D’var Torah
Wanneer jy neem – Ki Tisa
Eksodus / Shemot {32:2} “Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. {32:4} En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.”.
Dit sou onbegryplik wees om te glo dat so ’n iets ooit vandag kon gebeur het: dat iemand die God van hemel en aarde vir ‘n afgod verruil, maar dit is tog so! Dit kom nie slegs voor onder afgodsdienende heidene of gewone sekulêre mense op straat nie, maar ook onder gelowiges in Jesus die Messias. Ek sal dit netnou verduidelik maar laat ons hierdie verskynsel van nader beskou en sien hoedat dit betrekking het op wat mense vandag doen.
Die kinders van Israel het so pas die vernaamste gebeurtenis in die hele geskiedenis beleef. God het hulle uit honderde jare se slawerny in Egipte verlos met ‘n uigestrekte arm en magtige tekens en wonders. Hulle het hulle folteraars in die Rietsee sien verdrink terwyl húlle ongehinderd op droë grond daardeur gestap het. Hulle het ervaar hoedat water van bitter na soet verander en voedsel – manna – uit die hemel vir hulle voorsien word. Hierdie mense het alle rede gehad om te glo dat daar ‘n God is en Hy onafhanklik van hulle en ter wille van hulle optree.
Die kinders van Israel het hoegenaamd niks gedoen om die uittog te bewerkstellig nie; hulle redding van die farao se leër, hulle behoefte aan drinkwater en voedsel is alles deur God voorsien – God het alles gedoen! Maar getrou aan die menslike natuur, hulle trots, móés hulle die eer daarvoor vir hulself toe-eien, móés hulle ‘n afbeelding van ‘n goue kalf vorm eiehandig gemaak en elke wonderwerk, wat plaasgevind het, daaraan toeskryf: aan iets wat HULLE gemaak het. Ongelukkig bestaan hierdie selfde menslike natuur vandag nog.
Ons het al almal die uitdrukking “iemand wat homself opgewerk het” gehoor. Dit beskryf ‘n persoon wat niks gehad het nie en óf deur harde werk óf skranderheid, homself verhef het om welgesteld te raak. Hierdie uitdrukking is so algemeen omdat ons menslike natuur ons laat glo dat ons oor ons eie lot beskik, dus dwing ons trots ons om al die eer vir ons welslae vir onsself toe te eien. Ek is oortuig daarvan dat ons almal sulke mense teëgekom het, wat spog oor wat hulle al bereik het.
Ek het by geleentheid ‘n egpaar hoor stry oor geld. Die eggenoot het na aanleiding van sy vrou se verwyte dat hy nie voldoende vir haar sorg nie, kwaai daarop gewys het dat slegs hý gewerk en alles waaroor die gesin beskik voorsien het. Dit, het hy gesê was veel meer as in die geval van meeste ander mense. Hy het aanhoudend daarop aangedring hoedat hý dit behartig en sy niks bygedra het tot wat hulle besit het nie.
Die feit is egter dat as dit nie vir God was nie, kon ons niks gedoen, verkry of besit het nie. Alles wat ons is en alles wat wat ons het, is deur God voorsien – ons het gevolglik hoegenaamd géén rede om te spog of op iets trots te wees nie!
Ongelukkig is sulke trots nie net tot ongelowiges beperk nie! Die menslike natuur kry die oorhand oor selfs die beste van diegene wat verklaar dat hulle in ‘n persoonlike verhouding met God verkeer. In die lig hiervan, meen ek dat ons almal hierdie waarskuwing van God ter harte moet neem:
Deuteronomium / Devarim {8:10} “en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het. { 8:11} Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:12} sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, {8:13} en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder— {8:14} en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; {8:15} wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ‘n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; {8:16} wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen— {8:17} en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. {8:18} Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, soos dit vandag is.”.
Ek dink dat hierdie Skrifgedeelte alles saamvat!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou