Saterdag 24 Desember 2011

Bely en Aanvaar Verantwoordelikheid

26 Desember 2011 
D’Var Torah 
En Hy Het Nadergekom / Vayigash 


Genesis / Bereshit {44:30} “As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie—terwyl sy siel innig aan hom verkleef is— {44:31} sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32} Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33} Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34} Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie! ”. 

Dit het veel van Juda vereis om uiteindelik te bely en verantwoordelikheid vir wat hy gedoen het, te aanvaar. Ja, hy bely nie spesifiek sý sonde en dié van sy broers nie, maar deurdat hy die blaam op homself geneem het om sy broer Benjamin te red – wat hy nie in Josef se geval gedoen het nie – bewys aan ons dat Juda en sy broers inderdaad berouvol was. 

Josef en sy nege broers moes werklik veel verduur het om hierdie punt van belydenis en berou te bereik. Hulle het vir twintig jaar lank met ‘n skuldgevoel geleef. Hulle het terdeë besef dat hulle hul vader bedrieg het deur hom te laat glo dat Josef dood is – deur ‘n wilde dier verskeur. Daarna was daar die pynlike eerste ontmoeting met Josef, waar hy hulle herken het, maar hulle nie vir hóm nie. Josef het hulle deur ‘n ontsettende moeilike tyd laat gaan. Soos ons bewus is, het hy hulle getoets deur ‘n dreigement om hulle almal te laat arresteer vir spioenasie. Eindelik het hy slegs vir Simeon in die gevangenis laat agterbly, terwyl hy daarop aangedring het dat sy broers met Benjamin terugkeer as bewys dat hulle nie spioene was nie. Dit was vir hulle ‘n uiterste beproewing. Toe hulle onderweg terug, boonop die geld wat hulle vir die graan aan Josef betaal het, in hul sakke ontdek, kan ek myself net voorstel hoedat hierdie manne moes gevoel het. Hulle stresvlak moes onbeskryflik hoog gewees het! 

Hier, met een broer in die gevangenis, die geld wat hulle betaal het in hul sakke, wat hulle soos diewe laat lyk het en die blote gedagte om na hierdie magtige, onvriendelike Egiptiese heerser met hul broer Benjamin terug te keer, moes ongetwyfeld geweldig stresvol vir hulle gewees het. Boonop, die feit dat hulle vader, Jakob, geweier het om Benjamin saam met hulle na Egipte te laat teruggaan. Toe Jakob uiteindelik toestemming verleen het om Benjamin te laat gaan, het hy dit gedoen deur verdere skuldgevoelens op sy oorblywende seuns te laai. Dit het ook nie dáár vir hulle geëindig nie! Met hulle terugkeer na Egipte, het Josef steeds druk op sy broers uitgeoefen. Ek is oortuig daarvan dat onbeskryflike vrees hul harte beetgepak het toe die onderkoning se drinkbeker, met hul terugtog, in Benjamin se sak ontdek is! Kan jy jouself dit alles indink? Probeer om jouself in hierdie verhaal voor te stel – dink net hoedat jy sou gevoel het! 

Kan jy jouself voorstel onder soveel druk en vrees, wat hierdie berouvolle broers moes verduur? 

Dit is onteenseglik duidelik dat Josef doelbewus besig was om sy broers deur al hierdie stres te laat gaan. Dit was immers hy wat hulle herken het en indien hy wou, kon hy homself tydens hul eerste ontmoeting reeds aan hulle bekendgestel het. Die feit is egter dat hierdie hele episode, van begin tot einde, die beskikking van God was. Hy was besig om hulle te bring tot erkenning van hulle sonde en hulle te beweeg van skuld na belydenis na berou. 

Baie van ons voel skuldig oor ons sondes, maar dring daardie skuldgevoel ons enigsins daartoe om dit te bely en berou daaroor te hê, of “begrawe” ons dit doodeenvoudig, net soos Josef se broers en gee voor dat dit nie bestaan nie? Gaan ons ook maar aan met ons lewens asof niks gebeur het nie? 

Ek vertrou dat jy hierdie volle verhaal as ‘n beeld, ‘n prent van Jesus en Sy broers – die Joodse volk – sal beskou. Wat ek egter wil hê waarna ons vandag moet kyk, is die eenvoudige betekenis in hierdie verhaal vervat en die les wat ons daaruit kan leer. 

God het Josef se broers tot die uiterste beproef sodat hulle uiteindelik hul skuld bely en berou gehad het. Vir twintig jaar lank het hulle dié skuld binne-in hulle gedra en ek is oortuig dat dit vir hulle veel leed, lyding en selfs siekte meegebring het – om nie eers van die gevolglike gespanne verhouding onderling asook met hulle vader te praat nie. Hoe kon hulle hom ooit weer eerlik in die oë kyk ná wat hulle gedoen het? 

Dink vir ‘n oomblik na oor jou lewe. Het jy die afgelope jare angs, leed en lyding verduur? Voel dit vir jou asof jy, ten spyte van die teëspoed, geen voorspoed ooit sou beleef nie? Is daar enige skuldgevoel wat jy in jou onderbewussyn weggebêre het, wat moontlik tot jou angs en selfs siekte aanleiding kan gee? Miskien is dit ‘n bestiering van God dat Hy jou tot erkenning van jou skuld, belydenis en berou wil bring. Meen jy dat jy God kan uitoorlê en Hy jou eindelik in vrede sal laat? Hy sal beslis nie! Wees verseker dat Hy die druk op jou sal handhaaf, jou uit die één beproewing in die ander laat beland totdat jy óf bely en berou het óf in jou sonde sterf. Indien jy egter verkies om God te trotseer en in jou sonde te sterf, onthou die hel is ‘n werklikheid! 

Markus / Mordechai {9:43} “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, {9:44} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:45} En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, {9:46} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. {9:47} En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, {9:48} waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. ”. 

Aanvaar Jesus as jou Here en Redder. Toon nóú berou en waarborg sodoende vir jou ‘n plek by Hom in die hiernamaals. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 17 Desember 2011

Wat Verraai Jou Hart?

18 Desember 2011 
D’Var Torah 

Vandeesweek se Parasha begin met die farao van Egipte wat twee drome gedroom het wat onmoontlik was om uit te lê. 

Genesis {41:9} “Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring. ”. 

Ek het al dikwels gewonder watter verskil daar tussen die hoofbakker en hoofskinker was. Waarom is die hoofbakker gehang, terwyl die hoofskinker, wat skynbaar ook die koning aanstoot gegee het, summier in sy vorige amp heraangestel is? Watter verskil was daar tussen dié twee? Was die één se oortreding van meer ernstige aard as die ander een s’n? Ofskoon dit nie vermeld word nie, weet ons slegs op grond van die hoofskinker se verduideliking, dat albei in die gevangenis beland het. 

Het jy al agtergekom dat ‘n mens iemand se karakter kan beoordeel deur dit wat hy / sy sê –kleinighede wat uit iemand se mond kom? Dit mag iets onbelangrik wees wat onskuldig in ‘n gesprek gesê word, maar gee nietemin vir jou ‘n aanduiding of selfs geringe insig van wat werklik in die person se hart aangaan. 

Markus (Mordechai) {7:20} “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. {7:21} Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, {7:22} diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. {7:23} Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”. 

Ek het al geleer om my ore in te stel op die subtiele, soms snedige, aanmerkings afkomstig van mense hier by Gemeente Melech Yisrael – dit gee vir ‘n mens insig in hul persoonlikhede, karakters en belangriker nog, hulle verhouding met God. Meeste van ons besef dikwels nie eers wat ons regtig sê terwyl ons voortbabbel nie, maar die geoefende oor kan altyd hόόr wat uit die spreker se hart kom. 

Die hoofskinker se geheue was moontlik swak; hy moes, met sy ontslag uit die gevangenis, aan Josef gedink het, maar die vyf woorde wat hy tot die farao gespreek het, gee nietemin vir ons insig in sy hart. Ek glo dat wat die hoofskinker sê, boekdele oor sy karakter gespreek het en moontlik op die verskil tussen hom en die hoofbakker lig werp. Sy woorde was: “Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring”. 

