku:

Spreuke / Mishlei {22:7} “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen.”

Begryplikerwyse kan ons hiervan aflei dat die Bybel hoegenaamd nie leen aanmoedig nie.

Daar is ook ‘n verdere voorsiening aangaande slawe in hierdie week se parasha: Indien die persoon wat homself in slawerny verkoop het – om sy skuld af te betaal – om welke rede ookal besluit het om by sy eienaar aan te bly, kon hy dit doen deur sy oor te laat deurboor by die deurpos van die huis. Dit sou hom dus tot lewenslange verhouding van slaaf-eienaar verplig. Nou vra ons onsself af waarom die procedure van deurboring van ‘n oor noodwendig by die deur of deurkosyn moes geskied?

Eksodus {12:22} “En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. {12:23} Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.”

Die kinders van Israel was inderdaad in gedwonge slawerny onder die Egiptenare, maar soos hierbo gemeld, het hulle hul bevryding ontvang deur die aanwend van ‘n lam se bloed aan die deurposte van hul huisdeure. Dit ís geensins en wás ook nooit God se wil vir Sy volk om in slawerny by eingeen behalwe Homself te verkeer nie. Derhalwe was dit ‘n skande vir so ‘n persoon self, wat verkies het om in slawerny by ‘n menslike eienaar te wees, deur sy oor aan die die deurpos van laasgenoemde te laat deurboor as simbool dat hy of sy buite die Wil van God optree. Die skande op sigself het gekom omdat die deurpos, waar die slaaf se oor deurboor is, simbolies die deurposte in Egipte verteenwoordig het, waarteen die lam se bloed gestryk is vir sy of haar ware bevryding.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 06 Februarie 2010

Welkom In Mý Wêreld, Jakob

Jetro / Yitro |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel

6 Februarie 2010 / Shevat 22 5770

Eksodus / Shemot 18:1–20:23

Jesaja / Yeshayahu 6:1-17:6; 9:5-6

Matthéüs / Mattityahu 5:17-32

Hebreërs / Ivrim 12:18-24

Eksodus / Shemot 18:1”Toe Jetro, die priester van Mídian, Moses se skoonvader, hoor alles wat God aan Moses en aan sy volk Israel gedoen het—dat die HERE Israel uit Egipte uitgelei het— {18:2} het Jetro, Moses se skoonvader, Sippóra, die vrou van Moses, geneem—nadat hy haar teruggestuur het— {18:3} en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land; {18:4} en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.) {18:5} En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het. {18:6} En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar. {18:7} Daarop gaan Moses uit, sy skoonvader tegemoet, en hy het gebuig en hom gesoen; en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan.

Ek vind hierdie Skrifgedeelte, geneem uit dié week se Toralesing, besonder bemoedigend; trouens, ek dink alle getroude pare behoort dit ook so te ervaar. Die rede waarom ek dit juis bemoedigend vind, is omdat dit ‘n mens laat besef dat huweliksprobleme, wat egpare vandag ondervind – netsoos dié wat ook my eggenote en ek van tyd tot tyd het – niks nuuts is nie. Egpare het al huweliksprobleme gehad sedert die instelling van die huwelik. Adam en Eva het húl probleme gehad en nou kry ons ‘n kykie in die onharmoniese verhouding tussen Moses en sy vrou. Ek weet nie van julle nie, maar ek vind dit bemoedigend om te besef dat die gróót manne en vroue van die Bybel nie bomenslik (soos sommige mense hulle graag wil voorstel) was nie, maar brose, gebroke menslike wesens was netsoos die res van ons is! Dit is vir my behoorlik asof Moses vir my sê: “Welkom in mý wêreld, Jakob!”. Ja, soos meeste getroude pare wat al geleef het, het ons ook al huweliksprobleme gehad, alhoewel ons verhouding darem nooit tot op die punt van egskeiding versleg het nie, maar ek is seker dat dié gedagte nietemin op een of ander stadium tog in ons huwelik by ons opgekom het! As dit nie vir Jesus die Messias in ons lewens was nie, wie weet wat kon gebeur het?

Ek het in die jare wat ek ‘n rabbi is, aan baie egpare berading verskaf en ek besef hóé moelik dit is vir twee persone van verskillende gesinsagtergronde, wat met uiteenlopende ideale gootgeword het, wat geleer is om anders te dink en aan verskillende denkwyses blootgestel is, as één saam te kom en dadelik verenigbaarheid te vind. Dit is wel so dat pare soms daarop roem hoe eensgesind hul benaderings is en hoe gelukkig hulle tydens hul hofmaak – en selfs verlowingstye is, maar feit bly, dat hóé eenders hulle moontlik dink hulle is, hulle hoegenaamd nie is nie! Hulle is inderdaad twee baie verskillende en uiteenlopende persone met twee verskillende en uiteenlopende persoonlikhede.

Omstandighede verander ná die huwelik: om as getroude paar saam te woon, is hoegenaamd nie dieselfde as toe hulle hofgemaak of verloof was nie. Dit is maklik om ‘n front voor te hou en ‘n mate van persoonlike misterie te handhaaf wanneer persone nie saamwoon nie, maar wanneer ‘n getroude paar onder één dak woon, val die maskers af en dít is wanneer die huwelik eintlik begin. Uit my ondervinding het dit geblyk dat meeste nuwe egpare – veral dié wat nie voorhuwelikse berading ontvang het nie – meeding om gesag in die verhouding. Persone wat egter behoorlike berading ontvang het, sou aan daardie aspek van hul verhouding vroegtydig aandag geskenk het, maar ongelukkig het nie alle pare, wat ek ontmoet het, berading ontvang nie en aan baie wat dit wél ontvang het, is die Bybelse rol van man en vrou in die huwelik nie verduidelik nie. Uit die volgende Skrifgedeelte, skyn dit asof dit inderdaad met Moses en Sippóra die geval was:

Eksodus / Shemot {4:24}”En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak. {4:25} Toe neem Sippóra ‘n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ‘n bloedbruidegom! {4:26} En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! —met die oog op die besnydenis.

Hoe ek hierdie Skrifgedeelte vertolk, is dat Moses besig was om sy heidense vrou, wat oënskynlik besnydenis afgekeur het, probeer behaag het deur nie sy seun te besny nie. Dit was blykbaar ‘n belediging teenoor God, want Hy het, volgens die Skrif, dit so ernstig geag dat Hy Moses wou doodmaak, moontlik deur om hom met ‘n siekte of iets dergliks te tref of hoe ookal God verkies het om Moses te dissiplineer, wat ongetwyfeld tot sy dood sou lei. Toe Sippóra egter verneem of deur Moses meegedeel is dat sy beproewing van God was en ‘n regstreekse gevolg was dat hy nagelaat het om sy seun te besny, het sy die besnydenis met ‘n skerp klip self uitgevoer en met veragting die voorhuid by Moses se voete neergegooi. Ons verneem egter nie verder van Sippóra nie, totdat haar vader haar met Moses verenig het, volgens hierdie week se Parasha. Ons weet nie hoe lank hulle uiteen was nie, maar ek waag dit om te sê dat Sippóra, na daardie gebeurtenis, moontlik ‘n meer liefdevolle, sagte en onderdanige vrou was.

Ons moet egter nie onder die wanindruk verkeer dat ons huwelike sonder konflik gaan wees nie, maar eerder vir Jesus die Messias as middelpunt van ons huwelike stel en tot Hom bid om ons te help om dit , waarvoor die apostel Paulus geskryf het, na te kom:

Kolossense / Kolosim {13:18}” Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. {3:19} Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.