Saterdag 30 Julie 2016

Wetlike Reg

Pinchas
(Phineas)


Numeri / BaMidbar {27:1}”Daarna het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef—dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa— {27:2} en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê: {27:3} Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie.{27:4} Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ‘n besitting onder die broers van ons vader. {27:5} Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. {27:6} En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {27:7} Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ‘n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. {27:8} En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan. ”

Van al die Skrifgedeeltes in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), het hierdie één gedeelte besondere betekenis wanneer dit kom by Jesus die Messias en Sy fisiese reg om Koning in Israel te wees. Hoe is dit moontlik, aangesien hierdie Skrifgedeelte dan op die dogters van Selofhad en die verdeling van sý erflike besitting, in die tyd van Moses, betrekking het? Selofhad se dogters, omdat hulle vroue was, sou van hulle erfreg ontneem word aangesien sowel erfreg as verdeling van grond uitsluitlik deur die seuns en nie deur die dogters geskied het. Selofhad het sonder ‘n seun gesterf maar het vyf dogters gehad.

Hoe kan hierdie Skrifgedeelte dan van betekenis wees ten opsigte van Jesus die Messias? Wanneer ‘n mens in ag neem dat erfreg uitsluitlik deur die seun(s) gegeld het, is dit inderdaad besonder betekenisvol. Dit begin alles by Jesus die Messias se geslagsregister, soos dit deur Lukas (Uri) aangeteken is.

Lukas het in onderhouding van die Joodse wette, die geslagsregister van Jesus noukeurig nagegaan. Ten einde dit te doen, mag vroue name (selfs nie eers Maria (Miriam), moeder van Jesus) vermeld word nie. Dit was juis deur Maria se nakomelingskap, dat hy die koninklike geslagslys van Jesus nagevors het. Lukas het ook geensins name oorgeslaan nie, wat volgens nog ‘n verdere streng Joodse wet verbode was. Hy het in die geslagsregister aangedui dat Jesus koning kon gewees het omdat Hy van die huis van Dawid was, maar nie van die geslag van koning Gonja nie, op wie ‘n vloek gerus het.

Jeremia / Yermiyahu {22:28} ”Is hierdie man Gonja ‘n veragte, verbryselde voorwerp, of ‘n ding waar ‘n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ‘n land wat hulle nie ken nie? {22:29} o Land, land, land, hoor die woord van die HERE! {22:30} So sê die HERE: Skryf hierdie man op as kinderloos, ‘n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.”

Lukas het sy evangelie begin met die maagdelike geboorte en vertel dat Jesus vermoedelik die seun van Josef was, maar eintlik die kleinseun van Heli. Die feit is dat Heli die vader van Maria was, maar Josef nie Jesus se biologiese vader was nie. Lukas wou Jesus se geslagsregister dus deur Maria nagaan en daarom het hy Hom met Miriam se vader geassosieer. In geskrifte van die eerste-en tweede eeu, het rabbis algemeen verwys na Jesus as die “die seun van Heli”. Dit is in die Joodse geskiedenis ook hoegenaamd nie vreemd dat ‘n man se herkoms deur sy vrou nagetrek word nie en dit is wat Lukas inderdaad probeer doen het. Hy het Jesus se afkoms deur Maria, as Josef se vrou nagetrek, aangesien Josef nie Sy biologiese vader was nie. In twee hebreeuse geskrifte (Tanach) kom voorbeelde van hierdie metode voor: Esra (Ezra) 2:60 – 61 en Nehemia 7:63. Dit is dus, volgens Bybelse standaarde, niks ongewoons nie.

Wat ons in die betrokke geslagsregister van Lukas vind, was die moontlikheid dat Heli slegs ‘n dogter (Maria) nagelaat het maar geen seun nie. Indien dit juis is kan ons uit vandeesweek se parasha aflei dat Maria wel toegelaat is om van haar vader te erf. Daarbenewens sou Maria die ander Tora-vereiste nagekom het, naamlik van vroulike erfenis deur haar huwelik met iemand uit haar eie stam:

Numeri / BaMidbar {36:6} ”Dit is die saak wat die HERE aangaande die dogters van Selófhad beveel het deur te sê: Laat hulle die vroue word van hom wat goed is in hulle oë; hulle moet net trou in ‘n geslag van die stam van hulle vader, {36:7} sodat die erfdeel van die kinders van Israel nie van stam tot stam oorgaan nie; want die kinders van Israel moet elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders vashou. {36:8} En elke dogter wat ‘n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe.”

