Pinchas
(Phineas)
Numeri / BaMidbar {27:1}”Daarna het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef—dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa— {27:2} en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê: {27:3} Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie.{27:4} Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ‘n besitting onder die broers van ons vader. {27:5} Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. {27:6} En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {27:7} Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ‘n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. {27:8} En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan. ”
Van al die Skrifgedeeltes in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), het hierdie één gedeelte besondere betekenis wanneer dit kom by Jesus die Messias en Sy fisiese reg om Koning in Israel te wees. Hoe is dit moontlik, aangesien hierdie Skrifgedeelte dan op die dogters van Selofhad en die verdeling van sý erflike besitting, in die tyd van Moses, betrekking het? Selofhad se dogters, omdat hulle vroue was, sou van hulle erfreg ontneem word aangesien sowel erfreg as verdeling van grond uitsluitlik deur die seuns en nie deur die dogters geskied het. Selofhad het sonder ‘n seun gesterf maar het vyf dogters gehad.
Hoe kan hierdie Skrifgedeelte dan van betekenis wees ten opsigte van Jesus die Messias? Wanneer ‘n mens in ag neem dat erfreg uitsluitlik deur die seun(s) gegeld het, is dit inderdaad besonder betekenisvol. Dit begin alles by Jesus die Messias se geslagsregister, soos dit deur Lukas (Uri) aangeteken is.
Lukas het in onderhouding van die Joodse wette, die geslagsregister van Jesus noukeurig nagegaan. Ten einde dit te doen, mag vroue name (selfs nie eers Maria (Miriam), moeder van Jesus) vermeld word nie. Dit was juis deur Maria se nakomelingskap, dat hy die koninklike geslagslys van Jesus nagevors het. Lukas het ook geensins name oorgeslaan nie, wat volgens nog ‘n verdere streng Joodse wet verbode was. Hy het in die geslagsregister aangedui dat Jesus koning kon gewees het omdat Hy van die huis van Dawid was, maar nie van die geslag van koning Gonja nie, op wie ‘n vloek gerus het.
Jeremia / Yermiyahu {22:28} ”Is hierdie man Gonja ‘n veragte, verbryselde voorwerp, of ‘n ding waar ‘n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ‘n land wat hulle nie ken nie? {22:29} o Land, land, land, hoor die woord van die HERE! {22:30} So sê die HERE: Skryf hierdie man op as kinderloos, ‘n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.”
Lukas het sy evangelie begin met die maagdelike geboorte en vertel dat Jesus vermoedelik die seun van Josef was, maar eintlik die kleinseun van Heli. Die feit is dat Heli die vader van Maria was, maar Josef nie Jesus se biologiese vader was nie. Lukas wou Jesus se geslagsregister dus deur Maria nagaan en daarom het hy Hom met Miriam se vader geassosieer. In geskrifte van die eerste-en tweede eeu, het rabbis algemeen verwys na Jesus as die “die seun van Heli”. Dit is in die Joodse geskiedenis ook hoegenaamd nie vreemd dat ‘n man se herkoms deur sy vrou nagetrek word nie en dit is wat Lukas inderdaad probeer doen het. Hy het Jesus se afkoms deur Maria, as Josef se vrou nagetrek, aangesien Josef nie Sy biologiese vader was nie. In twee hebreeuse geskrifte (Tanach) kom voorbeelde van hierdie metode voor: Esra (Ezra) 2:60 – 61 en Nehemia 7:63. Dit is dus, volgens Bybelse standaarde, niks ongewoons nie.
Wat ons in die betrokke geslagsregister van Lukas vind, was die moontlikheid dat Heli slegs ‘n dogter (Maria) nagelaat het maar geen seun nie. Indien dit juis is kan ons uit vandeesweek se parasha aflei dat Maria wel toegelaat is om van haar vader te erf. Daarbenewens sou Maria die ander Tora-vereiste nagekom het, naamlik van vroulike erfenis deur haar huwelik met iemand uit haar eie stam:
Numeri / BaMidbar {36:6} ”Dit is die saak wat die HERE aangaande die dogters van Selófhad beveel het deur te sê: Laat hulle die vroue word van hom wat goed is in hulle oë; hulle moet net trou in ‘n geslag van die stam van hulle vader, {36:7} sodat die erfdeel van die kinders van Israel nie van stam tot stam oorgaan nie; want die kinders van Israel moet elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders vashou. {36:8} En elke dogter wat ‘n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe.”
Sowel Maria as Josef was uit die stam van Juda (Judah). Gevolglik kon sy oorerwing van die geslag van Dawid, vanaf haar vader na haar Seun oordra. Jesus het dus oor die wetlike reg beskik om deur Sy moeder, Maria, die fisiese koning van Israel te wees. God het sodoende die weg vir Jesus die Mesias berei om die ewige Koning van Israel te wees.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-07-03