Die hoofskinker het sekerlik nie nodig gehad om sy sin só te stel nie. Hy kon die Farao probeer beïndruk en homself in ‘n gunstige lig gestel het deur bloot te sê: “Ek ken iemand wat u droom kan uitlê”, maar hy het nie. In plaas daarvan, het hy gedoen wat reg was en voor die Farao en God vir sy sonde verskoning aangebied. Hy het bely hy het verkeerd opgetree en daardeur vir Josef benadeel het deur nie eerder van hom te onthou nie; trouens, twee jaar het intussen verloop na sy gevangenis-straf. 

Hy was immers ‘n goeie man. Ja, sy geheue was moontlik wel swak, maar hy het nie net aan homself gedink nie, was nie self-verheerlikend, selfsugtig en selfgesentreerd nie: eienskappe waaroor die hoofbakker oënskynlik beskik het. Ek besef dat ek nou eintlik spekuleer, maar daar móés ‘n verskil tussen hierdie twee manne gewees het en te oordeel aan die berouvolle hart van die hoofskinker, kan ‘n mens net dink dat die hoofbakker se hart nie dieselfde was nie. 

Wat kom uit jou hart te voorskyn? Kan jy met die hoofskinker of hoofbakker vereenselwig word? Dit is uiters belangrik dat jy dit wéét, want jou lewe mag eendag daarvan afhang… 




Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 10 Desember 2011

Afguns is Net So Erg as Sheol (hel)


Ons het die verhaal van Josef behandel en ook die geestelike aspekte en implikasies daarvan bestudeer. Dit is egter nie wat ek vandag weer wil doen nie: Ons gaan ‘n eenvoudige, werklike lewensbeskouing doen van wat eintlik tussen Josef en sy broers aan die gang was. Ek volg hierdie benadering omdat God in die natuurlike omstandighede te werk gaan. Hy werk met eenvoudige mense, wat van dag tot dag leef, besluite neem en keuses uitoefen, wat Hy uiteindelik vir Sy doel en heerlikheid aanwend. 

Genesis / Bereshit {37:3} “En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. {37:4} Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie. {37:8} Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. {37:19} En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! {37:20} Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.” 

Ek moet erken dat wedywering tussen broers en susters vir my hoegenaamd nie vreemd is nie. Om groot te word saam met twee broers en ‘n suster, was beslis nie sonder onderlinge woede-uitbarstings, gespot, bakleiery en natuurlik afguns nie. Wanneer ek oor my gesinslewe terugkyk, reken ek dat ‘n mens kan sê dat ek as’t ware met Josef vergelyk kan word. As oudste seun, het my vader my ‘n bietjie voorgetrek en ek is oortuig dat juis dít my by my broers en suster in onguns gebring het. Ofskoon hulle my nooit dood gewens het nie, is ek oortuig dat dit nietemin tot die spanning tussen ons bygedra en onvermydelike afguns aangemoedig het. 

Josef se broers was net eenvoudig afgunstig op hom en kyk, waartoe hulle jaloesie hulle gedryf het: moord! Hierdie geval was egter nie die enigste Bybelse karakters wat afguns geopenbaar het nie. Kaïn was jaloers op Abel; Sara was afgunstig op Hagar; Saul was jaloers op Dawid en Joab op Abner. Waartoe het hulle afguns hulle gedrywe? Kaïn het Abel vermoor, Sara het Hagar weggejaag, Saul het Dawid vervolg en Joab het Abner om die lewe gebring. 

Mense kan om baie verskillende redes afgunstig wees: byvoorbeeld voorkoms, geld, vriende, dinge soos klere, elektronika, begunstiging, werk, salaris, huise, motors, gesinne, vakansies, status ensomeer. Afguns is destruktief vir sowel die person wat afgunstig is as die één op wie die afguns gemik is. Afguns is ‘n laakbare menslike emosie. 

Spreuke / Mishlei {6:34} “want jaloersheid is ‘n toorngloed in ‘n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;”. 

Spreuke / Mishlei {27:4} “Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou? ”.  

Hooglied / Shir“HaShirim {8:6} “Dra my soos ‘n seëlring op u hart, soos ‘n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die HERE.”. 