Sowel Maria as Josef was uit die stam van Juda (Judah). Gevolglik kon sy oorerwing van die geslag van Dawid, vanaf haar vader na haar Seun oordra. Jesus het dus oor die wetlike reg beskik om deur Sy moeder, Maria, die fisiese koning van Israel te wees. God het sodoende die weg vir Jesus die Mesias berei om die ewige Koning van Israel te wees.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-07-03

Saterdag 16 Julie 2016

Voortdurende Besprinkeling



Chukat - Balak 
(Statute - Balak)


Aangesien ek soveel te sê het oor oordenking Chukat, het ek gedink om slegs kommentaar daaroor te lewer, al het ons vandeesweek 'n dubbele oordenking.

Númeri {19:1} “Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2} Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3} En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4} En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5} Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6} En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7} Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. {19:8} Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. {19:9} En ‘n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ‘n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is ‘n sondoffer. {19:10} En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ‘n ewige insetting wees. {19:11} Die een wat aan ‘n dooie, enige lyk van ‘n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees. {19:12} Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig—dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie. {19:13} Elkeen wat aan ‘n dooie raak, aan die lyk van ‘n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en dié siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees;sy onreinheid is nog aan hom. {19:14} Dit is die wet: As iemand in ‘n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.“

Hierdie hele Skrifgedeelte, wat ek geredigeer het om dit te verkort, handel oor verontreiniging. Die besprinkeling met die mengsel, wat van die rooi koei berei is en die ritueel van die was van 'n mens se liggaam en klere, het alles betrekking op geestelike verontreiniging. Soos ons gelees het, mag geeneen wat onrein is, die laer van die kinders van Israel binnegegaan of in die teenwoordigheid van die Here in die tabernakel of tempel gekom het nie. 'n Onrein persoon moes eers gereinig word alvorens hy kon binnekom en deel van die gemeenskap word. Vandag kan ons, as gelowiges in Jesus die Messias, nog steeds geestelik onrein word. Geestelike verontreiniging het nie met die koms van Jesus die Messias na die wêreld geëindig nie; dit het nie geëindig nadat Hy versoening vir ons bewerkstellig het nie en ook nie na Sy hemelvaart om Sy plek aan die regterhand van die Vader in te neem nie. Ons kan nog steeds geestelik onrein word. Miskien is die toepassing of gevolge van ons geestelike verontreiniging nie dieselfde nie (daar is nie meer 'n tabernakel of tempel nie), maar die gevolge daarvan is beslis nog daar. Geestelike onreinheid skei ons van God. Daardie feit blyk duidelik wanneer ons verstaan dat die rooi-koei ritueel, soos hierbo in die skrif beskrywe, 'n tipe of simbool van die versoenende bloed van Jesus die Messias is, wat figuurlik besprinkel is oor almal wat in Hom glo.

Wanneer die hele gedeelte gelees word, behoort julle die ooreenkoms te sien tussen die besprinkeling van die bloed van die rooi koei oor 'n onrein persoon en die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias oor ons. Let, byvoorbeeld, daarop dat die bloed wat deur die priester gesprinkel is, dié een op wie dit gesprinkel is, gereinig het, terwyl die rein persoon (te wete die priester) wat in aanraking met die mengsel gekom en die besprinkeling gedoen, onrein geword het. Dit is asof die persoon wat die besprinkeling gedoen het, die onreinheid van dié een wat besprinkel is, op homself geneem het. Dit is 'n volkome Torah-beeld van wat Jesus die Messias vir ons gedoen het.

Jesaja / Yeshayahu {53:6} “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

Hoe het iemand in die Bybelse tye onrein geraak? Die antwoord is, natuurlik, deur in aanraking te kom met enigiets wat hulle van God geskei het. Wat in die besonder in hierdie oordenking vermeld word, is wanneer iemand in aanraking kom met 'n dooie liggaam of 'n huis binnegaan waarin iemand gesterf het. Volgens die Skrif, was daar egter baie ander maniere om onrein te raak. Hierdie, tesame met dié wat in vandeesweek se oordenking vermeld word, het 'n persoon geestelik onrein gemaak. God is lewe en enigiets verwant aan die dood, kon nie in Sy teenwoordigheid kom nie, Sy fisiese teenwoordigheid, Sy "Shachinah".

Sedert die tyd van die bestaan van die tabernakel dwarsdeur tot in die tyd van die tempel, het God fisies gewoon tussen die engele in die vorm van 'n wolk wat bokant die Genadesetel (Kapparet) in die Heilige van Heiliges (Kadosh Kedushim) verskyn het. Dit was juis om hierdie rede dat iemand wat verontreinig is deur enigiets wat God onrein geag het, nie die laer van die kinders van Israel mag binnegegaan en beslis ook nie die tabernakel nie.

Deuteronomium / Devarim {23:14} “Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie.”

Ofskoon ons geestelike onreinheid ons nie verhinder om ons Messiaanse sinagoges binne te gaan of in ons samelweing te woon nie, kan ons onreinheid, indien dit nie deur die bloed van Jesus die Messias besprinkel is nie, ons van God skei; skeiding van God beteken dat Sy beskerming weggeneem word en sodoende sy seëninge. Dit stel ons bloot aan misleiding en die werke van die duiwel. 

Wat is die mengsel om vandag ons onreinheid te verwyder? Dit is die bloed van Jesus die Messias oor ons. Hierdie bloed moet egter keer op keer weer gesprinkel word omdat ons weer en weer op soveel wyses verontreinig word. Dit is verkeerd van ons om te dink dat, juis omdat ons gered is, ons nie langer die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias in ons lewens nodig het nie. Inteendeel, dit moet elke keer wat ons hoegenaamd op enige wyse verontreinig word, weer en weer besprinkel word. Nie deur Jesus die Messias opnuut elke keer wat ons ontreinig word, te offer nie, maar deur belydenis, berou en die bloed van Jesus die Messias oor ons lewens te pleit. Dit moet minuut vir minuut en, indien nodig, sekonde vir sekonde 'n besprinkeling wees sodat ons voortdurend in 'n toestand mag bly, wat God se beskerming oor ons lewens verseker.

Jesus die Messias is ons "rooi koei" en belydenis en berou is die wyse waardeur ons met Sy bloed besprinkel word.


Voorheen uitgegee: 2009-07-04

Saterdag 09 Julie 2016

Sinnelike Sondes wat ons Lewens Teister




Korach 
(Korag)


Numeri / Bamidbar {16: 1} "En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2} en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3} En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? {16:4} Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval; {16:5} en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom. {16:6} Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende, {16:7} en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi! {16:8} Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi! {16:9} Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie, {16:10} en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou—dat julle nou ook die priesteramp begeer? {16:11} Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer? {16:12} En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie. {16:13} Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?"

Toe die bogemelde gebeurtenis plaasgevind het, het Moses reeds jare lank die kinders van Israel deur die wildernis gelei. Wat het dan skielik, skynbaar uit die niet, gebeur dat hierdie leiers besluit het om in opstand te kom? Waarom het hulle hierdie besonderde tyd gekies om dit te doen? Verstaan mooi, dit was nie 'n oproer deur gewone manne nie; hierdie was owerstes van die vergadering, of volgens die Skrifgedeelte "manne van aansien". Dit beteken dat hulle deel van die leierskap was en hooggeag in Edah. Hoe het dit dan gebeur dat hulle hierdie spesifieke tyd gekies het om 'n kragmeting met Moses en Aäron te hê?

Soos dit vir my lyk, was daar skynbaar 'n toename van gebeure op dié tydstip wat tot hierdie oproer gelei het. Eerstens, moet ons onthou dat Korag 'n lid van die Levi-stam was, waartoe Moses en Aäron ook behoort het. Uit Korag se redes, kan ons aflei dat hy Moses en Aäron geensins beter of meer bekwaam as hyself beskou het nie. Nogtans was Moses die één wat opdragte gegee het en nie hy nie. Toe het Moses sy broer, Aäron gekies om hoëpriester te wees - 'n keuse wat duidelik Korag se vermoede van nepotisme laat onstaan het. Boonop het Moses verklaar dat die hoëpriesterlike posisie uitsluitlik tot die afstamming van Aäron beperk sou wees; al Aäron se kinders sou nou vir ewig 'n bevoorregte posisie onder die Levitiese priesterskap geniet. Hule sou voorrang geniet en feitlik soos koninklikes behandel word, terwyl, soos ons uit die Oordenking Naso van drie weke gelede gesien het, die ander Levitiese families al die hande-arbeid moes verrig. Hulle sou die mense wees wat verantwoordelik was vir die oppak van die tabernakel, om al die toebehore daarvan deur die woestyn te dra en die opslaan daarvan elke keer wat hulle kamp opgeslaan het. Hulle sou die offerhandes moes behartig asook ander pligte uitvoer om die tabernakel in stand te hou, terwyl Moses, Aäron en al die seuns van Aäron slegs die opdragte sou gee. Tweedens, was dit 'n ideale geleentheid vir 'n rebellie. Die voorval van die spioene was nog vars in almal se geheue. Laat ek dus julle geheue ook verfris. Die kinders van Israel was ongehoorsaam aan God deurdat hulle die land nie wou binnegaan nie. Toe hulle hul fout besef, het hulle besluit om te doen wat God oorspronklik vir hulle gesê het om te doen en die land in te neem. Dit het hulle egter gedoen ten spyte van Moses se waarskuwing dat God nie met hulle sou wees nie. Gevolglik is hulle behoorlik deur die Amalekiete verslaan. Ek is dus seker dat hulle Moses blameer het vir hul nederlaag. Watter meer geleë tyd was dit nie om díe situasie te benut en vir Korag om 'n opstand aan te hits nie?

Waarom sou die leierskap van die stam van Reuben dan betrokke geraak het? Hulle het niks meer met die priesterskap te doen gehad nie en was dus maar 'n gewone stam. Wag 'n bietjie; daar is dit! Kon dit gewees het dat hulle by die opstand aangesluit het juis omdat hulle as 'n gewone stam beskou is? Onthou dat die stam van Reuben die aansienlikste stam van Israel moes wees. Hulle het egter hul posisie as hoof onder die stamme verbeur omdat Reuben, die eersgeborene van Jakob, sy vader se bed besoedel het omdat hy met een van sy vader se vrouens geslaap het.

Dus, sou die leier van die stam van Reuben dit as 'n geleë oomblik vir 'n opstand beskou het. 'n Perfekte geleentheid om die stam van Reuben hoofstam onder die stamme van Israel te hervestig.

Wat die oproer dus eintlik op daardie besonderde tydstip aangevuur het, was hoogmoed en jaloesie: twee sinnelike sondes wat tot vandag toe nog ons lewens teister.

Spreuke / Mishlei {8:13}”Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek."

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-06-27






Saterdag 02 Julie 2016

Vir Wie Het God Geseën

Shelach
(Stuur Jouself)


Númeri  / Bamidbar {13:22}  “hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. {13:23}  Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.  {13:24}  Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het. {13:25}  En ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken. {13:26}  En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien. {13:27}  En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. {13:28}  Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.” 

Perspektief beteken alles in die lewe - beslis ook die verskil tussen sukses en mislukking. Wanneer verskillende mense na dieselfde halfglas water kyk, sien sommige dit as halfvol en ander as halfleeg - aldus die cliché. In hierdie week se oordenking, het ons 'n uitstekende voorbeeld daarvan. Die twaalf spioene wat Moses uitgestuur het om die land Kanaän te verken, het iets teëgekom wat, tot vandag toe, heeltemal merkwaardig is. Op hulle reis deur die land, waarheen Moses hulle gestuur het om te spioeneer, het hulle gevind dat dit nie net welig en pragtig was nie, maar ook 'n oorvloed van vrugte en produkte aangetref. Dit was so geil dat hulle druiwetrosse gevind het wat só groot was dat één tros deur twee manne gedra moes word. Die idee hiervan was so merkwaardig dat dit selfs tot vandag deur due regering van Israel as toerismelogo gebruik word. Met inagneming van wat die twaalf spioene gesien het, moet ons saamstem dat daar geen twyfel bestaan oor die feit dat die land, wat hulle besoek het, nie slegs 'n oorvloedige land was nie, maar ook 'n ongelooflike gawe van God.            
Númeri / Bamidbar {13:26} “En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien. {13:27} En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. “

Ten spyte van die skoonheid en oorvloed van die land, het tien van hierdie manne nogtans die glas nie halfvol gesien nie, maar halfleeg! Waarom? Omdat hulle reuse in die land gesien het. Hulle vooruitsig was nie op die positiewe gerig nie, naamlik die magtige onverskrokkenheid van God en Sy belofte dat hierdie land vir hulle sou kon voorsien, maar eerder op die negatiewe van wie hulle moes onteien om die land te verkry. Hulle het geen visie en geen vertroue in hulself of in hul God gestel nie.
        
Númeri / Bamidbar {13:28}  “Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. “

Die negatiewe denkwyse wat hierdie manne openbaar het, moet 'n gees wees omdat ons dieselfde gees vind, wat mense vandag nog beïnvloed - ja, selfs gelowiges in Jesus die Messias. Dit is mense wat dieselfde halfleë-houding openbaar, soos die tien manne. Ongeag die projek, ongeag die uitdaging, vind sommige mense altyd 'n rede om op die negatiewe te fokus: daar is altyd 'n rede waarom hulle iets nie kan of behoort te doen nie. Hulle is die "kan nie doen"-mense, nes die tien spioene, huldig hulle 'n negatiewe perspektief oor naastenby alles. Ongelukkig, as ons hierdie Bybelse verslag as voorbeeld noem, blyk hierdie tipe mense nie net in die meerderheid (tien uit twaalf) te wees nie, maar het hulle ook 'n negatiewe invloed op ander en neig hulle om mislukkings te wees. Teenoor hulle, is diegene wat dieselfde saak oorweeg en 'n ander perspektief het: hulle sien die glas halfvol.

Númeri / Bamidbar {13:30} “Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. {14:6} En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur {14:7}  en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land. {14:8}  As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. {14:9}  Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! “

Hierdie twee manne het 'n totaal verskillende perspektief as die res, oor dieselfde eiendom openbaar. Hulle was die "kan doen"-mense, die tipe wat die positiewe sien en oortuig is dat hulle, met die hulp van God, elke negatiewe beswaar en struikelblok kan oorkom. Vir hulle het dit nie saak gemaak wie in die land was nie, reus of dwerg, want hulle was seker dat met die hulp van God, hulle 'n uitweg sou vind. Hierdie is die tipe mense by wie 'n mens graag betrokke sou wou raak omdat hulle selfvertroue het en op hul God vertrou. Dit is nie dat hulle struikelblokke ignoreer nie, maar met 'n glas halfvol-geesteshouding, beskou hulle dit as uitdagings wat geensins onoorkomlike berge is nie.


Dit is tog jammer dat - soos in ons Bybelse verslag aangetoon - "kan doen"-mense soos Kaleb en Josua, in die minderheid is. Hulle is egter die mense wat geneig is om 'n taak uit te voer en in die lewe sukses te behaal. Dink vir 'n oomblik daaroor, as die keuse aan 'n mens gestel word, wie sou jy graag wou wees: 'n "kan doen"-persoon of "kan nie doen"-persoon? Wie sou jy verkies om vir jou te werk? Vir wie sou jy eerder volg? Met wie sou jy verkieslik in 'n besigheid saamgaan? Vir wie het God geseën?            

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-06-20