Afguns is ‘n sonde en kan aanleiding gee tot woede, wraak en selfs die dood. Behoort ons dus nie iets uit ons Parasha oor Josef en sy broers te leer en in plaas van afgunstig te wees, begin om vergenoegd te wees nie? 

1 Korithiërs / Korentim Alef {7:17} “Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.”. 

My opregte gebed vir elkeen wat hierdie kommentaar lees, is om die volgende verse uit Spreuke op te sê en dit jou persoonike gebed te maak: 

Spreuke / Mishlei {30:7} “Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie: {30:8} Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; {30:9} dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 03 Desember 2011

Bejeën Alle Mense As Merkwaardig


4 Desember 2011
D’Var Torah
EN HY HET GESTUUR / VAYISHLACH

Genesis / Bereshit {32:3} “En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom, {32:4}  en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe; {32:5}  en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë. ”.

Ek dink ons is besig om effens meer insig te verkry in Jakob se karakter, geestesgesteldheid en waar sy prioriteite gelê het. Skynbaar is Jakob deur welvaart beïndruk anders sou hy nooit sy broer prober beïndruk het met sy rykdom nie. Hy het baie gemanipuleer om sy welvaart te bekom en nou sien ons waarin dit hom laat beland het; hy verkeer onder die indruk dat welvaart invloed meebring en dit mens uit die moelikheid kan “koop”. Hy reken dat welgesteldes anders as behoeftiges behandel word. Dit is dus geen wonder dat God hom ietwat verneder om sy heup aan te tas nie! Om deur welvaart en welgesteldes beïndruk te word, is ‘n strik wat deur gelowiges in Jesus die Messias teen alle koste vermy moet word. Mense – veral ongelowiges – kan maklik deur die invloed van geld verlei word. Daar heers ‘n natuurlike neiging in ons wêreldse samelewing om welvarendes meer respekvol en eerbiedig te behandel as iemand uit ‘n gemiddelde inkomstegroep of ‘n minderbevoorregte person. In ‘n sekere opsig kan ‘n mens verstaan waarom: Kyk maar na die dagblaaie waarin die mistiek van die rykes en vernames beskrywe word. Wie word deur hulle verheerlik? Gewis nie armes en onbekendes nie!

Die waarheid is egter dat rykes ook maar net mense is! Slegs geld onderskei ‘n ryke van armoede. Ek het al baie aangename rykes ontmoet maar ongelukkig ook minder aangenames. Terloops, ek het ook aangename en onaangename arm mense ontmoet. Omdat mense ryk is, maak dit hulle geensins besonders nie en dus moet ons hulle hoegenaamd ook nie met voorkeur behandel nie. Elke mens met wie ons in aanraking kom, behoort met dieselfde respek, eerbied en waardigheid bejëen te word.

Ongelukkig is dit in baie van God se gemeentes nie die geval nie. Die meer welgesteldes geniet voorkeur behandeling, hoofsaaklik omdat hulle groter bydraers is. Juis om hierdie rede vermy my eggenote en ek om betrokke te raak by wat mense bydra. Volgens statistieke, wat ek al gelees het, bestaan die meerderheid bydraes om gemeentes te ondersteun grootliks uit klein bedrae en nie noodwendig groot bedrae nie – persentasie-gewys 20/80.

Jakobus / Ya’acov {2:2} “Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; {2:3}  en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit— {2:4}  het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie”.

Begunstiging van welgesteldes kom ook neer op begerigheid. Om te begeer is ‘n sonde, wat in die tien gebooie verbied word. Daarbenewens blyk welvaart ook ‘n beletsel te wees, wanneer dit op geestelike aangeleenthede neerkom, soos in die volgende Skrifgedeelte uiteengesit:

Matthéüs / Mattityahu {19:23} “En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. {19:24}  En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”.

Lukas / Uri {1:53} “Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.”.
Lukas / Uri {6:24} “Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.”.

Lukas / Uri {18:22} “En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou—verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. {18:23}  Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.”.

Ek vertrou dat ek my standpunt gestel het en indien jy dit nog nie toepas nie, dat jy van vandag af alle mense – ongeag hul finansiële status – as gelykwaardig sal bejeën. Jy mag nie begeer nie!!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou